SAGARIA
1 In die agtste maand van die tweede jaar van Darius het Jehovah ’n boodskap deur middel van die profeet Sagariʹa,*+ die seun van Beregʹja, die seun van Iddo, gestuur wat gesê het:+ 2 “Jehovah het baie kwaad geword vir julle voorvaders.+
3 “Sê vir die volk: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “‘Keer terug na my,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘en ek sal na julle terugkeer,’+ sê Jehovah van die leërmagte.”’
4 “‘Moenie soos julle voorvaders word nie, aan wie die vroeëre profete verkondig het: “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Hou op met julle verkeerde weë en slegte dade.’”’+
“‘Maar hulle het nie geluister nie, en hulle het geen aandag aan my geskenk nie,’+ sê Jehovah.
5 “‘Waar is julle voorvaders nou? En het die profete vir ewig gelewe? 6 Maar het julle voorvaders nie die vervulling gesien van my woorde en my bevele wat ek aan my knegte, die profete, gegee het nie?’+ Toe het hulle na my toe teruggekeer en gesê: ‘Jehovah het ons vir ons weë en ons dade gestraf, net soos hy besluit het om te doen.’”+
7 Op die 24ste dag van die 11de maand, dit wil sê die maand Sebat,* in die tweede jaar van Darius,+ het Jehovah vir die profeet Sagariʹa, die seun van Beregʹja, die seun van Iddo, gesê: 8 “Ek het ’n visioen in die nag gesien. Daar was ’n man wat op ’n rooi perd gery het, en hy het stilgestaan tussen die mirtebome in die kloof. En agter hom was daar rooi, rooibruin en wit perde.”
9 Ek het toe gevra: “Wie is hulle, my heer?”
Die engel wat met my gepraat het, het geantwoord: “Ek sal vir jou wys wie hulle is.”
10 Toe het die man wat tussen die mirtebome stilgestaan het, gesê: “Dit is hulle wat deur Jehovah uitgestuur is om die aarde te deurkruis.” 11 En hulle het vir die engel van Jehovah wat tussen die mirtebome gestaan het, gesê: “Ons het die aarde deurkruis, en die hele aarde is rustig en stil.”+
12 Toe het die engel van Jehovah gevra: “O Jehovah van die leërmagte, hoe lank sal dit nog wees voordat u genade betoon aan Jerusalem en aan die stede van Juda,+ waarvoor u nou al 70 jaar lank kwaad is?”+
13 Jehovah het die engel wat met my gepraat het, met vriendelike en vertroostende woorde geantwoord. 14 Toe het die engel wat met my gepraat het, vir my gesê: “Roep uit: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “Ek is diep besorg oor Jerusalem en Sion.+ 15 Ek is baie kwaad vir die nasies wat dink dat hulle veilig is,+ want ek was nie só kwaad vir my volk nie,+ maar die nasies het die rampspoed erger gemaak.”’+
16 “Daarom sê Jehovah: ‘“Ek sal met genade na Jerusalem terugkeer.+ My eie huis sal daarin gebou word,”+ sê Jehovah van die leërmagte, “en Jerusalem sal met ’n maatlyn gemeet word.”’+
17 “Roep nog ’n keer uit en sê: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “My stede sal weer oorloop van goedheid. En Jehovah sal Sion weer vertroos+ en Jerusalem weer uitkies.”’”+
18 Toe het ek opgekyk en vier horings gesien.+ 19 En ek het vir die engel wat met my gepraat het, gevra: “Wat is dit?” Hy het geantwoord: “Dit is die horings wat Juda,+ Israel+ en Jerusalem+ verstrooi het.”
20 Daarna het Jehovah vir my vier ambagsmanne gewys. 21 Ek het gevra: “Wat kom hulle doen?”
Hy het gesê: “Dit is die horings wat Juda so verstrooi het dat niemand sy kop kon oplig nie. Die ander sal kom om hulle bang te maak, om die horings neer te gooi van die nasies wat hulle horings teen die land van Juda gelig het om dit te verstrooi.”
2 En ek het opgekyk en ’n man gesien met ’n maatlyn+ in sy hand. 2 Toe het ek gevra: “Waarheen gaan u?”
Hy het geantwoord: “Ek gaan Jerusalem meet om te sien wat haar breedte en haar lengte is.”+
3 Toe het die engel wat met my gepraat het, weggegaan, en ’n ander engel het na hom toe gekom. 4 Hy het vir hom gesê: “Hardloop na daardie jong man toe en sê vir hom: ‘“Jerusalem sal soos ’n stad sonder mure wees omdat daar so baie mense en diere in die stad sal woon.+ 5 En ek sal rondom haar ’n muur van vuur word,”+ sê Jehovah, “en ek sal haar met my heerlikheid vul.”’”+
6 “Kom! Kom! Vlug uit die land van die noorde,”+ sê Jehovah.
“Want ek het julle in alle* windrigtings verstrooi,”+ sê Jehovah.
7 “Kom, Sion! Vlug, jy wat by die dogter van Babilon woon.+ 8 Nadat Jehovah van die leërmagte verheerlik was, het hy my na die nasies gestuur deur wie julle onderdruk* is,+ en dít is wat hy sê: ‘Wie aan julle raak, raak aan my oogappel.+ 9 Want nou sal ek my hand teen hulle oplig, en hulle sal deur hulle eie slawe as buit geneem word.’+ En julle sal beslis weet dat Jehovah van die leërmagte my gestuur het.
10 “Roep van vreugde uit, o dogter van Sion,+ want ek kom,+ en ek sal by jou woon,”+ sê Jehovah. 11 “Baie nasies sal in daardie dag by Jehovah aansluit,+ en hulle sal my volk word, en ek sal by hulle woon.” En jy sal moet weet dat Jehovah van die leërmagte my na jou toe gestuur het. 12 Jehovah sal Juda in besit neem as sy deel op die heilige grond, en hy sal Jerusalem weer uitkies.+ 13 Wees stil voor Jehovah, alle mense,* want hy tree op vanuit sy heilige woonplek.
3 En hy het my die hoëpriester Josua+ gewys, wat voor die engel van Jehovah staan, en Satan+ het aan sy regterkant gestaan om hom teë te staan. 2 Toe het die engel van Jehovah vir Satan gesê: “Mag Jehovah jou bestraf, o Satan,+ ja, mag Jehovah, wat Jerusalem uitgekies het,+ jou bestraf! Is hierdie man nie ’n brandende stomp wat uit die vuur geruk is nie?”
3 En Josua het in vuil klere voor die engel gestaan. 4 Die engel het vir dié wat voor hom staan, gesê: “Trek sy vuil klere uit.” Toe het hy vir hom gesê: “Ek het jou oortreding* van jou weggeneem, en daar sal vir jou pragtige klere* aangetrek word.”+
5 Ek het gesê: “Laat hulle ’n skoon tulband op sy kop sit.”+ En hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en vir hom klere aangetrek. Die engel van Jehovah het daar naby gestaan. 6 Die engel van Jehovah het toe vir Josua gesê: 7 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘As jy my weë volg en jou verantwoordelikhede teenoor my nakom, dan sal jy as ’n regter in my huis dien+ en na my voorhowe omsien.* Ek sal jou vrye toegang gee, net soos dié wat hier staan.’
8 “‘Luister asseblief, o hoëpriester Josua, jy en die priesters wat voor jou sit, want hierdie manne dien as ’n teken. Kyk, ek stuur my kneg,+ die Spruit!+ 9 Kyk na die steen wat ek voor Josua neergesit het! Sewe oë is op die een steen.* En ek graveer ’n inskripsie daarop,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘en ek sal die oortreding* van daardie land in een dag wegneem.’+
10 “‘In daardie dag,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘sal julle mekaar uitnooi om onder julle wingerdstok en onder julle vyeboom te kom sit.’”+
4 Die engel wat met my gepraat het, het teruggekom en my wakker gemaak soos ’n mens iemand uit sy slaap wakker maak. 2 Toe het hy vir my gevra: “Wat sien jy?”
En ek het gesê: “Ek sien ’n lampstaander van soliede goud,+ met ’n bak daarop. Dit het sewe lampe,+ ja, sewe. Die lampe, wat bo-aan is, het sewe pype. 3 En daar is twee olyfbome langs die lampstaander,+ een aan die regterkant van die bak en een aan die linkerkant.”
4 Toe vra ek die engel wat met my gepraat het: “Wat beteken hierdie dinge, my heer?” 5 En die engel wat met my gepraat het, het gevra: “Weet jy nie wat hierdie dinge beteken nie?”
Ek het geantwoord: “Nee, my heer.”
6 Hy het toe vir my gesê: “Dít is die woord van Jehovah aan Serubbaʹbel: ‘“Nie deur ’n leërmag of deur krag nie,+ maar deur my gees,”+ sê Jehovah van die leërmagte. 7 Wie is jy, o groot berg? Voor Serubbaʹbel+ sal jy ’n vlakte word.+ En hy sal die boonste steen bring terwyl daar uitgeroep word: “Hoe wonderlik! Hoe wonderlik!”’”
8 Jehovah het weer met my gepraat en gesê: 9 “Die hande van Serubbaʹbel het die fondament van hierdie huis gelê,+ en sy hande sal dit voltooi.+ En julle sal moet weet dat Jehovah van die leërmagte my na julle toe gestuur het. 10 Want wie het die dag van ’n klein begin* as onbelangrik beskou?+ Hulle sal bly wees en die skietlood in die hand van Serubbaʹbel sien. Hierdie sewe is die oë van Jehovah, wat die hele aarde deursoek.”+
11 Toe het ek vir hom gevra: “Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant en aan die linkerkant van die lampstaander?”+ 12 Ek het hom ’n tweede keer gevra: “Wat beteken die twee bondels takkies* van die olyfbome waaruit die goue vloeistof deur die twee goue pype vloei?”
13 Toe het hy vir my gevra: “Weet jy nie wat hierdie dinge beteken nie?”
Ek het geantwoord: “Nee, my heer.”
14 Hy het gesê: “Dit is die twee gesalfdes wat langs die Here van die hele aarde staan.”+
5 Ek het weer opgekyk, en ek het ’n vlieënde boekrol gesien. 2 Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?”
Ek het geantwoord: “Ek sien ’n vlieënde boekrol, waarvan die lengte 20 el* en die breedte 10 el is.”
3 Toe het hy vir my gesê: “Dit is die vloek wat oor die oppervlak van die hele aarde uitgaan, want elkeen wat steel,+ soos op die een kant geskryf staan, het ongestraf gebly. En elkeen wat ’n eed sweer,+ soos op die ander kant geskryf staan, het ongestraf gebly. 4 ‘Ek het dit uitgestuur,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘en dit sal in die huis van die dief ingaan en in die huis van die een wat in my naam ’n valse eed aflê. En dit sal in daardie huis bly en dit vernietig, saam met sy balke en sy klippe.’”
5 Toe het die engel wat met my gepraat het, vorentoe gekom en vir my gesê: “Kyk asseblief op, en kyk na wat daar verskyn.”
6 En ek het gevra: “Wat is dit?”
Hy het geantwoord: “Dit is die efa-houer* wat verskyn.” En hy het verder gesê: “Dit is hoe hulle op die hele aarde lyk.” 7 En ek het gesien dat die ronde looddeksel opgelig word, en ’n vrou het in die houer gesit. 8 Toe het hy gesê: “Dit is Goddeloosheid.” Daarna het hy haar in die houer teruggedruk en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.
9 Toe het ek opgekyk en twee vrouens sien aankom, en hulle het op die wind gesweef. Hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ’n ooievaar. En hulle het die houer tussen die hemel en die aarde opgelig. 10 Toe het ek vir die engel wat met my gepraat het, gevra: “Waarheen neem hulle die houer?”
11 Hy het geantwoord: “Na die land Siʹnear,*+ waar ’n huis vir haar gebou sal word. En wanneer dit klaar is, sal sy daar op haar regte plek neergesit word.”
6 Toe het ek weer opgekyk en vier strydwaens gesien wat tussen twee berge uitkom. Die berge was van koper. 2 Die eerste strydwa het rooi perde gehad, en die tweede strydwa swart perde.+ 3 Die derde strydwa het wit perde gehad, en die vierde strydwa gespikkelde en bont perde.+
4 Ek het vir die engel wat met my gepraat het, gevra: “Wat is dit, my heer?”
5 Die engel het my geantwoord: “Dit is die vier geeste+ van die hemel wat uitgaan nadat hulle hulle plek voor die Here van die hele aarde ingeneem het.+ 6 Die een* met die swart perde gaan na die land van die noorde,+ die wit perde gaan na die land agter die see en die gespikkeldes gaan na die land van die suide. 7 En die bontes was gretig om te gaan en die aarde te deurkruis.” Toe het hy gesê: “Gaan, deurkruis die aarde.” En hulle het die aarde gaan deurkruis.
8 Hy het toe na my geroep en gesê: “Kyk, dié wat na die land van die noorde gaan, het die gees van Jehovah in die land van die noorde laat rus.”
9 Jehovah het weer met my gepraat en gesê: 10 “Neem van Heldai, Tobiʹa en Jedaʹja van die bydraes wat hulle van die ballinge* teruggebring het. En op daardie dag moet jy saam met dié wat uit Babilon gekom het, na die huis van Josiʹa, die seun van Sefanʹja, gaan. 11 Jy moet silwer en goud neem en ’n kroon maak en dit op die kop sit van die hoëpriester Josua,+ die seun van Joʹsadak. 12 En sê vir hom:
“‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “Hier is die man wie se naam Spruit+ is. Hy sal uit sy plek uitspruit, en hy sal die tempel van Jehovah bou.+ 13 Hy is die een wat die tempel van Jehovah sal bou, en hy is die een wat die majesteit sal ontvang. Hy sal op sy troon gaan sit en regeer, en hy sal ook ’n priester op sy troon wees.+ En daar sal vrede* tussen die twee* wees. 14 En die kroon sal in die tempel van Jehovah dien as ’n herinnering aan Helem, Tobiʹa, Jedaʹja+ en Hen, die seun van Sefanʹja. 15 En dié wat ver is, sal kom en aan die tempel van Jehovah bou.” En julle sal moet weet dat Jehovah van die leërmagte my na julle toe gestuur het. En dit sal gebeur – as julle na die stem van Jehovah julle God luister.’”
7 En in die vierde jaar van koning Darius het Sagariʹa+ die woord van Jehovah ontvang op die vierde dag van die negende maand, dit wil sê die maand Kislef.* 2 Die inwoners van Bet-El het Sareʹser en Regem-Meleg en sy manne gestuur om Jehovah om genade te smeek 3 en om vir die priesters van die huis* van Jehovah van die leërmagte en vir die profete te vra: “Moet ek in die vyfde maand+ vas en treur, soos ek al baie jare doen?”
4 Jehovah van die leërmagte het toe vir my gesê: 5 “Sê vir die hele volk van die land en vir die priesters: ‘Toe julle 70 jaar lank+ in die vyfde maand en in die sewende maand+ gevas en getreur het, het julle dit werklik vir my gedoen? 6 En toe julle geëet en gedrink het, het julle nie vir julleself geëet en vir julleself gedrink nie? 7 Moet julle nie die woorde gehoorsaam wat Jehovah deur middel van die vroeëre profete verkondig het nie,+ terwyl Jerusalem en die omliggende stede bewoon was en vrede geniet het, en terwyl die Negeb en die Sjefeʹla nog bewoon was?’”
8 Jehovah het weer met Sagariʹa gepraat en gesê: 9 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Oordeel met ware geregtigheid,+ en behandel mekaar met lojale liefde+ en genade. 10 Moenie die weduwee of die weeskind,*+ die uitlander+ of die arme+ uitbuit nie. Moenie in julle harte slegte planne teen mekaar beraam nie.’+ 11 Maar hulle het bly weier om aandag te skenk,+ en hulle was hardkoppig+ en hulle wou nie luister nie.+ 12 Hulle het hulle hart so hard soos ’n diamant* gemaak.+ En hulle wou nie gehoorsaam wees aan die wet* en die woorde wat Jehovah van die leërmagte deur sy gees deur middel van die vroeëre profete gestuur het nie.+ Daarom het Jehovah van die leërmagte woedend geword.”+
13 “‘Net soos hulle nie geluister het toe ek geroep het nie,+ so het ek nie geluister toe hulle geroep het nie,’+ sê Jehovah van die leërmagte. 14 ‘En ek het hulle met ’n stormwind onder al die nasies verstrooi wat hulle nie geken het nie.+ Die land was verlate agter hulle en niemand het daardeur getrek of daarheen teruggekom nie.+ Want hulle het die begeerlike land iets skokkends laat word.’”
8 Jehovah van die leërmagte het weer met my gepraat en gesê: 2 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Ek sal diep besorg wees oor Sion,+ en ek sal haar met groot woede verdedig.’”
3 “Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek sal na Sion terugkeer+ en in Jerusalem woon.+ En Jerusalem sal die stad van waarheid* genoem word,+ en die berg van Jehovah van die leërmagte sal die heilige berg genoem word.’”+
4 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Ou mans en vrouens sal weer op die openbare pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie in die hand omdat hulle so oud is.+ 5 En die openbare pleine van die stad sal vol seuns en meisies wees wat daar speel.’”+
6 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Miskien lyk dit in daardie dae vir die oorblywendes van hierdie volk te moeilik, maar sal dit dan vir my ook te moeilik lyk?’ sê Jehovah van die leërmagte.”
7 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Ek red my volk uit die lande van die ooste en die weste.*+ 8 En ek sal hulle beslis na Jerusalem bring, en hulle sal daar woon.+ En hulle sal my volk word, en ek sal hulle God word+ in waarheid* en in regverdigheid.’”
9 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Wees moedig,*+ julle wat nou hierdie woorde uit die mond van die profete hoor,+ dieselfde woorde wat gesê is op die dag toe die fondament van die huis van Jehovah van die leërmagte gelê is sodat die tempel gebou kan word. 10 Voor daardie tyd het geen mens of dier ’n loon ontvang nie,+ en dit was weens die teenstander nie veilig om te kom of te gaan nie, want ek het alle mense teen mekaar laat draai.’
11 “‘Maar nou sal ek die oorblywendes van hierdie volk nie soos voorheen behandel nie,’+ sê Jehovah van die leërmagte. 12 ‘Want die saad van vrede sal gesaai word. Die wingerdstok sal sy vrug gee, die aarde sal sy opbrengs lewer+ en die hemel sal sy dou gee. En ek sal die oorblywendes van hierdie volk al hierdie dinge laat erf.+ 13 En net soos julle ’n vloek onder die nasies geword het,+ o huis van Juda en huis van Israel, so sal ek julle red, en julle sal ’n seën word.+ Moenie bang wees nie!+ Wees moedig.’*+
14 “Want dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘“Net soos ek besluit het om rampspoed oor julle te bring omdat julle voorvaders my kwaad gemaak het,” sê Jehovah van die leërmagte, “en ek glad nie spyt gevoel het nie,+ 15 so het ek nou besluit om goed te doen aan Jerusalem en aan die huis van Juda.+ Moenie bang wees nie!”’+
16 “‘Dít is die dinge wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar.+ Die oordele in julle poorte moet waarheid en vrede bevorder.+ 17 Moenie in julle harte slegte dinge teen mekaar beplan nie,+ en moenie ’n valse eed liefhê nie,+ want ek haat al hierdie dinge,’+ sê Jehovah.”
18 Jehovah van die leërmagte het weer met my gepraat en gesê: 19 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Die vas van die vierde maand,+ die vas van die vyfde maand,+ die vas van die sewende maand+ en die vas van die tiende maand+ sal vir die huis van Juda geleenthede vir vrolikheid en blydskap wees – vreugdevolle feeste.+ Daarom moet julle waarheid en vrede liefhê.’
20 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Volke en die inwoners van baie stede sal hierheen kom. 21 En die inwoners van een stad sal na dié van ’n ander stad gaan en sê: “Kom! Laat ons gaan om Jehovah se goedkeuring te soek en om Jehovah van die leërmagte te dien.* Ek gaan ook.”+ 22 En baie volke en magtige nasies sal kom om Jehovah van die leërmagte in Jerusalem te dien*+ en om Jehovah se goedkeuring te soek.’
23 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘In daardie dae sal tien manne uit al die tale van die nasies+ die kleed* van ’n Jood* vasgryp, ja, hulle sal dit styf vasgryp en sê: “Ons wil saam met julle gaan,+ want ons het gehoor dat God met julle is.”’”+
9 ’n Oordeelsboodskap:
“Die woord van Jehovah is teen die land Hadrag,
en Damaskus is die teiken* daarvan+
– want Jehovah se oë is op die mens+
en op al die stamme van Israel –
3 Tirus het vir haarself ’n versterkte muur* gebou.
Sy het silwer soos stof opgehoop,
en goud soos die modder van die strate.+
En sy sal deur vuur verteer word.+
5 Asʹkelon sal dit sien en bang wees.
Gasa sal groot angs ervaar,
en ook Ekron, omdat die een waarop sy gehoop het, verneder is.
’n Koning sal uit Gasa verdwyn,
en Asʹkelon sal nie bewoon word nie.+
6 ’n Buite-egtelike seun sal in Asdod gaan woon,
en ek sal ’n einde maak aan die trots van die Filistyn.+
7 Ek sal die bloedbevlekte dinge uit sy mond verwyder,
en die walglike dinge tussen sy tande uit,
en wie van hom oorbly, sal aan ons God behoort.
8 Ek sal as ’n wag kamp opslaan om my huis te verdedig,+
sodat niemand daar sal ingaan of uitkom nie.
9 Wees baie bly, o dogter van Sion.
Roep van vreugde uit, o dogter van Jerusalem.
Jou koning kom na jou toe.+
10 Ek sal die strydwa uit Eʹfraim wegneem,
en die perd uit Jerusalem.
Die boog sal weggeneem word.
En hy sal vrede aan die nasies verkondig.+
12 Keer terug na die vesting, o gevangenes wat hoop het.+
Ek sê vandag vir jou:
‘Jy, o vrou, sal ’n dubbele seën van my ontvang.+
13 Want ek sal Juda as my boog span.*
Eʹfraim sal die pyl in my boog wees.
En ek sal jou seuns laat opstaan, o Sion,
teen jou seuns, o Griekeland,
en ek sal jou soos ’n vegter se swaard maak.’
14 Jehovah sal bo hulle gesien word,
en sy pyl sal soos weerlig uitskiet.
Die Soewereine Heer Jehovah sal op die horing blaas,+
en hy sal met die windstorms van die suide kom.
15 Jehovah van die leërmagte sal hulle verdedig,
en hulle sal die slingerklippe verslind en vertrap.+
Hulle sal lawaaierig wees asof hulle wyn gedrink het.
En hulle sal gevul word soos die offerbak,
soos die hoeke van die altaar.+
16 Jehovah hulle God sal hulle in daardie dag red
as sy volk, sy kudde,+
want hulle sal soos die edelstene van ’n kroon wees wat glinster oor sy land.+
Graan sal die jong manne laat floreer,
en nuwe wyn die maagde.”+
10 “Vra Jehovah vir reën in die tyd van die lentereën.
Dit is Jehovah wat die onweerswolke maak,
wat reën gee aan die mense,+
en plante in die veld vir almal.
Hulle praat oor waardelose drome,
en hulle probeer tevergeefs om te vertroos.
Daarom sal hulle soos skape ronddwaal.
Hulle sal ly omdat daar geen herder is nie.
Want Jehovah van die leërmagte het sy aandag op sy kudde,+ die huis van Juda, gerig.
Hy het hulle soos sy trotse perd in die geveg gemaak.
4 Uit hom kom die sleutelpersoon,*
uit hom kom die ondersteunende heerser,*
uit hom kom die boog,
uit hom kom elke opsiener,* hulle almal saam.
5 En hulle sal soos vegters word
wat die modder van die strate in die geveg vertrap.
Hulle sal oorlog voer, want Jehovah is met hulle.+
Die perderuiters sal verneder word.+
Ek sal hulle na hulle land terugbring,
want ek sal genade aan hulle betoon.+
En dit sal wees asof ek hulle nooit verwerp het nie,+
want ek is Jehovah hulle God, en ek sal hulle antwoord.
Hulle kinders sal dit sien en bly wees.
Hulle harte sal vreugde vind in Jehovah.+
8 ‘Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak,
want ek sal hulle loskoop,+ en hulle sal baie word,
en hulle sal altyd baie wees.
9 Al verstrooi ek hulle soos saad onder die volke,
sal hulle in daardie ver plekke aan my dink.
Hulle sal saam met hulle kinders nuwe lewe kry en terugkeer.
Ek sal hulle na die land Giʹlead+ en na die Liʹbanon bring.
Daar sal nie genoeg plek vir hulle wees nie.+
Al die dieptes van die Nyl sal opdroog.
Die trotse Assiʹrië sal verneder word,
en die septer van Egipte sal verdwyn.+
11 “Maak jou deure oop, o Liʹbanon,
sodat ’n vuur jou sederbome kan verteer.
2 Huil, o jenewerboom, want die sederboom het geval.
Die magtige bome is vernietig!
Huil, o eikebome van Basan,
want die digte woud is verwoes!
3 Luister hoe die herders huil,
want hulle heerlikheid het verdwyn.
Luister hoe die jong leeus* brul,
want die digte bosse langs die Jordaanrivier is verwoes.
4 “Dít is wat Jehovah my God sê: ‘Wees ’n herder vir die kudde slagskape.+ 5 Hulle kopers slag hulle,+ maar word nie skuldig bevind nie. En hulle verkopers+ sê: “Mag Jehovah geloof word, want ek sal ryk word.” Hulle herders voel nie jammer vir hulle nie.’+
6 “‘Want ek sal nie langer medelye* betoon aan die inwoners van die land nie,’ sê Jehovah. ‘Daarom sal ek elkeen aan* sy medemens en sy koning oorlewer. En hulle sal die land verwoes, en ek sal hulle nie red nie.’”
7 En ek het ter wille van julle, o skape wat onderdruk word, ’n herder geword vir die kudde slagskape.+ Ek het twee stawwe geneem, en ek het die een Lieflikheid genoem, en die ander een het ek Eenheid* genoem,+ en ek het ’n herder vir die kudde geword. 8 En ek het drie herders in een maand weggestuur, want ek het ongeduldig met hulle geraak, en hulle kon my ook nie verdra nie. 9 En ek het gesê: “Ek sal nie meer julle herder wees nie. Laat die een wat sterf, maar sterf. En laat die een wat verdwyn, maar verdwyn. En laat dié wat oorbly, mekaar verslind.” 10 Toe het ek my staf Lieflikheid+ geneem en dit stukkend gekap. So het ek my verbond verbreek wat ek met al die volke gemaak het. 11 En dit is op daardie dag verbreek, en die onderdruktes van die kudde wat my dopgehou het, het geweet dat dit ’n boodskap van Jehovah was.
12 Toe het ek vir hulle gesê: “As dit reg is met julle, gee my my loon, maar as dit nie is nie, moet julle dit nie gee nie.” En hulle het my loon betaal:* 30 silwerstukke.+
13 Daarna het Jehovah vir my gesê: “Gooi dit in die skatkamer – dit is die groot waarde wat ek in hulle oë het.”+ En ek het die 30 silwerstukke geneem en dit in die skatkamer in die huis van Jehovah gegooi.+
14 Toe het ek my tweede staf, Eenheid,*+ stukkend gekap. So het ek die broederskap tussen Juda en Israel verbreek.+
15 En Jehovah het vir my gesê: “Neem nou die gereedskap van ’n nikswerd herder.+ 16 Want ek laat ’n herder in die land opstaan. Hy sal nie vir die skape sorg wat doodgaan nie.+ Hy sal nie die jong skape soek of die beseerde skape genees+ of dié wat kan staan, kos gee nie. Maar hy sal die vleis van die vette+ eet en die hoewe van die skape afruk.+
17 Dit sal sleg gaan met my nikswerd herder,+ wat die kudde verlaat!+
’n Swaard sal sy arm en sy regteroog tref.
Sy arm sal heeltemal verdor,
en sy regteroog sal heeltemal blind* word.”
12 ’n Belangrike boodskap:
“Dít is die woord van Jehovah oor Israel,” sê Jehovah,
die Een wat die hemel uitgespan het,+
wat die fondament van die aarde gelê het+
en wat die gees* van die mens in hom gevorm het.
2 “Ek maak Jerusalem ’n beker* wat al die omliggende volke laat dronk word. En Juda sowel as Jerusalem sal beleër word.+ 3 In daardie dag sal ek Jerusalem ’n swaar klip vir al die volke maak. Almal wat dit optel, sal vir seker ernstig beseer word.+ En al die nasies van die aarde sal teen haar bymekaarkom.+ 4 In daardie dag,” sê Jehovah, “sal ek al die perde laat skrik en hulle ruiters paniekbevange maak. Ek sal my oë op die huis van Juda hou, maar ek sal al die perde van die volke blind laat word. 5 En die sjeiks* van Juda sal in hulle hart sê: ‘Die inwoners van Jerusalem is vir my ’n sterkte danksy Jehovah van die leërmagte, hulle God.’+ 6 In daardie dag sal ek die sjeiks van Juda maak soos ’n vuurbak tussen die hout en soos ’n vuurfakkel in ’n ry gesnyde graan.+ Hulle sal al die omliggende volke verteer, aan die regterkant en aan die linkerkant.+ En Jerusalem sal weer bewoon word op haar plek,* in Jerusalem.+
7 “En Jehovah sal die tente van Juda eerste red, sodat die prag* van die huis van Dawid en die prag* van die inwoners van Jerusalem nie groter sal wees as dié van Juda nie. 8 In daardie dag sal Jehovah die inwoners van Jerusalem verdedig.+ In daardie dag sal die een wat struikel* onder hulle, soos Dawid wees, en die huis van Dawid sal soos God wees, soos Jehovah se engel wat hulle lei.+ 9 En in daardie dag sal ek beslis al die nasies vernietig wat teen Jerusalem kom.+
10 “Ek sal oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem die gees van genade uitstort, en hulle sal smeekgebede doen. En hulle sal kyk na die een wat hulle met ’n spies deurboor het.+ Hulle sal huil oor hom soos hulle oor ’n enigste seun sou huil. En hulle sal bitterlik treur oor hom soos hulle oor ’n eersgebore seun sou treur. 11 In daardie dag sal die gehuil in Jerusalem groot wees, soos die gehuil by Hadad-Rimmon in die Vlakte van Megidʹdo.+ 12 En die land sal huil, elke familie op sy eie: die familie van die huis van Dawid op sy eie en hulle vrouens op hulle eie; die familie van die huis van Natan+ op sy eie en hulle vrouens op hulle eie; 13 die familie van die huis van Levi+ op sy eie en hulle vrouens op hulle eie; die familie van die Simeïete+ op sy eie en hulle vrouens op hulle eie; 14 en al die families wat oorbly, elke familie op sy eie en hulle vrouens op hulle eie.
13 “In daardie dag sal daar ’n put oopgemaak word vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem om hulle te reinig van sonde en onreinheid.+
2 “In daardie dag,” sê Jehovah van die leërmagte, “sal ek die name van die afgode uit die land uitwis,+ en daar sal nie meer aan hulle gedink word nie. En ek sal die profete en die gees van onreinheid uit die land verwyder.+ 3 En as ’n man weer sou profeteer, dan sal sy pa en sy ma, wat hom in die wêreld gebring het, vir hom sê: ‘Jy sal nie lewe nie, want jy het leuens in die naam van Jehovah verkondig.’ En sy pa en sy ma, wat hom in die wêreld gebring het, sal hom met ’n swaard deurboor omdat hy profeteer.+
4 “In daardie dag sal elke profeet hom skaam vir sy visioen wanneer hy profeteer. Hulle sal nie ’n harige ampskleed+ dra om te bedrieg nie. 5 En hy sal sê: ‘Ek is nie ’n profeet nie. Ek is ’n man wat die grond bewerk, want iemand het my gekoop toe ek jonk was.’ 6 En as iemand hom vra: ‘Wat is hierdie wonde tussen jou skouers?’* sal hy antwoord: ‘Ek het hierdie wonde gekry in die huis van my vriende.’”*
7 “O swaard, word wakker teen my herder,+
teen die man wat my vriend is,” sê Jehovah van die leërmagte.
“Slaan die herder,+ en laat die kudde* verstrooi word.+
En ek sal dié wat onbelangrik is, dissiplineer.”
8 “En in die hele land,” sê Jehovah,
“sal twee-derdes uitgeroei word en sterf.
En ’n derde sal daarin oorbly.
9 En ek sal die derde deel deur die vuur laat gaan.
Ek sal hulle suiwer soos silwer gesuiwer word
en hulle toets soos goud getoets word.+
Hulle sal my naam aanroep,
en ek sal hulle antwoord.
Ek sal sê: ‘Hulle is my volk,’+
en hulle sal sê: ‘Jehovah is ons God.’”
14 “Die dag kom, ’n dag wat aan Jehovah behoort, wanneer jou* besittings wat as oorlogsbuit geneem is, in jou verdeel sal word. 2 Ek sal al die nasies teen Jerusalem bymekaar laat kom vir die oorlog. Die stad sal ingeneem en die huise gestroop word, en die vrouens sal verkrag word. En die helfte van die stad sal in ballingskap gaan, maar dié wat van die volk oorbly, sal nie uit die stad verwyder word nie.
3 “Jehovah sal teen daardie nasies gaan oorlog voer+ soos wanneer hy veg op die dag van oorlog.+ 4 In daardie dag sal sy voete op die Olyfberg+ staan, wat oos van Jerusalem is. Die Olyfberg sal middeldeur skeur, van die ooste* na die weste,* en ’n baie groot vallei sal ontstaan. Die helfte van die berg sal na die noorde skuif, en die ander helfte na die suide. 5 Julle sal na die vallei van my berge vlug, want die vallei van die berge sal tot by Asel strek. Julle sal moet vlug, soos julle gevlug het weens die aardbewing in die dae van koning Ussiʹa van Juda.+ En Jehovah my God sal kom en al die heiliges sal saam met hom wees.+
6 “In daardie dag sal daar geen kosbare lig wees nie+ – dinge sal gestol* wees. 7 En daardie dag sal bekend word as Jehovah se dag.+ Dit sal nie dag of nag wees nie, en teen die aand sal daar lig wees. 8 In daardie dag sal lewende waters+ uit Jerusalem vloei:+ die helfte daarvan na die oostelike see*+ en die ander helfte na die westelike see.*+ Dit sal in die somer en in die winter gebeur. 9 En Jehovah sal Koning oor die hele aarde wees.+ In daardie dag sal Jehovah een wees,+ en sy naam een.+
10 “Die hele land sal soos die Aʹraba+ word, van Geba+ af tot by Rimmon,+ suid van Jerusalem. Jerusalem sal verhef word en op haar plek bewoon word,+ van die Benjamin-poort+ af tot by die plek van die Eerste Poort en tot by die Hoekpoort, en van die Hanaʹnel-toring+ af tot by die wynperse van die koning. 11 En mense sal in haar woon, en daar sal nooit weer ’n vloek van vernietiging wees nie.+ Die inwoners van Jerusalem sal in veiligheid woon.+
12 “En dít is die plaag waarmee Jehovah al die volke sal tref wat teen Jerusalem oorlog voer:+ Hulle vlees sal verrot terwyl hulle op hulle voete staan, hulle oë sal in hulle oogholtes verrot, en hulle tong sal in hulle mond verrot.
13 “In daardie dag sal Jehovah groot verwarring onder hulle veroorsaak. En die een sal die hand van die ander vasgryp en hulle sal mekaar aanval.+ 14 Juda sal ook betrokke wees by die oorlog in Jerusalem. En die rykdom van al die omliggende nasies sal bymekaargemaak word: groot hoeveelhede goud en silwer en klere.+
15 “So ’n plaag sal ook die perde tref, sowel as die muile, die kamele, die donkies en al die vee wat in daardie kampe is.
16 “Almal wat oorbly van al die nasies wat teen Jerusalem kom, sal elke jaar+ gaan om voor die Koning, Jehovah van die leërmagte,+ neer te buig* en om die Huttefees* te vier.+ 17 Maar as enigiemand uit die families van die aarde nie na Jerusalem gaan om voor die Koning, Jehovah van die leërmagte, neer te buig nie, sal hulle geen reën kry nie.+ 18 En as die mense van Egipte nie kom en die stad binnegaan nie, sal hulle geen reën kry nie. Die plaag wat Jehovah oor die nasies bring wat nie kom om die Huttefees te vier nie, sal oor hulle kom. 19 Dit sal die straf wees vir die sonde van Egipte en die sonde van al die nasies wat nie kom om die Huttefees te vier nie.
20 “In daardie dag sal die woorde ‘Heiligheid behoort aan Jehovah!’+ op die klokkies van die perde geskryf wees. En die kookpotte+ in die huis van Jehovah sal soos die bakke+ voor die altaar wees. 21 En elke kookpot in Jerusalem en in Juda sal heilig wees en aan Jehovah van die leërmagte behoort. En almal wat offerandes bring, sal inkom en van die kookpotte gebruik om daarin te kook. In daardie dag sal daar nie meer ’n Kanaäniet* in die huis van Jehovah van die leërmagte wees nie.”+
Beteken “Jehovah het onthou”.
Sien Aanh. B15.
Lett. “die vier”.
Of “geplunder”.
Lett. “vlees”.
Of “skuld”.
Of “feesklere”.
Of “verantwoordelik wees vir my voorhowe; my voorhowe bewaak”.
Dit beteken moontlik dat sewe oë na die steen kyk.
Of “skuld”.
Of “van klein dinge”.
D.w.s. takkies wat vol vrugte is.
’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.
Lett. “die efa”, wat hier verwys na ’n houer of mandjie wat gebruik is om ’n efa af te meet. ’n Efa was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.
D.w.s. Babilonië.
D.w.s. die strydwa.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “’n vreedsame ooreenkoms”.
D.w.s. tussen sy rol as heerser en sy rol as priester.
Sien Aanh. B15.
Of “tempel”.
Lett. “vaderlose seun”.
Of moontlik “’n harde steen”, soos ’n amarilsteen.
Of “onderrigting”.
Of “getrouheid”.
Of “uit die land van die sonsopkoms en die land van die sonsondergang”.
Of “getrouheid”.
Lett. “Laat julle hande sterk wees”.
Lett. “Laat julle hande sterk wees”.
Lett. “soek”.
Lett. “soek”.
Of “die onderste deel van die kleed”.
Lett. “’n Joodse man”.
Lett. “rusplek”.
Of “’n skans; ’n vesting”.
Of moontlik “op die see”.
’n Sjeik was ’n stamhoof.
Of “onderdrukker”.
Verwys blykbaar na die onderdrukking van sy volk.
Of “en ’n oorwinnaar; en gered”.
Of “hingsvul”.
Die Eufraatrivier.
Lett. “trap”.
Of “huisgode; afgode”.
Of “iets bonatuurliks”.
Lett. “die bokramme”.
Lett. “die hoektoring”, beeldspraak wat verwys na ’n belangrike man; ’n leier.
Lett. “die pen”, beeldspraak wat verwys na iemand wat ondersteun; ’n heerser.
Of “taakgewer”.
Of “jong maanhaarleeus”.
Sien Woordelys.
Lett. “in die hand van”.
Of “Saambinding”.
Lett. “afgeweeg”.
Of “Saambinding”.
Lett. “dof”.
Of “asem”.
Of “bak”.
’n Sjeik was ’n stamhoof.
Of “op haar regmatige plek”.
Of “heerlikheid”.
Of “heerlikheid”.
Of “die swakste”.
Lett. “tussen jou hande”, d.w.s. op die bors of op die rug.
Of “van dié wat my liefhet”.
Of “skape”.
D.w.s. die stad waarna daar in vs. 2 verwys word.
Of “die sonsopkoms”.
Lett. “die see”.
Of “bewegingloos”, asof dit styf is weens koue.
Die Dooie See.
Die Middellandse See.
Of “om die Koning . . . te aanbid”.
Of “Fees van Tydelike Skuilings”.
Of moontlik “handelaar”.