Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt 2 Korintiërs 1:1-13:14
  • 2 Korintiërs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 2 Korintiërs
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
2 Korintiërs

DIE TWEEDE BRIEF AAN DIE KORINTIËRS

1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur God se wil, en van ons broer Timoʹteus.+ Aan die gemeente van God wat in Korinte is, insluitende al die heiliges wat in die hele Agaʹje+ is:

2 Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.

3 Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus,+ die Vader van groot genade+ en die God van alle vertroosting, geloof word.+ 4 Hy vertroos ons* wanneer ons deur moeilike tye gaan,+ sodat ons ander in alle soorte moeilike tye kan vertroos+ met die vertroosting wat ons van God ontvang.+ 5 Ons ly baie omdat ons volgelinge van die Christus is,+ maar ons ontvang ook baie vertroosting deur middel van die Christus. 6 As ons deur moeilike tye gaan, is dit sodat julle vertroos en gered kan word. En as ons vertroos word, is dit sodat julle vertroosting kan ontvang, en dit help julle om te volhard wanneer julle ly net soos ons ook ly. 7 Ons het ’n vaste hoop in julle omdat ons weet dat julle saam met ons vertroos sal word, net soos julle saam met ons ly.+

8 Broers, ons wil hê dat julle moet weet van die moeilike tye wat ons in die provinsie Asië+ deurgemaak het. Ons was onder verskriklike druk wat ons nie met ons eie krag sou kon verduur nie, en ons het selfs gedink dat ons gaan sterf.+ 9 Om die waarheid te sê, dit het vir ons gevoel asof ons die doodsvonnis ontvang het. Dit het gebeur sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op die God+ wat die dooies opwek. 10 Uit ’n gevaar so groot soos die dood het hy ons gered en sal hy ons red, en ons vertrou ook dat hy sal aanhou om ons te red.+ 11 Julle kan ons ook help deur smeekgebede vir ons te doen,+ want as baie mense vir ons bid, sal daardie gebede beantwoord word, en dan sal baie mense dankgebede doen vir die hulp wat ons ontvang het.+

12 Want ons is trots op ons skoon gewete omdat ons ons in die wêreld en veral teenoor julle met heiligheid en goddelike opregtheid gedra het. Ons het ons nie met menslike* wysheid gedra nie,+ maar met God se onverdiende goedheid. 13 Want ons skryf in werklikheid aan julle oor niks anders as oor die dinge wat julle kan lees* en verstaan nie, en ek hoop dat julle sal aanhou om hierdie dinge ten volle* te verstaan, 14 soos julle ook in sekere mate verstaan het dat ons vir julle ’n rede is om trots te wees, net soos julle ook vir ons in die dag van ons Here Jesus sal wees.

15 Met hierdie vertroue was ek van plan om eers na julle toe te kom, sodat julle ’n tweede keer bly kon wees.* 16 Want ek was van plan om julle op pad na Masedoʹnië te besoek en om van Masedoʹnië af weer na julle toe te kom sodat julle ’n ent saam met my na Judeʹa kon gaan.+ 17 Wel, toe ek hierdie plan gehad het, het ek die saak nie ligtelik opgeneem nie, of hoe? Of het ek vleeslike denke oor dinge, wat veroorsaak dat ek “ja, ja” sê en daarna “nee, nee”? 18 Maar net soos God betroubaar is, is ons woorde betroubaar – wat ons vir julle sê, is nie “ja” en tog “nee” nie. 19 Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur middel van ons onder julle verkondig is, dit wil sê deur middel van my en Silvaʹnus* en Timoʹteus,+ het nie “ja” en tog “nee” geword nie, maar “ja” het in sy geval “ja” geword. 20 Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het “ja” geword deur middel van hom.+ Daarom sê ons ook vir God “Amen” deur middel van hom,+ en God word daardeur verheerlik. 21 Maar dit is God wat waarborg dat ons en julle aan Christus behoort, en dit is God wat ons gesalf het.+ 22 Hy het ook sy seël op ons gedruk+ en die gees in ons harte gesit as ’n waarborg* van wat gaan kom.+

23 Ek het nog nie na Korinte gekom nie omdat ek julle wou spaar, en ek roep God as ’n getuie hiervan. 24 Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie,+ maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want julle staan vas deur julle geloof.

2 Want ek het besluit dat my volgende besoek aan julle nie weer ’n hartseer besoek sal wees nie. 2 Want as ek julle hartseer maak, wie sal my weer bly maak, behalwe die een wat deur my hartseer gemaak is? 3 Ek het geskryf wat ek gedoen het sodat ek, wanneer ek kom, nie hartseer sal word as gevolg van dié oor wie ek bly behoort te wees nie, want ek het die vertroue dat die dinge wat my bly maak, julle almal ook bly maak. 4 Want ek het aan julle geskryf met groot besorgdheid en angs in my hart en baie trane, nie om julle hartseer te maak nie,+ maar om julle te laat weet dat ek julle baie liefhet.

5 As iemand dan nou hartseer veroorsaak het,+ het hy nie net vir my hartseer veroorsaak nie. Ek wil my nou nie te sterk uitdruk nie, maar in ’n mate het hy julle almal hartseer gemaak. 6 Die teregwysing wat deur die meerderheid gegee is, is genoeg vir so iemand. 7 Julle moet hom nou vryelik vergewe en hom vertroos,+ sodat hy nie dalk so hartseer word dat dit hom oorweldig* nie.+ 8 Daarom spoor ek julle aan om julle liefde vir hom te bevestig.+ 9 Want ek het ook aan julle geskryf om vas te stel of julle bewys sal lewer van julle gehoorsaamheid in alles. 10 As julle iemand vir enigiets vergewe, vergewe ek hulle ook. Om die waarheid te sê, alles wat ek vergewe het (as ek enigiets vergewe het), was ter wille van julle, en Christus was die getuie hiervan, 11 sodat Satan nie die oorhand oor ons sal kry nie,*+ want ons ken sy planne.+

12 Toe ek in Troas+ aangekom het om die goeie nuus oor die Christus bekend te maak en daar vir my ’n deur oopgemaak is in die Here, 13 was ek baie bekommerd omdat ek nie my broer Titus+ gevind het nie. Toe het ek van hulle afskeid geneem en na Masedoʹnië vertrek.+

14 Maar ons dank God, wat ons altyd in ’n oorwinningsoptog saam met die Christus lei en wat ons gebruik om die kennis van Christus oral soos ’n lieflike geur te versprei! 15 Want ons is vir God ’n soet geur van Christus, onder dié wat gered word en onder dié wat vernietig gaan word. 16 Vir die laaste groep is dit ’n geur wat uit die dood kom en na die dood lei,+ en vir die eerste groep is dit ’n geur wat uit die lewe kom en na die lewe lei. En wie is bekwaam om hierdie werk te doen? 17 Ons is, want ons smous nie* met die woord van God+ soos baie mense nie, maar ons praat met alle opregtheid. Ja, ons is deur God gestuur, en ons doen hierdie werk voor God en saam met Christus.

3 Begin ons om onsself weer aan te beveel? Of het ons, soos party mense, aanbevelingsbriewe nodig wat aan julle geskryf is of wat deur julle geskryf is? 2 Julle is ons brief,+ wat op ons harte geskryf is en wat deur die hele mensdom geken en gelees word. 3 Want dit is duidelik dat julle ’n brief van Christus is wat deur ons as bedienaars+ geskryf is. Dit is nie met ink geskryf nie, maar met die gees van ’n lewende God. Dit is nie op kliptablette+ geskryf nie, maar op harte.*+

4 Ons het hierdie soort vertroue teenoor God as gevolg van die Christus. 5 Nie dat ons vanself bekwaam is om hierdie werk te doen nie, maar God is die een wat ons bekwaam maak.+ 6 Hy is die een wat ons bekwaam maak om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees,+ nie van geskrewe wette nie,+ maar van gees, want die geskrewe Wet veroordeel tot die dood,+ maar die gees maak lewend.+

7 Die Wet wat tot die dood lei en wat met letters op klippe gegraveer is,+ is met soveel heerlikheid gegee dat die Israeliete nie na Moses se gesig kon bly kyk nie as gevolg van die glans van sy gesig,+ ’n glans wat weggeneem sou word. 8 As die Wet met heerlikheid gegee is, sal die gees+ dan nie met selfs meer heerlikheid gegee word nie?+ 9 Want as die Wet wat tot veroordeling lei,+ heerlikheid gehad het,+ dan sal die werk wat tot regverdigheid lei, selfs nog meer heerlikheid hê!+ 10 Selfs dit wat voorheen verheerlik was, het daardie heerlikheid verloor as gevolg van die heerlikheid wat nog beter is.+ 11 Want as dit wat weggeneem sou word, met heerlikheid ingebring is,+ hoeveel groter sal die heerlikheid wees van dit wat bly!+

12 Aangesien ons hierdie hoop het,+ praat ons met groot vrymoedigheid, 13 en ons doen nie wat Moses gedoen het toe hy ’n sluier oor sy gesig gesit het+ sodat die Israeliete nie kon kyk na wat sou gebeur met dit wat weggeneem sou word nie. 14 Maar hulle verstande was toe.+ Want tot vandag toe is dieselfde sluier nog steeds daar wanneer die ou verbond gelees word+ omdat dit net deur middel van Christus weggeneem word.+ 15 Om die waarheid te sê, tot vandag toe is daar ’n sluier oor hulle hart+ elke keer wanneer die geskrifte van Moses gelees word.+ 16 Maar wanneer iemand verander sodat hy Jehovah* kan aanbid, word die sluier weggeneem.+ 17 En Jehovah* is die Gees,+ en waar die gees van Jehovah* is, is daar vryheid.+ 18 Met onbedekte gesigte weerkaats ons die heerlikheid van Jehovah* soos spieëls. Ons word verander om sy beeld en sy heerlikheid meer en meer te weerkaats, net soos Jehovah,* die Gees,*+ dit wil hê.

4 Daarom, aangesien ons hierdie bediening het deur die genade wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. 2 Maar ons het die skandelike, agterbakse dinge agtergelaat, en ons doen nie dinge op ’n slinkse manier nie en vervals ook nie die woord van God nie.+ Maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons voor God aan by die gewetens van alle mense.+ 3 As die goeie nuus wat ons bekend maak, dan nou in werklikheid met ’n sluier bedek is, is dit bedek onder dié wat vernietig gaan word, 4 die ongelowiges. Die god van hierdie wêreld*+ het die verstande van die ongelowiges verblind+ sodat hulle nie die lig kan sien+ van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is nie.+ 5 Want ons preek nie oor onsself nie, maar oor Jesus Christus as Here, en oor onsself as julle slawe ter wille van Jesus. 6 Want dit is God wat gesê het: “Laat die lig uit die duisternis skyn”,+ en hy het op ons harte geskyn om dit te verlig met die glorieryke kennis van God deur Christus.+

7 Maar ons het hierdie skat+ in kleihouers,+ sodat dit duidelik kan wees dat die krag wat bo die normale is, van God af kom en nie uit onsself nie.+ 8 Ons word van alle kante af onder swaar druk geplaas, maar ons is nie so vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie heeltemal sonder ’n uitweg nie.*+ 9 Ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie.+ Ons word neergeslaan, maar nie vernietig nie.+ 10 Ons verduur altyd in ons liggame die dodelike behandeling wat Jesus deurgemaak het,+ sodat die lewe van Jesus ook in ons liggame openbaar gemaak kan word. 11 Want ons wat lewe, kom gedurig voor die dood te staan+ ter wille van Jesus, sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggame* openbaar gemaak kan word. 12 Die dood is dus in ons aan die werk, maar die lewe in julle.

13 Ons het dan nou dieselfde gees van geloof as waaroor daar geskryf is: “Ek het geloof beoefen, daarom het ek gepraat.”+ En ons beoefen ook geloof, en daarom praat ons. 14 Ons weet dat die Een wat Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor hom sal bring.+ 15 Want al hierdie dinge gebeur ter wille van julle, sodat die vermeerdering van die onverdiende goedheid nog oorvloediger sal wees as gevolg van die dankgebede wat baie meer mense doen om God te eer.+

16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar selfs al is die mens wat ons uiterlik is, besig om weg te teer, word die mens wat ons innerlik is, beslis van dag tot dag nuut gemaak. 17 Want die moeilike tye duur net ’n kort rukkie en is lig, maar dit lei vir ons tot ’n beloning* wat met niks vergelyk kan word nie* en wat vir ewig sal duur.+ 18 Ons hou nie ons oë op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie.+ Want die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig.

5 Want ons weet dat as ons aardse huis, hierdie tent, afgebreek sou word,+ ons ’n gebou sal hê wat van God kom, ’n huis wat nie met hande gemaak is nie+ en wat vir ewig in die hemel bestaan. 2 Want in hierdie huis* kreun ons en begeer ons vurig om ons hemelse huis te ontvang.*+ 3 Dan, wanneer ons dit soos klere aantrek, sal ons nie kaal wees nie. 4 Ons wat in hierdie tent is, kreun en kry swaar. Dit is nie asof ons hierdie een wil uittrek nie, maar ons wil die ander een aantrek,+ sodat die sterflike deur die lewe ingesluk kan word.+ 5 En die een wat ons juis hiervoor voorberei het, is God,+ wat die gees aan ons gegee het as ’n waarborg* van wat sal kom.+

6 Daarom is ons altyd vol moed en weet ons dat ons nie by die Here is terwyl ons in hierdie liggaam woon nie,+ 7 want ons laat ons deur geloof lei, nie deur wat ons sien nie. 8 Maar ons is vol moed en wil liewer by die Here gaan woon as om in hierdie liggaam te wees.+ 9 Daarom, of ons nou by hom woon of nie, dit is ons doel om vir hom aanvaarbaar te wees. 10 Want ons moet almal voor die regterstoel van die Christus verskyn,* sodat elkeen kan kry wat hy verdien vir die dinge wat hy gedoen het terwyl hy in hierdie liggaam was, of dit nou goed of sleg* is.+

11 Omdat ons dan weet wat die vrees van die Here beteken, hou ons aan om mense te oorreed, maar God ken ons goed.* Ek hoop egter dat julle ons ook goed ken.* 12 Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle ’n rede om op ons trots te wees, sodat julle ’n antwoord kan gee vir dié wat trots is op die uiterlike+ maar nie op wat in die hart is nie. 13 Want as ons van ons verstand af was,+ was dit vir God, maar as ons gesond van verstand is, is dit vir julle. 14 Want die liefde wat die Christus het, spoor ons aan, want ons het tot die gevolgtrekking gekom dat een mens vir almal gesterf het+ omdat almal reeds gesterf het. 15 Hy het vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie,+ maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.

16 Van nou af beskou ons dus geen mens uit ’n menslike* oogpunt nie.+ Selfs al het ons Christus voorheen uit ’n menslike* oogpunt beskou, beskou ons hom nou beslis nie meer so nie.+ 17 As iemand dan in eenheid met Christus is, is hy ’n nuwe skepping.+ Die ou dinge het verbygegaan, en kyk! nuwe dinge het ontstaan. 18 Maar alles kom van God af, wat ons deur Christus met homself versoen het+ en ons die bediening van die versoening gegee het,+ 19 naamlik dat God deur middel van Christus ’n wêreld met homself versoen het+ en hulle oortredings nie teen hulle gehou het nie,+ en Hy het die boodskap van die versoening aan ons gegee.+

20 Ons is dus ambassadeurs+ wat as plaasvervangers vir Christus optree,+ asof God ’n versoek deur ons doen. As plaasvervangers vir Christus smeek ons: “Raak met God versoen.” 21 Die een wat sonde nie geken het nie,+ het vir ons ’n sonde-offer geword,* sodat ons deur middel van hom in God se oë regverdig kon word.+

6 As sy medewerkers+ vra ons julle ook dringend om nie die onverdiende goedheid van God te aanvaar en die doel daarvan te mis nie.+ 2 Want hy sê: “In ’n tyd van aanvaarding het ek na jou geluister, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp.”+ Kyk! Nou is die tyd van aanvaarding. Kyk! Nou is die dag van redding.

3 Ons gee niemand enige rede om te struikel nie,* sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie.+ 4 Maar in elke opsig beveel ons onsself as God se bedienaars+ aan: Ons het in swaar tye volhard, ons het tye van nood deurgemaak, ons het voor probleme te staan gekom.+ 5 Ons is geslaan, ons is in die tronk gegooi,+ ons het voor gewelddadige skares te staan gekom, ons het hard gewerk, ons het slapelose nagte deurgemaak, ons het soms nie kos gehad nie.+ 6 Ons lei ’n rein lewe, ons het kennis van die waarheid, ons is geduldig,+ ons is goed vir ander,+ ons laat die heilige gees ons lei, ons liefde is sonder skynheiligheid.+ 7 Ons praat die waarheid, ons vertrou op God se krag,+ ons het wapens van regverdigheid+ in ons regterhand* en in ons linkerhand.* 8 Ons word geëer en verneder, ons word gekritiseer en geprys. Ons word beskou as bedrieërs, en tog praat ons die waarheid, 9 as mense wat onbekend is, en tog word ons herken, as mense wat besig is om te sterf,* en tog lewe ons,+ as mense wat gestraf* word, en tog is ons nie aan die dood oorgelewer nie,+ 10 as mense wat treur, en tog is ons altyd bly, as mense wat arm is, en tog maak ons baie mense ryk, as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.+

11 Ons het ons monde oopgemaak om met julle te praat,* Korintiërs, en ons het ons harte wyd oopgemaak. 12 Ons het plek in ons harte om vir julle lief te wees,+ maar julle het nie plek in julle harte gemaak om vir ons lief te wees nie. 13 Ek praat met julle asof julle my kinders is: Behandel ons soos ons julle behandel en maak julle harte wyd oop.*+

14 Moenie onder ’n ongelyke juk kom saam* met ongelowiges nie.+ Want wat het regverdigheid te doen met wetteloosheid?+ Of wat het lig in gemeen met duisternis?+ 15 En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Beʹlial?*+ Of wat het ’n gelowige* in gemeen met ’n ongelowige?+ 16 En watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?+ Want ons is ’n tempel van ’n lewende God,+ net soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon+ en onder hulle wandel, en ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.”+ 17 “‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af,’ sê Jehovah,* ‘en hou op om te raak aan wat onrein is’”;+ “‘en ek sal julle inneem’”.+ 18 “‘En ek sal vir julle ’n vader word,+ en julle sal vir my seuns en dogters word,’+ sê Jehovah* die Almagtige.”

7 Aangesien ons dan hierdie beloftes het,+ geliefdes, laat ons ons reinig van alles wat liggaam* en gees besoedel+ en daarna streef om met vrees vir God volmaakte heiligheid te bereik.

2 Maak plek vir ons in julle harte.+ Ons het nie verkeerde dinge aan enigiemand gedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het van niemand misbruik gemaak nie.+ 3 Ek sê dit nie om julle te veroordeel nie. Want ek het al voorheen gesê dat julle in ons harte is, of ons nou lewe en of ons nou sterf. 4 Ek kan reguit met julle praat. Ek is baie trots op julle. Ek is grootliks vertroos, en ek loop oor van vreugde in al ons moeilike tye.+

5 Ja, toe ons in Masedoʹnië+ aangekom het, het ons* geen verligting gekry nie, maar daar was heeltyd druk van alle kante af – buite was daar aanvalle, binne was daar vrese. 6 Maar God, wat die terneergedruktes vertroos,+ het ons deur die teenwoordigheid van Titus vertroos, 7 en nie net deur sy teenwoordigheid nie, maar ook deur die vertroosting wat hy as gevolg van julle ontvang het. Want hy het ons vertel dat julle na my verlang en van julle groot hartseer en julle opregte besorgdheid* oor my, en dit het my nog blyer gemaak.

8 Selfs al het ek julle hartseer gemaak met my brief,+ is ek nie spyt daaroor nie. Al was ek aan die begin spyt daaroor (aangesien daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net ’n klein rukkie), 9 is ek nou bly, nie net omdat julle hartseer gemaak is nie, maar omdat julle berou getoon het as gevolg van julle hartseer. Want julle is hartseer gemaak in ooreenstemming met God se wil, en julle is glad nie deur ons benadeel nie. 10 Want om hartseer te wees in ooreenstemming met God se wil, lei tot berou wat weer tot redding lei, en ’n mens sal nie spyt wees daaroor nie,+ maar die hartseer van die wêreld lei tot die dood. 11 Want kyk net hoe hard julle probeer het om te doen wat reg is omdat julle hartseer gemaak is in ooreenstemming met God se wil: Julle het julleself gesuiwer, julle was ontsteld oor die oortreding, julle het gevrees, julle het daarna verlang om berou te toon, julle was ywerig, julle het die oortreding reggestel!+ Julle het in elke opsig bewys dat julle onskuldig* is in hierdie saak. 12 Al het ek aan julle geskryf, het ek dit nie gedoen vir die een wat die onreg gedoen het nie+ en ook nie vir die een aan wie die onreg gedoen is nie, maar sodat julle voor God kon bewys dat julle ywerig is om na ons woorde te luister. 13 Daarom is ons vertroos.

Ons is nie net vertroos nie, maar ook baie bly as gevolg van Titus se vreugde, omdat julle almal hom* opgebeur het. 14 Ek het by hom oor julle gespog, en julle het my nie teleurgestel nie, maar net soos ons altyd met julle die waarheid gepraat het, het ons die waarheid gepraat toe ons by Titus oor julle gespog het. 15 En sy liefde vir julle word al hoe sterker terwyl hy dink aan julle almal se gehoorsaamheid+ en hoe julle hom met diep respek ontvang het. 16 Ek is bly dat ek in elke opsig vertroue in julle* kan hê.

8 Ons wil julle dan nou laat weet, broers, van die onverdiende goedheid van God wat aan die gemeentes van Masedoʹnië betoon is.+ 2 Hulle het swaargekry, en dit was vir hulle ’n baie moeilike toets, maar hulle was baie vreugdevol en vrygewig, al was hulle verskriklik arm. 3 Hulle het gegee wat hulle kon,+ ja, ek verseker julle, selfs meer as wat hulle kon.+ 4 Want hulle het ons uit hulle eie bly smeek vir die voorreg om ’n bydrae te gee om die heiliges te help toe hulle dit nodig gehad het.+ 5 En hulle het nog meer gedoen as wat ons verwag het, want hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur God se wil. 6 Daarom het ons Titus aangemoedig+ om die vrywillige bydrae wat hy onder julle begin insamel het, klaar in te samel. 7 Julle het ’n oorvloed van alles – julle het geloof, julle kan goed praat, julle het kennis en ywer en ook ’n oorvloed van ons liefde vir julle. Mag julle dus ook oorvloedig aan ander gee.+

8 Ek sê dit nie vir julle as ’n bevel nie, maar om julle bewus te maak van die gretigheid van ander en om te toets hoe opreg julle liefde is. 9 Want julle ken die onverdiende goedheid van ons Here Jesus Christus. Hy was ryk, maar hy het arm geword vir julle,+ sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10 En ek wil vir julle sê wat ek hiervan dink.+ Hierdie saak is tot julle voordeel, want ’n jaar gelede het julle nie net julle goeie bedoelings getoon nie, maar julle het ook met die werk begin. 11 Maak dan nou die werk klaar met dieselfde gewilligheid as waarmee julle begin het, en gee wat julle kan. 12 Want as die gewilligheid daar is, word dit met graagte aanvaar – maar volgens wat ’n mens het,+ nie volgens wat ’n mens nie het nie. 13 Want ek wil dit nie vir ander maklik maak, maar vir julle moeilik maak nie. 14 Daar moet eerder ’n gelykmaking wees. Die oorvloed wat julle op die oomblik het, moet hulle tekort aanvul, en hulle oorvloed moet ook julle tekort aanvul. So sal daar ’n gelykmaking wees. 15 Net soos daar geskryf is: “Die een met baie het nie te veel gehad nie, en die een met min het nie te min gehad nie.”+

16 En ons dank God dat Titus net so besorg oor julle is soos ons,+ 17 want hy het beslis op die aanmoediging gereageer, maar omdat hy so ywerig is, kom hy uit sy eie na julle toe. 18 Maar ons stuur saam met hom die broer wat in al die gemeentes geprys word as gevolg van wat hy vir die goeie nuus gedoen het. 19 Nie net dit nie, maar hy is ook deur die gemeentes aangestel om saam met ons te reis terwyl ons hierdie geskenk wat uit liefde gegee is, uitdeel tot eer van die Here en as ’n bewys dat ons bereid is om te help. 20 So keer ons dat enigiemand met ons foutvind in verband met hierdie groot bydrae waarvoor ons moet sorg.+ 21 Want ons ‘sien eerlik om na alles, nie net voor Jehovah* nie, maar ook voor mense’.+

22 Wat meer is, ons stuur saam met hulle ons broer wat dikwels deur ons getoets is en wat in baie opsigte bewys het dat hy ywerig is, maar wat nou selfs yweriger is omdat hy groot vertroue in julle het. 23 As daar egter enige twyfel oor Titus is: Hy is my metgesel en werk saam met my om na julle belange om te sien. En as daar vrae oor ons broers is: Hulle is apostels van gemeentes en bring eer aan Christus. 24 Bewys dus julle liefde vir hulle,+ en wys die gemeentes waarom ons trots is op julle.

9 Dit is nie regtig vir my nodig om aan julle te skryf oor die bediening wat vir die heiliges+ is nie, 2 want ek weet dat julle gewillig is. Ek spog by die Masedoniërs dat julle in Agaʹje nou al ’n jaar gereed is om te help, en julle ywer het die meeste van hulle aangespoor. 3 Maar ek stuur die broers om julle te help. Dan sal almal kan sien dat ons nie verniet oor julle gespog het nie en sal julle werklik gereed wees, net soos ek altyd gesê het julle sal wees. 4 Anders, as die Masedoniërs saam met my kom en sien dat julle nie gereed is nie, sal ons – om nie van julle te praat nie – weens ons vertroue in julle verneder word. 5 Daarom het ek gedink dat dit nodig is om die broers aan te moedig om voor die tyd na julle toe te kom en om die groot geskenk wat julle belowe het, gereed te kry. Wanneer ons dan daar aankom, sal dit gereed wees as ’n geskenk wat vrywillig gegee is en nie omdat julle gedwing is om dit te gee nie.

6 Die punt is: Wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig oes, en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig oes.+ 7 Laat elkeen gee net soos hy in sy hart besluit het, nie teësinnig of omdat hy gedwing word nie,+ want God is lief vir iemand wat met vreugde gee.+

8 Wat meer is, God kan julle ’n oorvloed van sy onverdiende goedheid gee, sodat julle altyd alles kan hê wat julle nodig het en ook ’n oorvloed kan hê van wat nodig is vir elke goeie werk.+ 9 (Net soos daar geskryf is: “Hy het wyd en syd* uitgedeel. Hy het vir die armes gegee. Sy regverdigheid duur vir ewig.”+ 10 En die Een wat volop saad gee om te saai en brood gee om te eet, sal aan julle saad gee om te saai en sal dit vir julle vermeerder en sal die oes van julle regverdigheid laat toeneem.) 11 Julle word in elke opsig geseën sodat julle op allerhande maniere vrygewig kan wees, en deur ons vrygewigheid word mense beweeg om God te dank, 12 want deur hierdie openbare diens te doen, word daar nie net goed in die behoeftes van die heiliges voorsien nie,+ maar dit lei ook daartoe dat baie mense God kan bedank. 13 Hulle eer God omdat hierdie hulp wat gegee word, bewys dat julle gehoorsaam is aan die goeie nuus oor die Christus, wat julle in die openbaar bekend gemaak het en omdat julle vrygewig is in julle bydrae aan hulle en aan almal.+ 14 En hulle doen smeekgebede vir julle en is lief vir julle as gevolg van die groot onverdiende goedheid wat God aan julle betoon het.

15 Ons dank God vir sy onbeskryflike vrye gawe.

10 Maar ek, Paulus, wil julle deur die sagmoedigheid en goedheid van die Christus+ vra om die dinge te doen wat ek vir julle sê, al word ek as swak beskou wanneer ek by julle is,+ maar kragtig wanneer ek nie by julle is nie.+ 2 Ek hoop dat ek, wanneer ek daar aankom, nie so streng hoef te wees as wat ek verwag in my optrede teen dié wat dink dat ons deur vleeslike denke gelei word nie. 3 Want al is ons net vlees, voer ons nie oorlog op ’n vleeslike manier nie. 4 Want die wapens wat ons in ons oorlog gebruik, is nie vleeslik nie,+ maar is kragtig deur God+ om dinge wat soos sterk vestings is, af te breek. 5 Want ons breek redenasies en elke hoë ding af wat teen die kennis van God opgerig is,+ en ons neem elke gedagte gevange om dit aan die Christus gehoorsaam te maak, 6 en ons is gereed om elke ongehoorsaamheid te straf,+ sodra julle getoon het dat julle heeltemal gehoorsaam is.

7 Julle kyk na dinge volgens hulle uiterlike. As iemand daarvan oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy weer hieroor nadink: Net soos hy aan Christus behoort, behoort ons ook aan Christus. 8 Want selfs al sou ek ’n bietjie te veel spog oor die gesag wat die Here ons gegee het om julle op te bou en julle nie af te breek nie,+ sou ek my nie hoef te skaam nie. 9 Want ek wil nie hê dit moet lyk asof ek julle deur my briewe probeer bang maak nie. 10 Want hulle sê: “Sy briewe is gewigtig en kragtig, maar sy teenwoordigheid is swak en sy woorde is nutteloos.” 11 Laat so iemand die volgende in gedagte hou: Die dinge wat ons in ons briewe sê wanneer ons nie daar is nie, sal ons ook doen wanneer ons daar is.+ 12 Want ons waag dit nie om onsself te tel onder party wat hulleself aanbeveel nie,+ en ons vergelyk ons ook nie met hulle nie. Maar wanneer hulle hulle aan hulleself meet en met hulleself vergelyk, verstaan hulle niks.+

13 Maar ons sal nie spog buite die grense van wat aan ons toegewys is nie, maar binne die grense van die gebied wat God aan ons toegewys* het en wat julle ook insluit.+ 14 Om die waarheid te sê, ons het nie buite ons grense gegaan toe ons na julle toe gekom het nie, want ons was die eerstes wat julle met die goeie nuus oor die Christus bereik het.+ 15 Nee, ons spog nie buite ons grense oor die werk van iemand anders nie, maar ons hoop dat die werk wat ons in ons gebied gedoen het, sal groei terwyl julle geloof bly groei. Dan sal ons nog meer doen 16 om die goeie nuus bekend te maak aan die lande wat verder weg is as julle, sodat ons nie spog oor wat reeds in iemand anders se gebied gedoen is nie. 17 “Maar laat die een wat spog, oor Jehovah* spog.”+ 18 Want dit is nie die een wat homself aanbeveel wat goedgekeur is nie,+ maar die een wat deur Jehovah* aanbeveel word.+

11 Ek wens dat julle my sal verdra, al lyk dit asof ek onredelik is. Maar julle doen dit in elk geval! 2 Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloesie,* want ek het julle persoonlik aan een man in die huwelik belowe om julle as ’n rein* maagd voor die Christus te stel.+ 3 Maar ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy slinksheid verlei het,+ julle denke op die een of ander manier sleg sal word en dat julle die opregtheid en die reinheid* sal verloor wat die Christus verdien.+ 4 Want as iemand kom en oor ’n ander Jesus preek as die een oor wie ons preek, of julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of na ander goeie nuus luister as wat julle aanvaar het,+ dan verdra julle hom sommer maklik. 5 Want ek dink nie dat ek enigsins minderwaardig is teenoor julle “super-apostels” nie.+ 6 Maar selfs al is ek nie ’n goeie spreker nie,+ het ek beslis kennis. Ons het dit op elke manier en in alles aan julle duidelik gemaak.

7 Of het ek gesondig deur myself te verneder sodat julle verhoog kon word omdat ek die goeie nuus van God met vreugde kosteloos aan julle bekend gemaak het?+ 8 Ek het ander gemeentes benadeel* deur dinge te aanvaar om my te onderhou sodat ek julle kon dien.+ 9 En tog, toe ek by julle was en ’n tekort gehad het, het ek vir niemand ’n las geword nie, want die broers wat van Masedoʹnië gekom het, het my selfs meer gegee as wat ek nodig gehad het.+ Ja, in elke opsig het ek seker gemaak dat ek nie ’n las vir julle word nie, en ek sal aanhou om dit te doen.+ 10 So seker as wat die waarheid van Christus in my is, ek sal nie ophou om in die gebiede van Agaʹje te spog nie.+ 11 Hoekom? Is dit omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dat ek julle liefhet.

12 Maar wat ek doen, sal ek aanhou doen,+ sodat diegene wat wil bewys dat hulle aan ons gelyk is en wat spog oor wat hulle gedoen het,* nie ’n rede* kan hê om dit te doen nie. 13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is.+ 14 En geen wonder nie, want Satan self bly voorgee dat hy ’n engel van lig is.+ 15 Dit is dus niks besonders as sy bedienaars ook aanhou om voor te gee dat hulle bedienaars van regverdigheid is nie. Maar hulle einde sal wees volgens wat hulle vir hulle dade verdien.+

16 Ek sê weer: Laat niemand dink dat ek onredelik is nie. Maar selfs al dink julle so, aanvaar my dan as ’n onredelike persoon sodat ek ook ’n bietjie kan spog. 17 Wat ek nou sê, is nie volgens die Here se voorbeeld nie, maar ek praat soos ’n onredelike mens wat spog en vol selfvertroue is. 18 Aangesien baie mense oor dinge van hierdie wêreld* spog, sal ek ook spog. 19 Omdat julle so “redelik” is, verdra julle die onredelikes maklik. 20 Julle verdra elkeen wat slawe van julle maak, elkeen wat julle uitbuit, elkeen wat gryp wat julle het, elkeen wat op julle neerkyk en elkeen wat julle in die gesig slaan.

21 Ons is skaam om dit te sê, want dit lyk dalk asof ons in swakheid opgetree het.

Maar as ander dit waag om te spog, spog ek ook. (Ek praat soos ’n onredelike mens.) 22 Is hulle Hebreërs? Ek ook.+ Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle Abraham se nageslag?* Ek ook.+ 23 Is hulle bedienaars van Christus? Ek klink soos ’n man wat mal is, maar ek is dit nog meer: Ek het meer werk as hulle gedoen,+ ek is meer kere in die tronk gegooi,+ ek is meer kere geslaan, en ek was dikwels amper dood.+ 24 Vyf keer het die Jode my 39* houe gegee,+ 25 drie keer is ek met stokke geslaan,+ een keer is ek met klippe gegooi,+ drie keer het ek skipbreuk gely,+ ’n nag en ’n dag was ek in die oop see. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar. Daar was gevare van riviere, van rowers, van my eie volk,+ van die nasies,+ in die stad,+ in die wildernis, op see en onder valse broers. 27 Ek het hard gewerk en swaar gekry, dikwels sonder slaap,+ honger en dors,+ dikwels sonder kos,+ koud en sonder genoeg klere.*

28 Behalwe hierdie dinge wat van buite gekom het, was ek van dag tot dag onder druk omdat ek besorg was oor al die gemeentes.+ 29 As iemand swak is, is ek nie swak nie? As iemand struikel, word ek nie woedend nie?

30 As ek moet spog, sal ek spog oor die dinge wat wys dat ek swak is. 31 Die God en Vader van die Here Jesus, die Een wat vir ewig geloof moet word, weet dat ek nie lieg nie. 32 In Damaskus het die goewerneur wat onder koning Areʹtas was, die stad bewaak om my gevange te neem, 33 maar ek is in ’n mandjie* deur ’n venster in die stadsmuur laat sak,+ en ek het ontsnap.

12 Ek moet spog. Dit is nie voordelig nie, maar nou sal ek praat oor bonatuurlike visioene+ en openbarings van die Here.+ 2 Ek ken ’n mens in eenheid met Christus wat 14 jaar gelede na die derde hemel weggeruk is – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet. 3 Ja, ek ken so ’n mens – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet. 4 Hy is tot in die paradys weggeruk en het woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag sê nie. 5 Oor so iemand sal ek spog, maar ek sal nie oor myself spog nie, behalwe oor my swakhede. 6 Want selfs al wil ek spog, sal ek nie onredelik wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek spog nie, want dan sal julle my net eer vir die dinge wat julle my sien doen of hoor sê, 7 en nie omdat ek sulke buitengewone openbarings ontvang het nie.

Om te keer dat ek opgeblase van trots word, het ek ’n doring in die vlees gekry,+ ’n engel van Satan, om my te bly slaan, sodat ek nie te veel van myself dink nie. 8 Ek het die Here drie keer gesmeek om dit van my af weg te neem. 9 Maar hy het vir my gesê: “My onverdiende goedheid is genoeg vir jou, want in swakheid word my krag volmaak.”+ Ek sal dus met die grootste vreugde oor my swakhede spog, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly. 10 Daarom is ek ter wille van Christus bly oor swakhede, oor beledigings, oor tye van nood, oor vervolging en moeilikhede. Want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.+

11 Ek het onredelik geword. Julle het my gedwing om so te word, want julle moes my eintlik aanbeveel het. Ek is nie enigsins minderwaardig teenoor julle “super-apostels” nie, selfs al is ek niks.+ 12 Ja, julle het bewyse van my apostelskap gesien deur groot volharding,+ tekens, wonderwerke en kragtige werke.+ 13 Want hoe was julle minder bevoorreg as die res van die gemeentes, behalwe vir die feit dat ek nie vir julle ’n las geword het nie?+ Vergewe my asseblief vir hierdie onreg.

14 Kyk! Dit is die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en tog sal ek nie ’n las word nie. Ek soek nie julle besittings nie,+ maar ek soek julle, want dit is nie die kinders+ wat vir hulle ouers moet spaar nie, maar die ouers vir hulle kinders. 15 Wat my betref, ek sal met graagte alles wat ek het vir julle gee en ek sal myself heeltemal vir julle oorgee.+ As ek julle dan so liefhet, moet julle my minder liefhê? 16 Maar wat die geval ook al is, ek was nie vir julle ’n las nie.+ Tog sê julle dat ek “slinks” was en julle “deur bedrog” gevang het. 17 Ek het julle tog nie uitgebuit deur middel van enigeen wat ek na julle toe gestuur het nie, of hoe? 18 Ek het Titus aangespoor, en ek het die broer saam met hom gestuur. Titus het julle tog nie uitgebuit nie, of hoe?+ Het ons nie dieselfde gees gehad nie? Het ons nie op dieselfde manier opgetree nie?

19 Het julle die hele tyd gedink dat ons ons voor julle verdedig het? Dit is voor God dat ons in eenheid met Christus praat. Maar, geliefdes, alles wat ons doen, is om julle op te bou. 20 Want ek is bang dat julle, wanneer ek daar aankom, nie sal wees soos ek wil hê julle moet wees nie en dat ek nie sal wees soos julle wil hê ek moet wees nie. Ek is bang dat daar eerder stryery, jaloesie, woede-uitbarstings, onenigheid, beledigings, ’n geskinder,* trots en wanorde sal wees. 21 Ek is bang dat my God my miskien voor julle sal verneder wanneer ek weer kom en dat ek sal moet treur oor baie van dié wat voorheen gesondig het maar nie berou getoon het oor hulle skaamtelose gedrag* en die onreinheid en seksuele onsedelikheid* wat hulle beoefen het nie.

13 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. “Elke saak moet deur* twee of drie getuies bevestig word.”+ 2 Al is ek nie nou daar nie, is dit asof ek die tweede keer daar is. Ek waarsku dié wat voorheen gesondig het en die res vroegtydig: As ek ooit weer kom, sal ek hulle nie spaar nie, 3 aangesien julle ’n bewys soek dat Christus deur my praat. In werklikheid tree hy nie swak teenoor julle op nie, maar sterk. 4 Want hy is werklik aan die paal gehang as gevolg van swakheid, maar hy lewe deur God se krag.+ Ja, ons is saam met hom swak, maar ons sal saam met hom lewe+ deur God se krag teenoor julle.+

5 Hou aan om seker te maak dat julle in die geloof is. Hou aan om julleself te toets.+ Of verstaan julle nie dat Jesus Christus in eenheid met julle is nie? Dit sal nie die geval wees as julle afgekeur is nie. 6 Ek hoop waarlik dat julle sal verstaan dat ons nie afgekeur is nie.

7 Ons bid dan nou tot God dat julle niks verkeerds sal doen nie. Ons doen dit nie sodat ander sal dink dat ons goedgekeur is nie, maar sodat julle kan doen wat goed is, selfs al sou dit lyk asof ons afgekeur is. 8 Want ons kan niks teen die waarheid doen nie, maar net vir die waarheid. 9 Ons is beslis bly wanneer julle sterk is, al is ons swak. En ons bid dat julle die nodige veranderinge sal maak. 10 Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek nie daar is nie, sodat ek nie tydens my besoek streng hoef op te tree volgens die gesag wat die Here my gegee het nie.+ Hy het my die gesag gegee om op te bou, nie om af te breek nie.

11 Laastens, broers, hou aan om vreugdevol te wees, om julle te laat reghelp, om julle te laat vertroos,+ om dieselfde denke te hê+ en om in vrede te lewe.+ Dan sal die God van liefde en vrede+ met julle wees. 12 Groet mekaar met ’n heilige soen. 13 Al die heiliges stuur vir julle groete.

14 Mag die onverdiende goedheid van die Here Jesus Christus en die liefde van God met julle almal wees, en mag julle almal in die heilige gees deel.

Of “moedig ons aan”.

Lett. “vleeslike”.

Of moontlik “wat julle reeds goed weet”.

Lett. “tot die einde toe”.

Of moontlik “daarby kon baat vind”.

D.w.s. Silas.

Of “die pand; die eerste betaling”.

Of “insluk”.

Of “ons nie sal uitoorlê nie”.

Of “maak nie wins”.

Lett. “op vleeslike tablette, op harte”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of moontlik “die gees van Jehovah”.

Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.

Of moontlik “ons het nie alle hoop verloor nie”.

Lett. “vlees”.

Of “heerlikheid”.

Lett. “wat van al hoe meer oortreffende gewig is”.

Of “woning”.

Of “aan te trek”.

Of “’n pand; die eerste betaling”.

Of “openbaar gemaak word”.

Of “veragtelik”.

Of “ons is voor God openbaar gemaak”.

Of “ook dat ons aan julle gewetens openbaar gemaak is”.

Lett. “vleeslike”.

Lett. “vleeslike”.

Of “het hy sonde vir ons gemaak”.

Of “Ons gee niemand enige aanstoot nie”.

Moontlik om mee aan te val.

Moontlik om mee te verdedig.

Of “wat verdien om te sterf”.

Of “gedissiplineer”.

Of “Ons het openlik met julle gepraat”.

Of “word verruim”.

Of “verbintenisse vorm”.

Uit ’n Hebreeuse woord wat “nikswerd” beteken. Verwys na Satan.

Of “’n getroue persoon”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Lett. “vlees”.

Lett. “ons vlees”.

Lett. “julle ywer”.

Of “suiwer; kuis”.

Lett. “sy gees”.

Of moontlik “goeie moed as gevolg van julle”.

Sien Aanh. A5.

Of “oorvloedig”.

Of “uitgemeet”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Lett. “God se ywer”.

Lett. “kuis”.

Lett. “kuisheid”.

Lett. “beroof”.

Of “hulle amp”.

Of “voorwendsel”.

Lett. “die vlees”.

Lett. “saad”.

Lett. “40 minus een”.

Of “kaal”.

Of “gevlegte mandjie”.

Lett. “fluisteringe”.

Grieks: a·selʹgei·a. Sien Woordelys.

Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.

Of “uit die mond van”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel