Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Handelinge 1:1-28:31
  • Handelinge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Handelinge
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Handelinge

DIE HANDELINGE VAN DIE APOSTELS

1 O Teoʹfilus, ek het die eerste verslag geskryf oor alles wat Jesus gedoen het en aan ander geleer het+ 2 tot op die dag dat hy in die hemel opgeneem is,+ nadat hy deur heilige gees instruksies gegee het aan die apostels wat hy gekies het.+ 3 Nadat hy gely het, het hy baie kere aan hulle verskyn op maniere wat bewys het dat hy regtig lewe.+ Hulle het hom oor ’n tydperk van 40 dae gesien, en hy het oor die Koninkryk van God gepraat.+ 4 Terwyl hy saam met hulle vergader het, het hy hulle beveel: “Moenie Jerusalem verlaat nie,+ maar hou aan om te wag vir die dinge wat die Vader belowe het,+ waarvan julle by my gehoor het, 5 want Johannes het met water gedoop, maar oor net ’n paar dae sal julle met heilige gees gedoop word.”+

6 Toe hulle bymekaargekom het, het hulle vir hom gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?”+ 7 Hy het vir hulle gesê: “Die Vader het tye en tydperke volgens sy wil vasgestel,* en dit is nie vir julle om daarvan te weet nie.+ 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom,+ en julle sal getuies+ van my wees in Jerusalem,+ in die hele Judeʹa en Samariʹa+ en tot in die mees afgeleë deel* van die aarde.”+ 9 Nadat hy hierdie dinge gesê het, is hy voor hulle oë van die aarde af opgelig, en ’n wolk het hom bedek, en hulle kon hom nie meer sien nie.+ 10 En terwyl hulle gekyk het hoe hy in die lug opvaar, het daar skielik twee mans in wit klere+ langs hulle gestaan 11 en vir hulle gesê: “Manne van Galileʹa, hoekom staan en kyk julle in die lug in? Hierdie Jesus wat van julle af in die lug opgeneem is, sal op dieselfde manier kom as wat julle hom na die hemel sien gaan het.”

12 Toe het hulle van die Olyfberg af na Jerusalem teruggegaan.+ Hierdie berg is naby Jerusalem, omtrent ’n kilometer* daarvandaan. 13 Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bo-kamer waar hulle gebly het. Petrus was daar, sowel as Johannes en Jakobus en Andreʹas, Filippus en Tomas, Bartolomeʹus en Matteʹus, Jakobus, die seun van Alfeʹus, Simon die ywerige en Judas, die seun van Jakobus.+ 14 Hulle almal het met een doel aanhou bid. Hulle het saam met ’n aantal vrouens,+ Jesus se ma, Maria, en sy broers+ gebid.

15 Gedurende daardie dae, toe daar omtrent 120 mense bymekaar was, het Petrus opgestaan en gesê: 16 “Manne, broers, die heilige gees het deur Dawid ’n profesie uitgespreek oor Judas,+ wat diegene wat Jesus gearresteer het, na hom toe gelei het.+ Daardie Skrifgedeelte moes vervul word. 17 Want hy was een van ons+ en is gekies om aan hierdie bediening deel te neem. 18 (Hierdie selfde man het ’n stuk grond gekoop met die geld wat hy vir sy onregverdigheid gekry het.+ Hy het kop eerste geval, sy liggaam het oopgebars* en al sy binnegoed het uitgekom.+ 19 Al die inwoners van Jerusalem het hiervan gehoor, en daarom is die stuk grond in hulle taal Akeldaʹma genoem, wat “bloedgrond” beteken.) 20 Want daar is in die boek van die Psalms geskryf: ‘Laat sy woonplek verlate word, en laat daar geen inwoner daarin wees nie’,+ en: ‘Laat iemand anders sy opsienersamp neem.’+ 21 Dit is dus nodig dat ons een van die manne kies wat saam met ons was gedurende die hele tyd dat die Here Jesus by ons was,* 22 vandat hy deur Johannes+ gedoop is tot op die dag dat hy van ons af na die hemel opgeneem is.+ Hy moet ook saam met ons ’n getuie van Jesus se opstanding wees.”+

23 Toe het hulle twee voorgestel: Josef, wat Barʹsabbas en ook Justus genoem is, en Mattiʹas. 24 Toe het hulle gebid en gesê: “U, o Jehovah,* wat die harte van almal ken,+ wys watter een van hierdie twee manne u gekies het 25 om die plek van hierdie bediening en apostelskap in te neem, wat Judas verlaat het om na sy eie plek te gaan.”+ 26 Toe het hulle die lot oor hulle gewerp,+ en die lot het op Mattiʹas geval, en hy is by die 11 apostels gevoeg.*

2 En op die dag van die Pinksterfees+ was hulle almal op dieselfde plek bymekaar. 2 Skielik het daar ’n geluid uit die hemel gekom wat soos ’n sterk wind geklink het, en dit kon in die hele huis gehoor word.+ 3 Toe sien hulle iets wat soos klein vuurvlamme gelyk het.* Dit het verdeel, en een het op elkeen van hulle neergedaal, 4 en hulle is almal met heilige gees gevul+ en het in verskillende tale begin praat, net soos die gees hulle in staat gestel het om te doen.+

5 Gedurende daardie tyd het godvresende Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gebly.+ 6 En toe hierdie geluid gehoor word, het ’n skare bymekaargekom. Hulle was verskrik, want elkeen het sy eie taal gehoor terwyl die dissipels gepraat het. 7 Ja, hulle was verstom en het gesê: “Kyk, almal wat daar praat, is Galileërs,+ nie waar nie? 8 Hoe is dit dan dat ons almal ons moedertaal hoor? 9 Parters, Mede+ en Elamiete,+ die inwoners van Mesopotaʹmië, Judeʹa, Kappadoʹsië, Pontus, die provinsie Asië,+ 10 Friʹgië, Pamfiʹlië, Egipte en die gebiede van Libië naby Sireʹne, besoekers uit Rome, Jode sowel as proseliete,+ 11 Kretensers en Arabiere – ons hoor hoe hulle in ons tale oor die wonderlike dinge van God praat.” 12 Ja, hulle was almal verbaas en dronkgeslaan, en hulle het vir mekaar gevra: “Wat beteken dit?” 13 Maar ander het hulle gespot en gesê: “Hulle is vol soet wyn.”*

14 Maar Petrus het saam met die Elf+ opgestaan en met ’n harde stem vir hulle gesê: “Manne van Judeʹa en julle almal wat in Jerusalem woon, skenk aandag en luister mooi na my woorde. 15 Hierdie mense is eintlik nie dronk, soos julle dink nie, want dit is nou eers die derde uur van die dag.* 16 Nee, wat hier gebeur, is wat deur middel van die profeet Joël gesê is: 17 ‘“En in die laaste dae,” sê God, “sal ek van my gees op alle soorte mense* uitstort, en julle seuns en julle dogters sal profeteer en julle jong manne sal visioene sien en julle ou manne sal drome droom,+ 18 en in daardie dae sal ek van my gees selfs op my slawe en op my slavinne uitstort, en hulle sal profeteer.+ 19 En ek sal tekens bo in die hemel en wonderwerke onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. 20 Die son sal in duisternis verander word en die maan in bloed voordat die groot en glorieryke dag van Jehovah* kom. 21 En elkeen wat die naam van Jehovah* aanroep, sal gered word.”’+

22 “Manne van Israel, hoor hierdie woorde: God het julle duidelik laat sien dat Jesus die Nasarener deur hom gestuur is. Soos julle weet, het God deur middel van hom kragtige werke, wonderwerke en tekens onder julle gedoen.+ 23 Hierdie man is volgens die wil en voorkennis van God oorgelewer,+ en julle het hom deur wettelose mense aan ’n paal laat hang, en julle het hom doodgemaak.+ 24 Maar God het hom uit die dood* bevry deur hom op te wek,+ want dit was onmoontlik vir die dood om hom vas te hou.+ 25 Want Dawid sê van hom: ‘Ek hou Jehovah* heeltyd voor my. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek altyd standvastig wees. 26 Daarom het my hart bly geword, en my tong het met groot vreugde gepraat. En ek* sal bly hoop, 27 want u sal my* nie in die Graf* los nie, en u sal ook nie toelaat dat u lojale kneg ontbind nie.+ 28 U het die pad van die lewe aan my bekend gemaak. U sal my groot vreugde gee in u teenwoordigheid.’+

29 “Manne, broers, laat my toe om reguit met julle te praat oor die familiehoof Dawid. Hy het gesterf en is begrawe,+ en sy graf is tot vandag toe by ons. 30 Hy was ’n profeet en het geweet dat God hom met ’n eed belowe het dat Hy een van sy nakomelinge op sy troon sou laat sit,+ en daarom 31 het hy die opstanding van die Christus vooraf gesien en daaroor gepraat. Hy het gesê dat Christus nie in die Graf* agtergelaat sou word nie en dat sy liggaam* ook nie sou ontbind nie.+ 32 God het hierdie Jesus opgewek, en ons almal is getuies hiervan.+ 33 Omdat hy tot die regterhand van God verhoog is+ en die beloofde heilige gees van die Vader ontvang het,+ het hy dit uitgestort, net soos julle sien en hoor. 34 Dawid het nie na die hemel opgevaar nie, maar hy sê self: ‘Jehovah* het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand 35 totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak.”’+ 36 Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God hierdie Jesus, wat julle aan ’n paal gehang het,+ as Here en as Christus aangestel het.”+

37 En toe hulle dit hoor, is hulle harte diep geraak, en hulle het vir Petrus en die res van die apostels gevra: “Manne, broers, wat moet ons doen?” 38 Petrus het vir hulle gesê: “Toon berou,+ en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word+ sodat julle sondes vergewe kan word.+ Dan sal julle die heilige gees as ’n vrye gawe ontvang. 39 Want die belofte+ geld vir julle en julle kinders en almal wat ver weg is, almal wat Jehovah* ons God na hom toe sal roep.”+ 40 En hy het nog baie ander dinge gesê waarmee hy ’n deeglike getuienis gegee het, en hy het hulle bly aanspoor en gesê: “Sorg dat julle uit hierdie sondige geslag gered word.”+ 41 Dié wat sy woorde met blydskap aanvaar het, is dus gedoop,+ en op daardie dag is omtrent 3 000 mense* bygevoeg.+ 42 En hulle het aangehou om aandag te skenk aan wat die apostels geleer het, sowel as om met mekaar te assosieer,* saam te eet+ en te bid.+

43 Ja, almal* is met ontsag vervul, en die apostels het baie wonderwerke en tekens begin doen.+ 44 Almal wat gelowiges geword het, was bymekaar en het alles gedeel wat hulle gehad het, 45 en hulle het hulle besittings en eiendomme verkoop+ en die geld onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.+ 46 En hulle het dag ná dag saam in die tempel bymekaargekom, en hulle het in verskillende huise geëet en hulle kos met groot vreugde en opregte harte gedeel 47 terwyl hulle God geloof het en geliefd geword het by die hele volk. Intussen het Jehovah* voortgegaan om elke dag mense by hulle te voeg wat gered gaan word.+

3 En Petrus en Johannes het na die tempel gegaan vir die uur van gebed, die negende uur,* 2 en mense het ’n sekere man wat van geboorte af verlam was, daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit naby die tempeldeur wat Mooi genoem is, sodat hy kon bedel* by die mense wat by die tempel ingaan. 3 Toe hy Petrus en Johannes sien, wat op die punt was om by die tempel in te gaan, het hy by hulle begin bedel.* 4 Maar Petrus en Johannes het reguit na hom gekyk, en Petrus het gesê: “Kyk na ons.” 5 En hy het dit gedoen, want hy het gehoop dat hy iets by hulle sou kry. 6 Maar Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou. In die naam van Jesus Christus die Nasarener, loop!”+ 7 Toe het Petrus sy regterhand gevat en hom opgehelp.+ Onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword,+ 8 en hy het opgespring en regop gestaan+ en begin loop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring het en God geloof het. 9 En al die mense het gesien hoe hy loop en God loof. 10 En hulle het hom begin herken as die man wat gewoonlik by die tempel se Mooipoort gesit en bedel* het,+ en hulle was verstom en kon nie glo wat met hom gebeur het nie.

11 Terwyl die man nog aan Petrus en Johannes vasgehou het, het al die mense ingestroom by die plek wat die Pilaargang van Salomo genoem is.+ Almal was baie verbaas. 12 Toe Petrus dit sien, het hy vir die mense gesê: “Manne van Israel, hoekom is julle so verbaas hieroor, en hoekom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of toegewydheid aan God laat loop het? 13 Die God van Abraham, Isak en Jakob,+ die God van ons voorvaders, het sy Kneg,+ Jesus,+ verheerlik, wat deur julle oorgelewer+ en verwerp is terwyl hy voor Pilatus gestaan het, al het Pilatus besluit om hom vry te laat. 14 Ja, julle het daardie heilige en regverdige man verwerp, en julle het gevra dat ’n man wat ’n moordenaar is, aan julle gegee word,+ 15 terwyl julle die een wat mense na die lewe lei,*+ doodgemaak het. Maar God het hom uit die dood opgewek, ’n feit waarvan ons getuies is.+ 16 En deur sy naam en deur ons geloof in sy naam is hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat ons deur Jesus het, het hierdie man voor julle almal heeltemal gesond gemaak. 17 En broers, ek weet dat julle, net soos julle leiers,+ nie geweet het wat julle doen nie.+ 18 Maar op hierdie manier het God die dinge vervul wat hy vooraf deur middel van al die profete aangekondig het, dat sy Christus sou ly.+

19 “Toon dus berou+ en draai om+ sodat julle sondes uitgewis kan word.+ Dan sal Jehovah* self tye van verfrissing bring 20 en sal hy die Christus stuur wat vir julle aangestel is, naamlik Jesus. 21 Hy moet in die hemel bly tot die tyd wanneer alle dinge herstel word, waarvan God deur middel van sy heilige profete van die ou tyd gepraat het. 22 Want Moses het gesê: ‘Jehovah* julle God sal vir julle uit julle broers ’n profeet soos ek laat kom.+ Julle moet luister na alles wat hy vir julle sê.+ 23 Ja, enigiemand* wat nie na daardie Profeet luister nie, sal heeltemal onder die volk uit vernietig word.’+ 24 En al die profete van Samuel af het ook duidelik oor hierdie dae gepraat.+ 25 Julle is die kinders van die profete en van die verbond wat God met julle voorvaders gemaak het+ toe hy vir Abraham gesê het: ‘En deur middel van jou nageslag* sal al die families van die aarde geseën word.’+ 26 Nadat God sy Kneg aangestel het, het hy hom eers na julle toe gestuur+ om julle te seën deur elkeen van julle te help om op te hou met julle goddelose dade.”

4 Terwyl Petrus en Johannes met die volk gepraat het, het die priesters, die hoofman van die tempel en die Sadduseërs+ na hulle toe gekom. 2 Hulle was geïrriteerd omdat die apostels die volk geleer het en openlik verkondig het dat Jesus uit die dood opgewek is.+ 3 Hulle het die twee dus gearresteer en hulle tot die volgende dag gevange gehou,+ want dit was al aand. 4 Maar baie van dié wat na die toespraak geluister het, het gelowiges geword, en die getal manne het tot omtrent 5 000 gegroei.+

5 Die volgende dag het hulle leiers, ouermanne en skrifgeleerdes in Jerusalem vergader, 6 saam met die hoofpriester Annas,+ sowel as Kaʹjafas,+ Johannes, Aleksander en almal wat familie van die hoofpriester was. 7 Hulle het Petrus en Johannes in die middel laat staan en hulle begin ondervra: “Deur watter krag of in wie se naam het julle dit gedoen?” 8 Toe het Petrus, vol heilige gees,+ vir hulle gesê:

“Leiers van die volk en ouermanne, 9 as ons vandag ondervra word oor ’n goeie daad aan ’n kreupel man+ en julle wil weet wie hierdie man gesond gemaak het, 10 laat dit dan aan julle almal en aan die hele volk Israel bekend wees dat hierdie man hier gesond voor julle staan in die naam van Jesus Christus die Nasarener,+ wat julle aan ’n paal gehang het+ maar wat God uit die dood opgewek het.+ 11 Hy is ‘die steen wat deur julle, die bouers, as onbelangrik beskou is, maar wat die belangrikste hoeksteen* geword het’.+ 12 En daar is geen redding in enigiemand anders nie, want daar is geen ander naam+ onder die hemel wat aan mense gegee is waardeur ons gered moet word nie.”+

13 Toe hulle sien hoe uitgesproke* Petrus en Johannes is en dat hulle ongeleerde* en gewone mense is,+ was hulle verbaas. En hulle het besef dat hierdie manne voorheen saam met Jesus was.+ 14 Omdat hulle die man wat genees is, by die twee sien staan het,+ kon hulle niks in antwoord daarop sê nie.+ 15 Toe het hulle hulle beveel om uit die Sanheʹdrinsaal uit te gaan, en hulle het die saak met mekaar begin bespreek 16 en gesê: “Wat moet ons met hierdie mense doen?+ Want dit is duidelik dat hulle ’n wonderwerk* gedoen het, ’n wonderwerk* waarvan al die inwoners van Jerusalem weet,+ en ons kan dit nie ontken nie. 17 Kom ons dreig hulle en sê vir hulle om nie meer met enigiemand in die naam van hierdie man te praat nie, sodat dit nie verder onder die volk versprei nie.”+

18 Toe het hulle hulle geroep en hulle beveel om niks in die naam van Jesus te sê of te leer nie. 19 Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Oordeel self of dit in God se oë reg is om na julle te luister eerder as na God. 20 Maar ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.”+ 21 Nadat hulle die manne verder gedreig het, het hulle hulle vrygelaat, omdat hulle geen rede gevind het om hulle te straf nie. Hulle was ook bang vir die volk,+ want hulle almal het God geloof oor wat gebeur het. 22 Want die man wat deur middel van hierdie wonderwerk* genees is, was ouer as 40 jaar.

23 Nadat die twee vrygelaat is, het hulle na hulle eie mense toe gegaan en vir hulle vertel wat die hoofpriesters en die ouermanne vir hulle gesê het. 24 Toe hulle dit hoor, het hulle saam tot God gebid en gesê:

“Soewereine Heer, u is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het,+ 25 en wat deur middel van heilige gees deur die mond van ons voorvader Dawid,+ u kneg, gesê het: ‘Hoekom het nasies onrustig geword en volke aan nuttelose dinge gedink? 26 Die konings van die aarde het stelling ingeneem, en die leiers het soos een man saamgespan teen Jehovah* en teen sy gesalfde.’*+ 27 Want Herodes sowel as Pontius Pilatus+ het saam met die mense van die nasies en die volke van Israel in hierdie stad bymekaargekom teen u heilige kneg Jesus, wat u gesalf het,+ 28 om te doen wat u voor die tyd met u mag en wil* besluit het sal gebeur.+ 29 En nou, Jehovah,* skenk aandag aan hulle dreigemente, en help u slawe om u woord moedig te verkondig, 30 terwyl u u hand uitsteek om siektes te genees en terwyl tekens en wonderwerke deur die naam van u heilige kneg Jesus+ plaasvind.”+

31 En nadat hulle ’n smeekgebed gedoen het, is die plek waar hulle bymekaargekom het, geskud, en hulle is almal met die heilige gees gevul+ en het die woord van God moedig verkondig.+

32 En die groot groep wat gelowiges geword het, was een van hart en siel,* en nie eers een van hulle het gesê dat enige van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles gedeel.+ 33 En die apostels het op ’n kragtige manier bly getuig oor die opstanding van die Here Jesus,+ en God het sy onverdiende goedheid ryklik aan hulle almal getoon. 34 Nie een van hulle het swaargekry nie,+ want almal wat landerye of huise besit het, het dit verkoop en die geld gebring 35 en dit by die apostels se voete neergesit.+ Dan is dit uitgedeel aan elkeen volgens wat hy nodig gehad het.+ 36 En Josef, wat ook deur die apostels Barʹnabas+ genoem is (wat “seun van vertroosting” beteken), ’n Leviet wat in Siprus gebore is, 37 het ’n stuk grond besit, en hy het dit verkoop en die geld gebring en dit by die apostels se voete neergesit.+

5 ’n Man met die naam Ananiʹas het saam met sy vrou Saffiʹra ’n eiendom verkoop. 2 Maar hy het in die geheim van die geld teruggehou terwyl sy vrou daarvan geweet het, en hy het net ’n gedeelte gebring en dit by die apostels se voete neergesit.+ 3 Toe het Petrus gesê: “Ananiʹas, hoekom het Satan jou gekry om vir die heilige gees+ te lieg+ en in die geheim van die geld terug te hou wat jy vir die grond gekry het? 4 Was dit nie jou eiendom toe dit nog aan jou behoort het nie? En toe dit verkoop is, kon jy nie met die geld doen wat jy wou nie? Hoekom het jy in jou hart gedink om so iets te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” 5 Toe Ananiʹas hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterf. En almal wat daarvan gehoor het, het baie bang geword. 6 Toe het die jonger mans opgestaan, hom in doeke toegedraai, hom uitgedra en hom begrawe.

7 Ná omtrent drie uur het sy vrou ingekom, maar sy het nie geweet wat gebeur het nie. 8 Petrus het vir haar gevra: “Sê vir my, het julle twee die grond vir soveel verkoop?” Sy het gesê: “Ja, vir soveel.” 9 Toe het Petrus vir haar gesê: “Hoekom het julle afgespreek om die gees van Jehovah* te toets? Kyk! Die voete van dié wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.” 10 Sy het onmiddellik voor sy voete neergeval en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle gesien dat sy dood is, en hulle het haar uitgedra en haar langs haar man begrawe. 11 Toe het die hele gemeente en almal wat hiervan gehoor het, baie bang geword.

12 En die apostels het aangehou om baie tekens en wonderwerke onder die volk te doen,+ en hulle almal het in die Pilaargang van Salomo+ bymekaargekom. 13 Nie een van die ander het die moed gehad om by hulle aan te sluit nie, maar die volk het goeie dinge oor hulle gesê. 14 En nog baie meer mans en vrouens het in die Here geglo en dissipels geword.+ 15 Hulle het selfs die siekes na die hoofstrate toe gebring en hulle daar op bedjies en slaapmatte neergelê, sodat Petrus se skaduwee ten minste op van hulle sou val wanneer hy verbygaan.+ 16 Groepe mense uit die stede rondom Jerusalem het ook bly kom en het siek mense gebring, sowel as dié wat deur onrein geeste lastig geval is, en hulle is almal genees.

17 Maar die hoëpriester en almal van die sekte van die Sadduseërs wat saam met hom was, het opgestaan en was baie jaloers. 18 En hulle het die apostels gearresteer en hulle in die openbare tronk gesit.+ 19 Maar gedurende die nag het Jehovah* se engel die deure van die tronk oopgemaak,+ hulle uitgebring en gesê: 20 “Gaan na die tempel en hou aan om die hele boodskap omtrent hierdie lewe aan die volk te verkondig.” 21 Nadat hulle dit gehoor het, het hulle met dagbreek in die tempel ingegaan en die mense begin leer.

En toe die hoëpriester en dié wat saam met hom was, daar aankom, het hulle die Sanheʹdrin en al die ouermanne van die Israeliete bymekaargeroep, en hulle het beamptes gestuur om die apostels uit die tronk te gaan haal. 22 Maar toe die beamptes daar aankom, het hulle gesien dat die apostels nie in die tronk is nie. Toe het hulle teruggegaan 23 en gesê: “Die tronk was behoorlik toegesluit, en die wagte het by die deure gestaan, maar toe ons dit oopmaak, was daar niemand daar binne nie.” 24 Wel, toe die hoofman van die tempel en die hoofpriesters dit hoor, was hulle verward en het hulle gewonder wat volgende sou gebeur. 25 Maar iemand het vir hulle kom sê: “Kyk! Die mans wat julle in die tronk gesit het, is in die tempel, en hulle staan en leer die mense.” 26 Toe het die hoofman met sy beamptes gegaan en hulle ingebring, maar sonder geweld, want hulle was bang dat die volk hulle met klippe sou doodgooi.+

27 Toe het hulle die apostels gebring en hulle voor die Sanheʹdrin laat staan. Daarna het die hoëpriester hulle ondervra 28 en gesê: “Ons het julle uitdruklik beveel om op te hou om die mense in hierdie naam te leer,+ maar kyk! julle het julle leringe deur die hele Jerusalem versprei, en julle is vasbeslote om die bloed van hierdie man oor ons te bring.”+ 29 Petrus en die ander apostels het geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.+ 30 Die God van ons voorvaders het Jesus, wat julle doodgemaak het deur hom aan ’n paal* te hang,+ uit die dood opgewek. 31 God het hom as die Leier*+ en Redder+ tot aan Sy regterhand verhoog,+ sodat Israel berou kan toon en hulle sondes vergewe kan word.+ 32 En ons is getuies van hierdie dinge,+ en so ook die heilige gees,+ wat God aan dié gegee het wat hom as heerser gehoorsaam.”

33 Toe hulle dit hoor, was hulle woedend* en wou hulle die apostels doodmaak. 34 Maar ’n Fariseër met die naam Gamaʹliël+ het in die Sanheʹdrin opgestaan. Hy was ’n leermeester van die Wet en is deur die hele volk gerespekteer, en hy het beveel dat die mans vir ’n rukkie na buite geneem moet word. 35 Toe het hy vir hulle gesê: “Manne van Israel, dink mooi na oor wat julle met hierdie mans gaan doen. 36 Byvoorbeeld, voor hierdie dae het Teudas gekom en gesê dat hy belangrik is, en ’n aantal manne, omtrent 400, het by hom aangesluit. Maar hy is doodgemaak, en almal wat hom gevolg het, is verstrooi en het niks bereik nie. 37 Ná hom het Judas die Galileër in die tyd van die registrasie gekom, en hy het mense gekry om hom te volg. Daardie man is ook dood, en almal wat hom gevolg het, is verstrooi. 38 Onder hierdie omstandighede sê ek dus vir julle: Los hierdie manne uit, en laat hulle gaan, want as hierdie plan of hierdie werk van mense kom, sal dit misluk, 39 maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie.+ Anders veg julle dalk eintlik teen God self.”+ 40 Toe het hulle sy raad gevolg. Hulle het die apostels laat roep, hulle geslaan+ en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te praat, en hulle het hulle laat gaan.

41 Hulle het toe van die Sanheʹdrin af weggegaan en was bly+ omdat hulle waardig bevind is om ter wille van sy naam verneder te word. 42 En hulle het elke dag sonder ophou voortgegaan om mense in die tempel en van huis tot huis+ te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak.+

6 En in daardie dae, toe die dissipels vermeerder het, het die Griekssprekende Jode begin kla teen die Hebreeussprekende Jode omdat hulle weduwees nie van die kos ontvang het wat elke dag uitgedeel is nie.+ 2 Toe het die Twaalf die groep dissipels bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie reg dat ons ophou om die woord van God aan ander te leer sodat ons kos aan tafels kan uitdeel nie.+ 3 Broers, daarom moet julle sewe manne onder julle kies wat ’n goeie reputasie het,+ vol gees en wysheid,+ sodat ons hulle oor hierdie nodige saak kan aanstel,+ 4 maar ons sal ons tyd en energie gebruik om te bid en om die woord aan ander te leer.” 5 Wat hulle gesê het, het goed geklink vir die hele groep, en hulle het Stefaʹnus gekies, ’n man vol geloof en heilige gees, sowel as Filippus,+ Proʹgorus, Nikaʹnor, Timon, Parʹmenas en Nikolaʹus, ’n proseliet van Antioʹgië. 6 Hulle het hulle na die apostels toe gebring, en nadat hulle gebid het, het die apostels hulle hande op hulle gelê.+

7 So het die woord van God aanhou versprei,+ en die aantal dissipels in Jerusalem het grootliks toegeneem,+ en ’n groot groep priesters het gelowiges geword.+

8 En Stefaʹnus, wat God se goedkeuring en krag gehad het, het groot wonderwerke en tekens onder die volk gedoen. 9 Maar party lede van die sogenaamde Sinagoge van die Vrygelatenes, asook party van die Sireneʹërs en Aleksandryne en van dié wat uit Siliʹsië en Asië was, het na Stefaʹnus toe gekom om met hom te redeneer. 10 Maar hulle kon niks teen hom sê nie, want hy het met wysheid en gees gepraat.+ 11 Toe het hulle in die geheim manne oorreed om te sê: “Ons het gehoor hoe hy Moses en God beledig.”* 12 Toe het hulle die volk, die ouermanne en die skrifgeleerdes opgesteek, en hulle het skielik op hom afgestorm, hom met geweld gegryp en hom na die Sanheʹdrin gelei. 13 En hulle het valse getuies gebring, wat gesê het: “Hierdie man hou nie op om dinge teen hierdie heilige plek en teen die Wet te sê nie. 14 Ons het hom byvoorbeeld hoor sê dat hierdie Jesus die Nasarener hierdie plek sal afbreek en die tradisies sal verander wat Moses aan ons gegee het.”

15 Almal wat in die Sanheʹdrin gesit het, het na hom gestaar en gesien dat sy gesig soos die gesig van ’n engel is.

7 Maar die hoëpriester het gevra: “Is hierdie dinge so?” 2 Stefaʹnus het geantwoord: “Manne, broers en vaders, luister. Die glorieryke God het aan ons voorvader Abraham verskyn terwyl hy in Mesopotaʹmië was, voordat hy in Haran+ gaan woon het, 3 en hy het vir hom gesê: ‘Trek weg uit jou land en van jou familielede en gaan na die land wat ek jou sal wys.’+ 4 Toe het hy uit die land van die Galdeërs weggetrek en in Haran gaan woon. Nadat sy pa gesterf het,+ het God hom daarvandaan laat trek, en hy het kom woon in hierdie land waarin julle nou woon.+ 5 En tog het God hom nie ’n erfdeel daarin gegee nie, nee, nie eers ’n klein stukkie grond* nie, maar hy het belowe om dit as ’n besitting aan hom en sy nageslag* te gee,+ al het hy nog nie kinders gehad nie. 6 God het ook vir hom gesê dat sy nageslag* uitlanders sou wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie en dat die mense hulle slawe sou maak en hulle 400 jaar lank sleg sou behandel.+ 7 ‘En ek sal die nasie oordeel wat hulle slawe gemaak het,’+ het God gesê, ‘en daarna sal hulle daardie land verlaat en op hierdie plek heilige diens vir my doen.’+

8 “Hy het ook vir hom ’n verbond van besnydenis gegee,+ en hy het die pa geword van Isak+ en hom op die agtste dag besny,+ en Isak het die pa geword van* Jakob, en Jakob het die pa geword van die 12 familiehoofde.* 9 En die familiehoofde het jaloers geword en het Josef+ verkoop om na Egipte geneem te word.+ Maar God was met hom,+ 10 en hy het hom gered van al sy moeilikhede. Hy het vir hom wysheid gegee en het hom die goedkeuring van Farao, die koning van Egipte, laat geniet. En Farao het hom aangestel om Egipte en sy hele huis te bestuur.+ 11 Maar ’n hongersnood het oor die hele Egipte en Kanaän gekom, ja, ’n baie moeilike tyd, en ons voorvaders kon niks kry om te eet nie.+ 12 Maar Jakob het gehoor dat daar kos* in Egipte is, en hy het ons voorvaders die eerste keer uitgestuur.+ 13 Die tweede keer het Josef vir sy broers gesê wie hy is, en Farao het uitgevind wie Josef se familie is.+ 14 Toe het Josef ’n boodskap gestuur en sy pa, Jakob, en al sy familielede van Kanaän laat roep,+ altesaam 75 mense.*+ 15 Jakob het toe na Egipte gegaan,+ en hy het daar gesterf,+ en ons voorvaders ook.+ 16 Hulle is na Sigem geneem en in die graf neergelê wat Abraham vir ’n bedrag silwergeld by die seuns van Hemor in Sigem gekoop het.+

17 “Toe die tyd nader kom vir God se belofte aan Abraham om vervul te word, het die volk in Egipte vermeerder en baie geword, 18 totdat ’n ander koning oor Egipte begin regeer het, ’n koning wat niks van Josef geweet het nie.+ 19 Hy het ’n slinkse plan teen ons ras uitgevoer en die pa’s verkeerdelik gedwing om hulle babas weg te gooi sodat hulle nie sou bly lewe nie.+ 20 In dié tyd is Moses gebore, en hy was besonder mooi.* Hy is drie maande in sy pa se huis versorg.*+ 21 Maar toe sy ouers gedwing is om hom weg te gooi,+ het die dogter van Farao hom gevat en hom as haar eie seun grootgemaak.+ 22 Moses is dus in al die wysheid van die Egiptenare onderrig. Om die waarheid te sê, hy was kragtig in sy woorde en dade.+

23 “Toe hy 40 geword het, het hy besluit* om te gaan kyk hoe dit met sy broers, die Israeliete, gaan.+ 24 Toe hy sien dat een van hulle onregverdig behandel word, het hy sy broer verdedig en wraak geneem deur die Egiptenaar dood te maak. 25 Hy het gedink dat sy broers sou besef dat God hom gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie besef nie. 26 Die volgende dag het hy na hulle toe gekom terwyl hulle baklei het, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê: ‘Manne, julle is broers. Hoekom baklei julle met mekaar?’ 27 Maar die een wat sy broer sleg behandel het, het hom weggestoot en gevra: ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? 28 Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?’ 29 Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en as ’n uitlander in die land Miʹdian gewoon, waar hy die pa van twee seuns geword het.+

30 “Ná 40 jaar het ’n engel in die wildernis van die berg Siʹnai in die vlam van ’n brandende doringbos aan hom verskyn.+ 31 Toe Moses dit sien, was hy verbaas. Maar toe hy nader gaan om ondersoek in te stel, het hy Jehovah* se stem gehoor wat sê: 32 ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’+ Moses het begin bewe en het dit nie gewaag om nader te gaan nie. 33 Jehovah* het vir hom gesê: ‘Trek jou sandale uit, want jy staan op heilige grond. 34 Ek het gesien hoe my volk in Egipte onderdruk word, en ek het gehoor hoe hulle sug en steun,+ en ek het neergedaal om hulle te red. Daarom sal ek jou na Egipte toe stuur.’ 35 Hierdie Moses, wat hulle verwerp het deur te sê: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’+ is dieselfde man wat God as leier en redder gestuur het+ deur middel van die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. 36 Hierdie man het hulle uitgelei+ en het wonderwerke en tekens in Egipte,+ by die Rooisee+ en in die wildernis gedoen, 40 jaar lank.+

37 “Dit is die Moses wat vir die Israeliete gesê het: ‘God sal vir julle uit julle broers ’n profeet soos ek laat kom.’+ 38 Dit is hy wat saam met die Israeliete in die wildernis bymekaargekom het. Hy was daar by die engel+ wat op die berg Siʹnai met hom en met ons voorvaders gepraat het.+ Hy het lewende heilige verklarings ontvang om aan ons te gee.+ 39 Ons voorvaders het geweier om hom te gehoorsaam, maar hulle het hom weggestoot+ en het in hulle harte na Egipte teruggedraai+ 40 deur vir Aäron te sê: ‘Maak vir ons gode om voor ons uit te gaan. Want ons weet nie wat geword het van hierdie Moses, wat ons uit Egipte uitgelei het nie.’+ 41 Toe het hulle in daardie dae ’n kalf gemaak en ’n offerande aan die afgod gebring en feesgevier oor wat hulle gemaak het.+ 42 Toe het God van hulle af weggedraai en hulle oorgegee om die leërmag van die hemel te aanbid,+ net soos daar in die boek van die profete geskryf is: ‘O huis van Israel, dit was nie aan my dat julle 40 jaar lank in die wildernis diere-offers en offerandes gebring het nie, of hoe? 43 Maar dit was die tent van Molog+ en die ster van die god Refan wat julle saamgedra het, die beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal ek julle tot anderkant Babilon wegvoer.’+

44 “Ons voorvaders het die tent van die getuienis in die wildernis gehad. God het Moses beveel om dit te maak volgens die voorbeeld wat hy gesien het.+ 45 En ons voorvaders het dit ontvang en dit saam met Josua ingebring in die land van die nasies,+ wat God voor ons voorvaders uitgedryf het.+ Dit het tot die dae van Dawid hier gebly. 46 Hy het God se seën geniet en het gevra of hy die voorreg kan hê om ’n woonplek vir die God van Jakob te bou.+ 47 Maar dit was Salomo wat vir hom ’n huis gebou het.+ 48 Die Allerhoogste woon egter nie in huise wat met hande gemaak is nie,+ net soos die profeet sê: 49 ‘Die hemel is my troon+ en die aarde is my voetbank.+ Watter soort huis sal julle vir my bou? sê Jehovah.* Of waar is my rusplek? 50 My hand het al hierdie dinge gemaak, nie waar nie?’+

51 “Julle is hardkoppig, en julle harte en ore is toe,* en julle weerstaan altyd die heilige gees, net soos julle voorvaders gedoen het.+ 52 Watter een van die profete is nie deur julle voorvaders vervolg nie?+ Ja, hulle het die mense doodgemaak wat aangekondig het dat die Regverdige sal kom.+ En nou het julle hom verraai en vermoor,+ 53 julle wat die Wet ontvang het, wat deur engele oorgedra is,+ maar dit nie gehoorsaam het nie.”

54 Wel, toe hulle hierdie dinge hoor, het hulle woedend geword* vir hom en op hulle tande begin kners. 55 Maar hy was vol heilige gees en het na die hemel opgekyk en God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan God se regterhand staan,+ 56 en hy het gesê: “Kyk! Ek sien dat die hemel oop is en dat die Seun van die mens+ aan God se regterhand staan.”+ 57 Toe het hulle so hard geskree as wat hulle kon en hulle ore toegedruk, en hulle almal het op hom afgestorm. 58 Nadat hulle hom uit die stad uit geneem het, het hulle hom met klippe begin gooi.+ Die getuies+ het hulle bo-klere by die voete van ’n jong man met die naam Saulus neergesit.+ 59 Terwyl hulle Stefaʹnus met klippe gegooi het, het hy gesmeek: “Here Jesus, ontvang my gees.” 60 Toe het hy op sy knieë gegaan en met ’n sterk stem uitgeroep: “Jehovah,* moet hulle nie vir hierdie sonde verantwoordelik hou nie.”+ En nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.*

8 En Saulus het die moord van Stefaʹnus goedgekeur.+

Op daardie dag het ’n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan. Almal behalwe die apostels is regdeur Judeʹa en Samariʹa verstrooi.+ 2 Maar godvresende manne het Stefaʹnus weggedra om hom te gaan begrawe, en hulle het baie oor hom getreur. 3 Saulus het egter gewelddadig teen die gemeente begin optree. Hy het in een huis ná die ander ingegaan en mans sowel as vrouens uitgesleep en hulle in die tronk laat gooi.+

4 Maar dié wat verstrooi is, het deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak.+ 5 Filippus het na die stad Samariʹa*+ gegaan en vir die mense daar oor die Christus gepreek. 6 Almal in die skare het aandag geskenk aan wat Filippus gesê het, terwyl hulle geluister het en die wonderwerke* gesien het wat hy gedoen het. 7 Want baie het onrein geeste in hulle gehad, wat met ’n harde stem uitgeroep en uitgekom het.+ En baie wat verlam en kreupel was, is genees. 8 Daar was dus groot blydskap in daardie stad.

9 In die stad was daar ’n man met die naam Simon, wat voorheen toorkuns beoefen het. Hy het die nasie van Samariʹa hiermee verbaas en het gesê dat hy iemand spesiaal is. 10 Hulle almal, van die kleinste tot die grootste, het na hom geluister en gesê: “God se groot krag is in hierdie man.” 11 Hulle het na hom geluister omdat hy hulle al ’n hele ruk lank verbaas het met sy toorkuns. 12 Toe Filippus die goeie nuus van die Koninkryk van God en die naam van Jesus Christus bekend gemaak het,+ het die mense hom geglo, en mans en vrouens is gedoop.+ 13 Simon het ook ’n gelowige geword, en nadat hy gedoop is, was hy die hele tyd by Filippus,+ en hy was verbaas toe hy die tekens en wonderwerke sien wat Filippus gedoen het.

14 Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samariʹa die woord van God aanvaar het,+ het hulle Petrus en Johannes na hulle toe gestuur. 15 En hulle het daarheen gegaan en vir hulle gebid sodat hulle heilige gees kan ontvang.+ 16 Want nog nie een van hulle het die heilige gees ontvang nie, maar hulle was net in die naam van die Here Jesus gedoop.+ 17 Toe het hulle hulle hande op hulle gelê,+ en hulle het heilige gees begin ontvang.

18 Toe Simon sien dat mense die gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle gelê het, het hy vir die apostels geld aangebied 19 en gesê: “Gee vir my ook hierdie gesag, sodat enigeen op wie ek my hande lê, heilige gees kan ontvang.” 20 Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou vergaan, want jy het gedink dat jy die vrye gawe van God met geld kan koop.+ 21 Jy het niks met hierdie saak te doen nie, want jou hart is nie reg in God se oë nie. 22 Toon dus berou oor jou slegtheid, en smeek Jehovah* om die goddelose dinge in jou hart te vergewe, as dit moontlik is, 23 want ek sien dat jy bitter gif en ’n slaaf van onregverdigheid is.” 24 Simon het toe vir hulle gesê: “Doen vir my ’n smeekgebed tot Jehovah* dat niks wat julle gesê het, oor my sal kom nie.”

25 Nadat hulle deeglik getuig het en die woord van Jehovah* bekend gemaak het, het hulle teruggegaan Jerusalem toe. Op pad terug het hulle die goeie nuus in baie dorpies van die Samaritane bekend gemaak.+

26 Maar Jehovah* se engel+ het vir Filippus gesê: “Staan op en gaan na die suide, na die pad wat van Jerusalem na Gasa loop.” (Dit is ’n woestynpad.) 27 Toe het hy opgestaan en gegaan, en daar was ’n Etiopiese eunug,* ’n man met gesag in die regering van Kandaʹke, die koningin van die Etiopiërs. Hy was in beheer van al haar skatte. Hy het na Jerusalem gegaan om te aanbid,+ 28 maar hy was op pad terug en het in sy strydwa gesit en hardop uit die boek van die profeet Jesaja gelees. 29 Toe het die gees vir Filippus gesê: “Gaan na daardie strydwa toe.” 30 Filippus het langs die strydwa gehardloop en het gehoor hoe die eunug uit die boek van die profeet Jesaja lees, en hy het gevra: “Verstaan u regtig wat u lees?” 31 Hy het gevra: “Hoe kan ek dit ooit verstaan as iemand my nie lei nie?” Toe het hy Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32 Hy was besig om die volgende Skrifgedeelte te lees: “Soos ’n skaap is hy gebring om geslag te word, en soos ’n lam wat nie ’n geluid maak voor sy skeerder nie, so maak hy nie sy mond oop nie.+ 33 Gedurende sy vernedering is geregtigheid van hom af weggeneem.+ Wie sal die besonderhede van sy geslag* vertel? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”+

34 Die eunug het toe vir Filippus gevra: “Sê asseblief vir my: Van wie praat die profeet hier? Van homself of van iemand anders?” 35 Filippus het toe begin praat. Hy het met hierdie Skrifgedeelte begin en hom van die goeie nuus oor Jesus vertel. 36 Op pad het hulle by water gekom, en die eunug het gesê: “Kyk! Hier is water. Wat keer my om gedoop te word?” 37 *—— 38 Toe het hy beveel dat die strydwa moet stilhou, en Filippus en die eunug het in die water geklim, en Filippus het hom gedoop. 39 Toe hulle uit die water opgekom het, het Jehovah* se gees Filippus vinnig weggelei, en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het vreugdevol verder gereis. 40 Filippus het egter in Asdod aangekom, en hy het deur die gebied gegaan en aangehou om die goeie nuus aan al die stede bekend te maak totdat hy in Sesareʹa gekom het.+

9 Maar Saulus, wat nog steeds die dissipels van die Here gedreig het+ en hulle wou vermoor, het na die hoëpriester toe gegaan 2 en hom gevra om briewe vir die sinagoges in Damaskus te skryf, sodat hy enigiemand wat hy gevind het wat aan Die Weg behoort,+ mans en vrouens, in boeie kon sit en hulle na Jerusalem kon bring.

3 Toe hy naby Damaskus gekom het, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom geskyn,+ 4 en hy het op die grond geval en gehoor hoe ’n stem vir hom vra: “Saul, Saul, hoekom vervolg jy my?” 5 Hy het gevra: “Wie is u, Here?” Die stem het gesê: “Ek is Jesus,+ die een wat jy vervolg.+ 6 Maar staan op en gaan in die stad in, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” 7 Die mans wat saam met hom gereis het, was so verbaas dat hulle niks kon sê nie, want hulle het ’n stem gehoor, maar niemand gesien nie.+ 8 Saulus het toe van die grond af opgestaan, en al was sy oë oop, kon hy niks sien nie. Hulle het hom dus aan die hand gelei en hom in Damaskus ingebring. 9 En hy het drie dae lank niks gesien nie,+ en hy het ook niks geëet of gedrink nie.

10 In Damaskus was daar ’n dissipel met die naam Ananiʹas,+ en die Here het in ’n visioen vir hom gesê: “Ananiʹas!” Hy het gesê: “Hier is ek, Here.” 11 Die Here het vir hom gesê: “Staan op, gaan na die straat wat Reguit genoem word en soek na ’n man met die naam Saulus, van Tarsus,+ by die huis van Judas. Want kyk! hy is besig om te bid, 12 en hy het in ’n visioen gesien hoe ’n man met die naam Ananiʹas inkom en sy hande op hom lê sodat hy weer kan sien.”+ 13 Maar Ananiʹas het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die skadelike dinge wat hy aan u heiliges in Jerusalem gedoen het. 14 En nou het hy toestemming van die hoofpriesters om almal wat u naam aanroep, te arresteer.”*+ 15 Maar die Here het vir hom gesê: “Gaan, want ek het hierdie man gekies+ om die nasies sowel as konings+ en die Israeliete van my naam te vertel.+ 16 Want ek sal vir hom wys wat hy alles vir my naam moet ly.”+

17 Toe het Ananiʹas vertrek en in die huis ingegaan, en hy het sy hande op hom gelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat op die pad hierheen aan jou verskyn het, het my gestuur sodat jy weer kan sien en met heilige gees gevul kan word.”+ 18 En onmiddellik het iets wat soos skubbe gelyk het, van sy oë afgeval, en hy kon weer sien. Hy het toe opgestaan en is gedoop, 19 en hy het iets geëet en weer krag gekry.

Hy het ’n paar dae lank by die dissipels in Damaskus gebly,+ 20 en hy het onmiddellik in die sinagoges begin preek oor Jesus, dat hy die Seun van God is. 21 Maar almal wat na hom geluister het, was verbaas en het gevra: “Is dit nie die man wat Jesus se volgelinge* in Jerusalem swaar vervolg het nie?+ Het hy nie hierheen gekom om hulle te arresteer en hulle na die hoofpriesters te vat* nie?”+ 22 Maar Saulus het al hoe kragtiger geword in sy bediening, en die Jode wat in Damaskus gewoon het, is uit die veld geslaan, omdat hy logies bewys het dat Jesus die Christus is.+

23 Ná ’n hele paar dae het die Jode planne beraam om hom te vermoor,+ 24 maar Saulus het hiervan uitgevind. Hulle het die poorte ook dag en nag dopgehou sodat hulle hom kon doodmaak. 25 Daarom het sy dissipels hom geneem en hom in die nag deur ’n opening in die muur in ’n mandjie laat sak.+

26 Toe hy in Jerusalem aankom,+ het hy by die dissipels probeer aansluit, maar hulle almal was bang vir hom, want hulle het nie geglo dat hy ’n dissipel is nie. 27 Toe het Barʹnabas+ hom kom help en hom na die apostels toe gevat, en hy het vir hulle in besonderhede vertel hoe hy die Here op die pad gesien het+ en dat hy met hom gepraat het en dat hy in Damaskus moedig in die naam van Jesus gepreek het.+ 28 Hy het by hulle gebly en het vryelik in Jerusalem rondbeweeg en het moedig in die naam van die Here gepreek. 29 Hy het met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak.+ 30 Toe die broers daarvan uitvind, het hulle hom na Sesareʹa geneem en hom daarna na Tarsus gestuur.+

31 Toe het die gemeente deur die hele Judeʹa en Galileʹa en Samariʹa+ ’n tydperk van vrede ingegaan, en hulle is opgebou. Die gemeente het getoon dat hulle Jehovah* vrees en in die vertroosting van die heilige gees lewe,+ en hulle het bly vermeerder.

32 En terwyl Petrus deur die hele gebied gereis het, het hy ook na die heiliges gegaan wat in Lidda+ gewoon het. 33 Daar het hy ’n man met die naam Eneʹas gevind, wat al agt jaar lank plat op sy bed gelê het, want hy was verlam. 34 Petrus het vir hom gesê: “Eneʹas, Jesus Christus maak jou gesond.+ Staan op en maak jou bed op.”+ En hy het onmiddellik opgestaan. 35 Toe almal in Lidda en op die Vlakte van Saron hom gesien het, het hulle hulle tot die Here bekeer.

36 In Joppe was daar ’n dissipel met die naam Tabiʹta. (Tabiʹta word as “Dorkas”* vertaal.) Sy het altyd goeie dinge vir ander gedoen en die armes gehelp.* 37 Maar in daardie dae het sy siek geword en gesterf. Toe het hulle haar gewas en haar in ’n bo-kamer neergelê. 38 Omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus in daardie stad is, het hulle twee mans na hom toe gestuur om vir hom te sê: “Kom asseblief so gou as moontlik na ons toe.” 39 Toe het Petrus opgestaan en saam met hulle gegaan, en toe hy daar aankom, het hulle hom na die bo-kamer geneem. Daar het al die weduwees by hom kom staan terwyl hulle gehuil het en vir hom baie van die klere* gewys het wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. 40 Petrus het toe almal uitgestuur,+ op sy knieë gegaan en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabiʹta, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.+ 41 Hy het sy hand vir haar gegee en haar opgehelp, en hy het die heiliges en die weduwees geroep en vir hulle gewys dat sy lewe.+ 42 Almal in Joppe het daarvan gehoor, en baie het in die Here begin glo.+ 43 Hy het ’n hele paar dae in Joppe gebly by ’n leerlooier* met die naam Simon.+

10 Daar was ’n man in Sesareʹa met die naam Kornelius, ’n militêre offisier* in die Italiaanse afdeling.* 2 Hy was ’n godvresende man, en hy en almal in sy huis het God aanbid, en hy het baie geskenke aan die armes* gegee en voortdurend smeekgebede tot God gedoen. 3 Omtrent die negende uur*+ van die dag het hy duidelik in ’n visioen gesien hoe ’n engel van God na hom toe kom en vir hom sê: “Kornelius!” 4 Kornelius het bang na hom gekyk en gevra: “Wat is dit, Here?” Hy het vir hom gesê: “God het jou gebede gehoor en gesien dat jy geskenke aan die armes* gee.+ 5 Stuur dan nou mans na Joppe en laat haal ’n man met die naam Simon, wat ook Petrus genoem word. 6 Hierdie man bly as ’n gas by Simon, ’n leerlooier,* wat ’n huis by die see het.” 7 Onmiddellik nadat die engel wat met hom gepraat het, daar weg is, het hy twee van sy huisknegte geroep, sowel as ’n godvresende soldaat uit dié wat altyd by hom was, 8 en hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe gestuur.

9 Die volgende dag, terwyl hulle verder gereis het en naby die stad gekom het, het Petrus omtrent die sesde uur* na die dak opgegaan om te bid. 10 Maar hy het baie honger geword en wou eet. Terwyl hulle die maaltyd voorberei het, het hy ’n visioen gehad+ 11 en gesien dat die hemel oop is en dat iets* neerdaal wat lyk soos ’n groot linnelaken wat aan sy vier punte op die aarde laat sak word. 12 Daarin was allerhande diere met vier pote en reptiele* en voëls. 13 Toe het ’n stem vir hom gesê: “Staan op, Petrus, slag en eet!” 14 Maar Petrus het gesê: “Nee, nooit nie, Here, want ek het nog nooit iets geëet wat onrein of onheilig is nie.”+ 15 Die stem het weer met hom gepraat, ’n tweede keer: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, onrein te noem.” 16 Dit het ’n derde keer gebeur, en die voorwerp wat soos ’n laken gelyk het, is onmiddellik na die hemel opgeneem.

17 Terwyl Petrus nog dronkgeslaan was oor wat die visioen tog kon beteken, het die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die poort gestaan. Hulle het vroeër gevra waar Simon se huis is.+ 18 Hulle het uitgeroep en gevra of Simon, wat ook Petrus genoem is, as ’n gas daar bly. 19 Terwyl Petrus nog oor die visioen gedink het, het die gees+ gesê: “Kyk! Drie mans soek jou. 20 Staan dus op, gaan ondertoe en gaan saam met hulle, en moet glad nie twyfel nie, want ek het hulle gestuur.” 21 Toe het Petrus afgegaan na die mans toe en gesê: “Hier is ek, die een na wie julle soek. Hoekom is julle hier?” 22 Hulle het gesê: “Kornelius,+ ’n militêre offisier wat regverdig is en God vrees en ’n goeie reputasie onder die hele Joodse nasie het, het deur ’n heilige engel ’n opdrag van God gekry om u na sy huis te laat kom en te hoor wat u te sê het.” 23 Hy het hulle dus ingenooi en hulle as sy gaste by hom laat bly.

Die volgende dag het hy opgestaan en saam met hulle gegaan, en van die broers uit Joppe het ook gegaan. 24 Die dag daarna het hy in Sesareʹa ingegaan. Kornelius het hulle natuurlik verwag en het reeds sy familielede en goeie vriende bymekaargeroep. 25 Toe Petrus inkom, het Kornelius na hom toe gegaan, voor sy voete neergeval en aan hom eer bewys.* 26 Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op. Ek is ook net ’n mens.”+ 27 Terwyl hy met hom gepraat het, het hy ingegaan en gesien dat daar baie mense bymekaar is. 28 Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit teen die wet is vir ’n Jood om met iemand van ’n ander ras te assosieer of na hom toe te gaan,+ maar God het vir my gewys dat ek geen mens onrein of onheilig moet noem nie.+ 29 Daarom het ek gekom sonder om beswaar te maak toe ek geroep is. Sê dan nou asseblief vir my hoekom julle my laat kom het.”

30 Toe het Kornelius gesê: “Vier dae gelede, op hierdie selfde uur, die negende uur,* het ek in my huis gebid. Op daardie oomblik het ’n man in blink klere voor my gestaan 31 en gesê: ‘Kornelius, God het jou gebed gehoor en het gesien dat jy geskenke aan die armes* gee. 32 Stuur dan iemand na Joppe en laat Simon roep, wat ook Petrus genoem word. Hierdie man is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier,* by die see.’+ 33 Ek het u dus dadelik laat roep, en u was gaaf genoeg om hierheen te kom. En nou is ons almal hier voor God teenwoordig om alles te hoor wat Jehovah* u beveel het om te sê.”

34 Toe het Petrus begin praat en gesê: “Nou verstaan ek werklik dat God nie partydig is nie.+ 35 In elke nasie is die mens wat hom vrees en doen wat reg is, vir hom aanvaarbaar.+ 36 Hy het ’n boodskap na die Israeliete gestuur om die goeie nuus van vrede aan hulle bekend te maak+ deur Jesus Christus, wat die Here van almal is.+ 37 Julle weet waaroor daar in die hele Judeʹa gepraat is (dit het in Galileʹa+ begin ná die doop wat Johannes verkondig het): 38 Dat Jesus, wat van Naʹsaret was, deur God met heilige gees+ en krag gesalf is en dat hy deur die land gegaan het en goeie dinge gedoen het en almal gesond gemaak het wat deur die Duiwel onderdruk is,+ want God was met hom.+ 39 En ons is getuies van alles wat hy in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het, maar hulle het hom doodgemaak deur hom aan ’n paal* te hang. 40 God het hom op die derde dag opgewek+ en toegelaat dat hy aan mense verskyn,* 41 nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat vooraf deur God aangestel is, aan ons, wat saam met hom geëet en gedrink het nadat hy uit die dood opgestaan het.+ 42 Hy het ons ook beveel om vir die volk te preek en om deeglik te getuig+ dat dit die een is wat deur God aangestel is om regter van die lewendes en die dooies te wees.+ 43 Al die profete het van hom getuig+ en gesê dat die sondes van elkeen wat geloof in hom stel, deur sy naam vergewe sal word.”+

44 Terwyl Petrus nog hieroor gepraat het, het die heilige gees op almal gekom wat die woord gehoor het.+ 45 En die gelowiges* wat saam met Petrus gekom het, manne wat almal besny was, was verbaas omdat die vrye gawe van die heilige gees ook op mense van die nasies uitgestort word. 46 Want hulle het gehoor hoe hulle in vreemde tale praat en God loof.+ Toe het Petrus gevra: 47 “Kan enigiemand keer dat hierdie mense in water gedoop word+ noudat hulle net soos ons die heilige gees ontvang het?” 48 Daarna het hy beveel dat hulle in die naam van Jesus Christus gedoop moet word.+ Toe het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.

11 Die apostels en die broers wat in Judeʹa was, het gehoor dat mense van die nasies ook die woord van God aanvaar het. 2 En toe Petrus na Jerusalem gekom het, het dié wat wou hê dat mense besny moet word,+ hom begin kritiseer* 3 en gesê: “Jy het in die huis van mans ingegaan wat nie besny is nie en saam met hulle geëet.” 4 Toe het Petrus vir hulle vertel presies wat gebeur het. Hy het gesê:

5 “Ek het in die stad Joppe gebid, en ek het in ’n visioen iets* gesien neerdaal wat lyk soos ’n groot linnelaken wat aan sy vier punte uit die hemel laat sak word, en dit het tot reg by my gekom.+ 6 Toe ek mooi daarin kyk, het ek diere met vier pote, wilde diere, reptiele* en voëls gesien. 7 ’n Stem het ook vir my gesê: ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ 8 Maar ek het gesê: ‘Nee, nooit nie, Here, want ek het nog nooit iets wat onrein of onheilig is, in my mond gesit nie.’ 9 Die tweede keer het die stem uit die hemel geantwoord: ‘Hou op om die dinge wat God gereinig het, onrein te noem.’ 10 Dit het ’n derde keer gebeur, en alles is weer na die hemel opgetrek. 11 En op daardie oomblik het daar drie mans by die huis gestaan waar ons gebly het. Hulle is van Sesareʹa af na my toe gestuur.+ 12 Toe het die gees vir my gesê om saam met hulle te gaan en glad nie te twyfel nie. Maar hierdie ses broers het ook saam met my gegaan, en ons het in die man se huis ingegaan.

13 “Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat gesê het: ‘Stuur mans na Joppe en laat roep Simon, wat ook Petrus genoem word,+ 14 en hy sal vir jou sê hoe jy en almal in jou huis gered kan word.’ 15 Maar toe ek begin praat, het die heilige gees oor hulle gekom, net soos dit in die begin oor ons gekom het.+ 16 Toe het ek onthou dat die Here altyd gesê het: ‘Johannes het met water gedoop,+ maar julle sal met heilige gees gedoop word.’+ 17 God het dieselfde vrye gawe aan hulle gegee wat hy aan ons gegee het wat in die Here Jesus Christus geglo het. Wie is ek dan om in God se pad te staan?”*+

18 Toe hulle hierdie dinge hoor, het hulle nie meer beswaar gemaak nie,* en hulle het God verheerlik en gesê: “So het God dan ook mense van die nasies die kans gegee om berou te toon sodat hulle die lewe kan ontvang.”+

19 Toe het dié wat verstrooi is+ deur die vervolging wat as gevolg van Stefaʹnus ontstaan het, tot by Feniʹsië, Siprus en Antioʹgië gegaan, maar hulle het die woord net aan die Jode verkondig.+ 20 Party van die mans onder hulle wat van Siprus en Sireʹne was, het egter na Antioʹgië gekom en met die Griekssprekendes begin praat en die goeie nuus van die Here Jesus bekend gemaak. 21 En die hand van Jehovah* was met hulle, en baie van hulle het gelowiges geword en hulle tot die Here bekeer.+

22 Die gemeente in Jerusalem het die verslag oor hulle gehoor, en hulle het Barʹnabas+ tot by Antioʹgië uitgestuur. 23 Toe hy daar aankom en die onverdiende goedheid van God sien, was hy baie bly en het hy hulle almal begin aanmoedig om met hulle hele hart aan die Here getrou te bly,+ 24 want hy was ’n goeie man en vol heilige gees en geloof. En ’n groot groep mense het in die Here begin glo.+ 25 Toe het hy na Tarsus gegaan om deeglik na Saulus te soek.+ 26 Nadat hy hom gevind het, het hy hom na Antioʹgië gebring. Hulle het ’n hele jaar lank saam met die gemeente bymekaargekom en ’n groot groep geleer, en dit was in Antioʹgië dat die dissipels volgens God se wil vir die eerste keer Christene genoem is.+

27 In daardie dae het profete+ van Jerusalem na Antioʹgië gekom. 28 Een van hulle, met die naam Aʹgabus,+ het opgestaan en deur middel van die gees voorspel dat ’n groot hongersnood binnekort oor die hele aarde sou kom,+ wat toe in die tyd van Claudius plaasgevind het. 29 Toe het die dissipels besluit om iets* te stuur om die broers in Judeʹa te help.+ Elkeen het bygedra volgens wat hy kon bekostig,+ 30 en hulle het dit gedoen en dit saam met Barʹnabas en Saulus na die ouermanne gestuur.+

12 In daardie tyd het koning Herodes party lede van die gemeente begin mishandel.+ 2 Hy het Jakobus, die broer van Johannes,+ met die swaard doodgemaak.+ 3 Toe hy sien dat dit die Jode bly maak, het hy verder gegaan en Petrus gearresteer. (Dit was in die dae van die Ongesuurde Brode.)+ 4 Hy het hom gearresteer en in die tronk gegooi+ en hom oorgelewer aan vier groepe van vier soldate elk om hom te bewaak. Hy was van plan om hom ná die Pasga voor die volk te bring.* 5 Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente intens vir hom tot God bly bid.+

6 Die nag voordat Herodes Petrus wou uitbring, het Petrus tussen twee soldate geslaap. Hy was met twee kettings vasgebind, en daar was wagte voor die deur wat die tronk bewaak het. 7 Maar kyk! Jehovah* se engel het daar gestaan,+ en ’n lig het in die tronksel geskyn. Hy het Petrus wakker gemaak deur hom op die sy te slaan en het gesê: “Staan gou op!” En die kettings het van sy hande afgeval.+ 8 Die engel het vir hom gesê: “Trek jou klere en jou sandale aan.” Hy het dit gedoen. Laastens het hy vir hom gesê: “Trek jou bo-kleed aan, en volg my.” 9 En hy het uitgegaan en hom gevolg, maar hy het nie geweet dat die dinge wat die engel doen, regtig gebeur nie. Om die waarheid te sê, hy het gedink dat hy ’n visioen sien. 10 Toe hulle verby die eerste en die tweede plek gaan waar die wagte gestaan het, het hulle by die ysterpoort gekom wat na die stad lei, en dit het vanself oopgegaan. Nadat hulle uitgegaan het, het hulle in die straat afgegaan, en onmiddellik het die engel hom verlaat. 11 Petrus het besef wat aan die gang is en het gesê: “Nou weet ek vir seker dat Jehovah* sy engel gestuur het en my gered het uit Herodes se hand en van alles wat die Jode gedink het met my sal gebeur.”+

12 Nadat hy dit besef het, het hy na die huis van Maria gegaan, die ma van Johannes, wat ook Markus genoem is.+ ’n Hele paar was daar bymekaar en was besig om te bid. 13 Toe hy aan die poortdeur klop, het ’n diensmeisie met die naam Rode gekom om te hoor wie daar is. 14 Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie, maar na binne gehardloop het en gesê het dat Petrus voor die poort staan. 15 Hulle het vir haar gesê: “Jy is mal.” Maar sy het aangedring dat dit so is. Hulle het begin sê: “Dit is sy engel.” 16 Maar Petrus het aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak, het hulle hom gesien en was hulle verbaas. 17 Maar hy het vir hulle beduie om stil te bly en het vir hulle vertel presies hoe Jehovah* hom uit die tronk gebring het, en hy het gesê: “Vertel hierdie dinge vir Jakobus+ en die broers.” Toe het hy uitgegaan en êrens anders heen gereis.

18 Toe dit dag word, was die soldate geskok en het hulle gewonder wat met Petrus gebeur het. 19 Herodes het deeglik na hom gesoek, en toe hy hom nie kon kry nie, het hy die wagte ondervra en beveel dat hulle weggelei moet word om gestraf te word.+ Toe het hy van Judeʹa af na Sesareʹa gegaan en ’n ruk daar gebly.

20 Herodes was woedend vir* die mense van Tirus en Sidon. Toe het hulle met een doel na hom toe gekom, en nadat hulle Blastus oorreed het, wat in beheer van die koning se huishouding* was, het hulle begin vra om vrede te maak, omdat die koning se land hulle land van kos voorsien het. 21 Op ’n vasgestelde dag het Herodes koninklike klere aangetrek en op die regterstoel gaan sit en vir hulle ’n openbare toespraak begin hou. 22 Toe het die gehoor geskree: “’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” 23 Onmiddellik het die engel van Jehovah* hom getref omdat hy nie eer aan God gegee het nie, en hy is deur wurms opgeëet en het gesterf.

24 Maar die woord van Jehovah* het bly groei en versprei.+

25 Nadat Barʹnabas+ en Saulus klaar was met hulle werk om die broers in Jerusalem te help,+ het hulle teruggekeer en Johannes,+ wat ook Markus genoem is, saamgeneem.

13 In Antioʹgië was daar profete en onderrigters in die plaaslike gemeente:+ Barʹnabas, Siʹmeon, wat Niger genoem is, Luʹcius van Sireʹne, Manaʹen, wat saam met Herodes, die distriksheerser, opleiding ontvang het, en Saulus. 2 Terwyl hulle Jehovah* gedien het* en gevas het, het die heilige gees gesê: “Sonder Barʹnabas en Saulus vir my af+ sodat hulle die werk kan doen waarvoor ek hulle geroep het.”+ 3 Nadat hulle gevas en gebid het, het hulle hulle hande op hulle gelê en hulle weggestuur.

4 Toe het hierdie manne, wat deur die heilige gees uitgestuur is, na Seleuʹkië gegaan, en van daar af het hulle weggeseil na Siprus toe. 5 Toe hulle in Saʹlamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode begin verkondig. Hulle het ook Johannes as helper gehad.+

6 Toe hulle deur die hele eiland tot by Pafos gegaan het, het hulle ’n Joodse man met die naam Bar-Jesus ontmoet. Hy was ’n towenaar en ’n valse profeet. 7 Hy was by die prokonsul* Serʹgius Paulus, ’n intelligente man. Hy het Barʹnabas en Saulus na hom toe laat roep omdat hy gretig was om die woord van God te hoor. 8 Maar Eʹlimas* die towenaar (dit is wat sy naam beteken) het hulle begin teëstaan en het probeer keer dat die prokonsul geloof in die Here stel. 9 Toe het heilige gees oor Saulus, wat ook Paulus genoem is, gekom, en hy het reguit na Eʹlimas gekyk 10 en gesê: “O man wat vol allerhande bedrog en allerhande slegtheid is, jou kind van die Duiwel,+ jou vyand van alles wat regverdig is, hou op om die regte weë van Jehovah* te verdraai. 11 Kyk! Jehovah* se hand is op jou, en jy sal blind word en die sonlig ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het ’n dik mis en duisternis oor hom gekom, en hy het rondgegaan en na iemand gesoek om hom aan die hand te lei. 12 Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy ’n gelowige geword, want hy was verstom oor wat hy omtrent Jehovah* geleer het.

13 Paulus en sy metgeselle het met ’n skip van Pafos af na Perge in Pamfiʹlië gegaan. Maar Johannes+ het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer.+ 14 Hulle het egter van Perge af na Antioʹgië in Pisiʹdië gegaan. En hulle het op die Sabbatdag in die sinagoge ingegaan+ en daar gaan sit. 15 Nadat daar uit die Wet+ en die boeke van die profete voorgelees is, het die hoofbeamptes van die sinagoge vir hulle die volgende boodskap gestuur: “Manne, broers, as julle enige woorde kan sê om die volk aan te moedig, sê dit.” 16 Toe het Paulus opgestaan en met sy hand beduie en gesê:

“Manne, Israeliete en die res van julle wat God vrees, luister. 17 Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies, en hy het die volk ’n kragtige nasie gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het en het hulle met ’n sterk arm daaruit gelei.+ 18 En hy het hulle omtrent 40 jaar lank in die wildernis verdra.+ 19 Nadat hy sewe nasies in die land Kanaän vernietig het, het hy hulle land as ’n erfdeel aan ons voorvaders gegee.+ 20 Dit het alles oor sowat 450 jaar gebeur.

“Daarna het hy vir hulle rigters gegee tot die tyd van die profeet Samuel.+ 21 Maar toe het hulle daarop aangedring om ’n koning te hê,+ en God het Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam van Benjamin,+ vir 40 jaar aan hulle gegee. 22 Nadat hy hom verwyder het, het hy Dawid vir hulle as koning gegee,+ oor wie hy gesê het: ‘Ek het Dawid, die seun van Isai,+ gevind, ’n man na my hart.+ Hy sal alles doen wat ek wil hê.’ 23 God het volgens sy belofte uit die nageslag* van hierdie man vir Israel ’n redder gebring, Jesus.+ 24 Voordat hy gekom het, het Johannes in die openbaar aan die hele volk Israel verkondig dat hulle gedoop moet word as ’n simbool van berou.+ 25 Maar teen die einde van sy loopbaan het Johannes gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie hy nie. Maar kyk! ná my kom die Een wie se sandale ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie.’+

26 “Manne, broers, julle wat die nakomelinge van Abraham is en die res van julle wat God vrees, die woord van hierdie redding is aan ons gestuur.+ 27 Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het hom nie herken nie, maar toe hulle as regters opgetree het, het hulle die dinge vervul wat in die boeke van die profete gesê is+ en wat elke sabbat voorgelees word. 28 Al het hulle geen rede gevind dat hy die doodstraf moet ontvang nie,+ het hulle Pilatus gevra om hom te laat doodmaak.+ 29 Toe hulle alles vervul het wat oor hom geskryf is, het hulle hom van die paal* afgehaal en hom in ’n graf neergelê.+ 30 Maar God het hom uit die dood opgewek,+ 31 en hy het gedurende baie dae aan dié verskyn wat saam met hom van Galileʹa af na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense getuig nou oor hom aan die volk.+

32 “Daarom vertel ons julle van die goeie nuus oor die belofte wat aan die voorvaders gemaak is. 33 God het dit heeltemal vir ons, hulle kinders, vervul deur Jesus op te wek,+ net soos daar in die tweede psalm geskryf is: ‘Jy is my seun. Vandag het ek jou vader geword.’+ 34 En hy het die volgende gesê oor die feit dat Hy hom uit die dood opgewek het en hom ’n liggaam gegee het wat nooit sal ontbind nie: ‘Ek sal aan julle die seëninge gee wat ek weens my lojale liefde aan Dawid belowe het. Hierdie belofte is betroubaar.’+ 35 Daarom sê dit ook in ’n ander psalm: ‘U sal nie toelaat dat u lojale kneg ontbind nie.’+ 36 Maar Dawid het God gedurende sy leeftyd gedien.* Hy het gesterf,* is by sy voorvaders neergelê, en sy liggaam het wel ontbind.+ 37 Aan die ander kant het die een wat deur God opgewek is, nie ontbind nie.+

38 “Laat dit dus aan julle bekend wees, broers, dat vergifnis van sondes deur middel van hierdie een aan julle verkondig word.+ 39 Deur hom word almal wat glo, onskuldig verklaar van alle dinge waarvan die Wet van Moses+ julle nie onskuldig kon verklaar nie.+ 40 Sorg dus dat wat in die boeke van die profete gesê word, nie met julle gebeur nie: 41 ‘Kyk daarna, julle spotters, en wees verbaas daaroor en sterf, want ek doen ’n werk in julle dae, ’n werk wat julle nooit sal glo nie, al vertel iemand julle alles daaromtrent.’”+

42 En toe hulle uitgaan, het die mense hulle gesmeek om die volgende Sabbat weer oor hierdie dinge te praat. 43 Ná die vergadering in die sinagoge het baie van die Jode en proseliete wat God aanbid het, Paulus en Barʹnabas gevolg. Hulle twee het met hulle gepraat en hulle aangespoor om in die onverdiende goedheid van God te bly.+

44 Byna die hele stad het die volgende Sabbat bymekaargekom om die woord van Jehovah* te hoor. 45 Toe die Jode die skare sien, het hulle jaloers geword en Paulus weerspreek en sleg* gepraat oor die dinge wat hy gesê het.+ 46 Toe het Paulus en Barʹnabas moedig vir hulle gesê: “Die woord van God moes eers aan julle verkondig word.+ Maar omdat julle dit verwerp en dink dat julle nie waardig is om die ewige lewe te ontvang nie, gaan ons nou na die nasies.+ 47 Want Jehovah* het vir ons gesê: ‘Ek het jou as ’n lig vir die nasies aangestel sodat jy tot aan die eindes van die aarde ’n redding sal wees.’”+

48 Toe dié uit die nasies dit hoor, het hulle bly geword en gesê hoe wonderlik die woord van Jehovah* is, en almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowiges geword. 49 En die woord van Jehovah* het deur die hele land versprei. 50 Maar die Jode het die belangrike godsdienstige vrouens en die belangrike manne van die stad opgesteek, en hulle het veroorsaak dat Paulus en Barʹnabas vervolg word,+ en hulle het hulle uit hulle gebied gejaag. 51 Toe het hulle die stof van hulle voete teen hulle afgeskud en na Ikoʹnium gegaan.+ 52 En die dissipels is voortdurend met vreugde en heilige gees gevul.+

14 En in Ikoʹnium het hulle saam in die sinagoge van die Jode ingegaan en so goed gepraat dat ’n groot groep Jode sowel as Grieke gelowiges geword het. 2 Maar die Jode wat nie geglo het nie, het die mense* van die nasies teen die broers opgesteek en hulle beïnvloed om die broers te haat.+ 3 Hulle het dus ’n tyd lank daar gebly en het moedig gepreek omdat Jehovah* hulle die gesag gegee het om dit te doen. Hy het die boodskap van sy onverdiende goedheid bevestig deur hulle in staat te stel om tekens en wonderwerke te doen.+ 4 Maar die mense van die stad was verdeeld. Party was vir die Jode, maar ander vir die apostels. 5 Die mense van die nasies sowel as die Jode en hulle leiers het probeer om hulle te mishandel en hulle met klippe te gooi.+ 6 Toe hulle daarvan uitvind, het hulle gevlug na die stede Likaoʹnië, Listra en Derbe en na die omliggende gebied.+ 7 Daar het hulle voortgegaan om die goeie nuus bekend te maak.

8 En in Listra het daar ’n man gesit wat verlam was in sy voete. Hy was van geboorte af kreupel en het nog nooit geloop nie. 9 Hierdie man het na Paulus geluister terwyl hy gepraat het. Paulus het reguit na hom gekyk en toe hy sien dat hy geloof het om gesond gemaak te word,+ 10 het hy met ’n harde stem gesê: “Staan regop, op jou voete.” En hy het opgespring en begin loop.+ 11 Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, het hulle in Likaoʹnies uitgeroep: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe neergedaal!”+ 12 En hulle het Barʹnabas Zeus begin noem, maar Paulus Hermes omdat hy die praatwerk gedoen het. 13 En die priester van Zeus, wie se tempel by die ingang van die stad was, het bulle en kranse* na die poorte gebring en wou saam met die skare offerandes bring.

14 Maar toe die apostels Barʹnabas en Paulus hiervan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en uitgeroep: 15 “Manne, hoekom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense met dieselfde gebreke as julle.+ En ons maak die goeie nuus aan julle bekend sodat julle kan ophou om hierdie waardelose dinge te doen en die lewende God kan aanbid, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het.+ 16 In vorige geslagte het hy al die nasies toegelaat om te doen wat hulle wil,+ 17 maar tog het hy getuienis oor homself gegee+ deur goeie dinge te doen. Hy het vir julle reën uit die hemel en vrugbare seisoene gegee,+ en hy het vir julle oorgenoeg voedsel en ’n hart vol blydskap gegee.”+ 18 Maar al het hulle hierdie dinge gesê, kon hulle die skare amper nie keer om offerandes aan hulle te bring nie.

19 Maar Jode van Antioʹgië en Ikoʹnium het daar aangekom en die skare omgepraat,+ en hulle het Paulus met klippe gegooi en hom tot buite die stad gesleep, want hulle het gedink hy is dood.+ 20 Maar toe die dissipels rondom hom gaan staan, het hy opgestaan en in die stad ingegaan. Die volgende dag het hy saam met Barʹnabas na Derbe vertrek.+ 21 Nadat hulle die goeie nuus aan daardie stad bekend gemaak het en ’n hele paar dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listra, Ikoʹnium en Antioʹgië. 22 Daar het hulle die dissipels* versterk+ en hulle aangemoedig om in die geloof te bly, en hulle het gesê: “Ons moet baie verdrukking deurmaak om in die Koninkryk van God in te gaan.”+ 23 En hulle het in elke gemeente vir hulle ouermanne aangestel,+ en gebid en gevas+ en hulle in die sorg gelaat van Jehovah,* in wie hulle begin glo het.

24 Toe het hulle deur Pisiʹdië gegaan en in Pamfiʹlië gekom,+ 25 en nadat hulle die woord in Perge bekend gemaak het, het hulle na Attaʹlië gegaan. 26 Daarvandaan het hulle na Antioʹgië geseil, waar die broers voorheen gebid het dat God onverdiende goedheid aan hulle betoon vir die werk wat hulle nou voltooi het.+

27 Nadat hulle daar aangekom het en die gemeente bymekaargeroep het, het hulle vertel van die baie dinge wat God deur middel van hulle gedoen het en dat hy die deur vir die nasies oopgemaak het sodat hulle geloof kan betoon.+ 28 Toe het hulle ’n hele ruk by die dissipels gebly.

15 Party manne het van Judeʹa af gekom en die broers begin leer: “As julle nie volgens die gebruik van Moses besny word nie,+ kan julle nie gered word nie.” 2 Maar Paulus en Barʹnabas was daarteen gekant, en dit het tot baie onenigheid en ’n groot bespreking gelei. Daarom is daar besluit dat Paulus en Barʹnabas en van die ander na die apostels en ouermanne in Jerusalem+ moet gaan in verband met hierdie saak.

3 Nadat die gemeente ’n ent saam met hulle gegaan het, het hierdie manne verder gegaan deur Feniʹsië sowel as Samariʹa en in besonderhede vertel hoe die mense van die nasies hulle bekeer het, wat tot groot vreugde onder al die broers gelei het. 4 Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle vriendelik ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouermanne, en hulle het vertel van al die dinge wat God deur middel van hulle gedoen het. 5 Maar party lede van die sekte van die Fariseërs wat gelowiges geword het, het opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en beveel word om die Wet van Moses te gehoorsaam.”+

6 Toe het die apostels en die ouermanne bymekaargekom om die saak te ondersoek. 7 Ná ’n lang, intense bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Manne, broers, julle weet goed dat God my lank gelede onder julle uitgekies het sodat mense van die nasies die woord van die goeie nuus uit my mond sou hoor en glo.+ 8 En God, wat die hart ken,+ het bewys dat hy hulle aanvaar deur die heilige gees aan hulle te gee,+ net soos hy dit ook aan ons gegee het. 9 En hy het glad nie enige onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie,+ maar hy het hulle harte deur geloof gereinig.+ 10 Hoekom toets julle God dan nou deur ’n juk op die nek van die dissipels te sit+ wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie?+ 11 Nee, ons glo dat ons op dieselfde manier as hulle deur die onverdiende goedheid van die Here Jesus gered word.”+

12 Toe het die hele groep stil geword, en hulle het begin luister hoe Barʹnabas en Paulus vertel van al die tekens en wonderwerke wat God deur middel van hulle onder die nasies gedoen het. 13 Nadat hulle klaar gepraat het, het Jakobus gesê: “Manne, broers, luister na my. 14 Siʹmeon+ het verduidelik hoe God vir die eerste keer aan die nasies gedink het sodat hy uit hulle ’n volk vir sy naam kan neem.+ 15 En die woorde van die profete stem hiermee ooreen, net soos daar geskryf is: 16 ‘Ná hierdie dinge sal ek terugkeer en die tent* van Dawid, wat ineengestort het, weer oprig, en ek sal dit* herbou en herstel, 17 sodat die oorblywende mense Jehovah* opreg kan dien* saam met mense van al die nasies, mense wat my naam dra. So sê Jehovah,* wat hierdie dinge doen+ 18 en wat dit lank gelede bekend gemaak het.’+ 19 Daarom dink* ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die mense uit die nasies wat God wil dien nie,+ 20 maar dat ons aan hulle moet skryf om hulle te weerhou van dinge wat deur afgode besoedel is,+ van seksuele onsedelikheid,*+ van wat verwurg is* en van bloed.+ 21 Want van die ou tyd af was daar in elke stad mense wat Moses verkondig het, omdat hy elke sabbat in die sinagoges voorgelees word.”+

22 Toe het die apostels en die ouermanne saam met die hele gemeente besluit om manne onder hulle uit te kies en hulle saam met Paulus en Barʹnabas na Antioʹgië te stuur. Hulle het Judas gestuur, wat Barʹsabbas genoem is, sowel as Silas,+ manne wat die leiding onder die broers geneem het. 23 Hulle het die volgende brief geskryf en dit saam met hulle gestuur:

“Die apostels en die ouermanne, julle broers, aan die broers in Antioʹgië+ en Sirië en Siliʹsië wat uit die nasies is: Groete! 24 Ons het gehoor dat party onder ons julle besoek het en vir julle moeilikheid veroorsaak het deur wat hulle gesê het.+ Hulle het julle* probeer verwar, maar ons het nie vir hulle gesê om dit te doen nie. 25 Ons het dus saam besluit om manne te kies om na julle toe te stuur saam met ons geliefde Barʹnabas en Paulus, 26 manne wat hulle lewens* vir die naam van ons Here Jesus Christus gewaag het.+ 27 Daarom stuur ons Judas en Silas, sodat hulle ook dieselfde dinge vir julle kan sê.+ 28 Want die heilige gees+ en ons het besluit om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: 29 Weerhou julle van dinge wat aan afgode geoffer is,+ van bloed,+ van wat verwurg is*+ en van seksuele onsedelikheid.*+ As julle sorg dat julle wegbly van hierdie dinge, sal julle voorspoedig wees. Mag dit goed gaan met julle!”*

30 Nadat hierdie manne vertrek het, het hulle na Antioʹgië gegaan, waar hulle die hele groep bymekaargeroep het en die brief vir hulle gegee het. 31 Nadat hulle dit gelees het, was hulle bly oor die aanmoediging. 32 En omdat Judas en Silas ook profete was, het hulle die broers met baie toesprake aangemoedig en versterk.+ 33 Nadat hulle ’n ruk lank daar gebly het, het die broers hulle voorspoed toegewens toe hulle terugreis na dié wat hulle gestuur het. 34 *—— 35 Maar Paulus en Barʹnabas het in Antioʹgië gebly, waar hulle saam met baie ander die goeie nuus van die woord van Jehovah* aan ander geleer en bekend gemaak het.

36 En ná ’n hele paar dae het Paulus vir Barʹnabas gesê: “Kom ons gaan besoek nou die broers in elke stad waar ons die woord van Jehovah* verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.”+ 37 Barʹnabas was vasbeslote om Johannes, wat Markus+ genoem is, saam te vat. 38 Maar Paulus het nie gedink dat dit ’n goeie idee is om hom saam te vat nie, omdat hy hulle in Pamfiʹlië verlaat het en nie saam met hulle gegaan het om die werk te doen nie.+ 39 Toe het hulle vir mekaar kwaad geword en begin stry, en hulle het uitmekaargegaan. Barʹnabas+ het Markus saamgevat en na Siprus weggeseil. 40 Paulus het Silas gekies, en hulle het vertrek nadat die broers gebid het dat Jehovah* onverdiende goedheid aan Paulus betoon.+ 41 Hy het deur Sirië en Siliʹsië gegaan en die gemeentes versterk.

16 Toe het hy in Derbe en ook in Listra+ aangekom. Daar was ’n dissipel met die naam Timoʹteus,+ die seun van ’n gelowige Joodse vrou maar van ’n Griekse pa, 2 en die broers in Listra en Ikoʹnium het goeie dinge oor hom gesê. 3 Paulus het gesê dat hy Timoʹteus graag wil saamvat, en hy het hom besny as gevolg van die Jode op daardie plekke,+ want hulle almal het geweet dat sy pa ’n Griek is. 4 Terwyl hulle deur die stede gereis het, het hulle die broers en susters laat weet wat die apostels en ouermanne in Jerusalem besluit het, sodat hulle dit kan gehoorsaam.+ 5 As gevolg hiervan het die gemeentes heeltyd sterker geword in die geloof en het hulle dag ná dag bly vermeerder.

6 Hulle het ook deur Friʹgië en Galaʹsië+ gereis omdat hulle deur die heilige gees verbied is om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7 En toe hulle by Miʹsië kom, het hulle na Bitiʹnië+ probeer gaan, maar die gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. 8 Toe het hulle verby* Miʹsië gegaan en na Troas gereis. 9 En gedurende die nag het Paulus ’n visioen gehad – daar het ’n Masedoʹniese man gestaan wat hom gesmeek het: “Kom oor na Masedoʹnië en help ons.” 10 Net nadat hy die visioen gesien het, het ons na Masedoʹnië probeer gaan, want ons het die gevolgtrekking gemaak dat God ons geroep het om die goeie nuus aan hulle bekend te maak.

11 Ons het toe van Troas af gevaar, reguit na Samotraʹke, maar die volgende dag na Neaʹpolis, 12 en daarvandaan het ons na Filipʹpi+ gegaan, ’n kolonie, wat die belangrikste stad van die distrik Masedoʹnië is. Ons het ’n paar dae lank in hierdie stad gebly. 13 Op die Sabbatdag het ons by die poort uitgegaan na ’n plek langs ’n rivier, waar ons gedink het ’n bidplek is, en ons het gaan sit en met die vrouens begin praat wat daar bymekaargekom het. 14 ’n Vrou met die naam Liʹdia, wat ’n aanbidder van God was, het geluister. Sy was van die stad Tiatiʹra+ en het pers materiaal verkoop. Jehovah* het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat Paulus gesê het. 15 En toe sy en die mense in haar huis gedoop is,+ het sy by ons aangedring en gesê: “As julle dink dat ek getrou is aan Jehovah,* kom bly dan in my huis.” En sy het ons eenvoudig gedwing om te kom.

16 En terwyl ons op pad was na die bidplek, het ons ’n diensmeisie raakgeloop. Sy het ’n gees, ’n demoon, in haar gehad wat haar in staat gestel het om die toekoms te voorspel.+ Sy het vir haar meesters baie geld gemaak deur mense se toekoms te voorspel. 17 Hierdie meisie het Paulus en ons bly volg terwyl sy uitgeroep het: “Hierdie mense is slawe van die allerhoogste God,+ en hulle verkondig die weg van redding aan julle.” 18 Sy het dit baie dae lank gedoen. Uiteindelik het Paulus moeg geword daarvoor en omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die naam van Jesus Christus om uit haar uit te kom.” En die gees het onmiddellik uitgekom.+

19 Wel, toe haar meesters sien dat hulle haar nie meer kan gebruik om geld te maak nie,+ het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle tot op die markplein, na die heersers toe, gesleep.+ 20 Hulle het hulle na die magistrate gevat en gesê: “Hierdie mense maak groot moeilikheid in ons stad.+ Hulle is Jode, 21 en hulle verkondig gebruike wat ons nie mag aanvaar of beoefen nie, want ons is Romeine.” 22 En die skare het saam teen hulle opgestaan, en nadat die magistrate die manne se klere van hulle afgeskeur het, het hulle beveel dat hulle met stokke geslaan moet word.+ 23 Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder is beveel om hulle veilig te bewaak.+ 24 As gevolg van hierdie bevel het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgemaak.

25 Maar omtrent middernag was Paulus en Silas besig om te bid en om God te loof deur liedere te sing,+ en die gevangenes het na hulle geluister. 26 Skielik was daar ’n groot aardbewing, en die fondamente van die tronk het geskud. Al die deure het ook dadelik oopgegaan, en almal se boeie het losgeraak.+ 27 Toe die bewaarder wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek en wou hy homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het.+ 28 Maar Paulus het met ’n harde stem uitgeroep: “Moenie jouself seermaak nie, want ons is almal hier!” 29 Toe het hy gevra dat lampe gebring word. Hy het vinnig ingegaan en gebewe terwyl hy voor Paulus en Silas neergeval het. 30 Hy het hulle uitgebring en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” 31 Hulle het gesê: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en die mense in jou huis.”+ 32 Toe het hulle die woord van Jehovah* aan hom en almal in sy huis bekend gemaak. 33 En hy het hulle daardie selfde nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Toe is hy en almal in sy huis dadelik gedoop.+ 34 En hy het hulle in sy huis ingebring en ’n tafel vir hulle gedek, en hy en almal in sy huis was baie bly noudat hy in God begin glo het.

35 Toe dit dag word, het die magistrate die konstabels gestuur om te sê: “Laat daardie manne vry.” 36 Die bewaarder het vir Paulus gesê: “Die magistrate het manne gestuur om julle twee vry te laat. Kom dan nou uit en gaan in vrede.” 37 Maar Paulus het vir hulle gesê: “Hulle het ons in die openbaar geslaan sonder ’n verhoor, al is ons Romeine,+ en hulle het ons in die tronk gegooi. Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi? Beslis nie! Laat hulle self kom en ons uitbring.” 38 Die konstabels het toe hierdie boodskap aan die magistrate oorgedra, en hulle het bang geword toe hulle hoor dat die manne Romeine is.+ 39 Toe het hulle gekom en hulle gesmeek, en nadat hulle uitgebring is, het hulle hulle gevra om die stad te verlaat. 40 Maar toe hulle uit die tronk kom, het hulle na Liʹdia se huis gegaan, en toe hulle die broers sien, het hulle hulle aangemoedig+ en vertrek.

17 Hulle het toe deur Amfiʹpolis en Apolloʹnië gereis en by Tessaloʹnika gekom,+ waar daar ’n sinagoge van die Jode was. 2 Toe het Paulus soos gewoonlik+ na hulle toe ingegaan, en hy het drie sabbatte lank uit die Skrif met hulle geredeneer+ 3 en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly+ en uit die dood moes opstaan.+ Hy het gesê: “Hierdie Jesus oor wie ek vir julle preek, is die Christus.” 4 As gevolg hiervan het party van hulle gelowiges geword en by Paulus en Silas+ aangesluit, asook ’n groot aantal Grieke wat God aanbid het en baie van die belangrike vrouens.

5 Maar die Jode het jaloers geword+ en het ’n klomp slegte manne bymekaargemaak wat op die markplein rondgehang het. Hulle het ’n groot groep gevorm en ’n oproer in die stad veroorsaak. Hulle het die huis van Jason aangeval omdat hulle wou hê dat Paulus en Silas na die groep toe uitgebring moes word. 6 Toe hulle hulle nie kon vind nie, het hulle Jason en party broers na die stadsleiers toe gesleep en uitgeroep: “Hierdie mense wat oral op die aarde moeilikheid gemaak het, is nou ook hier,+ 7 en Jason het hulle as sy gaste ontvang. Al hierdie mense kom in opstand teen die bevele van die keiser deur te sê dat daar ’n ander koning is, Jesus.”+ 8 Toe die skare en die stadsleiers hierdie dinge hoor, was hulle ontsteld, 9 en nadat Jason en die ander die borggeld betaal het, is hulle vrygelaat.

10 Die broers het Paulus en Silas onmiddellik in die nag na Bereʹa gestuur. Toe hulle daar aankom, het hulle in die sinagoge van die Jode ingegaan. 11 En die Jode in Bereʹa was gewilliger om te leer* as dié in Tessaloʹnika, want hulle het die woord gretig aanvaar en die Skrif elke dag deeglik ondersoek om te sien of hierdie dinge so was. 12 Baie van hulle het dus gelowiges geword, sowel as ’n groot aantal van die gerespekteerde Griekse vrouens en ook party van die mans. 13 Maar toe die Jode van Tessaloʹnika uitvind dat Paulus die woord van God ook in Bereʹa verkondig, het hulle daarheen gegaan om die mense teen hulle op te steek.+ 14 Toe het die broers Paulus onmiddellik weggestuur om na die see toe te gaan,+ maar Silas en Timoʹteus het daar agtergebly. 15 Dié wat saam met Paulus gegaan het, het hom egter tot by Atene geneem. Hulle het vertrek nadat hulle ’n opdrag gekry het dat Silas en Timoʹteus+ so gou moontlik na Paulus toe moet kom.

16 Terwyl Paulus in Atene vir hulle gewag het, het hy* geïrriteerd geraak toe hy sien dat die stad vol afgode is. 17 Toe het hy in die sinagoge begin redeneer met die Jode en die ander mense wat God aanbid het. Hy het ook elke dag geredeneer met dié wat op die markplein was. 18 Maar party van die Epikuʹriese en Stoïsynʹse filosowe het met hom begin stry, en party het gevra: “Wat wil hierdie man wat so baie praat nou eintlik sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy ’n verkondiger van vreemde gode is.” Dit was omdat hy die goeie nuus van Jesus en die opstanding bekend gemaak het.+ 19 Toe het hulle hom gegryp en hom na die Areoʹpagus gelei en gesê: “Kan jy vir ons sê wat hierdie nuwe leringe is waarvan jy praat? 20 Want jy praat van dinge wat vreemd klink in ons ore en ons wil weet wat hierdie dinge beteken.” 21 Om die waarheid te sê, al die Ateners en die uitlanders wat daar gebly het, het niks anders in hulle vrye tyd gedoen as om iets nuuts te vertel of na iets nuuts te luister nie. 22 Paulus het toe in die middel van die Areoʹpagus+ gestaan en gesê:

“Manne van Atene, dit lyk asof julle in alles meer vrees vir die gode het as wat ander het.*+ 23 Terwyl ek byvoorbeeld rondgegaan en julle heilige voorwerpe goed bekyk het, het ek selfs ’n altaar gevind waarop gegraveer is: ‘Aan ’n Onbekende God.’ Die een wat julle dan aanbid sonder dat julle dit besef, dit is hy wat ek aan julle verkondig. 24 Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, die Here van hemel en aarde,+ woon nie in handgemaakte tempels nie,+ 25 en hy word ook nie deur mensehande bedien asof hy enigiets nodig het nie,+ omdat hy self aan alle mense lewe en asem+ en alles gee. 26 En hy het uit een mens+ elke nasie van die mensdom gemaak om op die hele aarde te woon,+ en hy het die vasgestelde tye bepaal en die grense gestel van waar mense sou woon.+ 27 Want God wil hê dat mense hom moet soek, dat hulle hom ernstig moet soek* en hom werklik vind,+ want hy is eintlik nie ver van elkeen van ons af nie. 28 Want deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons, net soos party van julle digters gesê het: ‘Want ons is ook sy kinders.’*

29 “Omdat ons dan die kinders* van God is,+ moet ons nie dink dat die Goddelike Wese soos goud of silwer of klip is nie, soos ’n beeld wat deur die vaardigheid en ontwerp van die mens gemaak word nie.+ 30 Dit is waar dat mense daardie dinge gedoen het sonder dat hulle geweet het wat hulle doen,+ en God het dit oorgesien, maar nou sê God vir alle mense dat hulle berou moet toon. 31 Want hy het ’n dag vasgestel waarop hy die hele aarde in regverdigheid sal oordeel+ deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg gegee deur hom uit die dood op te wek.”+

32 En toe hulle hoor van ’n opstanding uit die dood, het party hom begin spot+ terwyl ander gesê het: “Ons sal weer wil hoor wat jy hieroor te sê het.” 33 Toe het Paulus hulle verlaat, 34 maar party ander het by hom aangesluit en gelowiges geword. Onder hulle was Dioniʹsius, wat ’n regter van die geregshof van die Areoʹpagus was, en ’n vrou met die naam Daʹmaris en nog ander saam met hulle.

18 Daarna het hy uit Atene vertrek en in Korinte gekom. 2 En hy het ’n Jood met die naam Aʹquila+ gevind, wat in Pontus gebore is. Aʹquila het kort tevore saam met sy vrou Priscilʹla uit Italië gekom omdat Claudius al die Jode beveel het om Rome te verlaat. Toe het hy na hulle toe gegaan, 3 en omdat hy dieselfde ambag as hulle gehad het, het hy by hulle gebly en saam met hulle gewerk,+ want hulle was tentmakers. 4 Hy het elke sabbat+ in die sinagoge+ ’n toespraak gehou* en Jode en Grieke oorreed.

5 Toe Silas+ en Timoʹteus+ van Masedoʹnië af kom, was Paulus druk besig om die woord te verkondig, en hy het vir die Jode getuig om te bewys dat Jesus die Christus is.+ 6 Maar nadat hulle aangehou het om hom teë te staan en hom te beledig, het hy sy klere uitgeskud+ en vir hulle gesê: “Laat julle bloed op julle eie koppe wees.+ Ek is rein.+ Van nou af sal ek na mense van die nasies toe gaan.”+ 7 Toe het hy daar* weggegaan en na die huis van ’n man met die naam Tiʹtius Justus gegaan, ’n aanbidder van God, wie se huis langs die sinagoge was. 8 Maar Krispus,+ die hoofbeampte van die sinagoge, en almal in sy huis het in die Here begin glo. En baie van die Korintiërs wat gehoor het, het begin glo en is gedoop. 9 En die Here het in die nag vir Paulus in ’n visioen gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie, 10 want ek is met jou,+ en geen mens sal jou aanval en jou seermaak nie, want ek het baie mense in hierdie stad.” 11 Toe het hy ’n jaar en ses maande daar gebly en die woord van God onder hulle geleer.

12 Terwyl Galʹlio prokonsul* van Agaʹje was, het die Jode saam besluit om Paulus aan te val, en hulle het hom na die regterstoel gelei 13 en gesê: “Hierdie man oorreed mense om God te aanbid op ’n manier wat teen die wet is.” 14 Maar net toe Paulus wou praat, het Galʹlio vir die Jode gesê: “As daar iets verkeerds gedoen is of ’n ernstige misdaad gepleeg is, o Jode, sou dit redelik van my wees om geduldig na julle te luister. 15 Maar as dit ’n stryery is oor woorde en name en julle eie wet,+ is dit julle saak. Ek wil nie in hierdie dinge ’n regter wees nie.” 16 Toe het hy hulle van die regterstoel af weggejaag. 17 Toe het hulle almal Sosʹtenes,+ die hoofbeampte van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel begin slaan. Maar Galʹlio wou glad nie hierby betrokke raak nie.

18 Nadat Paulus nog ’n hele paar dae gebly het, het hy van die broers afskeid geneem en na Sirië weggeseil, en Priscilʹla en Aʹquila het saam met hom gegaan. In Kenchreʹë+ het hy sy hare kort laat knip, want hy het ’n gelofte gemaak. 19 Toe het hulle in Efeʹse aangekom, en hy het hulle daar gelos, maar hy het in die sinagoge ingegaan en met die Jode geredeneer.+ 20 Al het hulle hom aanhoudend gevra om langer te bly, wou hy nie, 21 maar hy het van hulle afskeid geneem en vir hulle gesê: “As Jehovah* wil, sal ek weer na julle toe terugkeer.” Hy het toe van Efeʹse af weggevaar 22 en na Sesareʹa gegaan. En hy het verder* gegaan en die gemeente gaan groet en toe na Antioʹgië gegaan.+

23 Nadat hy ’n tyd lank daar gebly het, het hy vertrek en van plek tot plek deur Galaʹsië en Friʹgië+ gegaan en al die dissipels versterk.+

24 En ’n Jood met die naam Apolʹlos,+ wat in Aleksandrië gebore is, het in Efeʹse aangekom. Hy kon goed praat en het die Skrif baie goed geken. 25 Hierdie man is geleer* in die weg van Jehovah.* Hy was vol ywer as gevolg van die heilige gees en hy het die dinge oor Jesus noukeurig aan ander geleer, maar hy was net bekend met die doop van Johannes. 26 Hy het moedig in die sinagoge begin preek, en toe Priscilʹla en Aʹquila+ hom hoor, het hulle hom saamgeneem en die weg van God vir hom nog duideliker gemaak. 27 En omdat hy na Agaʹje wou gaan, het die broers aan die dissipels geskryf en hulle gevra om hom vriendelik te ontvang. Toe hy dus daar kom, het hy dié wat deur God se onverdiende goedheid gelowiges geword het, baie gehelp, 28 want hy het die Jode in die openbaar kragtig en deeglik verkeerd bewys en vir hulle uit die Skrif gewys dat Jesus die Christus is.+

19 Terwyl Apolʹlos+ in Korinte was, het Paulus deur die binneland gegaan en in Efeʹse+ aangekom. Daar het hy ’n aantal dissipels gevind, 2 en hy het vir hulle gevra: “Het julle heilige gees ontvang toe julle gelowiges geword het?”+ Hulle het vir hom gesê: “Nee, ons het nog nooit gehoor dat daar ’n heilige gees is nie.” 3 Toe het hy gevra: “Met watter doop is julle dan gedoop?” Hulle het gesê: “Met die doop van Johannes.”+ 4 Paulus het gesê: “Johannes het gedoop met die doop as ’n simbool van berou+ en hy het vir die mense gesê om te glo in die een wat ná hom kom,+ dit wil sê in Jesus.” 5 Toe hulle dit hoor, is hulle in die naam van die Here Jesus gedoop. 6 En toe Paulus sy hande op hulle lê, het die heilige gees op hulle gekom,+ en hulle het in vreemde tale begin praat en geprofeteer.+ 7 Daar was altesaam omtrent 12 manne.

8 Hy het in die sinagoge ingegaan+ en drie maande lank moedig gepreek deur toesprake te hou en met die mense te redeneer om hulle van die Koninkryk van God te oortuig.+ 9 Maar toe party hardkoppig weier om te glo en hulle slegte dinge van Die Weg+ voor die skare sê, het hy van hulle af weggegaan+ en die dissipels van hulle afgesonder en elke dag toesprake in die skoolouditorium van Tiranʹnus gehou. 10 Dit het twee jaar lank so aangehou, en almal wat in die provinsie Asië gewoon het, het die woord van die Here gehoor, Jode sowel as Grieke.

11 En God het buitengewone kragtige werke deur die hande van Paulus bly doen,+ 12 en selfs doeke en voorskote wat aan sy liggaam geraak het, is na die siekes geneem,+ en hulle siektes het verdwyn, en die bose geeste het uitgekom.+ 13 Maar party van die Jode wat rondgereis het en demone uitgedryf het, het ook die naam van die Here Jesus probeer gebruik oor dié wat bose geeste gehad het. Hulle het gesê: “Ek beveel julle in die naam van Jesus wat deur Paulus verkondig word.”+ 14 En daar was sewe seuns van ’n Joodse hoofpriester met die naam Skeva wat dit gedoen het. 15 Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Ek ken Jesus+ en ek weet wie Paulus+ is, maar wie is julle?” 16 Toe het die man in wie die bose gees was, op hulle gespring. Hy het teen hulle baklei en die oorhand oor die een ná die ander gekry sodat hulle kaal en beseer uit daardie huis gevlug het. 17 Al die Jode sowel as die Grieke wat in Efeʹse gewoon het, het daarvan gehoor en baie bang geword, en die naam van die Here Jesus is voortdurend verheerlik. 18 En baie van dié wat gelowiges geword het, het gekom en openlik bely en bekend gemaak wat hulle gedoen het. 19 Ja, baie van dié wat toorkuns beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en dit voor almal verbrand.+ En hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit 50 000 silwerstukke werd was. 20 So het die woord van Jehovah* grootliks bly groei en kragtiger geword.+

21 Ná hierdie dinge het Paulus besluit dat hy na Jerusalem sou reis+ nadat hy deur Masedoʹnië+ en Agaʹje gegaan het. Hy het gesê: “Nadat ek daar was, moet ek ook Rome toe gaan.”+ 22 Toe het hy twee van sy helpers, Timoʹteus+ en Erasʹtus,+ na Masedoʹnië gestuur, maar hy het ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.

23 In daardie tyd het daar ’n groot opskudding+ oor Die Weg+ ontstaan. 24 ’n Man met die naam Demeʹtrius, ’n silwersmid, het silwertempeltjies gemaak wat soos die tempel van Arʹtemis gelyk het. Hy en die ander ambagsmanne het ’n groot wins gemaak.+ 25 Hy het hulle en nog ander ambagsmanne bymekaargeroep en gesê: “Manne, julle weet goed dat dit hierdie werk is wat ons voorspoedig maak. 26 Nou sien en hoor julle hoe hierdie Paulus nie net in Efeʹse+ nie, maar in byna die hele provinsie Asië ’n groot groep oorreed het en hulle van opinie laat verander het. Hy sê dat die gode wat met hande gemaak word, nie regtig gode is nie.+ 27 Nou is ek ook bang dat ons besigheid ’n slegte naam sal kry en dat mense die tempel van die groot godin Arʹtemis as niks sal beskou nie. En al word sy nou in die hele provinsie Asië en oor die hele aarde aanbid, sal sy nie meer vereer word nie.” 28 Toe die mense dit hoor, het hulle baie kwaad geword. Hulle het begin uitroep: “Groot is Arʹtemis van die Efesiërs!”

29 Toe was daar verwarring oral in die stad, en hulle het almal saam by die teater ingestorm en Gajus en Aristarʹgus,+ Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, saamgesleep. 30 Paulus was bereid om in te gaan na die volk toe, maar die dissipels het hom nie toegelaat nie. 31 Selfs party mense wat die feeste en spele georganiseer het en ’n vriendelike gesindheid teenoor hom gehad het, het vir hom ’n boodskap gestuur en hom gesmeek om dit nie in die teater te waag nie. 32 Intussen was die vergadering in verwarring, want party het een ding uitgeroep en ander iets anders, en die meeste van hulle het nie geweet waarom hulle daar bymekaargekom het nie. 33 Toe het die mense Aleksander uit die skare gebring omdat die Jode hom vorentoe gestoot het. Aleksander het met sy hand beduie en wou hom voor die volk verdedig. 34 Maar toe hulle agterkom dat hy ’n Jood is, het hulle almal omtrent twee uur lank saam geskree: “Groot is Arʹtemis van die Efesiërs!”

35 Toe die hoofamptenaar van die stad die skare uiteindelik laat bedaar het, het hy gesê: “Manne van Efeʹse, wie weet tog nie dat die stad van die Efesiërs die bewaarder is van die groot Arʹtemis se tempel en die beeld wat uit die hemel geval het nie? 36 Omdat hierdie dinge nie ontken kan word nie, moet julle kalm bly en nie oorhaastig optree nie. 37 Want julle het hierdie manne hierheen gebring, wat nie tempelrowers of lasteraars van ons godin is nie. 38 As Demeʹtrius+ en die ambagsmanne by hom dus ’n saak teen iemand het – daar is howe en prokonsuls* daarvoor. Laat hulle mekaar daar aankla. 39 Maar as julle enigiets meer as dit wil hê, moet ’n wettige vergadering daaroor besluit. 40 Want wat vandag gebeur het, stel ons in groot gevaar. Ons kan van opstand aangekla word omdat ons nie ’n rede kan gee vir hierdie groot opskudding nie.” 41 En nadat hy hierdie dinge gesê het, het hy die vergadering verdaag.

20 Toe die opskudding bedaar het, het Paulus die dissipels laat roep, en nadat hy hulle aangemoedig het, het hy hulle gegroet en na Masedoʹnië vertrek. 2 Nadat hy deur daardie gebiede gegaan het en baie aanmoediging gegee het aan dié wat daar was, het hy in Griekeland aangekom. 3 Hy het drie maande daar gebly, maar toe hy op die punt was om na Sirië weg te seil, het hy uitgevind dat die Jode beplan om hom dood te maak.+ Daarom het hy besluit om deur Masedoʹnië terug te gaan. 4 ’n Aantal mans het saam met hom gegaan: Soʹpater, die seun van Pirrus van Bereʹa, Aristarʹgus+ en Sekunʹdus van die Tessalonisense, Gajus van Derbe, Timoʹteus,+ asook Tiʹgikus+ en Troʹfimus+ uit die provinsie Asië. 5 Hierdie mans het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag, 6 maar ons het ná die dae van die Ongesuurde Brode+ uit Filipʹpi vertrek, en ons het binne vyf dae by hulle in Troas gekom, en ons het sewe dae daar gebly.

7 Op die eerste dag van die week, toe ons bymekaar was om te eet, het Paulus ’n toespraak vir hulle begin hou omdat hy die volgende dag sou vertrek, en sy toespraak het tot middernag aangehou. 8 En daar was ’n hele paar lampe in die bo-kamer waar ons bymekaar was. 9 ’n Jong man met die naam Euʹtigus het by die venster gesit en het vas aan die slaap geraak terwyl Paulus gepraat het. Hy het van die derde verdieping afgeval, en toe hulle hom gaan optel, was hy dood. 10 Maar Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, sy arms om hom gesit+ en gesê: “Hou op om so te huil, want hy lewe.”*+ 11 Toe het hy boontoe gegaan en die brood gebreek* en geëet. Hy het nog ’n hele ruk gepraat, tot dagbreek toe, en toe het hy vertrek. 12 Hulle het toe die seun lewend weggeneem en was grootliks vertroos.

13 Ons het toe na die skip toe gegaan en na Assus weggeseil. Ons het beplan om Paulus daar op te laai soos hy met ons afgespreek het, want hy was van plan om daarheen te stap. 14 En toe hy ons in Assus kry, het ons hom opgelaai en na Mitileʹne gegaan. 15 En ons het die volgende dag daar weggeseil en by Chios aangekom, maar die dag daarna het ons Samos bereik en nog ’n dag later by Mileʹte aangekom. 16 Paulus het besluit om verby Efeʹse+ te seil omdat hy nie tyd in die provinsie Asië wou deurbring nie, want hy wou gou maak sodat hy, indien moontlik, op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem+ kon wees.

17 Maar hy het ’n boodskap van Mileʹte af na Efeʹse gestuur en die ouermanne van die gemeente laat roep. 18 Toe hulle by hom kom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet goed hoe ek myself onder julle gedra het van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië+ gekom het, 19 hoe ek die Here as ’n slaaf gedien het met alle nederigheid+ en met trane en hoe ek gely het as gevolg van die Jode se planne om my dood te maak, 20 terwyl ek nie gehuiwer het om julle alles te vertel wat voordelig is en julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.+ 21 Maar ek het deeglik vir die Jode en die Grieke getuig oor berou+ teenoor God en geloof in ons Here Jesus.+ 22 En nou word ek deur die heilige gees na Jerusalem gelei, al weet ek nie wat daar met my sal gebeur nie. 23 Ek weet net dat die heilige gees my van stad tot stad herhaaldelik waarsku dat gevangenskap en vervolging op my wag.+ 24 Tog is my eie lewe* nie vir my belangrik nie,* solank ek net my loopbaan en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi,+ naamlik om deeglik van die goeie nuus van God se onverdiende goedheid te getuig.

25 “En nou weet ek dat nie een van julle aan wie ek die Koninkryk verkondig het, my ooit weer sal sien nie. 26 Ek roep julle vandag as getuies dat ek rein is van die bloed van alle mense,+ 27 want ek het nie gehuiwer om julle van God se hele voorneme* te vertel nie.+ 28 Skenk aandag aan julleself+ en aan die hele kudde, waaroor die heilige gees julle as opsieners aangestel het,+ om herders te wees vir die gemeente van God,+ wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het.+ 29 Ek weet dat wrede wolwe onder julle sal inkom+ nadat ek weggegaan het en die kudde sal mishandel, 30 en onder julle sal manne opstaan wat die waarheid sal verdraai om die dissipels agter hulle aan weg te trek.+

31 “Bly dus wakker, en hou in gedagte dat ek drie jaar lank,+ dag en nag, nooit opgehou het om elkeen van julle met trane raad te gee nie. 32 En nou laat ek julle oor aan die sorg van God en aan die woord van sy onverdiende goedheid, die woord wat julle kan opbou en julle die erfenis onder al die heiliges kan gee.+ 33 Ek het geen mens se silwer of goud of klere begeer nie.+ 34 Julle weet self dat hierdie hande in my behoeftes+ en in die behoeftes van dié wat saam met my was, voorsien het. 35 Ek het in alles vir julle gewys dat julle deur hard te werk+ die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, toe hy self gesê het: ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee+ as om te ontvang.’”

36 En toe hy hierdie dinge gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37 Toe het hulle almal baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen,* 38 want hulle was baie hartseer omdat hy vir hulle gesê het dat hulle hom nie meer sou sien nie.+ Toe het hulle saam met hom tot by die skip geloop.

21 Nadat ons swaar van hulle afskeid geneem het, het ons op ’n skip geklim en reguit tot by Kos gevaar. Die volgende dag het ons na Rodos gevaar, en daarvandaan na Paʹtara. 2 Toe het ons op ’n skip geklim wat op pad was na Feniʹsië toe en weggeseil. 3 Ons het die eiland Siprus aan ons linkerkant gesien, maar ons het daar verbygegaan en na Sirië geseil en by Tirus afgeklim, waar die skip sy vrag moes aflaai. 4 Ons het na die dissipels gesoek en hulle gevind en sewe dae daar gebly. Maar deur die gees het hulle herhaaldelik vir Paulus gesê om nie ’n voet in Jerusalem+ te sit nie. 5 En toe ons tyd daar tot ’n einde gekom het, het ons verder gereis, maar hulle almal, insluitende die vrouens en kinders, het saam met ons gegaan tot buite die stad. En ons het op die strand gekniel en gebid 6 en van mekaar afskeid geneem. Toe het ons op die skip geklim, en hulle het teruggegaan huis toe.

7 Ons het toe met die skip van Tirus af na Ptolemaʹïs gegaan, en ons het die broers gegroet en een dag by hulle gebly. 8 Die volgende dag het ons vertrek en in Sesareʹa aangekom, en ons het in die huis ingegaan van Filippus, die evangelieprediker, wat een van die sewe manne was,+ en ons het by hom gebly. 9 Hierdie man het vier ongetroude* dogters gehad wat geprofeteer het.+ 10 Maar nadat ons ’n hele paar dae daar gebly het, het ’n profeet met die naam Aʹgabus+ van Judeʹa af gekom. 11 Hy het na ons toe gekom en Paulus se lyfband geneem en dit om sy eie voete en hande gebind en gesê: “So sê die heilige gees: ‘Die man aan wie hierdie lyfband behoort, sal so deur die Jode in Jerusalem gebind word,+ en hulle sal hom in die hande van mense van die nasies oorlewer.’”+ 12 En toe ons dit hoor, het ons en dié wat by ons was, Paulus begin smeek om nie na Jerusalem te gaan nie. 13 Toe het hy geantwoord: “Hoekom probeer julle my van plan laat verander* deur so te huil? Wees verseker, ek is nie net gereed om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf vir die naam van die Here Jesus.”+ 14 Omdat hy hom nie laat ompraat het nie, het ons opgehou om hom te probeer keer* en gesê: “Laat die wil van Jehovah* plaasvind.”

15 En ná hierdie dae het ons vir die reis voorberei en na Jerusalem vertrek. 16 Party van die dissipels uit Sesareʹa het ook saam met ons gegaan en ons na Mnason van Siprus geneem. Hy was een van die eerste dissipels, en ons sou in sy huis bly. 17 Toe ons in Jerusalem kom, het die broers ons met blydskap verwelkom. 18 Maar die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus+ toe gegaan, en al die ouermanne was daar. 19 En hy het hulle gegroet en in besonderhede begin vertel van die dinge wat God onder die nasies deur sy bediening gedoen het.

20 Nadat hulle dit gehoor het, het hulle God begin verheerlik, maar hulle het vir hom gesê: “Broer, jy sien hoeveel duisende gelowiges daar onder die Jode is, en hulle almal is ywerig vir die Wet.+ 21 Maar hulle het gehoor dat daar gesê is dat jy al die Jode onder die nasies geleer het om van Moses afvallig te word deur vir hulle te sê om nie hulle kinders te besny of die gebruike te volg nie.+ 22 Wat moet daaromtrent gedoen word? Hulle gaan beslis hoor dat jy gekom het. 23 Doen dan wat ons vir jou sê: Ons het vier manne wat ’n gelofte gemaak het. 24 Neem hierdie manne saam met jou en reinig jou seremonieel saam met hulle en betaal vir hulle die koste sodat hulle hulle koppe kan laat skeer. Dan sal almal weet dat die dinge wat hulle van jou gehoor het, nie waar is nie, maar dat jy jou goed gedra en self ook die Wet gehoorsaam.+ 25 En ons het die gelowiges uit die nasies skriftelik laat weet van ons besluit dat hulle hulle moet weerhou van afgodsoffers,+ van bloed,+ van wat verwurg is*+ en van seksuele onsedelikheid.”*+

26 Die volgende dag het Paulus die manne geneem en hom saam met hulle seremonieel gereinig.+ Hy het in die tempel ingegaan om te sê wanneer die dae vir die seremoniële reiniging voltooi sou wees en die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.

27 En toe die sewe dae amper verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare opgesteek, en hulle het hom gegryp 28 en uitgeroep: “Manne van Israel, help! Dit is die man wat oral en aan almal dinge leer wat teen die volk en ons Wet en hierdie plek is. En hy het selfs Grieke in die tempel ingebring en het hierdie heilige plek onrein gemaak.”+ 29 Want hulle het Troʹfimus,+ die Efesiër, voorheen in die stad saam met hom gesien, en hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingebring het. 30 Daar was ’n opskudding in die hele stad, en die mense het saam aangehardloop gekom en Paulus gegryp en hom tot buite die tempel gesleep, en die deure is onmiddellik toegemaak. 31 Terwyl hulle hom probeer doodmaak het, het die bevelvoerder van die leërafdeling ’n boodskap gekry dat die hele Jerusalem in verwarring is, 32 en hy het dadelik soldate en militêre offisiere geneem en na hulle toe gehardloop. Toe hulle die militêre bevelvoerder en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan.

33 Toe het die militêre bevelvoerder nader gekom en hom gearresteer en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word.+ Hy het toe begin vra wie hy is en wat hy gedoen het. 34 Maar party in die skare het een ding begin uitroep en ander iets anders. En omdat hy as gevolg van die opskudding nie kon uitvind wat aangaan nie, het hy beveel dat hy na die soldate se kwartiere gebring moet word. 35 Maar toe Paulus by die trappe kom, moes die soldate hom dra omdat die skare so gewelddadig was, 36 want ’n groep mense het agter hulle aangeloop en uitgeroep: “Maak hom dood!”

37 Net voordat hy in die soldate se kwartiere ingelei sou word, het Paulus vir die militêre bevelvoerder gevra: “Mag ek vir u iets sê?” Hy het gevra: “Kan jy dan Grieks praat? 38 Is jy dan nie die Egiptenaar wat ’n ruk gelede ’n opstand veroorsaak het en 4 000 gewapende manne na die wildernis geneem het nie?” 39 Toe het Paulus gesê: “Ek is eintlik ’n Jood,+ van Tarsus+ in Siliʹsië, ’n burger van ’n bekende stad. Daarom smeek ek u: Laat my toe om met die volk te praat.” 40 Nadat hy toestemming gegee het, het Paulus, wat op die trap gestaan het, met sy hand vir die volk beduie. Toe die mense stil word, het hy in Hebreeus met hulle gepraat+ en gesê:

22 “Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging.”+ 2 Wel, toe hulle hoor dat hy in Hebreeus met hulle praat, was hulle nog stiller, en hy het gesê: 3 “Ek is ’n Jood,+ gebore in Tarsus van Siliʹsië,+ maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamaʹliël.+ Ek is onderrig volgens die strengheid van die Wet wat ons voorvaders gevolg het,+ en ek is ywerig vir God net soos julle almal vandag is.+ 4 Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg en mans sowel as vrouens geboei en aan tronke oorgelewer,+ 5 soos die hoëpriester en die hele vergadering van ouermanne kan getuig. Ek het ook briewe by hulle gekry om na die broers in Damaskus te neem, en ek was op pad om dié wat daar was, te boei en na Jerusalem te bring om gestraf te word.

6 “Maar terwyl ek gereis het en naby Damaskus gekom het, omtrent in die middel van die dag, het daar skielik ’n groot lig uit die hemel op my geskyn,+ 7 en ek het op die grond geval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, hoekom vervolg jy my?’ 8 Ek het geantwoord: ‘Wie is u, Here?’ En hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus die Nasarener, wat jy vervolg.’ 9 Die manne wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die stem gehoor van die een wat met my gepraat het nie. 10 Toe het ek gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here het vir my gesê: ‘Staan op, gaan in Damaskus in, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’+ 11 Maar omdat daardie lig so skerp was, kon ek niks sien nie, en dié wat saam met my was, het my aan die hand tot in Damaskus gelei.

12 “Ananiʹas, ’n godvresende man wat volgens die Wet gelewe het en oor wie al die Jode wat daar gebly het, goeie dinge gesê het, 13 het toe na my toe gekom. Hy het by my gestaan en vir my gesê: ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik het ek opgekyk en hom gesien.+ 14 Hy het gesê: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te leer ken en die Regverdige te sien+ en sy stem te hoor, 15 want jy moet by alle mense vir hom ’n getuie wees van die dinge wat jy gesien en gehoor het.+ 16 Waarvoor wag jy nou? Staan op, laat jou doop en was jou sondes af+ deur sy naam aan te roep.’+

17 “Maar toe ek teruggegaan het na Jerusalem+ en besig was om in die tempel te bid, het ek ’n visioen gehad 18 en die Here gesien. Hy het vir my gesê: ‘Maak gou en gaan vinnig uit Jerusalem uit, want hulle sal nie jou getuienis oor my aanvaar nie.’+ 19 Ek het gesê: ‘Here, hulle weet goed dat ek dié wat in u glo, in die tronk gegooi het en in die een sinagoge ná die ander geslaan het.+ 20 En toe hulle Stefaʹnus, u getuie, doodgemaak het, het ek daar gestaan en dit goedgekeur, en ek het die bo-klere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’+ 21 Tog het hy vir my gesê: ‘Gaan, want ek sal jou na nasies stuur wat ver van hier af is.’”+

22 Die volk het tot op daardie oomblik na hom geluister. Toe het hulle begin uitroep: “So ’n mens moet doodgemaak word, want hy verdien nie om te lewe nie!” 23 Omdat hulle uitgeroep en hulle bo-klere rondgegooi en stof in die lug gegooi het,+ 24 het die militêre bevelvoerder beveel dat Paulus in die soldate se kwartiere ingebring moet word. Hy het gesê dat hulle hom met ’n gésel* moet slaan terwyl hy ondervra word, sodat hy kon uitvind presies hoekom hulle so teen Paulus skree. 25 Maar toe hulle hom uitstrek om hom te slaan, het Paulus vir die militêre offisier wat daar gestaan het, gesê: “Het julle die reg om ’n Romein* wat nog nie verhoor is nie,* met ’n gésel* te slaan?”+ 26 Wel, toe die militêre offisier dit hoor, het hy na die militêre bevelvoerder toe gegaan. Hy het hom hiervan vertel en vir hom gesê: “Wat is u van plan om te doen? Hierdie man is dan ’n Romein.” 27 Toe het die militêre bevelvoerder nader gekom en vir hom gevra: “Sê vir my, is jy ’n Romein?” Hy het gesê: “Ja.” 28 Die militêre bevelvoerder het toe gesê: “Ek het hierdie burgerskap vir ’n groot bedrag geld gekoop.” Paulus het gesê: “Maar ek is as ’n Romein gebore.”+

29 Daarom het die manne wat op die punt gestaan het om hom te martel en hom te ondervra, hom onmiddellik uitgelos, en die militêre bevelvoerder het bang geword toe hy besef dat hy ’n Romein is en dat hy hom laat boei het.+

30 Omdat hy met sekerheid wou weet waarvan die Jode Paulus beskuldig, het hy hom die volgende dag vrygelaat en die hoofpriesters en die hele Sanheʹdrin beveel om bymekaar te kom. Toe het hy Paulus afgebring en hom tussen hulle laat staan.+

23 Paulus het reguit na die Sanheʹdrin gekyk en gesê: “Manne, broers, ek het tot vandag toe met ’n skoon gewete+ voor God gelewe.” 2 Toe het die hoëpriester Ananiʹas dié wat by hom gestaan het, beveel om hom op die mond te slaan. 3 Toe het Paulus vir hom gesê: “God gaan jou slaan, jou skynheilige.* Jy sit om my volgens die Wet te oordeel, maar terselfdertyd oortree jy die Wet deur te beveel dat ek geslaan moet word.” 4 Dié wat daar gestaan het, het gevra: “Beledig jy die hoëpriester van God?” 5 Paulus het gesê: “Broers, ek het nie geweet dat hy hoëpriester is nie. Want daar is geskryf: ‘Jy mag nie ’n heerser van jou volk beledig nie.’”+

6 Paulus het geweet dat die een deel Sadduseërs is en dat die ander deel Fariseërs is, en daarom het hy in die Sanheʹdrin uitgeroep: “Manne, broers, ek is ’n Fariseër,+ ’n seun van Fariseërs. Ek word geoordeel omdat ek in die opstanding van die dooies glo.” 7 Omdat hy dit gesê het, het daar onenigheid tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering was verdeeld. 8 Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding of engel of gees is nie, maar die Fariseërs glo wel daarin.*+ 9 Toe het die mense hard begin skree, en sommige van die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en erg begin stry en gesê: “Ons vind niks verkeerds in hierdie man nie, maar as ’n gees of ’n engel met hom gepraat het+ . . . ” 10 En toe die onenigheid erger word, was die militêre bevelvoerder bang dat hulle Paulus sou doodmaak. Hy het die soldate beveel om af te gaan om Paulus tussen hulle te gaan haal en hom in die soldate se kwartiere in te bring.

11 Maar die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: “Moenie moed verloor nie!+ Want net soos jy in Jerusalem deeglik oor my getuig het, so moet jy ook in Rome getuig.”+

12 Toe dit dag word, het die Jode ’n plan beraam om Paulus dood te maak. Hulle het ’n eed afgelê dat hulle vervloek sou wees as hulle eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het. 13 Daar was meer as 40 manne wat hierdie eed afgelê het. 14 Hierdie manne het na die hoofpriesters en die ouermanne toe gegaan en gesê: “Ons het ’n eed afgelê dat ons vervloek sal wees as ons enigiets eet voordat ons Paulus doodgemaak het. 15 Julle en die Sanheʹdrin moet dan nou vir die militêre bevelvoerder laat weet dat hy Paulus na julle toe moet bring. Julle moet maak asof julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Maar voordat hy naby kom, sal ons gereed wees om hom dood te maak.”

16 Maar die seun van Paulus se suster het gehoor dat hulle beplan om hom voor te lê, en hy het in die soldate se kwartiere ingegaan en Paulus hiervan vertel. 17 Paulus het toe een van die militêre offisiere na hom toe geroep en gesê: “Neem hierdie jong man na die militêre bevelvoerder toe, want hy het iets om vir hom te vertel.” 18 Toe het hy hom geneem en hom na die militêre bevelvoerder toe gelei en gesê: “Die gevangene Paulus het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring, want hy het iets om vir u te vertel.” 19 Die militêre bevelvoerder het hom by die hand eenkant toe geneem en gevra: “Wat het jy om vir my te vertel?” 20 Hy het gesê: “Die Jode het ingestem om u te vra om Paulus môre na die Sanheʹdrin te bring. Hulle gaan maak asof hulle sy saak noukeuriger wil ondersoek.+ 21 Maar moenie dat hulle u oorreed nie, want môre gaan meer as 40 van hulle manne hom voorlê, en hulle het ’n eed afgelê dat hulle vervloek sal wees as hulle eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het.+ Hulle is nou gereed en wag net dat u toestemming gee.” 22 Toe het die militêre bevelvoerder die jong man laat gaan nadat hy hom beveel het: “Moet vir niemand sê dat jy my hiervan vertel het nie.”

23 En hy het twee van die militêre offisiere geroep en vir hulle gesê: “Kry 200 soldate, 70 perderuiters en 200 spiesvegters gereed om teen die derde uur van die nag* tot by Sesareʹa te gaan. 24 Sorg ook dat daar perde beskikbaar is om Paulus veilig na Feliks die goewerneur te neem.” 25 En hy het die volgende brief geskryf:

26 “Van Claudius Liʹsias aan Sy Eksellensie, goewerneur Feliks: Groete! 27 Hierdie man is deur die Jode gegryp en is amper deur hulle doodgemaak, maar ek het vinnig met my soldate gekom en hom gered,+ want ek het uitgevind dat hy ’n Romein is.+ 28 En omdat ek wou uitvind waarvan hulle hom beskuldig, het ek hom na hulle Sanheʹdrin gebring.+ 29 Ek het uitgevind dat hy beskuldig word van dinge wat met hulle Wet verband hou,+ maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie. 30 Maar omdat ek gehoor het dat hulle beplan om hom dood te maak,+ stuur ek hom dadelik na u toe en beveel ek die beskuldigers om voor u te sê wat hulle teen hom het.”

31 Toe het hierdie soldate Paulus geneem,+ net soos hulle beveel is, en hom in die nag na Antiʹpatris gebring. 32 Die volgende dag het hulle die perderuiters toegelaat om verder saam met hom te gaan, maar hulle het na die soldate se kwartiere teruggegaan. 33 Die perderuiters het in Sesareʹa ingegaan en die brief vir die goewerneur gegee en Paulus ook aan hom oorhandig. 34 Toe het hy dit gelees en gevra van watter provinsie hy is en uitgevind dat hy van Siliʹsië+ is. 35 Hy het gesê: “Ek sal seker maak dat jy behoorlik verhoor word wanneer jou beskuldigers hier aankom.”+ En hy het beveel dat hy in Herodes se paleis* bewaak word.

24 Vyf dae later het die hoëpriester Ananiʹas+ saam met party ouermanne en ’n openbare spreker* met die naam Tertulʹlus gekom en voor die goewerneur gesê waarvan hulle Paulus aankla.+ 2 Toe Tertulʹlus geroep is, het hy Paulus voor die goewerneur begin beskuldig en gesê:

“As gevolg van u geniet ons groot vrede, en weens u vooruitbeplanning vind daar veranderinge in hierdie nasie plaas. 3 Ons erken dit te alle tye en ook op alle plekke met die grootste dankbaarheid, Eksellensie Feliks. 4 Maar ek wil u nie verder ophou nie, en daarom smeek ek u om uit die goedheid van u hart ’n kort rukkie na ons te luister. 5 Want ons het gevind dat hierdie man ’n pes* is+ en dat hy al die Jode oor die hele aarde in opstand laat kom,+ en hy is ’n leier van die sekte van die Nasareners.+ 6 Hy het ook probeer om die tempel te ontheilig, en daarom het ons hom gearresteer.+ 7 *—— 8 Wanneer u hom ondervra, sal u uitvind van al hierdie dinge waarvan ons hom beskuldig.”

9 Toe het die Jode hom ook begin beskuldig en gesê dat hierdie dinge waar is. 10 Toe die goewerneur met ’n knik vir Paulus beduie om te praat, het hy gesê:

“Omdat ek goed weet dat hierdie nasie u al baie jare lank as regter het, sal ek myself met graagte voor u verdedig.+ 11 Ek het eers 12 dae gelede in Jerusalem aangekom om te aanbid, en as u wil, kan u uitvind of dit waar is.+ 12 Toe hulle my vind, was ek nie besig om in die tempel met iemand te stry of om die mense in die sinagoges of iewers in die stad opstandig te maak nie. 13 Hulle kan ook nie vir u bewys dat die dinge waarvan hulle my nou beskuldig, waar is nie. 14 Maar ek erken wel dat ek heilige diens aan die God van my voorvaders+ verrig volgens hierdie weg wat hulle ’n sekte noem. Ek glo alles wat in die Wet en in die boeke van die profete geskryf is.+ 15 En ek het die hoop op God, ’n hoop waarna hierdie manne ook uitsien, dat daar ’n opstanding+ van die regverdiges en die onregverdiges+ sal wees. 16 As gevolg hiervan probeer ek om altyd ’n skoon gewete voor God en mense te hê.+ 17 Ná ’n hele paar jaar het ek gekom om bydraes*+ vir my nasie te gee en om offers te bring. 18 Terwyl ek hiermee besig was, het hulle my in die tempel gevind, en ek was seremonieel gereinig,+ maar ek was nie saam met ’n skare of besig om ’n opskudding te veroorsaak nie. Daar was egter party Jode van die provinsie Asië 19 wat hier voor u behoort te wees om my te beskuldig as hulle nou eintlik enigiets teen my het.+ 20 Of laat die manne wat hier is, self sê wat ek verkeerd gedoen het toe hulle my voor die Sanheʹdrin laat staan het, 21 behalwe vir hierdie een ding wat ek uitgeroep het terwyl ek tussen hulle gestaan het: ‘Oor die opstanding van die dooies word ek vandag voor julle geoordeel!’”+

22 Maar Feliks, wat die feite oor hierdie Weg+ goed geken het, het hulle weggestuur deur te sê: “Wanneer Liʹsias die militêre bevelvoerder kom, sal ek oor hierdie saak besluit.” 23 En hy het die militêre offisier beveel dat Paulus gevange gehou moet word, maar dat hy ’n mate van vryheid mag hê en dat sy mense toegelaat moet word om vir hom te sorg.

24 ’n Paar dae later het Feliks saam met sy Joodse vrou, Drusilʹla, gekom, en hy het Paulus laat kom en geluister hoe hy oor die geloof in Christus Jesus praat.+ 25 Maar terwyl Paulus gepraat het oor regverdigheid en selfbeheersing en die oordeel wat gaan kom,+ het Feliks bang geword en geantwoord: “Vir eers kan jy maar gaan, maar wanneer ek ’n geleentheid het, sal ek jou weer laat kom.” 26 Terselfdertyd het hy gehoop dat Paulus vir hom geld sou gee. Daarom het hy hom nog meer gereeld laat roep en met hom gepraat. 27 Maar ná twee jaar is Feliks deur Porcius Festus opgevolg, en omdat Feliks die Jode se goedkeuring wou hê,+ het hy Paulus in die tronk gelos.

25 Drie dae nadat Festus+ in die provinsie Judeʹa aangekom het en goewerneur geword het, het hy van Sesareʹa na Jerusalem gegaan. 2 En die hoofpriesters en die Joodse leiers het Paulus by Festus beskuldig.+ Toe het hulle Festus begin smeek 3 om hulle ’n guns te doen deur Paulus na Jerusalem te laat kom. Maar hulle het beplan om Paulus langs die pad voor te lê en hom dood te maak.+ 4 Festus het egter gesê dat Paulus in Sesareʹa gevange sou bly en dat hy self binnekort sou teruggaan soontoe. 5 Hy het gesê: “Laat die leiers onder julle saam met my kom en hom beskuldig as die man enigiets verkeerds gedoen het.”+

6 En nadat hy sowat agt of tien dae by hulle gebly het, het hy na Sesareʹa gegaan. Die volgende dag het hy op die regterstoel gaan sit en beveel dat Paulus ingebring moet word. 7 Toe hy inkom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, rondom hom gaan staan en ’n groot aantal ernstige aanklagte teen hom ingebring wat hulle nie kon bewys nie.+

8 Maar Paulus het homself verdedig deur te sê: “Ek het nie teen die Wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.”+ 9 Festus, wat die Jode se goedkeuring wou hê,+ het vir Paulus gevra: “Wil jy Jerusalem toe gaan en daar voor my oor hierdie dinge geoordeel word?” 10 Maar Paulus het gesê: “Ek staan voor die regterstoel van die keiser, waar ek geoordeel moet word. Ek het niks verkeerds teen die Jode gedoen nie, soos u ook heel goed weet. 11 As ek dan regtig ’n misdadiger is en enigiets gedoen het wat die dood verdien,+ vra ek nie om die dood vry te spring nie. Maar as hierdie manne se beskuldigings teen my vals is, kan geen mens my as ’n guns aan hulle oorlewer nie. Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!”+ 12 Toe het Festus, nadat hy met die vergadering van raadgewers gepraat het, geantwoord: “Jy wil hê dat die keiser jou saak moet verhoor – na die keiser sal jy gaan.”

13 Ná ’n paar dae het koning Agripʹpa en Bernice in Sesareʹa aangekom vir ’n amptelike besoek* aan Festus. 14 Omdat hulle ’n aantal dae daar gebly het, het Festus Paulus se saak met die koning bespreek en gesê:

“Daar is ’n sekere man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is, 15 en toe ek in Jerusalem was, het die hoofpriesters en die ouermanne van die Jode hom by my kom beskuldig+ en gevra dat hy gestraf moet word. 16 Maar ek het vir hulle gesê dat dit nie die Romeinse prosedure is om enige mens as ’n guns oor te lewer voordat die beskuldigde voor sy beskuldigers verskyn en ’n kans kry om homself te verdedig nie.+ 17 Toe hulle dan hier aangekom het, het ek nie tyd gemors nie, maar die volgende dag het ek op die regterstoel gaan sit en beveel dat die man ingebring moet word. 18 Toe die beskuldigers opstaan en begin praat, het hulle hom nie van enige van die goddelose dinge aangekla wat ek gedink het hy gedoen het nie.+ 19 Daar was net sekere dinge waaroor hulle nie met hom saamgestem het nie. Dit het verband gehou met hulle eie godsdiens*+ en met ’n man met die naam Jesus wat dood is, maar Paulus het bly beweer dat hy nog lewe.+ 20 Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy na Jerusalem wil gaan en daar oor hierdie dinge geoordeel wil word.+ 21 Maar toe Paulus vra om in die tronk te bly terwyl hy vir die besluit van die keiser*+ wag, het ek beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser kan stuur.”

22 Toe het Agripʹpa vir Festus gesê: “Ek sou graag self die man wil hoor.”+ Hy het gesê: “Môre sal u hom hoor.” 23 Agripʹpa en Bernice het toe die volgende dag gekom, en hulle deftige voorkoms het baie aandag getrek. Hulle het saam met militêre bevelvoerders en die belangrike manne van die stad in die gehoorsaal ingegaan, en toe Festus die bevel gee, is Paulus ingebring. 24 Festus het gesê: “Koning Agripʹpa en almal wat hier saam met ons teenwoordig is, kyk, hier is die man. Al die Jode van Jerusalem en van hierdie plek het na my toe gekom en geskree dat hy nie langer behoort te lewe nie.+ 25 Maar ek het gevind dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie.+ En toe hierdie man sê dat hy na die keiser wil gaan, het ek besluit om hom te stuur. 26 Maar ek het niks wat ek met sekerheid oor hom aan my Heer kan skryf nie. Daarom het ek hom voor julle almal gebring, en veral voor u, koning Agripʹpa, sodat ek ná die geregtelike ondersoek iets kan hê om te skryf. 27 Want dit lyk vir my onredelik om ’n gevangene te stuur sonder om te sê wat die aanklagte teen hom is.”

26 Agripʹpa+ het vir Paulus gesê: “Jy mag vir jouself praat.” Toe het Paulus sy hand uitgesteek en homself begin verdedig en gesê:

2 “Ek is bly, koning Agripʹpa, dat ek my vandag voor u kan verdedig in verband met alles waarvan die Jode my beskuldig,+ 3 veral omdat u al die gebruike en geskille onder die Jode baie goed ken. Daarom smeek ek u om geduldig na my te luister.

4 “Al die Jode weet goed hoe ek van die begin af, van jongs af, my lewe onder my volk* en in Jerusalem gelei het.+ 5 Hulle ken my al lank, en as hulle bereid is, kan hulle getuig dat ek ’n Fariseër+ was en volgens die strengste riglyne van ons godsdiens gelewe het.+ 6 Maar nou word ek verhoor as gevolg van die hoop op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het,+ 7 en ons 12 stamme hoop om die vervulling van hierdie selfde belofte te sien deur dag en nag ywerig heilige diens vir hom te doen. Dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word,+ o Koning.

8 “Hoekom is dit vir julle so moeilik om te glo dat God die dooies opwek? 9 Persoonlik was ek daarvan oortuig dat ek alles in my vermoë moes doen om die naam van Jesus die Nasarener teë te staan. 10 Dit is presies wat ek in Jerusalem gedoen het, en met die toestemming van die hoofpriesters+ het ek baie van die heiliges in tronke opgesluit,+ en wanneer hulle doodgemaak moes word, het ek daarvoor gestem. 11 En ek het hulle probeer dwing om hulle geloof te verlaat deur hulle dikwels in al die sinagoges te straf, en omdat ek briesend kwaad was vir hulle, het ek hulle selfs in ander stede vervolg.

12 “Terwyl ek dit gedoen het en na Damaskus gereis het met die toestemming en ’n opdrag van die hoofpriesters, 13 het ek, o Koning, in die middel van die dag ’n lig op die pad gesien wat helderder as die son was. Dit het uit die hemel op my geskyn, en op dié wat saam met my gereis het.+ 14 En toe ons almal op die grond val, het ek gehoor hoe ’n stem in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom vervolg jy my? Jy maak dit vir jouself moeilik deur teen die prikkels* te bly skop.’ 15 Maar ek het gesê: ‘Wie is u, Here?’ En die Here het gesê: ‘Ek is Jesus, wat jy vervolg. 16 Maar staan op, want ek het aan jou verskyn om jou uit te kies as ’n kneg en ’n getuie van dinge wat jy gesien het sowel as dinge wat ek jou omtrent my sal laat sien.+ 17 En ek sal jou red van hierdie volk en van die nasies, na wie ek jou stuur,+ 18 om hulle oë te open,+ om hulle uit die duisternis+ na die lig+ en van die gesag van Satan+ na God te lei, sodat hulle sondes vergewe kan word+ en hulle ’n erfenis kan ontvang onder dié wat deur hulle geloof in my geheilig is.’

19 “Ek was dus nie ongehoorsaam aan die hemelse visioen nie, koning Agripʹpa, 20 maar ek het eers aan dié in Damaskus+ en toe aan dié in Jerusalem+ en in die hele land van Judeʹa en ook aan die nasies die boodskap gebring dat hulle berou moet hê en God moet aanbid deur werke te doen wat by berou pas.+ 21 Daarom het die Jode my in die tempel gearresteer en my probeer doodmaak.+ 22 Maar omdat God my gehelp het, gaan ek tot vandag toe voort om vir klein sowel as groot te getuig, maar ek sê niks behalwe die dinge wat die boeke van die profete sowel as Moses gesê het sou gebeur nie+ – 23 dat die Christus moes ly+ en dat hy, as die eerste een wat uit die dood opgewek sou word,+ lig aan hierdie volk sowel as aan die nasies sou verkondig.”+

24 En terwyl Paulus hierdie dinge gesê het om homself te verdedig, het Festus in ’n harde stem gesê: “Jy is van jou kop af, Paulus! Al jou geleerdheid maak jou mal!” 25 Maar Paulus het gesê: “Ek word nie mal nie, Eksellensie Festus, maar ek praat die waarheid en met gesonde verstand. 26 Want die koning met wie ek nou so vryelik praat, weet van hierdie dinge. Ek is daarvan oortuig dat hy van al hierdie dinge bewus is, want dit het nie iewers in ’n hoek gebeur nie.+ 27 Glo u die Profete, koning Agripʹpa? Ek weet dat u glo.” 28 Agripʹpa het vir Paulus gesê: “Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word.” 29 Toe het Paulus gesê: “Ek bid tot God dat nie net u nie, maar ook almal wat vandag na my luister, of dit nou in ’n kort tydjie of in ’n lang tyd is, soos ek sal word, maar sonder hierdie boeie.”

30 Toe het die koning opgestaan, en ook die goewerneur en Bernice en die manne wat by hulle gesit het. 31 En terwyl hulle op pad uit was, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man doen niks wat die dood of tronkstraf verdien nie.”+ 32 Agripʹpa het toe vir Festus gesê: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy nie gesê het dat die keiser sy saak moet verhoor nie.”+

27 En toe daar besluit is dat ons na Italië moet wegseil,+ het hulle Paulus en party ander gevangenes oorgelewer aan ’n militêre offisier met die naam Juʹlius, van die afdeling van Augustus. 2 Ons het op ’n skip geklim uit Adramitʹtium wat op pad was na hawens langs die kus van die provinsie Asië, en toe het ons weggeseil. Aristarʹgus,+ ’n Masedoniër van Tessaloʹnika, was saam met ons. 3 Die volgende dag het ons by Sidon aangekom, en Juʹlius het Paulus goed* behandel en hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan sodat hulle vir hom kan sorg.

4 En ons het daarvandaan weggevaar en naby Siprus geseil, wat as beskerming gedien het teen die winde wat teen ons was. 5 Toe het ons deur die oop see langs Siliʹsië en Pamfiʹlië gevaar en by die hawe van Mira in Liʹsië aangekom. 6 Daar het die militêre offisier ’n skip gevind wat uit Aleksandrië na Italië geseil het, en hy het ons daarop laat klim. 7 Nadat ons ’n hele aantal dae stadig verder geseil het, het ons met ’n groot gesukkel by Knidus aangekom. Omdat die wind dit vir ons moeilik gemaak het om verder te gaan, het ons naby Kreta verby Salmoʹne geseil, waar ons teen die winde beskerm was. 8 En ons het met ’n groot gesukkel langs die kus gevaar en by ’n plek gekom met die naam Mooi Hawens, wat naby die stad Laseʹa is.

9 ’n Hele paar dae het verbygegaan, en dit het gevaarlik geword om verder te reis, want selfs die vas van die Versoendag+ was reeds verby. Paulus het dus ’n voorstel gemaak 10 en vir hulle gesê: “Manne, ek sien dat hierdie reis tot skade en groot verlies gaan lei, nie net van die vrag en die skip nie, maar ook van ons lewens.”* 11 Maar die militêre offisier het eerder na die stuurman en die eienaar van die skip geluister as na wat Paulus gesê het. 12 Omdat die hawe nie geskik was om die hele winter daar te bly nie, het die meerderheid voorgestel dat hulle daarvandaan wegseil om te sien of hulle miskien die winter in Feniks kon deurbring, ’n hawe van Kreta wat oop lê na die noordooste en na die suidooste.

13 Toe die suidewind saggies begin waai, het hulle gedink dat dit nou ’n goeie tyd is om na Feniks te vertrek, en hulle het die anker gelig en langs die kus van Kreta geseil. 14 Maar ’n rukkie later het ’n stormwind wat Euraʹkilon* genoem word, daarteen losgebars. 15 Die skip is rondgeruk en kon nie verder teen die wind gaan nie, en daarom het ons opgegee en is ons deur die wind weggedryf. 16 Toe het ons tot op ’n sekere plek gevaar naby ’n eilandjie wat Kauda genoem word, waar ons teen die wind beskerm is, maar ons kon amper nie die klein bootjie* by die agterste deel van die skip onder beheer kry nie. 17 Maar nadat hulle die bootjie opgetrek het, het hulle toue styf onderom die skip vasgemaak om dit te versterk. Omdat hulle bang was dat hulle op die Sirtis* gestrand sou word, het hulle die toue van die seile losgemaak en laat sak, en so het hulle verder gedryf. 18 Omdat ons geweldig deur die storm heen en weer geslinger is, het hulle die skip die volgende dag ligter begin maak. 19 En op die derde dag het hulle die toerusting van die skip in die water gegooi.

20 Toe die son en sterre dae lank nie verskyn het nie en ’n hewige storm aan die gang was, het ons uiteindelik alle hoop verloor om gered te word. 21 Nadat hulle ’n lang tyd nie geëet het nie, het Paulus opgestaan en gesê: “Manne, julle moes beslis na my geluister het en nie van Kreta af uitgevaar het nie. Dan sou ons nie hierdie skade en verlies gely het nie.+ 22 Maar ek spoor julle nou aan om nie moed te verloor nie, want nie een van julle* sal doodgaan nie. Net die skip sal vergaan. 23 Gisteraand het ’n engel+ van die God aan wie ek behoort en vir wie ek heilige diens doen, by my gestaan 24 en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet voor die keiser staan,+ en kyk! ter wille van jou spaar God almal wat saam met jou seil.’ 25 Moet dus nie moed verloor nie, manne, want ek glo dat God dit sal laat gebeur net soos daar vir my gesê is. 26 Maar ons moet op ’n sekere eiland uitgespoel word.”+

27 En op die 14de nag, terwyl ons op die see van Aʹdria heen en weer geslinger is, het die matrose om middernag begin vermoed dat hulle naby land is. 28 Hulle het die diepte gemeet en gevind dat dit 20 vaam* is. Toe het hulle ’n entjie verder gegaan, weer gemeet en gevind dat dit 15 vaam* is. 29 En omdat hulle bang was dat ons op die rotse sou beland, het hulle vier ankers van die agterste deel van die skip uitgegooi en begin wens dat dit dag moet word. 30 Maar die matrose het van die skip af probeer ontsnap. Hulle het die klein bootjie in die see laat sak en voorgegee dat hulle die ankers wat by die voorste deel van die skip is, wil laat sak. 31 Toe het Paulus vir die militêre offisier en die soldate gesê: “As hierdie manne nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.”+ 32 Die soldate het toe die toue van die bootjie losgesny en dit laat afval.

33 Net voor dagbreek het Paulus almal aangemoedig om te eet en gesê: “Vandag is die 14de dag dat julle angstig wag, en julle het nog niks geëet nie. 34 Daarom moedig ek julle aan om vir julle eie beswil iets te eet, want nie ’n haar op enige van julle koppe sal verlore gaan nie.” 35 Nadat hy dit gesê het, het hy ’n brood geneem, God voor hulle almal gedank, dit gebreek en begin eet. 36 Toe kry hulle almal weer moed, en hulle het begin eet. 37 Ons was altesaam 276 mense* op die skip. 38 Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter begin maak deur die koring in die see te gooi.+

39 Toe dit dag word, kon hulle land sien, maar hulle het nie geweet waar hulle was nie.+ Hulle het ’n baai met ’n strand gesien en was vasbeslote om die skip daar te laat strand as hulle kon. 40 Hulle het toe die ankers losgesny en dit in die see laat val en terselfdertyd die toue van die stuurspane losgemaak. Toe het hulle die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf. 41 Hulle het ’n sandbank getref en die skip daarop laat strand. Die voorste deel van die skip het daarin vasgesteek en kon nie meer beweeg nie, maar die agterste deel van die skip is deur die geweld van die golwe uitmekaargeslaan.+ 42 Die soldate het toe besluit om die gevangenes dood te maak sodat niemand kan wegswem en ontsnap nie. 43 Maar die militêre offisier was vasbeslote om Paulus veilig oor te bring en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het dié wat kon swem, eerste beveel om in die see te spring en by die land uit te kom. 44 Die res sou agterna kom, party op planke en party op stukke van die skip. En so het almal veilig by die land uitgekom.+

28 Nadat ons die eiland veilig bereik het, het ons uitgevind dat dit Malta+ genoem word. 2 Die eilandbewoners* was buitengewoon goed vir ons.* Hulle het ons almal vriendelik verwelkom en ’n vuur gemaak, want dit het gereën en dit was koud. 3 Maar toe Paulus ’n bondel hout bymekaarmaak en op die vuur gooi, het ’n slang uitgekom as gevolg van die hitte en aan sy hand vasgebyt. 4 Toe die eilandbewoners die giftige dier aan sy hand sien hang, het hulle vir mekaar begin sê: “Hierdie man is vir seker ’n moordenaar, en al het hy nie in die see gesterf nie, het Geregtigheid* hom nie toegelaat om te bly lewe nie.” 5 Maar hy het die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. 6 Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood sou neerval. Nadat hulle ’n lang ruk gewag het en gesien het dat hy niks oorgekom het nie, het hulle van opinie verander en begin sê dat hy ’n god is.

7 En op daardie plek was daar landerye wat aan die belangrikste man op die eiland behoort het. Sy naam was Pubʹlius, en hy het ons verwelkom en drie dae lank gasvryheid aan ons betoon. 8 Maar Pubʹlius se pa was siek in die bed met koors en hewige diarree,* en Paulus het ingegaan na hom toe en gebid, sy hande op hom gelê en hom gesond gemaak.+ 9 Nadat dit gebeur het, het die res van die mense op die eiland wat siek was, ook na Paulus toe begin kom, en hulle is genees.+ 10 Hulle het hulle waardering getoon deur vir ons baie geskenke te gee, en toe ons gereedmaak om weg te seil, het hulle ons oorlaai met alles wat ons nodig gehad het.

11 Drie maande later het ons weggeseil in ’n skip wat beelde van die seuns van Zeus aan die voorkant gehad het. Die skip was uit Aleksandrië en het by die eiland gewag totdat die winter verby was. 12 Ons het by die hawe van Sirakuʹse aangekom en drie dae daar gebly. 13 Van daar af het ons omgevaar en by Reʹgium aangekom. ’n Dag later het ’n suidewind begin waai, en ons het Puteʹoli op die tweede dag bereik. 14 Hier het ons broers gevind, wat aangedring het dat ons sewe dae by hulle bly, en toe het ons na Rome vertrek. 15 Toe die broers daar die nuus oor ons hoor, het hulle tot by die Mark van Apʹpius en die Drie Herberge gekom om ons te ontmoet. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en nuwe moed gekry.+ 16 Toe ons uiteindelik in Rome aankom, is Paulus toegelaat om op sy eie te bly met die soldaat wat hom opgepas het.

17 Drie dae later het hy egter die Joodse leiers bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Manne, broers, al het ek niks teen die volk of die gebruike van ons voorvaders gedoen nie,+ is ek as ’n gevangene uit Jerusalem aan die Romeine oorgelewer.+ 18 En nadat hulle ondersoek ingestel het,+ wou hulle my vrylaat, want daar was geen rede om my dood te maak nie.+ 19 Maar toe die Jode beswaar gemaak het, kon ek nie anders as om te sê dat die keiser my saak moet verhoor nie,+ al het ek niks gehad om my nasie van te beskuldig nie. 20 Daarom het ek gevra om julle te sien en met julle te praat, want dit is as gevolg van die hoop van Israel dat ek hierdie ketting om my het.”+ 21 Hulle het vir hom gesê: “Ons het nie briewe oor jou uit Judeʹa ontvang nie, en nie een van die broers wat van daar af gekom het, het enigiets slegs oor jou gesê nie. 22 Maar ons wil graag by jou hoor wat jy dink, want een ding is seker: Ons weet dat daar oral teen hierdie sekte+ gepraat word.”+

23 Hulle het toe gereël om op ’n sekere dag na hom toe te gaan, en selfs ’n groter groep van hulle het na die plek toe gegaan waar hy gebly het. En van die oggend tot die aand het hy die saak aan hulle verduidelik deur deeglik oor die Koninkryk van God te getuig. Hy het hulle uit die Wet van Moses+ en ook uit die boeke van die profete+ probeer oortuig van Jesus.+ 24 Party het begin glo wat hy gesê het, maar ander het nie geglo nie. 25 Omdat hulle nie met mekaar saamgestem het nie, het hulle begin weggaan, en Paulus het die volgende opmerking gemaak:

“Die heilige gees het gepas deur middel van die profeet Jesaja met julle voorvaders gepraat 26 en gesê: ‘Gaan na hierdie volk toe en sê: “Julle sal beslis hoor, maar julle sal glad nie verstaan nie, en julle sal beslis kyk, maar julle sal glad nie sien nie.+ 27 Want die hart van hierdie volk het ongevoelig geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer, en hulle het hulle oë toegemaak. Daarom sal hulle nooit met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle hart verstaan en terugdraai en deur my genees word nie.”’+ 28 Laat dit dan aan julle bekend wees dat hierdie redding wat van God kom, na die nasies uitgestuur is,+ en hulle sal beslis daarna luister.”+ 29 *——

30 Toe het hy ’n volle twee jaar in sy eie gehuurde huis gebly,+ en hy het almal wat na hom toe gekom het, vriendelik ontvang. 31 Hy het met die grootste vrymoedigheid van spraak* die Koninkryk van God aan hulle verkondig+ en hulle oor die Here Jesus Christus geleer sonder dat enigiemand hom gekeer het.

Of “onder sy gesag geplaas”.

Of “tot aan die eindes”.

Lett. “’n sabbatsreis”, d.w.s. die afstand wat ’n Jood toegelaat is om op die Sabbat te reis.

Of “hy het binne-in oopgebars”.

Lett. “in- en uitgegaan het”.

Sien Aanh. A5.

Of “saam met . . . gereken”, d.w.s. soos die ander 11 beskou.

Lett. “tonge soos van vuur”.

Of “nuwe wyn”.

D.w.s. omtrent 09:00.

Lett. “vlees”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of moontlik “die toue van die dood”. Lett. “die geboortepyne van die dood”.

Sien Aanh. A5.

Lett. “my vlees”.

Of “my siel”.

Of “Hades”. Sien Woordelys.

Of “Hades”. Sien Woordelys.

Lett. “vlees”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “siele”.

Of “om met mekaar te deel”.

Of “elke siel”.

Sien Aanh. A5.

D.w.s. omtrent 15:00.

Of “genadegawes kon vra”.

Of “genadegawes vra”.

Of “genadegawes vra”.

Of “die Hoofbewerker van die lewe”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “enige siel”.

Lett. “saad”.

Lett. “die hoof van die hoek”.

Of “moedig”.

D.w.s. nie by rabbynse skole opgelei nie; beteken nie ongeletterd nie.

Lett. “teken”.

Lett. “teken”.

Lett. “teken”.

Sien Aanh. A5.

Of “sy Christus”.

Lett. “hand en raad”.

Sien Aanh. A5.

Of “het dieselfde denke en gevoelens gehad”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “boom”.

Of “die Hoofbewerker”.

Of “het hulle diep gegrief gevoel”.

Lett. “lasterlike woorde teen . . . sê”.

Lett. “’n voetbreedte”.

Lett. “saad”.

Lett. “saad”.

Of moontlik “het dieselfde gedoen met”.

Of “aartsvaders”.

Of “graan”.

Of “siele”.

Of “was mooi in God se oë”.

Of “grootgemaak”.

Lett. “het dit in sy hart opgekom”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Lett. “nie besny nie”.

Of “in hulle harte gegrief gevoel”.

Sien Aanh. A5.

Lett. “gaan slaap”.

Of moontlik “’n stad van Samaria”.

Lett. “tekens”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “hofbeampte”.

Of “herkoms; lewenswyse”.

Sien Aanh. A3.

Sien Aanh. A5.

Lett. “te bind; in boeie te sit”.

Lett. “dié wat hierdie naam aanroep”.

Lett. “om hulle geboeid na die hoofpriesters te lei”.

Sien Aanh. A5.

Die Griekse naam Dorkas en die Aramese naam Tabita beteken albei “wildsbok”.

Of “genadegawes gemaak”.

Of “onder- en bo-klere”.

Iemand wat leer uit diervelle maak.

Of “’n centurio”, d.w.s. ’n bevelvoerder oor 100 soldate.

Of “kohort”, d.w.s. ’n Romeinse militêre afdeling van 600 soldate.

Of “genadegawes aan die volk”.

D.w.s. omtrent 15:00.

Of “genadegawes”.

Iemand wat leer uit diervelle maak.

D.w.s. omtrent 12:00.

Lett. “die een of ander soort voorwerp”.

Of “kruipende diere”.

Of “voor hom neergebuig”.

D.w.s. omtrent 15:00.

Of “genadegawes”.

Iemand wat leer uit diervelle maak.

Sien Aanh. A5.

Of “boom”.

Of “openbaar gemaak word”.

Of “getroues”.

Of “met hom begin stry”.

Lett. “die een of ander soort voorwerp”.

Of “kruipende diere”.

Of “om God te verhinder”.

Lett. “stil geword”.

Sien Aanh. A5.

Of “iets vir noodleniging”.

Of “in die openbaar te verhoor”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “in ’n veglustige bui teen”.

Of “slaapkamer”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “in die openbaar gedien het”.

D.w.s. die Romeinse goewerneur van ’n provinsie. Sien Woordelys.

Dieselfde persoon wat in vs. 6 Bar-Jesus genoem word.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Lett. “saad”.

Of “boom”.

Of “die wil van God in sy geslag gedoen”.

Lett. “gaan slaap”.

Sien Aanh. A5.

Of “lasterlik”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “die siele van die mense”.

Sien Aanh. A5.

D.w.s. ringe van inmekaargevlegte takkies of blomme.

Of “die siele van die dissipels”.

Sien Aanh. A5.

Of “skuiling; huis”.

Lett. “die ruïnes daarvan”.

Sien Aanh. A5.

Of “ernstig kan soek”.

Sien Aanh. A5.

Of “oordeel”.

Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.

Of “wat doodgemaak is sonder om gebloei te word”.

Of “julle siele”.

Of “siele”.

Of “wat doodgemaak is sonder om gebloei te word”.

Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.

Of “Vaarwel; Mag julle goeie gesondheid geniet”.

Sien Aanh. A3.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “deur”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “was edelmoediger”.

Lett. “sy gees”.

Of “godsdienstiger is as ander”.

Lett. “dat hulle na hom sou rondtas”.

Of “nakomelinge”.

Of “nakomelinge”.

Of “met hulle geredeneer”.

D.w.s. die sinagoge.

D.w.s. die Romeinse goewerneur van ’n provinsie. Sien Woordelys.

Sien Aanh. A5.

Blykbaar na Jerusalem.

Of “mondeling geleer”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

’n Prokonsul was die Romeinse goewerneur van ’n provinsie. Sien Woordelys.

Of “want sy siel is in hom”.

Of “die maaltyd begin”.

Of “siel”.

Of “vir my van geen waarde nie”.

Of “al die raad van God”.

Of “teer gesoen”.

Lett. “maagdelike”.

Of “om my hart swak te maak”.

Lett. “het ons stil geword”.

Sien Aanh. A5.

Of “wat doodgemaak is sonder om gebloei te word”.

Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “Romeinse burger”.

Of “wat onveroordeeld is”.

Sien Woordelys.

Of “jou witgeverfde muur”.

Of “verkondig dit in die openbaar”.

D.w.s. omtrent 21:00.

Of “pretoriaanse paleis”.

Of “’n advokaat”.

Of “moeilikheidmaker”.

Sien Aanh. A3.

Of “genadegawes”.

Of “’n beleefdheidsbesoek”.

Of “aanbidding van die godheid”.

Of “die Augustus”, ’n titel vir die Romeinse keiser.

Of “nasie”.

Sien Woordelys, “Prikkel”.

Of “met mensliewendheid”.

Of “siele”.

D.w.s. ’n noordoostewind.

Of “sloep”, ’n bootjie wat as ’n reddingsbootjie kon dien.

Sien Woordelys.

Of “nie ’n siel onder julle”.

Omtrent 36 m. Sien Aanh. B14.

Omtrent 27 m. Sien Aanh. B14.

Of “siele”.

Of “anderstalige mense”.

Of “mensliewend teenoor ons”.

Grieks: Diʹke, wat moontlik verwys na die godin wat wraak neem ter wille van geregtigheid of na die personifikasie van geregtigheid.

Lett. “disenterie”.

Sien Aanh. A3.

Of “Hy het moedig”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel