Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Filippense 1:1-4:23
  • Filippense

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Filippense
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Filippense

AAN DIE FILIPPENSE

1 Van Paulus en Timoʹteus, slawe van Christus Jesus. Aan al die heiliges in eenheid met Christus Jesus wat in Filipʹpi+ is, saam met die opsieners en bedieningsknegte:+

2 Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.

3 Ek dank my God altyd wanneer ek aan julle dink. 4 In al my smeekgebede vir julle dank ek hom met vreugde+ 5 omdat julle van die eerste dag af tot nou toe bygedra het tot* die bevordering van die goeie nuus. 6 Ek het die vaste vertroue dat die een wat ’n goeie werk onder julle begin het, dit sal bly doen totdat dit op die dag van Jesus Christus+ voltooi is.+ 7 Dit is net reg dat ek so oor julle almal voel omdat ek julle in my hart dra. Julle het saam met my in die onverdiende goedheid gedeel toe ek in die tronk was+ en toe ons die goeie nuus verdedig en wetlik bevestig het.+

8 Want God is my getuie van hoe ek na julle almal verlang met dieselfde soort liefde as wat Christus Jesus het. 9 En ek bly bid dat julle liefde al hoe meer sal toeneem+ met akkurate kennis+ en goeie oordeel*+ 10 en dat julle seker kan maak van die belangriker dinge.+ Dan sal julle tot op die dag van Christus opreg kan wees en ander nie laat struikel nie.+ 11 Ek bid ook dat julle deur Jesus Christus al hoe meer regverdige werke kan doen,+ tot lof en eer van God.

12 Ek wil hê dat julle moet weet, broers, dat my situasie in werklikheid bygedra het tot die verspreiding van die goeie nuus, 13 want dit het onder die hele pretoriaanse wag en al die ander bekend geword+ dat ek ’n gevangene+ is ter wille van Christus. 14 Die meeste van die broers in die Here het meer vertroue gekry omdat ek ’n gevangene is, en hulle het al hoe meer moed om die woord van God sonder vrees te verkondig.

15 Dit is waar dat party die Christus verkondig omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry, maar ander het goeie motiewe. 16 Die laasgenoemdes verkondig die Christus uit liefde, want hulle weet dat ek aangestel is om die goeie nuus te verdedig,+ 17 maar die eersgenoemdes doen dit omdat hulle selfsugtig is en nie goeie motiewe het nie, want hulle wil vir my, wat ’n gevangene is, probleme veroorsaak. 18 Wat is die gevolg? Net dat Christus op elke manier verkondig word, of dit nou met goeie motiewe is of nie, en ek is bly hieroor. Om die waarheid te sê, ek sal ook aanhou om bly te wees, 19 want ek weet dat dit tot my redding sal lei as gevolg van julle smeekgebede+ en die ondersteuning van die gees van Jesus Christus.+ 20 Ek het die vertroue en die hoop dat ek my vir niks sal hoef te skaam nie, maar dat Christus nou, net soos voorheen, met alle vrymoedigheid van spraak deur my* geëer sal word, of ek nou bly lewe of sterf.+

21 Want as ek lewe, lewe ek vir Christus,+ en as ek sterf, is dit tot my voordeel.+ 22 As ek verder in hierdie liggaam* moet lewe, sal ek meer vir die Christus kan doen,* maar ek maak nie bekend wat ek sal kies nie. 23 Dit voel asof ek in twee verdeel is, want ek wil graag bevry word en saam met Christus wees,+ want dit is beslis baie beter.+ 24 Maar vir julle beswil is dit vir my beter om in hierdie liggaam* te bly. 25 Omdat ek hierdie vertroue het, weet ek dat ek sal bly lewe en by julle almal sal bly sodat julle vooruitgang kan maak en vreugde in die geloof kan hê. 26 Dan sal julle kan oorloop van vreugde in Christus Jesus wanneer ek weer by julle is.

27 Gedra julle net* op ’n manier wat die goeie nuus oor die Christus waardig is.+ Of ek julle kom besoek of nie, ek sal graag wil hoor dat julle vasstaan in een gees, met een siel,*+ terwyl julle sy aan sy hard werk om geloof in die goeie nuus te behou 28 en dat julle glad nie deur julle teenstanders bang gemaak word nie. Dit is vir hulle ’n bewys dat hulle vernietig sal word,+ maar vir julle dat julle gered sal word.+ Dit kom van God af. 29 Want julle het die voorreg ontvang om nie net geloof in Christus te stel nie, maar ook om vir hom te ly.+ 30 Want julle het dieselfde stryd wat julle in my geval gesien het,+ en soos julle gehoor het, het ek nog steeds hierdie stryd.

2 Julle moedig mekaar in Christus aan, julle vertroos mekaar in liefde, julle is besorg oor mekaar,* julle is lief vir mekaar en julle betoon medelye* aan mekaar. 2 Maar gee my dan nog groter vreugde deur dieselfde gesindheid en liefde te hê terwyl julle heeltemal verenig* is en dieselfde denke het.+ 3 Moenie stryerig wees+ of te veel van julleself dink nie,+ maar wees nederig* en beskou ander as hoër as julleself,+ 4 terwyl julle nie net aan julle eie belange dink nie,+ maar ook aan die belange van ander.+

5 Behou dieselfde denke en gesindheid wat Christus Jesus gehad het.+ 6 Al was hy soos God,*+ het hy dit nooit eens oorweeg om homself aan God te probeer gelykstel nie.+ 7 Nee, hy het alles opgegee en soos ’n slaaf geword+ en ’n mens* geword.+ 8 Wat meer is, toe hy as ’n mens gekom* het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe,+ ja, die dood aan ’n folterpaal.*+ 9 Om hierdie rede het God hom ook ’n hoër posisie gegee+ en hom uit sy goedheid die naam gegee wat bo elke ander naam is,+ 10 sodat elke knie in die naam van Jesus sal buig – dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond+ – 11 en sodat elke tong openlik sal erken dat Jesus Christus Here+ is tot die eer van God, die Vader.

12 My geliefdes, julle was nog altyd gehoorsaam, nie net toe ek daar was nie, maar nou nog veel meer terwyl ek nie daar is nie. Hou aan om met vrees en diep respek aan julle eie redding te werk. 13 Want dit is God wat julle versterk soos hy dit goedvind. Hy gee julle die begeerte en die krag om op te tree. 14 Hou aan om alles te doen sonder om te kla+ of te stry,+ 15 sodat julle rein en onskuldig kan word, kinders van God,+ onbesmet in ’n geslag wat sleg en verdraai is.+ Onder hulle skyn julle as ligte in die wêreld+ 16 terwyl julle stewig aan die woord van die lewe vashou.+ Dan kan ek in Christus se dag ’n rede hê om bly te wees omdat ek weet dat ek nie verniet gehardloop of hard gewerk het nie. 17 Maar selfs al word ek soos ’n drankoffer uitgegooi+ oor die offerande+ en die heilige* diens waartoe geloof julle gelei het, is ek bly. Ja, ek sal saam met julle almal bly wees. 18 Net so moet julle dan nou ook bly wees en julle vreugde met my deel.

19 Ek hoop in die Here Jesus om Timoʹteus+ binnekort na julle toe te stuur, sodat ek aangemoedig kan wees wanneer ek nuus oor julle ontvang. 20 Want ek het niemand anders om te stuur wat dieselfde gesindheid as hy het en wat opreg na julle belange sal omsien nie. 21 Want al die ander soek hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. 22 Maar julle weet dat hy bewys het dat hy nie so is nie omdat hy, soos ’n kind+ saam met sy pa, saam met my soos ’n slaaf gedien het om die goeie nuus te bevorder. 23 Daarom hoop ek om hom te stuur sodra ek gesien het hoe sake vir my uitdraai. 24 Ja, ek vertrou op die Here dat ek self ook binnekort sal kom.+

25 Maar vir eers dink ek dat dit nodig is om Epafrodiʹtus terug te stuur na julle toe. Hy is my broer en medewerker en medesoldaat, wat julle gestuur het om na my behoeftes om te sien.+ 26 Hy wil julle almal baie graag sien en is hartseer omdat julle gehoor het dat hy siek geword het. 27 Ja, hy het so siek geword dat hy amper gesterf het, maar God was genadig teenoor hom, en om die waarheid te sê, ook teenoor my, sodat ek nie nog groter hartseer sou hê nie. 28 Daarom stuur ek hom met die grootste dringendheid, sodat julle weer bly kan wees wanneer julle hom sien en ek ook nie so bekommerd hoef te wees nie. 29 Verwelkom hom dus met alle vreugde in die Here soos julle gewoonlik alle Christene verwelkom, en respekteer en waardeer sulke manne,+ 30 want hy het amper gesterf ter wille van die werk van Christus.* Hy het sy lewe gewaag om op te maak vir die feit dat julle nie hier was om my te help nie.+

3 Laastens, my broers, wees altyd bly in die Here.+ Dit is nie vir my moeite om dieselfde dinge aan julle te skryf nie, en dit is vir julle ’n beskerming.

2 Pasop vir die honde, pasop vir dié wat skade aanrig, pasop vir dié wat die liggaam* vermink.+ 3 Want ons is dié wat werklik besny is,+ wat heilige diens deur God se gees doen en oor Christus Jesus spog+ en wat nie ons vertroue in die vlees stel nie, 4 al het ek alle rede om vertroue in die vlees te hê.

As enigiemand anders dink dat hy rede het om vertroue in die vlees te hê, het ek nog meer: 5 Ek is op die agtste dag besny,+ uit die nasie Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër gebore uit Hebreërs,+ wat die wet betref, ’n Fariseër,+ 6 wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente,+ wat regverdigheid op grond van die wet betref, iemand met wie daar nie foutgevind kon word nie. 7 Maar die dinge wat vir my baie beteken het, het ek as ’n verlies beskou* as gevolg van die Christus.+ 8 Wat meer is, weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here, beskou ek alles beslis as ’n verlies. Ter wille van hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen 9 en in eenheid met hom kan wees. Dit is nie deur my eie regverdigheid omdat ek gehoorsaam is aan die Wet nie, maar deur my regverdigheid weens geloof+ in Christus,+ want God beskou dié wat geloof het, as regverdig.+ 10 Ek wil hom en die krag van sy opstanding ken.+ Ek wil soos hy ly+ en ’n soortgelyke dood as hy sterf,+ 11 sodat ek kan sien of ek die vroeër opstanding uit die dood kan ontvang,+ as dit enigsins moontlik is.

12 Nie dat ek dit reeds ontvang het of reeds volmaak geword het nie, maar ek probeer my bes+ om te sien of ek ook dit kan kry waarvoor Christus Jesus my gekies het.+ 13 Broers, ek bedoel nie dat ek dit al gekry het nie, maar een ding is seker: Ek vergeet die dinge wat agter is+ en strek my uit na die dinge wat voor is.+ 14 Ek probeer my bes om my doel te bereik, naamlik om die prys+ van God se roeping na die hemel te ontvang,+ wat hy deur middel van Christus Jesus gee. 15 Laat ons almal wat geestelik volwasse is,+ dus hierdie denke en gesindheid hê, en as julle in enige opsig anders daaroor dink, sal God die bogenoemde gesindheid aan julle openbaar. 16 In elk geval, net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan.

17 Broers, volg my in eenheid na,+ en hou julle oë op dié wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle gestel het. 18 Want daar is baie wat as vyande van die folterpaal* van die Christus lewe. Ek het dikwels van hulle gepraat, maar ek huil wanneer ek nou van hulle praat. 19 Hulle einde is vernietiging, en hulle god is hulle maag, en hulle eer is eintlik hulle skande, en hulle dink net aan aardse dinge.+ 20 Maar ons burgerskap+ is in die hemel,+ en ons wag gretig vir ’n redder wat van daar af kom, die Here Jesus Christus.+ 21 Hy sal ons nederige liggame verander om soos sy glorieryke liggaam+ te wees deur middel van sy groot krag wat hom in staat stel om alles aan homself te onderwerp.+

4 Daarom, my broers, moet julle vasstaan+ in die Here. My geliefdes, my vreugde en kroon,+ ek is lief vir julle en verlang na julle.

2 Ek vra Euoʹdia en ek vra Sintiʹge om dieselfde denke te hê terwyl hulle die Here dien.+ 3 Ja, ek vra jou ook, as ’n ware medewerker, om hierdie vrouens by te staan. Hulle het hard saam met my gewerk vir die goeie nuus, net soos Klemens en die res van my medewerkers, wie se name in die boek van die lewe is.+

4 Wees altyd bly in die Here. Weer eens sal ek sê: Wees bly!+ 5 Laat julle redelikheid+ aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Moet oor niks bekommerd wees nie,+ maar vra God in elke situasie om julle te help deur tot hom te bid, hom te smeek en hom te dank.+ 7 Dan sal die vrede+ van God, wat alle denke oortref, julle harte+ en julle verstande* beskerm deur middel van Christus Jesus.

8 Laastens, broers, hou aan om te dink aan* alles wat waar is, alles wat werklik belangrik is, alles wat regverdig is, alles wat rein* is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, alles wat goed is en alles wat prysenswaardig is.+ 9 Hou aan om die dinge te doen wat julle in verband met my geleer en aanvaar en gehoor en gesien het,+ en die God van vrede sal met julle wees.

10 As ’n kneg van die Here is ek baie bly dat julle nou uiteindelik weer besorg is oor my.+ Julle was wel besorg oor my, maar julle het nie die geleentheid gehad om dit te wys nie. 11 Ek sê dit nie omdat ek ’n tekort aan enigiets het nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede* te wees met wat ek het.+ 12 Ek weet hoe dit is om min te hê+ en ek weet hoe dit is om ’n oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om ’n oorvloed te hê sowel as om sonder iets klaar te kom. 13 Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.+

14 Tog het julle goed gedoen deur my in my moeilike tye te help. 15 Om die waarheid te sê, Filippense, julle weet ook wat gebeur het nadat julle die goeie nuus vir die eerste keer gehoor het. Toe ek uit Masedoʹnië vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my gehelp of my hulp aanvaar nie.+ 16 Want terwyl ek in Tessaloʹnika was, het julle nie net een keer vir my iets gestuur toe ek dit nodig gehad het nie, maar twee keer. 17 Dit is nie dat ek iets by julle wil hê nie, maar ek wil hê dat julle die seëninge moet ontvang wat julle geestelik nog ryker sal maak. 18 Ek het alles wat ek nodig het en selfs nog meer. Ek het oorgenoeg noudat Epafrodiʹtus+ die dinge vir my gebring het wat julle gestuur het, ’n aangename geur,+ ’n aanvaarbare offerande, wat deur God goedgekeur word. 19 En my God sal uit sy groot rykdom vir julle alles gee wat julle nodig het+ deur middel van Christus Jesus. 20 Aan ons God en Vader behoort die eer vir ewig en altyd. Amen.

21 Stuur groete vir elke heilige in eenheid met Christus Jesus. Die broers by my stuur vir julle groete. 22 Al die heiliges, maar veral dié van die huis van die keiser,+ stuur vir julle groete.

23 Mag die onverdiende goedheid van die Here Jesus Christus wees met die gees wat julle openbaar.

Of “’n deelname gehad het aan”.

Of “volle onderskeidingsvermoë”.

Lett. “in my liggaam”.

Lett. “die vlees”.

Lett. “is dit ’n vrug van my werk”.

Lett. “die vlees”.

Of “Gedra julle net soos burgers”.

Of “soos een man”.

Lett. “het deelgenootskap in gees”.

Sien Woordelys.

Of “in siel verenig”.

Of “nederig van verstand”.

Lett. “het hy in God se gedaante bestaan”.

Lett. “aan die mense gelyk”.

Lett. “hom in gestalte as ’n mens bevind”.

Sien Woordelys.

Of “openbare”.

Of moontlik “die Here”.

Lett. “vlees”.

Of moontlik “gewillig verlaat”.

Sien Woordelys.

Of “verstandelike vermoëns; gedagtes”.

Of “peins oor”.

Lett. “kuis”.

Of “vergenoeg”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel