AAN DIE GALASIËRS
1 Van Paulus, ’n apostel, wat nie deur mense aangestel of gestuur is nie, maar deur Jesus Christus+ en God, die Vader,+ wat Christus uit die dood opgewek het, 2 en van al die broers by my. Aan die gemeentes van Galaʹsië:
3 Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. 4 Hy het homself vir ons sondes gegee+ om ons te red van die huidige slegte wêreld.*+ Dit is die wil van ons God en Vader.+ 5 Aan hom behoort die eer vir ewig en altyd. Amen.
6 Dit verbaas my dat julle so gou wegdraai van die Een wat julle met Christus se onverdiende goedheid geroep het en dat julle ’n ander soort goeie nuus aanvaar.+ 7 Nie dat daar ’n ander goeie nuus is nie, maar daar is sommige wat julle deurmekaarmaak+ en die goeie nuus oor die Christus wil verdraai. 8 Maar selfs as ons of ’n engel uit die hemel goeie nuus aan julle bekend maak wat anders is as die goeie nuus wat ons aan julle bekend gemaak het – laat hom vervloek wees. 9 Wat ons voorheen gesê het, sê ek nou weer: Wie ook al aan julle goeie nuus bekend maak wat anders is as wat julle aanvaar het – laat hom vervloek wees.
10 Is dit in werklikheid mense wat ek nou probeer oorreed, of is dit God? Of probeer ek mense se goedkeuring kry? As ek nog steeds mense se goedkeuring probeer kry, sou ek nie Christus se slaaf wees nie. 11 Want ek wil hê julle moet weet, broers, dat die goeie nuus wat ek aan julle bekend gemaak het, nie van mense af kom nie,+ 12 want ek het dit nie van ’n mens ontvang nie, en niemand het dit aan my geleer nie, maar ek het dit deur ’n openbaring van Jesus Christus ontvang.
13 Julle het natuurlik gehoor hoe ek my vroeër gedra het toe ek nog ’n lid van die godsdiens van die Jode was,+ dat ek die gemeente van God wreed* bly vervolg en probeer uitroei het,+ 14 en ek het groter vooruitgang in die godsdiens van die Jode gemaak as baie ander van my ouderdom in my nasie, omdat ek baie yweriger vir die tradisies van my vaders was.+ 15 Maar God, wat my geboorte veroorsaak het* en my deur sy onverdiende goedheid geroep het,+ het dit goedgedink 16 om sy Seun deur my te openbaar sodat ek die goeie nuus oor Jesus Christus aan die nasies bekend sou maak.+ Toe dit gebeur het, het ek nie dadelik gegaan om by mense* raad te vra nie, 17 en ek het ook nie na Jerusalem gegaan, na dié wat apostels was voordat ek een was nie. Maar ek het na Arabië gegaan, en toe terug na Damaskus.+
18 Toe, drie jaar later, het ek na Jerusalem gegaan+ om Sefas*+ te besoek, en ek het 15 dae by hom gebly. 19 Maar ek het nie een van die ander apostels gesien nie, net Jakobus,+ die Here se broer. 20 Ek verseker julle voor God dat die dinge wat ek aan julle skryf, nie leuens is nie.
21 Daarna het ek na die gebiede van Sirië en Siliʹsië gegaan.+ 22 Maar die gemeentes van Judeʹa wat in eenheid met Christus was, het my nie persoonlik geken nie. 23 Hulle het net gehoor dat daar gesê word: “Die man wat ons vroeër vervolg het,+ maak nou die goeie nuus bekend oor die geloof wat hy vroeër probeer uitroei het.”+ 24 En as gevolg van my het hulle God begin eer.
2 Toe, ná 14 jaar, het ek weer na Jerusalem gegaan. Barʹnabas+ was saam met my, en ek het ook vir Titus saamgevat.+ 2 Ek het as gevolg van ’n openbaring daarheen gegaan, en ek het hulle vertel van die goeie nuus wat ek onder die nasies verkondig. Ek het dit gedoen tydens ’n private vergadering met die gerespekteerde broers om seker te maak dat die werk wat ek doen of gedoen het, nie verniet is nie. 3 En tog is nie eers Titus,+ wat by my was, gedwing om besny te word nie,+ al was hy ’n Griek. 4 Hierdie kwessie in verband met Titus het ontstaan as gevolg van die valse broers wat stilletjies ingeglip het+ om te spioeneer op die vryheid+ wat ons in eenheid met Christus Jesus het. Hulle wou weer slawe van ons maak.+ 5 Ons het nie aan hulle toegegee nie,+ nee, nie vir ’n oomblik* nie, sodat julle standvastig in die waarheid van die goeie nuus kan bly.
6 Maar dié wat belangrik gelyk het, die gerespekteerde broers,+ het nie vir my enige nuwe raad gegee nie. Ja, wat hulle ook al voorheen was, maak by my geen verskil nie, want God kyk nie na ’n mens se uiterlike nie. 7 Hierdie manne het gesien dat die goeie nuus aan my toevertrou is vir dié wat nie besny is nie,+ net soos dit aan Petrus toevertrou is vir dié wat besny is. 8 Want God, wat Petrus die krag gegee het vir ’n apostelskap onder dié wat besny is, het my ook die krag gegee om daardie werk te doen vir dié wat uit die nasies is.+ 9 En toe hulle besef dat onverdiende goedheid aan my gegee is,+ het Jakobus+ en Sefas* en Johannes, dié wat as pilare beskou is, my en Barʹnabas+ die regterhand gegee. Dit was ’n teken dat ons ooreengekom het dat hulle sou gaan na dié wat besny is, en ons na die nasies. 10 Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes dink, en dit is wat ek ook regtig probeer doen het.+
11 Maar toe Sefas*+ na Antioʹgië+ gekom het, het ek hom gekonfronteer, want dit was duidelik dat hy verkeerd opgetree het.* 12 Want voordat sekere manne van Jakobus+ daar aangekom het, het hy altyd saam met mense van die nasies geëet.+ Maar toe hulle daar aankom, het hy opgehou om dit te doen en hom onttrek omdat hy bang was vir dié wat besny is.+ 13 Die res van die Jode was net so skynheilig soos hy, en selfs Barʹnabas is deur hulle beïnvloed. 14 Maar toe ek sien dat hulle hulle nie volgens die waarheid van die goeie nuus gedra nie,+ het ek voor hulle almal vir Sefas* gesê: “Jy is ’n Jood, maar jy lewe soos die nasies en nie soos die Jode nie. Hoe kan jy dan mense van die nasies dwing om volgens Joodse gebruike te lewe?”+
15 Ons is van geboorte af Jode, en nie sondaars uit die nasies nie. 16 Ons weet dat ’n mens nie deur werke van die wet regverdig verklaar word nie, maar net deur geloof+ in Jesus Christus.+ Daarom het ons ons geloof in Christus Jesus gestel, sodat ons deur geloof in Christus regverdig verklaar kan word en nie deur werke van die wet nie, want niemand* sal deur werke van die wet regverdig verklaar word nie.+ 17 Maar as ons ook as sondaars beskou word terwyl ons probeer om deur middel van Christus regverdig verklaar te word, is Christus dan ’n dienaar van sonde? Beslis nie! 18 As ek die einste dinge wat ek afgebreek het, weer opbou, toon ek dat ek ’n oortreder is. 19 Want deur die wet het ek gesterf ten opsigte van die wet,+ sodat ek ten opsigte van God lewend kon word. 20 Ek is saam met Christus aan die paal gehang.+ Dit is nie meer ek wat lewe nie,+ maar Christus wat in eenheid met my lewe. Ja, ek lewe my huidige lewe in die vlees deur geloof in die Seun van God,+ wat my liefgehad het en homself vir my oorgegee het.+ 21 Ek verwerp nie die onverdiende goedheid van God nie,+ want as regverdigheid deur die wet verkry word, het Christus in werklikheid verniet gesterf.+
3 O onverstandige Galasiërs! Wie het julle onder hierdie slegte invloed gebring?+ Is Jesus Christus nie duidelik aan julle beskryf as iemand wat aan ’n paal gehang is nie?+ 2 Ek wil julle hierdie een ding vra: Het julle die gees deur werke van die wet ontvang of deur geloof in wat julle gehoor het?+ 3 Is julle so onverstandig? Julle is voorheen deur die heilige gees gelei,* maar word julle nou deur vleeslike denke gelei?*+ 4 Het julle verniet so baie gely? Dit kon nie verniet gewees het nie. 5 Het die een wat aan julle die gees gee en kragtige werke onder julle doen,+ dit gedoen as gevolg van julle werke van die wet of omdat julle geloof het in wat julle gehoor het? 6 Dit was ook so met Abraham – hy het ‘geloof in Jehovah* gestel, en hy is as regverdig beskou’.+
7 Julle weet tog dat dit dié met geloof is wat kinders van Abraham is.+ 8 En God het vroeër deur die Skrif gesê dat mense van die nasies deur geloof regverdig verklaar sal word, en daarom het hy vooraf die goeie nuus aan Abraham bekend gemaak en gesê: “Deur middel van jou sal al die nasies geseën word.”+ 9 Dié wat geloof het, word dus geseën saam met Abraham, wat geloof gehad het.+
10 Almal wat op werke van die Wet staatmaak, is onder ’n vloek, want daar is geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie gehoorsaam bly aan al die dinge wat in die boekrol van die Wet geskryf is nie.”+ 11 En dit is duidelik dat niemand op grond van die wet deur God+ regverdig verklaar word nie, want “die regverdige sal deur geloof lewe”.+ 12 Die Wet is egter nie op geloof gebaseer nie. Maar “enigiemand wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe”.+ 13 Christus het ons gekoop+ en ons bevry+ van die vloek van die Wet deur in ons plek ’n vloek te word, want daar is geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal gehang is.”+ 14 Dit was sodat die seën wat aan Abraham belowe is, deur middel van Christus Jesus+ aan die nasies gegee sou word, sodat ons die beloofde gees+ deur ons geloof kon ontvang.
15 Broers, ek gebruik ’n voorbeeld uit die daaglikse lewe: Nadat ’n verbond bekragtig is, selfs al is dit net deur ’n mens, sal niemand dit ongeldig verklaar of enigiets daarby voeg nie. 16 Die beloftes is aan Abraham en aan sy nageslag* gemaak.+ Dit sê nie “aan jou nakomelinge”,* wat na baie verwys nie. Dit sê eerder “aan jou nageslag”,* wat na een verwys, en dit is Christus.+ 17 Verder sê ek dít: Die Wet, wat 430 jaar later gekom het,+ maak nie die verbond ongeldig wat voorheen deur God gemaak is nie, en dit maak nie die belofte tot niet nie. 18 Want as die erfenis op die wet gebaseer is, is dit nie meer op ’n belofte gebaseer nie, maar God het dit uit sy goedheid deur ’n belofte aan Abraham gegee.+
19 Hoekom is die Wet dan gegee? Dit is bygevoeg om oortredings openbaar te maak,+ totdat die nageslag* sou kom+ aan wie die belofte gemaak is, en engele het dit deur ’n middelaar+ oorgedra.+ 20 Daar is egter nie ’n middelaar wanneer daar net een persoon betrokke is nie, maar God is net een. 21 Is die Wet dan teen die beloftes van God? Beslis nie! Want as ’n wet gegee was wat die lewe kon gee, sou ons beslis as regverdig beskou word as gevolg van gehoorsaamheid aan daardie wet. 22 Maar die Skrif het almal as gevangenes aan sonde oorgelewer, sodat die belofte wat gebaseer is op geloof in Jesus Christus, gegee kon word aan dié wat geloof beoefen.
23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet bewaak, aangesien ons saam as gevangenes oorgelewer is, en ons het gewag op die geloof wat geopenbaar sou word.+ 24 Die Wet het dus ons oppasser* geword wat na Christus gelei het,+ sodat ons deur geloof regverdig verklaar kon word.+ 25 Maar noudat die geloof gekom het,+ is ons nie meer onder die toesig van ’n oppasser* nie.+
26 Julle is in werklikheid almal kinders van God+ deur julle geloof in Christus Jesus.+ 27 Want julle almal wat in Christus gedoop is, volg Christus na.*+ 28 Daar is nie Jood of Griek nie,+ daar is nie slaaf of vryman nie,+ daar is nie man of vrou nie,+ want julle is almal een in eenheid met Christus Jesus.+ 29 Wat meer is, as julle aan Christus behoort, is julle werklik Abraham se nageslag,*+ erfgename+ volgens ’n belofte.+
4 As die erfgenaam nog ’n jong kind is, al is hy die heer van alles, is hy glad nie anders as ’n slaaf nie, of hoe? 2 Hy is onder die toesig van versorgers en bestuurders tot die dag wat sy pa vooraf vasgestel het. 3 Net so was ons ook slawe van die basiese* dinge van die wêreld toe ons kinders was.+ 4 Maar toe die tyd aangebreek het, het God sy Seun gestuur, wat uit ’n vrou gebore is+ en onder die wet was,+ 5 om dié onder die wet los te koop+ sodat ons as kinders aangeneem kon word.+
6 En omdat julle kinders is, het God die gees+ van sy Seun in ons harte geplaas,+ en dit roep uit: “Abba,* Vader!”+ 7 Daarom is julle nie meer slawe nie, maar kinders. En as julle kinders is, is julle ook erfgename deur God.+
8 Maar toe julle God nie geken het nie, was julle slawe van dié wat nie werklik gode is nie. 9 Maar nou het julle God leer ken, of liewer, julle word deur God geken. Hoekom keer julle nou weer terug na die basiese* dinge, wat swak en waardeloos is,+ en hoekom wil julle weer slawe daarvan word?+ 10 Julle hou aan om dae en maande+ en tye en jare te vier. 11 Ek is bekommerd dat my harde werk vir julle dalk verniet was.
12 Broers, ek smeek julle: Word soos ek, want ek was ook voorheen soos julle.+ Julle het my nie sleg behandel nie. 13 Maar julle weet dat dit as gevolg van ’n fisiese siekte was dat ek die eerste geleentheid gekry het om die goeie nuus aan julle bekend te maak. 14 En al was my fisiese toestand ’n las vir julle, het julle my nie disrespekvol behandel of gedink dat ek walglik is nie,* maar julle het my soos ’n engel van God ontvang, soos Christus Jesus. 15 Waar is die geluk wat julle gehad het? Want ek weet dat julle julle oë sou uitruk en dit vir my sou gee as dit moontlik was.+ 16 Wel, het ek dan julle vyand geword omdat ek julle die waarheid vertel? 17 Hulle doen alles in hulle vermoë om julle aan hulle kant te kry, maar nie vir ’n goeie doel nie. Hulle wil julle van my vervreem sodat julle gretig sal wees om hulle te volg. 18 Dit is natuurlik altyd ’n goeie ding as iemand julle aan hulle kant probeer kry, solank dit vir ’n goeie doel is en nie net wanneer ek by julle is nie. 19 My kindertjies,+ as gevolg van julle ervaar ek weer geboortepyne totdat julle Christus se persoonlikheid weerspieël.* 20 Maar ek wens ek kon nou by julle wees en op ’n ander manier met julle praat, want ek weet nie wat ek omtrent julle moet doen nie.
21 Sê vir my, julle wat onder die Wet wil wees: Luister julle nie na wat die Wet sê nie? 22 Daar is byvoorbeeld geskryf dat Abraham twee seuns gehad het: een by die diensmeisie+ en een by die vrou wat vry was.+ 23 Die seun van die diensmeisie is op ’n natuurlike manier* gebore,+ en die seun van die vrou wat vry was, is deur ’n belofte gebore.+ 24 Hierdie dinge kan as ’n simboliese drama verstaan word, want hierdie vrouens beteken twee verbonde. Die een verbond, wat van die berg Siʹnai+ kom en geboorte gee aan kinders wat slawe is, is Hagar. 25 Hagar stel Siʹnai+ voor, ’n berg in Arabië, en sy is soos die huidige Jerusalem, want sy en haar kinders is slawe. 26 Maar die Jerusalem daar bo is vry, en sy is ons moeder.
27 Want daar is geskryf: “Wees bly, onvrugbare vrou wat nie geboorte gee nie. Roep vreugdevol uit, vrou wat nie geboortepyne het nie, want die kinders van die verlate vrou is baie meer as die kinders van die vrou wat die man het.”+ 28 En julle, broers, is kinders van die belofte, net soos Isak was.+ 29 Maar die een wat op ’n natuurlike manier* gebore is, het die een begin vervolg wat deur die gees gebore is,+ en dit gebeur nou ook.+ 30 Maar wat sê die Skrif? “Jaag die diensmeisie en haar seun weg, want die seun van die diensmeisie sal glad nie ’n erfgenaam wees saam met die seun van die vrou wat vry is nie.”+ 31 Broers, ons is dus nie kinders van ’n diensmeisie nie, maar van die vrou wat vry is.
5 Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak. Staan dus vas,+ en moenie toelaat dat ’n juk weer op julle gesit word en julle slawe word nie.+
2 Kyk! Ek, Paulus, sê vir julle dat Christus vir julle niks sal beteken as julle julle laat besny nie.+ 3 Ek herinner elke man wat besny word, dat hy onder verpligting is om die hele Wet te gehoorsaam.+ 4 Julle is van Christus geskei, julle wat probeer om deur middel van die wet regverdig verklaar te word.+ Julle het van sy onverdiende goedheid weggeval. 5 Maar ons hoop en wag gretig om deur middel van God se gees en deur geloof as regverdig beskou te word. 6 Want in eenheid met Christus Jesus maak dit nie saak of ’n mens besny of nie besny is nie,+ maar wat wel saak maak, is om geloof te hê wat deur liefde werk.
7 Julle het goed gehardloop.+ Wie het julle gekeer om aan die waarheid gehoorsaam te bly? 8 Hierdie soort redenasie kom nie van die Een wat julle roep nie. 9 ’n Bietjie suurdeeg laat al die deeg gis.+ 10 Ek is daarvan oortuig dat julle wat in eenheid met die Here is,+ nie anders sal begin dink nie. Maar die een wat vir julle probleme veroorsaak,+ wie hy ook al is, sal die oordeel ontvang wat hy verdien. 11 Broers, as ek nog steeds verkondig dat mense besny moet word, hoekom word ek nog vervolg? In daardie geval is die folterpaal* nie+ meer ’n struikelblok vir mense nie. 12 Ek wens dat die manne wat julle probeer deurmekaarmaak, hulleself sal kastreer.*
13 Julle is geroep om vry te wees, broers. Moet net nie hierdie vryheid gebruik as ’n geleentheid om vleeslike begeertes te bevredig nie,+ maar dien mekaar soos slawe+ deur liefde. 14 Want die hele Wet is in een gebod vervul,* naamlik: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”+ 15 Maar pasop, want as julle aanhou om mekaar te byt en te verslind,+ sal julle mekaar heeltemal uitwis.+
16 Maar ek sê: Hou aan om die leiding van die gees te volg,+ en julle sal geen vleeslike begeerte uitvoer nie.+ 17 Want die begeerte van die vlees is teen die gees, en die gees is teen die vlees, want hulle is vyande van mekaar. Daarom doen julle nie die dinge wat julle graag wil doen nie.+ 18 En as julle deur gees gelei word, is julle nie onder die wet nie.
19 Die werke van die vlees kan duidelik gesien word, en dit is seksuele onsedelikheid,*+ onreinheid, skaamtelose gedrag,*+ 20 afgodediens, spiritisme,*+ vyandigheid, stryery, jaloesie, woede-uitbarstings, onenigheid, verdeeldhede, sektes, 21 afguns, dronkenskap,+ wilde partytjies en soortgelyke dinge.+ Ek waarsku julle vooruit oor hierdie dinge, net soos ek julle reeds gewaarsku het, dat dié wat sulke dinge beoefen, God se Koninkryk nie sal erf nie.+
22 Maar die vrug van die gees is liefde, vreugde, vrede, geduld,* goedhartigheid,* goedheid,*+ geloof, 23 sagmoedigheid, selfbeheersing.+ Daar is geen wet teen sulke dinge nie. 24 Wat meer is, dié wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees saam met sy vurige begeertes en gevoelens aan die paal gehang.+
25 As ons deur die gees lewe, laat ons ons dan ook in ooreenstemming met die gees bly gedra.+ 26 Laat ons nie te veel van onsself begin dink+ en met mekaar kompeteer+ en jaloers* wees op mekaar nie.
6 Broers, selfs al begin iemand ’n verkeerde rigting inslaan voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelik volwasse is,* so iemand op ’n sagmoedige manier+ probeer reghelp. Maar wees versigtig+ dat julle nie ook in die versoeking kom nie.+ 2 Hou aan om mekaar se laste te dra,+ en so sal julle die wet van die Christus vervul.+ 3 Want as iemand dink dat hy iets is terwyl hy niks is nie,+ bedrieg hy homself. 4 Maar laat elkeen sy eie dade ondersoek,+ en dan sal hy ’n rede hê om bly te wees oor wat hy self doen en nie omdat hy homself met ander vergelyk nie.+ 5 Want elkeen sal sy eie vrag* dra.+
6 Wat meer is, almal wat in die woord onderrig* word, moet alle goeie dinge deel met die een wat hulle onderrig.*+
7 Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.+ 8 Die een wat met die oog op sy vlees saai, sal vernietiging uit sy vlees oes, maar die een wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees oes.+ 9 Laat ons dus nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons oes as ons nie moeg word* nie.+ 10 Laat ons dan, solank ons die geleentheid* het, goed doen aan almal, maar veral aan ons medegelowiges.*
11 Kyk met watter groot letters skryf ek met my eie hand aan julle.
12 Almal wat deur die uiterlike* ’n goeie indruk wil maak, probeer julle dwing om besny te word. Hulle doen dit net sodat hulle nie ter wille van die folterpaal* van die Christus vervolg sal word nie. 13 Want selfs dié wat besny word, bly nie gehoorsaam aan die Wet nie,+ maar hulle wil hê dat julle besny moet word sodat hulle ’n rede kan hê om oor julle* te spog. 14 Maar ek hoop dat ek nooit sal spog nie, behalwe oor die folterpaal* van ons Here Jesus Christus.+ Deur hom is die wêreld dood* vir my, en ek vir die wêreld. 15 Want om besny of nie besny te wees nie, beteken niks nie,+ maar om ’n nuwe skepping te wees, beteken wel iets.+ 16 En mag daar vrede en genade rus op almal wat ordelik volgens hierdie beginsel lewe, ja, op die Israel van God.+
17 Van nou af moet niemand dit vir my moeilik maak nie, want ek het die brandmerke van ’n slaaf van Jesus aan my liggaam.+
18 Broers, mag die onverdiende goedheid van ons Here Jesus Christus wees met die gees wat julle openbaar. Amen.
Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.
Lett. “tot die uiterste”.
Lett. “wat my van my moeder se baarmoeder afgesonder het”.
Lett. “vlees en bloed”.
D.w.s. Petrus.
Lett. “uur”.
D.w.s. Petrus.
D.w.s. Petrus.
Of “veroordeeld gestaan het”.
D.w.s. Petrus.
Lett. “geen vlees”.
Lett. “Julle het voorheen in gees begin”.
Lett. “in die vlees voltooi”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “saad”.
Lett. “sade”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Of “tugmeester”.
Of “tugmeester”.
Lett. “het julle met Christus beklee”.
Lett. “saad”.
Of “elementêre”.
’n Hebreeuse of Aramese woord wat “o Vader!” beteken.
Of “elementêre”.
Of “op my gespoeg nie”.
Of “totdat Christus in julle gevorm word”.
Lett. “na die vlees”.
Lett. “na die vlees”.
Sien Woordelys.
Of “eunugs sal word”, waardeur hulle nie meer sou kwalifiseer om te hou by die einste wet wat vir hulle so belangrik was nie.
Of moontlik “opgesom”.
Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.
Grieks: a·selʹgei·a. Sien Woordelys.
Of “toorkuns; gebruik van bedwelmende middels”.
Of “lankmoedigheid”.
Of “behulpsaamheid; vriendelikheid”.
Of “sedelike goedheid; deug”.
Of “afgunstig”.
Of “wat geestelike kwalifikasies het”.
Of “vrag van verantwoordelikheid”.
Of “mondeling onderrig”.
Of “mondeling onderrig”.
Of “opgee”.
Lett. “vasgestelde tyd”.
Of “dié wat in die geloof aan ons verwant is”.
Lett. “die vlees”.
Sien Woordelys.
Lett. “julle vlees”.
Sien Woordelys.
Of “aan die paal gehang”.