VOLGENS MARKUS
1 Die begin van die goeie nuus oor Jesus Christus, die Seun van God: 2 Net soos daar geskryf is in die boek van die profeet Jesaja: “(Kyk! Ek stuur my boodskapper voor jou uit, wat jou weg sal voorberei.)+ 3 Iemand roep in die wildernis uit: ‘Berei die weg van Jehovah* voor! Maak sy paaie reguit.’”+ 4 Johannes die Doper was in die wildernis en het verkondig dat mense hulle moet laat doop as ’n simbool van berou sodat hulle sondes vergewe kan word.+ 5 En die hele gebied van Judeʹa en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop,* en hulle het hulle sondes openlik bely.+ 6 Johannes het klere van kameelhaar en ’n leerlyfband om sy middel gedra,+ en hy het sprinkane en wilde heuning geëet.+ 7 En hy het gepreek: “Ná my kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers waardig om te buk en die rieme van sy sandale los te maak nie.+ 8 Ek het julle met water gedoop, maar hy sal julle met heilige gees doop.”+
9 In daardie dae het Jesus uit Naʹsaret in Galileʹa gekom, en hy is deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.+ 10 En onmiddellik toe hy uit die water opkom, het hy die hemel sien oopgaan en die gees soos ’n duif op hom sien neerdaal.+ 11 Toe het ’n stem uit die hemel gekom wat gesê het: “Jy is my geliefde Seun. Ek het jou goedgekeur.”+
12 En die gees het hom onmiddellik in die wildernis laat ingaan. 13 Hy het 40 dae in die wildernis gebly, waar hy deur Satan versoek is.+ Hy was saam met die wilde diere, maar die engele het in sy behoeftes voorsien.*+
14 En nadat Johannes in hegtenis geneem is, het Jesus na Galileʹa gegaan+ en die goeie nuus van God verkondig+ 15 en gesê: “Die vasgestelde tyd is hier, en die Koninkryk van God het naby gekom. Toon berou+ en stel geloof in die goeie nuus.”
16 Terwyl hy langs die See van Galileʹa geloop het, het hy Simon en sy broer Andreʹas+ gesien, wat besig was om hulle nette in die see uit te gooi,+ want hulle was vissermanne.+ 17 Toe het Jesus vir hulle gesê: “Kom volg my, en ek sal julle vissers van mense maak.”+ 18 Hulle het dadelik hulle nette gelos en hom gevolg.+ 19 Nadat hy ’n entjie verder gegaan het, het hy Jakobus, die seun van Sebedeʹus, en sy broer Johannes gesien terwyl hulle in hulle boot besig was om hulle nette reg te maak,+ 20 en hy het hulle dadelik geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeʹus, by die gehuurde werkers in die boot gelos en hom gevolg. 21 Toe het hulle in Kaperʹnaum aangekom.
Kort nadat die Sabbat begin het, het hy in die sinagoge ingegaan en die mense begin leer.+ 22 En hulle was verstom oor die manier waarop hy geleer het, want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.+ 23 Op daardie oomblik was daar ’n man in hulle sinagoge wat onder die beheer van ’n onrein gees was, en hy het geskree: 24 “Wat het ons met jou te doen, Jesus die Nasarener?+ Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet presies wie jy is: die Heilige van God!”+ 25 Maar Jesus het streng met hom gepraat en gesê: “Bly stil, en kom uit hom uit!” 26 En nadat die onrein gees die man ’n stuiptrekking laat kry het en so hard geskree het as wat hy kon, het hy uit die man uitgekom. 27 Die mense was almal so verstom dat hulle dit onder mekaar begin bespreek het en gesê het: “Wat is dit? ’n Nuwe lering! Hy beveel selfs die onrein geeste met gesag, en hulle gehoorsaam hom.” 28 En die nuus oor hom het vinnig deur die hele Galileʹa versprei.
29 Toe het hulle uit die sinagoge gegaan en saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreʹas gegaan.+ 30 Simon se skoonma+ het siek in die bed gelê met koors, en hulle het Jesus dadelik van haar vertel. 31 Toe het hy na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het verdwyn, en sy het hulle begin bedien.
32 Daardie aand, nadat die son gesak het, het die mense almal wat siek was en almal in wie daar demone was, na hom toe begin bring,+ 33 en die hele stad het reg voor die deur bymekaargekom. 34 Toe het hy baie mense genees wat aan allerhande siektes gely het,+ en hy het baie demone uitgedryf, maar hy het die demone nie toegelaat om enigiets te sê nie, want hulle het geweet dat hy Christus is.*
35 Vroeg die oggend, terwyl dit nog donker was, het hy opgestaan en buitentoe gegaan, na ’n afgeleë plek, en daar het hy begin bid.+ 36 Maar Simon en dié wat by hom was, het hom gaan soek. 37 Toe hulle hom kry, het hulle vir hom gesê: “Almal soek u.” 38 Hy het vir hulle gesê: “Laat ons êrens anders gaan, na die dorpe hier naby, sodat ek ook daar kan preek, want dit is hoekom ek gekom het.”+ 39 En hy het gegaan en deur die hele Galileʹa in hulle sinagoges gepreek en die demone uitgedryf.+
40 Daar het ook ’n melaatse na Jesus toe gekom, wat gekniel het en hom gesmeek het: “As u net wil, kan u my gesond* maak.”+ 41 En omdat hy baie jammer gevoel het vir die man, het hy sy hand uitgesteek, aan hom geraak en vir hom gesê: “Ek wil! Word gesond.”*+ 42 Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn, en hy het gesond* geword. 43 Toe het Jesus hom dadelik weggestuur en hom streng beveel: 44 “Moet vir niemand hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester, en offer die dinge vir jou reiniging, net soos Moses voorgeskryf het.+ Dit sal as ’n getuienis vir hulle dien.”+ 45 Maar nadat die man weggegaan het, het hy dit wyd en syd begin verkondig en die nuus oral versprei. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ’n stad ingaan nie, en hy het buite op afgeleë plekke gebly. Tog het mense van oral na hom toe bly kom.+
2 Maar ná ’n paar dae het hy weer in Kaperʹnaum ingegaan, en die nuus het versprei dat hy by die huis is.+ 2 Toe het daar so baie mense bymekaargekom dat daar nie meer plek was nie, nie eers by die deur nie, en hy het die woord van God aan hulle begin bekend maak.+ 3 Hulle het ’n verlamde man na hom toe gebring wat deur vier mans gedra is.+ 4 Maar as gevolg van die skare kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie, en daarom het hulle ’n opening in die dak bokant Jesus gemaak. Daarna het hulle die draagbed waarop die verlamde man gelê het, laat sak. 5 Toe Jesus hulle sterk geloof sien,+ het hy vir die verlamde man gesê: “Kind, jou sondes is vergewe.”+ 6 En party van die skrifgeleerdes het daar gesit en by hulleself gedink:*+ 7 “Hoekom praat hierdie man so? Hy laster. Niemand behalwe God kan sondes vergewe nie.”+ 8 Maar Jesus het onmiddellik besef dat hulle só onder mekaar redeneer, en daarom het hy vir hulle gesê: “Hoekom dink julle hierdie dinge?*+ 9 Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes is vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en tel jou bed op en loop’? 10 Maar om julle te laat besef dat die Seun van die mens+ gesag het om sondes op die aarde te vergewe . . . ”+ Hy het toe vir die verlamde man gesê: 11 “Ek sê vir jou: Staan op, tel jou bed op en gaan na jou huis toe.” 12 Toe het hy opgestaan en onmiddellik sy draagbed opgetel en voor hulle almal uitgeloop. Hulle almal was verstom, en hulle het God geloof en gesê: “Ons het nog nooit so iets gesien nie.”+
13 Hy het weer uitgegaan en langs die see geloop, en die hele skare het na hom toe bly kom, en hy het hulle begin leer. 14 Toe hy verder loop, het hy Levi, die seun van Alfeʹus, by die belastingkantoor sien sit, en hy het vir hom gesê: “Word my volgeling.” Toe het hy opgestaan en hom gevolg.+ 15 Later het Jesus in Levi se huis geëet,* en baie belastinggaarders* en sondaars het saam met hom en sy dissipels geëet,* want daar was baie van hulle wat hom gevolg het.+ 16 Maar toe die skrifgeleerdes van die Fariseërs sien dat hy saam met die sondaars en belastinggaarders eet, het hulle vir sy dissipels gevra: “Eet hy saam met belastinggaarders en sondaars?” 17 Toe Jesus dit hoor, het hy vir hulle gesê: “Mense wat sterk is, het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel. Ek het nie gekom om regverdige mense te roep nie, maar sondaars.”+
18 Johannes se dissipels en die Fariseërs het die gewoonte gehad om te vas. Toe het hulle gekom en vir hom gevra: “Hoekom vas Johannes se dissipels en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar u dissipels vas nie?”+ 19 Jesus het toe vir hulle gesê: “Die vriende van die bruidegom het geen rede om te vas terwyl die bruidegom+ by hulle is nie, of hoe? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. 20 Maar die dae sal kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word,+ en dan sal hulle op daardie dag vas. 21 Niemand werk ’n stuk ongekrimpte materiaal op ’n ou bo-kleed vas nie. As hy dit doen, sal die nuwe stuk van die ou stuk lostrek, en die skeur sal erger word.+ 22 En niemand gooi nuwe wyn in ou wynsakke nie. As hy dit doen, sal die wyn die sakke laat bars, en dan is die wyn verlore en die sakke stukkend. Maar nuwe wyn word in nuwe wynsakke gegooi.”
23 En terwyl hy op die Sabbat deur die graanlande geloop het, het sy dissipels graanare begin pluk.+ 24 Toe het die Fariseërs vir hom gesê: “Kyk hier! Hoekom doen hulle iets wat ’n mens nie op die Sabbat mag doen nie?” 25 Maar hy het vir hulle gesê: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy niks gehad het om te eet en hy en die manne by hom honger was nie?+ 26 Volgens die verslag oor die hoofpriester Abjaʹtar+ het hy in die huis van God ingegaan en die offerbrode* geëet, al was net die priesters toegelaat om daarvan te eet,+ en hy het ook vir die manne by hom daarvan gegee.” 27 Toe het hy vir hulle gesê: “Die Sabbat is daar vir die mens,+ en nie die mens vir die Sabbat nie. 28 Die Seun van die mens is dus selfs Here van die Sabbat.”+
3 Hy het weer in ’n sinagoge ingegaan, en daar was ’n man met ’n misvormde* hand.+ 2 En hulle het hom fyn dopgehou om te sien of hy die man op die Sabbat sou genees, sodat hulle hom kon beskuldig. 3 Hy het vir die man met die misvormde* hand gesê: “Staan op en kom na die middel toe.” 4 Daarna het hy vir hulle gevra: “Mag ’n mens op die Sabbat iets goeds of iets slegs doen, iemand se lewe* red of hom doodmaak?”+ Maar hulle het stilgebly. 5 Jesus het hulle kwaad aangekyk en was baie hartseer omdat hulle harte so ongevoelig was.+ Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.” En hy het dit gedoen, en sy hand het gesond geword. 6 Toe het die Fariseërs uitgegaan en onmiddellik saam met Herodes se ondersteuners+ planne beraam om hom dood te maak.
7 Maar Jesus het saam met sy dissipels na die see vertrek, en ’n groot skare uit Galileʹa en uit Judeʹa het hom gevolg.+ 8 Selfs uit Jerusalem en uit Idumeʹa en van oorkant die Jordaanrivier en uit die omgewing van Tirus en Sidon het ’n groot skare na hom toe gekom toe hulle hoor van al die dinge wat hy doen. 9 En hy het vir sy dissipels gesê om ’n bootjie vir hom gereed te hou sodat die skare nie van alle kante af teen hom sou druk nie. 10 Omdat hy baie mense genees het, het almal met ernstige siektes om hom saamgedrom om aan hom te raak.+ 11 Selfs die onrein geeste+ het, elke keer as hulle hom gesien het, voor hom neergeval en uitgeroep en gesê: “U is die Seun van God.”+ 12 Maar dikwels het hy hulle streng beveel om nie bekend te maak wie hy is nie.+
13 Hy het teen ’n berg opgegaan en dié wat hy gekies het,+ na hom toe geroep, en hulle het na hom toe gekom.+ 14 Hy het ’n groep van 12 gevorm,* wat hy ook apostels genoem het. Dit is hulle wat saam met hom sou gaan en wat hy sou uitstuur om te preek 15 en aan wie hy die gesag sou gee om demone uit te dryf.+
16 Die groep van 12+ wat hy gevorm* het, het bestaan uit Simon, aan wie hy ook die naam Petrus+ gegee het, 17 Jakobus, die seun van Sebedeʹus, en Johannes, die broer van Jakobus (hy het hulle ook die naam Boanerʹges gegee, wat “seuns van die donder” beteken),+ 18 Andreʹas, Filippus, Bartolomeʹus, Matteʹus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeʹus, Taddeʹus, Simon, die Kananeër,* 19 en Judas Iskaʹriot, wat hom later verraai het.
Toe het hy in ’n huis ingegaan, 20 en die skare het weer so om hulle saamgedrom dat hulle nie eers iets kon eet nie. 21 Maar toe sy familielede hiervan hoor, het hulle gegaan om hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”+ 22 En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy het Beëlʹsebub* in hom, en hy dryf die demone uit deur middel van die heerser van die demone.”+ 23 Nadat hy hulle na hom toe geroep het, het hy illustrasies gebruik en vir hulle gesê: “Hoe kan Satan Satan uitdryf? 24 As ’n koninkryk verdeeld raak, kan daardie koninkryk nie bly staan nie,+ 25 en as ’n huis verdeeld raak, sal daardie huis nie kan bly staan nie. 26 En as Satan teen homself opgestaan het en verdeeld geraak het, kan hy nie bly staan nie, maar kom hy tot ’n einde. 27 Om die waarheid te sê, niemand kan in die huis van ’n sterk man ingaan en sy besittings steel as hy nie die sterk man eers vooraf vasbind nie. Slegs dan kan hy alles in sy huis vat. 28 Ek verseker julle: Mense sal alles vergewe word, ongeag watter sondes hulle pleeg en watter lasterlike dinge hulle sê. 29 Maar enigiemand wat teen die heilige gees laster, het tot in ewigheid geen vergifnis nie,+ maar is skuldig aan ewige sonde.”+ 30 Hy het dit gesê omdat hulle gesê het: “Hy het ’n onrein gees in hom.”+
31 En sy ma en sy broers+ het gekom, en terwyl hulle buite gestaan het, het hulle iemand ingestuur om hom te roep.+ 32 ’n Skare het om hom gesit en hulle het vir hom gesê: “Kyk! U ma en u broers is buite en hulle roep u.”+ 33 Maar hy het hulle geantwoord: “Wie is my ma en my broers?” 34 Toe het hy gekyk na dié wat rondom hom gesit het en gesê: “Kyk, hier is my ma en my broers!+ 35 Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en suster en ma.”+
4 Hy het weer mense langs die see begin leer, en ’n baie groot skare het naby hom bymekaargekom. Toe het hy in ’n boot op die see geklim en daarin gaan sit, maar die hele skare was langs die see, op die strand.+ 2 En hy het hulle baie dinge deur middel van illustrasies begin leer,+ en hy het vir hulle gesê:+ 3 “Luister! Die saaier het uitgegaan om te saai.+ 4 Terwyl hy gesaai het, het van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgeëet. 5 Ander saad het op ’n rotsagtige plek geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het onmiddellik opgeskiet omdat die grond nie diep was nie.+ 6 Maar toe die son opkom, is dit verskroei, en omdat dit nie wortels gehad het nie, het dit uitgedroog. 7 Nog ander saad het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en gekeer dat dit verder groei, en dit het geen vrug gedra nie.+ 8 Maar ander saad het op die goeie grond geval, en dit het gegroei en toegeneem en vrug begin dra: 30, 60 en 100 keer soveel.”+ 9 Toe het hy bygevoeg: “Laat die een wat ore het om te luister, luister.”+
10 Toe hy alleen was, het dié wat saam met die Twaalf rondom hom was, hom oor die illustrasies begin uitvra.+ 11 Hy het vir hulle gesê: “Die heilige geheim+ van die Koninkryk van God is aan julle gegee, maar vir dié wat buite is, is alles net in illustrasies.+ 12 Daarom sal hulle kyk, maar tog sal hulle nie sien nie, en sal hulle hoor, maar tog sal hulle nie die betekenis daarvan verstaan nie. Hulle sal ook nooit terugdraai en vergifnis ontvang nie.”+ 13 Verder het hy vir hulle gesê: “Julle verstaan nie hierdie illustrasie nie. Hoe sal julle dan al die ander illustrasies verstaan?
14 “Die saaier saai die woord.+ 15 Party mense is soos die saad wat langs die pad geval het. Sodra hulle die woord hoor, kom Satan+ en neem hy die woord weg wat in hulle gesaai is.+ 16 Ander mense is soos die saad wat op rotsagtige grond gesaai is. Sodra hulle die woord hoor, aanvaar hulle dit met vreugde.+ 17 Tog skiet hulle nie wortel nie. Hulle bly ’n tyd lank, maar sodra daar probleme of vervolging ontstaan as gevolg van die woord, struikel hulle. 18 Daar is nog ander wat tussen die dorings gesaai is. Dit is die mense wat die woord gehoor het,+ 19 maar die bekommernisse+ van hierdie wêreld* en die bedrieglike krag van rykdom+ en die begeertes+ na allerhande ander dinge dring in en keer dat die woord verder groei, en dit word onvrugbaar. 20 Maar dié wat op die goeie grond gesaai is, is dié wat na die woord luister en dit aanvaar en vrug dra: 30, 60 en 100 keer soveel.”+
21 Hy het ook vir hulle gesê: “’n Lamp word tog nie gebring om onder ’n emmer* of onder ’n bed gesit te word nie, of hoe? Word dit nie gebring om op ’n lampstaander gesit te word nie?+ 22 Want daar is niks wat bedek is wat nie openbaar gemaak sal word nie, en daar is niks wat sorgvuldig weggesteek is wat nie aan die lig sal kom nie.+ 23 Laat elkeen wat ore het om te luister, luister.”+
24 Hy het verder vir hulle gesê: “Skenk aandag aan wat julle hoor.+ Met die maathouer waarmee julle uitmeet, sal daar vir julle uitgemeet word, ja, meer sal vir julle bygevoeg word. 25 Want as iemand het, sal meer aan hom gegee word,+ maar as iemand nie het nie, sal selfs wat hy het, van hom af weggeneem word.”+
26 Toe het hy gesê: “Die Koninkryk van God is net soos wanneer iemand saad op die grond gooi. 27 Hy slaap in die nag en staan op in die oggend, en die saad spruit uit en word groot – hy weet nie presies hoe dit gebeur nie. 28 Die grond bring vanself geleidelik vrug voort: eers die stingel, dan die aar en uiteindelik die graankorrels in die aar. 29 Maar sodra die graan ryp is, steek hy die sekel in, want die oestyd het gekom.”
30 Hy het verder gesê: “Waarmee kan ons die Koninkryk van God vergelyk, of met watter illustrasie kan ons dit verduidelik? 31 Dit is soos ’n mosterdsaadjie wat die kleinste van al die sade op die aarde is wanneer dit in die grond gesaai word.+ 32 Maar nadat dit gesaai is, groei dit en word dit groter as al die ander groentesoorte, met takke wat so groot is dat die voëls van die hemel blyplek onder sy skaduwee kan vind.”
33 Hy het dikwels sulke illustrasies+ gebruik om die woord aan hulle bekend te maak, volgens wat hulle kon verstaan. 34 Ja, sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie, maar hy het alles aan sy dissipels verduidelik wanneer hulle alleen was.+
35 En toe dit daardie dag aand word, het hy vir hulle gesê: “Kom ons gaan oor na die oorkantste oewer.”+ 36 Nadat hulle die skare weggestuur het, het hulle Jesus in die boot geneem.* Daar was ook ander bote by hom.+ 37 En ’n baie groot windstorm het losgebars, en die golwe het aanhoudend by die boot ingeslaan, en die boot was amper vol.+ 38 Maar Jesus het in die agterste deel van die boot op die kussing geslaap. En hulle het hom wakker gemaak en vir hom gevra: “Leermeester, gee u nie om dat ons op die punt staan om dood te gaan nie?” 39 Toe het hy opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: “Bedaar! Wees stil!”+ En die wind het gaan lê, en ’n groot kalmte het oor die see gekom. 40 Toe het hy vir hulle gevra: “Hoekom is julle so bang? Het julle nog steeds geen geloof nie?” 41 Maar hulle het baie bang geword, en hulle het vir mekaar gesê: “Wie is hy regtig? Selfs die wind en die see gehoorsaam hom.”+
5 Toe het hulle aan die oorkant van die see in die gebied van die Geraseners+ gekom. 2 En onmiddellik nadat Jesus uit die boot geklim het, het ’n man wat onder die beheer van ’n onrein gees was, tussen die grafte* uit na hom toe gekom. 3 Sy woonplek was tussen die grafte, en tot op daardie tydstip kon absoluut niemand hom vasbind nie, nie eers met ’n ketting nie. 4 Hy was dikwels met voetboeie en kettings vasgebind, maar hy het die kettings uitmekaargeruk en die voetboeie stukkend gebreek, en niemand het die krag gehad om hom te beheer nie. 5 En hy het heeltyd, dag en nag, in die grafte en in die berge geskree en homself met klippe stukkend gesny. 6 Maar toe hy Jesus van ver af sien, het hy gehardloop en voor hom neergebuig.+ 7 Toe het hy met ’n harde stem uitgeroep: “Wat het ek met jou te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Sweer by God dat jy my nie sal pynig nie.”+ 8 Want Jesus het reeds vir hom gesê: “Kom uit die man uit, jou onrein gees.”+ 9 Jesus het vir hom gevra: “Wat is jou naam?” En hy het geantwoord: “My naam is Legioen, want ons is baie.” 10 Hy het Jesus oor en oor gesmeek om nie die geeste uit die land uit te stuur nie.+
11 ’n Groot trop varke+ het daar by die berg gewei.+ 12 Toe het die geeste hom gesmeek en gesê: “Stuur ons in die varke in sodat ons in hulle kan ingaan.” 13 En hy het hulle toestemming gegee. Toe het die onrein geeste uitgekom en in die varke ingegaan, en die trop het oor die krans* gestorm, in die see in. Daar was omtrent 2 000 varke, en hulle het in die see verdrink. 14 Maar hulle oppassers het gevlug en die nuus in die stad en op die platteland gaan vertel, en mense het kom kyk wat gebeur het.+ 15 Toe het die mense na Jesus toe gekom, en hulle het die man daar sien sit wat onder die beheer van die demone was, die een wat voorheen die legioen gehad het. Hy het klere aangehad en was by sy volle verstand, en hulle het baie bang geword. 16 En die mense wat dit gesien het, het vir hulle vertel wat gebeur het met die man in wie daar demone was en met die varke. 17 Hulle het Jesus dus begin smeek om hulle gebied te verlaat.+
18 Toe hy in die boot klim, het die man in wie daar voorheen demone was, Jesus gesmeek en gevra of hy saam met Jesus kan gaan.+ 19 Jesus het hom egter nie toegelaat nie, maar het vir hom gesê: “Gaan huis toe na jou familielede, en vertel vir hulle alles wat Jehovah* vir jou gedoen het en dat hy genade aan jou betoon het.” 20 Die man het weggegaan en alles wat Jesus vir hom gedoen het in die Dekapoʹlis* begin verkondig, en al die mense was verstom.
21 Nadat Jesus weer in die boot na die oorkant gegaan het, het ’n groot skare by hom bymekaargekom, en hy was by die see.+ 22 Een van die hoofbeamptes van die sinagoge, met die naam Jaïrus, het gekom, en toe hy hom sien, het hy voor sy voete neergeval.+ 23 Hy het hom oor en oor gesmeek en gesê: “My dogtertjie is baie siek.* Kom lê asseblief u hande op haar+ sodat sy gesond kan word en kan lewe.” 24 Toe het Jesus saam met hom gegaan, en ’n groot skare het hom gevolg en van alle kante af teen hom gedruk.
25 En daar was ’n vrou wat 12 jaar lank+ aan bloedvloeiing gely het.+ 26 Sy het baie gely* as gevolg van baie dokters en het al haar geld uitgegee, maar sy het nie beter geword nie – haar toestand het eerder erger geword. 27 Toe sy die nuus oor Jesus hoor, het sy van agter af deur die skare gekom en aan sy bo-kleed geraak,+ 28 want sy het heeltyd gesê: “As ek net aan sy bo-klere raak, sal ek gesond word.”+ 29 En onmiddellik het haar bloedvloeiing opgehou, en sy kon in haar liggaam voel dat sy van die ernstige siekte genees is.
30 Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit hom uitgegaan het,+ en hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bo-klere geraak?”+ 31 Maar sy dissipels het vir hom gesê: “U kan sien dat die skare teen u druk, en tog vra u: ‘Wie het aan my geraak?’” 32 Hy het nogtans rondgekyk om te sien wie dit gedoen het. 33 Die vrou, wat besef het wat met haar gebeur het, was bang en het gebewe. Sy het voor hom kom neerval en hom die volle waarheid vertel. 34 Hy het vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede.+ Jy is van jou ernstige siekte genees.”+
35 Terwyl hy nog gepraat het, het daar manne van die huis van die hoofbeampte van die sinagoge gekom en gesê: “U dogter het gesterf! Hoekom sou u die Leermeester nog langer lastig val?”+ 36 Maar Jesus het gehoor wat hulle gesê het en het vir die hoofbeampte van die sinagoge gesê: “Moenie bekommerd wees nie.* Beoefen net geloof.”+ 37 En hy het niemand toegelaat om saam met hom te gaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus.+
38 Toe het hulle by die huis van die hoofbeampte van die sinagoge gekom, en hy het die mense gesien wat huil en uitroep en te kere gaan.+ 39 Nadat hy ingegaan het, het hy vir hulle gesê: “Hoekom huil julle en gaan julle so te kere? Die kind het nie gesterf nie. Sy slaap.”+ 40 Toe het hulle hom begin uitlag. Maar nadat hy hulle almal uitgestuur het, het hy die kind se pa en ma en die dissipels wat by hom was, geneem en ingegaan na waar die kind was. 41 Hy het toe die kind se hand geneem en vir haar gesê: “Taliʹta koemi.” Dit beteken: “Meisie, ek sê vir jou, staan op!”+ 42 En onmiddellik het die meisie opgestaan en begin loop. (Sy was 12 jaar oud.) Toe hulle dit sien, was hulle buite hulleself van vreugde. 43 Maar hy het hulle keer op keer* beveel om niemand hiervan te vertel nie,+ en hy het gesê dat hulle vir haar iets moet gee om te eet.
6 Hy het daarvandaan vertrek en in sy tuisgebied gekom,+ en sy dissipels het saam met hom gegaan. 2 Op die Sabbat het hy in die sinagoge begin leer, en die meeste mense wat na hom geluister het, was verstom en het gevra: “Waar het hierdie man hierdie dinge geleer?+ En hoekom is hierdie wysheid aan hom gegee, en hoe doen hy hierdie kragtige werke?+ 3 Is hy dan nie die timmerman nie?+ Is hy nie die seun van Maria+ en die broer van Jakobus,+ Josef, Judas en Simon+ nie? En is sy susters dan nie hier by ons nie?” Hulle het begin struikel* as gevolg van hom. 4 Maar Jesus het vir hulle gesê: “’n Profeet word oral geëer, behalwe in sy tuisgebied en onder sy familielede en in sy eie huis.”+ 5 Hy kon dus geen kragtige werk daar doen nie, behalwe om sy hande op ’n paar siek mense te lê en hulle te genees. 6 Ja, hy was verbaas oor hulle gebrek aan geloof. En hy het deur die dorpies gegaan en die mense geleer.+
7 Hy het die Twaalf na hom toe geroep, en hy het hulle twee-twee begin uitstuur,+ en hy het hulle gesag oor die onrein geeste gegee.+ 8 Hy het hulle ook beveel om niks behalwe ’n staf vir die reis saam te vat nie – geen brood, geen voedselsak, geen geld* nie+ – 9 maar om sandale aan te trek en om nie twee kledingstukke* te dra nie. 10 Verder het hy vir hulle gesê: “Waar julle ook al in ’n huis ingaan, bly daar totdat julle daarvandaan vertrek.+ 11 En as daar ’n plek is waar die mense julle nie ontvang nie of nie na julle luister nie, skud die stof van julle voete af wanneer julle daarvandaan uitgaan. Dit sal as ’n getuienis vir hulle dien.”+ 12 Toe het hulle vertrek en gepreek dat mense berou moet toon,+ 13 en hulle het baie demone uitgedryf+ en ’n groot aantal siek mense met olie gesalf en hulle genees.
14 Koning Herodes het hiervan gehoor, want mense het oral van hom gepraat en gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek, en daarom kan hy hierdie kragtige werke doen.”+ 15 Maar ander het gesê: “Dit is Eliʹa.” Nog ander het gesê: “Dit is ’n profeet soos een van die profete van die verlede.”+ 16 Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Die Johannes wie se kop ek laat afkap het, is opgewek.” 17 Herodes het Johannes vroeër laat arresteer en hom laat boei en in die tronk gesit as gevolg van Heroʹdias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het.+ 18 Want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag nie die vrou van u broer as vrou hê nie.”+ 19 Heroʹdias het dus ’n wrok teen hom gekoester en wou hom doodmaak, maar sy kon nie. 20 Herodes was bang vir Johannes omdat hy geweet het dat Johannes ’n regverdige en heilige man is,+ en hy het hom beskerm. Wanneer hy na Johannes geluister het, was hy baie onseker oor wat om te doen, maar tog het hy graag na hom geluister.
21 Maar op Herodes se verjaarsdag+ het Heroʹdias ’n kans gekry om haar plan uit te voer. Hy het ’n aandete vir sy hoë amptenare en die militêre bevelvoerders en die belangrikste manne van Galileʹa+ voorberei. 22 En die dogter van Heroʹdias het ingekom en gedans, en Herodes en dié wat saam met hom geëet het,* het dit baie geniet. Die koning het vir die meisie gesê: “Vra my enigiets wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” 23 Ja, hy het vir haar gesweer: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, tot die helfte van my koninkryk.” 24 Toe het sy na haar ma toe gegaan en gevra: “Waarvoor moet ek vra?” Sy het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.” 25 Onmiddellik het sy vinnig na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Ek wil hê dat u dadelik vir my die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord moet gee.”+ 26 Dit het die koning baie ontstel, maar hy wou nie vir haar nee sê nie as gevolg van die ede wat hy voor sy gaste* gesweer het. 27 Toe het die koning onmiddellik ’n lyfwag gestuur en hom beveel om Johannes se kop te bring. En hy het weggegaan en sy kop in die tronk afgekap 28 en sy kop op ’n skinkbord gebring. Hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. 29 Toe sy dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk kom haal en dit in ’n graf* neergelê.
30 Die apostels het by Jesus bymekaargekom en vir hom alles vertel wat hulle gedoen het en vir die mense geleer het.+ 31 En hy het vir hulle gesê: “Kom saam na ’n afgeleë plek waar julle alleen kan wees en ’n bietjie kan rus.”+ Want daar was baie wat gekom en gegaan het, en hulle het nie eers kans gehad om te eet nie. 32 Toe het hulle in die boot na ’n afgeleë plek gegaan om alleen te wees.+ 33 Maar mense het gesien dat hulle vertrek, en baie het daarvan gehoor. Toe het mense uit al die stede vinnig te voet daarheen gegaan en voor hulle daar aangekom. 34 Toe hy uitklim, het hy ’n groot skare gesien, en hy het baie jammer vir hulle gevoel,+ want hulle was soos skape sonder ’n herder.+ En hy het hulle baie dinge begin leer.+
35 Dit het toe al laat geword, en sy dissipels het na hom toe gekom en gesê: “Ons is op ’n afgeleë plek, en dit is al laat.+ 36 Stuur hulle weg, sodat hulle na die omliggende platteland en dorpies kan gaan en vir hulle iets kan koop om te eet.”+ 37 Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Toe het hulle vir hom gevra: “Wil u hê dat ons brood vir 200 denaʹrii* moet gaan koop en dit vir die mense moet gee om te eet?”+ 38 Hy het vir hulle gesê: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle uitgevind het, het hulle gesê: “Vyf, en ook twee visse.”+ 39 En hy het vir al die mense gesê om in groepe op die groen gras te gaan sit.+ 40 En hulle het in groepe van 100 en van 50 gaan sit. 41 Toe het hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en gebid.+ Daarna het hy die brode gebreek en dit vir die dissipels begin gee om aan die mense te gee, en hy het die twee visse onder almal verdeel. 42 Toe het hulle almal geëet en versadig geword, 43 en nadat hulle die oorskietstukke opgetel het, was daar 12 mandjies vol, maar dit het nie die vis ingesluit nie.+ 44 Daar was 5 000 mans wat die brood geëet het.
45 Toe het hy sy dissipels dadelik in die boot laat klim en hulle vooruit laat gaan na die oorkantste oewer, in die rigting van Betsaiʹda, terwyl hy die skare weggestuur het.+ 46 Maar nadat hy hulle gegroet het, het hy na ’n berg gegaan om te bid.+ 47 Teen die aand was die boot in die middel van die see, maar hy was alleen op die land.+ 48 Hy het gesien dat hulle sukkel om te roei, want die wind was teen hulle, en daarom het hy omtrent die vierde nagwaak* op die see na hulle toe aangeloop gekom, maar dit het gelyk asof hy by hulle wou verbygaan. 49 Toe hulle hom op die see sien loop, het hulle gesê: “Dit is ’n verskyning!” En hulle het uitgeroep, 50 want hulle almal het hom gesien en was geskok. Maar hy het onmiddellik vir hulle gesê: “Bedaar! Dit is ek. Moenie bang wees nie.”+ 51 Toe het hy by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was stomgeslaan, 52 want hulle het nie begryp wat die wonderwerk met die brode beteken het nie, en hulle* het dit nog steeds moeilik gevind om te verstaan.
53 Toe hulle die oorkant bereik, het hulle in Genneʹsaret gekom en die boot daar naby vasgeanker.+ 54 Maar die oomblik toe hulle uit die boot klim, het mense hom herken. 55 Die mense het in daardie hele gebied rondgehardloop en die siek mense op draagbeddens begin dra na waar hulle gehoor het hy is. 56 En wanneer hy ook al na dorpies of stede of die platteland gegaan het, het hulle die siek mense op die markpleine neergesit, en hulle het hom gesmeek om maar net aan die fraiings van sy bo-kleed te kan raak.+ En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.
7 En die Fariseërs en party van die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het om hom bymekaargekom.+ 2 Hulle het gesien dat party van sy dissipels met onrein hande, dit wil sê ongewaste hande,* eet. 3 (Want die Fariseërs en al die Jode eet nie tensy hulle hulle hande tot by die elmboë gewas het nie. Hulle hou vas aan die tradisies van ons voorvaders, 4 en wanneer hulle van die mark af terugkom, eet hulle nie tensy hulle hulle gewas het nie. Daar is baie ander tradisies wat hulle ontvang het en waaraan hulle vashou, soos die doop van bekers en kanne en koperhouers.)+ 5 Toe het hierdie Fariseërs en skrifgeleerdes vir hom gevra: “Hoekom gehoorsaam jou dissipels nie die tradisies van ons voorvaders nie? Hulle eet met onrein hande.”+ 6 Hy het vir hulle gesê: “Julle skynheiliges, Jesaja was reg toe hy oor julle geprofeteer het, soos daar geskryf staan: ‘Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle harte is ver van my af.+ 7 Dit is verniet dat hulle my bly aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.’+ 8 Julle verlaat die gebod van God en hou vas aan die tradisies van mense.”+
9 Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verwerp die gebod van God op slinkse maniere sodat julle julle tradisies kan onderhou.+ 10 Moses het byvoorbeeld gesê: ‘Eer* jou pa en jou ma’,+ en: ‘Laat die persoon wat sy pa of ma beledig, doodgemaak word.’+ 11 Maar julle sê: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: “Alles wat ek het waarmee ek julle sou kon ondersteun, is korban (dit wil sê ’n gawe wat aan God belowe is)”’ 12 dan laat julle hom niks meer vir sy pa of sy ma doen nie.+ 13 So maak julle die woord van God kragteloos deur julle tradisies wat julle oorgedra het.+ En julle doen baie ander soortgelyke dinge.”+ 14 Toe het hy die skare weer na hom toe geroep en vir hulle gesê: “Luister na my, almal van julle, en verstaan die betekenis.+ 15 Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie, maar wat uit ’n mens uitgaan, is wat hom onrein maak.”+ 16 *——
17 Toe hy in ’n huis ingegaan het, weg van die skare af, het sy dissipels hom oor die illustrasie begin uitvra.+ 18 En hy het vir hulle gesê: “Is julle ook sonder begrip soos hulle? Besef julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie? 19 Want dit gaan nie in sy hart in nie, maar in sy maag, en dan beland dit in die riool.” So het hy alle voedsel rein verklaar. 20 Verder het hy gesê: “Wat uit ’n mens uitkom, maak hom onrein.+ 21 Want van binne af, uit die hart van die mens,+ kom skadelike redenasies: seksuele onsedelikheid,* diefstal, moord, 22 egbreuk, gierigheid, goddelose dade, bedrog, skaamtelose gedrag,* jaloesie,* lastering, hoogmoed en onredelikheid. 23 Al hierdie goddelose dinge kom van binne af en maak ’n mens onrein.”
24 Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon gegaan.+ Daar het hy in ’n huis ingegaan, en hy wou nie hê dat enigiemand daarvan moet weet nie, maar hy kon nie onopgemerk bly nie. 25 Net toe hy daar aankom, het ’n vrou wie se dogtertjie ’n onrein gees gehad het, van hom gehoor en by sy voete kom neerval.+ 26 Die vrou was ’n Griek, van Siro-Fenisiese nasionaliteit,* en sy het hom bly vra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. 27 Maar hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.”+ 28 Sy het toe vir hom gesê: “Ja, meneer, en tog eet selfs die hondjies onder die tafel van die kindertjies se krummels.” 29 Hy het vir haar gesê: “Omdat jy dit gesê het, gaan huis toe. Die demoon het uit jou dogter uitgegaan.”+ 30 Toe het sy huis toe gegaan en die jong kind op die bed sien lê, en die demoon was weg.+
31 Toe Jesus uit die gebied van Tirus terugkom, het hy deur Sidon en deur die gebied van die Dekapoʹlis*+ na die See van Galileʹa gegaan. 32 Hier het hulle ’n man wat doof was en ’n spraakgebrek gehad het,+ na hom toe gebring, en hulle het hom gesmeek om sy hand op hom te lê. 33 En hy het hom alleen eenkant toe geneem, weg van die skare af. Toe het hy sy vingers in die man se ore gesteek, en nadat hy gespoeg het, het hy aan die man se tong geraak.+ 34 En terwyl hy na die hemel opgekyk het, het hy diep gesug en vir hom gesê: “Efʹfata.” Dit beteken: “Word geopen.” 35 Toe is sy ore geopen+ en sy spraakgebrek is weggeneem, en hy het normaal begin praat. 36 Jesus het hulle beveel om vir niemand te vertel nie,+ maar hoe meer hy dit vir hulle gesê het, hoe meer het hulle dit verkondig.+ 37 Ja, hulle was baie verbaas+ en het gesê: “Hy het alles goed gedoen. Hy laat selfs die dowes hoor en die stommes praat.”+
8 In daardie dae was daar weer ’n groot skare, en hulle het niks gehad om te eet nie. Toe het hy die dissipels geroep en vir hulle gesê: 2 “Ek voel baie jammer vir die skare,+ want hulle is nou al drie dae by my, en hulle het niks om te eet nie.+ 3 As ek hulle huis toe stuur sonder dat hulle iets geëet het,* sal hulle op die pad flou word, en party van hulle kom van ver af.” 4 Maar sy dissipels het hom geantwoord: “Waar sal enigiemand op hierdie afgeleë plek genoeg brood kry om hierdie mense te voed?” 5 Toe het hy vir hulle gevra: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het gesê: “Sewe.”+ 6 Toe het hy vir die skare gesê om op die grond te gaan sit. Hy het die sewe brode geneem, ’n dankgebed gedoen, dit gebreek en dit vir sy dissipels begin gee om uit te deel, en hulle het dit aan die skare uitgedeel.+ 7 Hulle het ook ’n paar vissies gehad, en nadat hy gebid het, het hy vir hulle gesê om dit ook uit te deel. 8 En hulle het geëet en versadig geword, en die oorskietstukke wat hulle opgetel het, het sewe groot mandjies* vol gemaak.+ 9 Daar was omtrent 4 000 mans. Daarna het hy hulle weggestuur.
10 Hy het onmiddellik saam met sy dissipels in die boot geklim en in die gebied van Dalmanuʹta gekom.+ 11 Die Fariseërs het gekom en met hom begin stry. Omdat hulle hom wou toets, het hulle aangedring dat hy vir hulle ’n teken uit die hemel gee.+ 12 Toe het hy diep gesug* en gesê: “Hoekom wil hierdie geslag ’n teken hê?+ Ek verseker julle: Geen teken sal aan hierdie geslag gegee word nie.”+ 13 Toe het hy hulle verlaat, weer in die boot geklim en na die oorkantste oewer gegaan.
14 Maar die dissipels het vergeet om brood saam te vat, en hulle het niks behalwe een brood by hulle in die boot gehad nie.+ 15 En hy het hulle uitdruklik gewaarsku en gesê: “Hou julle oë oop. Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”+ 16 Toe het hulle met mekaar begin stry oor die feit dat hulle nie brood het nie. 17 Hy het dit opgemerk en vir hulle gevra: “Hoekom stry julle omdat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog nie wat ek sê nie? Vind julle* dit nog steeds moeilik om te verstaan? 18 ‘Al het julle oë, sien julle dan nie, en al het julle ore, hoor julle dan nie?’ Onthou julle 19 hoeveel mandjies julle vol oorskietstukke gemaak het toe ek die vyf brode+ vir die 5 000 mans gebreek het?” Hulle het vir hom gesê: “Twaalf.”+ 20 “Hoeveel groot mandjies* het julle vol oorskietstukke gemaak toe ek die sewe brode vir die 4 000 mans gebreek het?” En hulle het vir hom gesê: “Sewe.”+ 21 Toe het hy vir hulle gevra: “Verstaan julle nog nie?”
22 Hulle het by Betsaiʹda aangekom, en mense het ’n blinde man na hom toe gebring. Hulle het Jesus gesmeek om hom gesond te maak.+ 23 En hy het die blinde man se hand geneem en hom tot buite die dorpie gebring. Nadat hy op sy oë gespoeg het,+ het hy sy hande op hom gelê en vir hom gevra: “Sien jy iets?” 24 Die man het opgekyk en gesê: “Ek sien mense, maar hulle lyk soos bome wat rondloop.” 25 Toe het hy weer sy hande op die man se oë gesit. Die man is genees, en hy kon alles duidelik sien. 26 Toe het hy hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie in die dorpie ingaan nie.”
27 Jesus en sy dissipels het toe na die dorpies van Sesareʹa-Filipʹpi vertrek, en op pad het hy sy dissipels begin uitvra en vir hulle gesê: “Wie sê die mense is ek?”+ 28 Hulle het vir hom gesê: “Johannes die Doper,+ maar ander sê Eliʹa,+ en nog ander sê een van die profete.” 29 En hy het vir hulle gevra: “Maar julle, wie sê julle is ek?” Petrus het hom geantwoord: “U is die Christus.”+ 30 Toe het hy hulle beveel om vir niemand van hom te vertel nie.+ 31 Hy het hulle ook begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp moet word deur die ouermanne en die hoofpriesters en die skrifgeleerdes en doodgemaak moet word+ en drie dae later moet opstaan.+ 32 Ja, hy het dit reguit vir hulle gesê. Maar Petrus het hom eenkant geneem en ernstig met hom gepraat.+ 33 Toe het hy omgedraai, na sy dissipels gekyk en streng met Petrus gepraat en gesê: “Gaan agter my, Satan! Want jou gedagtes is nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.”+
34 En hy het die skare saam met sy dissipels na hom toe geroep en vir hulle gesê: “As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe* en sy folterpaal* optel en aanhou om my te volg.+ 35 Want enigiemand wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar enigiemand wat sy lewe ter wille van my en die goeie nuus verloor, sal dit red.+ 36 Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld wen, maar sy lewe* verloor?+ 37 Wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?*+ 38 Want as iemand hom in hierdie ontroue* en sondige geslag vir my en my woorde skaam, sal die Seun van die mens hom ook vir hierdie persoon skaam+ wanneer hy en die heilige engele met die mag* van sy Vader kom.”+
9 Verder het hy vir hulle gesê: “Ek verseker julle dat party van dié wat hier staan, beslis nie sal sterf voordat hulle gesien het dat die Koninkryk van God met krag gekom het nie.”+ 2 Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen teen ’n hoë berg opgeneem. En sy voorkoms* het voor hulle verander:+ 3 Sy bo-klere het begin glinster en het baie witter geword as wat enigiemand op aarde dit kon maak. 4 Eliʹa en Moses het ook aan hulle verskyn, en hulle het met Jesus gesels. 5 Toe het Petrus vir Jesus gesê: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie skuilings* oprig: een vir u, een vir Moses en een vir Eliʹa.” 6 Hy het eintlik nie geweet wat om te sê nie, want hulle was baie bang. 7 ’n Wolk het gevorm en oor hulle gekom, en ’n stem+ het uit die wolk gesê: “Dit is my Seun, die geliefde.+ Luister na hom.”+ 8 En skielik, toe hulle rondkyk, het hulle gesien dat daar niemand meer by hulle is nie, behalwe Jesus.
9 Terwyl hulle van die berg afgekom het, het hy hulle streng beveel om vir niemand te vertel wat hulle gesien het+ voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie.+ 10 Hulle het sy woorde ernstig opgeneem,* maar hulle het onder mekaar bespreek wat hierdie opstanding uit die dood kon beteken. 11 Hulle het hom begin uitvra en gesê: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat Eliʹa+ eers moet kom?”+ 12 Hy het vir hulle gesê: “Eliʹa sal beslis eers kom en alles herstel,+ maar hoekom is daar van die Seun van die mens geskryf dat hy baie dinge moet ly+ en verneder moet word?+ 13 Maar ek sê vir julle dat Eliʹa+ in werklikheid reeds gekom het, en hulle het aan hom gedoen net wat hulle wou, net soos daar van hom geskryf is.”+
14 Toe hulle by die ander dissipels kom, het hulle gesien dat daar ’n groot skare om hulle is, en daar was skrifgeleerdes wat met hulle gestry het.+ 15 Maar die oomblik toe die skare Jesus sien, was hulle verbaas, en hulle het na hom toe gehardloop om hom te groet. 16 Hy het vir hulle gevra: “Waaroor stry julle met die mense?” 17 En iemand uit die skare het hom geantwoord: “Leermeester, ek het my seun na u toe gebring, want daar is ’n gees in hom wat veroorsaak dat hy nie kan praat nie.+ 18 Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer, en dan kom skuim by sy mond uit en kners hy op sy tande en verloor hy sy krag. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” 19 Hy het hulle geantwoord: “Julle is so ’n ongelowige geslag!+ Hoe lank moet ek by julle bly? Hoe lank moet ek julle verdra? Bring hom na my toe.”+ 20 Hulle het die seun na Jesus toe gebring, maar toe die gees hom sien, het hy die kind dadelik stuiptrekkings laat kry. Nadat die kind op die grond neergeval het, het hy bly rondrol, en skuim het by sy mond uitgekom. 21 Toe het Jesus die pa gevra: “Hoe lank gebeur dit al met hom?” Hy het gesê: “Van kleins af, 22 en die gees het hom dikwels in die vuur en ook in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as u enigiets kan doen, betoon genade aan ons en help ons.” 23 Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy: ‘As u kan’? Alles is moontlik vir die een wat geloof het.”+ 24 Onmiddellik het die kind se pa uitgeroep: “Ek het geloof! Help my waar ek geloof nodig het!”+
25 Toe Jesus sien dat ’n skare vinnig op pad na hulle toe is, het hy streng met die onrein gees gepraat en vir hom gesê: “Jou stom en dowe gees, ek beveel jou: Gaan uit hom uit en moenie weer in hom ingaan nie!”+ 26 Nadat hy geskree het en baie stuiptrekkings gekry het, het die gees uitgekom. Dit het gelyk asof die kind dood is, en daarom het die meeste van die mense gesê: “Hy is dood!” 27 Maar Jesus het die kind se hand geneem en hom opgehelp, en hy het opgestaan. 28 En Jesus het in ’n huis ingegaan, en toe hy en sy dissipels alleen was, het hulle vir hom gevra: “Hoekom kon ons hom nie uitdryf nie?”+ 29 Hy het vir hulle gesê: “Hierdie soort kan net deur middel van gebed uitgedryf word.”
30 Hulle het daarvandaan vertrek en deur Galileʹa gegaan. Maar hy wou nie hê dat enigiemand daarvan moet uitvind nie, 31 want hy was besig om sy dissipels te leer. Hy het vir hulle gesê: “Die Seun van die mens gaan verraai word en aan mense oorgelewer word, en hulle sal hom doodmaak,+ maar al word hy doodgemaak, sal hy drie dae later opstaan.”+ 32 Maar hulle het nie sy woorde verstaan nie, en hulle was bang om hom uit te vra.
33 Hulle het in Kaperʹnaum gekom. En toe hy in die huis was, het hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle op die pad gestry?”+ 34 Hulle het stilgebly, want hulle het op die pad onder mekaar gestry oor wie die grootste is. 35 Toe het hy gaan sit en die Twaalf geroep en vir hulle gesê: “As enigiemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.”+ 36 Toe het hy ’n jong kind tussen hulle laat staan. Hy het sy arms om hom gesit en vir hulle gesê: 37 “Elkeen wat ’n jong kind soos hierdie op grond van my naam ontvang,+ ontvang my ook, en elkeen wat my ontvang, ontvang nie net vir my nie, maar ook Hom wat my gestuur het.”+
38 Johannes het vir hom gesê: “Leermeester, ons het iemand gesien wat demone uitdryf deur u naam te gebruik, en ons het hom probeer keer omdat hy nie een van ons is nie.”+ 39 Maar Jesus het gesê: “Moet hom nie probeer keer nie, want daar is niemand wat ’n kragtige werk in my naam sal doen wat gou iets slegs oor my sal kan sê nie. 40 Want wie nie teen ons is nie, is vir ons.+ 41 Ek verseker julle dat elkeen wat vir julle ’n beker water gee om te drink omdat julle aan Christus behoort,+ beslis nie sy beloning sal verloor nie.+ 42 Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat geloof het, laat struikel, sal dit vir hom beter wees as ’n meulsteen* om sy nek gehang word en hy in die see gegooi word.+
43 “As jou hand ooit vir jou ’n struikelblok is, kap dit af. Dit is vir jou beter om vermink in die lewe in te gaan as om met twee hande in Gehenʹna* in te gaan, in die vuur wat nie geblus kan word nie.+ 44 *—— 45 En as jou voet vir jou ’n struikelblok is, kap dit af. Dit is vir jou beter om kreupel in die lewe in te gaan as om met twee voete in Gehenʹna* gegooi te word.+ 46 *—— 47 En as jou oog vir jou ’n struikelblok is, gooi dit weg.+ Dit is vir jou beter om een oog te hê en in die Koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenʹna* gegooi te word,+ 48 waar die wurm nie doodgaan nie en die vuur nie geblus word nie.+
49 “Want elkeen moet met vuur gesout word.+ 50 Sout is goed, maar as die sout ooit sy krag verloor, hoe sal dit weer sout gemaak word?+ Julle moet sout in julle hê+ en vrede onder mekaar bewaar.”+
10 Hy het daarvandaan weggegaan en by die grens van Judeʹa oorkant die Jordaanrivier gekom. ’n Skare het weer by hom bymekaargekom, en soos gewoonlik het hy hulle begin leer.+ 2 En Fariseërs het gekom om hom te toets, en hulle het vir hom gevra of ’n man van sy vrou mag skei.+ 3 Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?” 4 Hulle het gesê: “Moses het toegelaat dat ’n skeibrief geskryf kan word en dat hy van haar kan skei.”+ 5 Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hy het hierdie gebod vir julle geskryf+ omdat julle harte so ongevoelig is.+ 6 Maar van die begin van die skepping af ‘het Hy hulle man en vrou geskep.+ 7 Daarom sal ’n man sy pa en sy ma verlaat,+ 8 en die twee sal een vlees wees.’+ Hulle sal dus nie meer twee wees nie, maar een vlees. 9 Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”+ 10 Toe hulle weer in die huis was, het die dissipels hom hieroor begin uitvra. 11 Hy het vir hulle gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk+ teen haar, 12 en as ’n vrou ooit met iemand anders trou nadat sy van haar man geskei het, pleeg sy egbreuk.”+
13 Mense het toe jong kinders na hom toe begin bring sodat hy hulle kan seën,* maar die dissipels het streng met hulle gepraat.+ 14 Jesus was baie ontevrede toe hy dit sien, en hy het vir hulle gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom. Moet hulle nie probeer keer nie, want die Koninkryk van God behoort aan mense wat soos hulle is.+ 15 Ek verseker julle: Elkeen wat nie die Koninkryk van God soos ’n jong kind ontvang nie, sal glad nie daar ingaan nie.”+ 16 En hy het die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy sy hande op hulle gelê het.+
17 Toe hy vertrek het, het ’n man aangehardloop gekom en voor hom op sy knieë geval en vir hom gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”+ 18 Jesus het vir hom gesê: “Hoekom noem jy my goed? Niemand is goed nie, behalwe een, God.+ 19 Jy ken die gebooie: ‘Moenie moord pleeg nie,+ moenie egbreuk pleeg nie,+ moenie steel nie,+ moenie valslik getuig nie,+ moenie bedrog pleeg nie,+ eer* jou pa en jou ma.’”+ 20 Die man het vir hom gesê: “Leermeester, ek was van kleins af gehoorsaam aan al hierdie dinge.” 21 Jesus het na hom gekyk en liefde vir hom gevoel en gesê: “Daar is nog een ding wat jy moet doen: Gaan verkoop wat jy het en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. En kom word my volgeling.”+ 22 Maar hy was baie hartseer toe hy die antwoord hoor en het weggegaan, want hy het baie besittings gehad.+
23 Nadat Jesus rondgekyk het, het hy vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal dit tog vir mense met geld wees om in die Koninkryk van God in te gaan!”+ 24 Maar die dissipels was verbaas oor sy woorde. Jesus het toe vir hulle gesê: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die Koninkryk van God in te gaan! 25 Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die Koninkryk van God in te gaan.”+ 26 Hulle was nog meer verbaas en het hom* gevra: “Wie kan dan gered word?”+ 27 Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”+ 28 Petrus het vir hom gesê: “Ons het alles agtergelaat en u gevolg.”+ 29 Jesus het gesê: “Ek verseker julle dat elkeen wat huis of broers of susters of ma of pa of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat het,+ 30 nou in hierdie tyd 100 keer soveel sal kry – huise, broers, susters, ma’s, kinders en landerye, met vervolginge+ – en in die wêreld* wat kom, die ewige lewe. 31 Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en baie wat laaste is, sal eerste wees.”+
32 Terwyl hulle op pad Jerusalem toe was, het Jesus voor hulle uit gegaan. Die dissipels was verbaas, maar die mense wat hulle gevolg het, het bang geword. Hy het die Twaalf weer eenkant geneem en vir hulle die dinge begin vertel wat met hom sou gebeur:+ 33 “Ons is op pad na Jerusalem, en die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en die skrifgeleerdes oorgelewer word. Hulle sal hom tot die dood veroordeel en hom aan mense van die nasies oorlewer, 34 en hulle sal hom bespot en op hom spoeg en hom met ’n gésel* slaan en hom doodmaak, maar drie dae later sal hy opstaan.”+
35 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeʹus,+ het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Leermeester, ons wil hê dat u vir ons moet doen wat ons u vra.”+ 36 Hy het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?” 37 Hulle het geantwoord: “Wanneer u mag* ontvang, laat een van ons toe om aan u regterhand te sit, en een aan u linkerhand.”+ 38 Maar Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie waarvoor julle vra nie. Kan julle die beker drink wat ek drink, of gedoop word met die doop waarmee ek gedoop word?”+ 39 Hulle het vir hom gesê: “Ons kan.” Toe het Jesus vir hulle gesê: “Julle sal die beker drink wat ek drink, en julle sal gedoop word met die doop waarmee ek gedoop word.+ 40 Maar om aan my regterhand of aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit behoort aan dié vir wie dit voorberei is.”
41 Toe die tien ander hiervan hoor, het hulle kwaad geword vir Jakobus en Johannes.+ 42 Maar Jesus het hulle na hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat dié wat as heersers van die nasies beskou word, oor die mense baasspeel en dat hulle leiers* hulle oorheers.+ 43 Dit moenie so onder julle wees nie. As iemand onder julle groot wil wees, moet hy julle dienaar wees,+ 44 en as iemand onder julle die eerste wil wees, moet hy almal se slaaf wees. 45 Want selfs die Seun van die mens het gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien+ en om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie.”+
46 Toe het hulle in Jeʹrigo aangekom. Maar toe hy en sy dissipels en ’n groot skare Jeʹrigo verlaat, het hulle Bartimeʹus (die seun van Timeʹus), ’n blinde bedelaar, langs die pad sien sit.+ 47 Toe hy hoor dat dit Jesus die Nasarener is, het hy begin uitroep en gesê: “Seun van Dawid,+ Jesus, betoon genade aan my!”+ 48 Baie het hom streng beveel om stil te bly, maar hy het al hoe meer uitgeroep: “Seun van Dawid, betoon genade aan my!” 49 Toe het Jesus stilgestaan en gesê: “Roep hom.” Hulle het dus die blinde man geroep en vir hom gesê: “Wees bly! Staan op. Hy roep jou.” 50 Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gegaan. 51 Toe het Jesus vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Die blinde man het vir hom gesê: “Rabboeʹni,* laat my weer sien.” 52 Jesus het vir hom gesê: “Gaan. Jou geloof het jou gesond gemaak.”+ En onmiddellik kon hy weer sien,+ en hy het hom begin volg.
11 En toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfaʹge en Betaʹnië+ teen die Olyfberg, het hy twee van sy dissipels gestuur+ 2 en vir hulle gesê: “Gaan in die dorpie in wat julle voor julle sien, en sodra julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie vind wat vasgemaak is en waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. 3 En as iemand vir julle vra: ‘Hoekom doen julle dit?’ moet julle sê: ‘Die Here het hom nodig en sal hom dadelik hierheen terugstuur.’” 4 Toe het hulle gegaan en die jong donkie gevind. Hy was by ’n deur vasgemaak, buite op die systraat, en hulle het hom losgemaak.+ 5 Maar party wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?” 6 Hulle het vir hulle gesê presies wat Jesus gesê het, en hulle het hulle laat gaan.
7 Hulle het toe die jong donkie+ na Jesus toe gebring, en hulle het hulle bo-klere op die donkie gesit. Toe het Jesus op die donkie gaan sit.+ 8 Baie mense het hulle bo-klere op die pad uitgesprei, en ander het takke in die veld afgekap.+ 9 En dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het bly uitroep: “Red hom, asseblief!+ Geseënd is die een wat in Jehovah* se naam kom!+ 10 Geseënd is die komende Koninkryk van ons vader Dawid!+ Red hom* asseblief in die hoogtes daar bo!” 11 En toe hy in Jerusalem aankom, het hy in die tempel ingegaan, en hy het na alles om hom gekyk, maar omdat dit reeds laat was, het hy met die Twaalf uitgegaan na Betaʹnië.+
12 Die volgende dag, toe hulle Betaʹnië verlaat, het hy honger geword.+ 13 Hy het van ver af ’n vyeboom met blare gesien, en hy het gaan kyk of hy miskien iets daaraan kan vind. Maar toe hy by die boom kom, het hy net blare gevind, want dit was nie die tyd vir vye nie. 14 Toe het hy vir die boom gesê: “Laat niemand ooit weer vrugte van jou eet nie.”+ En sy dissipels het gehoor wat hy gesê het.
15 Toe het hulle in Jerusalem aangekom. Daar het hy in die tempel ingegaan en die mense begin uitjaag wat in die tempel koop en verkoop, en hy het die tafels van die geldwisselaars* en die stoele van die duiweverkopers omgegooi,+ 16 en hy het niemand toegelaat om enigiets deur die tempel te dra nie. 17 Hy het die mense geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie?+ Maar julle het dit ’n skuilplek vir rowers gemaak.”+ 18 En die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het dit gehoor, en hulle het na ’n manier begin soek om hom dood te maak,+ want hulle was bang vir hom omdat die hele skare beïndruk was deur die manier waarop hy onderrig het.+
19 Laat daardie dag het hulle die stad verlaat. 20 Maar toe hulle vroeg in die oggend by die vyeboom verbygaan, het hulle gesien dat die boom reeds van sy wortels af uitgedroog het.+ 21 Petrus het onthou wat gebeur het en het vir hom gesê: “Rabbi, kyk! die vyeboom wat u vervloek het, het uitgedroog.”+ 22 Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet geloof in God hê. 23 Ek verseker julle: As iemand vir hierdie berg sê: ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en hy nie in sy hart twyfel nie maar geloof het, sal dit vir hom so gebeur.+ 24 Daarom sê ek vir julle: Glo dat julle alles waarvoor julle bid en vra, reeds ontvang het, en julle sal dit hê.+ 25 En wanneer julle staan en bid en julle iets teen iemand het, moet julle hom vergewe, sodat julle Vader wat in die hemel is, ook julle oortredings kan vergewe.”+ 26 *——
27 Hulle het weer in Jerusalem aangekom. En terwyl hy in die tempel geloop het, het die hoofpriesters en die skrifgeleerdes en die ouermanne gekom 28 en vir hom gevra: “Met watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het jou hierdie gesag gegee om hierdie dinge te doen?”+ 29 Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord my eers, en dan sal ek vir julle sê met watter gesag ek hierdie dinge doen. 30 Het Johannes se gesag om te doop+ uit die hemel of van mense gekom? Antwoord my.”+ 31 Toe het hulle onder mekaar begin redeneer en gesê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ sal hy vra: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32 Maar as ons sê: ‘Van mense,’ wat sal dan gebeur?” Hulle was bang vir die skare, want die mense het almal geglo dat Johannes werklik ’n profeet was.+ 33 Hulle het dus vir Jesus gesê: “Ons weet nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.”
12 Toe het hy deur middel van illustrasies met hulle begin praat: “’n Man het ’n wingerd geplant+ en ’n heining daarom gesit en ’n wynpers uitgekap en ’n toring opgerig.+ Toe het hy dit aan landbouers verhuur en na die buiteland gereis.+ 2 Op die regte tyd het hy ’n slaaf na die landbouers toe gestuur om van die druiwe van die wingerd by hulle te gaan haal. 3 Maar hulle het hom gevat, hom geslaan en hom met leë hande weggestuur. 4 Toe het hy ’n ander slaaf na hulle toe gestuur, en hulle het hom oor die kop geslaan en hom verneder.+ 5 Hy het nog een gestuur, en hulle het hom doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, en hulle het party geslaan en party doodgemaak. 6 Hy het nog net een oorgehad om te stuur, sy geliefde seun.+ Hy het hom laaste na hulle toe gestuur en gesê: ‘Hulle sal my seun respekteer.’ 7 Maar daardie landbouers het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam.+ Kom ons maak hom dood, en die erfenis sal ons s’n wees.’ 8 Toe het hulle hom gevat en hom doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi.+ 9 Wat sal die eienaar van die wingerd doen? Hy sal die landbouers kom doodmaak en die wingerd vir ander gee.+ 10 Het julle nog nooit die volgende gedeelte in die Skrif gelees nie? ‘Die steen wat die bouers verwerp het, het die belangrikste hoeksteen* geword.+ 11 Dit het van Jehovah* af gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’”+
12 Toe wou sy teenstanders hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, want hulle het geweet dat hy hulle in gedagte gehad het toe hy die illustrasie vertel het. Hulle het dus van hom af weggegaan.+
13 Daarna het hulle party van die Fariseërs en van Herodes se ondersteuners na hom toe gestuur sodat hulle Jesus kon kry om iets te sê wat hulle teen hom kan gebruik.+ 14 Toe hulle daar aankom, het hulle vir hom gesê: “Leermeester, ons weet dat u opreg is en niemand se goedkeuring soek nie, want u kyk nie na mense se uiterlike nie, maar u leer die waarheid oor God se weg. Is dit reg om hoofbelasting aan die keiser te betaal of nie? 15 Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?” Hy het geweet dat hulle skynheilig is en het vir hulle gesê: “Hoekom toets julle my? Bring vir my ’n denaʹrius* om na te kyk.” 16 Hulle het een gebring, en hy het vir hulle gevra: “Wie se beeld en titel is hierop?” Hulle het vir hom gesê: “Die keiser s’n.” 17 Jesus het toe gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort,+ maar aan God wat aan God behoort.”+ En hulle was verstom oor wat hy gesê het.
18 Toe het die Sadduseërs, wat sê dat daar geen opstanding is nie,+ vir hom kom sê:+ 19 “Leermeester, Moses het vir ons geskryf dat as iemand sterf en sy vrou sonder kinders agterlaat, dan moet sy broer met die vrou trou en kinders gee vir sy broer wat gesterf het.+ 20 Daar was sewe broers. Die eerste broer het met ’n vrou getrou, maar toe hy sterf, het hy geen kinders agtergelaat nie. 21 Toe het die tweede broer met haar getrou, maar gesterf sonder om kinders agter te laat, en dieselfde met die derde broer. 22 Nie een van die sewe broers het kinders agtergelaat nie. Laastens het die vrou ook gesterf. 23 Wie se vrou sal sy in die opstanding wees? Want al sewe was met haar getroud.” 24 Jesus het vir hulle gesê: “Julle misgis julle, want julle ken nie die Skrif nie en ook nie die krag van God nie.+ 25 Want wanneer hulle uit die dood opstaan, trou mans nie en word vrouens ook nie in die huwelik gegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel.+ 26 Het julle nie in die boek van Moses gelees wat God vir hom by die doringbos gesê het nie? God het van die opstanding gepraat toe hy gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’+ 27 Hy is nie ’n God van die dooies nie, maar van die lewendes. Julle misgis julle heeltemal.”+
28 Een van die skrifgeleerdes het nader gekom en gehoor hoe hulle redeneer. Hy het geweet dat Jesus vir hulle ’n goeie antwoord gegee het en het hom gevra: “Wat is die heel eerste* gebod?”+ 29 Jesus het geantwoord: “Die eerste gebod is: ‘Hoor, o Israel, Jehovah* ons God is een Jehovah,* 30 en jy moet Jehovah* jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel* en met jou hele verstand en met al jou krag.’+ 31 Die tweede gebod is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’+ Daar is geen ander gebod wat belangriker is as hierdie twee nie.” 32 Die skrifgeleerde het vir hom gesê: “Leermeester, wat u gesê het, is goed en is waar: ‘Hy is Een, en daar is geen ander God nie,’+ 33 en om hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag en om jou naaste lief te hê soos jouself, is baie meer werd as al die heelbrandoffers en offerandes.”+ 34 Jesus kon sien dat hy intelligent geantwoord het en het vir hom gesê: “Jy is nie ver van die Koninkryk van God af nie.” Niemand het die moed gehad om hom nog iets te vra nie.+
35 Maar terwyl Jesus die mense in die tempel geleer het, het hy gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat die Christus Dawid se seun is?+ 36 Deur die heilige gees+ het Dawid self gesê: ‘Jehovah* het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete plaas.”’+ 37 Dawid self noem hom ‘Here’. Hoe kan hy dan sy seun wees?”+
Die groot skare het dit geniet om na hom te luister. 38 Terwyl hy die mense geleer het, het hy gesê: “Pasop vir die skrifgeleerdes wat in lang klere wil rondloop en op die markpleine gegroet wil word+ 39 en die voorste* sitplekke in die sinagoges en die beste plekke by aandetes wil hê.+ 40 Hulle beroof die weduwees van hulle besittings* en doen lang gebede net om deur mense gesien te word. Hulle sal ’n strenger* oordeel ontvang.”
41 Toe het hy gaan sit waar hy die skatkiste+ kon sien en begin kyk hoe die skare geld in die skatkiste gooi, en ’n aantal ryk mense het baie muntstukke ingegooi.+ 42 En ’n arm weduwee het gekom en twee muntstukkies van baie min waarde* ingegooi.+ 43 Hy het toe sy dissipels na hom toe geroep en vir hulle gesê: “Ek verseker julle dat hierdie arm weduwee meer ingegooi het as al die ander mense wat geld in die skatkiste gegooi het.+ 44 Want hulle almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar al is sy baie arm,* het sy alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”+
13 Terwyl hy uit die tempel uitgegaan het, het een van sy dissipels vir hom gesê: “Leermeester, kyk na hierdie pragtige klippe en geboue!”+ 2 Maar Jesus het vir hom gesê: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie ’n klip op ’n klip gelos word wat nie afgebreek sal word nie.”+
3 Terwyl hy op die Olyfberg gesit het waar hulle die tempel kon sien, het Petrus, Jakobus, Johannes en Andreʹas hom die volgende vraag gevra toe hulle alleen was: 4 “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge tot ’n einde gaan kom?”+ 5 Toe het Jesus vir hulle gesê: “Pasop dat niemand julle mislei nie.+ 6 Baie sal kom en my naam gebruik en sê: ‘Dit is ek,’ en hulle sal baie mense mislei. 7 En wanneer julle van oorloë en berigte van oorloë hoor, moet julle nie bang wees nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie.+
8 “Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk.+ Daar sal aardbewings op die een plek ná die ander wees, en daar sal ook voedseltekorte wees.+ Hierdie dinge is die begin van ’n baie moeilike tyd.*+
9 “Julle moet wakker en versigtig wees. Mense sal julle aan plaaslike howe oorlewer,+ en julle sal in sinagoges geslaan word+ en voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle.+ 10 Die goeie nuus moet ook eers aan mense van al die nasies verkondig word.+ 11 En wanneer hulle julle vat om julle oor te lewer, moet julle nie vooraf bekommerd wees oor wat julle sal sê nie, maar julle moet sê wat ook al in daardie uur aan julle gegee word, want dit is nie julle wat praat nie, dit is die heilige gees.+ 12 Wat meer is, broer sal broer aan die dood oorlewer, en ’n pa ’n kind, en kinders sal teen ouers opstaan en hulle laat doodmaak.+ 13 En julle sal deur alle mense gehaat word as gevolg van my naam.+ Maar die een wat tot die einde toe volhard,+ sal gered word.+
14 “Maar wanneer julle die walglike ding wat verwoesting veroorsaak,+ sien staan waar dit nie behoort te staan nie (hier het die leser insig nodig), moet die mense wat in Judeʹa is, na die berge begin vlug.+ 15 Laat die man wat op die dak is, nie afkom of ingaan om enigiets uit sy huis te gaan haal nie, 16 en laat die man wat op die landery is, nie teruggaan na die dinge wat hy agtergelaat het om sy bo-kleed te gaan haal nie. 17 Dit sal ’n verskriklike tyd wees vir die swanger vrouens en vir dié wat in daardie dae ’n baba borsvoed!+ 18 Hou aan bid dat dit nie in die winter sal gebeur nie, 19 want daardie dae sal dae van ’n verdrukking wees+ soos daar van die begin van God se skepping af tot op daardie tyd nog nie plaasgevind het nie en nie weer sal plaasvind nie.+ 20 Om die waarheid te sê, as Jehovah* nie die dae verkort nie, sal niemand* gered word nie, maar weens dié wat hy uitgekies het, sal hy die dae verkort.+
21 “En as iemand dan vir julle sê: ‘Kyk! Hier is die Christus,’ of: ‘Kyk! Daar is hy,’ moet julle dit nie glo nie.+ 22 Want valse christusse en valse profete sal verskyn+ en sal tekens en wonderwerke doen om dié wat uitgekies is, te probeer mislei. 23 Julle moet dus oppas.+ Ek het alles vooraf vir julle gesê.
24 “Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, sal die son donker word, en die maan sal nie sy lig gee nie,+ 25 en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word. 26 En dan sal hulle die Seun van die mens+ met groot krag en heerlikheid in die wolke sien kom.+ 27 Hy sal dan die engele uitstuur en dié wat vir hom uitgekies is, bymekaarmaak uit die vier windrigtings, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.+
28 “Leer nou uit die volgende illustrasie van die vyeboom: Sodra sy jong takkies uitloop en die boom blare kry, weet julle dat die somer naby is.+ 29 Net so moet julle, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, ook weet dat hy naby is, voor die deur.+ 30 Ek verseker julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ’n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur nie.+ 31 Hemel en aarde sal verdwyn,+ maar my woorde sal nooit verdwyn nie.+
32 “Niemand weet wanneer daardie dag of uur sal kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.+ 33 Bly op die uitkyk, bly wakker,+ want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie.+ 34 Dit is soos ’n man wat na die buiteland gereis het en sy huis verlaat het. Hy het gesag aan sy slawe gegee+ en aan elkeen sy eie taak gegee. Hy het ook die deurwagter beveel om aan te hou waak.+ 35 Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer die meester van die huis kom nie.+ Dalk is dit laat in die dag of middernag of voor dagbreek* of vroeg in die oggend.+ 36 Sorg dat hy julle nie aan die slaap vind+ wanneer hy skielik kom nie. 37 Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”+
14 Die Pasga+ en die Fees van die Ongesuurde Brode+ was twee dae later.+ En die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het na ’n manier gesoek om hom deur ’n slinkse plan gevange te neem en dood te maak,+ 2 maar hulle het gesê: “Nie by die fees nie, sodat die volk nie miskien in opstand kom nie.”
3 Terwyl hy in Betaʹnië in die huis van Simon die melaatse geëet het,* het ’n vrou gekom met ’n albasterfles waarin daar lekkerruik-olie was, egte nardus, baie duur. Sy het die albasterfles oopgebreek en die olie op sy kop begin uitgooi.+ 4 Toe het party kwaad geword en vir mekaar gesê: “Hoekom is hierdie olie gemors? 5 Hierdie olie kon vir meer as 300 denaʹrii* verkoop word, en die geld kon vir die armes gegee word!” Hulle het hulle vir haar vererg.* 6 Maar Jesus het gesê: “Los haar. Hoekom maak julle dit so moeilik vir haar? Sy het iets goeds vir my gedoen.+ 7 Want julle het altyd die armes by julle,+ en julle kan enige tyd iets goeds vir hulle doen, maar julle sal my nie altyd hê nie.+ 8 Sy het gedoen wat sy kon. Sy het vooraf hierdie olie op my liggaam uitgegooi om my vir my begrafnis voor te berei.+ 9 Ek verseker julle: Oral waar die goeie nuus in die wêreld verkondig word,+ sal wat hierdie vrou gedoen het, ook vertel word, en sy sal hiervoor onthou word.”+
10 Judas Iskaʹriot, een van die Twaalf, het na die hoofpriesters toe gegaan om Jesus aan hulle te verraai.+ 11 Toe hulle dit hoor, was hulle baie bly en het hulle belowe om vir hom silwergeld te gee.+ Daarom het hy na ’n geleentheid begin soek om hom te verraai.
12 En op die eerste dag van die Ongesuurde Brode,+ die dag waarop die Pasga-offer geslag word,+ het sy dissipels vir hom gevra: “Waar wil u hê moet ons gaan voorberei sodat u die Pasga kan eet?”+ 13 Toe het hy twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in die stad in, en ’n man wat ’n waterkruik dra, sal julle ontmoet. Volg hom,+ 14 en waar hy ingaan, moet julle vir die meester van die huis sê: ‘Die Leermeester vra: “Waar is die gastevertrek waar ek die Pasga saam met my dissipels kan eet?”’ 15 En hy sal vir julle ’n groot bo-kamer wys, wat ingerig en gereed is. Berei dit daar vir ons voor.” 16 Toe het die dissipels vertrek, en hulle het in die stad ingegaan en dit gevind net soos hy vir hulle gesê het, en hulle het vir die Pasga voorberei.
17 Toe dit aand geword het, het hy met die Twaalf gekom.+ 18 En terwyl hulle aan tafel was en geëet het, het Jesus gesê: “Hiervan kan julle seker wees: Een van julle wat saam met my eet, sal my verraai.”+ 19 Hulle het hartseer geword en het een vir een vir hom gevra: “Dit is tog seker nie ek nie?” 20 Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die Twaalf, die een wat sy hand saam met my in die bak steek.+ 21 Want die Seun van die mens gaan weg, net soos daar oor hom geskryf is, maar dit sal sleg gaan met die man deur wie die Seun van die mens verraai word!+ Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”+
22 En terwyl hulle verder geëet het, het hy ’n brood geneem, gebid, dit gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: “Neem dit. Dit beteken my liggaam.”+ 23 Hy het ook ’n beker geneem, ’n dankgebed gedoen en dit vir hulle gegee, en hulle het almal daaruit gedrink.+ 24 En hy het vir hulle gesê: “Dit beteken my ‘bloed+ van die verbond’,+ wat vir baie uitgestort sal word.+ 25 Ek verseker julle: Ek sal beslis nie weer wyn drink tot op die dag wanneer ek nuwe wyn in die Koninkryk van God drink nie.” 26 Uiteindelik het hulle, nadat hulle lofliedere* gesing het, na die Olyfberg gegaan.+
27 En Jesus het vir hulle gesê: “Julle sal almal struikel, want daar is geskryf: ‘Ek sal die herder slaan,+ en die skape sal verstrooi word.’+ 28 Maar nadat ek opgewek is, sal ek voor julle uit gaan na Galileʹa.”+ 29 Toe het Petrus vir hom gesê: “Selfs al struikel al die ander, sal ek nie struikel nie.”+ 30 Jesus het toe vir hom gesê: “Ek verseker jou: Vandag, ja, vanaand nog, voordat ’n haan twee keer kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.”+ 31 Maar hy het bly sê: “Al moet ek saam met u sterf, sal ek nooit sê dat ek u nie ken nie.” Al die ander het ook dieselfde begin sê.+
32 Toe het hulle by ’n plek met die naam Getseʹmane gekom, en hy het vir sy dissipels gesê: “Sit hier terwyl ek gaan bid.”+ 33 Hy het Petrus en Jakobus en Johannes saam met hom geneem,+ en hy het baie angstig en erg ontsteld geword. 34 Hy het vir hulle gesê: “Ek* is verskriklik hartseer,+ ja, tot die dood toe. Bly hier en bly wakker.”+ 35 En hy het ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en begin bid dat die uur by hom moet verbygaan as dit moontlik is. 36 Hy het gesê: “Abba,* Vader,+ alles is vir u moontlik. Neem hierdie beker van my af weg. Maar nie wat ek wil nie, maar wat u wil.”+ 37 Hy het teruggegaan en gesien dat hulle slaap, en hy het vir Petrus gesê: “Simon, slaap jy? Het jy nie die krag gehad om een uur wakker te bly nie?+ 38 Hou aan waak en bid aanhoudend, sodat julle nie in versoeking kom nie.+ Die gees is natuurlik gretig,* maar die vlees is swak.”+ 39 En hy het weer weggegaan en gaan bid en dieselfde woorde gesê.+ 40 Hy het teruggekom en gesien dat hulle slaap, want hulle kon nie hulle oë oophou nie, en hulle het nie geweet wat om vir hom te sê nie. 41 En hy het die derde keer teruggekom en vir hulle gesê: “Op ’n tyd soos hierdie slaap julle en rus julle! Dit is genoeg! Die tyd het gekom!+ Die Seun van die mens word verraai en word aan sondaars oorgelewer. 42 Staan op, laat ons gaan. Kyk! My verraaier is naby.”+
43 En onmiddellik, terwyl hy nog gepraat het, het Judas, een van die Twaalf, daar aangekom. Daar was ’n skare by hom wat swaarde en knuppels by hulle gehad het en wat deur die hoofpriesters en die skrifgeleerdes en die ouermanne gestuur is.+ 44 Sy verraaier het met hulle afgespreek om vir hulle ’n teken te gee. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Neem hom in hegtenis en lei hom weg en maak seker dat hy nie wegkom nie.” 45 Hy het reguit na Jesus toe gekom en gesê: “Rabbi!” en hom gesoen. 46 Toe het hulle hom gegryp en hom in hegtenis geneem. 47 Maar een van die mans wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en dit na die slaaf van die hoëpriester geswaai en sy oor afgekap.+ 48 Toe het Jesus vir hulle gesê: “Het julle met swaarde en knuppels gekom om my in hegtenis te neem asof ek ’n rower is?+ 49 Dag ná dag was ek by julle in die tempel en het ek die mense geleer,+ en tog het julle my nie in hegtenis geneem nie. Maar dit gebeur sodat die Skrif vervul kan word.”+
50 En hulle almal het hom verlaat en gevlug.+ 51 Maar ’n sekere jong man, wat net ’n kleed van fyn linne om sy kaal lyf gedra het, het hom begin volg en naby hom gebly, en hulle het hom probeer gryp, 52 maar hy het sy linnekleed agtergelaat en kaal* weggekom.
53 Hulle het Jesus toe weggelei na die hoëpriester toe,+ en al die hoofpriesters en die ouermanne en die skrifgeleerdes het bymekaargekom.+ 54 Maar Petrus het hom op ’n goeie afstand tot in die binnehof van die hoëpriester gevolg, en hy het by die huisknegte gesit en hom by ’n helder vuur warm gemaak.+ 55 Intussen het die hoofpriesters en die hele Sanheʹdrin valse getuienis teen Jesus gesoek om hom dood te maak, maar hulle het niks gevind nie.+ 56 Baie het wel valslik teen hom getuig,+ maar hulle getuienis het nie ooreengestem nie. 57 Sekere mense het opgestaan en valslik teen hom getuig en gesê: 58 “Ons het hom hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een bou wat nie met hande gemaak is nie.’”+ 59 Maar selfs oor hierdie punt het hulle getuienis nie ooreengestem nie.
60 Toe het die hoëpriester in die vergadering opgestaan en Jesus ondervra en gesê: “Het jy niks om te sê nie? Hoor jy nie waarvan hierdie mans jou beskuldig nie?”+ 61 Maar hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie.+ Die hoëpriester het hom weer begin ondervra en vir hom gesê: “Is jy die Christus, die Seun van die Geseënde?” 62 Toe het Jesus gesê: “Ek is, en julle sal die Seun van die mens+ aan die regterhand+ van die Magtige sien sit en met die wolke van die hemel sien kom.”+ 63 Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig?+ 64 Julle het gehoor hoe hy laster. Wat is julle besluit?”* Hulle almal het geoordeel dat hy die dood verdien.+ 65 En party het op hom begin spoeg,+ en hulle het sy gesig bedek, en hulle het begin om hom met hulle vuiste te slaan en vir hom te sê: “Profeteer!” En die wagte van die hof het hom in die gesig geklap en hom weggeneem.+
66 En terwyl Petrus onder in die binnehof was, het een van die diensmeisies van die hoëpriester daar aangekom.+ 67 Toe sy Petrus sien, wat besig was om hom warm te maak, het sy reguit na hom gekyk en gesê: “Jy was ook saam met die Nasarener, hierdie Jesus.” 68 Maar hy het dit ontken en gesê: “Ek ken hom nie en ek weet ook nie waarvan jy praat nie,” en hy het buitentoe gegaan na die voorportaal toe. 69 Toe die diensmeisie hom sien, het sy weer vir die mense wat daar staan, begin sê: “Hy is een van hulle.” 70 Hy het dit weer ontken. En ná ’n rukkie het die mense wat daar gestaan het, weer vir Petrus begin sê: “Jy is beslis een van hulle, want jy is ’n Galileër.” 71 Maar hy het begin sweer dat hy die waarheid praat, en hy het gesê: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” 72 Onmiddellik het ’n haan ’n tweede keer gekraai,+ en Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat ’n haan twee keer kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.”+ En hy het in trane uitgebars.
15 Onmiddellik met dagbreek het die hoofpriesters, die ouermanne en die skrifgeleerdes, die hele Sanheʹdrin, saam besluit wat om met Jesus te doen, en hulle het Jesus geboei en hom weggelei en hom aan Pilatus oorgelewer.+ 2 Pilatus het toe vir hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?”+ Hy het geantwoord: “U het dit self gesê.”+ 3 Maar die hoofpriesters het hom van baie dinge beskuldig. 4 Pilatus het hom weer begin ondervra en gesê: “Het jy niks om te sê nie?+ Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”+ 5 Maar Jesus het niks verder geantwoord nie, en dit het Pilatus verbaas.+
6 Pilatus het gewoonlik by elke fees een gevangene vrygelaat vir wie die volk gevra het.+ 7 Op daardie tyd was ’n man met die naam Barabʹbas in die tronk saam met ander wat moord gepleeg het toe hulle teen die regering in opstand gekom het. 8 Toe het die skare gekom en begin vra dat Pilatus doen wat hy gewoonlik vir hulle gedoen het. 9 Hy het hulle geantwoord: “Wil julle hê dat ek die Koning van die Jode vir julle moet vrylaat?”+ 10 Want Pilatus het geweet dat die hoofpriesters hom uit jaloesie* oorgelewer het.+ 11 Maar die hoofpriesters het die skare opgesteek om te vra dat hy eerder Barabʹbas vir hulle moet vrylaat.+ 12 Pilatus het weer geantwoord en vir hulle gevra: “Wat moet ek dan doen met die een wat julle die Koning van die Jode noem?”+ 13 Hulle het weer eens uitgeroep: “Hang hom aan die paal!”+ 14 Maar Pilatus het vir hulle gevra: “Hoekom? Wat het hy gedoen wat sleg is?” Maar hulle het al hoe harder uitgeroep: “Hang hom aan die paal!”+ 15 Omdat Pilatus die skare tevrede wou stel, het hy Barabʹbas vir hulle vrygelaat, en nadat hy Jesus met ’n sweep laat slaan het,+ het hy hom oorgelewer om aan ’n paal gehang te word.+
16 Die soldate het hom toe weggelei in die binnehof in, dit wil sê in die goewerneur se woning in, en hulle het die hele afdeling bymekaargeroep.+ 17 Hulle het vir hom ’n pers mantel aangetrek en ’n kroon van dorings gevleg en dit vir hom opgesit. 18 En hulle het vir hom begin sê: “Goeiedag, Koning van die Jode!”+ 19 Hulle het hom ook met ’n riet op die kop geslaan en op hom gespoeg, en hulle het op hulle knieë gegaan en voor hom neergebuig.* 20 Uiteindelik, nadat hulle hom bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en sy bo-klere vir hom aangetrek. Toe het hulle hom uitgelei om hom aan ’n paal te hang.+ 21 En hulle het ’n verbyganger, ’n sekere Simon van Sireʹne, wat van die platteland af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus, gedwing om Jesus se folterpaal* te dra.+
22 Toe het hulle hom na die plek gebring wat Golʹgota genoem word. Dit beteken “skedelplek”.+ 23 Hier het hulle vir hom wyn probeer gee wat met bedwelmende mirre gemeng is,+ maar hy wou dit nie hê nie. 24 Hulle het hom aan die paal gehang en sy bo-klere onder mekaar verdeel deur die lot daaroor te werp om vas te stel wat elkeen sou kry.+ 25 Dit was die derde uur* toe hulle hom aan die paal gehang het. 26 Die opskrif van die aanklag teen hom het gesê: “Die Koning van die Jode.”+ 27 Hulle het ook twee rowers langs hom aan pale gehang, een aan sy regterkant en een aan sy linkerkant.+ 28 *—— 29 Die mense wat daar verbygegaan het, het hom beledig. Hulle het hulle koppe geskud+ en gesê: “Ha! Jy wat die tempel sou afbreek en dit in drie dae sou opbou,+ 30 red jouself deur van die folterpaal* af te kom.” 31 Die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het hom ook onder mekaar bespot en gesê: “Hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie!+ 32 Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die folterpaal* afkom, sodat ons kan sien en glo.”+ Selfs dié wat langs hom aan pale gehang is, het hom beledig.+
33 Op die sesde uur* het die hele land donker geword, tot die negende uur* toe.+ 34 En op die negende uur het Jesus met ’n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lama sabagtaʹni?” Dit beteken: “My God, my God, waarom het u my verlaat?”+ 35 Toe party van dié wat daar naby gestaan het, dit hoor, het hulle begin sê: “Kyk! Hy roep Eliʹa.” 36 Toe het iemand gehardloop en ’n spons vol suur wyn gemaak. Hy het dit op ’n riet gesit en dit vir hom gegee om te drink+ en gesê: “Wag! Kom ons kyk of Eliʹa hom kom afhaal.” 37 Maar Jesus het hard uitgeroep en gesterf.*+ 38 Die gordyn* van die heiligdom+ het van bo tot onder in twee geskeur.+ 39 En toe die militêre offisier, wat reg oorkant hom gestaan het, sien dat hy onder hierdie omstandighede gesterf het, het hy gesê: “Hierdie man was beslis God se Seun.”+
40 Daar was ook vrouens wat alles van ’n afstand af dopgehou het. Onder hulle was Maria Magdaleʹna sowel as Maria, wat die ma van Jakobus die Mindere en van Joses was, en ook Saloʹme.+ 41 Toe Jesus in Galileʹa was, het hulle gewoonlik saam met hom gegaan en hom bedien.+ Baie ander vrouens wat saam met hom na Jerusalem gekom het, was ook daar.
42 Toe dit reeds laatmiddag was, en omdat dit die Voorbereidingsdag was, dit wil sê die dag voor die Sabbat, 43 het Josef van Arimateʹa gekom en die moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en vir Jesus se liggaam te vra. Josef was ’n vooraanstaande lid van die Raad, wat self ook vir die Koninkryk van God gewag het.+ 44 Pilatus het egter gewonder of Jesus al dood is, en hy het die militêre offisier laat roep en hom gevra of Jesus al gesterf het. 45 Toe Pilatus bevestiging by die militêre offisier gekry het, het hy die liggaam vir Josef gegee. 46 Nadat hy fyn linne gekoop het en hom afgehaal het, het hy hom in die fyn linne toegedraai en hom in ’n graf* neergelê+ wat uit rots gekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol.+ 47 Maar Maria Magdaleʹna en Maria die ma van Joses het bly kyk na die plek waar hy neergelê is.+
16 Toe die Sabbat+ verby was, het Maria Magdaleʹna, Maria,+ die ma van Jakobus, en ook Saloʹme speserye gekoop sodat hulle dit aan sy liggaam kon smeer.+ 2 En hulle het baie vroeg op die eerste dag van die week, toe die son opgekom het, na die graf* gekom.+ 3 Hulle het vir mekaar gevra: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” 4 Maar toe hulle opkyk, het hulle gesien dat die klip weggerol is, al was dit baie groot.+ 5 Toe hulle in die graf ingaan, het hulle ’n jong man in ’n lang wit kleed aan die regterkant sien sit, en hulle was verstom. 6 Hy het vir hulle gesê: “Moenie verstom wees nie.+ Julle soek na Jesus die Nasarener wat aan ’n paal gehang is. Hy is opgewek.+ Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle hom neergelê het.+ 7 Maar gaan sê vir sy dissipels en Petrus: ‘Hy gaan voor julle uit na Galileʹa.+ Julle sal hom daar sien, net soos hy vir julle gesê het.’”+ 8 Toe hulle uitkom, het hulle van die graf af weggevlug, en hulle het gebewe van skrik en verbasing. Hulle het vir niemand enigiets vertel nie, want hulle was bang.*+
Sien Aanh. A5.
Of “onderdompel”.
Of “het hom versterk”.
Of moontlik “hulle het geweet wie hy is”.
Lett. “rein”.
Lett. “gereinig”.
Lett. “rein”.
Lett. “en in hulle harte geredeneer”.
Lett. “Hoekom redeneer julle oor hierdie dinge in julle harte?”
Of “was hy in Levi se huis aan tafel”.
Persone wat belasting vir die regering invorder.
Of “was saam met . . . aan tafel”.
Of “die aanbiedingsbrode”.
Of “verlamde”.
Of “verlamde”.
Of “siel”.
Of “aangestel”.
Of “aangestel”.
Of “die ywerige”.
’n Naam vir Satan.
Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.
Of “maatemmer”.
Lett. “in die boot geneem, net soos hy was”.
Of “gedenkgrafte”.
Of “teen die steilte af”.
Sien Aanh. A5.
Of “die Streek van Tien Stede”.
Of “is op haar laaste”.
Of “het baie pyn deurgemaak”.
Of “Hou op om bang te wees”.
Of “streng”.
Of “aanstoot neem”.
Lett. “koper”.
Of “ekstra klere”.
Of “aan tafel was”.
Of “die mense wat aan tafel was”.
Of “gedenkgraf”.
Sien Aanh. B14.
D.w.s. van omtrent 03:00 tot sonsopkoms, wat omtrent 06:00 is.
Of “hulle harte”.
Verwys na hande wat nie seremonieel gereinig is nie.
Of “Respekteer”.
Sien Aanh. A3.
Die meervoud van die Griekse woord por·neiʹa. Sien Woordelys.
Grieks: a·selʹgei·a. Sien Woordelys.
Of “’n afgunstige oog”.
Of “afkoms”.
Of “die Streek van Tien Stede”.
Of “terwyl hulle vas”.
Of “voorraadmandjies”.
Lett. “in sy gees gesug”.
Of “julle harte”.
Of “voorraadmandjies”.
Of “moet hy homself verloën”.
Sien Woordelys.
Of “siel”.
Of “siel”.
Of “owerspelige”.
Of “heerlikheid”.
Of “gedaante”.
Of “tente”.
Of moontlik “dit vir hulleself gehou”.
Of “’n meulsteen wat deur ’n donkie gedraai word”.
Sien Woordelys.
Sien Aanh. A3.
Sien Woordelys.
Sien Aanh. A3.
Sien Woordelys.
Of “sodat hy sy hande op hulle kan lê”.
Of “respekteer”.
Of moontlik “vir mekaar”.
Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.
Sien Woordelys.
Of “heerlikheid”.
Lett. “grotes”.
Beteken “leermeester”.
Sien Aanh. A5.
D.w.s. Jesus.
D.w.s. mense wat wins gemaak het deur een geldsoort vir ’n ander te ruil.
Sien Aanh. A3.
Lett. “die hoof van die hoek”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. B14.
Of “belangrikste”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Woordelys.
Sien Aanh. A5.
Of “beste”.
Lett. “Hulle verslind die huise van die weduwees”.
Of “swaarder”.
Lett. “twee lepta, wat ’n quadrans is”. Sien Aanh. B14.
Of “ly sy gebrek”.
Lett. “van geboortepyne”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “geen vlees”.
Lett. “wanneer die haan kraai”.
Of “aan tafel was”.
Sien Aanh. B14.
Of “Hulle het haar uitgetrap”.
Of “psalms”.
Of “My siel”.
’n Hebreeuse of Aramese woord wat “o Vader!” beteken.
Of “gewillig”.
Of “net in sy onderklere”.
Of “Wat dink julle?”
Of “afguns”.
Of “aan hom eer bewys”.
Sien Woordelys.
D.w.s. omtrent 09:00.
Sien Aanh. A3.
Sien Woordelys.
Sien Woordelys.
D.w.s. omtrent 12:00.
D.w.s. omtrent 15:00.
Of “sy laaste asem uitgeblaas”.
Of “voorhangsel”.
Of “gedenkgraf”.
Of “gedenkgraf”.
Volgens betroubare vroeë manuskripte eindig die Evangelie van Markus met die woorde in vs. 8. Sien Aanh. A3.