Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Efesiërs 1:1-6:24
  • Efesiërs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Efesiërs
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Efesiërs

AAN DIE EFESIËRS

1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur God se wil. Aan die heiliges wat in Efeʹse+ is en wat getrou is in eenheid met Christus Jesus:

2 Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.

3 Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word, want hy het ons geseën met elke geestelike seën in die hemelse plekke in eenheid met Christus.+ 4 Hy het ons voor die begin van die mensdom* gekies om in eenheid met hom* te wees, sodat ons in liefde heilig en onbesmet+ voor hom moet wees. 5 Want hy het ons vooraf gekies+ om volgens sy wens en sy wil+ deur middel van Jesus Christus as sy eie kinders+ aangeneem te word. 6 So sou God geloof word vir sy glorieryke onverdiende goedheid+ wat hy deur sy geliefde Seun aan ons gegee het.+ 7 Deur middel van hom is ons bevry deur ’n losprys, deur sy bloed.+ Ja, ons oortredings is as gevolg van God se groot onverdiende goedheid vergewe.+

8 Hy het hierdie onverdiende goedheid oorvloedig aan ons betoon deur ons alle wysheid en begrip* te gee. 9 Hy het dit gedoen deur die heilige geheim+ van sy wil aan ons bekend te maak. Hy het besluit en dit goedgevind 10 om ’n administrasie te hê* wanneer die vasgestelde tye voltooi is, om alles bymekaar te bring in die Christus, die dinge in die hemel en die dinge op die aarde.+ Ja, in hom 11 met wie ons in eenheid is en ook as erfgename aangestel is.+ Hy het ons vooraf gekies volgens die besluit van die een wat alle dinge volgens sy wil laat plaasvind. 12 So sou God geloof en geëer word as gevolg van ons, dié wat eerste op die Christus gehoop het. 13 Maar julle het ook op hom gehoop nadat julle die woord van waarheid, die goeie nuus oor julle redding, gehoor het. Nadat julle begin glo het, is julle deur middel van hom met die beloofde heilige gees verseël,+ 14 wat vooraf gegee is as ’n waarborg* van ons erfenis.+ Hierdie verseëling was om God se eie besitting+ deur ’n losprys+ te bevry sodat hy geloof en geëer kan word.

15 Ek het gehoor van die geloof wat julle in die Here Jesus het en die liefde wat julle teenoor al die heiliges getoon het, en daarom het ek ook 16 nie opgehou om God te dank vir julle nie. In my gebede vir julle bly ek vra 17 dat die God van ons Here Jesus Christus, die glorieryke Vader, julle krag sal gee sodat julle wys kan wees en die dinge kan verstaan wat hy openbaar, en so sal julle akkurate kennis van hom kry.+ 18 Hy het die oë van julle harte geopen sodat julle kan weet tot watter hoop hy julle geroep het, watter glorieryke rykdom hy as ’n erfenis vir die heiliges sal gee+ 19 en hoe oorvloedig sy krag teenoor ons, die gelowiges, is.+ Dit kan gesien word in die manier hoe hy sy groot mag gebruik het, 20 wat hy teenoor Christus getoon het toe hy hom uit die dood opgewek het. Hy het hom aan sy regterhand in die hemelse plekke laat sit,+ 21 ver bo elke regering en gesag en mag en heerskappy en elke naam wat genoem word,+ nie net in hierdie tydperk* nie, maar ook in die tydperk wat kom. 22 Hy het ook alles onder sy voete geplaas+ en hom hoof oor alles gemaak in verband met die gemeente,+ 23 wat sy liggaam is+ en wat vol is van hom wat alle dinge in elke opsig vul.

2 Verder het God julle lewend gemaak, al was julle dood weens julle oortredings en sondes.+ 2 Julle het vroeër die weg van hierdie wêreld* gevolg,+ die weg van die heerser van die mag van die lug,+ die gees+ wat nou in die seuns van ongehoorsaamheid aan die werk is. 3 Ja, voorheen het ons almal ons volgens die begeertes van ons vlees gedra,+ net soos hulle. Ons het gedoen wat ons vlees en gedagtes wou hê ons moes doen,+ en net soos die res was ons van nature kinders van God se woede.+ 4 Maar God, wat groot genade het,+ het ons weens sy groot liefde waarmee hy ons liefgehad het,+ 5 lewend gemaak saam met die Christus, selfs toe ons dood was weens oortredings.+ Julle is deur onverdiende goedheid gered. 6 Wat meer is, hy het ons saam opgewek en saam laat sit in die hemelse plekke in eenheid met Christus Jesus.+ 7 Hy het dit gedoen sodat hy in die komende tydperke* duidelik kon toon hoe groot sy onverdiende goedheid is wat hy uit sy hart* betoon het aan ons wat in eenheid met Christus Jesus is.

8 Deur hierdie onverdiende goedheid is julle deur middel van geloof gered,+ en julle het dit nie aan julleself te danke nie. Dit is eerder God se gawe. 9 Nee, dit is nie aan werke te danke nie,+ sodat niemand ’n rede sou hê om te spog nie. 10 Ons is God se handewerk,* en ons is in eenheid met Christus Jesus+ geskep+ vir goeie werke, wat God vooraf vasgestel het vir ons om te doen.

11 Hou dus in gedagte dat julle wat as mense van die nasies gebore is,* eens op ’n tyd onbesnede genoem is deur dié wat deur mensehande besny is. 12 Op daardie stadium was julle sonder Christus, vervreemd van die staat Israel, vreemdelinge ten opsigte van die verbonde van die belofte.+ Julle het geen hoop gehad nie en was sonder God in die wêreld.+ 13 Maar julle wat eers ver weg was, het nou in eenheid met Christus Jesus naby gekom deur die bloed van die Christus. 14 Want hy is ons vrede.+ Hy het die twee groepe een gemaak+ en die muur wat hulle geskei het, vernietig.+ 15 Deur middel van sy liggaam* het hy ’n einde gemaak aan die vyandskap, naamlik die Wet wat bestaan uit gebooie en wetsvoorskrifte, sodat hy die twee groepe in eenheid met homself tot een nuwe mens kon maak.+ So kon hy vrede bring 16 en deur die folterpaal*+ albei groepe in een liggaam heeltemal met God versoen. Hy het die vyandskap deur middel van homself verwyder.+ 17 En hy het gekom en die goeie nuus van vrede bekend gemaak aan julle wat ver weg was en aan dié wat naby was, 18 want deur middel van hom het ons, albei groepe, deur een gees vrye toegang tot die Vader.

19 Julle is dus beslis nie meer vreemdelinge en uitlanders nie,+ maar julle is medeburgers+ van die heiliges en lede van die huisgesin van God.+ 20 Julle is opgebou op die fondament van die apostels en profete,+ terwyl Christus Jesus self die belangrikste hoeksteen van die fondament is.+ 21 In eenheid met hom groei die hele gebou, wat harmonies saamgevoeg is,+ tot ’n heilige tempel vir Jehovah.*+ 22 In eenheid met hom word julle ook saam opgebou tot ’n plek waarin God deur gees woon.+

3 Ek, Paulus, is dus ’n gevangene+ van Christus Jesus ter wille van julle, die mense van die nasies. 2 Julle het beslis gehoor dat die bestuurderskap+ van die onverdiende goedheid van God tot julle voordeel aan my gegee is. 3 Die heilige geheim is deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, net soos ek voorheen kortliks aan julle geskryf het. 4 Wanneer julle hierdie brief lees, sal julle dus besef dat ek die heilige geheim+ van die Christus verstaan. 5 In vorige geslagte is hierdie geheim nie aan die mensekinders bekend gemaak soos dit nou deur gees aan die heilige apostels en profete geopenbaar is nie.+ 6 Hierdie geheim is dat mense van die nasies in eenheid met Christus Jesus deur middel van die goeie nuus mede-erfgename en lede van dieselfde liggaam sal wees.+ Hulle sal saam met ons in die belofte deel. 7 Ek het ’n bedienaar hiervan geword danksy die vrye gawe van God se onverdiende goedheid wat deur die werking van sy krag aan my gegee is.+

8 Hierdie onverdiende goedheid is aan my gegee,+ iemand wat die onbelangrikste van al die heiliges is,+ sodat ek die goeie nuus oor die onmeetbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak. 9 Dit is ook aan my gegee sodat ek almal kon laat sien hoe die openbaring van die heilige geheim+ beheer word, wat deur die eeue heen geheim gehou is deur God, wat alles geskep het. 10 Dit het gebeur sodat die wysheid van God, wat op ’n groot verskeidenheid maniere geopenbaar word, nou deur middel van die gemeente+ aan die regerings en die owerhede in die hemelse plekke bekend gemaak kan word.+ 11 Dit is volgens sy ewige voorneme in verband met die Christus,+ Jesus ons Here, 12 deur middel van wie ons hierdie vrymoedigheid van spraak en vrye toegang+ vol vertroue deur ons geloof in hom het. 13 Daarom wil ek julle vra om nie moed op te gee weens die probleme wat ek ter wille van julle ondervind nie, want dit beteken eer vir julle.+

14 Daarom buig ek my knieë voor die Vader, 15 aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het. 16 Ek bid dat hy julle uit die oorvloed van sy heerlikheid deur die krag van sy gees sterk sal maak in die mens wat julle innerlik is.+ 17 En ek bid dat die Christus deur julle geloof in julle harte mag woon, tesame met liefde.+ Mag julle stewig gewortel+ en gevestig wees op die fondament,+ 18 sodat julle saam met al die heiliges heeltemal in staat kan wees om ten volle te verstaan wat die breedte en lengte en hoogte en diepte van die waarheid is 19 en om die liefde van die Christus te ken,+ wat beter is as alle kennis, sodat julle gevul kan word met al die goeie dinge wat God gee.

20 God kan deur sy krag wat in ons aan die werk is,+ oneindig meer vir ons doen as alles wat ons vra of wat ons ons kan voorstel.+ 21 Hy verdien dus die eer deur middel van die gemeente en deur middel van Christus Jesus tot in alle geslagte, vir ewig en altyd. Amen.

4 Ek, die gevangene+ in die Here, vra julle dan dringend om te lewe op ’n manier wat pas by die roeping waarmee julle geroep is,+ 2 met alle nederigheid*+ en sagmoedigheid en met geduld,+ terwyl julle mekaar in liefde verdra.+ 3 Probeer hard om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar.+ 4 Daar is een liggaam+ en een gees,+ net soos julle geroep is in die een hoop+ van julle roeping, 5 een Here,+ een geloof, een doop, 6 een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is.

7 Aan elkeen van ons is daar onverdiende goedheid gegee soos die Christus hierdie vrye gawe tussen ons verdeel het.+ 8 Want daar is geskryf: “Toe hy na bo opgevaar het, het hy gevangenes weggevoer. Hy het gawes in die vorm van mense gegee.”+ 9 Wat anders kan die woorde ‘hy het opgevaar’ dan nou beteken as dat hy ook ondertoe, dit wil sê na die aarde toe, neergedaal het? 10 Dieselfde een wat neergedaal het, is ook die een wat ver bo al die hemele+ opgevaar het+ om volheid aan alle dinge te gee.

11 En hy het party gegee as apostels,+ party as profete,+ party as evangeliepredikers,*+ party as herders en onderrigters,+ 12 om die heiliges reg te help,* om te dien, om die liggaam van die Christus op te bou.+ 13 Hulle sal dit doen totdat ons almal die eenheid van die geloof bereik en akkurate kennis van die Seun van God verkry, sodat ons soos ’n volgroeide* man kan word+ en die standaard van volwassenheid van die Christus kan bereik. 14 Ons moet dus nie meer kinders wees wat deur die golwe rondgegooi word en heen en weer gewaai word deur elke wind van lering+ van mense wat bedrieg en slinkse planne uitdink nie. 15 Maar laat ons die waarheid praat en deur liefde in alles groei sodat ons kan wees soos hy wat die hoof is, Christus.+ 16 Uit hom word die hele liggaam+ harmonies saamgevoeg en gemaak om saam te werk omdat elke gewrig gee wat nodig is. As elke deel behoorlik funksioneer, dra dit by tot die groei van die liggaam, en so bou die liggaam homself in liefde op.+

17 Daarom sê ek en getuig ek in die Here: Julle moenie langer die weg van die nasies met hulle leë* gedagtes+ volg nie.+ 18 Hulle is verstandelik in duisternis en vervreemd van die lewe wat van God kom omdat hulle hom nie wil ken nie, want hulle harte is ongevoelig.* 19 Hulle het glad nie meer ’n gevoel vir wat reg en wat verkeerd is nie, en daarom het hulle hulleself aan skaamtelose gedrag*+ oorgegee om elke soort onreinheid met gierigheid te beoefen.

20 Maar dit is nie wat julle oor die Christus geleer het nie. 21 Julle het hom tog gehoor en is deur middel van hom geleer in ooreenstemming met die waarheid wat in Jesus is. 22 Julle is geleer om van die ou persoonlikheid ontslae te raak,+ wat met julle vorige lewenswyse ooreenkom en wat al hoe slegter word as gevolg van sy bedrieglike begeertes.+ 23 Julle moet aanhou om ’n nuwe denkwyse aan te leer*+ 24 en die nuwe persoonlikheid aantrek,+ wat in ooreenstemming met God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is.

25 Daarom moet elkeen van julle, noudat julle bedrog agtergelaat het, die waarheid met sy naaste praat,+ want ons is lede wat aan mekaar behoort.+ 26 Wees kwaad, maar moenie sondig nie.+ Moenie toelaat dat die son ondergaan terwyl julle nog kwaad is nie,+ 27 en moenie die Duiwel ’n geleentheid gee* nie.+ 28 Laat die een wat steel, nie meer steel nie. Laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen+ sodat hy iets kan hê om te deel met iemand wat behoeftig is.+ 29 Laat ’n slegte woord nie uit julle mond kom nie,+ maar net wat opbouend is vir dié wat dit nodig het. So kan julle iets voordeligs deel met dié wat dit hoor.+ 30 Moet ook nie God se heilige gees bedroef* nie,+ want julle is verseël+ vir ’n dag wanneer julle deur ’n losprys bevry sal word.+

31 Moenie enige soort wrok koester nie,+ en laat vaar alle woede, geskree en beledigende taal,+ saam met alles wat sleg is.+ 32 Maar wees goed vir mekaar, betoon intense medelye,*+ en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.+

5 Word dan navolgers van God,+ as geliefde kinders, 2 en hou aan om liefde te betoon,+ net soos die Christus ook liefde aan ons* betoon het+ en homself vir ons* gegee het as ’n gawe en ’n offerande, ’n aangename geur vir God.+

3 Laat seksuele onsedelikheid* en elke soort onreinheid of gierigheid nie eers onder julle genoem word nie,+ net soos dit vir heilige mense+ gepas is, 4 en ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of vuil grappe nie,+ want dit is dinge wat ongepas is, maar doen eerder dankgebede.+ 5 Want julle weet en julle besef self dat niemand wat seksueel onsedelik*+ of onrein of gierig+ is – wat beteken om ’n afgodedienaar te wees – ’n erfdeel in die Koninkryk van die Christus en van God het nie.+

6 Laat niemand julle met leë woorde bedrieg nie, want as gevolg van sulke dinge kom die woede van God oor die kinders van ongehoorsaamheid. 7 Moet dus nie doen wat hulle doen nie,* 8 want julle was eens duisternis, maar julle is nou lig+ in verband met die Here.+ Gaan voort om as kinders van die lig te lewe, 9 want die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid.+ 10 Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanvaarbaar is,+ 11 en hou op om die onvrugbare werke te doen wat aan die duisternis behoort,+ maar ontmasker eerder hierdie werke. 12 Want die dinge wat hulle in die geheim doen, is te skandelik om selfs te noem. 13 Alles wat dan nou ontmasker* word, word deur die lig geopenbaar, want alles wat geopenbaar word, is lig. 14 Daarom word daar gesê: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood,+ en die Christus sal op jou skyn.”+

15 Hou dus aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone, 16 en maak die beste gebruik van julle tyd,*+ want die dae is goddeloos. 17 Hou dus op om onredelik te wees, maar probeer verstaan wat die wil van Jehovah* is.+ 18 En moenie dronk word van wyn,+ wat tot wilde gedrag* lei nie, maar word voortdurend met gees gevul. 19 Versterk mekaar* deur psalms, lofliedere en liedere vir aanbidding te sing.+ Sing en maak musiek+ vir Jehovah* in julle harte,+ 20 terwyl julle ons God en Vader altyd vir alles in die naam van ons Here Jesus Christus+ dank.+

21 Wees onderdanig aan mekaar+ uit diep respek vir Christus. 22 Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans+ soos aan die Here, 23 want ’n man is die hoof van sy vrou,+ net soos die Christus ook die hoof van die gemeente is,+ die liggaam wat hy gered het. 24 Ja, soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, so moet vrouens ook in alles aan hulle mans onderdanig wees. 25 Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê,+ net soos die Christus ook die gemeente liefgehad het en homself daarvoor opgeoffer het,+ 26 sodat hy dit kon heilig en reinig deur dit in die water van die woord te bad,+ 27 en sodat hy die gemeente in die prag daarvan voor hom kon aanbied, sonder ’n vlek of ’n plooi of iets soortgelyks,+ maar heilig en sonder enige soort merk.+

28 Net so moet mans hulle vrouens liefhê soos hulle eie liggame. ’n Man wat sy vrou liefhet, het homself lief, 29 want geen man het al ooit sy eie liggaam* gehaat nie, maar hy voed dit en versorg dit, net soos die Christus ook met die gemeente doen, 30 want ons is lede van sy liggaam.+ 31 “Daarom sal ’n man sy pa en sy ma verlaat, en hy sal sy vrou aankleef,* en die twee sal een vlees wees.”+ 32 Hierdie heilige geheim+ is groot. Ek praat nou oor Christus en die gemeente.+ 33 Maar elkeen van julle moet sy vrou liefhê+ soos homself, en die vrou moet diep respek vir haar man hê.+

6 Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers+ in eenheid met die Here, want dit is regverdig. 2 “Eer* jou pa en jou ma”+ is die eerste gebod met ’n belofte: 3 “Sodat dit met jou goed kan gaan* en jy lank op die aarde kan bly.” 4 En pa’s, moenie julle kinders irriteer nie,+ maar hou aan om hulle in die dissipline+ en riglyne* van Jehovah* op te voed.+

5 Slawe, wees gehoorsaam aan julle aardse* meesters,+ met respek en vrees in die opregtheid van julle harte, soos aan die Christus, 6 nie net wanneer julle dopgehou word, sodat julle mense tevrede kan stel nie,+ maar soos Christus se slawe, wat die wil van God met hulle hele siel* doen.+ 7 Dien met ’n goeie gesindheid, soos vir Jehovah*+ en nie vir mense nie, 8 want julle weet dat elkeen, of hy nou ’n slaaf of ’n vryman is, al die goeie dinge wat hy doen, van Jehovah* sal terugkry.+ 9 En meesters, hou aan om hulle op dieselfde manier te behandel, en moet hulle nie dreig nie, want julle weet dat hulle dieselfde Meester as julle in die hemel het,+ en hy is nie partydig nie.

10 Laastens, hou aan om krag te ontvang+ by die Here, want sy mag is groot. 11 Trek die volle wapenrusting+ van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die slinkse planne van die Duiwel, 12 want ons het nie ’n stryd*+ teen vlees en bloed nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte+ in die hemelse plekke. 13 Daarom moet julle die volle wapenrusting van God aantrek,+ sodat julle weerstand kan bied op die goddelose dag en kan vasstaan nadat julle alles deeglik gedoen het.

14 Staan dus vas met die lyfband van waarheid om julle middel vasgemaak,+ met die borsplaat van regverdigheid aan+ 15 en met die gewilligheid om die goeie nuus van vrede bekend te maak, aan julle voete.+ 16 Dra dan ook die groot skild van geloof,+ waarmee julle al die brandende pyle* van die Duiwel* sal kan blus.+ 17 En dra ook die helm van redding+ en die swaard van die gees, dit wil sê God se woord.+ 18 Hou ook aan om by elke geleentheid in gees te bid+ met elke vorm van gebed en smeekgebede. Bly dus wakker, en doen heeltyd smeekgebede vir al die heiliges. 19 Bid ook vir my, dat die woorde aan my gegee sal word wanneer ek my mond oopmaak, sodat ek die heilige geheim van die goeie nuus moedig kan bekend maak,+ 20 waarvoor ek as ’n ambassadeur+ in kettings optree, en bid vir my sodat ek moedig daaroor kan praat soos ek behoort te praat.

21 Tiʹgikus,+ ’n geliefde broer en getroue bedienaar in die Here, sal vir julle alles oor my vertel en vir julle sê hoe dit met my gaan.+ 22 Dit is juis hoekom ek hom na julle toe stuur, sodat julle kan weet hoe dit met ons gaan en sodat hy julle harte kan vertroos.

23 Mag die broers vrede en liefde hê met geloof van God, die Vader, en van die Here Jesus Christus. 24 Mag die onverdiende goedheid met almal wees wat ons Here Jesus Christus liefhet met liefde wat nie vergaan nie.

Of “grondlegging van die wêreld”.

D.w.s. Christus.

Of “verstandigheid”.

Of “om dinge te bestuur”.

Of “’n pand; die eerste betaling”.

Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.

Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.

Of “stelsels van dinge”. Sien Woordelys.

Of “goedgunstiglik”.

Of “’n produk van Sy werk”.

Of “in die vlees mense van die nasies was”.

Lett. “vlees”.

Sien Woordelys.

Sien Aanh. A5.

Of “nederigheid van verstand”.

Of “verkondigers van die goeie nuus”.

Of “op te lei”.

Of “volwasse”.

Of “nuttelose”.

Of “afgestomp”.

Grieks: a·selʹgei·a. Sien Woordelys.

Of “vernuwe word in die krag wat julle verstand aandryf”. Lett. “vernuwe word ten opsigte van die gees van julle verstand”.

Of “plek toelaat vir die Duiwel”.

Of “hartseer maak”.

Sien Woordelys.

Of moontlik “julle”.

Of moontlik “julle”.

Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.

Sien Woordelys, “Seksuele onsedelikheid”.

Of “dus nie in hierdie dinge met hulle deel nie”.

Of “tereggewys”.

Lett. “koop die vasgestelde tyd uit”.

Sien Aanh. A5.

Of “losbandigheid; onbeheerstheid”.

Of moontlik “julleself”.

Sien Aanh. A5.

Lett. “vlees”.

Of “by sy vrou bly”.

Of “Respekteer”.

Of “Sodat jy suksesvol kan wees”.

Of “onderrigting; leiding”.

Sien Aanh. A5.

Lett. “vleeslike”.

Sien Woordelys.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Lett. “worsteling”.

Of “missiele”.

Lett. “die Bose”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel