Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Maleagi 1:1-4:6
  • Maleagi

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maleagi
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Maleagi

MALEAGI

1 ’n Belangrike boodskap.

Dít is die woord van Jehovah aan Israel deur middel van Maleaʹgi:*

2 “Ek het liefde aan julle betoon,”+ sê Jehovah.

Maar julle vra: “Hoe het u aan ons liefde betoon?”

“Was Esau nie Jakob se broer nie?”+ sê Jehovah. “Maar ek was lief vir Jakob, 3 en ek het Esau gehaat,+ en ek het sy berge verlate+ agtergelaat en sy erfdeel vir die jakkalse van die wildernis gelos.”+

4 “Al sê Edom: ‘Ons is verpletter, maar ons sal terugkeer en die verwoeste plekke herbou,’ sê Jehovah van die leërmagte: ‘Hulle sal bou, maar ek sal afbreek, en hulle sal “die gebied van goddeloosheid” genoem word, en “die volk wat vir ewig deur Jehovah veroordeel is”.+ 5 Julle eie oë sal dit sien, en julle sal sê: “Mag Jehovah verheerlik word oor die gebied van Israel.”’”

6 “‘’n Seun eer sy vader,+ en ’n kneg sy meester. As ek dan ’n vader is,+ waar is die eer wat ek verdien?+ En as ek ’n meester is, waar is die vrees* wat ek verdien?’ sê Jehovah van die leërmagte vir julle, o priesters wat geen respek vir my naam het nie.+

“‘Maar julle vra: “Hoe het ons geen respek vir u naam getoon nie?”’

7 “‘Deur besoedelde voedsel* op my altaar aan te bied.’

“‘En julle vra: “Hoe het ons u onrein gemaak?”’

“‘Deur te sê: “Die tafel van Jehovah+ is iets afstootliks.” 8 En wanneer julle ’n blinde dier as ’n offerande aanbied, sê julle: “Dit is niks slegs nie.” En wanneer julle ’n kreupel of ’n siek dier aanbied: “Dit is niks slegs nie.”’”+

“Probeer dit asseblief vir julle goewerneur aanbied. Sal hy bly wees daaroor of julle vriendelik ontvang?” sê Jehovah van die leërmagte.

9 “Smeek God dan nou, asseblief,* sodat ons sy goedkeuring kan hê. Sal hy enigeen van julle goedkeur as julle sulke offerandes aanbied?” sê Jehovah van die leërmagte.

10 “En wie van julle is bereid om die deure te sluit?*+ Want julle wil nie eers my altaar sonder betaling aansteek nie.+ Ek keur julle nie goed nie,” sê Jehovah van die leërmagte, “en ek is nie tevrede met enige offergawe wat uit julle hand kom nie.”+

11 “Want van waar die son opkom tot waar dit ondergaan,* sal my naam groot wees onder die nasies.+ Op elke plek sal offerandes as ’n rein gawe tot eer van my naam gebring word, en die rook daarvan sal opgaan, want my naam sal groot wees onder die nasies,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

12 “Maar julle ontheilig dit*+ deur te sê: ‘Die tafel van Jehovah is besoedel, en die vrugte, dit wil sê die voedsel, is iets afstootliks.’+ 13 Julle sê ook: ‘Kyk! Dit is soveel moeite!’ en julle trek julle neus op daarvoor,” sê Jehovah van die leërmagte. “En julle bring gesteelde, kreupel en siek diere. Ja, julle bring sulke dinge as ’n gawe! Moet ek dit uit julle hand aanvaar?”+ sê Jehovah.

14 “Vervloek is die bedrieglike persoon wat ’n gesonde manlike dier in sy kudde het, maar wat ’n gelofte maak en ’n gebreklike dier aan Jehovah offer. Want ek is ’n groot Koning,”+ sê Jehovah van die leërmagte, “en my naam sal ontsagwekkend onder die nasies wees.”+

2 “En hierdie gebod is nou vir julle, o priesters.+ 2 As julle weier om te luister en as julle nie die verheerliking van my naam ernstig opneem nie,”* sê Jehovah van die leërmagte, “sal ek die vloek oor julle stuur,+ en ek sal julle seëninge in vervloekinge verander.+ Ja, ek het die seëninge in vervloekinge verander omdat julle dit nie ernstig opneem nie.”*

3 “Kyk! Ek sal julle gesaaide saad as gevolg van julle vernietig,*+ en ek sal mis op julle gesigte strooi, die mis van julle feeste, en julle sal daarheen* weggedra word. 4 Dan sal julle moet weet dat ek hierdie gebod aan julle gegee het, sodat my verbond met Levi kan voortbestaan,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

5 “My verbond met hom was ’n verbond van lewe en van vrede, wat ek aan hom gegee het, saam met vrees.* Hy het my gevrees, ja, hy het respek* gehad vir my naam. 6 Die wet* van waarheid was in sy mond,+ en geen onregverdigheid is op sy lippe gevind nie. Hy het in vrede en getrouheid met my gewandel,+ en hy het baie laat wegdraai van oortreding. 7 Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en mense moet by hom oor die wet* leer,+ want hy is die boodskapper van Jehovah van die leërmagte.

8 “Maar julle het nie op die weg gebly nie. Julle het baie in die wet* laat struikel.+ Julle het die verbond van Levi vernietig,”+ sê Jehovah van die leërmagte. 9 “En ek sal sorg dat die hele volk julle verag en op julle neersien omdat julle nie my weë gevolg het nie, maar julle het kant gekies toe julle die wet toegepas het.”+

10 “Het ons almal nie een vader nie?+ Is ons nie deur een God geskep nie? Hoekom tree ons dan bedrieglik op teenoor mekaar+ en ontheilig ons die verbond van ons voorvaders? 11 Juda het bedrieglik opgetree, en iets afskuweliks is in Israel en in Jerusalem gedoen, want Juda het die heiligheid* van Jehovah,+ wat Hy liefhet, ontheilig, en hy het die dogter van ’n vreemde god as ’n bruid geneem.+ 12 Jehovah sal enigiemand wat dit doen, wie dit ook al is,* uit die tente van Jakob uitroei, al bied hy ’n offergawe aan vir Jehovah van die leërmagte.”+

13 “En daar is nog iets* wat julle doen wat veroorsaak dat die altaar van Jehovah met trane en met ’n gehuil en ’n gesug bedek word, sodat hy nie meer aandag skenk aan julle offergawe of enigiets goedkeur wat uit julle hand kom nie.+ 14 En julle vra: ‘Hoekom?’ Dit is omdat Jehovah as ’n getuie opgetree het tussen jou en die vrou van jou jeug, teenoor wie jy bedrieglik opgetree het, hoewel sy jou metgesel en jou vrou is met wie jy ’n verbond gemaak het.*+ 15 Maar daar was een wat dit nie gedoen het nie, want hy het gehad wat oorgebly het van die gees. En wat het hy gesoek? Die nageslag* van God. Ondersoek dus julle harte en kry die regte gesindheid, en moenie bedrieglik optree teenoor die vrou van jou jeug nie. 16 Want ek* haat egskeiding,”+ sê Jehovah, die God van Israel, “en die een wat geweld pleeg,”* sê Jehovah van die leërmagte. “En let op julle gesindheid, en moenie bedrieglik optree nie.+

17 “Julle het Jehovah moeg gemaak met julle woorde.+ Maar julle vra: ‘Hoe het ons hom moeg gemaak?’ Deur te sê: ‘Elkeen wat slegte dinge doen, is goed in Jehovah se oë, en hy keur so iemand goed,’+ of deur te sê: ‘Waar is die God van geregtigheid?’”

3 “Kyk! Ek stuur my boodskapper, en hy moet ’n weg vir my voorberei.+ En die ware Heer, na wie julle soek, sal skielik na Sy tempel kom,+ en die boodskapper van die verbond sal kom, na wie julle vreugdevol uitsien. Kyk! Hy sal beslis kom,” sê Jehovah van die leërmagte.

2 “Maar wie sal die dag van sy koms kan verduur, en wie sal kan staan wanneer hy verskyn? Want hy sal wees soos die vuur van iemand wat metaal suiwer* en soos die seep van iemand wat klere was.+ 3 En hy sal sit as iemand wat silwer suiwer en reinig,*+ en hy sal die seuns van Levi reinig. Hy sal hulle suiwer* soos goud en soos silwer, en hulle sal beslis vir Jehovah mense word wat ’n offergawe in regverdigheid aanbied. 4 En die offergawe van Juda en van Jerusalem sal Jehovah se goedkeuring hê,* soos in die verlede.+

5 “Ek sal nader kom na julle toe vir die oordeel, en ek sal gou wees om te getuig teen die towenaars,+ teen die egbrekers, teen dié wat ’n valse eed aflê,+ teen dié wat die gehuurde werker bedrieg,+ teen dié wat die weduwee en die weeskind* onderdruk+ en teen dié wat weier om die uitlander te help.*+ Hulle het my nie gevrees nie,” sê Jehovah van die leërmagte.

6 “Want ek is Jehovah, en ek verander nie.*+ Julle is kinders van Jakob, en julle het nog nie aan julle einde gekom nie. 7 Van die dae van julle voorvaders af het julle my wetsvoorskrifte verlaat en dit nie gehoorsaam nie.+ Keer terug na my, en ek sal na julle terugkeer,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

Maar julle vra: “Hoe is ons veronderstel om terug te keer?”

8 “Sal ’n blote mens God beroof? Maar julle beroof my.”

En julle vra: “Hoe het ons u beroof?”

“In die tiendes en in die bydraes. 9 Julle is beslis vervloek,* want julle beroof my – ja, die hele nasie doen dit. 10 Bring die hele tiende in die stoorkamer in,+ sodat daar voedsel in my huis kan wees,+ en toets my asseblief in hierdie verband,” sê Jehovah van die leërmagte, “om te sien of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak+ en ’n seën op julle sal uitstort* totdat julle niks kortkom nie.”+

11 “En ek sal die een bestraf wat verslind,* en hy sal nie die opbrengs van julle land verwoes nie, en julle wingerde sal ook nie sonder vrug wees nie,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

12 “Al die nasies sal julle as gelukkige mense moet beskou,+ want julle land sal ’n aangename land word,” sê Jehovah van die leërmagte.

13 “Julle het harde woorde teen my gespreek,” sê Jehovah.

En julle vra: “Hoe het ons onder mekaar teen u gepraat?”+

14 “Julle sê: ‘Dit help niks om God te dien nie.+ Hoe het dit ons bevoordeel deurdat ons ons verpligtinge teenoor hom nakom en treurend voor Jehovah van die leërmagte rondloop? 15 Nou dink ons dat vermetele* mense gelukkig is en dat mense wat slegte dinge doen, suksesvol is.+ Hulle waag dit om God te toets, en hulle kom daarmee weg.’”

16 Toe het die mense wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en bly luister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf+ vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat oor sy naam nadink.*+

17 “En hulle sal myne wees,”+ sê Jehovah van die leërmagte, “op die dag dat ek hulle my spesiale eiendom* maak.+ Ek sal medelye* aan hulle betoon, soos ’n man medelye* betoon aan sy seun wat hom dien.+ 18 En julle sal weer die verskil sien tussen ’n regverdige persoon en ’n goddelose persoon,+ tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie dien nie.”

4 “Want kyk, die dag kom en dit brand soos ’n oond.+ Dan sal al die vermeteles* en almal wat slegte dinge doen, soos strooi word. Die dag wat kom, sal hulle beslis verslind,” sê Jehovah van die leërmagte, “en hulle met wortel en tak uitroei. 2 Maar die son van regverdigheid sal skyn op julle wat my naam eer,* met genesing in sy strale,* en julle sal vreugdevol rondspring soos vetgemaakte kalwers.”

3 “En julle sal die goddeloses onder julle voete vertrap, want hulle sal soos stof onder julle voete wees op die dag wanneer ek optree,” sê Jehovah van die leërmagte.

4 “Dink aan die Wet van my kneg Moses, die wetsvoorskrifte en oordele wat ek by Horeb aan die hele Israel gegee het om te gehoorsaam.+

5 “Kyk! Ek stuur vir julle die profeet Eliʹa+ voordat die groot en ontsagwekkende dag van Jehovah kom.+ 6 En hy sal die harte van pa’s terugbring na kinders,+ en die harte van kinders na pa’s, sodat ek nie kom en die aarde tref en dit vernietig nie.”

(Einde van die vertaling van die Hebreeus-Aramese Geskrifte, gevolg deur dié van die Christelike Griekse Geskrifte)

Beteken “my boodskapper”.

Of “respek”.

Lett. “brood”.

Of “Versag dan nou asseblief die aangesig van God”.

Blykbaar die taak om die deure van die tempel te sluit.

Of “van oos na wes”.

Of moontlik “my”.

Of “ter harte neem nie”.

Of “ter harte neem nie”.

Lett. “bestraf”.

D.w.s. na die plek waarheen die mis van offerandes geneem is.

Of “respek; ontsag”.

Of “ontsag”.

Of “onderrigting”.

Of “onderrigting”.

Of moontlik “deur julle onderrigting”.

Of moontlik “die heiligdom”.

Lett. “een wat wakker is en een wat antwoord”.

Lett. “’n tweede ding”.

Of “en jou wettige vrou is”.

Lett. “saad”.

Lett. “hy”.

Lett. “wat sy kleed met geweld bedek”.

Of “’n louteraar”.

Of “’n louteraar van silwer”.

Of “louter”.

Of “sal vir Jehovah aangenaam wees”.

Lett. “vaderlose seun”.

Of “wat die uitlander sy regte ontsê”.

Of “ek het nie verander nie”.

Of moontlik “Met ’n vloek vervloek julle my”.

Lett. “leegmaak”.

Verwys blykbaar na insekplae.

Iemand is vermetel as hy iets doen wat hy nie die reg of gesag het om te doen nie.

Of “peins”. Of moontlik “dié vir wie sy naam kosbaar is”.

Of “’n kosbare besitting”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Sien Mal 3:15, vtn.

Lett. “vrees”.

Lett. “vlerke”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel