AAN DIE KOLOSSENSE
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur God se wil, en van ons broer Timoʹteus.+ 2 Aan die heiliges en getroue broers in eenheid met Christus in Kolosʹse:
Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, ons Vader.
3 Ons dank God, die Vader van ons Here Jesus Christus, elke keer wanneer ons vir julle bid. 4 Ons doen dit, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus en die liefde wat julle vir al die heiliges het 5 weens die hoop wat in die hemel op julle wag.+ Julle het voorheen van hierdie hoop gehoor toe die boodskap van waarheid van die goeie nuus 6 julle bereik het. Die goeie nuus groei en versprei in die hele wêreld,+ en so ook onder julle, van die dag af dat julle die waarheid oor die onverdiende goedheid van God gehoor het en noukeurig leer ken het. 7 Dit is wat julle geleer het by ons geliefde medeslaaf Eʹpafras,+ wat namens ons ’n getroue bedienaar van die Christus is. 8 Hy het ons ook vertel van die liefde wat die gees in julle voortgebring het.*
9 Daarom het ons van die dag af dat ons daarvan gehoor het, nooit opgehou om vir julle te bid nie.+ Ons bid dat julle gevul mag word met die akkurate kennis+ van God se wil met alle wysheid en geestelike insig.+ 10 Dan sal julle kan lewe op ’n manier wat Jehovah* waardig is sodat julle hom in alles bly kan maak, terwyl julle aanhou om vrugte te dra in elke goeie werk en te groei in die akkurate kennis van God.+ 11 Ons bid ook dat God julle met sy glorieryke mag+ versterk sodat julle ten volle kan volhard met geduld en vreugde. 12 En doen dit terwyl julle die Vader dank, want hy het julle geskik gemaak om die erfenis te ontvang wat aan die heiliges behoort+ wat in die lig is.
13 Hy het ons gered uit die mag van die duisternis+ en ons oorgeplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun. 14 Deur hom ontvang ons bevryding deur ’n losprys, wat beteken dat ons sondes vergewe is.+ 15 Hy is die beeld van die onsigbare God,+ die eersgeborene van die hele skepping,+ 16 want deur middel van hom is alle ander dinge in die hemel en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge,+ of dit nou trone of heerskappye of regerings of owerhede is. Alle ander dinge is deur hom en vir hom geskep.+ 17 En hy het voor alle ander dinge bestaan,+ en deur middel van hom is alle ander dinge geskep, 18 en hy is die hoof van die liggaam, die gemeente.+ Hy is die begin, die eersgeborene uit die dood,+ sodat hy die een kon word wat in alles eerste is. 19 Want God het dit goedgevind om alle dinge in volle mate in hom te laat woon+ 20 en om deur hom alle ander dinge met homself te versoen.+ Hy het dit gedoen deur vrede te maak deur die bloed+ wat hy uitgestort het toe hy aan die folterpaal* gehang het, of dit nou die dinge op die aarde of die dinge in die hemel is.
21 Ja, julle was eens vervreemd en vyande omdat julle verstande op goddelose dade gefokus was. 22 Maar nou het hy julle versoen deur middel van die dood van die een wat sy menslike* liggaam opgeoffer het sodat julle heilig en onbesmet en vry van enige beskuldiging voor hom kan wees.+ 23 Dan moet julle natuurlik in die geloof bly,+ stewig gevestig op die fondament+ en standvastig,+ sonder om weggevat te word van die hoop van die goeie nuus wat julle gehoor het en wat verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is.+ Van hierdie goeie nuus het ek, Paulus, ’n bedienaar geword.+
24 Ek is bly dat ek nou vir julle kan ly,+ en ek voel dat ek nog in volle mate moet ly as ’n lid van die liggaam van Christus,+ naamlik die gemeente.+ 25 Ek het ’n bedienaar van hierdie gemeente geword omdat God ter wille van julle ’n bestuurderskap+ aan my gegee het om die woord van God ten volle te verkondig. 26 Dit sluit die heilige geheim+ in wat gedurende die vroeëre tydperke*+ en geslagte geheim gehou is. Maar nou is dit aan sy heiliges geopenbaar.+ 27 God het die glorieryke rykdom van hierdie heilige geheim+ onder die nasies bekend gemaak. Hierdie geheim is Christus in eenheid met julle, wat die hoop het om saam met hom verheerlik te word.+ 28 Ons verkondig hom terwyl ons elke mens waarsku en met alle wysheid leer, sodat ons elke mens as ’n geestelik volwasse volgeling van Christus kan aanbied.+ 29 Hiervoor werk ek ook hard en span ek my in met sy krag, wat kragtig in my aan die werk is.+
2 Ek wil hê dat julle moet besef hoe hard ek probeer om julle te help, sowel as dié in Laodiseʹa+ en almal wat my nog nie persoonlik* gesien het nie. 2 Ek hoop dat hulle harte vertroos kan word+ en dat hulle in liefde harmonies saamgevoeg kan word.+ So sal hulle alle rykdom kan hê, dit wil sê ’n duidelike en goeie begrip met akkurate kennis van die heilige geheim van God, naamlik Christus.+ 3 In hom is al die skatte van wysheid en kennis sorgvuldig weggesteek.+ 4 Ek sê dit sodat niemand julle met oortuigende argumente kan mislei nie. 5 Al is ek nie fisies by julle nie, is ek in die gees by julle, en ek is bly om te sien hoe ordelik alles by julle verloop+ en hoe sterk julle geloof in Christus is.+
6 Aangesien julle Christus Jesus, die Here, aanvaar het, moet julle aanhou om in eenheid dieselfde weg as hy te volg. 7 Soos julle geleer het, moet julle in hom gewortel en opgebou word+ en stewig in die geloof gemaak word,+ en julle harte moet oorloop van dankbaarheid.+
8 Pasop dat niemand julle vang* deur middel van filosofie en leë bedrog+ wat op die tradisies van mense gebaseer is, op die basiese* dinge van die wêreld en nie op Christus nie. 9 En tog is al die eienskappe van God ten volle in hom.+ 10 As gevolg van hom, wat die hoof van alle regering en gesag is, het julle nie ’n tekort aan enigiets nie.*+ 11 Danksy hom is julle ook besny, nie deur hande nie, maar deurdat julle ontslae geraak het van die sondige liggaam.*+ Dit is die manier waarop knegte van Christus besny moet word.+ 12 Julle is saam met hom in sy doop begrawe,+ en weens hom is julle ook saam opgewek+ deur julle geloof in die kragtige werk van God, wat hom uit die dood opgewek het.+
13 Julle was ook dood in julle oortredings en was nie in die vlees besny nie, maar God het julle saam met hom lewend gemaak.+ Uit sy goedheid het hy al ons oortredings vergewe+ 14 en die handgeskrewe dokument+ uitgewis wat uit wette bestaan het+ en wat teen ons was.+ Hy het dit verwyder deur dit aan die folterpaal* vas te spyker.+ 15 Deur dit te doen, het hy die regerings en die owerhede verslaan en sy oorwinning in die openbaar bekend gemaak deur hulle in ’n oorwinningsoptog te lei.+
16 Laat niemand julle dus oordeel oor wat julle eet en drink+ of oor die viering van ’n fees of ’n nuwemaan+ of ’n sabbat nie.+ 17 Hierdie dinge is ’n skaduwee van die toekomstige dinge,+ maar die werklikheid behoort aan die Christus.+ 18 Moenie toelaat dat iemand wat maak asof hy nederig is en ’n vorm van engele-aanbidding doen, keer dat julle die prys ontvang nie.+ So iemand “neem stelling in oor”* die dinge wat hy gesien het, maar eintlik is hy sonder rede opgeblase van trots omdat hy op ’n vleeslike manier dink, 19 en hy hou op om die hoof te volg,+ die een wat die hele liggaam alles gee wat dit nodig het en dit deur die gewrigte en ligamente harmonies saamvoeg en dit laat groei met die groei wat van God kom.+
20 As julle saam met Christus gesterf het ten opsigte van die basiese* dinge van die wêreld,+ waarom lewe julle dan asof julle nog deel van die wêreld is deur gehoorsaam te wees aan wette soos:+ 21 “Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? 22 Hierdie wette verwys na dinge wat vergaan nadat dit gebruik is. Dit is wette wat deur mense geleer word.+ 23 Hierdie dinge lyk dalk asof dit wysheid bevat, maar dit is ’n vorm van aanbidding wat mense self gekies het en ’n valse nederigheid, wat die liggaam laat ly.+ Hierdie dinge help ’n mens glad nie in die stryd teen vleeslike begeertes nie.
3 As julle egter saam met die Christus opgewek is,+ moet julle aanhou soek na die dinge wat daar bo is, waar die Christus aan die regterhand van God sit.+ 2 Bly dink aan die dinge daar bo,+ nie aan die dinge op die aarde nie.+ 3 Want julle het gesterf, en julle lewens is in die hande van die Christus in eenheid met God. 4 Wanneer die Christus, ons lewe,+ openbaar gemaak word, sal julle ook saam met hom in heerlikheid openbaar gemaak word.+
5 Maak dan dood julle liggaamsdele+ wat op die aarde is ten opsigte van seksuele onsedelikheid,* onreinheid, onbeheerste seksuele begeertes,+ skadelike begeertes en gierigheid, wat afgodediens is. 6 As gevolg van hierdie dinge sal die woede van God kom. 7 Julle het dieselfde dinge gedoen* in julle vorige lewenswyse.+ 8 Maar nou moet julle ontslae raak van al hierdie dinge: woede, slegtheid,+ beledigende taal+ en vuil praatjies+ uit julle mond. 9 Moenie vir mekaar lieg nie.+ Trek die ou persoonlikheid* met sy gebruike uit,+ 10 en trek die nuwe persoonlikheid aan,+ wat deur akkurate kennis nuut gemaak word volgens die beeld van die Een wat dit geskep het,+ 11 waar daar nie Griek of Jood, besnydenis of onbesnedenheid, uitlander, Skitiër,* slaaf of vryman is nie. Maar Christus is alles en in almal.+
12 Aangesien julle deur God uitgekies is+ en heilig en geliefd is, moet julle die volgende eienskappe betoon:* intense medelye,*+ goedhartigheid, nederigheid,*+ sagmoedigheid+ en geduld.+ 13 Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe,+ selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla.+ Net soos Jehovah* julle vryelik vergewe het, so moet julle ook vergewe.+ 14 Maar behalwe al hierdie dinge moet julle liefde betoon,*+ want dit is ’n volmaakte band van eenheid.+
15 En laat die vrede van die Christus in julle harte regeer,*+ want julle is in een liggaam tot daardie vrede geroep. En toon dat julle dankbaar is. 16 Laat die woord van die Christus in alle wysheid ryklik in julle woon. Hou aan om mekaar te leer en aan te moedig* met psalms,+ lofliedere tot God, geestelike liedere wat met dankbaarheid gesing word, terwyl julle in julle harte vir Jehovah* sing.+ 17 Wat julle ook al sê of doen, doen alles in die naam van die Here Jesus, terwyl julle God, die Vader, deur hom dank.+
18 Vrouens, wees onderdanig aan julle mans,+ want dit is reg in die oë van die Here. 19 Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê+ en moenie vir hulle bitter kwaad wees* nie.+ 20 Kinders, wees in alles gehoorsaam aan julle ouers,+ want dit maak die Here se hart bly. 21 Pa’s, moenie julle kinders irriteer* nie,+ sodat hulle nie moedeloos* word nie. 22 Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle aardse* meesters,+ nie net om hulle tevrede te stel wanneer julle dopgehou word nie, maar met opregte harte, met vrees vir Jehovah.* 23 Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel* soos vir Jehovah*+ en nie vir mense nie, 24 omdat julle weet dat julle die erfenis as ’n beloning van Jehovah* sal ontvang.+ Dien die Meester, Christus, soos slawe. 25 Die een wat verkeerde dinge doen, sal beslis terugbetaal word vir wat hy gedoen het,+ want God oordeel almal volgens dieselfde standaard.+
4 Meesters, behandel julle slawe op ’n regverdige en eerlike manier, want julle weet dat julle ook ’n Meester in die hemel het.+
2 Volhard in gebed.+ Bly wakker daarin en dank God.+ 3 Bid dan ook vir ons,+ dat God ’n deur vir die woord sal oopmaak sodat ons die heilige geheim omtrent die Christus kan bekend maak waarvoor ek ’n gevangene is,+ 4 en sodat ek dit so duidelik kan verkondig soos wat ek moet.
5 Hou aan om julle op ’n wyse manier te gedra teenoor buitestanders, en gebruik julle tyd op die beste manier moontlik.*+ 6 Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout,+ sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.+
7 Tiʹgikus,+ my geliefde broer en getroue dienaar en medeslaaf in die Here, sal julle al die nuus oor my vertel. 8 Ek stuur hom na julle toe sodat julle kan weet hoe dit met ons gaan en sodat hy julle harte kan vertroos. 9 Hy kom saam met Oneʹsimus,+ my getroue en geliefde broer, wat van julle af kom. Hulle sal julle van al die dinge vertel wat hier gebeur.
10 Aristarʹgus,+ my medegevangene, stuur vir julle groete, en so ook Markus,+ die neef van Barʹnabas (oor wie julle instruksies ontvang het om hom te verwelkom+ as hy ooit na julle toe kom), 11 en Jesus, wat Justus genoem word en een van die manne is wat besny is. Net hulle is my medewerkers vir die Koninkryk van God, en hulle het vir my ’n bron van groot vertroosting* geword. 12 Eʹpafras,+ ’n slaaf van Christus Jesus wat van julle af kom, stuur vir julle groete. Hy bid altyd intens vir julle sodat julle uiteindelik as geestelik volwasse persone en met volle oortuiging kan vasstaan in die hele wil van God. 13 Ek getuig oor hom dat hy groot moeite doen vir julle en vir dié in Laodiseʹa en Hiëraʹpolis.
14 Lukas,+ die geliefde dokter, stuur vir julle groete, en Demas+ ook. 15 Stuur groete vir die broers in Laodiseʹa en vir Nimfa en vir die gemeente in haar huis.+ 16 Wanneer hierdie brief by julle gelees is, moet julle reël dat dit ook in die gemeente in Laodiseʹa gelees word+ en dat julle ook die een uit Laodiseʹa lees. 17 Sê ook vir Argipʹpus:+ “Skenk aandag aan die bediening wat jy in die Here aanvaar het, sodat jy dit kan vervul.”
18 Hier is my groete, Paulus s’n, wat ek met my eie hand skryf.+ Dink aan my hier in die tronk.+ Mag die onverdiende goedheid met julle wees.
Lett. “julle liefde in gees”.
Sien Aanh. A5.
Sien Woordelys.
Lett. “vleeslike”.
Of “stelsels van dinge”. Sien Woordelys.
Lett. “nie my aangesig in die vlees”.
Of “julle as sy prooi wegdra”.
Of “elementêre”.
Of “het julle ’n volheid verkry”.
Lett. “die liggaam van die vlees”.
Sien Woordelys.
Aangehaal uit geheime heidense inwydingsritusse.
Of “elementêre”.
Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.
Of “ook so gewandel”.
Lett. “mens”.
“Skitiër” het na ’n onbeskaafde mens verwys.
Of “julle met . . . beklee”.
Sien Woordelys.
Of “nederigheid van verstand”.
Sien Aanh. A5.
Of “julle met . . . beklee”.
Of “julle harte beheer”.
Of “ernstig te vermaan”.
Sien Aanh. A5.
Of “hulle sleg behandel”.
Of “kwaad maak; treiter”.
Of “mismoedig”.
Lett. “vleeslike”.
Sien Aanh. A5.
Sien Woordelys.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Of “koop die vasgestelde tyd uit”.
Of “versterking”.