AAN DIE ROMEINE
1 Van Paulus, ’n slaaf van Christus Jesus, wat geroep is om ’n apostel te wees, afgesonder vir God se goeie nuus,+ 2 wat hy voor die tyd deur sy profete in die heilige Skrif belowe het. 3 Hierdie goeie nuus gaan oor sy Seun, wat as ’n mens uit die nageslag* van Dawid+ gebore is. 4 Maar toe hy deur die krag van die heilige gees ’n opstanding uit die dood ontvang het,+ het dit hom geïdentifiseer as God se Seun+ – ja, Jesus Christus, ons Here. 5 Deur hom het ek* onverdiende goedheid ontvang, en hy het my as ’n apostel aangestel+ sodat al die nasies geloof kan hê+ en gehoorsaam kan wees om sy naam te verheerlik. 6 God het julle ook uit die nasies gekies om aan Jesus Christus te behoort – 7 aan almal wat in Rome is as God se geliefdes, wat geroep is om heiliges te wees:
Mag julle onverdiende goedheid en vrede hê van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
8 In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus vir julle almal omdat daar regoor die wêreld oor julle geloof gepraat word. 9 God, wat ek met my hele hart* dien in verband met die goeie nuus oor sy Seun, is my getuie dat ek julle altyd in my gebede noem+ 10 en smeek dat ek, as dit enigsins moontlik is, nou uiteindelik na julle toe kan kom as dit God se wil is. 11 Want ek wil julle graag sien sodat ek die een of ander geestelike gawe aan julle kan oordra om julle standvastig te maak, 12 of liewer, dat ons mekaar kan aanmoedig+ deur ons geloof, julle s’n sowel as myne.
13 Broers, ek wil hê dat julle moet weet dat ek al dikwels beplan het om na julle toe te kom, maar ek is tot nou toe gekeer. Ek wil kom sodat my prediking daar ook goeie resultate sal hê, net soos dit onder die res van die nasies gehad het. 14 Ek het ’n verantwoordelikheid teenoor Grieke sowel as uitlanders,* teenoor wyses sowel as onverstandiges. 15 Daarom is ek gretig om die goeie nuus ook aan julle in Rome bekend te maak.+ 16 Ek skaam my nie vir die goeie nuus nie,+ want dit is God se krag tot redding vir elkeen wat geloof het,+ eers vir die Jood,+ maar ook vir die Griek.+ 17 Want daarin word God se regverdigheid geopenbaar deur geloof en vir geloof,+ net soos daar geskryf is: “Maar die regverdige sal deur geloof lewe.”+
18 God se woede+ word vanuit die hemel geopenbaar teen alle goddeloosheid en onregverdigheid van die mense wat die waarheid op ’n onregverdige manier onderdruk,+ 19 want wat ’n mens omtrent God kan weet, is vir hulle duidelik omdat God dit aan hulle duidelik gemaak het.+ 20 Sy onsigbare eienskappe, ja, sy ewige krag+ en Godheid,+ word van die wêreld se skepping af duidelik gesien omdat dit waargeneem kan word in die dinge wat gemaak is.+ Daarom het hulle geen verskoning nie. 21 Want al het hulle God geken, het hulle hom nie as God geloof nie en hom ook nie gedank nie, maar hulle redenasies het nutteloos geword, en hulle harte onverstandig.+ 22 Al het hulle gesê dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 23 en die heerlikheid van die onsterflike* God verander in iets wat lyk soos die beeld van ’n sterflike* mens of voëls of viervoetige diere of reptiele.*+
24 Omdat hulle die begeertes van hulle harte wou volg, het God hulle oorgegee aan onreinheid waardeur hulle hulle liggame onteer. 25 Hulle het die waarheid van God verruil vir die leuen en het eer bewys* en heilige diens verrig aan die skepping in plaas van aan die Skepper, wat vir ewig geloof moet word. Amen. 26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike seksuele begeertes,+ want die vrouens het natuurlike seksuele omgang verander in iets wat teen die natuur is.+ 27 En die mans het ook nie meer natuurlike seksuele omgang met vrouens nie en het ’n brandende begeerte vir mekaar gekry. Mans doen skandelike dinge met mans+ en ontvang self die volle straf wat hulle vir hulle oortreding verdien.+
28 Omdat hulle nie gedink het dat dit nodig is om erkenning aan God te gee nie, het God hulle oorgegee aan ’n denkwyse wat hy nie goedkeur nie, om die dinge te doen wat nie gepas is nie.+ 29 Hulle is vol onregverdigheid,+ goddeloosheid, gierigheid,*+ slegtheid, jaloesie,*+ moord,+ stryery, bedrog+ en wil slegte dinge+ aan ander doen. Hulle skinder,* 30 laster*+ en haat God. Hulle kry nie skaam nie en is hoogmoedig en trots. Hulle dink slegte dinge uit en is ongehoorsaam aan ouers,+ 31 sonder begrip,+ onbetroubaar, sonder natuurlike liefde en genade. 32 Al weet hulle goed wat God se regverdige oordeel is – dat mense wat sulke dinge doen, die dood verdien+ – hou hulle nie net aan om dit te doen nie, maar hulle keur ook die mense goed wat dit doen.
2 Daarom het jy o mens, wie jy ook al is,+ geen verskoning as jy oordeel nie, want as jy iemand anders oordeel, veroordeel jy jouself omdat jy wat oordeel, dieselfde dinge doen.+ 2 Nou weet ons dat God se oordeel teen dié wat sulke dinge doen, in ooreenstemming met die waarheid is.
3 Maar jy, o mens wat dié oordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dit self doen, dink jy dat jy die oordeel van God sal vryspring? 4 Of verag jy God se oorvloedige goedhartigheid+ en verdraagsaamheid+ en geduld+ omdat jy nie weet dat God jou in sy goedhartigheid wil help om berou te toon nie?+ 5 Deur jou hardkoppigheid en jou onberouvolle hart maak jy God woedend. God sal hierdie woede op die dag van sy regverdige oordeel openbaar.+ 6 En hy sal elkeen volgens sy werke terugbetaal:+ 7 Ewige lewe vir dié wat heerlikheid en eer en onsterflikheid*+ soek deur te volhard in goeie werk, 8 maar straf en woede vir dié wat daarvan hou om te stry en wat aan die waarheid ongehoorsaam is maar aan onregverdigheid gehoorsaam is.+ 9 Dit sal sleg gaan met almal wat slegte dinge doen, en hulle sal swaarkry, eers die Jood, maar ook die Griek, 10 maar almal wat doen wat goed is, sal heerlikheid en eer en vrede ontvang, eers die Jood,+ maar ook die Griek.+ 11 Want God is nie partydig nie.+
12 Almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet sterf,+ maar almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word.+ 13 Want dié wat hoor wat die wet sê, is nie die regverdiges voor God nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal regverdig verklaar word.+ 14 Want wanneer mense van die nasies, wat geen wet het nie,+ van nature die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. 15 Dit is juis hulle wat toon dat die inhoud van die wet in hulle harte geskryf is, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle deur hulle eie gedagtes beskuldig of selfs vrygespreek word. 16 Dit sal gebeur op die dag wanneer God deur Christus Jesus die geheime dinge van die mense oordeel.+ Hierdie dinge is deel van die goeie nuus wat ek bekend maak.
17 Jy is dalk nou in naam ’n Jood+ en vertrou op die wet en is trots om deel van God se volk te wees. 18 Jy ken sy wil en kan bepaal watter dinge van groot waarde is omdat jy uit die Wet geleer* is.+ 19 Jy is daarvan oortuig dat jy ’n gids vir die blindes is, ’n lig vir dié in duisternis, 20 iemand wat onredelike mense reghelp, ’n onderrigter van jong kinders, iemand wat basiese kennis van die waarheid in die Wet het. 21 Maar jy, die een wat iemand anders leer, leer jy dan nie jouself nie?+ Jy, die een wat preek: “Moenie steel nie,”+ steel jy? 22 Jy, die een wat sê: “Moenie egbreuk pleeg nie,”+ pleeg jy egbreuk? Jy, die een wat afgode walglik vind, beroof jy tempels? 23 Jy wat trots is op die Wet, doen jy God oneer aan deur die Wet te oortree? 24 Want “die naam van God word onder die nasies gelaster as gevolg van julle,” net soos daar geskryf is.+
25 Die besnydenis+ is in werklikheid slegs voordelig as jy die wet gehoorsaam,+ maar as jy ’n oortreder van die wet is, is jy soos iemand wat nie besny is nie. 26 Maar as iemand wat nie besny is nie,+ die regverdige vereistes van die Wet gehoorsaam, sal hy wees soos iemand wat besny is, nie waar nie?+ 27 En as iemand fisies nie besny is nie en die Wet gehoorsaam, sal hy jou oordeel omdat jy die Wet oortree, al is jy besny en onder die geskrewe Wet. 28 Want om ’n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie,+ en besnydenis is ook nie iets uiterliks, aan die liggaam,* nie.+ 29 ’n Ware Jood is ’n Jood in sy binneste,+ en sy besnydenis is ’n besnydenis van die hart+ wat deur gees gedoen is en nie deur ’n geskrewe Wet nie.+ So iemand kry lof van God, nie van mense nie.+
3 Watter voordeel het die Jood dan, of wat is die voordeel van besnydenis? 2 Baie in elke opsig. Eerstens is die heilige verklarings van God aan hulle gegee.+ 3 Wat kan gesê word van die Jode wat ’n gebrek aan geloof het? Beteken hulle gebrek aan geloof dat God nie betroubaar is nie? 4 Beslis nie! Maar God sal betroubaar wees,+ al is elke mens ’n leuenaar,+ net soos daar geskryf is: “Sodat u regverdig bewys kan word wanneer u praat en kan wen wanneer mense u oordeel.”+ 5 Maar as ons onregverdigheid wys hoe regverdig God is, wat sal ons sê? God is tog nie onregverdig wanneer hy dié straf wat hom kwaad maak nie, of hoe? (Ek praat nou in menslike terme.) 6 Glad nie! Hoe anders sal God die wêreld dan oordeel?+
7 Maar as my leuen dit nog duideliker maak dat God die waarheid praat en hy daardeur geëer word, hoekom word ek dan ook as ’n sondaar geoordeel? 8 En hoekom sê ons dan nie: “Laat ons die slegte dinge doen, sodat die goeie dinge kan kom” nie? Party mense beweer valslik dat ons dit sê. Hierdie mense verdien die oordeel wat oor hulle kom.*+
9 Wat dan? Is ons in ’n beter posisie? Glad nie! Want soos ons reeds gesê het, is almal, Jode sowel as Grieke, onder sonde,+ 10 net soos daar geskryf is: “Daar is nie ’n regverdige mens nie, nie eers een nie.+ 11 Daar is niemand wat enige insig het nie. Daar is niemand wat God soek nie. 12 Alle mense het afgedwaal. Hulle almal het waardeloos geword. Daar is niemand wat doen wat goed is nie, nie eers een nie.”+ 13 “Hulle keel is ’n oop graf, en met hulle tonge het hulle bedrieg.”+ “Die gif van slange is agter hulle lippe.”+ 14 “En hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.”+ 15 “Hulle voete is vinnig om ander dood te maak.”*+ 16 “Hulle veroorsaak verwoesting en laat mense ly, 17 en hulle ken nie die weg van vrede nie.”+ 18 “Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie.”+
19 Ons weet dan nou dat alles wat die Wet sê, bedoel is vir dié wat onder die Wet is, sodat niemand ’n verskoning kan hê nie en die hele wêreld skuldig voor God kan wees.+ 20 Daarom sal niemand voor hom regverdig verklaar word deur werke van die wet nie,+ want die wet leer ons duidelik wat sonde is.+
21 Maar nou is dit geopenbaar dat ’n regverdige posisie voor God sonder die Wet verkry kan word,+ soos die Wet en die boeke van die profete getuig.+ 22 Ja, almal wat geloof het, kan hierdie regverdige posisie voor God verkry deur geloof in Jesus Christus, want God trek niemand voor nie.+ 23 Want almal het gesondig, en niemand kan die heerlikheid* van God volmaak weerspieël nie.+ 24 Maar Christus Jesus+ het hulle gered deur die losprys wat hy betaal het, en daarom verklaar God hulle regverdig. God het hierdie vrye gawe+ deur sy onverdiende goedheid+ aan hulle gegee. 25 God het hom gegee as ’n offer sodat dié wat geloof in sy bloed stel,+ met God versoen kan word.+ Dit was sodat God sy eie regverdigheid kon toon, want hy was geduldig* en het die sondes vergewe wat in die verlede gepleeg is. 26 Dit was ook om sy regverdigheid in hierdie tyd te toon+ sodat hy regverdig kan wees selfs wanneer hy die mens wat geloof in Jesus het, regverdig verklaar.+
27 Het iemand dan nog rede om trots te wees? Glad nie. Watter wet gee hom rede om trots te wees? Die wet wat werke vereis?+ Nee, beslis nie, maar eerder die wet van geloof. 28 Want ons is oortuig dat ’n mens deur geloof regverdig verklaar word en nie deur werke van die wet nie.+ 29 Of is hy net die God van die Jode?+ Is hy nie ook die God van mense van die nasies nie?+ Ja, ook van mense van die nasies.+ 30 Omdat God een is,+ sal hy dié wat besny is sowel as dié wat nie besny is nie,+ regverdig verklaar weens hulle geloof.+ 31 Maak ons dan ’n einde aan die wet deur middel van ons geloof? Glad nie! In werklikheid bevestig ons die wet.+
4 Wat sal ons dan sê van Abraham, ons voorvader?* Wat het hy verkry? 2 As Abraham byvoorbeeld op grond van werke regverdig verklaar is, sou hy rede gehad het om trots te wees, maar nie voor God nie. 3 Want wat sê die Skrif? “Abraham het geloof in Jehovah* gestel, en daarom is hy as regverdig beskou.”+ 4 En as iemand betaling ontvang vir werk wat hy gedoen het, is dit nie omdat sy werkgewer hom ’n guns doen nie, maar dit is iets waarop hy die reg het.* 5 Maar as iemand nie werk nie maar geloof stel in die Een wat sondaars regverdig verklaar, sal hy weens sy geloof as regverdig beskou word.+ 6 Net so het Dawid gepraat van die mens wat gelukkig is omdat hy sonder werke deur God as regverdig beskou word. Dawid het gesê: 7 “Gelukkig is die mense wie se wettelose dade vergewe is en wie se sondes bedek is. 8 Gelukkig is die mens aan wie se sonde Jehovah* nie sal dink nie.”+
9 Is hierdie geluk dan net vir mense wat besny is of ook vir mense wat nie besny is nie?+ Want ons sê: “Weens sy geloof is Abraham as regverdig beskou.”+ 10 Wanneer is hy dan as regverdig beskou? Toe hy besny was of toe hy nie besny was nie? Dit was nog voordat hy besny was. 11 En hy het ’n teken ontvang,+ naamlik die besnydenis, as ’n waarborg* dat hy weens sy geloof as regverdig beskou is toe hy nog nie besny was nie. So kon hy die vader word van almal wat geloof het,+ al is hulle nie besny nie, en hulle word ook as regverdig beskou. 12 En so kon Abraham die vader word van nakomelinge wat besny is. Maar hy is nie net die vader van dié wat besny word nie, maar ook van dié wat die geloof navolg wat ons vader Abraham+ gehad het toe hy nog nie besny was nie.
13 Dit was nie deur middel van die wet dat Abraham en sy nageslag* die belofte ontvang het dat hy die erfgenaam van ’n wêreld sou wees nie,+ maar dit was omdat hy as regverdig beskou is weens geloof.+ 14 Want as die belofte om erfgename te wees slegs gemaak is aan dié wat die wet gehoorsaam, beteken geloof niks en is dit ’n leë belofte. 15 In werklikheid veroorsaak die wet God se woede,+ maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie.+
16 Abraham het die belofte as gevolg van sy geloof en God se onverdiende goedheid ontvang.+ Sy hele nageslag* sou beslis ook hierdie belofte ontvang,+ nie net dié wat die Wet gehoorsaam nie, maar ook dié wat die geloof navolg van Abraham, wat die vader van ons almal is.+ 17 (Dit is net soos daar geskryf is: “Ek het jou as ’n vader van baie nasies aangestel.”)+ Dit was voor die oë van God, in wie Abraham geloof gehad het, die God wat die dooies lewend maak en wat van die dinge wat nie bestaan nie, praat asof dit bestaan. 18 Al was daar nie meer hoop nie, het hy tog op grond van hoop geloof gehad dat hy die vader van baie nasies sou word, volgens wat gesê is: “So sal jou nageslag* wees.”+ 19 En al het hy nie swak geword in geloof nie, het hy geweet dat sy eie liggaam so goed as dood is (aangesien hy omtrent 100 jaar oud was)+ en dat Sara te oud was om kinders te hê.+ 20 Maar as gevolg van die belofte van God het hy nie getwyfel en sy geloof verloor nie, maar hy het kragtig geword deur sy geloof en het eer aan God gegee. 21 Hy was heeltemal daarvan oortuig dat God ook kon doen wat Hy belowe het.+ 22 Daarom “is hy as regverdig beskou”.+
23 Maar die woorde “is hy as regverdig beskou”, is nie net vir hom geskryf nie,+ 24 maar ook vir ons, wat as regverdig beskou sal word omdat ons in Hom glo wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.+ 25 Hy is oorgelewer vir ons oortredings+ en is opgewek sodat ons regverdig verklaar kan word.+
5 Laat ons dan vrede geniet* met God deur ons Here Jesus Christus+ noudat ons weens geloof regverdig verklaar is.+ 2 Deur middel van hom het ons ook deur geloof toegang gekry tot hierdie onverdiende goedheid wat ons nou geniet,+ en laat ons bly wees* as gevolg van die hoop wat ons het om heerlikheid van God te ontvang. 3 En nie net dit nie, maar laat ons bly wees* terwyl ons swaarkry,+ want ons weet dat die swaarkry tot volharding lei.+ 4 Volharding lei tot ’n goedgekeurde toestand,+ die goedgekeurde toestand lei tot hoop,+ 5 en die hoop lei nie tot teleurstelling nie,+ want die heilige gees, wat aan ons gegee is,+ het ons harte gevul met die liefde van God.
6 Want terwyl ons nog swak was,+ het Christus op die vasgestelde tyd vir goddeloses gesterf. 7 Want iemand sal nie sommer vir ’n regverdige mens sterf nie. Dalk sal iemand nog bereid wees om vir ’n goeie mens te sterf. 8 Maar God toon sy eie liefde vir ons deurdat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was.+ 9 Omdat ons nou deur middel van sy bloed regverdig verklaar is,+ sal ons vir seker deur hom van die woede van God gered word.+ 10 Toe ons vyande was, het ons met God versoen geraak deur die dood van sy Seun,+ maar noudat ons versoen is, kan ons seker wees dat ons deur sy lewe gered sal word. 11 Nie net dit nie, maar ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou met God versoen is.+
12 Sonde het dus deur een mens in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde,+ en die dood het so na alle mense versprei omdat hulle almal gesondig het.+ 13 Want die sonde was in die wêreld voordat die Wet daar was, maar niemand word van sonde beskuldig wanneer daar geen wet is nie.+ 14 Tog het die dood as koning regeer van Adam tot by Moses, selfs oor dié wat nie gesondig het soos Adam gesondig het nie. Adam was in sekere opsigte soos die een wat sou kom.+
15 Maar die gawe is anders as die oortreding. Want deur een mens se oortreding het baie gesterf, maar die onverdiende goedheid van God en sy vrye gawe is soveel groter en help baie mense.+ Hierdie vrye gawe is gegee saam met die onverdiende goedheid van die een mens,+ Jesus Christus. 16 Die voordele van die vrye gawe is ook nie soos die gevolge van die een mens se sonde nie.+ Want as gevolg van een oortreding is alle mense veroordeel,+ maar as gevolg van die gawe wat ná baie oortredings gegee is, is baie mense regverdig verklaar.+ 17 Deur die sonde van die een mens regeer die dood as koning,+ maar God se onverdiende goedheid en sy vrye gawe van regverdigheid is soveel groter.+ Dié wat hierdie dinge ontvang, sal danksy Jesus Christus lewe,+ en hulle sal as konings regeer.+
18 Net soos die sonde van een mens vir alle soorte mense tot veroordeling gelei het,+ word alle soorte mense+ deur een regverdige daad regverdig verklaar en kan hulle die lewe verkry.+ 19 Want net soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars gemaak is,+ so sal baie ook deur die gehoorsaamheid van die een persoon regverdig gemaak word.+ 20 Die Wet het gekom sodat oortreding sou toeneem.+ Maar waar die sonde meer geword het, het onverdiende goedheid selfs nog meer geword. 21 Met watter doel? Sodat, net soos die sonde as koning regeer het saam met die dood,+ die onverdiende goedheid ook as koning sou regeer deur middel van regverdigheid, wat tot die ewige lewe lei deur middel van Jesus Christus, ons Here.+
6 Wat sal ons dan sê? Moet ons aanhou sondig sodat onverdiende goedheid kan toeneem? 2 Beslis nie! Hoe kan ons nog langer in sonde lewe+ as ons gesterf het wat sonde betref?+ 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is,+ in sy dood gedoop is nie?+ 4 Ons is dus saam met hom begrawe deur middel van ons doop in sy dood,+ sodat ons ook ’n nuwe lewe kan lei, net soos Christus deur die mag* van die Vader uit die dood opgewek is.+ 5 As ons met hom verenig word wanneer ons sterf soos hy gesterf het,+ sal ons beslis met hom verenig word wanneer ons opgewek word soos hy opgewek is.+ 6 Want ons weet dat ons ou persoonlikheid saam met hom aan die paal gehang is.+ Dit was sodat ons sondige liggaam kragteloos gemaak sou word+ en ons nie langer slawe van die sonde sou bly nie.+ 7 Want hy wat gesterf het, is vrygespreek* van sy sonde.
8 Wat meer is, as ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met hom sal lewe. 9 Want ons weet dat Christus nie meer sterf+ noudat hy uit die dood opgewek is nie.+ Die dood is nie meer meester oor hom nie. 10 Want die dood wat hy gesterf het, het hy eens en vir altyd gesterf om die sonde weg te neem,+ maar hy lewe sodat hy God se wil kan doen. 11 Julle moet julle ook beskou as dood vir die sonde maar lewend vir God deur Christus Jesus.+
12 Moet dan nie toelaat dat die sonde langer as koning in julle sterflike liggaam regeer+ sodat julle die begeertes daarvan gehoorsaam nie. 13 Hou ook op om julle liggame as wapens van onregverdigheid vir die sonde aan te bied. Bied julleself eerder vir God aan as mense wat dood was maar wat nou lewe, en bied ook julle liggame vir God aan as wapens van regverdigheid.+ 14 Want die sonde moenie meester oor julle wees nie, aangesien julle nie onder die wet is nie+ maar onder onverdiende goedheid.+
15 Wat dan? Sal ons sondig omdat ons nie onder die wet is nie maar onder onverdiende goedheid?+ Beslis nie! 16 Weet julle nie dat julle slawe is van die een aan wie julle altyd gehoorsaam is nie?+ As julle dus slawe van die sonde is,+ sal dit tot die dood lei,+ maar as julle slawe van gehoorsaamheid is, sal dit tot regverdigheid lei. 17 Al was julle slawe van die sonde, dank ons God dat julle uit die hart gehoorsaam geword het aan die vorm van onderrigting wat julle ontvang het. 18 Omdat julle van sonde vrygemaak is,+ het julle slawe van regverdigheid geword.+ 19 Ek gebruik woorde wat mense verstaan* omdat julle vlees swak is, want net soos julle julle liggaamsdele as slawe aangebied het vir onreinheid en wetteloosheid, wat tot wettelose dade lei, so moet julle nou julle liggaamsdele as slawe aanbied vir regverdigheid, wat tot heilige dade lei.+ 20 Want toe julle slawe van sonde was, was regverdigheid nie julle meester nie.
21 Wat was die gevolge van die dinge wat julle daardie tyd gedoen het? Dit is dinge waaroor julle julle nou skaam. Want hierdie dinge lei tot die dood.+ 22 Maar omdat julle nou van sonde vrygemaak is en slawe van God geword het, kan julle ’n rein lewe lei,+ wat die ewige lewe tot gevolg het.+ 23 Want die betaling vir sonde is die dood,+ maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe+ deur Christus Jesus, ons Here.+
7 Broers, weet julle nie dat die Wet meester oor ’n mens is solank hy lewe nie? (Ek praat tog met mense wat die wet ken.) 2 ’n Getroude vrou is byvoorbeeld deur die wet aan haar man gebind terwyl hy lewe, maar as haar man sterf, is sy vry van die wet van haar man.+ 3 Daarom sal sy ’n egbreekster genoem word as sy met ’n ander man trou terwyl haar man nog lewe.+ Maar as haar man sterf, is sy vry van sy wet, en dan is sy nie ’n egbreekster as sy met ’n ander man trou nie.+
4 So het julle ook, my broers, deur die offerande van die Christus gesterf wat die Wet betref. Julle behoort nou aan iemand anders,+ aan die een wat uit die dood opgewek is,+ sodat ons vir God vrugte kan dra.+ 5 Want toe ons volgens die begeertes van die vlees gelewe het, het die Wet dit duidelik gemaak dat die slegte begeertes van die vlees ons liggame laat sondig het, en dit lei tot die dood.+ 6 Maar nou is ons vrygemaak van die Wet,+ want ons is nie meer daardeur gebind nie. Daarom kan ons in ’n nuwe sin slawe van God wees deur die gees,+ en nie deur die Wet soos voorheen nie.+
7 Wat sal ons dan sê? Is die Wet sonde? Beslis nie! Ek sou nie geweet het wat sonde is as die Wet nie daar was nie.+ Ek sou byvoorbeeld nie geweet het wat sondige begeerte is as die Wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer wat aan ander behoort nie.”+ 8 Maar deur hierdie gebod het sonde die geleentheid gekry om elke soort sondige begeerte in my wakker te maak, want sonder die wet was die sonde dood.+ 9 In werklikheid was ek voorheen lewend sonder die wet. Maar toe die gebod kom, het die sonde weer lewend geword, en ek het gesterf.+ 10 Ek het gevind dat die gebod wat tot die lewe moes lei,+ eintlik tot die dood gelei het. 11 Want die sonde het deur hierdie gebod die geleentheid gekry om my te verlei en my daardeur dood te maak. 12 Die Wet self is dus heilig, en die gebod is heilig en regverdig en goed.+
13 Het wat goed is dan my dood veroorsaak? Beslis nie! Maar die sonde het wel. Deur middel van wat goed is, het die sonde die dood oor my gebring+ om duidelik te maak wat sonde is. En die gebod het geopenbaar hoe sondig die sonde is.+ 14 Want ons weet dat die Wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop aan die sonde.+ 15 Ek verstaan nie wat ek doen nie. Want ek doen nie wat ek wil doen nie, maar ek doen wat ek haat. 16 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, toon dit dat ek dink dat die Wet goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar dit is die sonde wat in my is.+ 18 Ek weet dat daar niks goeds in my vlees is nie, want ek wil graag doen wat goed is, maar ek het nie die vermoë om dit te doen nie.+ 19 Want ek doen nie die goeie dinge wat ek wil doen nie, maar ek doen die slegte dinge wat ek nie wil doen nie. 20 As ek dan nou doen wat ek nie wil doen nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my is.
21 Ek vind dus hierdie wet in my geval: Wanneer ek wil doen wat reg is, is ek geneig om te doen wat sleg is.+ 22 Die mens wat ek van binne is,+ vind werklik vreugde in die wet van God, 23 maar ek sien in my liggaam ’n ander wet, wat veg teen die wet van my verstand+ en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde+ wat in my liggaam is. 24 Patetiese mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat my na hierdie dood lei? 25 Ek dank God deur Jesus Christus, ons Here! So is ek self dan met my verstand ’n slaaf van God se wet, maar met my vlees van die sonde se wet.+
8 Daarom word dié wat in eenheid met Christus Jesus is, nie veroordeel nie. 2 Want die wet van die gees wat lewe gee in eenheid met Christus Jesus, het jou vrygemaak+ van die wet van sonde en die dood. 3 Wat die Wet nie kon doen nie+ omdat dit swak was+ deur die vlees, het God gedoen deur sy eie Seun in dieselfde vorm as die sondige vlees+ te stuur+ om sonde in die vlees te veroordeel, 4 sodat die regverdige vereiste van die Wet vervul sou word in ons+ wat nie volgens die vlees lewe nie, maar volgens die gees.+ 5 Want dié wat volgens die vlees lewe, bly dink aan die dinge van die vlees,+ maar dié wat volgens die gees lewe, bly dink aan die dinge van die gees.+ 6 Want om te bly dink aan die dinge van die vlees, beteken die dood,+ maar om te bly dink aan die dinge van die gees, beteken lewe en vrede,+ 7 want om te bly dink aan die dinge van die vlees, beteken vyandskap met God,+ want dit is nie onder die wet van God nie, en in werklikheid kan dit ook nie wees nie. 8 Daarom kan dié wat volgens die vlees lewe, nie God se hart bly maak nie.
9 Maar as God se gees werklik in julle is, lewe julle nie volgens die vlees nie, maar volgens die gees.+ Maar as iemand nie Christus se gees het nie, behoort hierdie persoon nie aan hom nie. 10 Maar as Christus in eenheid met julle is,+ is die liggaam dood as gevolg van sonde, maar die gees is lewe as gevolg van regverdigheid. 11 As die gees van hom wat Jesus uit die dood opgewek het, in julle is, sal die een wat Christus Jesus uit die dood opgewek het,+ ook julle sterflike liggame lewend maak+ deur sy gees wat in julle is.
12 Daarom, broers, is ons verplig om nie volgens die vlees te lewe nie,+ 13 want as julle volgens die vlees lewe, sal julle sekerlik sterf, maar as julle die slegte gebruike van die liggaam doodmaak+ met die hulp van die gees, sal julle lewe.+ 14 Want almal wat deur God se gees gelei word, is God se kinders.+ 15 Want julle het nie ’n gees ontvang wat julle slawe maak en weer vrees veroorsaak nie, maar deur God se gees is julle as kinders aangeneem, en deur hierdie gees roep ons uit: “Abba,* Vader!”+ 16 Die gees getuig met ons gees+ dat ons God se kinders is.+ 17 As ons dan kinders is, is ons ook erfgename – ja, erfgename van God, maar mede-erfgename+ met Christus – maar net as ons saam ly,+ sodat ons ook saam verheerlik kan word.+
18 Ons ly nou baie, maar ek is seker dat dit niks is in vergelyking met die heerlikheid wat in ons geopenbaar sal word nie.+ 19 Die skepping* wag gretig dat die seuns van God geopenbaar moet word.+ 20 Want die skepping is onderwerp aan ’n nuttelose bestaan,+ nie uit eie wil nie, maar deur die een wat dit onderwerp het. Hy het dit gedoen op grond van die hoop 21 dat die skepping ook vrygemaak sal word van slawerny aan agteruitgang+ en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê. 22 Want ons weet dat die hele skepping tot nou toe saam kreun en in pyn is. 23 Nie net dit nie, maar ons wat ook die eerste deel van die beloning* het, naamlik die gees, ja, ons kreun in onsself+ terwyl ons gretig wag om as kinders aangeneem te word,+ om deur middel van ’n losprys van ons liggaam bevry te word. 24 Want ons is in hierdie hoop gered, maar hoop wat gesien word, is nie hoop nie, want as iemand iets sien, hoop hy dan daarop? 25 Maar as ons hoop+ op wat ons nie sien nie,+ wag ons gretig daarop terwyl ons volhard.+
26 Net so help die gees ons wanneer ons swak is,+ want soms weet ons nie waarvoor ons behoort te bid nie, maar die gees pleit vir ons wanneer ons in ons harte kreun. 27 Hy wat die harte deursoek,+ weet egter wat die gees bedoel, want dit pleit vir die heiliges, volgens God se wil.
28 Ons weet dat God al sy werke laat saamwerk om dié te bevoordeel wat lief is vir God en wat volgens sy voorneme geroep is,+ 29 want hy het van die begin af geweet wie hy sou kies en het ook besluit dat hulle soos sy Seun sou wees,+ die een wat die eersgeborene+ onder baie broers+ sou wees. 30 Dié wat hy vooraf gekies het+ om soos sy Seun te wees, is ook dié wat hy geroep het+ en wat hy regverdig verklaar het.+ Laastens is dié wat hy regverdig verklaar het, dié wat hy ook verheerlik het.+
31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie sal teen ons wees?+ 32 Hy het nie eers sy eie Seun gespaar nie, maar hy het hom vir ons almal oorgelewer.+ Sal hy dan nie ook alle ander dinge saam met hom uit die goedheid van sy hart vir ons gee nie? 33 Wie sal ’n beskuldiging maak teen dié wat deur God uitgekies is?+ God is die Een wat hulle regverdig verklaar.+ 34 Wie is dit wat hulle sal veroordeel? Christus Jesus is die een wat gesterf het, ja, meer as dit, die een wat uit die dood opgewek is, wat aan die regterhand van God is+ en wat ook vir ons pleit.+
35 Wat sal ons van die liefde van die Christus skei?+ Moeilike tye of swaarkry of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of die swaard?+ 36 Net soos daar geskryf is: “Omdat ons u volk is, word ons die hele dag lank doodgemaak. Ons word beskou as skape wat geslag moet word.”+ 37 Maar in al hierdie dinge het ons heeltemal oorwin+ deur hom wat ons liefgehad het. 38 Want ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of dinge wat nou gebeur of dinge wat nog gaan gebeur of magte+ 39 of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.
9 Ek vertel die waarheid in Christus. Ek lieg nie, want my gewete getuig saam met my in heilige gees 2 dat daar baie hartseer en onophoudelike pyn in my hart is. 3 Want ek is bereid om as ’n vervloekte geskei te word van die Christus ter wille van my broers, my familielede,* 4 wat Israeliete is. Hulle is as kinders aangeneem+ en het die heerlikheid, die verbonde,+ die Wet,+ die heilige diens+ en die beloftes+ ontvang. 5 Hulle het afgestam van ons voorvaders,+ uit wie die Christus gebore is.*+ Mag God, wat oor alles is, vir ewig geloof word. Amen.
6 Maar dit is nie asof die woord van God nie vervul is nie. Want nie almal wat uit Israel gebore is, is werklik “Israel” nie.+ 7 En hulle is ook nie almal kinders omdat hulle Abraham se nageslag* is nie,+ maar: “Wat jou nageslag* genoem sal word, sal deur Isak wees.”+ 8 Dit wil sê, die kinders in die vlees is nie werklik die kinders van God nie,+ maar die kinders deur die belofte+ word as die nageslag* beskou. 9 Want die belofte het gesê: “Op dié tyd sal ek kom, en Sara sal ’n seun hê.”+ 10 Nie net toe nie, maar ook toe Rebekka swanger geword het met ’n tweeling by Isak, ons voorvader.+ 11 Toe hulle nog nie gebore was of enigiets goeds of slegs gedoen het nie – sodat God se voorneme in verband met wie hy sou kies, nie van werke sou afhang nie maar van die Een wat roep – 12 is daar vir haar gesê: “Die oudste sal die slaaf van die jongste wees.”+ 13 Net soos daar geskryf is: “Ek was lief vir Jakob, maar ek het Esau gehaat.”+
14 Wat sal ons dan sê? Is daar onregverdigheid by God? Beslis nie!+ 15 Want hy sê vir Moses: “Ek sal genade betoon aan wie ek genade wil betoon, en ek sal medelye* betoon aan wie ek medelye* wil betoon.”+ 16 Dit hang dus nie af van wat ’n persoon doen of wat hy wil doen nie,* maar van God, wat genadig is.+ 17 Want die Skrifgedeelte sê vir Farao: “Om dié rede het ek jou toegelaat om te bly lewe: sodat ek my krag deur jou kan wys en sodat my naam oor die hele aarde bekend gemaak kan word.”+ 18 So toon hy dan genade aan wie hy wil, maar hy laat hardkoppig word wie hy wil.+
19 Maar jy sal vir my vra: “Hoekom vind hy dan nog fout? Want wie het sy wil weerstaan?” 20 Maar wie is jy, o mens, om God terug te antwoord?+ Sal wat gevorm is, vir die een wat dit gevorm het, vra: “Hoekom het jy my so gemaak?”+ 21 Wat? Het die pottebakker nie die gesag+ om uit dieselfde klei een voorwerp* vir ’n eervolle gebruik en ’n ander vir ’n oneervolle gebruik te maak nie? 22 Wat dan as God sy woede wou toon en sy krag bekend wou maak, maar hy voorwerpe van woede, wat vernietig sou word, geduldig verdra het? 23 En as hy dit gedoen het om die oorvloed van sy heerlikheid bekend te maak oor voorwerpe van genade,+ wat hy vooraf voorberei het om verheerlik te word, 24 naamlik ons, wat hy nie net uit die Jode geroep het nie maar ook uit die nasies,+ wat daarvan? 25 Dit is soos hy ook in Hoseʹa sê: “Dié wat nie my volk is nie,+ sal ek ‘my volk’ noem, en die vrou vir wie ek nie lief was nie, sal ek ‘my geliefde’ noem+ 26 en op die plek waar daar vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ daar sal hulle ‘kinders van die lewende God’+ genoem word.”
27 En Jesaja sê oor Israel: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, sal net die oorblyfsel gered word.+ 28 Want Jehovah* sal dié wat op die aarde woon, oordeel en hy sal dit vinnig uitvoer.”+ 29 En soos Jesaja ook voorspel het: “As Jehovah* van die leërmagte nie vir ons ’n nageslag* laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom geword het en sou ons soos Gomorʹra gewees het.”+
30 Wat sal ons dan sê? Al het mense van die nasies nie probeer om regverdig te wees nie, het hulle weens geloof+ regverdig geword in God se oë,+ 31 maar al het Israel volgens ’n wet van regverdigheid probeer lewe, het hulle dit nie reggekry nie. 32 Hoekom? Omdat hulle dit nie deur geloof probeer doen het nie, maar deur werke. Hulle het oor die “steen van struikeling” gestruikel,+ 33 soos daar geskryf is: “Kyk! Ek lê in Sion ’n steen+ van struikeling en ’n rots van aanstoot, maar die een wat sy geloof daarop bou, sal nie teleurgestel word nie.”+
10 Broers, ek wens met my hele hart en ek smeek God dat hulle gered word.+ 2 Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het,+ maar nie akkurate kennis nie. 3 Omdat hulle nie die regverdigheid van God ken nie+ maar in hulle eie oë regverdig probeer wees,+ het hulle nie God se regverdige standaarde gehoorsaam nie.+ 4 Want Christus is die einde van die Wet,+ sodat elkeen wat geloof beoefen, regverdig kan wees.+
5 Moses het die volgende geskryf oor die regverdigheid wat deur middel van die Wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”+ 6 Maar die volgende word gesê oor die regverdigheid wat as gevolg van geloof verkry word: “Moenie in jou hart sê:+ ‘Wie sal na die hemel opvaar?’+ dit wil sê om Christus af te bring, 7 of: ‘Wie sal in die afgrond neerdaal?’+ dit wil sê om Christus uit die dood terug te bring nie.” 8 Maar wat sê dit? “Die woord is naby jou, in jou eie mond en in jou eie hart”+ – dit wil sê “die woord” van geloof, wat ons verkondig. 9 As jy met jou mond in die openbaar bekend maak dat Jesus Here is+ en in jou hart geloof beoefen dat God hom opgewek het, sal jy gered word. 10 Want vir regverdigheid moet iemand in sy hart geloof beoefen, maar vir redding moet hy sy geloof met sy mond in die openbaar bekend maak.+
11 Want die Skrif sê: “Niemand wat geloof in hom het, sal teleurgestel word nie.”+ 12 Want daar is geen verskil tussen Jood en Griek nie.+ Hulle almal het dieselfde Here, wat ryklik* gee aan almal wat hom aanroep. 13 Want “elkeen wat die naam van Jehovah* aanroep, sal gered word”.+ 14 Maar hoe kan hulle hom aanroep as hulle nie geloof in hom gestel het nie? En hoe kan hulle geloof in hom stel as hulle nie van hom gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor as iemand nie preek nie? 15 En hoe kan hulle preek as hulle nie uitgestuur is nie?+ Net soos daar geskryf is: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!”+
16 En tog was hulle almal nie gehoorsaam aan die goeie nuus nie. Want Jesaja sê: “Jehovah,* wie het geloof gestel in wat ons gesê het?”*+ 17 Geloof volg dus op wat gehoor word.+ En wat gehoor word, is deur die woord oor Christus. 18 Maar ek vra: Het hulle miskien nie gehoor nie? Nee, hulle het gehoor, want ‘hulle geluid het oor die hele aarde uitgegaan en hulle boodskap tot aan die eindes van die aarde’.+ 19 En ek vra ook: Het Israel miskien nie geweet nie?+ Eerstens sê Moses: “Ek sal julle jaloers maak met mense van ander nasies. Ek sal julle woedend maak deur middel van ’n dwase nasie.”+ 20 Maar Jesaja gaan selfs so ver as om te sê: “Ek is gevind deur dié wat my nie gesoek het nie.+ Ek het bekend geword aan dié wat nie gevra het waar ek is nie.”+ 21 Maar oor Israel sê hy: “Die hele dag deur het ek my hande uitgestrek na ’n ongehoorsame en hardkoppige volk.”+
11 Ek vra dan: Het God sy volk verwerp?+ Glad nie! Want ek is ook ’n Israeliet, van die nageslag* van Abraham, uit die stam van Benjamin. 2 God het sy volk, wat hy eerste gekies het, nie verwerp nie.+ Weet julle nie wat die Skrif oor Eliʹa sê nie? Hy het by God oor Israel gekla en gesê: 3 “Jehovah,* hulle het u profete doodgemaak, hulle het u altare uitgegrawe, en ek het alleen oorgebly, en nou probeer hulle my* doodmaak.”+ 4 Maar hoe het God hom geantwoord? “Ek het 7 000 manne vir myself laat oorbly, manne wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie.”+ 5 So is daar ook in hierdie tyd ’n oorblyfsel+ wat as gevolg van onverdiende goedheid uitgekies is. 6 As dit dan nou deur onverdiende goedheid is,+ is dit nie meer deur werke nie,+ want anders is die onverdiende goedheid nie meer onverdiende goedheid nie.
7 Wat sal ons dan sê? Israel het nie verkry waarna hulle ernstig gesoek het nie, maar dié wat uitgekies is, het dit wel verkry.+ Die res het geweier om te luister,+ 8 net soos daar geskryf is: “God het hulle ’n gees van diep slaap gegee,+ oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, tot vandag toe.”+ 9 Dawid sê ook: “Laat hulle tafel vir hulle ’n vangnet en ’n strik en ’n struikelblok en ’n straf word. 10 Laat hulle oë blind word sodat hulle nie kan sien nie, en laat hulle rug vir altyd krom wees.”+
11 Daarom vra ek: Het hulle gestruikel en heeltemal geval? Beslis nie! Maar deur hulle misstap is daar redding vir mense van die nasies, om hulle jaloers te maak.+ 12 As hulle misstap dan nou rykdom vir die wêreld beteken en hulle vermindering rykdom vir mense van die nasies,+ sal hulle volle getal soveel meer beteken!
13 Ek praat dan nou met julle wat mense van die nasies is. Aangesien ek ’n apostel vir die nasies is,+ heg ek groot waarde aan* my bediening+ 14 om te sien of ek op die een of ander manier my eie mense* jaloers kan maak en party onder hulle kan red. 15 Want as hulle verwerping+ beteken dat die wêreld met God versoen word, wat sal dit beteken as hulle aangeneem word? Dit sal wees asof hulle uit die dood terugkeer na die lewe. 16 En as die eerste deel van die deeg wat as eerstelinge geoffer word, heilig is, is al die deeg ook heilig, en as die wortel heilig is, is die takke ook.
17 Maar as party van die takke afgebreek is en jy, al is jy ’n wilde olyfboom, tussen hulle geënt is en baat gevind het by die voedingskrag van die olyfboom se wortel, 18 moet jy nie neersien op die takke nie. As jy wel op hulle neersien,+ moet jy onthou dat jy nie die wortel dra nie, maar dat die wortel jou dra. 19 Jy sal dan sê: “Takke is afgebreek sodat ek geënt kan word.”+ 20 Dit is waar! Weens hulle gebrek aan geloof is hulle afgebreek,+ maar jy staan deur jou geloof.+ Maar pasop, moenie hoogmoedig wees nie. 21 Want as God nie die natuurlike takke gespaar het nie, sal hy jou ook nie spaar nie. 22 Dink dan aan God se goedhartigheid+ en strengheid. Daar is strengheid teenoor dié wat geval het,+ maar God is goed vir jou, solank jy in sy goedhartigheid bly, anders sal jy ook afgekap word. 23 En hulle sal ook geënt word+ as hulle geloof begin toon, want God kan hulle weer ent. 24 Want as jy uit die wilde olyfboom gesny is en op die gekweekte olyfboom geënt word, al word dit nie gewoonlik so gedoen nie, dan sal dié wat natuurlike takke is, sekerlik op hulle eie olyfboom geënt word!
25 Broers, ek wil hê dat julle moet weet van hierdie heilige geheim,+ sodat julle nie in julle eie oë wys word nie: Party Israeliete se harte is verhard, en dit sal so bly totdat die volle getal mense van die nasies ingekom het, 26 en op hierdie manier sal die hele Israel+ gered word. Net soos daar geskryf is: “Die verlosser* sal uit Sion kom+ en die goddelose gebruike van Jakob wegneem. 27 En dit is my verbond met hulle,+ wanneer ek hulle sondes wegneem.”+ 28 Wat die goeie nuus betref, is hulle nou wel vyande ter wille van julle, maar God is lief vir hulle en het hulle uitgekies as gevolg van die belofte aan hulle voorvaders.+ 29 Want die gawes en die roeping van God is nie dinge waaroor hy spyt sal voel nie. 30 Want net soos julle voorheen aan God ongehoorsaam was,+ is daar nou genade aan julle betoon+ weens hulle ongehoorsaamheid.+ 31 Net so het hy genade aan julle betoon weens hulle ongehoorsaamheid, maar as gevolg daarvan kan hy nou ook genade aan hulle betoon. 32 Want God het toegelaat dat hulle almal gevangenes van ongehoorsaamheid word+ sodat hy genade aan hulle almal kan betoon.+
33 Hoe diep is God se rykdom en wysheid en kennis tog! Niemand kan sy besluite* ten volle verstaan of sy dade ten volle begryp nie! 34 Want “wie het Jehovah* se denke leer ken, of wie het sy raadgewer geword?”+ 35 Of “wie het eerste vir hom iets gegee, sodat hy daarvoor terugbetaal moet word?”+ 36 Want alles is uit hom en deur hom en vir hom. Aan hom behoort die eer tot in ewigheid. Amen.
12 Broers, aangesien God genadig teenoor ons is, smeek ek julle om julle liggame aan te bied+ as ’n offerande wat lewend, heilig+ en vir God aanvaarbaar is. So doen julle heilige diens met julle denkvermoë.+ 2 En moenie langer toelaat dat hierdie wêreld* julle vorm nie, maar verander julle denkwyse+ sodat julle aan julleself kan bewys+ wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.
3 Want deur die onverdiende goedheid wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle om nie meer van homself te dink as wat nodig is nie,+ maar om op ’n manier te dink wat toon dat hy verstandig is,* elkeen volgens die geloof wat God hom gegee het.+ 4 Ons liggaam bestaan uit baie ledemate,+ maar die ledemate het nie almal dieselfde funksie nie. 5 Net so is ons, al is ons baie, een liggaam in eenheid met Christus, maar afsonderlik is ons ledemate wat aan mekaar behoort.+ 6 Ons het verskillende vermoëns* volgens die onverdiende goedheid wat aan ons gegee is.+ As ons kan profeteer, laat ons profeteer volgens die geloof wat aan ons gegee is. 7 As ons ander kan dien, laat ons dien. As iemand die vermoë het om ander te leer, laat hy aanhou onderrig.+ 8 As iemand ander kan aanmoedig,* laat hy hulle aanmoedig.*+ As iemand kan gee,* laat hy dit vryelik doen.+ As iemand die leiding neem, laat hy dit ywerig* doen.+ As iemand genade kan betoon, laat hy dit vreugdevol doen.+
9 Laat julle liefde sonder skynheiligheid wees.+ Haat wat goddeloos is,+ hou vas aan wat goed is. 10 Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar. Neem die leiding* om eer aan mekaar te betoon.+ 11 Wees hardwerkend,* nie lui nie.+ Gloei van die gees.+ Dien Jehovah* as slawe.+ 12 Wees bly oor die hoop wat julle het. Volhard wanneer julle moeilike tye deurmaak.+ Hou vol met gebed.+ 13 Deel met die heiliges volgens wat hulle nodig het.+ Wees altyd gasvry.+ 14 Hou aan om dié te seën wat julle vervolg.+ Seën en moenie vervloek nie.+ 15 Wees bly saam met mense wat bly is. Huil saam met mense wat huil. 16 Beskou ander soos julle julleself beskou. Moenie hoogmoedig wees* nie, maar laat julle deur nederigheid lei.+ Moenie in julle eie oë wys word nie.+
17 Moenie slegte dinge aan mense doen wanneer hulle slegte dinge aan julle doen nie.+ Doen dinge wat alle mense as goed sal beskou. 18 Doen julle bes, sover dit van julle afhang, om in vrede met alle mense te lewe.+ 19 Moenie self wraak neem nie, geliefde vriende, maar laat die woede aan God oor,+ want daar staan geskryf: “‘Die wraak is myne. Ek sal terugbetaal,’ sê Jehovah.”*+ 20 Maar “as jou vyand honger is, gee hom iets om te eet, en as hy dors is, gee hom iets om te drink, want as jy dit doen, sal dit wees asof jy gloeiende kole op sy kop sit”.*+ 21 Moenie toelaat dat die slegte jou oorwin nie, maar hou aan om die slegte met die goeie te oorwin.+
13 Laat elkeen* onderdanig wees aan die hoër owerhede,+ want daar is geen gesag wat nie van God af kom nie.+ Die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.+ 2 Die een wat die owerhede teëstaan, staan dus God se reëling teë, en dié wat dit doen, sal oordeel oor hulleself bring. 3 Want jy hoef nie bang te wees vir daardie heersers as jy goeie dinge doen nie, maar wel as jy slegte dinge doen.+ As jy nie vir die owerhede wil bang wees nie, moet jy aanhou om goeie dinge te doen,+ en jy sal deur hulle geprys word daarvoor, 4 want die owerhede is God se dienaars tot jou voordeel. Maar as jy doen wat sleg is, moet jy bang wees, want die owerhede dra nie verniet die swaard nie. Hulle is God se dienaars wat die oortreders straf.
5 Julle het dus goeie rede om onderdanig te wees, nie net weens die straf nie, maar ook weens julle gewete.+ 6 Daarom betaal julle ook belasting, want hulle is God se openbare dienaars wat hulle taak voortdurend uitvoer. 7 Gee aan almal wat hulle toekom: Betaal belasting aan die een wat belasting vra.+ Betaal skatting* aan die een wat skatting* vra. Betoon respek aan die een wat gerespekteer wil word.+ Gee eer aan die een wat geëer wil word.+
8 Moet niemand enigiets skuld nie, behalwe om mekaar lief te hê,+ want die persoon wat sy medemens liefhet, het die wet vervul.+ 9 Want die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,+ jy mag nie moord pleeg nie,+ jy mag nie steel nie,+ jy mag nie begeer wat aan ander behoort nie”,+ en watter ander gebod daar ook al is, word in hierdie woorde opgesom: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”+ 10 Iemand wat liefhet, doen niks slegs aan sy naaste nie,+ en daarom vervul liefde die wet.+
11 En doen dit omdat julle weet in watter tyd ons lewe. Dit is nou die uur vir julle om wakker te word,+ want ons redding is nou nader as toe ons gelowiges geword het. 12 Die nag is amper verby, en die dag is naby. Laat ons dus ontslae raak van die werke wat aan die duisternis behoort,+ en laat ons die wapens van die lig gebruik.+ 13 Laat ons ons ordentlik gedra,+ soos mense hulle in die dag gedra. Laat ons ’n lewe lei sonder wilde partytjies, dronkenskap, onsedelikheid, skaamtelose gedrag,*+ stryery en jaloesie.+ 14 Volg die Here Jesus Christus na,*+ en moenie vooruitbeplan om die begeertes van die vlees te bevredig nie.+
14 Verwelkom die persoon wat swakhede in sy geloof het,+ maar moenie iemand oordeel as hy ’n ander opinie* het nie. 2 Een persoon het geloof om alles te eet, maar die persoon wat swak is, eet net groente. 3 Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie, en die een wat nie eet nie, moenie die een wat eet, oordeel nie,+ want God het hom verwelkom. 4 Wie is jy om iemand anders se kneg te oordeel?+ Sy eie meester sal oordeel of hy staan of val.+ Maar hy sal beslis staan, want Jehovah* kan hom laat staan.
5 Vir een persoon is die een dag belangriker as die ander,+ terwyl alle dae weer vir iemand anders dieselfde is.+ Laat elkeen heeltemal oortuig wees in sy eie verstand. 6 Die een wat ’n spesifieke dag as belangrik beskou, doen dit vir Jehovah.* En die een wat eet, doen dit vir Jehovah,* want hy dank God,+ en selfs die een wat nie eet nie, doen dit vir Jehovah,* en tog dank hy God ook.+ 7 Om die waarheid te sê, nie een van ons lewe net vir homself nie,+ en niemand sterf net vir homself nie. 8 Want as ons lewe, lewe ons vir Jehovah,*+ en as ons sterf, sterf ons vir Jehovah.* Of ons dan nou lewe of sterf, ons behoort aan Jehovah.*+ 9 Want Christus het gesterf en weer lewend geword om Here oor die dooies sowel as die lewendes te wees.+
10 Maar hoekom oordeel jy jou broer?+ Of hoekom sien jy neer op jou broer? Want ons almal sal voor die regterstoel van God staan.+ 11 Want daar is geskryf: “‘So waar as wat ek lewe,’+ sê Jehovah,* ‘elke knie sal voor my buig, en elke tong sal God openlik erken.’”+ 12 God sal dus elkeen van ons volgens ons dade oordeel.+
13 Laat ons mekaar dus nie langer oordeel nie,+ maar laat ons eerder vasbeslote wees om nie iets in ’n broer se pad te sit wat hom kan laat struikel of laat val nie.+ 14 Ek weet en is daarvan oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie.+ Net as iemand iets as onrein beskou, is dit vir hom onrein. 15 Want as jy jou broer aanstoot gee deur wat jy eet, laat jy jou nie meer deur liefde lei nie.+ Moenie jou broer se geloof vernietig deur wat jy eet nie, want Christus het vir hom gesterf.+ 16 Moet dus nie dat daar sleg gepraat word van die goeie dinge wat julle doen nie. 17 Want die Koninkryk van God gaan nie oor eet en drink nie,+ maar oor regverdigheid en vrede en vreugde met heilige gees. 18 Die een wat Christus op hierdie manier as ’n slaaf dien, het die goedkeuring van God en van mense.
19 Laat ons dan alles moontlik doen om vrede te bevorder+ en mekaar op te bou.+ 20 Hou op om die werk van God net ter wille van kos af te breek.+ Alles is nou wel rein, maar dit is skadelik* vir iemand om iets te eet wat iemand anders kan laat struikel.+ 21 Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie.+ 22 Laat die geloof wat jy het, iets wees wat tussen jou en God is. Gelukkig is die mens wat homself nie veroordeel deur wat hy goedkeur nie. 23 Maar as hy twyfel, is hy reeds veroordeel as hy eet, omdat hy nie uit geloof eet nie. Ja, alles wat nie uit geloof is nie, is sonde.
15 Maar ons wat sterk is, behoort die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie,+ en ons moenie net aan onsself dink nie.+ 2 Laat elkeen van ons doen wat ons kan om ons naaste te bevoordeel sodat ons hom kan opbou.+ 3 Want selfs die Christus het nie sy eie voordeel gesoek nie,+ soos daar geskryf is: “Die beledigings van dié wat u beledig, het op my neergekom.”+ 4 Want alles wat vroeër geskryf is, is geskryf sodat ons daaruit kan leer,+ sodat ons deur ons volharding+ en deur die vertroosting uit die Skrif hoop kan hê.+ 5 Mag die God wat volharding en vertroosting gee, sorg dat julle almal dieselfde denkwyse en gesindheid het as wat Christus Jesus gehad het. 6 Dan sal julle die God en Vader van ons Here Jesus Christus in eenheid+ en met een stem* kan verheerlik.
7 Verwelkom* mekaar dus,+ net soos die Christus ons ook verwelkom het,+ sodat God verheerlik kan word. 8 Want ek sê vir julle dat Christus ’n dienaar geword het van dié wat besny is+ om te bewys dat God betroubaar is en om die beloftes te bevestig wat Hy aan hulle voorvaders gemaak het.+ 9 Dit was ook sodat die nasies God vir sy genade sou verheerlik.+ Net soos daar geskryf is: “Daarom sal ek u openlik onder die nasies prys, en ek sal liedere sing om u naam te loof.”+ 10 En hy sê ook: “Wees bly, o nasies, saam met sy volk.”+ 11 En ook: “Loof Jehovah,* alle nasies, en laat al die volke hom loof.”+ 12 En Jesaja sê ook: “Daar sal die wortel van Isai wees,+ die een wat kom om oor nasies te regeer.+ In hom sal nasies hulle hoop stel.”+ 13 Mag die God wat hoop gee, julle met alle vreugde en vrede vul omdat julle op hom vertrou, sodat julle hoop oorvloedig kan wees met die krag van die heilige gees.+
14 Ek is oortuig, my broers, dat julle ook vol goedheid en kennis is en dat julle mekaar kan raad gee.* 15 Maar oor sommige punte het ek baie reguit aan julle geskryf om julle weer daaraan te herinner. Ek het dit gedoen omdat God onverdiende goedheid aan my betoon het 16 sodat ek ’n openbare dienaar van Christus Jesus vir die nasies kan wees.+ Ek doen die heilige werk van die goeie nuus van God+ sodat hierdie nasies ’n aanvaarbare offer kan wees wat met heilige gees geheilig is.
17 Daarom het ek as ’n volgeling van Christus Jesus rede om bly te wees oor my diens aan God. 18 Want ek sal dit nie waag om oor enigiets te praat behalwe oor wat Christus deur my gedoen het sodat die nasies hom kan gehoorsaam nie. Hy het dit gedoen deur my woorde en my dade, 19 met die krag van tekens en wonderwerke+ en met die krag van God se gees. Dit was sodat ek die goeie nuus oor die Christus deeglik kon verkondig+ van Jerusalem af en in ’n kring tot by Illiʹrikum. 20 Op hierdie manier het ek dit my doel gemaak om nie die goeie nuus bekend te maak waar die naam van Christus reeds bekend gemaak is nie, sodat ek nie op iemand anders se fondament bou nie. 21 Want daar is geskryf: “Dié aan wie niks oor hom verkondig is nie, sal sien, en dié wat nie gehoor het nie, sal verstaan.”+
22 Dit is ook hoekom ek dit nie reggekry het om na julle toe te kom nie, al wou ek dit baie keer doen. 23 Maar nou het ek oral in hierdie streke gepreek, en ek wil al baie jare lank* na julle toe kom. 24 Daarom hoop ek om julle te sien wanneer ek na Spanje reis. Ek sal graag julle geselskap ’n ruk lank wil geniet, en ek hoop dat julle daarna ’n ent saam met my sal gaan. 25 Maar nou staan ek op die punt om na Jerusalem te reis om die heiliges te gaan help.+ 26 Want dié in Masedoʹnië en Agaʹje was gretig om hulle goed te deel deur ’n bydrae aan die armes onder die heiliges in Jerusalem te gee.+ 27 Hulle het dit uit die hart gedoen, maar eintlik was hulle by die heiliges in die skuld. Want die heiliges het die dinge wat hulle van God ontvang het, met die nasies gedeel, en daarom is dit ook net reg dat die nasies hulle nou met hulle materiële dinge help.+ 28 Wanneer ek dan hiermee klaar is en hierdie bydrae* veilig by hulle afgelewer het, sal ek eers na julle toe kom voordat ek Spanje toe gaan. 29 En ek weet dat wanneer ek na julle toe kom, ek met die ryke seën van Christus sal kom.
30 Ek spoor julle dan nou aan, broers, deur ons Here Jesus Christus en deur die liefde van die gees, om saam met my intens tot God te bid vir my.+ 31 Bid dat ek van die ongelowiges in Judeʹa gered sal word+ en dat die heiliges in Jerusalem my hulp gretig sal aanvaar.+ 32 Dan kan ek deur God se wil met vreugde na julle toe kom en saam met julle opgebou word. 33 Mag die God wat vrede gee, met julle almal wees.+ Amen.
16 Ek stel ons suster Feʹbe aan julle voor. Sy is ’n dienares van die gemeente in Kenchreʹë.+ 2 Verwelkom haar in die Here op ’n manier wat die heiliges waardig is, en help haar met enigiets wat sy nodig het,+ want sy het baie broers en susters bygestaan, en ook vir my.
3 Stuur groete vir Prisca en Aʹquila,+ my medewerkers in Christus Jesus. 4 Hulle het hulle lewens* vir my gewaag,+ en ek sowel as al die gemeentes van die nasies bedank hulle. 5 En groet die gemeente wat in hulle huis is.+ Groet my geliefde Epeʹnetus, wat een van Christus se eerste dissipels* in Asië is. 6 Groet Maria, wat hard vir julle gewerk het. 7 Groet Androniʹkus en Juʹnias, my familielede+ en medegevangenes. Hierdie manne is al langer as ek volgelinge van Christus, en die apostels ken hulle goed.
8 Stuur groete vir Ampliaʹtus, my geliefde in die Here. 9 Groet Urbaʹnus, ons medewerker in Christus, en my geliefde Stagis. 10 Groet Apelʹles, die een wat Christus se goedkeuring het. Groet dié uit die huis van Aristobuʹlus. 11 Groet Heroʹdion, my familielid. Groet dié uit die huis van Narsisʹsus wat in die Here is. 12 Groet Trifeʹna en Trifoʹsa, vrouens wat hard werk in die Here. Groet Perʹsis, ons geliefde, want sy het hard gewerk in die Here. 13 Groet Rufus, die een wat deur die Here gekies is, en sy ma en myne. 14 Groet Asinʹkritus, Flegon, Hermes, Paʹtrobas, Hermas en die broers by hulle. 15 Groet Filoʹlogus en Julia, Neʹreus en sy suster, en Olimʹpas en al die heiliges by hulle. 16 Groet mekaar met ’n heilige soen. Al die gemeentes van die Christus groet julle.
17 Broers, ek spoor julle dan nou aan om op te pas vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en ander laat struikel deur teen die dinge te gaan wat julle geleer het, en vermy hulle.+ 18 Want sulke mense is nie slawe van ons Here Christus nie, maar van hulle eie begeertes,* en hulle verlei die harte van onskuldiges met mooipraatjies en vleitaal. 19 Almal het gesien dat julle gehoorsaam is, en daarom is ek bly oor julle. Maar ek wil hê dat julle wys moet wees wanneer dit by goeie dinge kom, maar onskuldig moet wees wanneer dit by slegte dinge kom.+ 20 Die God wat vrede gee, sal Satan binnekort onder julle voete vergruis.+ Mag die onverdiende goedheid van ons Here Jesus met julle wees.
21 Timoʹteus, my medewerker, groet julle, en so ook Luʹcius, Jason en Sosiʹpater, my familielede.+
22 Ek, Terʹtius, wat hierdie brief geskryf het, groet julle in die Here.
23 Gajus,+ wat my gasheer en dié van die hele gemeente is, groet julle. Erasʹtus, die skatmeester,* groet julle, en so ook Quartus, sy broer. 24 *——
25 God kan julle standvastig maak volgens die goeie nuus wat ek bekend maak en volgens die boodskap oor Jesus Christus. Hierdie goeie nuus hou verband met die heilige geheim+ wat God geopenbaar het. Dit was vir ’n lang tyd geheim gehou, 26 maar nou is dit geopenbaar. Dit is deur middel van die profetiese Geskrifte onder al die nasies bekend gemaak volgens die bevel van die ewige God, sodat mense deur geloof gehoorsaam kan wees. 27 Mag God, wat alleen wys is,+ tot in ewigheid verheerlik word as gevolg van wat Jesus Christus gedoen het. Amen.
Lett. “saad”.
Lett. “ons”.
Lett. “my gees”.
Of “nie-Grieke”. Lett. “Barbare”.
Lett. “onverderflike”.
Lett. “verderflike”.
Of “kruipende diere”.
Of “aanbidding verrig”.
Of “hebsug”.
Of “afguns”.
Of “is fluisteraars”.
Of “is kwaadsprekers”.
Lett. “onverderflikheid”.
Of “mondeling geleer”.
Lett. “vlees”.
Of “Die oordeel . . . is in ooreenstemming met geregtigheid”.
Lett. “om bloed te vergiet”.
Of “die glorieryke eienskappe”.
Of “verdraagsaam”.
Lett. “voorvader na die vlees”.
Sien Aanh. A5.
Of “iets wat aan hom verskuldig is”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “seël”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Of moontlik “Ons geniet dan nou vrede”.
Of moontlik “en ons is bly”.
Of moontlik “ons is bly”.
Of “heerlikheid”.
Of “vrygemaak”.
Of “Ek praat in menslike terme”.
’n Hebreeuse of Aramese woord wat “o Vader!” beteken.
Verwys veral na mense.
Of “die eerstelinge”. Sien Woordelys.
Lett. “my familielede na die vlees”.
Of “na die vlees gebore is”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Sien Woordelys.
Sien Woordelys.
Lett. “van die een wat begeer of van die een wat hardloop nie”.
Lett. “houer”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Lett. “saad”.
Of “vryelik”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Lett. “in wat by ons gehoor is”.
Lett. “saad”.
Sien Aanh. A5.
Of “my siel”.
Of “verheerlik ek”.
Lett. “my vlees”.
Of “redder”.
Of “oordele”.
Sien Aanh. A5.
Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.
Of “’n gesonde verstand het”.
Of “gawes”.
Of “vermaan”.
Of “vermaan”.
Of “bydra”.
Of “in alle erns”.
Of “inisiatief”.
Of “ywerig”.
Sien Aanh. A5.
Of “hoë dinge bedink”.
Sien Aanh. A5.
D.w.s. om iemand se hart sag te maak en sy hardheid te laat wegsmelt.
Of “elke siel”.
Sien Woordelys.
Sien Woordelys.
Of “dade van skaamtelose gedrag”. Meervoud van die Griekse woord a·selʹgei·a. Sien Woordelys.
Lett. “Beklee julle met die Here Jesus Christus”.
Of moontlik “innerlike twyfelvrae”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Of “verkeerd”.
Lett. “mond”.
Of “Aanvaar”.
Sien Aanh. A5.
Of “onderrig”.
Of moontlik “’n paar jaar lank”.
Lett. “vrug”.
Lett. “nekke”.
Of “se eerstelinge”.
Of “mae”.
Of “stadsbestuurder”.
Sien Aanh. A3.