DIE TWEEDE BRIEF AAN DIE TESSALONISENSE
1 Van Paulus, Silvaʹnus* en Timoʹteus.+ Aan die gemeente van die Tessalonisense in eenheid met God, ons Vader, en die Here Jesus Christus:
2 Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, die Vader, en van die Here Jesus Christus.
3 Ons is verplig om God altyd vir julle te dank, broers. Dit is gepas omdat julle geloof groei en al hoe sterker word en julle liefde vir mekaar toeneem.+ 4 Ons praat dus met trots van julle+ in die gemeentes van God as gevolg van julle volharding en geloof ten spyte van al die vervolging en moeilike tye wat julle deurmaak.+ 5 Dit alles bewys dat God regverdig oordeel, en dit lei daartoe dat julle waardig bevind word vir die Koninkryk van God, waarvoor julle ly.+
6 Dit is regverdig van God om dié wat julle onderdruk, met onderdrukking te straf.+ 7 Maar julle wat onderdruk word, sal saam met ons verligting ontvang by die openbaring van die Here Jesus+ vanuit die hemel met sy magtige engele+ 8 in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak neem op dié wat God nie ken nie en dié wat nie die goeie nuus oor ons Here Jesus gehoorsaam nie.+ 9 Hierdie selfde mense sal as regterlike straf vir ewig vernietig word,+ ver van die Here en van sy groot krag af. 10 Dit sal gebeur op die dag wanneer hy kom om geëer te word in verband met sy heiliges en om bewonder te word deur almal wat geloof beoefen het, want julle het geloof beoefen in die getuienis wat ons gegee het.
11 Daarom bid ons altyd vir julle. Ons vra dat ons God julle sal beskou as persone wat sy roeping waardig is+ en dat hy met sy krag al die goeie dinge sal uitvoer wat hy vir julle wil doen en dat hy julle dade van geloof suksesvol sal maak. 12 Dit is sodat die naam van ons Here Jesus in julle geëer kan word, en julle in eenheid met hom, volgens die onverdiende goedheid van ons God en van die Here Jesus Christus.
2 Broers, ons wil julle die volgende vra oor die teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus+ en die tyd wanneer ons by hom bymekaar gebring word:+ 2 Moenie gou deurmekaar of paniekerig gemaak word deur ’n bewering dat die dag van Jehovah*+ hier is nie, of dit nou ’n profesie*+ is of ’n boodskap wat mondeling oorgedra word of ’n brief wat lyk asof dit van ons af kom.
3 Laat niemand julle op enige manier mislei* nie, want voordat daardie dag kom, moet die afvalligheid eers kom+ en die mens van wetteloosheid+ geopenbaar word, die seun van vernietiging.+ 4 Hy is ’n teenstander en verhoog homself bo elke sogenaamde god en alles wat aanbid* word, en hy gaan sit in die tempel van God en vertoon homself in die openbaar as ’n god. 5 Onthou julle nie dat ek hierdie dinge vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?
6 En nou weet julle wat die mens van wetteloosheid terughou sodat hy eers op die vasgestelde tyd geopenbaar sal word. 7 Hierdie wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk,+ maar net totdat hy wat die wetteloosheid op die oomblik terughou, nie meer in die pad staan nie. 8 Dan sal die mens van wetteloosheid wel geopenbaar word. Die Here Jesus sal hom deur die gees van sy mond+ vernietig en deur die openbaring+ van sy teenwoordigheid van hom ontslae raak. 9 Maar die teenwoordigheid van die mens van wetteloosheid is Satan se werk,+ met allerhande kragtige werke en misleidende tekens en wonderwerke+ 10 en allerhande onregverdige bedrog,+ wat bedoel is vir dié wat vernietig gaan word. Hulle verdien dit omdat hulle nie die waarheid aanvaar en liefgekry het sodat hulle gered kan word nie. 11 Daarom laat God toe dat hulle deur ’n bedrieglike invloed mislei word, sodat hulle die leuen sal glo+ 12 en sodat hulle almal geoordeel kan word omdat hulle nie die waarheid geglo het nie, maar lief was vir onregverdigheid.
13 Ons is egter verplig om God altyd vir julle te dank, broers vir wie Jehovah* lief is. God het julle as gevolg van julle geloof in die waarheid van die begin af vir redding gekies+ deur julle met sy gees te heilig.+ 14 Hy het julle hiervoor geroep deur die goeie nuus wat ons bekend maak, sodat julle soos ons Here Jesus Christus verheerlik kan word.+ 15 Staan dan vas+ en hou vas aan die tradisies wat aan julle geleer is,+ broers, of dit nou deur ’n boodskap was wat mondeling oorgedra is of deur ’n brief van ons af. 16 Mag ons Here Jesus Christus self en God, ons Vader, wat ons liefgehad het+ en wat deur middel van onverdiende goedheid ewige vertroosting en goeie hoop+ gegee het, 17 julle harte vertroos en julle standvastig maak* in elke goeie ding wat julle sê en doen.
3 Laastens, broers, hou aan om vir ons te bid,+ dat die woord van Jehovah* sal aanhou om vinnig te versprei+ en verheerlik sal word, net soos dit by julle die geval is, 2 en dat ons van slegte en goddelose mense gered sal word,+ want geloof is nie iets wat alle mense besit nie.+ 3 Maar die Here is getrou, en hy sal julle versterk en julle teen die Duiwel* beskerm. 4 Wat meer is, ons het vertroue in die Here dat julle ons instruksies uitvoer en sal aanhou om dit uit te voer. 5 Mag die Here aanhou om julle te help* om lief te wees vir God+ en om vir die Christus te volhard.+
6 Broers, ons gee dan nou in die naam van ons Here Jesus Christus instruksies aan julle om elke broer te vermy wat hom wanordelik gedra+ en nie lewe volgens die tradisies* wat julle* van ons ontvang het nie.+ 7 Want julle weet self hoe julle ons behoort na te volg,+ want ons het ons nie wanordelik onder julle gedra nie, 8 en ons het ook niemand se kos geëet sonder om daarvoor te betaal nie.+ Nee, ons het dag en nag hard gewerk en ons ingespan sodat ons nie ’n duur las op enigeen van julle sou wees nie.+ 9 Nie dat ons nie gesag het nie,+ maar ons wou vir julle ’n voorbeeld stel.+ 10 Om die waarheid te sê, toe ons by julle was, het ons altyd vir julle hierdie bevel gegee: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”+ 11 Want ons hoor dat party hulle wanordelik onder julle gedra+ en glad nie werk nie, maar hulle meng in met dinge wat niks met hulle te doen het nie.+ 12 Ons beveel sulke mense en spoor hulle aan in die naam van die Here Jesus Christus om hulle aandag by hulle werk te bepaal en hulle kos self te verdien.+
13 Broers, julle moenie ophou om te doen wat goed is nie. 14 Maar as iemand nie gehoorsaam is aan ons woorde in hierdie brief nie, moet julle hom merk* en ophou om met hom te assosieer,+ sodat hy skaam kan kry. 15 Moet hom nogtans nie as ’n vyand beskou nie, maar hou aan om hom raad te gee+ as ’n broer.
16 Mag die Here van vrede julle dan nou altyd in elke opsig vrede gee.+ Mag die Here met julle almal wees.
17 Hier is my groete, Paulus s’n, wat ek met my eie hand skryf.+ Dit is ’n teken in elke brief, en dit is hoe ek skryf.
18 Mag die onverdiende goedheid van ons Here Jesus Christus met julle almal wees.
D.w.s. Silas.
Sien Aanh. A5.
Of “geïnspireerde woorde; ’n gees”. Sien Woordelys, “Gees”.
Of “verlei”.
Of “vereer”.
Sien Aanh. A5.
Of “versterk”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “die Bose”.
Of “om julle harte suksesvol te rig”.
Of “instruksies”.
Of moontlik “hulle”.
Of “gemerk hou”.