Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Jesaja 1:1-66:24
  • Jesaja

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesaja
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Jesaja

JESAJA

1 Die visioen wat Jesaja,*+ die seun van Amos, in die tyd van Ussiʹa,+ Jotam,+ Agas+ en Hiskiʹa,+ konings van Juda,+ in verband met Juda en Jerusalem gesien het:

 2 Hoor, o hemele, en luister, o aarde,+

want Jehovah het gesê:

“Ek het kinders grootgemaak en opgevoed,+

maar hulle het teen my in opstand gekom.+

 3 ’n Bul ken sy koper goed,

en ’n donkie die krip van sy eienaar,

maar Israel ken my* nie.+

My volk tree nie verstandig op nie.”

 4 Dit sal sleg gaan met die sondige nasie,+

die volk wat baie oortredings het,

nakomelinge van goddelose mense, slegte kinders!

Hulle het Jehovah verlaat,+

hulle het geen respek vir die Heilige van Israel getoon nie,

hulle het hulle rug op hom gedraai.

 5 Waar wil julle nog geslaan word? Hoekom bly julle opstandig?+

Die hele kop is siek,

en die hele hart is aangetas.+

 6 Van kop tot tone is daar geen gesonde plek nie.

Daar is wonde en kneusplekke en oop sere

– hulle is nie skoongemaak* of verbind of met olie behandel nie.+

 7 Julle land is verlate.

Julle stede is met vuur verbrand.

Julle land word voor julle oë deur uitlanders gestroop.+

Dit is soos ’n land wat deur uitlanders verwoes is.+

 8 Die dogter van Sion het oorgebly soos ’n skuiling in ’n wingerd,

soos ’n hut in ’n komkommerland,

soos ’n beleërde stad.+

 9 As Jehovah van die leërmagte nie vir ons ’n paar oorlewendes laat oorbly het nie,

sou ons net soos Sodom geword het

en sou ons soos Gomorʹra gewees het.+

10 Hoor die woord van Jehovah, regeerders* van Sodom.+

Luister na die wet* van ons God, volk van Gomorʹra.+

11 “Van watter nut is al julle offerandes vir my?”+ sê Jehovah.

“Ek het genoeg gehad van julle brandoffers van ramme+ en die vet van vetgevoerde diere.+

Ek wil nie die bloed+ van jong bulle+ en lammers en bokke+ hê nie.

12 Julle kom om voor my te verskyn,+

maar wie het julle gevra

om my voorhowe te vertrap?+

13 Hou op om nog waardelose graanoffers te bring.

Julle reukwerk is vir my afskuwelik.+

Nuwemane,+ sabbatte,+ die organisering van byeenkomste+

– ek kan dit nie verdra dat julle heilige vergaderinge hou en terselfdertyd toorkrag+ gebruik nie.

14 Ek haat julle nuwemane en julle feeste.

Dit het vir my ’n las geword.

Ek kan dit nie meer verdra nie.

15 En wanneer julle julle hande na my toe uitsteek,

kyk ek weg.+

Al bid julle hoe baie,+

luister ek nie.+

Julle hande is vol bloed.+

16 Was julle, reinig julle,+

hou op om goddelose dinge voor my te doen.

Hou op met julle slegte dade.+

17 Leer om goed te doen, beoefen geregtigheid,+

wys die verdrukker tereg.

Beskerm die regte van die weeskind*

en verdedig die regsaak van die weduwee.”+

18 “Kom, laat ons sake regstel tussen ons,” sê Jehovah.+

“Al is julle sondes so rooi soos skarlaken,

sal dit so wit soos sneeu gemaak word.+

Al is dit so rooi soos bloed,

sal dit so wit soos wol word.

19 As julle gewillig is om te luister,

sal julle die goeie dinge van die land eet.+

20 Maar as julle weier en opstandig is,

sal julle deur die swaard doodgemaak word,+

want dit is wat Jehovah gesê het.”

21 Die getroue stad+ het ’n prostituut geword!+

Sy was vol geregtigheid,+

en regverdigheid het in haar gewoon,+

maar nou is daar moordenaars.+

22 Jou silwer het metaalskuim geword,+

en jou bier* is met water verdun.

23 Jou leiers is hardkoppig en werk saam met diewe.+

Elkeen van hulle is lief vir ’n omkoopgeskenk en soek belonings.+

Hulle laat die weeskinders* nie geregtigheid kry nie,

en hulle luister nie na die regsaak van die weduwee nie.+

24 Daarom sê die ware Heer, Jehovah van die leërmagte,

die Magtige van Israel:

“Ek sal ontslae raak van my teenstanders,

en ek sal wraak neem op my vyande.+

25 Ek sal jou straf,

en ek sal jou metaalskuim heeltemal laat wegsmelt,

en ek sal al jou onsuiwerhede verwyder.+

26 Ek sal jou weer regters gee soos vroeër,

en raadgewers soos in die begin.+

Daarna sal jy genoem word: Stad van Regverdigheid, Getroue Stad.+

27 Sion sal deur geregtigheid verlos word,+

en haar inwoners wat terugkeer, deur regverdigheid.

28 Die opstandiges en die sondaars sal saam vernietig word,+

en dié wat Jehovah verlaat, sal aan hulle einde kom.+

29 Want hulle sal hulle skaam oor die magtige bome wat julle begeer het,+

en julle sal verneder voel weens die tuine* wat julle gekies het.+

30 Want julle sal word soos ’n groot boom waarvan die blare verlep+

en soos ’n tuin sonder water.

31 Die sterk man sal soos strooi* word,

en sy werk soos ’n vonk.

Hulle sal al twee saam in vlamme opgaan,

en niemand sal die vuur blus nie.”

2 Dít is wat Jesaja, die seun van Amos, in verband met Juda en Jerusalem gesien het:+

 2 Aan die einde van die dae*

sal die berg van die huis van Jehovah

stewig gevestig word bo die top van die berge,+

en dit sal bo die heuwels uitstaan,

en al die nasies sal daarheen stroom.+

 3 En baie volke sal gaan en sê:

“Kom, laat ons opgaan na die berg van Jehovah,

na die huis van die God van Jakob.+

Hy sal ons sy weë leer,

en ons sal dit volg.”+

Want die wet* sal uit Sion kom,

en die woord van Jehovah uit Jerusalem.+

 4 Hy sal oordeel tussen die nasies

en sake regstel in verband met baie volke.

Hulle sal ploegskare maak van hulle swaarde,

en snoeimesse van hulle spiese.+

Nasie sal nie teen nasie die swaard opneem nie,

en hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.+

 5 O huis van Jakob, kom,

laat ons op Jehovah se weg van lig bly.+

 6 Want u het u volk, die huis van Jakob, verstoot+

omdat hulle baie dinge uit die Ooste oorgeneem het.

Hulle beoefen toorkuns+ soos die Filistyne,

en daar is baie uitlandse kinders onder hulle.

 7 Hulle land is vol silwer en goud,

en daar is geen einde aan hulle skatte nie.

Hulle land is vol perde,

en daar is geen einde aan hulle strydwaens nie.+

 8 Hulle land is vol waardelose gode.+

Hulle buig voor die werk van hulle eie hande neer,

voor wat hulle eie vingers gemaak het.

 9 Die mens buig neer, hy verlaag hom.

Hoe kan u hulle ooit vergewe?

10 Gaan in die rotse in en kruip in die grond weg

weens die skrikwekkende teenwoordigheid van Jehovah

en weens sy groot heerlikheid.+

11 Die hoogmoediges sal hulle koppe moet laat sak,

en trotse mense sal neerbuig.*

Jehovah alleen sal in daardie dag verheerlik word.

12 Want dit is die dag wat aan Jehovah van die leërmagte behoort.+

Dit sal elkeen tref wat hoogmoedig en trots is,

almal, of hulle belangrik of onbelangrik is,+

13 al die sederbome van die Liʹbanon-berge wat hoog en verhewe is

en al die eikebome van Basan,

14 al die hoë berge

en al die hoë heuwels,

15 elke hoë toring en elke versterkte muur,

16 al die skepe van Tarsis+

en al die kosbare bote.

17 Hoogmoedige mense sal verlaag word,

en trotse mense sal laag buig.*

Jehovah alleen sal in daardie dag verheerlik word.

18 Die waardelose gode sal heeltemal verdwyn.+

19 En mense sal in die grotte in die rotse

en in die gate in die grond ingaan+

weens die skrikwekkende teenwoordigheid van Jehovah

en weens sy groot heerlikheid,+

wanneer hy kom om die aarde van vrees te laat bewe.

20 In daardie dag sal mense hulle waardelose gode van silwer en van goud

wat hulle vir hulle gemaak het om voor neer te buig,

vir die skeerbekmuise* en vir die vlermuise gooi,+

21 en hulle sal in die holtes in die rotse

en in die skeure van die kranse ingaan

weens die skrikwekkende teenwoordigheid van Jehovah

en weens sy groot heerlikheid,

wanneer hy kom om die aarde van vrees te laat bewe.

22 Om julle eie onthalwe moet julle ophou om op blote mense te vertrou,

want hulle is maar net soos die asem in hulle neusgate.*

Hoekom moet hulle in aanmerking geneem word?

3 Want kyk! die ware Heer, Jehovah van die leërmagte,

verwyder uit Jerusalem en uit Juda alle ondersteuning en voorrade,

al die kos- en watervoorrade,+

 2 sterk man en soldaat,

regter en profeet,+ waarsêer en ouerman,

 3 hoof oor 50,+ hoë amptenaar en raadgewer,

vaardige towenaar en ervare slangbesweerder.+

 4 Ek sal seuns hulle leiers maak,

en onbetroubare mense* sal oor hulle regeer.

 5 Die mense sal mekaar onderdruk,

elkeen sy medemens.+

Die seun sal die ou man aanval,

en die onbelangrike persoon sal in opstand kom teen die gerespekteerde persoon.+

 6 Elkeen sal sy broer in sy pa se huis vasgryp en sê:

“Jy het ’n mantel. Jy moet ons leier word.

Regeer oor hierdie verwoeste plek.”

 7 Maar in daardie dag sal hy beswaar maak en sê:

“Ek gaan nie julle wonde verbind* nie.

Ek het geen kos of klere in my huis nie.

Julle moet my nie as leier oor die volk aanstel nie.”

 8 Want Jerusalem het gestruikel

en Juda het geval

omdat hulle in woord en daad teen Jehovah is.

Hulle gedra hulle opstandig in sy glorieryke teenwoordigheid.+

 9 Hulle gesigsuitdrukking getuig teen hulle,

en soos Sodom verkondig hulle hulle sonde.+

Hulle probeer dit nie wegsteek nie.

Dit sal sleg gaan met hulle!* Want hulle bring rampspoed oor hulleself!

10 Sê vir die regverdiges dat dit met hulle sal goed gaan.

Hulle sal beloon word vir hulle dade.*+

11 Dit sal sleg gaan met die goddelose!

Rampspoed sal hom tref,

want wat hy aan ander gedoen het, sal aan hom gedoen word!

12 My volk word deur hulle opsigters onderdruk,

en vrouens regeer oor hulle.

My volk, julle leiers laat julle ronddwaal,

en hulle bring julle op ’n dwaalspoor.+

13 Jehovah neem sy plek in om sy regsaak te voer.

Hy staan op om volke te vonnis.

14 Jehovah sal die ouermanne en die leiers van sy volk oordeel.

“Julle het die wingerd afgebrand,

en wat julle van die armes gesteel het, is in julle huise.+

15 Hoe durf julle my volk onderdruk

en die armes in die stof vertrap?”+ sê die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte.

16 Jehovah sê: “Omdat die dogters van Sion hoogmoedig is,

neus in die lug loop,

verleidelik na ander kyk, rondtrippel

en hulle enkelkettinkies laat klingel,

17 sal Jehovah die kop van die dogters van Sion skurf* laat word,

en Jehovah sal hulle bles maak.+

18 In daardie dag sal Jehovah hulle versierings wegneem:

die enkelringe, die hoofbande en die halfmaanvormige versierings,+

19 die oorbelle,* die armbande en die sluiers,

20 die kopversierings, die enkelkettinkies en die borsbande,

die parfuumflessies en die gelukbringertjies,

21 die vingerringe en die neusringe,

22 die feesklere, die oorklere, die mantels en die handsakkies,

23 die handspieëls+ en die linneklere,*

die tulbande en die sluiers.

24 In plaas van balsemolie+ sal daar ’n vrot reuk wees,

in plaas van ’n lyfband ’n tou;

in plaas van ’n pragtige haarstyl ’n kaalkop;+

in plaas van duur klere saklinne+

en in plaas van skoonheid ’n brandmerk.

25 Jou manne sal deur die swaard doodgemaak word,

en jou sterk manne in die oorlog.+

26 Haar ingange sal treur en rou,+

en sy sal verlate op die grond sit.”+

4 En sewe vrouens sal in daardie dag een man vasgryp+ en sê:

“Ons sal ons eie brood eet

en ons eie klere dra.

Laat ons net jou naam dra

om ons skande* weg te neem.”+

2 In daardie dag sal dit wat Jehovah laat uitspruit, pragtig en skitterend wees, en die vrug van die land sal die trots en prag van die oorlewendes van Israel wees.+ 3 Dié wat in Sion oorbly en in Jerusalem oor is, sal heilig genoem word, elkeen in Jerusalem wat opgeskryf is om te bly lewe.+

4 Wanneer Jehovah die vuilheid* van die dogters van Sion afwas+ en die bloedskuld van Jerusalem uit haar wegspoel deur sy brandende woede*+ en sy oordeel, 5 sal Jehovah oor die hele gebied van die berg Sion en oor die plek waar mense in haar bymekaarkom, ’n wolk en rook in die dag skep, en in die nag ’n vuur wat helder brand.+ Want oor die hele glorieryke plek sal daar ’n beskutting wees. 6 En daar sal ’n hut wees wat in die dag skaduwee teen die hitte bied,+ sowel as skuiling en beskerming teen storms en die reën.+

5 Ek wil graag vir my geliefde sing.

Ek wil ’n lied sing oor die een wat ek liefhet en sy wingerd.+

My geliefde het ’n wingerd teen ’n vrugbare heuwel gehad.

 2 Hy het dit omgespit en die klippe daaruit verwyder.

Hy het die beste rooi wingerdstokke daarin geplant,

en ’n toring in die middel daarvan gebou.

Hy het ook ’n wynpers daarin uitgekap.+

Hy het bly hoop dat dit druiwe sou voortbring,

maar dit het net wilde druiwe voortgebring.+

 3 “En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda,

oordeel asseblief tussen my en my wingerd.+

 4 Wat kon ek nog vir my wingerd gedoen het

wat ek nie reeds gedoen het nie?+

Ek het gehoop dat dit goeie druiwe sou voortbring,

maar hoekom het dit net wilde druiwe voortgebring?

 5 Ek sal vir julle sê

wat ek met my wingerd gaan doen:

Ek gaan sy heining verwyder,

en dit sal afgebrand word.+

Ek gaan sy klipmuur afbreek,

en dit sal vertrap word.

 6 Ek sal dit ’n wildernis maak.+

Dit sal nie gesnoei of omgespit word nie.

Doringbosse en onkruid sal dit toegroei,+

en ek sal die wolke beveel om geen reën daarop te laat val nie.+

 7 Want die wingerd van Jehovah van die leërmagte is die huis van Israel.+

Die manne van Juda is die wingerd waarvoor hy lief was.

Hy het bly hoop op geregtigheid,+

maar daar was net ongeregtigheid.

Hy het bly hoop op regverdigheid,

maar daar was net ’n geroep om hulp.”+

 8 Dit sal sleg gaan met dié wat een huis ná die ander oorneem,+

en een veld ná die ander,+

totdat daar nie meer plek vir ander is nie

en hulle die enigste inwoners in die land is!

 9 Ek het Jehovah van die leërmagte hoor sweer

dat baie huise, al is hulle groot en mooi,

iets skokkends sal word,

sonder ’n inwoner.+

10 Want tien akker* wingerd sal net een bat* oplewer,

en ’n homer* saad sal net ’n efa* oplewer.+

11 Dit sal sleg gaan met dié wat vroeg in die oggend opstaan om alkohol te drink,+

met dié wat hulle tot laat in die aand dronk drink!

12 Hulle het harpe en ander snaarinstrumente,

tamboeryne, fluite en wyn by hulle feeste,

maar hulle dink nie aan wat Jehovah doen nie,

en hulle sien nie die werk van sy hande nie.

13 Daarom sal my volk in ballingskap gaan

omdat hulle nie kennis het nie.+

Hulle geëerde manne sal honger ly+

en die hele volk sal dors wees.

14 Daarom het die Graf* homself groter gemaak

en sy mond wawyd oopgemaak,+

en die belangrike mense* van die stad, haar raserige menigtes en dié wat feesvier,

sal beslis daarin afdaal.

15 Die mens sal neerbuig,

hy sal verneder word,

en die hoogmoediges sal hulle koppe moet laat sak.

16 Jehovah van die leërmagte sal deur sy oordeel* verheerlik word.

Die ware God, die Heilige,+ sal homself heilig deur regverdigheid.+

17 En die lammers sal wei asof dit hulle eie weiveld is.

Uitlanders sal eet by die verwoeste plekke waar daar voorheen vetgevoerde diere was.

18 Dit sal sleg gaan met dié wat hulle skuld met toue van bedrog saamsleep,

en hulle sonde met wa-toue,

19 met dié wat sê: “Laat Hy gou maak met sy werk.

Laat dit gou kom, sodat ons dit kan sien.

Laat die voorneme* van die Heilige van Israel uitgevoer word,

sodat ons dit kan weet!”+

20 Dit sal sleg gaan met dié wat sê dat goed sleg is en sleg goed,+

dié wat duisternis met lig vervang en lig met duisternis,

dié wat bitter met soet vervang en soet met bitter!

21 Dit sal sleg gaan met dié wat wys is in hulle eie oë

en wat dink dat hulle verstandig is!+

22 Dit sal sleg gaan met dié wat helde is wanneer dit by wyndrinkery kom

en met die manne wat goed is daarmee om sterk drank te meng,+

23 met dié wat die goddelose vir ’n omkoopgeskenk vryspreek+

en wat die regverdige nie geregtigheid laat kry nie!+

24 Daarom, net soos stoppels deur vuur verteer word

en droë gras deur vlamme verskroei word,

sal hulle wortels verrot

en sal hulle bloeisels soos poeier wegwaai,

omdat hulle die wet* van Jehovah van die leërmagte verwerp het

en geen respek getoon het vir die woord van die Heilige van Israel nie.+

25 Daarom is Jehovah woedend vir sy volk,

en hy sal sy hand uitsteek om hulle te straf.+

Die berge sal bewe.

Hulle lyke sal soos vullis in die strate wees.+

Weens alles wat hulle gedoen het, het sy woede nie bedaar nie,

maar sy hand is nog steeds uitgesteek om hulle te straf.

26 Hy het ’n banier* opgerig vir ’n nasie wat ver is.+

Hy het gefluit om hulle van die eindes van die aarde af te laat kom.+

En kyk! Hulle kom vinnig.+

27 Nie een van hulle is moeg of struikel nie.

Nie een is lomerig of slaap nie.

Die lyfband om hulle middel is nie losgemaak nie

en die rieme van hulle sandale is nie stukkend nie.

28 Al hulle pyle is skerp,

en al hulle boë is gespan, reg om te skiet.

Die hoewe van hulle perde is soos vuurklip,

en hulle wiele is soos ’n stormwind.+

29 Hulle gebrul is soos dié van ’n leeu.

Hulle brul soos jong leeus.*+

Hulle sal grom en die prooi gryp.

Hulle sal dit wegdra, en daar sal niemand wees om dit te red nie.

30 In daardie dag sal hulle daaroor grom

soos die gegrom van die see.+

Enigiemand wat na die land kyk, sal verskriklike duisternis sien.

Selfs die lig het donker geword as gevolg van die wolke.+

6 In die jaar dat koning Ussiʹa gesterf het,+ het ek Jehovah op ’n hoë en verhewe troon sien sit,+ en die some van sy kleed het die tempel gevul. 2 Serafs het bokant hom gestaan. Elkeen het ses vlerke gehad. Elkeen het sy gesig met twee vlerke bedek, sy voete met twee vlerke bedek en twee vlerke gebruik om te vlieg.

 3 En hulle het na mekaar toe uitgeroep:

“Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërmagte.+

Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.”

4 En die deure* het geskud weens die geroep, en die huis het vol rook geword.+

 5 Toe het ek gesê: “Dit is verby met my!

Ek is so goed as dood,

want ek is ’n man met onrein lippe,

en ek woon onder ’n volk met onrein lippe.+

En nou het ek die Koning, Jehovah van die leërmagte, met my eie oë gesien!”

6 Toe het een van die serafs na my toe gevlieg, en in sy hand was ’n gloeiende kool+ wat hy met ’n tang van die altaar af geneem het.+ 7 Hy het aan my mond geraak en gesê:

“Kyk! Dit het aan jou lippe geraak.

Jou skuld is weggeneem,

en daar is vir jou sonde versoening gedoen.”

8 Toe het ek die stem van Jehovah hoor vra: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?”+ En ek het gesê: “Hier is ek! Stuur my!”+

 9 En hy het gesê: “Gaan sê vir hierdie volk:

‘Julle sal keer op keer hoor,

maar julle sal nie verstaan nie.

Julle sal keer op keer sien,

maar julle sal geen kennis verkry nie.’+

10 Maak die hart van hierdie volk ongevoelig,+

laat hulle ore toegaan,+

en maak hulle oë toe,

sodat hulle nie met hulle oë sien

en met hulle ore hoor nie,

en sodat hulle hart nie verstaan nie,

en sodat hulle nie terugdraai en genees word nie.”+

11 Toe het ek gevra: “Hoe lank, o Jehovah?” En hy het gesê:

“Totdat die stede verwoes en sonder inwoners is

en die huise sonder mense is

en die land verwoes en verlate is;+

12 totdat Jehovah die mense ver weg laat gaan+

en daar groot verlatenheid in die land is.

13 “Maar daar sal nog ’n tiende daarin oor wees, en dit sal weer verbrand word, soos ’n groot boom en soos ’n eikeboom, waarvan daar ’n stomp oorbly nadat dit afgekap is. Die stomp sal ’n heilige saad* wees.”

7 En in die tyd van Agas,+ die seun van Jotam, die seun van Ussiʹa, die koning van Juda, het koning Resin van Sirië saam met koning Peka+ van Israel, die seun van Remaʹlia, teen Jerusalem opgetrek om oorlog te voer, maar hulle* kon dit nie inneem nie.+ 2 Toe het die huis van Dawid die volgende boodskap ontvang: “Sirië het met Eʹfraim saamgespan.”

En Agas en sy volk het bang geword, hulle het gebewe soos die bome van die woud in die wind.

3 Jehovah het toe vir Jesaja gesê: “Neem jou seun Sear-Jasub*+ saam met jou en gaan ontmoet Agas asseblief by die end van die kanaal van die boonste dam+ langs die grootpad van die wassersveld. 4 Jy moet vir hom sê: ‘Bly kalm. Moenie bang wees nie, en moenie moed verloor weens hierdie twee smeulende stompe nie, weens die brandende woede van Resin, die koning van Sirië, en die seun van Remaʹlia nie.+ 5 Want Sirië het saam met Eʹfraim en die seun van Remaʹlia slegte planne teen jou beraam en gesê: 6 “Laat ons teen Juda optrek en dit uitmekaarskeur* en dit verower, en laat ons die seun van Taʹbeël as koning daaroor aanstel.”+

 7 “‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê:

“Dit sal nie plaasvind nie.

Dit sal nie gebeur nie.

 8 Want die hoof van Sirië is Damaskus,

en die hoof van Damaskus is Resin.

Binne slegs 65 jaar

sal Eʹfraim heeltemal verpletter word en ophou om as ’n volk te bestaan.+

 9 Die hoof van Eʹfraim is Samariʹa,+

en die hoof van Samariʹa is die seun van Remaʹlia.+

As julle nie sterk geloof het nie,

sal julle nie veilig wees nie.”’”

10 Jehovah het verder vir Agas gesê: 11 “Vra Jehovah jou God vir ’n teken.+ Dit kan so diep soos die Graf* of so hoog soos die hemel wees.” 12 Maar Agas het gesê: “Ek sal nie vra nie, en ek sal Jehovah nie toets nie.”

13 Jesaja het toe gesê: “Luister asseblief, o huis van Dawid. Is dit nie genoeg dat julle mense se geduld toets nie? Moet julle ook God se geduld toets?+ 14 Daarom sal Jehovah self vir julle ’n teken gee: Kyk! Die jong vrou sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun,+ en sy sal hom Immaʹnuel* noem.+ 15 Hy sal botter en heuning eet teen die tyd dat hy weet hoe om die slegte te verwerp en die goeie te kies. 16 Want voordat die seun weet hoe om die slegte te verwerp en die goeie te kies, sal die land van die twee konings vir wie jy so bang is, heeltemal verlate wees.+ 17 Jehovah sal ’n moeilike tyd oor jou en oor jou volk en oor die huis van jou pa laat kom. ’n Tyd soos daar nie was vandat Eʹfraim van Juda weggebreek het nie,+ want Hy sal die koning van Assiʹrië teen julle stuur.+

18 “In daardie dag sal Jehovah fluit vir die vlieë van die verste sytakke van die Nyl in Egipte en vir die bye in die land Assiʹrië, 19 en hulle sal almal kom en gaan sit in die diep valleie,* in die rotsskeure, op al die doringbosse en op al die drinkplekke.

20 “In daardie dag sal Jehovah deur middel van ’n gehuurde skeermes uit die streek van die Rivier,* deur middel van die koning van Assiʹrië,+ die kop en die beenhare skeer en selfs die baard afskeer.

21 “In daardie dag sal ’n man ’n jong koei en twee skape aan die lewe hou. 22 En weens die oorvloed van melk sal hy botter eet. Almal wat in die land oorbly, sal botter en heuning eet.

23 “In daardie dag sal daar net doringbosse en onkruid wees waar daar vroeër 1 000 wingerdstokke was wat 1 000 silwerstukke werd was. 24 Manne sal soontoe gaan met pyle en boë, want die hele land sal met doringbosse en onkruid bedek wees. 25 En jy sal nie naby die gebied gaan van al die berge wat voorheen met ’n skoffel bewerk is nie, want dit sal bedek wees met doringbosse en onkruid. Dit sal ’n plek word waar bulle wei en skape die grond vertrap.”

8 Jehovah het vir my gesê: “Neem ’n groot skryfplank+ en skryf duidelik* daarop: ‘Maher-Salal-Has-Bas.’* 2 En ek wil hê dat dit skriftelik deur betroubare getuies bevestig moet word, naamlik deur die priester Uriʹa+ en Sagariʹa, die seun van Jeberegʹja.”

3 Toe het ek by my vrou, die profetes, geslaap, en sy het swanger geword en ná verloop van tyd geboorte gegee aan ’n seun.+ Jehovah het toe vir my gesê: “Noem hom Maher-Salal-Has-Bas, 4 want voordat die seun ‘Pappa!’ en ‘Mamma!’ kan sê, sal die rykdom van Damaskus en die buit van Samariʹa voor die koning van Assiʹrië weggedra word.”+

5 Jehovah het weer met my gepraat en gesê:

 6 “Omdat hierdie volk die rustige waters van die Siloʹa* verwerp het+

en bly is oor Resin en die seun van Remaʹlia,+

 7 daarom sal Jehovah die magtige watermassas

van die Rivier* teen hulle bring,

die koning van Assiʹrië+ en al sy heerlikheid.

Hy sal oor al sy stroombeddings spoel

en al sy oewers oorstroom

 8 en die hele Juda binnedring.

Hy sal die land oorstroom en daardeur vloei, en die waters sal skouerhoogte* bereik.+

Sy uitgespreide vlerke sal die breedte van jou land vul,

o Immaʹnuel!”*+

 9 Rig skade aan, o volke, maar julle sal verpletter word.

Luister, almal wat in die afgeleë dele van die aarde is!

Maak gereed vir oorlog,* maar julle sal verpletter word!+

Maak gereed vir oorlog, maar julle sal verpletter word!

10 Beraam ’n plan, maar dit sal misluk!

Sê wat julle wil, maar dit sal nie suksesvol wees nie,

want God is met ons!*+

11 Jehovah se sterk hand was op my toe hy die volgende vir my gesê het om my te waarsku om nie die weg van hierdie volk te volg nie:

12 “Moenie alles wat hierdie volk ’n sameswering noem, as ’n sameswering beskou nie!

Moenie vrees wat hulle vrees nie.

Moenie daarvoor bang wees nie.

13 Jehovah van die leërmagte – hy is die Een wat julle as heilig moet beskou,+

hy is die Een wat julle moet vrees

en hy is die Een vir wie julle bang moet wees.”+

14 Hy sal ’n skuilplek* word,

maar ook ’n steen van struikeling

en ’n rots om oor te val+

vir al twee huise van Israel,

sowel as ’n vangnet en ’n strik

vir die inwoners van Jerusalem.

15 Baie van hulle sal struikel en val en seerkry.

Hulle sal verstrik word en gevang word.

16 Rol die boekrol met die skriftelike bevestiging* op.

Plaas ’n seël op die wet* onder my dissipels!

17 Ek sal gretig bly wag op Jehovah,+ wat weggedraai het van* die huis van Jakob,+ en ek sal op hom hoop.

18 Kyk! Ek en die kinders wat Jehovah my gegee het,+ is in Israel soos tekens+ en wonderwerke van Jehovah van die leërmagte, wat op die berg Sion woon.

19 Hulle sal miskien vir julle sê: “Raadpleeg mense wat geeste oproep* of fortuinvertellers wat piep en mompel.” Maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Moet hulle die dooies raadpleeg vir die lewendes?+ 20 Hulle moet eerder die wet en die skriftelike bevestiging raadpleeg!

As hulle woorde nie hiermee ooreenstem nie, het hulle geen lig* nie.+ 21 En elkeen sal swaarkry en honger ly+ terwyl hy deur die land trek. En omdat hy honger en kwaad is, sal hy boontoe kyk en sy koning en sy God vervloek. 22 Dan sal hy na die aarde kyk en net swaarkry en duisternis sien, diep skaduwee en moeilike tye, donkerte en geen lig nie.

9 Maar die donkerte sal nie wees soos in vroeër tye toe daar swaarkry in die land was nie, toe die land van Seʹbulon en die land van Nafʹtali verneder is nie.+ Maar later sal Hy sorg dat daardie land – die pad by die see, die Jordaanstreek, Galileʹa van die nasies – geëer word.

 2 Die volk wat in duisternis gelewe het,

het ’n groot lig gesien.

Op die inwoners van die land van diep skaduwee,

het lig geskyn.+

 3 U het die nasie baie groot laat word.

U het hulle groot blydskap gegee.

Hulle is vreugdevol voor u

soos mense vreugdevol is in die oestyd,

soos mense wat vreugdevol die buit verdeel.

 4 Want u het die juk wat op hulle druk, stukkend gebreek,

die stok op hulle skouers, die staf van die taakgewers,

soos die dag toe Miʹdian verslaan is.+

 5 Elke soldatestewel wat die aarde laat dreun

en elke kleed wat vol bloed is,

sal deur die vuur verbrand word.

 6 Want ’n kind is vir ons gebore,+

’n seun is aan ons gegee,

en die heerskappy* sal op sy skouers wees.+

Hy sal genoem word: Wonderlike Raadgewer,+ Magtige God,+ Ewige Vader, Prins van Vrede.*

 7 Sy heerskappy* sal bly uitbrei,

en daar sal geen einde aan vrede wees nie.+

Hy sal op die troon van Dawid+ sit en oor sy koninkryk regeer.

Hy sal dit stewig vestig+ en versterk

deur middel van geregtigheid+ en regverdigheid,+

van nou af en tot in alle ewigheid.

Die ywer van Jehovah van die leërmagte sal dit doen.

 8 Jehovah het ’n boodskap teen Jakob gestuur,

en dit het oor Israel gekom.+

 9 En die hele volk sal dit weet,

Eʹfraim en die inwoners van Samariʹa,

wat trots en sonder skaamte sê:

10 “Baksteenmure het geval,

maar ons sal met gekapte klip bou.+

Wildevyebome is afgekap,

maar ons sal hulle met sederbome vervang.”

11 Jehovah sal Resin se teenstanders teen hom laat kom

en sy vyande teen hom laat optree.

12 Sirië sal uit die ooste kom, en die Filistyne uit die weste.+

Hulle sal hulle mond oopmaak en Israel verslind.+

Weens alles wat hulle gedoen het, het sy woede nie bedaar nie,

maar sy hand is nog steeds uitgesteek om hulle te straf.+

13 Want die volk het nie teruggekeer na die Een wat hulle straf nie.

Hulle het nie Jehovah van die leërmagte gesoek nie.+

14 Op een dag sal Jehovah

kop en stert, takkie* en riet van Israel afsny.+

15 Die ouerman en die gerespekteerde persoon is die kop,

en die profeet wat valse onderrigting gee, is die stert.+

16 Die leiers van hierdie volk bring hulle op ’n dwaalspoor,

en dié wat gelei word, is verward.

17 Daarom sal Jehovah nie bly wees oor hulle jong manne nie,

en hy sal geen genade toon aan hulle weeskinders* en hulle weduwees nie,

want hulle is almal afvallig en doen wat sleg is,+

en almal praat onsin.

Weens alles wat hulle gedoen het, het sy woede nie bedaar nie,

maar sy hand is nog steeds uitgesteek om hulle te straf.+

18 Want goddeloosheid brand soos ’n vuur

en verteer doringbosse en onkruid.

Dit sal die digte bosse in die woud aan die brand steek,

en dit sal in rook opgaan.

19 Deur die woede van Jehovah van die leërmagte

is die land aan die brand gesteek,

en die volk sal deur die vuur verteer word.

Niemand sal selfs sy broer spaar nie.

20 Die een sal iets afsny aan die regterkant,

maar nog steeds honger wees,

en die ander sal iets aan die linkerkant eet,

maar nie versadig word nie.

Elkeen sal die vlees van sy eie arm eet.

21 Manasʹse sal Eʹfraim verslind,

en Eʹfraim vir Manasʹse.

Saam sal hulle teen Juda wees.+

Weens alles wat hulle gedoen het, het sy woede nie bedaar nie,

maar sy hand is nog steeds uitgesteek om hulle te straf.+

10 Dit sal sleg gaan met dié wat skadelike wette maak,+

wat heeltyd onderdrukkende gebooie maak

 2 om te keer dat die armes se regsaak verhoor word

en dat die hulpeloses onder my volk geregtigheid kry.+

Hulle buit die weduwees uit

en stroop die weeskinders!*+

 3 Wat sal julle doen op die dag van afrekening*+

wanneer vernietiging van ver af kom?+

Na wie toe sal julle vlug om hulp te kry,+

en wat sal van julle rykdom* word?

 4 Al wat oorbly, is om saam met die gevangenes neer te buig

of om doodgemaak te word.

Weens alles wat hulle gedoen het, het sy woede nie bedaar nie,

maar sy hand is nog steeds uitgesteek om hulle te straf.+

 5 “Kyk! Die Assiriër,+

die lat waarmee ek uiting gee aan my woede.+

Ek sal die staf in sy hand gebruik om te straf!

 6 Ek sal hom teen ’n afvallige nasie stuur,+

teen die volk wat my woedend gemaak het.

Ek sal hom beveel om baie buit te neem en hulle te stroop

en om hulle soos modder in die strate te vertrap.+

 7 Maar hy sal ander idees hê,

en hy sal ander planne beraam,

want dit is in sy hart om te vernietig,

om baie nasies uit te roei, nie net ’n paar nie.

 8 Want hy sê:

‘Is my leiers nie almal konings nie?+

 9 Is Kalno+ nie net soos Karʹkemis+ nie?

Is Hamat+ nie soos Arpad+ nie?

Is Samariʹa+ nie soos Damaskus+ nie?

10 Ek het die koninkryke van waardelose gode verower,

en hulle het meer afgodsbeelde gehad as Jerusalem en Samariʹa!+

11 Sal ek nie aan Jerusalem en haar afgode doen

wat ek aan Samariʹa en haar waardelose gode+ gedoen het nie?’

12 “Wanneer Jehovah al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy die koning van Assiʹrië straf vir sy skaamteloosheid en sy trots en hoogmoed.+ 13 Want hy sê:

‘Ek sal dit in my eie krag doen

en met my wysheid, want ek is wys.

Ek sal die grense van volke verwyder+

en hulle skatte stroop,+

en soos ’n magtige sal ek hulle inwoners onderwerp.+

14 Soos ’n man wat sy hand in ’n nes steek,

sal ek die rykdom van die volke afvat.

En soos ’n man eiers bymekaarmaak wat nie bewaak word nie,

sal ek die hele aarde bymekaarmaak!

Nie een sal sy vlerke klap of sy bek oopmaak of piep nie.’”

15 Kan die byl dink dat hy belangriker is as die een wat met hom kap?

Kan die saag dink dat hy belangriker is as die een wat met hom saag?

Kan ’n staf+ die een wat hom oplig, heen en weer beweeg?

Of kan ’n stok die een oplig wat nie van hout gemaak is nie?

16 Daarom sal die ware Heer, Jehovah van die leërmagte,

sy sterk manne laat uitteer,+

en Hy sal ’n groot vuur aansteek+ wat sy prag en praal vernietig.

17 Israel se Lig+ sal ’n vuur word,+

en sy Heilige sal ’n vlam word.

Dit sal opvlam en in een dag sy onkruid en sy doringbosse verteer.

18 Hy sal die prag van sy woud en sy vrugteboord heeltemal* vernietig.

Dit sal wees soos wanneer ’n siek man wegteer.+

19 Die bome wat in sy woud oorbly,

sal so min wees dat ’n seuntjie hulle sal kan tel.

20 In daardie dag sal die oorblywendes van Israel

en die oorlewendes van die huis van Jakob,

nie meer staatmaak op die een wat hulle geslaan het nie,+

maar hulle sal met getrouheid op Jehovah,

die Heilige van Israel, vertrou.

21 Net ’n oorblyfsel, die oorblyfsel van Jakob,

sal terugkeer na die Magtige God.+

22 Want al is jou volk

soos die sandkorrels van die see, o Israel,

sal net ’n oorblyfsel van hulle terugkeer.+

Daar is besluit om te vernietig,+

en geregtigheid* sal hulle inhaal.+

23 Ja, die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte, se besluit om te vernietig,

sal in die hele land uitgevoer word.+

24 Daarom sê die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte: “O my volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriër wat jou met die stok geslaan het+ en wat sy staf teen jou opgelig het soos Egipte gedoen het nie.+ 25 Want die veroordeling sal binnekort tot ’n einde kom. Ek sal my woede teen hulle rig en hulle vernietig.+ 26 Jehovah van die leërmagte sal hom met ’n sweep slaan,+ soos toe hy Miʹdian by die rots Oreb verslaan het.+ Hy sal sy staf oor die see uitsteek en dit oplig soos hy in die geval van Egipte gedoen het.+

27 In daardie dag sal sy vrag van jou skouer afgly,+

en sy juk van jou nek,+

en die juk sal gebreek word+ weens die olie.”

28 Hy het na Ajat+ gekom.

Hy het deur Migron getrek.

By Migmas+ het hy sy goed agtergelaat.

29 Hulle het deur die drif getrek.

Hulle het by Geba+ oornag.

Rama het gebewe, Giʹbea+ van Saul het gevlug.+

30 Roep uit en gil, dogter van Gallim!

Skenk aandag, Lajesa!

Arme Aʹnatot!+

31 Madmeʹna het gevlug.

Die inwoners van Gebim het skuiling gesoek.

32 Vandag nog sal hy in Nob+ rus.

Hy swaai sy vuis dreigend na die berg van die dogter van Sion,

die heuwel van Jerusalem.

33 Kyk! Die ware Heer, Jehovah van die leërmagte,

kap takke met ’n verskriklike slag af.+

Die hoogste bome word afgekap,

en die grotes sal val.

34 Hy kap die digte bosse in die woud met ’n byl af,

en ’n magtige sal die bome van die Liʹbanon-berge laat val.

11 Daar sal ’n takkie+ groei uit die stomp van Isai,+

en ’n spruit+ uit sy wortels sal vrug dra.

 2 En die gees van Jehovah sal op hom rus,+

die gees van wysheid+ en van insig,

die gees van raad en van mag,+

die gees van kennis en van vrees vir Jehovah.

 3 En hy sal vreugde daarin vind om Jehovah te vrees.+

Hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie,

en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie.+

 4 Hy sal die armes met geregtigheid* oordeel,

en met regverdigheid sal hy teregwysing gee ten gunste van die nederiges van die aarde.

Hy sal die aarde slaan met die oordeel* van sy mond+

en die goddeloses doodmaak met die asem* van sy lippe.+

 5 Regverdigheid sal om sy middel gebind wees,

en getrouheid om sy heupe.+

 6 Die wolf sal ’n ruk by die lam wees,+

en die luiperd sal by die boklam gaan lê,

en die kalf en die leeu* en die vetgevoerde dier sal almal saam wees,*+

en ’n seuntjie sal hulle lei.

 7 Die koei en die beer sal saam wei,

en hulle kleintjies sal bymekaar lê.

Die leeu sal strooi eet soos die bul.+

 8 ’n Baba* sal by die lêplek van ’n kobra speel.

En ’n kind* sal sy hand op die nes van ’n giftige slang sit.

 9 Hulle sal niks slegs doen+

of enige skade aanrig op my hele heilige berg nie,+

want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah

soos die waters die seebodem bedek.+

10 In daardie dag sal die wortel van Isai+ opstaan en ’n banier* vir die volke wees.+

Die nasies sal leiding by hom soek,*+

en sy rusplek sal glorieryk word.

11 In daardie dag sal Jehovah weer sy hand uitsteek, ’n tweede keer, om die oorblyfsel van sy volk terug te bring uit Assiʹrië,+ Egipte,+ Patros,+ Kus,+ Elam,+ Siʹnear,* Hamat en die eilande van die see.+ 12 Hy sal ’n banier* vir die nasies oprig en dié van Israel wat verstrooi is, versamel.+ En hy sal dié van Juda wat verstrooi is, uit die uithoeke van die aarde bymekaarmaak.+

13 Die jaloesie van Eʹfraim sal verdwyn,+

en dié wat Juda vyandig behandel, sal vernietig word.

Eʹfraim sal nie jaloers wees op Juda nie,

en Juda sal Eʹfraim nie vyandig behandel nie.+

14 Hulle sal die Filistyne* in die weste aanval.

Saam sal hulle die mense van die ooste stroop.

Hulle sal Edom+ en Moab+ verower,

en die Ammoniete sal hulle onderdane word.+

15 Jehovah sal die inham van die Egiptiese see verdeel*+

en sy hand oor die Rivier* swaai.+

Met sy verskroeiende asem* sal hy sy sewe strome laat opdroog,*

en hy sal mense met hulle sandale daardeur laat loop.

16 En daar sal ’n grootpad+ uit Assiʹrië wees vir die oorblyfsel van sy volk,+

soos daar vir Israel was toe hulle uit Egipte gekom het.

12 In daardie dag sal jy beslis sê:

“Ek dank u, Jehovah,

want hoewel u vir my kwaad was,

het u woede geleidelik bedaar, en u het my vertroos.+

 2 God is my redding.+

Ek sal op hom vertrou en nie bang wees nie,+

want Jah* Jehovah is my sterkte en my mag,

en hy het my redding geword.”+

 3 Met blydskap sal julle water skep

uit die fonteine van redding.+

 4 En in daardie dag sal julle sê:

“Dank Jehovah, roep sy naam aan!

Maak sy dade onder die volke bekend!+

Verkondig dat sy naam hoog verhewe is.+

 5 Sing lofliedere* vir Jehovah,+ want hy het wonderlike dinge gedoen.+

Laat dit oor die hele aarde bekend gemaak word.

 6 Juig en roep uit van vreugde, inwoner* van Sion,

want die Heilige van Israel wat by jou is, is groot.”

13 ’n Oordeelsboodskap teen Babilon+ wat Jesaja,+ die seun van Amos, in ’n visioen ontvang het:

 2 “Rig ’n banier* op.+ Sit dit op ’n berg sonder bome.

Roep hulle, beduie met die hand

om hulle by die poorte van die heersers te laat ingaan.

 3 Ek het die bevel gegee aan dié wat ek aangestel* het.+

Ek het my soldate geroep om uiting te gee aan my woede,

en hulle juig vol trots.

 4 Luister! ’n Skare in die berge.

Dit klink soos ’n groot volk!

Luister! Die lawaai van koninkryke,

van nasies wat bymekaargekom het!+

Jehovah van die leërmagte roep die leërmag op vir die oorlog.+

 5 Hulle kom uit ’n ver land,+

van die verste horison af,*

Jehovah en die wapens van sy woede,

om die hele aarde te verwoes.+

 6 Huil, want die dag van Jehovah is naby!

Dit sal kom as ’n vernietiging van die Almagtige af.+

 7 Daarom sal al die hande slap word,

en almal sal verlam wees van vrees.+

 8 Die mense is paniekbevange.+

Hulle word deur krampe en pyne oorval,

soos ’n vrou wat geboorte gee.

Hulle kyk mekaar geskok aan,

en hulle gesigte gloei van angs.

 9 Kyk! Die dag van Jehovah kom,

wreed, met groot en brandende woede,

om die land iets skokkends te maak+

en om die land se sondaars te vernietig.

10 Want die sterre van die hemel en hulle sterrebeelde*+

sal nie hulle lig uitstraal nie.

Die son sal donker wees wanneer dit opkom,

en die maan sal nie sy lig laat skyn nie.

11 Ek sal dié wat op die aarde lewe, straf vir hulle slegtheid,+

en die goddeloses vir hulle oortreding.

Ek sal ’n einde maak aan die trots van die vermeteles,*

en ek sal die hoogmoedige onderdrukkers verneder.+

12 Ek sal mense skaarser maak as suiwer goud,+

ja, skaarser as die goud van Ofir.+

13 Daarom sal ek die hemel laat bewe,

en die aarde sal uit sy plek geskud word+

weens die woede van Jehovah van die leërmagte in die dag van sy brandende woede.

14 Soos ’n wildsbok wat gejag word en soos skape met niemand om hulle bymekaar te maak nie,

sal elkeen na sy eie volk teruggaan.

Elkeen sal na sy eie land vlug.+

15 Elkeen wat gevind word, sal deurboor word,

en elkeen wat gevang word, sal met die swaard doodgemaak word.+

16 Hulle kinders sal voor hulle oë doodgeslaan word.+

Hulle huise sal gestroop word,

en hulle vrouens sal verkrag word.

17 Ek stuur die Mede teen hulle.+

Hulle beskou silwer as niks

en stel nie belang in goud nie.

18 Hulle boë sal jong manne verpletter.+

Hulle sal nie jammer voel vir babas

of genade toon aan kinders nie.

19 En Babilon, die glorierykste van al die koninkryke,+

die prag en die trots van die Galdeërs,+

sal soos Sodom en Gomorʹra word toe God hulle vernietig het.+

20 Sy sal nooit bewoon word nie,

en sy sal tot in alle geslagte nooit weer ’n woonplek wees nie.+

Geen Arabier sal sy tent daar opslaan nie,

en geen herders sal hulle kuddes daar laat rus nie.

21 Die woestyndiere sal daar gaan lê.

Hulle huise sal vol ooruile wees.

Die volstruise sal daar bly,+

en wilde bokke* sal daar rondhuppel.

22 In haar torings sal die gehuil van diere gehoor word,

en die getjank van jakkalse in haar luukse paleise.

Haar tyd is naby, en daar sal geen uitstel wees nie.”+

14 Want Jehovah sal genade aan Jakob betoon,+ en hy sal Israel weer kies.+ Hy sal hulle in hulle land laat woon,*+ en die uitlanders sal na hulle toe kom en by die huis van Jakob aansluit.+ 2 En volke sal hulle na hulle eie plek terugbring, en hulle sal slawe en slavinne+ van die huis van Israel word in die land van Jehovah. En Israel sal dié gevange neem wat hulle gevange gehou het, en hulle sal heers oor dié wat hulle gedwing het om te werk.*

3 Op die dag wanneer Jehovah vir jou rus gee van jou pyn en van jou onrustigheid en van die harde slawewerk wat jy moes doen,+ 4 sal jy die koning van Babilon spot en sê:*

“Dit is verby met die een wat ander gedwing het om te werk!*

Dit is verby met die onderdrukking!+

 5 Jehovah het die stok van die goddeloses gebreek,

die staf van die heersers,+

 6 die een wat volke wreed en aanhoudend geslaan het,+

die een wat nasies in sy woede onderwerp het en sonder ophou vervolg het.+

 7 Die hele aarde het nou rus en vrede.

Mense roep uit van vreugde.+

 8 Selfs die jenewerbome en die sederbome van die Liʹbanon-berge

is bly oor wat met jou gebeur het.

Hulle sê: ‘Vandat jy geval het,

kom geen houtkapper om ons af te kap nie.’

 9 Selfs die Graf* daaronder is in rep en roer

om jou te ontmoet wanneer jy kom.

Weens jou maak dit dié wakker wat magteloos is in die dood,

al die onderdrukkende leiers* van die aarde.

Dit laat al die konings van die nasies van hulle trone af opstaan.

10 Hulle almal sê vir jou:

‘Het jy ook swak geword soos ons?

Het jy soos ons geword?

11 Jou trots het na die Graf* afgegaan,

sowel as die geluid van jou snaarinstrumente.+

Maaiers is jou bed onder jou,

en wurms bedek jou.’

12 Jy, o stralende, seun van die dagbreek,

jy het uit die hemel geval!

Jy wat nasies oorwin het,+

is afgekap en lê op die aarde!

13 Jy het in jou hart gesê: ‘Ek sal na die hemel toe opklim.+

Bo die sterre van God sal ek my troon plaas,+

en ek sal op die berg van samekoms gaan sit,

in die mees afgeleë dele van die noorde.+

14 Ek sal tot bo die hoogste wolke opklim,

ek sal my soos die Allerhoogste maak.’

15 Maar jy sal na die Graf* afgebring word,

na die diepste dele van die graf.

16 Dié wat jou sien, sal na jou staar.

Hulle sal jou goed bekyk en sê:

‘Is dit die man wat die aarde geskud het,

wat koninkryke laat bewe het,+

17 wat die bewoonde aarde soos die wildernis gemaak het

en stede verwoes het,+

wat geweier het om sy gevangenes te laat gaan?’+

18 Al die ander konings van die nasies,

ja, hulle almal, rus in heerlikheid,

elkeen in sy eie graf.*

19 Maar jy is weggegooi, sonder ’n graf,

soos ’n ongewenste takkie.*

Jy is bedek met dié wat met die swaard doodgemaak is,

wat in ’n gat met klippe gegooi is.

Jy is soos ’n vertrapte karkas.

20 Jy sal nie by hulle begrawe word nie,

want jy het jou eie land verwoes

en jou eie volk doodgemaak.

Die nageslag van goddeloses sal nooit weer genoem word nie.

21 Maak ’n slagblok gereed vir sy seuns

weens die oortredings van hulle voorvaders,

sodat hulle nie opstaan en die aarde oorneem

en die wêreld met hulle stede vul nie.”

22 “Ek sal teen hulle opstaan,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

“En ek sal naam en oorblyfsel en nakomelinge en nageslag uit Babilon wegvee,”+ sê Jehovah.

23 “Ek sal haar ’n besitting van ystervarke en ’n vleiland maak, en ek sal haar met die besem van vernietiging wegvee,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

24 Jehovah van die leërmagte het gesweer:

“Wat ek besluit het moet gebeur, sal gebeur.

Net soos ek besluit het, so sal dit wees.

25 Ek sal die Assiriër in my land verpletter,

en ek sal hom op my berge vertrap.+

Sy juk sal van hulle afgehaal word,

en sy vrag van hulle skouers.”+

26 Dit is wat teen die hele aarde besluit is,

en dit is die hand wat teen al die nasies uitgesteek is.

27 Want Jehovah van die leërmagte het besluit,

en wie kan dit laat misluk?+

Sy hand is uitgesteek,

en wie kan dit keer?+

28 In die jaar dat koning Agas gesterf het,+ is hierdie oordeelsboodskap uitgespreek:

29 “O Filisteʹa, nie een van jou inwoners moet bly wees

net omdat die staf gebreek is van die een wat jou geslaan het nie.

Want uit die wortel van die slang+ sal ’n giftige slang voortkom,+

en sy nageslag sal ’n vinnige giftige* slang wees.

30 Terwyl die kinders van die hulpeloses genoeg het om te eet

en die armes in veiligheid rus,

sal ek jou volk deur hongersnood laat sterf,

en wat van jou oorbly, sal doodgemaak word.+

31 Huil, o poort! Roep uit, o stad!

Julle sal almal moed verloor, o Filisteʹa!

Want rook kom uit die noorde,

en elke soldaat is op sy plek.”

32 Watter antwoord moet aan die boodskappers van die nasie gegee word?

Dat Jehovah die fondament van Sion gelê het+

en dat die hulpeloses van sy volk daar beskerming sal soek.

15 ’n Oordeelsboodskap teen Moab:+

Omdat dit in een nag verwoes is,

is Ar+ van Moab stilgemaak.

Omdat dit in een nag verwoes is,

is Kir+ van Moab stilgemaak.

 2 Mense het opgegaan na die tempel en na Dibon,+

na die offerhoogtes, om te huil.

Moab huil oor Nebo+ en oor Medeʹba.+

Elke kop is kaal geskeer,+ elke baard is afgeskeer.+

 3 Op sy strate dra hulle saklinne.

Op hulle dakke en op hulle openbare pleine huil hulle almal.

Hulle huil terwyl hulle afgaan.+

 4 Hesbon en Eleaʹle+ roep uit.

Hulle stem word tot by Jahas+ gehoor.

Daarom hou die gewapende manne van Moab aan skree.

Hulle bewe van vrees.

 5 My hart roep uit oor Moab.

Sy vlugtelinge het tot by Soar+ en Egʹlat-Selisiʹa+ gevlug.

Hulle huil terwyl hulle teen die opdraand van Luhit opgaan.

Op die pad na Horonaʹim treur hulle oor die ramp.+

 6 Want die waters van Nimrim het verdwyn.

Die groen gras het verdroog,

die gras en alle groenigheid is weg.

 7 Daarom dra hulle weg wat oor is van hulle voorraad en hulle rykdom.

Hulle trek deur die vallei* van die populiere.

 8 Die geskree weerklink dwarsdeur die gebied van Moab.+

Die gehuil kan tot by Eglaʹim

en tot by Beër-Elim gehoor word.

 9 Want die waters van Dimon is vol bloed.

En ek sal nog dinge oor Dimon bring:

Leeus vir dié van Moab wat ontsnap

en vir dié wat in die land oorbly.+

16 Stuur ’n ram na die heerser van die land,

van Sela af deur die wildernis,

na die berg van die dogter van Sion.

 2 Soos ’n voël wat uit sy nes gejaag is,+

so sal die dogters van Moab by die driwwe van die Arnon+ wees.

 3 “Gee raad, voer die besluit uit.

Bied in die middel van die dag skaduwee wat so donker is soos die nag.

Beskerm dié wat verstrooi is, en moenie dié wat vlug, verraai nie.

 4 Laat my vlugtelinge in jou woon, o Moab.

Word ’n skuilplek vir hulle weens die vernietiger.+

Die onderdrukker sal aan sy einde kom,

die vernietiging sal tot ’n einde kom

en dié wat ander vertrap, sal van die aarde af verdwyn.

 5 Dan sal ’n troon stewig gevestig word deur lojale liefde.

Die een wat daarop sit in die tent van Dawid sal getrou wees.+

Hy sal regverdig oordeel en sonder uitstel doen wat reg is.”+

 6 Ons het van die trots van Moab gehoor – hy is baie trots.+

Ons het gehoor van sy hoogmoed en sy trots en sy woede.+

Maar sy leë praatjies sal op niks uitloop nie.

 7 Daarom sal Moab oor Moab huil.

Hulle sal almal huil.+

Dié wat getref is, sal treur oor die rosynekoeke van Kir-Hareʹset.+

 8 Want die terrasse van Hesbon+ het verdroog,

die wingerdstok van Sibma.+

Die heersers van die nasies het sy helderrooi takke* vertrap,

wat tot by Jaser gekom het,+

wat tot in die wildernis gestrek het.

Sy jong takkies het uitgesprei en tot by die see gekom.

 9 Daarom sal ek oor die wingerdstok van Sibma huil soos ek oor Jaser huil.

My trane sal oor julle vloei, o Hesbon en Eleaʹle,+

want die gejuig oor julle somervrugte en julle oes is verby.*

10 Vreugde en blydskap is uit die vrugteboord weggeneem,

en daar is geen vreugdeliedere of gejuig in die wingerde nie.

Niemand sal druiwe trap in die wynperse nie,+

want ek het die gejuig laat ophou.+

11 Daarom bewe my ingewande van hartseer oor Moab,+

soos die trillende snare van ’n harp.

En my binneste bewe oor Kir-Hareʹset.+

12 Selfs as Moab hom op die offerhoogte uitput en in sy heiligdom gaan bid, sal dit niks help nie.+

13 Dit is wat Jehovah vroeër oor Moab gesê het. 14 En nou sê Jehovah: “Binne drie jaar, bereken volgens die jare van ’n gehuurde werker,* sal skande oor die heerlikheid van Moab kom. Daar sal groot verwarring wees, en dié wat oorbly sal baie min en swak wees.”+

17 ’n Oordeelsboodskap teen Damaskus:+

“Damaskus gaan nie meer ’n stad wees nie.

Daar sal net ruïnes oorbly.+

 2 Die stede van Aʹroër+ sal verlate wees.

Hulle sal plekke word waar kuddes gaan lê,

en daar sal niemand wees wat hulle bang maak nie.

 3 Versterkte stede sal uit Eʹfraim verdwyn,+

en die koninkryk uit Damaskus.+

En dié wat van Sirië oorbly, sal verdwyn

soos die heerlikheid van die Israeliete,” sê Jehovah van die leërmagte.

 4 “In daardie dag sal die heerlikheid van Jakob al hoe minder word,

en sy gesonde liggaam sal maer word.

 5 Dit sal wees soos wanneer iemand graan insamel

en die graanare met sy hand oes,

soos wanneer iemand die paar oorblywende graanare in die Refaʹim-vallei+ optel.

 6 Daar sal net oesoorblyfsels wees,

soos wanneer ’n olyfboom geslaan word:

net twee of drie ryp olywe bly aan die hoogste tak oor,

net vier of vyf aan sy vrugdraende takke,”+ sê Jehovah, die God van Israel.

7 In daardie dag sal die mens na sy Maker opkyk, en sy oë sal op die Heilige van Israel wees. 8 Hy sal nie kyk na die altare,+ die werk van sy hande+ nie. En hy sal nie kyk na wat sy vingers gemaak het nie, na die heilige pale* of die reukwerkstaanders nie.

 9 In daardie dag sal sy versterkte stede soos ’n verlate plek in die bos word,+

soos ’n tak wat voor die Israeliete agtergelaat is.

Dit sal ’n wildernis word.

10 Want jy het die God van jou redding vergeet.+

Jy het nie aan die Rots+ van jou vesting gedink nie.

Daarom maak jy pragtige tuine

en plant jy die lote van ’n vreemdeling* daarin.

11 Al maak jy ’n heining om jou tuin in die dag

en al laat jy jou saad in die oggend uitspruit,

sal die oes in die dag van siekte en ongeneeslike pyn verdwyn.+

12 Luister! Daar is die lawaai van baie volke.

Hulle is so onstuimig soos die see!

Daar is die geraas van nasies,

wat soos die gedruis van magtige waters klink!

13 Die nasies sal klink soos die gedruis van baie waters.

Hy sal hulle bestraf, en hulle sal ver weg vlug,

soos kaf wat op die berge deur ’n wind weggewaai word,

soos ’n rolbos voor ’n stormwind.

14 In die aand is daar paniek.

Voordat die oggend aanbreek, is hulle nie meer nie.

Dit is wat wag op dié wat ons beroof,

en dit is die lot van dié wat ons stroop.

18 Dit sal sleg gaan met die land waar dit gons van vlieënde insekte

in die streek van die riviere van Etiopië!+

 2 Dit stuur boodskappers uit oor die waters

in bote van papirus, en sê:

“Gaan, vinnige boodskappers,

na ’n nasie van lang mense met ’n gladde vel,

na ’n volk wat oral gevrees word,+

’n sterk nasie wat verower,

wie se land deur riviere weggespoel word.”

 3 Alle inwoners van die land en bewoners van die aarde,

julle sal iets sien wat soos ’n banier* op die berge opgerig is,

en julle sal ’n geluid hoor wat klink soos die geblaas van ’n horing.

 4 Want dít is wat Jehovah vir my gesê het:

“Ek sal rustig bly en na* my vaste plek kyk,

soos die stralende hitte van die sonlig,

soos die dou in die hitte van die oes.

 5 Want voor die oes,

wanneer daar nie meer bloeisels is nie en die druiwe begin ryp word,

sal die jong takkies met snoeimesse afgesny word

en die ranke afgekap en verwyder word.

 6 Hulle sal almal agtergelaat word vir die roofvoëls van die berge

en vir die diere van die aarde.

Die roofvoëls sal die somer op hulle deurbring,

en al die diere van die aarde sal die oestyd op hulle deurbring.

 7 In daardie tyd sal ’n geskenk aan Jehovah van die leërmagte gebring word

van ’n nasie van lang mense met ’n gladde vel,

van ’n volk wat oral gevrees word,

’n sterk nasie wat verower,

wie se land deur riviere weggespoel word,

na die plek wat die naam van Jehovah van die leërmagte dra, die berg Sion.”+

19 ’n Oordeelsboodskap teen Egipte:+

Jehovah ry op ’n vinnige wolk en kom na Egipte.

Die waardelose gode van Egipte sal voor hom bewe,+

en Egipte sal verlam wees van vrees.

 2 “Ek sal Egiptenare teen Egiptenare aanhits,

en hulle sal teen mekaar baklei,

elkeen teen sy broer en teen sy medemens,

stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.

 3 En Egipte sal nie weet wat om te doen nie,

en ek sal hulle planne verwar.+

Hulle sal hulp soek by die waardelose gode,

by die towenaars en by mense wat geeste oproep* en by die fortuinvertellers.+

 4 Ek sal Egipte aan ’n harde meester oorlewer,

en ’n wrede koning sal oor hulle regeer,”+ sê die ware Heer, Jehovah van die leërmagte.

 5 Die water van die see sal opdroog,

en die rivier sal leeg word en droogloop.+

 6 Die riviere sal stink,

en die Nylkanale van Egipte sal vlak word en opdroog.

Die riete en die biesies sal verrot.+

 7 Die plante langs die Nylrivier, by die mond van die Nyl,

en elke landery langs die Nylrivier+ sal verdroog.+

Alles sal weggewaai word, en daar sal niks oorbly nie.

 8 En die vissermanne sal treur,

en dié wat vishoeke in die Nyl uitgooi, sal huil,

en dié wat hulle nette oor die waters uitgooi, sal al hoe minder word.

 9 Dié wat met uitgekamde vlas+ werk

en dié wat wit materiaal weef, sal verneder word.

10 Haar wewers sal verpletter wees.

Al die gehuurde werkers sal treur.

11 Die leiers van Soan+ is dwaas.

Die beste raadgewers van Farao gee slegte raad.+

Hoe kan julle vir Farao sê:

“Ek is ’n nakomeling van wyse mense,

’n nakomeling van konings van lank gelede”?

12 Waar is jou wyse manne dan?+

Laat hulle jou vertel as hulle weet wat Jehovah van die leërmagte oor Egipte besluit het.

13 Die leiers van Soan het dwaas opgetree,

die leiers van Nof*+ is bedrieg.

Egipte is op ’n dwaalspoor gebring deur die hoofde van haar stamme.

14 Jehovah het ’n gees van verwarring oor haar gebring.+

En hulle het Egipte op ’n dwaalspoor gebring in alles wat sy doen,

soos ’n dronk mens wat rondgly in sy uitbraaksel.

15 En niemand in Egipte sal iets kan doen nie,

nie die kop of die stert, die takkie* of die riet nie.

16 In daardie dag sal die Egiptenare soos vrouens word. Hulle sal bewe en paniekbevange wees weens die dreigende hand wat Jehovah van die leërmagte teen hulle oplig.+ 17 En Egipte sal baie bang wees weens die land van Juda. As dit net genoem word, sal hulle baie bang wees as gevolg van wat Jehovah van die leërmagte teen hulle besluit het.+

18 In daardie dag sal daar vyf stede in Egipte wees wat die taal van Kanaän praat+ en wat sweer om lojaal te wees aan Jehovah van die leërmagte. Een van die stede sal die Stad van Verwoesting genoem word.

19 In daardie dag sal daar ’n altaar vir Jehovah in die middel van Egipte wees, en ’n pilaar vir Jehovah by sy grens. 20 Dit sal ’n teken en ’n getuie vir Jehovah van die leërmagte in Egipte wees, want hulle sal tot Jehovah roep weens die onderdrukkers, en hy sal vir hulle ’n redder stuur, ’n groot redder, wat hulle sal red. 21 En Jehovah sal aan die Egiptenare bekend word, en die Egiptenare sal Jehovah in daardie dag leer ken, en hulle sal offerandes en gawes bring en aan Jehovah ’n gelofte maak en dit betaal. 22 Jehovah sal Egipte tref+ – hy sal dit tref en genees. En hulle sal na Jehovah terugkeer, en hy sal na hulle smeekgebede luister en hulle genees.

23 In daardie dag sal daar ’n grootpad+ wees van Egipte na Assiʹrië. Dan sal Assiʹrië na Egipte kom, en Egipte na Assiʹrië, en Egipte sal God saam met Assiʹrië dien. 24 In daardie dag sal Israel die derde wees saam met Egipte en Assiʹrië,+ ’n seën op die aarde, 25 want Jehovah van die leërmagte sal dit seën en sê: “Mag my volk, Egipte, en die werk van my hande, Assiʹrië, en my erfdeel, Israel, geseënd wees.”+

20 In die jaar toe koning Sargon van Assiʹrië die Tartan* na Asdod+ gestuur het, het hy teen Asdod geveg en dit ingeneem.+ 2 In daardie tyd het Jehovah deur Jesaja,+ die seun van Amos, gesê: “Verwyder die saklinne wat om jou heupe is, en trek jou sandale uit.” En hy het dit gedoen en het kaal* en kaalvoet rondgeloop.

3 Jehovah het toe gesê: “Net soos my kneg Jesaja drie jaar lank kaal en kaalvoet rondgeloop het as ’n teken+ en ’n voorteken teen Egipte+ en Etiopië,+ 4 so sal die koning van Assiʹrië die gevangenes van Egipte+ en die ballinge* van Etiopië wegvoer, seuns en ou manne, kaal en kaalvoet en met ’n kaal sitvlak – ja, Egipte sal skaam kry.* 5 En hulle sal doodbang wees en hulle skaam vir Etiopië, hulle hoop, en vir Egipte, hulle trots.* 6 Die inwoners van hierdie kusland sal in daardie dag sê: ‘Kyk wat gebeur het met ons hoop, waarheen ons gevlug het om hulp te kry en om gered te word van die koning van Assiʹrië! Hoe sal ons nou gered word?’”

21 ’n Oordeelsboodskap teen die wildernis van die see:*+

Dit kom soos stormwinde wat deur die suide waai,

uit die wildernis, uit ’n skrikwekkende land.+

 2 ’n Vreeslike visioen is aan my oorgedra:

Die een wat bedrieglik is, tree bedrieglik op,

en die vernietiger vernietig.

Trek op, o Elam! Beleër, o Medië!+

Ek sal ’n einde maak aan al die lyding wat sy veroorsaak het.+

 3 Daarom het ek baie pyn.+

Krampe het my oorval,

soos die krampe van ’n vrou wat geboorte gee.

Ek is te ontsteld om te hoor.

Ek is te geskok om te sien.

 4 My hart klop in my keel, ek bewe van vrees.

Die skemer waarna ek verlang het, maak my bang.

 5 Dek die tafel en maak die sitplekke gereed!

Eet en drink!+

Staan op, o leiers, salf* die skild!

 6 Want dit is wat Jehovah vir my gesê het:

“Laat iemand wag staan, en laat hom vertel wat hy sien.”

 7 En hy het ’n strydwa met ’n span perde gesien,

’n strydwa met donkies,

’n strydwa met kamele.

Hy het mooi gekyk en noukeurig aandag geskenk.

 8 Toe het hy soos ’n leeu uitgeroep:

“Die hele dag staan ek op die wagtoring, o Jehovah,

en elke nag bly ek op my wagpos.+

 9 Kyk na wat daar aankom:

Manne in ’n strydwa met ’n span perde!”+

Toe het hy uitgeroep:

“Sy het geval! Babilon het geval!+

Al die beelde van haar gode lê stukkend op die grond!”+

10 O my volk wat vertrap* is,

die graan* van my dorsvloer,+

ek het julle vertel wat ek by Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, gehoor het.

11 ’n Oordeelsboodskap teen Duma:*

Iemand roep na my van Seïr+ af:

“Wag, hoe lank voor die nag verby is?

Wag, hoe lank voor die nag verby is?”

12 Die wag het gesê:

“Die oggend kom, en ook die nag.

As julle iets wil vra, vra.

Kom weer!”

13 ’n Oordeelsboodskap teen die woestynvlakte:

In die woud in die woestynvlakte sal julle oornag,

o karavane van Dedan.+

14 Neem water vir die een wat dors is,

o inwoners van die land Tema,+

en neem kos* vir die een wat vlug.

15 Want hulle het vir die swaarde gevlug, vir die swaard wat uitgetrek is,

vir die boog wat gespan is en vir die wreedheid van die oorlog.

16 Want dít is wat Jehovah vir my gesê het: “Binne een jaar, bereken volgens die jare van ’n gehuurde werker,* sal al die heerlikheid van Kedar+ tot ’n einde kom. 17 Daar sal net ’n paar boogskutters onder die vegters van Kedar oorbly, want dit is wat Jehovah, die God van Israel, gesê het.”

22 ’n Oordeelsboodskap teen die Vallei van die Visioen:*+

Wat is fout met julle? Hoekom het julle almal op die dakke geklim?

 2 Jy was vol onrus,

’n lawaaierige stad, ’n vreugdevolle stad.

Dié wat in jou gesterf het, is nie met die swaard doodgemaak nie,

en hulle het ook nie in die oorlog gesterf nie.+

 3 Al jou wrede regeerders het saam gevlug.+

Hulle is sonder ’n boog gevange geneem.

Almal wat gevind is, is gevange geneem,+

al het hulle ver weg gevlug.

 4 Daarom het ek gesê: “Moenie na my kyk nie.

Ek gaan bitterlik huil.+

Moenie my probeer troos

oor die vernietiging van die dogter* van my volk nie.+

 5 Want dit is ’n dag van verwarring en van ondergang en van paniek,+

en dit kom van die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte,

in die Vallei van die Visioen.

Die muur word verwoes,+

en ’n geskree styg op na die berge.

 6 Elam+ tel die pylkoker op

en kom met bemande strydwaens en perde,*

en Kir+ verwyder die bedekking van die skild.*

 7 Jou beste valleie

sal vol strydwaens wees,

en die perderuiters* sal hulle plekke by die poort inneem,

 8 en die beskerming* van Juda sal weggeneem word.

“In daardie dag sal julle na die wapenvoorraad van die Huis van die Woud+ kyk, 9 en julle sal al die gate in die muur van die Stad van Dawid+ sien. En julle sal die water van die onderste dam opgaar.+ 10 Julle sal die huise van Jerusalem tel en huise afbreek om die muur te versterk. 11 En julle sal ’n opvangdam tussen die twee mure vir die water van die ou dam maak, maar julle sal nie hulp soek by die Groot Maker daarvan nie, en julle sal nie dink aan die Een wat lank gelede besluit het dat dit so moet wees nie.

12 In daardie dag sal die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte,

beveel dat daar gehuil en getreur word,+

dat koppe kaalgeskeer word en dat saklinne gedra word.

13 Maar nou word daar feesgevier en gejuig.

Beeste word doodgemaak en skape word geslag.

Vleis word geëet en wyn word gedrink.+

‘Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.’”+

14 Toe het Jehovah van die leërmagte die volgende aan my geopenbaar: “‘Totdat julle sterf, sal daar nie versoening vir julle oortreding wees nie,’+ sê die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte.”

15 Dít is wat die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte, sê: “Gaan na hierdie bestuurder, na Sebna,+ wat toesig hou oor die paleis, en sê: 16 ‘Wat is hier wat aan jou behoort, en wie is hier wat aan jou behoort dat jy hier vir jou ’n graf uitgekap het?’ Hy kap sy graf op ’n hoë plek uit. Hy kap vir hom ’n rusplek in ’n krans uit. 17 ‘Kyk! Jehovah sal jou met geweld neergooi. Hy sal jou gryp en 18 jou styf oprol en jou soos ’n bal in ’n uitgestrekte land gooi. Daar sal jy sterf, en daar sal jou pragtige strydwaens wees – ’n skande vir die huis van jou meester. 19 En ek sal jou uit jou posisie verwyder en jou amp van jou af wegneem.

20 “‘In daardie dag sal ek my kneg Eljaʹkim,+ die seun van Hilkiʹa, roep. 21 En ek sal jou kleed vir hom aantrek, jou lyfband stewig om hom bind+ en jou gesag aan hom* gee. En hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda ’n vader wees. 22 En ek sal die sleutel van die huis van Dawid+ op sy skouer sit. Hy sal oopmaak en niemand sal sluit nie, en hy sal sluit en niemand sal oopmaak nie. 23 Ek sal hom soos ’n pen in ’n vaste plek inslaan, en hy sal soos ’n troon van heerlikheid vir die huis van sy vader word. 24 En hulle sal al die heerlikheid van die huis van sy vader aan hom hang, die nakomelinge en die nageslag, al die klein houers, die komme en ook die groot kruike.

25 “‘In daardie dag,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘sal die pen wat in ’n vaste plek ingeslaan is, verwyder word,+ en dit sal afgekap word en val, en die vrag wat daaraan hang, sal stukkend val, want dit is wat Jehovah gesê het.’”

23 ’n Oordeelsboodskap teen Tirus:+

Huil, o skepe van Tarsis!+

Want die hawe is verwoes. Dit is nie moontlik om daar in te gaan nie.

In die land Kittim+ is dit aan hulle geopenbaar.

 2 Bly stil, o inwoners van die kusland.

Die handelaars van Sidon+ wat oor die see vaar, het jou ryk gemaak.

 3 Die graan van Sihor*+ en die oes van die Nylrivier,

jou bron van inkomste, is oor baie waters vervoer

en het wins vir die nasies gebring.+

 4 Skaam jou, o Sidon, vesting van die see,

want die see het gesê:

“Ek het nie geboortepyne gehad nie, en ek het nie geboorte gegee nie.

Ek het ook nie jong manne grootgemaak of jong vroue opgevoed nie.”+

 5 Mense sal angstig wees weens die berig oor Tirus,+

net soos toe mense die berig oor Egipte+ gehoor het.

 6 Vaar na Tarsis!

Huil, o inwoners van die kusland!

 7 Is dit julle stad wat altyd vol vreugde was, van haar vroeë tye af?

Haar voete het haar na ver lande geneem om daar te woon.

 8 Wie het hierdie besluit geneem teen Tirus,

die stad wat krone uitgedeel het,

wie se koopmanne leiers was,

wie se handelaars regoor die aarde geëer was?+

 9 Jehovah van die leërmagte het hierdie besluit geneem,

om haar trots oor haar prag weg te neem,

om almal wat regoor die aarde geëer is, te verneder.+

10 Stroom oor jou land soos die Nylrivier, o dogter van Tarsis.

Daar is nie meer ’n skeepswerf* nie.+

11 Hy het sy hand oor die see uitgesteek.

Hy het koninkryke geskud.

Jehovah het beveel dat Feniʹsië se vestings verwoes moet word.+

12 En hy sê: “Jy sal nie meer vreugdevol wees nie,+

o onderdrukte, o maagdelike dogter van Sidon.

Staan op, vaar na Kittim.+

Selfs daar sal jy geen rus vind nie.”

13 Kyk! Die land van die Galdeërs.+

Dít is die volk – dit was nie Assiʹrië+ nie.

Hulle het haar ’n plek vir woestyndiere gemaak.

Hulle het hulle beleëringstorings opgerig.

Hulle het haar versterkte torings afgebreek+

en ’n ruïne van haar gemaak.

14 Huil, o skepe van Tarsis,

want julle vesting is verwoes.+

15 In daardie dag sal Tirus 70 jaar lank vergeet word,+ die leeftyd van ’n koning. Aan die einde van 70 jaar sal dit met Tirus gaan soos in die lied van ’n prostituut:

16 “Neem ’n harp, stap rond in die stad, o vergete prostituut.

Speel so goed as wat jy kan op jou harp.

Sing baie liedjies,

sodat hulle jou sal onthou.”

17 Aan die einde van 70 jaar sal Jehovah aandag skenk aan Tirus, en sy sal haarself weer uithuur en prostitusie pleeg met al die koninkryke van die aarde. 18 Maar haar wins en haar loon sal vir Jehovah iets heiligs word. Dit sal nie gebêre of opgespaar word nie, want haar loon sal wees vir dié wat voor Jehovah woon, sodat hulle genoeg kan hê om te eet en mooi klere kan dra.+

24 Kyk! Jehovah maak die land* leeg en verwoes dit.+

Hy keer dit onderstebo+ en verstrooi sy inwoners.+

 2 Dit sal dieselfde wees vir almal:

die volk en die priester,

die kneg en sy meester,

die diensmeisie en haar meesteres,

die koper en die verkoper,

die uitlener en die lener,

die skuldeiser en die skuldenaar.+

 3 Die land sal heeltemal leeggemaak word.

Dit sal heeltemal gestroop word,+

want dit is wat Jehovah gesê het.

 4 Die land treur,*+ dit teer weg.

Die vrugbare land verdor, dit verdroog.

Die belangrike mense van die volk verdwyn.

 5 Die land is deur sy inwoners onrein gemaak,+

want hulle het die wette geïgnoreer,+

die wetsvoorskrifte verander+

en die permanente verbond verbreek.+

 6 Daarom word die land deur die vloek verteer,+

en sy inwoners word skuldig bevind.

Daarom het die inwoners van die land al hoe minder geword.

Daar is baie min mense oor.+

 7 Die nuwe wyn treur,* die wingerdstok verdroog,+

almal wat vreugdevol was, sug.+

 8 Die vreugde van die tamboeryne is weg,

die lawaai van dié wat feesvier, het opgehou,

die vrolike klanke van die harp het verdwyn.+

 9 Daar is nie meer liedjies wanneer hulle wyn drink nie,

en die drank wat hulle drink, smaak bitter.

10 Die verlate stad is afgebreek.+

Elke huis is toe, en niemand kan daar ingaan nie.

11 In die strate skree hulle vir wyn.

Alle vrolikheid het verdwyn.

Daar is nie meer vreugde in die land nie.+

12 Die stad is heeltemal verwoes.

Die poort is afgebreek en is net ’n hoop klippe.+

13 Want dít is hoe dit in die land sal wees, onder die volke:

soos wanneer ’n olyfboom geslaan word,+

soos wanneer die laaste druiwe ingesamel word ná die oes.+

14 Hulle sal uitroep.

Hulle sal juig van vreugde.

In die weste* sal hulle die majesteit van Jehovah verkondig.+

15 Daarom sal hulle Jehovah in die ooste* verheerlik.+

Op die eilande van die see sal hulle die naam van Jehovah, die God van Israel, loof.+

16 Van die eindes van die aarde af hoor ons hoe daar gesing word:

“Heerlikheid aan die Regverdige!”+

Maar ek sê: “Ek teer weg! Ek teer weg!

Dit is verby met my! Die bedrieglikes het bedrieglik opgetree.

Met bedrieglikheid het hulle bedrieglik opgetree.”+

17 Vrees en vanggate en strikke wag op jou, o inwoner van die land.+

18 Elkeen wat vir die skrikwekkende geluid vlug, sal in die vanggat val,

en elkeen wat uit die vanggat klim, sal in die strik gevang word.+

Want die sluise van die hemel sal oopgemaak word,

en die fondamente van die land sal bewe.

19 Die land het uitmekaargeskeur.

Die land is heen en weer geskud.

Die land ruk en bewe verskriklik.+

20 Die land slinger soos ’n dronk man,

en dit swaai heen en weer soos ’n hut in die wind.

Die land se oortredings is ’n swaar las daarop.+

Dit sal val en nie weer opstaan nie.

21 In daardie dag sal Jehovah sy oordeel bring oor die leërmagte van die hoogte

en oor die konings van die aarde.

22 En hulle sal versamel word

soos gevangenes in ’n donker gat.

En hulle sal in die gevangenis opgesluit word.

Ná ’n lang tyd sal daar aan hulle aandag gegee word.

23 Die volmaan sal skaam wees,

en die stralende son sal skaam kry,+

want Jehovah van die leërmagte het Koning geword+ op die berg Sion+ en in Jerusalem.

Hy is vol heerlikheid voor die ouermanne van sy volk.+

25 O Jehovah, u is my God.

Ek verheerlik u, ek prys u naam,

want u het wonderlike dinge gedoen+

– dinge wat lank gelede besluit is+ –

in getrouheid,+ in betroubaarheid.

 2 Want u het ’n stad in ’n hoop klippe verander,

’n versterkte stad in ’n ruïne.

Die vesting van die uitlander is nie meer ’n stad nie.

Dit sal nooit herbou word nie.

 3 Daarom sal ’n sterk volk u verheerlik.

Die stad van onderdrukkende nasies sal u vrees.+

 4 Want u het ’n vesting vir die hulpelose geword,

’n vesting vir die arme in moeilike tye,+

’n skuilplek teen die reënstorm

en ’n skaduwee teen die hitte.+

Wanneer die geblaas van die onderdrukkers soos ’n reënstorm teen ’n muur is,

 5 soos die hitte in ’n dorre land,

maak u die geraas van vreemdelinge stil.

Net soos die hitte wat deur die skaduwee van ’n wolk verdryf word,

so word die lied van die onderdrukkers stilgemaak.

 6 Op hierdie berg+ sal Jehovah van die leërmagte vir al die volke

’n feesmaal voorberei met heerlike* geregte,+

’n feesmaal met goeie* wyn,

met heerlike geregte vol murg,

met goeie, gesuiwerde wyn.

 7 Op hierdie berg sal hy die sluier vernietig wat al die volke bedek,

die bedekking* wat oor al die nasies is.

 8 Hy sal die dood vir ewig wegneem,+

en die Soewereine Heer Jehovah sal die trane van alle gesigte afvee.+

Hy sal die vernedering wat sy volk verduur, van die hele aarde af wegneem,

want dit is wat Jehovah gesê het.

 9 In daardie dag sal hulle sê:

“Kyk! Dit is ons God!+

Ons het op hom gehoop,+

en hy sal ons red.+

Dit is Jehovah!

Ons het op hom gehoop.

Laat ons bly en vreugdevol wees omdat hy ons red.”+

10 Want die hand van Jehovah sal op hierdie berg rus,+

en Moab sal op sy plek vertrap word+

soos strooi in ’n mishoop ingetrap word.

11 Hy sal sy hande uitsteek

soos ’n swemmer sy hande uitsteek om te swem.

Hy sal ’n einde aan hulle hoogmoed maak+

deur hulle met sy vaardige hande te slaan.

12 En die versterkte stad, met sy hoë, veilige mure,

sal hy vernietig.

Hy sal dit afbreek tot op die grond, tot in die stof.

26 In daardie dag sal hierdie lied in die land van Juda+ gesing word:+

“Ons het ’n sterk stad.+

God se redding is soos die mure en die vestingwal daarvan.+

 2 Maak oop die poorte,+ sodat die regverdige nasie kan ingaan,

’n nasie wat getrou is.

 3 U sal dié beskerm wat ten volle op u vertrou.*

U sal hulle blywende vrede gee+

omdat hulle op u vertrou.+

 4 Vertrou vir ewig op Jehovah,+

want Jah* Jehovah is die ewige Rots.+

 5 Want hy het die bewoners van die hoogte, die verhewe stad, verneder.

Hy verneder dit,

hy verneder dit tot in die grond.

Hy gooi dit in die stof.

 6 Voete sal dit vertrap,

die voete van die armes, die voetsole van die hulpeloses.”

 7 Die pad van die regverdige is reguit.*

Omdat u regverdig is,

sal u die weg van die regverdige gelykmaak.

 8 Ons volg die pad van u oordele, Jehovah.

Ons hoop op u.

Ons verlang na u naam en u herinnering.*

 9 In die nag verlang ek na u met my hele hart en siel.

Ja, met my diepste wese soek ek na u,+

want wanneer u oordele oor die aarde kom,

leer die bewoners van die land wat regverdigheid is.+

10 Selfs as genade aan die goddelose betoon word,

sal hy nie leer wat reg is nie.+

Hy sal selfs in die land van regverdigheid goddeloos optree,+

en hy sal nie die majesteit van Jehovah sien nie.+

11 O Jehovah, u het u hand opgelig, maar hulle sien dit nie.+

Hulle sal u ywer vir u volk sien, en skande sal oor hulle kom.

Ja, u vuur sal u vyande verteer.

12 O Jehovah, u sal vir ons vrede gee,+

want alles wat ons gedoen het,

het u vir ons moontlik gemaak.

13 O Jehovah ons God, ander meesters as u het oor ons regeer,+

maar ons loof net u naam.+

14 Hulle is dood. Hulle sal nie lewe nie.

Hulle is magteloos in die dood. Hulle sal nie opstaan nie.+

Want u het met hulle afgereken

en hulle vernietig, en mense sal hulle nie meer onthou nie.

15 U het die nasie groot laat word, o Jehovah,

u het die nasie groot laat word.

U het uself verheerlik.+

U het al die grense van die land ver uitgebrei.+

16 O Jehovah, in moeilike tye het hulle by u hulp gesoek.

Hulle het fluisterend gebid toe u hulle gedissiplineer het.+

17 Net soos ’n swanger vrou wat geboortepyne het en uitroep van pyn

wanneer sy op die punt staan om geboorte te gee,

so was ons as gevolg van u, o Jehovah.

18 Ons het swanger geword, ons het geboortepyne gehad,

maar dit is asof ons aan wind geboorte gegee het.

Ons het geen redding vir die land gebring nie,

en niemand is gebore om in die land te woon nie.

19 “Julle dooies sal lewe.

My lyke sal opstaan.+

Word wakker en roep vreugdevol uit,

julle wat in die stof woon!+

Want julle dou is soos die oggenddou,*

en die aarde sal dié wat magteloos is in die dood, laat lewe.*

20 Gaan in julle binnekamers in, my volk,

en sluit julle deure agter julle toe.+

Verberg julle vir net ’n oomblik,

totdat die woede* verby is.+

21 Want kyk! Jehovah kom uit sy plek

om die inwoners van die land te straf vir hulle oortreding,

en die land se bloedskuld sal aan die lig kom,

en dié wat daarin doodgemaak is, sal nie langer weggesteek word nie.”

27 In daardie dag sal Jehovah met sy skerp, groot, sterk swaard+

afreken met die Leviaʹtan,* die seilende slang,

die Leviaʹtan, die kronkelende slang,

en hy sal die monster wat in die see is, doodmaak.

 2 Sing in daardie dag vir haar:*

“’n Wingerd van skuimende wyn!+

 3 Ek, Jehovah, beskerm haar.+

Ek gee haar heeltyd water.+

Ek beskerm haar dag en nag,

sodat niemand haar skade kan aandoen nie.+

 4 Ek is nie meer kwaad vir haar nie.+

As iemand met doringbosse en onkruid teen my kom, sal ek teen hom veg,

en ek sal hulle vertrap en aan die brand steek.

 5 Laat hy eerder stewig vashou aan my vesting.

Laat hy met my vrede maak.

Hy moet met my vrede maak.”

 6 In die dae wat kom, sal Jakob wortelskiet.

Israel sal bloeisels voortbring en uitspruit,+

en hulle sal die land met opbrengs vul.+

 7 Moet hy geslaan word soos wat hy geslaan word?

Of moet hy doodgemaak word soos dié van hom wat doodgemaak is?

 8 Met ’n skrikwekkende uitroep sal u met haar stry wanneer u haar wegstuur.

Hy sal haar uitdryf met ’n kragtige wind op die dag van die oostewind.+

 9 So sal daar versoening gedoen word vir die oortreding van Jakob,+

en dít sal die volle vrug wees wanneer sy sonde weggeneem word:

Hy sal al die altaarklippe

soos fyngemaalde krytklippe maak,

en daar sal geen heilige pale* of reukwerkstaanders oorbly nie.+

10 Want die versterkte stad sal onbewoon wees.

Die weivelde sal leeg en verlate wees soos ’n wildernis.+

Daar sal die kalf wei en gaan lê

en haar takke kaalvreet.+

11 Wanneer haar takkies verdroog het,

sal vrouens dit kom afbreek

en vuur daarmee maak.

Want hierdie volk het geen insig nie.+

Daarom sal hulle Maker geen genade aan hulle betoon nie,

en die Een wat hulle gevorm het, sal nie vir hulle jammer voel nie.+

12 In daardie dag sal Jehovah die vrugte afslaan, van die vloeiende stroom van die Rivier* af tot by die Vallei* van Egipte,+ en julle sal die een ná die ander ingesamel word, o Israel.+ 13 In daardie dag sal daar op ’n groot horing geblaas word,+ en dié wat in Assiʹrië vergaan+ en dié wat in Egipte verstrooi is,+ sal kom en voor Jehovah neerbuig op die heilige berg in Jerusalem.+

28 Dit sal sleg gaan met die trotse kroon* van die dronkaards van Eʹfraim+

en met die pragtige versiering wat verlep soos ’n blom

en wat rus op die bopunt van die vrugbare vallei van dié wat bedwelm is deur die wyn!

 2 Kyk! Jehovah stuur iemand wat sterk en magtig is.

Soos ’n donderende haelstorm, ’n vernietigende windstorm,

soos ’n donderstorm wat alles wegspoel,

sal hy dit met geweld op die grond neergooi.

 3 Die trotse krone van die dronkaards van Eʹfraim

sal vertrap word.+

 4 En die pragtige versiering wat verlep soos ’n blom

en wat rus op die bopunt van die vrugbare vallei,

sal word soos die vroeë vy voor die somer.

Wanneer iemand dit sien, pluk hy dit en eet hy dit dadelik op.

5 In daardie dag sal Jehovah van die leërmagte ’n glorieryke kroon en ’n pragtige krans word vir dié van sy volk wat oorgebly het.+ 6 En hy sal ’n gees van geregtigheid gee aan die een wat oordeel en ’n bron van krag word vir dié wat die poort teen die vyand se aanval verdedig.+

 7 Selfs hulle dwaal af weens wyn.

Die drank laat hulle slinger.

Priester en profeet dwaal af weens drank.

Die wyn maak hulle verward,

en die drank laat hulle slinger.

Hulle visioen laat hulle afdwaal,

en hulle is nie in staat om die regte besluite te neem nie.+

 8 Want hulle tafels is vol walglike uitbraaksel

– dit is oral.

 9 Aan wie sal kennis gegee word,

en aan wie sal die boodskap verduidelik word?

Aan dié wat nou net opgehou het om moedersmelk te drink,

dié wat so pas van die borste weggeneem is?

10 Want dit is “gebod op gebod, gebod op gebod,

reël op reël, reël op reël,+

hier ’n bietjie, daar ’n bietjie”.

11 Daarom sal hy met hierdie volk praat deur middel van dié wat hakkel en dié wat ’n vreemde taal praat.+ 12 Hy het eenkeer vir hulle gesê: “Dit is die rusplek. Laat die een wat moeg is, rus. En dit is die plek om asem te skep,” maar hulle wou nie luister nie.+ 13 Daarom sal Jehovah vir hulle sê:

“Gebod op gebod, gebod op gebod,

reël op reël, reël op reël,+

hier ’n bietjie, daar ’n bietjie,”

sodat hulle sal struikel en agteroor sal val

wanneer hulle loop.

Hulle sal gewond en verstrik en gevang word.+

14 Hoor nou wat Jehovah sê, julle grootpraters,

julle heersers van hierdie volk in Jerusalem:

15 Want julle sê:

“Ons het ’n verbond met die Dood gemaak,+

en met die Graf* het ons ’n ooreenkoms gemaak.*

Wanneer die oorstromende stortvloed kom,

sal dit ons nie bereik nie,

want ons het ’n leuen ons skuilplek gemaak,

en ons het agter bedrog weggekruip.”+

16 Daarom sê die Soewereine Heer Jehovah:

“Kyk! Ek lê as fondament in Sion ’n beproefde steen,+

die kosbare hoeksteen+ van ’n vaste fondament.+

Niemand wat geloof beoefen, sal paniekerig raak nie.+

17 En ek sal geregtigheid die maatlyn maak+

en regverdigheid die skietlood.+

Die hael sal die skuilplek van leuens wegvee,

en die water sal die wegkruipplek wegspoel.

18 Julle verbond met die Dood sal verbreek word,

en julle ooreenkoms met die Graf* sal nie bly staan nie.+

Wanneer die oorstromende stortvloed kom,

sal julle daardeur vernietig word.

19 Elke keer as dit kom,

sal dit julle wegspoel,+

want dit sal oggend ná oggend kom,

in die dag en in die nag.

Net vrees sal hulle laat verstaan wat hulle gehoor het.”*

20 Want die bed is te kort om jou daarop uit te strek,

en die geweefde laken is te smal om jou daarin toe te draai.

21 Want Jehovah sal opstaan soos by die berg Peʹrasim.

Hy sal optree soos hy in die vallei naby Giʹbeon gedoen het+

om sy daad te verrig – sy vreemde daad –

en om sy werk te doen – sy buitengewone werk.+

22 Moenie spot nie,+

sodat die kettings om julle nie stywer getrek word nie,

want ek het by die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte, gehoor

dat daar besluit is om die hele land* te verwoes.+

23 Luister goed na my stem.

Skenk aandag en luister na wat ek sê.

24 Hou ’n boer aan om te ploeg as hy saad wil saai?

Hou hy aan om die grond los te maak en dit voor te berei?+

25 Nee, nadat hy dit gelykgemaak het,

saai hy komyn en strooi hy swartkomyn,

en hy saai koring, giers en gars in hulle plek

en spelt+ aan die kante.

26 Want Hy leer* hom op die regte manier.

Sy God onderrig hom.+

27 Want swartkomyn word nie met ’n dorsslee gedors nie,+

en ’n wawiel word nie oor komyn gerol nie.

Swartkomyn word eerder met ’n stok uitgeslaan,

en komyn met ’n staf.

28 Word graan op die dorsvloer fyngemaal?

Nee, dit word nie aanhoudend gedors nie.+

En wanneer perde ’n wa met rollers daaroor trek,

word dit nie fyngemaal nie.+

29 Dit kom ook van Jehovah van die leërmagte.

Sy raad* is wonderlik,

en hy het groot dinge gedoen.*+

29 “Dit sal sleg gaan met Aʹriël.* Aʹriël, die stad waar Dawid se kamp was!+

Laat jaar ná jaar verbygaan.

Hou aan om julle jaarlikse feeste+ te vier.

 2 Maar ek sal rampspoed oor Aʹriël bring,+

en daar sal ’n gehuil en ’n getreur wees,+

en sy sal vir my soos die vuurherd van God se altaar word.+

 3 Ek sal rondom jou kamp opslaan,

en ek sal jou met ’n muur van spits pale beleër

en beleëringswerke teen jou oprig.+

 4 Jy sal verneder word.

Van die grond af sal jy praat,

en wat jy sê, sal onduidelik wees as gevolg van die stof.

Jou stem sal uit die grond kom+

soos die stem van iemand wat geeste oproep,*

en jou woorde sal soos ’n gefluister uit die stof kom.

 5 Jou hordes vyande sal soos fyn poeier word,+

en die hordes onderdrukkers soos die kaf wat wegwaai.+

Dit sal skielik gebeur, in ’n oomblik.+

 6 Jehovah van die leërmagte sal jou red

met donderslae, aardbewings en ’n groot lawaai,

met stormwinde, orkane en die vlamme van ’n verterende vuur.”+

 7 Dan sal die hordes van al die nasies wat teen Aʹriël oorlog voer+

– almal wat teen haar oorlog voer,

die beleëringstorings wat teen haar opgerig is

en dié wat rampspoed oor haar bring –

soos ’n droom, ’n visioen in die nag, word.

 8 Ja, dit sal wees soos wanneer iemand wat honger is, droom dat hy eet,

maar as hy wakker word, is hy honger,*

en soos wanneer iemand wat dors is, droom dat hy drink,

maar as hy wakker word, is hy moeg en dors.

So sal dit wees met die hordes van al die nasies

wat teen die berg Sion oorlog voer.+

 9 Wees verstom en verbaas.+

Verblind julleself sodat julle niks kan sien nie.+

Hulle is dronk, maar nie van wyn nie.

Hulle slinger, maar nie weens alkohol nie.

10 Want Jehovah het ’n gees van diep slaap oor julle laat kom.+

Hy het julle oë, die profete, gesluit,+

en hy het julle koppe, die sieners, bedek.+

11 Elke visioen word vir julle soos die woorde van ’n verseëlde boek.+ Wanneer hulle dit vir iemand gee wat kan lees en vir hom sê: “Lees dit asseblief hardop,” sal hy sê: “Ek kan nie, want dit is verseël.” 12 En wanneer hulle die boek vir iemand gee wat nie kan lees nie en vir hom sê: “Lees dit, asseblief,” sal hy sê: “Ek kan glad nie lees nie.”

13 Jehovah sê: “Hierdie volk sê dat hulle na aan my is,

en hulle eer my met hulle lippe,+

maar hulle hart is ver van my af.

En hulle vrees vir my is gebaseer op gebooie van mense, gebooie wat hulle geleer is.+

14 Daarom is ek die Een wat weer wonderlike dinge met hierdie volk sal doen,+

die een wonder ná die ander.

En die wysheid van hulle wyse mense sal verdwyn,

en die insig van hulle verstandiges sal tot ’n einde kom.”+

15 Dit sal sleg gaan met dié wat baie moeite doen om hulle planne vir Jehovah weg te steek.+

Hulle dade word in ’n donker plek gedoen,

en hulle sê: “Wie sien ons?

Wie weet van ons?”+

16 Julle het ’n verdraaide beskouing!

Moet die pottebakker beskou word asof hy net soos die klei is?+

Kan dit wat gemaak is, van sy maker sê:

“Hy het my nie gemaak nie”?+

En kan dit wat gevorm is, van sy vormer sê:

“Hy weet nie wat hy doen nie”?+

17 In ’n baie kort rukkie sal die Liʹbanon in ’n vrugteboord verander word,+

en die vrugteboord sal as ’n woud beskou word.+

18 In daardie dag sal die dowes die woorde van die boek hoor,

en die oë van die blindes sal sien, bevry van die donker en die duisternis.+

19 Die nederiges sal groot vreugde in Jehovah vind,

en die armes sal bly wees oor die Heilige van Israel.+

20 Want die onderdrukker sal nie meer daar wees nie,

die grootprater sal aan sy einde kom

en almal wat daarop uit is om slegte dinge te doen, sal vernietig word:+

21 dié wat leuens gebruik om ander te veroordeel,

wat strikke span vir die een wat ander in die stadspoort verdedig+

en wat met leë argumente keer dat die regverdige geregtigheid kry.+

22 Daarom sê Jehovah, wat Abraham verlos het,+ vir die huis van Jakob:

“Jakob sal nie meer skaam kry nie,

en sy gesig sal nie meer bleek* word nie.+

23 Want wanneer hy sy kinders,

die werk van my hande, by hom sien,+

sal hulle my naam heilig.

Hulle sal die Heilige van Jakob heilig,

en hulle sal vervul wees met ontsag vir die God van Israel.+

24 Dié wat opstandig van gees is, sal insig verkry,

en dié wat kla, sal onderrigting aanvaar.”

30 “Dit sal sleg gaan met die hardkoppige kinders,”+ sê Jehovah,

“wat planne uitvoer wat nie van my af kom nie,+

wat ooreenkomste maak,* maar nie onder leiding van my gees nie.

So voeg hulle die een sonde by die ander.

 2 Hulle gaan na Egipte+ sonder om my te raadpleeg,+

om beskerming te soek by Farao

en skuiling te soek in die skaduwee van Egipte!

 3 Maar die beskerming van Farao sal vir julle skaamte veroorsaak,

en skuiling in die skaduwee van Egipte sal vernedering veroorsaak.+

 4 Want sy leiers is in Soan,+

en sy boodskappers het Hanes bereik.

 5 Hulle sal almal verneder word

deur ’n volk wat vir hulle geen voordeel kan bring nie,

wat geen hulp bied en geen voordeel bring nie,

maar net skaamte en skande.”+

6 ’n Oordeelsboodskap teen die diere van die suide:

Rykdom word op die rûe van donkies vervoer,

en voorrade op die bulte van kamele,

deur die land van rampspoed en moeilikheid,

van die leeu, die brullende leeu,

van die adder en die vinnige giftige* slang.

Maar hierdie dinge sal die volk nie help nie.

 7 Want Egipte se hulp is heeltemal nutteloos.+

Daarom het ek dit genoem: “Rahab,+ wat niks doen nie.”

 8 “Gaan skryf dit nou in hulle teenwoordigheid op ’n skryfbordjie,

en skryf dit in ’n boek neer,+

sodat dit in die toekoms kan dien

as ’n permanente getuienis.+

 9 Want hulle is ’n opstandige volk,+ bedrieglike kinders,+

kinders wat nie die wet* van Jehovah wil hoor nie.+

10 Hulle sê vir die sieners: ‘Moenie visioene sien nie,’

en vir die profete: ‘Moenie vir ons voorspel wat waar is nie.+

Vertel vir ons wat ons graag wil hoor.* Voorspel misleidende dinge.+

11 Verlaat die weg. Dwaal van die pad af.

Hou op om met ons te praat oor die Heilige van Israel.’”+

12 Daarom sê die Heilige van Israel:

“Omdat julle hierdie woord verwerp+

en julle op leuens en bedrog vertrou

en daarop steun,+

13 sal hierdie oortreding vir julle soos ’n gebreekte muur wees,

soos ’n hoë muur wat uitbult en reg is om te val.

Dit sal skielik val, in ’n oomblik.

14 Dit sal soos ’n groot kleihouer gebreek word.

Dit sal so stukkend geslaan word dat daar nie eers ’n stukkie sal oorbly

waarmee vuur uit die vuurmaakplek gekrap kan word

of water uit ’n poeletjie* geskep kan word nie.”

15 Want dít is wat die Soewereine Heer Jehovah, die Heilige van Israel, sê:

“As julle na my toe terugkeer en rustig is, sal julle gered word.

Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.”+

Maar julle wou nie.+

16 Julle het eerder gesê: “Nee, ons sal op perde vlug!”

En daarom sal julle vlug.

“Ons sal op vinnige perde ry!”+

En daarom sal julle agtervolgers vinnig wees.+

17 ’n Duisend sal bewe as een julle bedreig.+

As vyf julle bedreig, sal julle vlug

totdat dié van julle wat oorbly, soos ’n paal op ’n bergtop

en soos ’n banier* op ’n heuwel is.+

18 Maar Jehovah wag geduldig* om goedheid aan julle te betoon,+

en hy sal opstaan om genade aan julle te betoon.+

Want Jehovah is ’n God van geregtigheid.+

Gelukkig is almal wat gretig op hom bly wag.+

19 Wanneer die volk in Sion, in Jerusalem,+ woon, sal jy beslis nie huil nie.+ Hy sal vir seker goedheid aan jou betoon wanneer jy om hulp roep. Hy sal jou antwoord sodra hy jou hoor.+ 20 Hoewel Jehovah vir julle rampspoed as voedsel en onderdrukking as water sal gee,+ sal jou Groot Onderrigter hom nie langer verberg nie, en jy sal jou Groot Onderrigter+ met jou eie oë sien. 21 En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: “Dit is die weg.+ Volg dit,” ingeval jy regs sou gaan of ingeval jy links sou gaan.+

22 En julle sal die silwerlaag op julle beelde en die goue laag op julle metaalbeelde onrein maak.+ Julle sal hulle weggooi soos die doek van ’n menstruerende vrou en sê: “Weg is julle!”*+ 23 En hy sal die reën gee vir die saad wat jy in die grond saai,+ en die grond sal baie kos oplewer en dit sal voedsaam wees.+ In daardie dag sal jou vee in uitgestrekte weivelde wei.+ 24 En die beeste en die donkies wat die grond bewerk, sal voer eet waaruit die kaf verwyder is en waarby suring gevoeg is. 25 En op elke hoë berg en op elke hoë heuwel sal daar strome en watervore wees+ op die dag van die groot slagting wanneer die torings val. 26 En die lig van die volmaan sal soos die lig van die son word, en die lig van die son sal sewe keer sterker word,+ soos die lig van sewe dae, op die dag wanneer Jehovah die wond* van sy volk+ verbind en die ernstige besering genees wat veroorsaak is deur die hou wat hy hulle gegee het.+

27 Kyk! Die naam van Jehovah kom van ver af,

met sy brandende woede en met swaar wolke.

Veroordeling is op sy lippe,

en sy tong is soos ’n verterende vuur.+

28 Sy gees* is soos ’n stroom vloedwaters wat skouerhoogte* bereik,

om die nasies te skud in ’n sif van vernietiging.

En die volke sal ’n toom tussen hulle kakebene hê+ wat hulle op ’n dwaalspoor bring.

29 Maar julle lied sal soos die lied wees wat in die nag gesing word

wanneer julle vir ’n fees voorberei.*+

En julle sal vreugdevol wees soos iemand

wat met ’n fluit loop*

op pad na die berg van Jehovah, na die Rots van Israel.+

30 Jehovah sal sorg dat sy indrukwekkende stem+ gehoor word

en dat sy arm+ gesien word terwyl dit in groot woede neerkom,+

met die vlam van ’n verterende vuur,+

’n wolkbreuk,+ ’n donderstorm en haelstene.+

31 Want weens die stem van Jehovah sal Assiʹrië baie bang wees.+

Hy sal dit met ’n stok slaan.+

32 En elke keer dat Jehovah sy stok swaai

om Assiʹrië te straf,

sal die geluid van tamboeryne en harpe gehoor word+

terwyl hy met sy magtige arm teen hulle veg.+

33 Want sy Tofet*+ is reeds gereedgemaak,

en dit is ook vir die koning voorberei.+

Hy het die houtstapel daarvan diep en breed gemaak,

met baie hout en vuur.

Soos ’n stroom swael sal die asem van Jehovah

dit aan die brand steek.

31 Dit sal sleg gaan met dié wat na Egipte gaan vir hulp,+

dié wat op perde vertrou+

en wat hulle vertroue stel in baie strydwaens

en in die krag van oorlogsperde.*

Hulle vertrou nie op die Heilige van Israel nie

en hulle vra nie Jehovah se hulp nie.

 2 Maar hy is wys en sal rampspoed laat kom,

en hy sal nie sy woorde terugtrek nie.

Hy sal opstaan teen die huis van goddeloses

en teen dié wat slegte mense help.+

 3 Die Egiptenare is nie God nie. Hulle is net mense.

Hulle perde is vlees en nie gees nie.+

Wanneer Jehovah sy hand uitsteek,

sal almal wat hulp aanbied, struikel.

En almal wat gehelp word, sal val.

Hulle sal almal saam sterf.

 4 Want dít is wat Jehovah vir my gesê het:

“’n Leeu, ’n sterk jong leeu,* grom oor sy prooi

wanneer ’n groot groep herders bymekaargeroep word om hom weg te jaag.

Hy word nie bang wanneer hulle skree nie,

en hy word nie afgeskrik wanneer hulle geraas maak nie.

Net so sal Jehovah van die leërmagte neerdaal om oorlog te voer

vir die berg Sion en sy heuwel.

 5 Soos ’n voël wat afduik, so sal Jehovah van die leërmagte Jerusalem verdedig.+

Hy sal haar verdedig en bevry.

Hy sal haar spaar en red.”

6 “Keer terug na die Een teen wie julle openlik in opstand gekom het, o Israel.+ 7 Want in daardie dag sal elkeen sy waardelose gode van silwer en van goud verwerp, wat julle eie hande in sonde gemaak het.

 8 En die Assiriër sal deur die swaard val, maar nie deur die swaard van ’n man nie.

Hy sal vernietig word deur ’n swaard, maar nie dié van ’n mens nie.+

Hy sal vir die swaard vlug,

en sy jong manne sal slawe word.

 9 Sy sterk rots sal van pure skrik verdwyn,

en sy leiers sal doodbang wees weens die banier,”* sê Jehovah,

wie se lig* in Sion is en wie se vuuroond in Jerusalem is.

32 Kyk! ’n Koning+ sal in regverdigheid regeer,+

en prinse* sal in geregtigheid heers.

 2 En elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind

en ’n skuiling teen die reënstorm wees,

soos waterstrome in ’n waterlose land,+

soos die skaduwee van ’n groot rots in ’n dorre land.

 3 Dan sal die oë van dié wat sien, nie meer toe wees nie,

en die ore van dié wat hoor, sal aandag skenk.

 4 Impulsiewe mense sal nadink oor die kennis wat hulle verkry,

en dié wat hakkel, sal vlot en duidelik praat.+

 5 Die verstandelose sal nie meer vrygewig genoem word nie,

en die beginsellose man sal nie gerespekteer word nie,

 6 want die verstandelose sal onsin praat,

en sy hart sal skadelike planne beraam,+

om afvalligheid te bevorder* en om leuens oor Jehovah te vertel,

om die een wat honger is, honger te laat ly

en om die een wat dors is, dors te laat ly.

 7 Die weë van die beginsellose man is sleg.+

Hy bevorder skandelike gedrag

om die hulpelose met leuens te vernietig,+

selfs wanneer die arme reg is.

 8 Maar die vrygewige persoon het goeie bedoelings,

en hy hou aan om vrygewig te wees.*

 9 “Staan op en luister na my stem, oorgeruste vroue!

Skenk aandag aan wat ek sê, sorgelose dogters!+

10 Oor bietjie meer as ’n jaar sal julle wat sorgeloos is, paniekbevange wees,

want aan die einde van die druiwe-oes sal daar geen vrugte ingesamel wees nie.+

11 Bewe, julle oorgeruste vroue!

Bewe van vrees, julle wat sorgeloos is!

Trek julle klere uit

en sit saklinne om julle heupe.+

12 Slaan op julle bors van hartseer

oor die pragtige landerye en die vrugbare wingerde.

13 Want die grond van my volk sal vol dorings en dissels wees.

Dit sal al die huise toegroei wat voorheen vol vrolikheid was,

ja, die hele vreugdevolle stad.+

14 Want die versterkte toring is verlate.

Die lawaaierige stad is leeg.+

Ofel+ en die wagtoring het ’n permanente wildernis geword,

’n paradys vir die wildedonkies,

’n weiveld vir die kuddes.+

15 Dit sal so wees totdat die gees van bo af oor ons uitgestort word+

en die wildernis ’n vrugteboord word

en die vrugteboord as ’n woud beskou word.+

16 Dan sal daar geregtigheid in die wildernis wees,

en regverdigheid in die vrugteboord.+

17 Die resultaat van ware regverdigheid sal vrede wees,+

en die gevolg van ware regverdigheid sal blywende kalmte en veiligheid wees.+

18 My volk sal in ’n vreedsame plek woon,

in veilige plekke waar daar kalmte en rus is.+

19 Maar die hael sal die woud platslaan,

en die stad sal met die grond gelykgemaak word.

20 Gelukkig is julle wat saad saai waar daar ook al water is,

wat die bul en die donkie vry laat loop.”+

33 Dit sal sleg gaan met die vernietiger wat nie vernietig is nie,+

met die verraaier wat nie verraai is nie!

Wanneer jy klaar vernietig het, sal jy vernietig word.+

Nadat jy verraai het, sal jy verraai word.

 2 O Jehovah, betoon goedheid aan ons.+

Ons hoop op u.

Ondersteun ons elke oggend met u krag.*+

Wees ons redding in moeilike tye.+

 3 Wanneer die volke u stem hoor, vlug hulle.

Wanneer u opstaan, spat nasies uitmekaar.+

 4 Die buit wat julle bymekaargemaak het, sal gestroop word asof sprinkane daarop toegesak het.

Mense sal soos swerms sprinkane daarop afstorm.

 5 Jehovah sal verheerlik word,

want hy woon in die hoogtes daar bo.

Hy sal Sion met geregtigheid en regverdigheid vul.

 6 Hy gee julle stabiliteit,

’n oorvloed van redding,+ wysheid, kennis en vrees vir Jehovah+

– dit is sy skat.

 7 Kyk! Hulle helde roep uit in die straat.

Die boodskappers van vrede huil bitterlik.

 8 Die grootpaaie is verlate.

Niemand reis op die paaie nie.

Hy* het die verbond verbreek.

Hy het die stede verwerp.

Hy het geen respek vir enigiemand nie.+

 9 Die land treur* en verdroog.

Die Liʹbanon kry skaam.+ Dit het agteruitgegaan.

Saron het soos die woestyn geword,

en Basan en Karmel skud hulle blare af.+

10 “Nou sal ek opstaan,” sê Jehovah,

“nou sal ek my verheerlik,+

nou sal ek wys hoe groot ek is.

11 Julle planne is soos droë gras en die dade wat dit voortbring, is soos stoppels.

Julle eie gees sal julle soos ’n vuur verteer.+

12 En volke sal soos gebrande kalk word.

Hulle sal soos afgekapte doringbosse met vuur verbrand word.+

13 Julle wat ver weg is, hoor wat ek gaan doen!

En julle wat naby is, erken my mag!

14 Die sondaars in Sion is doodbang.+

Die afvalliges bewe van vrees:

‘Wie van ons kan by ’n verterende vuur lewe?+

Wie van ons kan lewe by vlamme wat nie geblus kan word nie?’

15 Net die een wat altyd die weg van regverdigheid volg,+

wat die waarheid praat,+

wat nie deur oneerlikheid of bedrog geld maak nie,

wat weier om ’n omkoopgeskenk te aanvaar,+

wat nie luister na gesprekke oor moord nie

en wat weier om te kyk na wat sleg is.

16 So iemand sal in die hoogtes woon.

Rotsagtige vestings sal sy veilige skuilplek* wees.

Hy sal van kos voorsien word,

en hy sal altyd genoeg water hê.”+

17 Met jou eie oë sal jy ’n koning in sy heerlikheid sien.

Jy sal ’n land sien wat ver weg is.

18 Jy sal terugdink aan die vrees wat jy ondervind het, en sê:

“Waar is die sekretaris?

Waar is die een wat die skatting* afgeweeg het?+

Waar is die een wat die torings getel het?”

19 Jy sal daardie hoogmoedige volk nie meer sien nie,

’n volk met ’n onverstaanbare taal,

wie se gehakkel jy nie kan verstaan nie.+

20 Kyk na Sion, die stad van ons feeste!+

Jou oë sal Jerusalem sien as ’n rustige woonplek,

’n tent wat nie verskuif sal word nie.+

Sy tentpenne sal nooit uitgetrek word nie,

en nie een van sy toue sal gebreek word nie.

21 Maar daar sal die glorieryke God, Jehovah,

vir ons ’n plek van riviere en breë kanale wees.

Geen vloot skepe* sal daarop vaar nie,

en geen groot skepe sal daar verbygaan nie.

22 Want Jehovah is ons Regter,+

Jehovah is ons Wetgewer,+

Jehovah is ons Koning.+

Hy is die Een wat ons sal red.+

23 Jou toue sal slap hang.

Hulle sal nie die mas regop kan hou of die seil kan span nie.

In daardie tyd sal baie buit verdeel word,

en selfs die kreupeles sal baie daarvan vat.+

24 En geen inwoner sal sê: “Ek is siek” nie.+

Die volk wat in die land woon, sal vergifnis van hulle sonde ontvang.+

34 Kom nader om te hoor, o nasies,

en skenk aandag, o volke.

Laat die aarde en alles daarop luister,

die land en sy hele opbrengs.

 2 Want Jehovah is woedend vir al die nasies.+

Hy is baie kwaad vir al hulle leërmagte.+

Hy het besluit om hulle te vernietig.

Hy sal hulle uitroei.+

 3 Dié wat doodgemaak is, sal net so bly lê,

en die stank van hulle lyke sal die lug vul.+

Die berge sal deurdrenk wees van* hulle bloed.+

 4 Die hele leërmag van die hemel sal verrot,

en die hemel sal opgerol word soos ’n boekrol.

Hulle hele leërmag sal verdor,

soos ’n verdorde blaar wat van die wingerdstok afval

en soos ’n verdroogde vy wat van die vyeboom afval.

 5 “Want in die hemel sal my swaard drup.+

Dit sal met oordeel op Edom afkom,+

op die volk wat ek besluit het om te vernietig.

 6 Jehovah het ’n swaard. Dit sal vol bloed wees.

Dit sal vol vet wees,+

vol van die bloed van jong ramme en bokke

en die niervet van ramme.

Want Jehovah het ’n offerfees in Bosra,

’n groot slagting in die land Edom.+

 7 Die wilde bulle sal saam met hulle val,

die jong bulle saam met die sterkes.

Hulle land sal deurdrenk wees van bloed,

en hulle grond sal vol vet wees.”

 8 Want Jehovah het ’n dag van wraak,+

’n jaar van straf vir alles wat aan Sion gedoen is.+

 9 Haar* strome sal in teer verander word,

en haar stof in swael.

En haar land sal soos brandende teer word.

10 Dit sal dag en nag bly brand.

Die rook sal vir ewig opstyg.

Van geslag tot geslag sal sy verwoes bly.

Niemand sal tot in alle ewigheid daardeur trek nie.+

11 Die pelikaan en die ystervark sal haar in besit neem,

en langooruile en kraaie sal in haar woon.

Hy sal haar meet met die maatlyn van leegheid

en met die skietlood van verlatenheid.

12 Nie een van haar belangrike mense sal koning word nie,

en al haar leiers sal verdwyn.

13 Doringbosse sal in haar versterkte torings groei,

en brandnetels en doringrige onkruid in haar vestings.

Sy sal ’n lêplek van jakkalse word,+

en ’n woonplek van volstruise.

14 Woestyndiere en huilende diere sal daar bymekaarkom,

en wilde bokke* sal na mekaar roep.

Die naguil sal daar bly en ’n rusplek vind.

15 Die slang sal daar nesmaak en eiers lê,

en sy sal hulle uitbroei en beskerm.

Die valke sal daar bymekaarkom, elkeen met sy maat.

16 Gaan kyk in die boek van Jehovah en lees dit hardop:

Hulle almal sal daar wees,

en hulle almal sal ’n maat hê,

want Jehovah het die bevel gegee,

en sy gees het hulle bymekaargebring.

17 Hy is die Een wat die lot vir hulle gewerp het,

en sy eie hand het hulle plek vir hulle uitgemeet.

Hulle sal dit vir altyd besit.

Hulle sal tot in alle geslagte daarin woon.

35 Die wildernis en die dorre land sal juig,+

en die woestyn sal vreugdevol en vol blomme wees.*+

 2 Dit sal vir seker vol bloeisels wees.+

Dit sal bly wees en uitroep van vreugde.

Die heerlikheid van die Liʹbanon sal daaraan gegee word,+

die prag van Karmel+ en van Saron.+

Hulle sal die heerlikheid van Jehovah sien, die prag van ons God.

 3 Versterk dié wie se hande slap hang,

en maak die knieë wat bewe, sterk.+

 4 Sê vir dié wat in hulle hart angstig is:

“Wees sterk. Moenie bang wees nie.

Kyk! Julle God sal kom om wraak te neem.

God sal kom om te straf.+

Hy sal julle kom red.”+

 5 Dan sal die oë van die blindes kan sien,+

en die ore van die dowes sal kan hoor.+

 6 Dan sal die kreupele soos ’n takbok spring,+

en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.+

Want waters sal in die wildernis vloei,

en strome in die woestyn.

 7 Die kurkdroë grond sal verander in ’n poel vol riete,

en die dorre land in waterfonteine.+

In die plek waar jakkalse gelê het,+

sal daar groen gras, riete en papirusplante wees.

 8 En daar sal ’n grootpad wees,+

ja, ’n weg wat die Weg van Heiligheid genoem word.

Die onreine sal nie daarop reis nie.+

Dit is net vir die een wat die weg volg.

Geen dwaas sal daarop beland nie.

 9 Daar sal geen leeu

en geen gevaarlike wilde diere daarop wees nie.

Hulle sal nie daar gevind word nie.+

Net dié wat teruggekoop is, sal daarop loop.+

10 Dié wat deur Jehovah losgekoop is, sal terugkeer+ en met gejuig na Sion kom.+

Hulle sal eindelose vreugde geniet.*+

Hulle sal vol blydskap en vreugde wees,

en hartseer en swaarkry sal verdwyn.+

36 In die 14de jaar van koning Hiskiʹa het Sanʹherib, die koning van Assiʹrië,+ teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle ingeneem.+ 2 Die koning van Assiʹrië het die Rabʹsake*+ toe met ’n groot leërmag van Lagis+ af na koning Hiskiʹa in Jerusalem gestuur. Hulle het gaan staan by die kanaal van die boonste dam,+ wat langs die grootpad van die wassersveld is.+ 3 Toe het Eljaʹkim,+ die seun van Hilkiʹa, wat oor die huishouding* was, Sebna,+ die sekretaris, en Joag, die seun van Asaf, die geskiedskrywer, na hom toe uitgekom.

4 Toe het die Rabʹsake vir hulle gesê: “Sê asseblief vir Hiskiʹa: ‘Dít is wat die groot koning, die koning van Assiʹrië, sê: “Hoekom is jy so vol vertroue?+ 5 Jy sê: ‘Ek het ’n strategie en die mag om oorlog te voer,’ maar dit is leë woorde. Op wie vertrou jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom?+ 6 Jy vertrou op Egipte, daardie geknakte riet, wat ’n gat dwarsdeur ’n mens se hand sal steek as jy daarop leun. Dít is hoe Farao, die koning van Egipte, is vir almal wat op hom vertrou.+ 7 Maar dalk sal julle vir my sê: ‘Ons vertrou op Jehovah ons God.’ Is dit dan nie sy offerhoogtes en altare wat Hiskiʹa verwyder het nie,+ terwyl hy vir Juda en Jerusalem sê: ‘Julle moet voor hierdie altaar neerbuig’?”’+ 8 Aanvaar dan nou asseblief hierdie uitdaging van my heer, die koning van Assiʹrië:+ Ek sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg ruiters vir hulle kan vind. 9 Hoe sou jy dan selfs een van my heer se onbelangrikste goewerneurs kan terugdryf as jy op Egipte moet vertrou vir strydwaens en vir ruiters? 10 En dink jy dat ek sonder Jehovah se toestemming teen hierdie land opgetrek het om dit te verwoes? Dit was Jehovah wat vir my gesê het: ‘Trek op teen hierdie land en verwoes dit.’”

11 Toe het Eljaʹkim, Sebna+ en Joag vir die Rabʹsake+ gesê: “Praat asseblief met u knegte in die Aramese* taal,+ want ons verstaan dit. Moenie in die taal van die Jode met ons praat nie, want die mense op die muur kan hoor wat ons sê.”+ 12 Maar die Rabʹsake het gesê: “Dink julle dat my heer my net na julle heer en na julle toe gestuur het om hierdie dinge te sê? Hierdie boodskap is ook bedoel vir die manne wat op die muur sit, wat hulle eie ontlasting sal eet en hulle eie urine sal drink, net soos julle.”

13 Daarna het die Rabʹsake met ’n harde stem in die taal van die Jode+ uitgeroep: “Hoor wat die groot koning, die koning van Assiʹrië, sê.+ 14 Dít is wat die koning sê: ‘Moenie dat Hiskiʹa julle bedrieg nie, want hy kan julle nie red nie.+ 15 En moenie dat Hiskiʹa julle op Jehovah laat vertrou nie+ deur te sê: “Jehovah sal ons vir seker red. Hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assiʹrië gegee word nie.” 16 Moenie na Hiskiʹa luister nie, want dít is wat die koning van Assiʹrië sê: “Maak vrede met my en gee julle aan my oor. Dan sal elkeen van julle van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en die water van sy eie reënput drink, 17 totdat ek kom en julle na ’n land neem soos julle land,+ ’n land van graan en nuwe wyn, ’n land van brood en wingerde. 18 Moenie deur Hiskiʹa mislei word nie, want hy sê: ‘Jehovah sal ons red.’ Het enige van die gode van die nasies sy land uit die hand van die koning van Assiʹrië gered?+ 19 Waar is die gode van Hamat en Arpad?+ Waar is die gode van Sefarwaʹim?+ En het hulle Samariʹa uit my hand gered?+ 20 Kon enigeen van die gode van daardie lande hulle land uit my hand red? Sal Jehovah Jerusalem dan uit my hand kan red?”’”+

21 Maar hulle het stilgebly en hom nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om hom nie te antwoord nie.+ 22 Eljaʹkim, die seun van Hilkiʹa, wat oor die huishouding* was, Sebna,+ die sekretaris, en Joag, die seun van Asaf, die geskiedskrywer, het met geskeurde klere na Hiskiʹa toe gegaan en hom vertel wat die Rabʹsake gesê het.

37 Toe koning Hiskiʹa dit hoor, het hy sy klere geskeur en saklinne aangetrek en in die huis van Jehovah ingegaan.+ 2 Toe het hy Eljaʹkim, wat oor die huishouding* was, Sebna, die sekretaris, en die hoofde van die priesters saklinne laat aantrek en hulle na die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, gestuur. 3 Hulle het vir hom gesê: “Dít is wat Hiskiʹa sê: ‘Vandag is ’n dag van rampspoed, van belediging* en van skande. Dit is soos wanneer ’n kind gereed is om gebore te word, maar daar geen krag is om geboorte te gee nie.+ 4 Miskien sal Jehovah u God die woorde hoor van die Rabʹsake, wat deur sy heer, die koning van Assiʹrië, gestuur is om die lewende God uit te tart,+ en hom straf vir die woorde wat Jehovah u God gehoor het. Bid+ dus vir die oorblyfsel wat nog lewe.’”+

5 Die knegte van koning Hiskiʹa het by Jesaja aangekom,+ 6 en Jesaja het vir hulle gesê: “Gaan sê vir julle heer: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Moenie bang wees+ weens die woorde wat jy gehoor het nie, die woorde waarmee die dienaars van die koning van Assiʹrië+ my belaster het nie. 7 Ek gaan ’n gedagte by hom laat opkom, en hy sal ’n berig hoor en na sy eie land terugkeer.+ En ek sal hom in sy eie land deur die swaard laat val.”’”+

8 Nadat die Rabʹsake gehoor het dat die koning van Assiʹrië van Lagis af weggetrek het, het hy teruggekeer na die koning, wat besig was om teen Libna te veg.+ 9 Die koning het gehoor dat koning Tirhaʹka van Etiopië op pad was om teen hom te veg. Daarom het hy weer boodskappers na Hiskiʹa toe gestuur+ en gesê: 10 “Dít is wat julle vir koning Hiskiʹa van Juda moet sê: ‘Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou bedrieg deur te sê: “Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assiʹrië gegee word nie.”+ 11 Jy het gehoor wat die konings van Assiʹrië met al die lande gedoen het. Hulle het dit vernietig.+ Sal jy die enigste een wees wat gered word? 12 Is die nasies wat deur my voorvaders vernietig is, deur hulle gode gered?+ Waar is Gosan, Haran,+ Resef en die mense van Eden wat in Tel-Assar was? 13 Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van die stad Sefarwaʹim,+ die koning van Hena en die koning van Iwwa?’”

14 Hiskiʹa het die briewe by die boodskappers geneem en dit gelees. Hiskiʹa het toe na die huis van Jehovah gegaan en dit voor Jehovah uitgesprei.+ 15 En Hiskiʹa het tot Jehovah begin bid+ en gesê: 16 “O Jehovah van die leërmagte,+ die God van Israel, wat op die troon bo* die gerubs sit, u alleen is die ware God van al die koninkryke van die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. 17 Skenk aandag, o Jehovah, en luister!+ Maak u oë oop, o Jehovah, en sien!+ Luister na al die woorde waarmee Sanʹherib die lewende God uittart.+ 18 O Jehovah, die konings van Assiʹrië het wel al die lande verwoes,+ sowel as hulle eie land. 19 En hulle het hulle gode in die vuur gegooi,+ want hulle was nie gode nie. Hulle was die werk van mensehande+ – hout en klip. Dit is waarom hulle hulle kon vernietig. 20 Maar red ons nou uit sy hand, o Jehovah ons God, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat u alleen God is, o Jehovah.”+

21 Jesaja, die seun van Amos, het toe hierdie boodskap aan Hiskiʹa gestuur: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Omdat jy tot my gebid het in verband met koning Sanʹherib van Assiʹrië,+ 22 is dít wat Jehovah oor hom sê:

“Die maagdelike dogter van Sion verag jou, sy lag jou uit.

Die dogter van Jerusalem skud haar kop vir jou.

23 Wie het jy uitgetart+ en belaster?

Teen wie het jy jou stem verhef+

en jou trotse oë opgeslaan?

Dit is teen die Heilige van Israel!+

24 Deur middel van jou knegte het jy Jehovah uitgetart+ en gesê:

‘Met my baie strydwaens

sal ek teen hoë berge opry,+

teen die mees afgeleë dele van die Liʹbanon-berge.

Ek sal sy hoë sederbome afkap, sy beste jenewerbome.

Ek sal sy hoogste skuilplekke, sy digste woude, binnedring.

25 Ek sal putte grawe en water drink.

Ek sal die strome* van Egipte met my voetsole opdroog.’

26 Het jy nie gehoor nie? Dit is lank gelede besluit.*

Ek het dit in die verre verlede voorberei.+

Nou sal ek dit laat plaasvind.+

Jy sal versterkte stede vernietig. Daar sal net ruïnes oorbly.+

27 Hulle inwoners sal hulpeloos wees.

Hulle sal baie bang wees en verneder word.

Hulle sal soos plante van die veld en groen gras word,

soos gras op die dakke wat deur die oostewind verskroei word.

28 Maar ek weet wanneer jy sit, wanneer jy uitgaan, wanneer jy inkom+

en wanneer jy woedend is vir my,+

29 want jou woede teen my+ en jou gebrul het my ore bereik.+

Daarom sal ek my haak in jou neus sit en my toom+ tussen jou lippe,

en ek sal jou teruglei op die pad waarmee jy gekom het.”

30 “‘En dít sal vir jou* die teken wees: Hierdie jaar sal julle eet wat vanself groei,* en in die tweede jaar sal julle graan eet wat dan opkom, maar in die derde jaar sal julle saad saai en oes, en julle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet.+ 31 Dié van die huis van Juda wat wegkom, dié wat oorbly,+ sal wortelskiet ondertoe en vrugte voortbring boontoe. 32 Want ’n oorblyfsel sal uit Jerusalem uitgaan, en oorlewendes van die berg Sion af.+ Die ywer van Jehovah van die leërmagte sal dit doen.+

33 “‘Daarom sê Jehovah die volgende oor die koning van Assiʹrië:+

“Hy sal nie in hierdie stad inkom+

of ’n pyl daarnatoe skiet

of met ’n skild daarteen kom

of ’n beleëringswal daarteen oprig nie.”’+

34 ‘Met die pad waarmee hy gekom het, sal hy terugkeer.

Hy sal nie in hierdie stad inkom nie,’ sê Jehovah.

35 ‘Ek sal hierdie stad verdedig+ en red om my eie onthalwe+

en ter wille van my kneg Dawid.’”+

36 En die engel van Jehovah het uitgegaan en 185 000 manne in die kamp van die Assiriërs doodgemaak. Toe mense die volgende oggend vroeg opstaan, het hulle al die lyke gesien.+ 37 Daarom het koning Sanʹherib van Assiʹrië na Niʹneve+ teruggekeer en daar gebly.+ 38 En terwyl hy in die tempel van sy god Nisrog neergebuig het, het sy eie seuns Adrammeʹleg en Sareʹser hom met die swaard doodgemaak+ en toe na die land Ararat+ gevlug. En sy seun Esar-Haddon+ het in sy plek koning geword.

38 In daardie dae het Hiskiʹa dodelik siek geword.+ Die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, het vir hom gaan sê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Gee instruksies aan jou huisgesin, want jy gaan sterf. Jy sal nie gesond word nie.’”+ 2 Toe het Hiskiʹa sy gesig na die muur gedraai en tot Jehovah begin bid en gesê: 3 “Ek smeek u, o Jehovah, onthou+ asseblief hoe ek u getrou en met my hele hart gedien het,+ en ek het gedoen wat goed is in u oë.” En Hiskiʹa het bitterlik begin huil.

4 Toe het Jehovah vir Jesaja gesê: 5 “Gaan terug en sê vir Hiskiʹa:+ ‘Dít is wat Jehovah, die God van jou voorvader Dawid, sê: “Ek het jou gebed gehoor.+ Ek het jou trane gesien.+ Ek sal 15 jaar by jou lewe voeg,+ 6 en ek sal jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assiʹrië red, en ek sal hierdie stad verdedig.+ 7 Dít is die teken van Jehovah om te bewys dat Jehovah sal vervul wat hy gesê het:+ 8 Ek sal die skaduwee wat reeds op die trap* van Agas afbeweeg het, tien trappies laat teruggaan.”’”+ En die skaduwee het tien trappies teruggegaan op die trap nadat dit reeds vorentoe gegaan het.

9 Toe koning Hiskiʹa van Juda siek geword het en van sy siekte herstel het, het hy die volgende geskryf:

10 Ek het gesê: “Ek moet in die beste jare van my lewe

by die poorte van die Graf* ingaan.

Ek sal beroof word van my oorblywende jare.”

11 Ek het gesê: “Ek sal Jah* nie sien nie. Ek sal Jah in die land van die lewendes nie sien nie.+

Wanneer ek by die inwoners is van die plek waar alles tot ’n einde kom,

sal ek die mensdom nie meer sien nie.

12 My woonplek is soos die tent van ’n herder

wat afgeslaan is en van my weggeneem is.+

Ek het my lewe opgerol soos ’n wewer ’n stuk lap oprol.

Ek word losgesny van die weefraam af.

Van die oggend tot die aand maak u ’n einde aan my.+

13 Ek probeer kalm bly tot die oggend.

Soos ’n leeu hou hy aan om al my bene te breek.

Van die oggend tot die aand maak u ’n einde aan my.+

14 Ek piep heeltyd soos ’n swaeltjie of ’n lyster.*+

Ek hou aan koer soos ’n duif.+

Uitgeput kyk ek na bo:+

‘O Jehovah, ek ly verskriklik.

Ondersteun my asseblief!’+

15 Wat kan ek sê?

Hy het met my gepraat en opgetree.

Al my jare sal ek nederig wees

weens my bittere lyding.

16 ‘O Jehovah, deur hierdie dinge* lewe elke mens,

en dit beteken lewe vir my gees.

U sal my weer gesond maak en my laat lewe.+

17 In plaas van vrede het ek bittere lyding gehad.

Maar uit liefde vir my

het u my gered van die plek van vernietiging.+

U het al my sondes agter u rug gegooi.*+

18 Want die Graf* kan u nie prys nie.+

Die dood kan u nie loof nie.+

Dié wat in die graf afgaan, kan nie hoop op u getrouheid nie.+

19 Net die lewendes kan u prys,

soos ek vandag kan.

’n Pa kan sy kinders oor u getrouheid leer.+

20 O Jehovah, red my!

Dan sal ons al die dae van ons lewe

my liedere op snaarinstrumente speel+ in die huis van Jehovah.’”+

21 Jesaja het toe gesê: “Gaan haal ’n koek van saamgeperste droëvye en sit dit op die sweer, sodat hy kan herstel.”+ 22 Hiskiʹa het vroeër gevra: “Wat is die teken dat ek na die huis van Jehovah sal gaan?”+

39 In daardie tyd het die koning van Babilon, Meroʹdag-Baʹladan, die seun van Baʹladan, briewe en ’n geskenk aan Hiskiʹa gestuur,+ want hy het gehoor dat hy siek was en gesond geword het.+ 2 Hiskiʹa het hulle verwelkom en vir hulle sy skathuis+ gewys – die silwer, die goud, die balsemolie en ander kosbare olie, sy hele wapenhuis en alles wat in sy skatkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy hele ryk wat Hiskiʹa nie vir hulle gewys het nie.

3 Daarna het die profeet Jesaja na koning Hiskiʹa gegaan en vir hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en waarvandaan het hulle gekom?” Toe het Hiskiʹa gesê: “Hulle het van ’n ver land gekom, van Babilon.”+ 4 Hy het toe gevra: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskiʹa het gesê: “Hulle het alles in my paleis gesien. Daar was niks in my skatkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.”

5 Jesaja het toe vir Hiskiʹa gesê: “Hoor die woord van Jehovah van die leërmagte: 6 ‘Die tyd kom wanneer alles in jou paleis en alles wat jou voorvaders tot vandag toe opgegaar het, na Babilon weggedra sal word. Daar sal niks oorbly nie,’+ sê Jehovah.+ 7 ‘En party van jou seuns wat nog gebore sal word, sal weggeneem word en sal hofbeamptes in die paleis van die koning van Babilon word.’”+

8 Toe het Hiskiʹa vir Jesaja gesê: “Die woord van Jehovah wat u oorgedra het, is goed.” Hy het bygevoeg: “Want daar sal vrede en stabiliteit* in my leeftyd wees.”+

40 “Vertroos my volk,” sê julle God, “vertroos hulle.”+

 2 “Praat vertroostend met* Jerusalem

en sê vir haar dat haar verpligte diens verby is,

dat haar skuld afbetaal is.+

Uit die hand van Jehovah het sy die volle straf ontvang* vir al haar sondes.”+

 3 Iemand roep in die wildernis uit:

“Maak die weg van Jehovah gereed!+

Maak vir ons God ’n reguit grootpad+ deur die woestyn.+

 4 Laat elke vallei opgevul word

en elke berg en heuwel plat gemaak word.

Die ongelyke grond moet gelyk word,

en die rotsagtige plekke moet in ’n vlakte verander.+

 5 Die heerlikheid van Jehovah sal geopenbaar word,+

en alle mense* sal dit sien,+

want dit is wat Jehovah gesê het.”

 6 Luister! Iemand sê: “Roep uit!”

Iemand anders vra: “Wat moet ek uitroep?”

“Alle mense* is soos groen gras.

Al hulle lojale liefde is soos ’n bloeisel van die veld.+

 7 Die groen gras verdroog,

die bloeisel verlep,+

want die asem* van Jehovah blaas daaroor.+

Ja, die volk is maar net groen gras.

 8 Die groen gras verdroog,

die bloeisel verlep,

maar die woord van ons God bly vir ewig.”+

 9 Klim op ’n hoë berg,

o vrou wat goeie nuus vir Sion bring.+

Roep hard uit,

o vrou wat goeie nuus vir Jerusalem bring.

Roep hard uit, moenie bang wees nie.

Sê vir die stede van Juda: “Hier is julle God.”+

10 Kyk! Die Soewereine Heer Jehovah sal met mag kom,

en sy arm sal vir hom heers.+

Die beloning wat God gee, is by hom,

en die loon wat hy betaal, is voor hom.+

11 Hy sal soos ’n herder vir sy kudde sorg.+

Met sy arm sal hy die lammers bymekaarmaak

en hulle teen sy bors dra.

Hy sal die ooie wat lammers het, liefdevol lei.+

12 Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet,+

en die afmetings van die hemel met ’n span van sy hand* geneem?

Wie het die stof van die aarde in ’n maatbeker bymekaargemaak,+

of die berge en die heuwels

met ’n weegskaal geweeg?

13 Wie het die gees van Jehovah gemeet,*

en wie kan hom iets leer of raad gee?+

14 Wie het hy geraadpleeg om insig te kry,

of wie leer hom wat die pad van geregtigheid is,

of wie gee hom kennis

of wys hom wat die weg van ware insig is?+

15 Kyk! Die nasies is soos ’n druppel uit ’n emmer,

en hulle word beskou as ’n stoflagie op ’n weegskaal.+

Hy tel die eilande op asof hulle fyn stof is.

16 Selfs die Liʹbanon-berge het nie genoeg bome om ’n vuur aan die brand te hou nie,

en die wilde diere daar is nie genoeg vir ’n brandoffer nie.

17 Voor hom is al die nasies soos niks.+

Hy beskou hulle as niks, as iets wat nie bestaan nie.+

18 Met wie kan julle God vergelyk?+

Is daar enigiets wat soortgelyk is aan hom?+

19 Die ambagsman maak ’n afgod.*

Die metaalwerker trek dit met goud oor,+

en hy maak silwerkettings.

20 Hy kies ’n boom as sy bydrae,+

’n boom wat nie sal verrot nie.

Hy soek vir hom ’n goeie ambagsman

om ’n beeld te maak wat nie sal omval nie.+

21 Het julle nie geweet nie?

Het julle nie gehoor nie?

Is dit nie van die begin af vir julle vertel nie?

Het julle nie verstaan vandat die fondamente van die aarde gelê is nie?+

22 Daar is Een wat bo die kring* van die aarde woon,+

en die bewoners daarvan is soos sprinkane.

Hy span die hemel oop soos fyn gaas,

en hy sprei dit uit soos ’n tent om in te woon.+

23 Hy verlaag hoë amptenare sodat hulle niks is nie

en maak die regters* van die aarde soos iets wat nie bestaan nie.

24 Hulle is skaars geplant,

hulle is skaars gesaai,

hulle het skaars wortelgeskiet,

dan word daar op hulle geblaas en hulle verdroog,

en die wind waai hulle weg soos grasstoppels.+

25 “Met wie kan julle my vergelyk? Wie is gelyk aan my?” sê die Heilige.

26 “Kyk op na die hemel.

Wie het hierdie dinge geskep?+

Dit is die Een wat hulle leërmag uitlei in hulle volle getal.

Hy noem elkeen op sy naam.+

Weens die oorvloed van sy dinamiese energie en sy ontsaglike krag+

is hulle almal daar.

27 Hoekom sê jy, o Jakob, en hoekom beweer jy, o Israel:

‘Jehovah sien nie wat met my gebeur nie,

en ek ontvang geen geregtigheid van God nie’?+

28 Het jy nie geweet nie? Het jy nie gehoor nie?

Jehovah, die Skepper van die eindes van die aarde, is God tot in alle ewigheid.+

Hy raak nooit moeg of uitgeput nie.+

Niemand kan sy wysheid ten volle begryp nie.+

29 Hy gee krag aan die een wat moeg is,

en hy versterk die een wat swak is.+

30 Seuns sal moeg en uitgeput raak,

en jong manne sal struikel en val,

31 maar dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry.

Hulle sal sweef soos arende.+

Hulle sal hardloop en nie uitgeput raak nie.

Hulle sal loop en nie moeg raak nie.”+

41 “Wees stil en luister na my,* o eilande.

Laat die nasies weer krag kry.

Laat hulle nader kom en laat hulle dan praat.+

Laat ons bymekaarkom vir die regsaak.

 2 Wie het iemand van die ooste* af laat opstaan+

en hom in regverdigheid na Hom toe geroep?*

Wie lewer nasies aan hom oor

en laat hom konings onderwerp?+

Wie het hulle soos stof voor sy swaard gemaak,

soos grasstoppels in die wind voor sy boog?

 3 Hy agtervolg hulle. Hy trek sonder dat iemand hom hinder

op paaie waarop hy nog nie gereis het nie.

 4 Wie het opgetree en dit gedoen?

Wie het die geslagte van die begin af geroep?

Ek, Jehovah, is die Eerste,+

en teenoor die laastes is ek dieselfde.”+

 5 Die eilande het dit gesien en het bang geword.

Die eindes van die aarde het begin bewe.

Hulle kom bymekaar en beweeg vorentoe.

 6 Die een help die ander

en sê vir sy broer: “Wees sterk.”

 7 So moedig die ambagsman die metaalwerker aan.+

Die een wat die metaal met die hamer uitklop,

moedig die een aan wat op die aambeeld slaan.

Hy sê van die soldeerwerk: “Dit is goed.”

Dan word die afgod met spykers vasgeslaan sodat dit nie omval nie.

 8 “Maar jy, o Israel, is my kneg,+

jy, o Jakob, wat ek uitgekies het,+

die nageslag* van my vriend Abraham,+

 9 jy, wat ek van die eindes van die aarde af geneem het,+

en jy, wat ek van die mees afgeleë dele daarvan geroep het.

Ek het vir jou gesê: ‘Jy is my kneg.+

Ek het jou uitgekies. Ek het jou nie verwerp nie.+

10 Moenie bang wees nie, want ek is met jou.+

Moenie angstig wees nie, want ek is jou God.+

Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help.+

Ek sal jou stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.’

11 Almal wat vir jou woedend word, sal skaam kry en verneder word.+

Dié wat met jou baklei, sal aan hulle einde kom en verdwyn.+

12 Jy sal soek na die manne wat teen jou veg, maar jy sal hulle nie vind nie.

Die manne wat teen jou oorlog voer, sal word soos niks, soos iets wat glad nie bestaan nie.+

13 Want ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas.

Ek is die Een wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’+

14 Moenie bang wees nie, Jakob, al is jy net ’n wurmpie.*+

Manne van Israel, ek sal julle help,” sê Jehovah, julle Terugkoper,+ die Heilige van Israel.

15 “Kyk! Ek het jou ’n dorsslee gemaak,+

’n nuwe slee met skerp tande.

Jy sal die berge vertrap en hulle fynmaal

en die heuwels soos kaf maak.

16 Jy sal hulle in die lug opgooi,

en die wind sal hulle wegwaai.

’n Windstorm sal hulle verstrooi.

Jy sal vreugdevol wees weens Jehovah.+

Jy sal met trots praat oor die Heilige van Israel.”+

17 “Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie.

Hulle tong is droog van die dors.+

Ek, Jehovah, sal hulle antwoord.+

Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.+

18 Ek sal riviere op die kaal heuwels laat vloei,+

en fonteine in die valleie.+

Ek sal die wildernis in ’n poel vol riete verander,

en die waterlose land in waterfonteine.+

19 In die woestyn sal ek die sederboom,

die akasia, die mirt en die denneboom plant.+

In die woestynvlakte sal ek die jenewerboom

sowel as die es en die sipres plant,+

20 sodat almal kan sien en weet

en erken en besef

dat die hand van Jehovah dit gedoen het

en dat die Heilige van Israel dit geskep het.”+

21 “Stel julle saak,” sê Jehovah.

“Lê julle argumente voor,” sê die Koning van Jakob.

22 “Gee bewyse en vertel ons wat gaan gebeur.

Vertel ons wat vroeër gebeur het,

sodat ons daaroor kan nadink en kan weet hoe dinge sal afloop.

Of sê vir ons wat nog gaan gebeur.+

23 Vertel ons wat in die toekoms gaan gebeur,

sodat ons kan weet dat julle gode is.+

Ja, doen iets, goed of sleg,

sodat ons verstom kan wees wanneer ons dit sien.+

24 Kyk! Julle is nutteloos,

en julle kan niks doen nie.+

Enigiemand wat julle kies, is afskuwelik.+

25 Ek het iemand van die noorde af laat opstaan, en hy sal kom,+

iemand van die ooste*+ af wat my naam sal aanroep.

Hy sal heersers* vertrap asof hulle klei is,+

soos ’n pottebakker wat die klei trap.

26 Wie het dit van die begin af voorspel, sodat ons dit kan weet,

of dit lank gelede voorspel, sodat ons kan sê: ‘Hy is reg’?+

Niemand het dit aangekondig nie!

Niemand het dit bekend gemaak nie!

Niemand het enigiets by julle gehoor nie!”+

27 Ek was die eerste wat vir Sion gesê het: “Kyk! Hier is hulle!”+

En ek sal ’n boodskapper met goeie nuus na Jerusalem stuur.+

28 Maar ek het bly kyk, en daar was niemand nie.

Nie een van hulle kon raad gee nie.

En ek het hulle bly vra om te antwoord.

29 Kyk! Hulle is almal nutteloos.

Hulle kan niks doen nie.

Hulle metaalbeelde is wind en beteken niks nie.+

42 Kyk! My kneg,+ wat ek ondersteun!

Die een wat ek uitgekies het+ en wat ek* goedgekeur het!+

Ek het my gees in hom geplaas.+

Hy sal geregtigheid vir die nasies bring.+

 2 Hy sal nie uitroep of skree nie,

en hy sal nie sy stem in die straat laat hoor nie.+

 3 Hy sal nie ’n geknakte riet breek

of ’n lamppit wat dof brand, uitdoof nie.+

Hy is betroubaar en sal geregtigheid bring.+

 4 Hy sal nie swak word of geknak word totdat hy geregtigheid op die aarde gevestig het nie.+

Die eilande wag ook vir sy wet.*

 5 Dít is wat die ware God, Jehovah, sê,

die Skepper van die hemele en die Een wat dit uitgespan het,+

die Een wat die aarde en die opbrengs daarvan uitgesprei het,+

die Een wat asem aan die mense daarop gee,+

en gees aan dié wat daarop loop:+

 6 “Ek, Jehovah, het jou in regverdigheid geroep.

Ek het jou hand gevat.

Ek sal jou beskerm en jou as ’n verbond vir die volk+

en as ’n lig vir die nasies gee,+

 7 sodat jy die blindes kan laat sien,+

die gevangenes uit die tronk kan lei,

en dié wat in die duisternis is, uit die gevangenis kan lei.+

 8 Ek is Jehovah. Dit is my naam.

Ek gee my heerlikheid aan niemand anders nie,*

en ook nie my lof aan beelde nie.+

 9 Kyk! Die eerste dinge het gebeur.

Nou kondig ek nuwe dinge aan.

Voordat dit gebeur, vertel ek julle daarvan.”+

10 Sing vir Jehovah ’n nuwe lied,+

sing lofliedere vir hom van die eindes van die aarde af,+

julle wat na die see gaan en alles wat daarin is,

en julle, o eilande, en dié wat daarop woon.+

11 Laat die wildernis en sy stede uitroep,+

ook die plekke waar Kedar+ woon.

Laat dié wat op die krans woon, uitroep van vreugde.

Laat hulle van die toppe van die berge af uitroep.

12 Laat hulle Jehovah verheerlik

en hom op die eilande loof.+

13 Jehovah sal soos ’n magtige vegter uitgaan,

soos ’n soldaat wat gretig is om te veg.+

Hy sal hard uitroep, ja, hy sal ’n oorlogskreet skree.

Hy sal wys dat hy magtiger is as sy vyande.+

14 “Ek het lank stilgebly.

Ek het niks gesê nie en my ingehou.

Soos ’n vrou wat geboorte gee,

sal ek kreun, hyg en na asem snak.

15 Ek sal berge en heuwels verwoes

en al hulle plante laat verdroog.

Ek sal riviere in eilande verander

en rietpoele laat opdroog.+

16 Ek sal die blindes lei op ’n weg wat hulle nie ken nie+

en hulle op onbekende paaie laat loop.+

Ek sal die duisternis voor hulle in lig verander+

en die ongelyke terrein gelykmaak.+

Dit is wat ek vir hulle sal doen, en ek sal hulle nie verlaat nie.”

17 Dié wat op beelde vertrou,

dié wat vir metaalbeelde sê: “Julle is ons gode,”

sal moet vlug en sal heeltemal verneder word.+

18 Luister, julle wat doof is.

Kyk en sien, julle wat blind is.+

19 Niemand is so blind soos my kneg,

so doof soos die boodskapper wat ek stuur nie.

Niemand is so blind soos die een wat beloon is,

so blind soos die kneg van Jehovah nie.+

20 Jy sien baie dinge, maar jy skenk nie aandag nie.

Jou ore is oop, maar jy luister nie.+

21 Ter wille van sy regverdigheid

het Jehovah dit goedgevind om die wet* groot en glorieryk te maak.

22 Maar hierdie volk is beroof en gestroop.+

Hulle almal word in gate gevange gehou en is in tronke opgesluit.+

Hulle is beroof, en daar was niemand om hulle te red nie.+

Hulle is weggeneem, en daar was niemand om te sê: “Bring hulle terug!” nie.

23 Wie van julle sal hierna luister?

Wie sal aandag skenk en daaruit leer vir die toekoms?

24 Wie het Jakob oorgegee aan rowers,

en Israel aan plunderaars?

Is dit nie Jehovah, die Een teen wie ons gesondig het nie?

Hulle het geweier om Sy weë te volg,

en hulle het nie Sy wet* gehoorsaam nie.+

25 Daarom het Hy woedend geword vir hulle

en aangehou om hulle te straf met oorlogsgeweld.+

Dit het alles verteer wat om hulle was, maar hulle het geen aandag geskenk nie.+

Dit het teen hulle opgevlam, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie.+

43 Dít is wat Jehovah, jou Skepper, sê, o Jakob,

die Een wat jou gevorm het, o Israel:+

“Moenie bang wees nie, want ek het jou teruggekoop.+

Ek het jou op jou naam geroep.

Jy behoort aan my.

 2 As jy deur die waters gaan, sal ek met jou wees,+

en as jy riviere oorsteek, sal dit nie bo-oor jou spoel nie.+

As jy deur die vuur loop, sal jy nie geskroei word nie,

en die vlam sal jou ook nie brand nie.

 3 Want ek is Jehovah jou God,

die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek het Egipte as ’n losprys vir jou gegee,

Etiopië en Seba in ruil vir jou.

 4 Want jy het kosbaar geword in my oë.+

Jy is geëer, en ek is lief vir jou.+

Daarom sal ek mense in ruil vir jou gee,

en nasies in ruil vir jou lewe.

 5 Moenie bang wees nie, want ek is met jou.+

Ek sal jou nageslag* van die ooste af bring

en jou uit die weste bymekaarmaak.+

 6 Ek sal vir die noorde sê: ‘Gee hulle terug!’+

en vir die suide: ‘Laat hulle gaan.

Bring my seuns van ver af, en my dogters van die eindes van die aarde af,+

 7 almal wat my naam dra+

en wat ek ter wille van my heerlikheid geskep het,

wat ek gemaak en gevorm het.’+

 8 Bring ’n volk uit wat blind is, al het hulle oë,

en wat doof is, al het hulle ore.+

 9 Laat al die nasies op een plek bymekaarkom,

en laat die volke versamel word.+

Wie van hulle kan dit vertel

of ons die eerste dinge* laat hoor?+

Laat hulle hulle getuies bring om te probeer bewys dat hulle reg is,

of laat mense dit hoor en sê: ‘Dit is die waarheid!’”+

10 “Julle is my getuies,”+ sê Jehovah,

“ja, my kneg wat ek uitgekies het+

sodat julle my kan ken en geloof in my kan hê,*

en sodat julle kan verstaan dat ek dieselfde is.+

Voor my is geen God gevorm nie,

en ná my was daar nie een nie.+

11 Ek – ek is Jehovah,+ en daar is geen ander redder as ek nie.”+

12 “Ek is die Een wat dit verkondig het en julle gered het en dit bekend gemaak het

toe daar geen vreemde god by julle was nie.+

Daarom is julle my getuies,” sê Jehovah, “en ek is God.+

13 Ek is altyd dieselfde,+

en daar is niemand wat enigiets uit my hand kan wegruk nie.+

Wie kan my keer wanneer ek optree?”+

14 Dít is wat Jehovah, julle Terugkoper,+ die Heilige van Israel,+ sê:

“Ter wille van julle sal ek ’n leërmag na Babilon stuur en die grendels van die poorte laat afkom,+

en die Galdeërs, in hulle skepe, sal ontsteld uitroep.+

15 Ek is Jehovah, julle Heilige,+ julle Koning,+ die Skepper van Israel.”+

16 Dít is wat Jehovah sê,

die Een wat ’n weg deur die see

en ’n pad deur onstuimige waters maak,+

17 die Een wat die strydwa en die perd laat optrek,+

die leërmag en die magtige vegters:

“Hulle sal gaan lê en nie weer opstaan nie.+

Hulle sal verdwyn. Hulle sal soos ’n lamp uitgedoof word.”

18 “Vergeet van die vorige dinge,

en moenie bly dink aan die verlede nie.

19 Kyk! Ek doen iets nuuts.+

Dit begin nou al gebeur.

Sien julle dit nie?

Ek sal ’n pad deur die wildernis maak,+

en riviere deur die woestyn.+

20 Die wilde diere van die veld sal my eer,

die jakkalse en die volstruise,

want ek voorsien water in die wildernis,

riviere in die woestyn,+

sodat my volk, die volk wat ek uitgekies het,+ kan drink.

21 Ek het hierdie volk vir my gevorm,

sodat hulle my kan verheerlik.+

22 Maar jy het my nie aangeroep nie, o Jakob,+

want jy het moeg geraak vir my, o Israel.+

23 Jy het nie vir my skape vir jou heelbrandoffers gebring

of my met jou offerandes verheerlik nie.

Ek het jou nie gedwing om vir my ’n gawe te bring

of dit vir jou moeilik gemaak deur wierook te verwag nie.+

24 Jy het nie vir my geurige riet met jou geld gekoop nie,

en jy het my nie versadig met die vet van jou offerandes nie.+

Jy het my eerder met jou sondes belas

en my moeg gemaak met jou oortredings.+

25 Ek – ek is die Een wat jou oortredings* om my eie onthalwe+ uitwis,+

en ek sal nie aan jou sondes dink nie.+

26 Laat ons ’n regsaak teen mekaar voer.

Herinner my. Vertel my jou kant van die saak om te bewys dat jy reg is.

27 Jou eerste voorvader het gesondig,

en jou woordvoerders* het teen my in opstand gekom.+

28 Daarom sal ek die hoofde van die heiligdom ontheilig,

en ek sal Jakob oorgee om vernietig te word,

en Israel om beledig te word.+

44 “Luister, my kneg Jakob,

en jy, o Israel, wat ek uitgekies het.+

 2 Dít is wat Jehovah sê,

jou Maker en die Een wat jou gevorm het,+

wat jou van geboorte af gehelp het:

‘Moenie bang wees nie, my kneg Jakob,+

en jy, Jesuʹrun,*+ wat ek uitgekies het.

 3 Want ek sal water gee aan die een wat dors is*+

en waterstrome oor die droë grond laat vloei.

Ek sal my gees oor jou nageslag* uitstort,+

en my seën op jou nakomelinge.

 4 En hulle sal uitspruit soos groen gras,+

soos populiere by die waterstrome.

 5 Die een sal sê: “Ek behoort aan Jehovah.”+

En die ander sal homself by die naam van Jakob noem,

en ’n ander sal op sy hand skryf: “Jehovah se eiendom.”

En hy sal die naam van Israel aanneem.’

 6 Dít is wat Jehovah sê,

die Koning van Israel+ en sy Terugkoper,+ Jehovah van die leërmagte:

‘Ek is die eerste en ek is die laaste.+

Daar is geen ander God as ek nie.+

 7 Wie is soos ek?+

Laat hy dit bekend maak en dit aan my bewys!+

Laat hy vertel wat nog gaan gebeur

sowel as wat nog sal kom,

soos ek gedoen het van die tyd af dat ek die volk van lank gelede gevorm het.

 8 Moenie bang wees nie,

en moenie lam word van vrees nie.+

Het ek nie vir elkeen van julle vooraf gesê en dit bekend gemaak nie?

Julle is my getuies.+

Is daar enige ander God as ek?

Nee, daar is geen ander Rots nie.+ Ek weet nie van een nie.’”

 9 Almal wat beelde maak, beteken niks,

en die afgode waarvoor hulle lief is, sal niks help nie.+

Hulle kan nie getuig nie, want hulle* sien niks nie en weet niks nie.+

Dié wat hulle gemaak het, sal skaam kry.+

10 Wie sal ’n god vorm of ’n metaalbeeld maak

wat geen voordeel kan bring nie?+

11 Almal wat by hom aansluit, sal skaam kry!+

Die ambagsmanne is maar net mense.

Laat hulle almal bymekaarkom en hulle plek inneem.

Hulle sal almal doodbang wees en skaam kry.

12 Die ystersmid bewerk die yster met sy gereedskap oor die kole.

Hy vorm dit met hamers

en bewerk dit met sy sterk arms.+

Dan word hy honger, en sy krag word minder.

Hy drink nie water nie en word moeg.

13 Die houtsnyer meet die hout met sy maatlyn en teken ’n patroon met rooi kryt.

Hy bewerk dit met ’n beitel en merk dit met ’n passer.

Hy maak dit in die vorm van ’n mens,+

’n mooi mens,

om dit in ’n huis* te sit.+

14 Daar is iemand wie se werk dit is om sederbome af te kap.

Hy kies ’n sekere soort boom, ’n eikeboom,

en laat dit groot word tussen die bome van die woud.+

Hy plant ’n lourierboom, en die reën laat dit groei.

15 Dan gebruik ’n man die hout om vuur te maak.

Hy neem ’n deel daarvan om hom warm te maak.

Hy maak ’n vuur en bak brood.

Maar hy maak ook ’n god en aanbid dit.

Hy maak ’n beeld en buig daarvoor neer.+

16 Die een helfte verbrand hy in ’n vuur.

Hy braai vleis daarmee en eet totdat hy genoeg gehad het.

Hy maak hom warm en sê:

“Hoe lekker warm kry ek nou terwyl ek na die vuur kyk.”

17 Maar van die res maak hy vir homself ’n god, ’n beeld.

Hy buig daarvoor neer en aanbid dit.

Hy bid tot die beeld en sê:

“Red my, want u is my god.”+

18 Hulle weet niks, hulle verstaan niks,+

want hulle oë is heeltemal toe en hulle kan nie sien nie,

en hulle* het geen insig nie.

19 Hulle dink nie eers daaroor na nie

en het nie die kennis of verstand om te sê nie:

“Die een helfte het ek in ’n vuur verbrand,

en ek het op die kole brood gebak en vleis gebraai en geëet.

Moet ek dan iets afskuweliks van die res maak?+

Moet ek ’n droë stuk hout van ’n boom aanbid?”

20 Hy is soos iemand wat as eet.

Sy hart is mislei en het hom op ’n dwaalspoor gebring.

Hy kan homself* nie red nie, en hy vra nie:

“Is dit nie ’n waardelose ding wat ek in my hand het nie?”

21 “Dink aan hierdie dinge, o Jakob, en jy, o Israel,

want jy is my kneg.

Ek het jou gevorm, en jy is my kneg.+

O Israel, ek sal jou nie vergeet nie.+

22 Ek sal jou oortredings uitwis soos met ’n wolk,+

en jou sondes soos met ’n digte wolk.

Keer tog terug na my, want ek sal jou terugkoop.+

23 Roep met vreugde uit, o hemele,

want Jehovah het opgetree!

Juig, o diepste dele van die aarde!

Roep vreugdevol uit, o berge,+

o woud en al die bome daarin!

Want Jehovah het Jakob teruggekoop,

en hy vertoon sy heerlikheid in Israel.”+

24 Dít is wat Jehovah sê, jou Terugkoper,+

wat jou gevorm het vandat jy in die baarmoeder was:

“Ek is Jehovah, wat alles gemaak het.

Ek het die hemel alleen uitgespan,+

en ek het die aarde uitgesprei.+

Wie was by my?

25 Ek laat die tekens van valse profete misluk,

en ek is die Een wat waarsêers soos dwase laat optree,+

die Een wat wyse manne verwar

en wat hulle kennis in dwaasheid verander.+

26 Ek is die Een wat die woord van sy kneg laat waar word,

en wat die voorspellings van sy boodskappers heeltemal vervul,+

die Een wat van Jerusalem sê: ‘Sy sal bewoon word,’+

en van die stede van Juda: ‘Hulle sal herbou word,+

en ek sal haar verwoeste plekke herstel.’+

27 Ek is die Een wat vir die diep waters sê: ‘Verdamp,

en ek sal al jou riviere laat opdroog.’+

28 Ek is die Een wat van Kores+ sê: ‘Hy is my herder,

en hy sal my wil ten volle uitvoer,’+

die Een wat van Jerusalem sê: ‘Sy sal herbou word,’

en van die tempel: ‘Jou fondament sal gelê word.’”+

45 Dít is wat Jehovah vir sy gesalfde sê, vir Kores,+

wie se regterhand ek gevat het+

om nasies voor hom te onderwerp,+

om konings se wapens weg te neem,

om voor hom die dubbele deure oop te maak,

sodat die poorte nie gesluit sal wees nie:

 2 “Ek sal voor jou uit gaan,+

en ek sal die heuwels gelykmaak.

Die koperdeure sal ek in stukke breek,

en die ystergrendels sal ek stukkend slaan.+

 3 Ek sal jou die skatte in die duisternis gee

en die skatte wat in geheime plekke weggesteek is,+

sodat jy kan weet dat ek Jehovah is,

die God van Israel, wat jou op jou naam roep.+

 4 Ter wille van my kneg Jakob en van Israel, wat ek uitgekies het,

roep ek jou op jou naam.

Ek sal sorg dat jy geëer word, al het jy my nie geken nie.

 5 Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie.

Daar is geen ander God as ek nie.+

Ek sal jou krag gee, al het jy my nie geken nie,

 6 sodat mense van die ooste

tot die weste* kan weet

dat daar geen ander God is as ek nie.+

Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie.+

 7 Ek skep lig+ en duisternis.+

Ek bring vrede+ en rampspoed.+

Ek, Jehovah, doen al hierdie dinge.

 8 O hemele, laat die reën van bo af val,+

laat regverdigheid uit die wolke reën.

Laat die aarde oopgaan en redding voortbring

en laat dit terselfdertyd regverdigheid voortbring.+

Ek, Jehovah, het dit geskep.”

 9 Dit sal sleg gaan met die een wat met sy Maker stry,

want hy is maar net soos ’n stuk van ’n gebreekte kleipot

tussen al die ander stukke wat op die grond lê!

Moet die klei vir die Pottebakker sê: “Wat maak jy?”+

Of moet wat gemaak is, sê: “Hy het geen hande nie”?*

10 Dit sal sleg gaan met die een wat vir ’n pa sê: “Waarvan word jy ’n pa?”

en vir ’n vrou: “Waaraan gee jy geboorte?”

11 Dít is wat Jehovah sê, die Heilige van Israel,+ die Een wat hom gevorm het:

“Vra jy my oor die dinge wat nog kom,

en gee jy my bevele oor my kinders+ en oor die werk van my hande?

12 Ek het die aarde gemaak+ en die mens daarop geskep.+

Ek het die hemel met my eie hande uitgespan,+

en ek gee bevele aan die hele leërmag daarvan.”+

13 “Weens my regverdigheid het ek ’n man laat opstaan,+

en ek sal al sy paaie gelykmaak.

Hy is die een wat my stad sal bou+

en wat my ballinge* sonder betaling of ’n omkoopgeskenk+ sal bevry,”+ sê Jehovah van die leërmagte.

14 Dít is wat Jehovah sê:

“Die wins* van Egipte en die handelsware* van Etiopië en die Sabeërs, lang manne,

sal na jou toe oorkom en joune word.

Hulle sal in kettings agter jou loop.

Hulle sal kom en voor jou neerbuig.+

Hulle sal vol ontsag vir jou sê: ‘God is beslis met jou,+

en daar is geen ander nie. Daar is geen ander God nie.’”

15 Waarlik, u is ’n God wat uself verberg,

o God van Israel, die Redder.+

16 Hulle almal sal skaam kry en verneder word.

Dié wat afgode maak, sal almal in skande weggaan.+

17 Maar Israel sal deur Jehovah gered word met ’n ewige redding.+

Tot in alle ewigheid sal julle nie skaam kry of verneder word nie.+

18 Want dít is wat Jehovah sê,

die Skepper van die hemele,+ die ware God,

die Een wat die aarde gevorm het, die Maker daarvan wat dit stewig gevestig het,+

wat dit nie verniet geskep het nie,* maar wat dit gemaak het om bewoon te word:+

“Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie.

19 Ek het nie in ’n geheime plek,+ in ’n land van donkerte, gepraat nie.

Ek het nie vir die nageslag* van Jakob gesê

dat hulle my verniet moet dien* nie.

Ek is Jehovah, wat die waarheid praat en wat sê wat reg is.+

20 Kom bymekaar en kom nader.

Kom nader, julle wat uit die nasies gevlug het.+

Dié wat beelde ronddra, weet niks nie.

Hulle bid tot ’n god wat hulle nie kan red nie.+

21 Bring julle verslag en stel julle saak.

Kom bymekaar en bespreek dit.

Wie het dit lank gelede voorspel

en dit lank terug vertel?

Is dit nie ek, Jehovah, nie?

Daar is geen ander God as ek nie.

Ek is ’n regverdige God en ’n Redder,+ daar is geen ander God nie.+

22 Vertrou op my en word gered,+ almal op die aarde,

want ek is God, en daar is geen ander nie.+

23 Ek het by myself gesweer.

Die woord uit my mond is waar

en sal nie terugkeer nie:+

Elke knie sal voor my buig,

en elke tong sal sweer dat hy lojaal sal bly+

24 en sal sê: ‘By Jehovah is daar ware regverdigheid en krag.

Almal wat vir hom woedend word, sal skaam wees wanneer hulle voor hom verskyn.

25 Danksy Jehovah sal dit duidelik wees dat die nageslag* van Israel reg is,+

en hulle sal met trots oor hom praat.’”

46 Bel buig neer+ en Nebo buk.

Hulle afgode is op diere gelaai, op pakdiere,+

soos ’n swaar las op die moeë diere.

 2 Hulle sal saam buk en neerbuig.

Hulle kan nie die vragte* red nie,

en hulle gaan self in gevangenskap.

 3 “Luister na my, o huis van Jakob, en almal wat van die huis van Israel oorgebly het,+

julle wat ek van geboorte af ondersteun en gedra het.+

 4 Selfs wanneer jy oud word, sal ek dieselfde wees.+

Selfs wanneer jou hare grys is, sal ek aanhou om jou te dra.

Net soos ek in die verlede gedoen het, sal ek jou ondersteun en dra en red.+

 5 Met wie kan julle my vergelyk? Of aan wie kan julle my gelykstel+

asof ons eenders is?+

 6 Daar is mense wat baie goud uit hulle geldsakke gooi.

Hulle weeg die silwer op die skaal af.

Hulle huur ’n metaalwerker, en hy maak ’n god daarmee.+

Dan buig hulle daarvoor neer, ja, hulle aanbid dit.*+

 7 Hulle sit dit op hulle skouers.+

Hulle dra dit en sit dit op ’n plek neer, en dan staan dit net daar.

Dit beweeg nie van daardie plek af nie.+

Hulle roep dit aan, maar dit antwoord nie.

Dit kan niemand uit die moeilikheid red nie.+

 8 Dink hieraan en wees moedig.

Hou dit in gedagte, julle oortreders.

 9 Onthou die vroeëre* dinge van lank gelede,

dat ek God is en dat daar geen ander is nie.

Ek is God, en daar is niemand soos ek nie.+

10 Van die begin af voorspel ek die uiteinde,

en van die verre verlede af voorspel ek die dinge wat nog nie gedoen is nie.+

Ek sê: ‘Wat ek besluit,* sal gebeur,+

en ek sal doen wat ek ook al wil.’+

11 Uit die ooste* roep ek ’n roofvoël.+

Uit ’n ver land roep ek die man wat my besluit* sal uitvoer.+

Ek het gepraat, en ek sal dit laat gebeur.

Dit is wat ek besluit het, en ek sal dit uitvoer.+

12 Luister na my, julle wat so hardkoppig* is,

julle wat ver van regverdigheid af is.

13 Ek het my regverdigheid naby gebring.

Dit is nie ver weg nie,

en my redding sal nie laat wees nie.+

Ek sal vir Sion redding bring en vir Israel my prag gee.”+

47 Kom af en gaan sit in die stof,

maagdelike dogter van Babilon.+

Sit op die grond waar daar nie ’n troon is nie,+

dogter van die Galdeërs,

want mense sal jou nooit weer fyn en bederf noem nie.

 2 Neem ’n handmeul en maal meel.

Haal jou sluier af.

Lig jou kleed op sodat jou bene kaal is.

Loop deur die riviere.

 3 Jou naaktheid sal gesien word.

Jou skande sal geopenbaar word.

Ek sal wraak neem,+ en niemand sal in my pad staan nie.*

 4 “Die Een wat ons teruggekoop het

– Jehovah van die leërmagte is sy naam –

is die Heilige van Israel.”+

 5 Gaan sit in stilte en gaan in die donkerte in,

dogter van die Galdeërs.+

Hulle sal jou nie meer Koningin* van Koninkryke noem nie.+

 6 Ek het kwaad geword vir my volk.+

Ek het my erfdeel ontheilig,+

en ek het hulle in jou hand gegee.+

Maar jy het geen genade aan hulle betoon nie.+

Jy het selfs op die oumense ’n swaar juk gesit.+

 7 Jy het gesê: “Ek sal vir ewig die Koningin* wees.”+

Jy het nie aandag geskenk aan hierdie dinge nie.

Jy het nie gedink aan wat die uiteinde sou wees nie.

 8 Luister nou, jy wat so lief is vir plesier,+

wat in veiligheid sit en wat in jou hart sê:

“Ek is die belangrikste, en daar is niemand soos ek nie.+

Ek sal nie ’n weduwee word nie.

Ek sal nooit my kinders verloor nie.”+

 9 Maar hierdie twee dinge sal skielik, op een dag, oor jou kom:+

Jy sal jou kinders verloor en ’n weduwee word.

Hierdie rampspoed sal in volle maat oor jou kom+

as gevolg van* al jou towery en al jou kragtige towerspreuke.+

10 Jy het op jou goddeloosheid vertrou.

Jy het gesê: “Niemand sien my nie.”

Jou wysheid en kennis het jou mislei,

en jy sê in jou hart: “Ek is die belangrikste, en daar is niemand soos ek nie.”

11 Maar rampspoed sal oor jou kom,

en jou toorkuns sal dit nie keer nie.

Rampspoed sal jou tref. Jy sal dit nie kan keer nie.

Jou ondergang sal skielik kom, en dit sal erger wees as enigiets wat jy al ooit ondervind het.+

12 Hou dus aan met jou towerspreuke en al jou towery,+

waarby jy van jongs af diep betrokke was.

Miskien sal jy daarby kan baat vind.

Miskien sal jy mense kan beïndruk.

13 Jy het moeg geword vir al jou raadgewers.

Laat hulle nou opstaan en jou red,

dié wat die hemel aanbid* en na die sterre kyk,+

wat elke nuwemaan bekend maak

wat met jou sal gebeur.

14 Kyk! Hulle is soos strooi.

’n Vuur sal hulle verteer.

Hulle kan hulleself nie red van die mag van die vlam nie.

Dit is nie soos gloeiende kole wat ’n mens warm hou nie

of soos ’n vuur om by te sit nie.

15 Dit is hoe jou towenaars vir jou sal word,

dié saam met wie jy van jongs af hard gewerk het.

Hulle sal almal ronddwaal en in verskillende rigtings verstrooi word.

Daar sal niemand wees om jou te red nie.+

48 Luister, o huis van Jakob,

julle wat julleself Israel noem+

en wat uit die waters van Juda voortgekom het,*

julle wat by die naam van Jehovah sweer+

en wat die God van Israel aanroep,

maar nie in opregtheid en regverdigheid nie.+

 2 Want hulle noem hulleself die mense van die heilige stad,+

en hulle soek die ondersteuning van die God van Israel,+

wie se naam Jehovah van die leërmagte is.

 3 “Ek het die dinge wat vroeër gebeur het,* lank gelede aan julle bekend gemaak.

Ek het dit met my eie mond gesê,

en ek het dit geopenbaar.+

Ek het skielik opgetree, en dit het plaasgevind.+

 4 Omdat ek weet hoe hardkoppig jy is

– jou nek is ’n ystersening en jou voorkop is koper+ –

 5 het ek jou lank gelede daarvan vertel.

Voordat dit gebeur het, het ek jou daarvan vertel,

sodat jy nie kon sê: ‘My afgod het dit gedoen,

en my beelde* het beveel dat dit moet gebeur’ nie.

 6 Jy het dit alles gehoor en gesien.

Gaan jy dit nie verkondig nie?+

Van nou af gaan ek nuwe dinge aan jou bekend maak,+

geheime waarvan jy nie geweet het nie.

 7 Hulle word nou eers geskep. Hulle is nie lank gelede geskep nie.

Jy het tot nou toe nie van hierdie dinge gehoor nie,

sodat jy nie kan sê: ‘Ek weet dit al lankal’ nie.

 8 Nee, jy het nie gehoor nie,+ jy het nie geweet nie,

en in die verlede was jou ore toe.

Want ek weet dat jy baie bedrieglik is,+

en jy is van geboorte af ’n oortreder genoem.+

 9 Maar ter wille van my naam sal ek my woede terughou.+

Ter wille van my eer sal ek nie teen jou optree nie,

en ek sal jou nie vernietig nie.+

10 Kyk! Ek het jou gesuiwer, maar nie soos silwer nie.+

Ek het jou gesuiwer* in die smeltoond van lyding.+

11 Om my eie onthalwe, om my eie onthalwe, sal ek optree,+

want hoe kan ek toelaat dat ek ontheilig word?+

Ek gee my heerlikheid aan niemand anders nie.*

12 Luister na my, o Jakob, en Israel, wat ek geroep het.

Ek is dieselfde.+ Ek is die eerste, en ek is ook die laaste.+

13 My eie hand het die fondament van die aarde gelê,+

en my regterhand het die hemel uitgesprei.+

Wanneer ek hulle roep, staan hulle saam op.

14 Kom almal bymekaar en luister.

Wie van hulle* het hierdie dinge aangekondig?

Jehovah het iemand liefgehad+

wat sy wil in verband met Babilon sal uitvoer,+

en sy arm sal die Galdeërs tref.+

15 Ek het gepraat, en ek het hom geroep.+

Ek het hom gebring, en hy sal suksesvol wees.+

16 Kom nader en luister hierna.

Van die begin af het ek nooit in die geheim gepraat nie.+

Toe dit gebeur het, was ek daar.”

En nou het die Soewereine Heer Jehovah my gestuur, sowel as sy gees.

17 Dít is wat Jehovah sê, jou Terugkoper, die Heilige van Israel:+

“Ek, Jehovah, is jou God,

die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel,*+

die Een wat jou lei op die weg wat jy moet volg.+

18 As jy maar net aan my gebooie aandag sal skenk!+

Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word,+

en jou regverdigheid soos die golwe van die see.+

19 Jou nageslag* sal dan so baie wees soos die sand,

en jou nakomelinge soos die sandkorrels.+

Hulle naam sal nooit voor my uitgeroei of uitgewis word nie.”

20 Gaan uit Babilon uit!+

Vlug van die Galdeërs af!

Kondig dit aan met uitroepe van vreugde! Maak dit bekend!+

Verkondig dit tot aan die eindes van die aarde.+

Sê: “Jehovah het sy kneg Jakob teruggekoop.+

21 Hulle het nie dors geword toe hy hulle deur verwoeste plekke gelei het nie.+

Hy het vir hulle water uit die rots laat vloei.

Hy het ’n rots laat oopbreek en water laat uitstroom.”+

22 “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,”+ sê Jehovah.

49 Luister na my, o eilande,

en skenk aandag, o nasies wat ver weg is.+

Voor my geboorte het Jehovah my geroep.+

Toe ek nog in die baarmoeder was, het hy my naam genoem.

 2 Hy het my mond soos ’n skerp swaard gemaak.

In die skaduwee van sy hand het hy my beskerm.+

Hy het my ’n skerp pyl gemaak.

Hy het my in sy pylkoker weggesteek.

 3 Hy het vir my gesê: “Jy is my kneg, o Israel.+

Deur middel van jou sal ek my prag vertoon.”+

 4 Maar ek het gesê: “Ek het verniet hard gewerk.

Ek het my krag verniet opgebruik vir iets wat niks beteken nie.

Maar Jehovah sal my beslis oordeel,*

en my God sal my beloon.”*+

 5 En nou het Jehovah, die Een wat my gevorm het om sy kneg te wees toe ek nog in die baarmoeder was,

vir my gesê dat ek Jakob na hom toe moet terugbring,

sodat Israel by hom versamel kan word.+

Ek sal verheerlik word in die oë van Jehovah,

en my God sal dan my sterkte wees.

 6 En hy het gesê: “Jy, my kneg,

sal nie net die stamme van Jakob herstel

en die Israeliete wat gespaar is, terugbring nie.

Ek het jou ook as ’n lig vir die nasies gegee,+

sodat my redding die eindes van die aarde kan bereik.”+

7 Dít is wat Jehovah, die Terugkoper van Israel, die Heilige van Israel,+ vir die een sê waarop daar neergesien word+ en wat deur die nasie gehaat word, vir die kneg van heersers:

“Konings sal dit sien en opstaan,

en leiers sal neerbuig

weens Jehovah, wat getrou is,+

weens die Heilige van Israel,+ wat jou uitgekies het.”

 8 Dít is wat Jehovah sê:

“In ’n gunstige tyd het ek jou geantwoord,+

en in ’n dag van redding het ek jou gehelp.+

Ek het jou heeltyd beskerm, sodat ek jou as ’n verbond vir die volk kan gee,+

om die land te herstel,

om hulle verwoeste erfdele aan hulle terug te gee,+

 9 om vir die gevangenes te sê: ‘Gaan uit!’+

en vir dié in die duisternis:+ ‘Kom uit!’

Hulle sal langs die paaie wei,

en hulle weiveld sal langs al die uitgetrapte paaie* wees.

10 Hulle sal nie honger of dors wees nie,+

en die verskroeiende hitte en die son sal hulle nie brand nie.+

Want die Een wat genade aan hulle betoon, sal hulle lei,+

en hy sal hulle na waterfonteine bring.+

11 Ek sal al my berge in paaie verander,

en my grootpaaie sal verhoog word.+

12 Kyk! Hulle kom van ver af,+

en kyk! Party kom uit die noorde en uit die weste,

en ander kom uit die land Sinim.”+

13 Roep uit van vreugde, o hemele, en wees bly, o aarde.+

Laat die berge vrolik word met uitroepe van vreugde.+

Want Jehovah het sy volk vertroos,+

en hy betoon genade aan dié wat swaarkry.+

14 Maar Sion het bly sê:

“Jehovah het my verlaat,+ en Jehovah het my vergeet.”+

15 Kan ’n vrou haar eie baba vergeet

en haar nie ontferm oor haar kind aan wie sy geboorte gegee het nie?

Selfs al sou ’n vrou haar kind vergeet, sal ek jou nooit vergeet nie.+

16 Kyk! Ek het jou op my palms gegraveer.

Jou mure is heeltyd voor my.

17 Jou seuns is vinnig op pad terug.

Dié wat jou afgebreek en verwoes het, sal van jou af weggaan.

18 Kyk rondom jou.

Hulle kom almal bymekaar.+

Hulle kom na jou toe.

“So waar as wat ek lewe,” sê Jehovah,

“hulle almal sal vir jou soos versierings wees,

en jy sal hulle dra soos ’n bruid versierings dra.

19 Hoewel jou plekke verwoes en verlate was en jou land ’n woesteny was,+

sal dit nou te klein word vir die mense wat daar woon,+

en dié wat jou verwoes het,+ sal ver weg wees.+

20 Dié wat gebore is nadat jy jou kinders verloor het, sal in jou teenwoordigheid sê:

‘Hierdie plek is te klein vir my.

Maak vir my plek om in te woon.’+

21 En jy sal wonder:

‘Wie se kinders het ek gekry?

Want ek is ’n vrou wat my kinders verloor het en wat onvrugbaar is.

Ek is gevange geneem en was in ballingskap.

Wie het hulle grootgemaak?+

Ek het alleen agtergebly.+

Waar kom hulle dan vandaan?’”+

22 Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê:

“Ek sal my hand lig sodat die nasies dit kan sien,

en ek sal my banier* vir die volke oprig.+

Hulle sal jou seuns in hulle arms bring

en jou dogters op hulle skouers dra.+

23 Konings sal jou oppassers word,+

en hulle prinsesse sal jou versorg.

Hulle sal voor jou neerbuig met hulle gesigte na die grond toe+

en onderdanig wees aan jou,*+

en jy sal moet weet dat ek Jehovah is.

Dié wat op my hoop, sal nie teleurgestel word nie.”+

24 Kan dié wat reeds gevange geneem is, van ’n sterk man afgeneem word,

of kan die gevangenes van die onderdrukker gered word?

25 Maar dít is wat Jehovah sê:

“Selfs die gevangenes van ’n sterk man sal weggeneem word,+

en dié wat deur die onderdrukker gevange geneem is, sal gered word.+

Ek sal dié teëstaan wat jou teëstaan,+

en ek sal jou kinders red.

26 Ek sal dié wat jou sleg behandel, hulle eie vlees laat eet,

en hulle sal van hulle eie bloed dronk word soos van soet wyn.

En alle mense sal moet weet dat ek Jehovah is,+

jou Redder+ en jou Terugkoper,+

die Magtige van Jakob.”+

50 Dít is wat Jehovah sê:

“Waar is die skeibrief+ van julle ma, wat ek weggestuur het?

Of aan watter een van my skuldeisers het ek julle verkoop?

Dit was weens julle eie sondes+ dat julle verkoop is,

en dit was weens julle eie oortredings dat julle ma weggestuur is.+

 2 Hoekom was daar dan niemand hier toe ek gekom het nie?

Hoekom het niemand geantwoord toe ek geroep het nie?+

Is my hand te kort om julle te verlos?

Of het ek nie die krag om julle te red nie?+

Kyk! Op my bevel droog die see op.+

Ek maak riviere ’n woestyn.+

Die visse verrot omdat daar nie water is nie,

en hulle sterf van die dors.

 3 Ek laat die hemel donker word,+

en ek bedek dit met saklinne.”

 4 Die Soewereine Heer Jehovah het my die tong gegee van dié wat geleer is,*+

sodat ek kan weet wat om te sê vir die een wat moeg is.*+

Hy maak my elke oggend wakker.

Hy maak my wakker sodat ek kan luister soos dié wat geleer word.+

 5 Die Soewereine Heer Jehovah het my ore geopen,

en ek was nie opstandig nie.+

Ek het nie in die teenoorgestelde rigting gedraai nie.+

 6 Ek het toegelaat dat hulle my op my rug slaan

en dat hulle die baard op my wange uittrek.

Ek het nie my gesig weggedraai toe hulle my verneder het en in my gesig gespoeg het nie.+

 7 Maar die Soewereine Heer Jehovah sal my help.+

Daarom sal ek nie verneder voel nie.

Daarom het ek my gesig so hard soos klip* gemaak,+

en ek weet dat ek nie sal skaam kry nie.

 8 Die Een wat my regverdig verklaar, is naby.

Wie kan my beskuldig?*+

Laat ons al twee ons saak stel.

Wie het ’n regsaak teen my?

Laat hom na my toe kom.

 9 Die Soewereine Heer Jehovah sal my help.

Wie sal my skuldig verklaar?

Hulle sal almal vergaan soos ’n kleed

wat deur ’n mot opgevreet word.

10 Wie van julle vrees Jehovah

en luister na die stem van sy kneg?+

Wie het in diep duisternis gelewe, sonder enige lig?

Laat hom op die naam van Jehovah vertrou en op sy God staatmaak.

11 “Maar julle almal wat ’n vuur aansteek

en die vonke laat spat,

julle moet in die lig van julle vuur loop,

tussen die vonke wat julle self gemaak het.

Dít is die straf wat julle van my sal ontvang:

In verskriklike pyn sal julle gaan lê.

51 “Luister na my, julle wat regverdigheid nastreef,

julle wat Jehovah wil leer ken.*

Dink aan die rots waaruit julle gekap is

en die steengroef waaruit julle gegrawe is.

 2 Dink aan Abraham, julle vader,

en Sara,+ wat aan julle geboorte gegee het.

Want hy was net een persoon toe ek hom geroep het,+

en ek het hom geseën en hom baie gemaak.+

 3 Want Jehovah sal Sion vertroos.+

Hy sal al haar verwoeste plekke vertroos,+

en hy sal haar wildernis soos Eden maak,+

en haar woestynvlakte soos die tuin van Jehovah.+

Daar sal blydskap en uitroepe van vreugde in haar wees,

dankbaarheid en pragtige liedjies.+

 4 Skenk aandag aan my, my volk,

en luister na my, my nasie.+

Want ek sal ’n wet laat uitgaan,+

en ek sal sorg dat my geregtigheid ’n lig vir die volke word.+

 5 My regverdigheid kom nader.+

My redding is op pad,+

en met my mag* sal ek die volke oordeel.+

Die eilande sal op my hoop,+

en hulle sal wag vir my om op te tree.*

 6 Kyk op na die hemel,

en kyk af na die aarde.

Want die hemel sal verdwyn soos rook.

Die aarde sal vergaan soos ’n kledingstuk,

en die mense daarop sal sterf soos vlieë.

Maar my redding sal ewig wees,+

en my regverdigheid sal nooit verdwyn nie.+

 7 Luister na my, julle wat regverdigheid ken,

die volk wat my wet* in hulle hart het.+

Moenie bang wees wanneer blote mense julle uittart nie,

en moenie vrees wanneer hulle julle beledig nie.

 8 Want ’n mot sal hulle opvreet asof hulle ’n kleed is.

Die kleremot* sal hulle verslind asof hulle wol is.+

Maar my regverdigheid sal vir ewig bestaan,

en my redding tot in alle geslagte.”+

 9 Mag Jehovah optree! Mag hy optree

en wys hoe magtig hy is!*+

Mag hy optree soos in die verlede, soos in vorige geslagte.

Was dit nie u wat Rahab*+ in stukke gebreek het nie,

wat die seemonster deurboor het nie?+

10 Is dit nie u wat die see, die waters van die groot diepte, laat opdroog het nie?+

U het die dieptes van die see in ’n pad verander waarop dié wat teruggekoop is, kon deurtrek.+

11 Dié wat deur Jehovah losgekoop is, sal terugkeer.+

Hulle sal met gejuig na Sion kom,+

en hulle sal eindelose vreugde geniet.*+

Hulle sal vol blydskap en vreugde wees,

en hartseer en swaarkry sal verdwyn.+

12 “Ek is die Een wat julle vertroos.+

Hoekom sal jy bang wees vir ’n blote mens wat sal doodgaan,+

vir ’n mens wat soos groen gras vergaan?

13 Hoekom vergeet jy Jehovah, jou Maker,+

die Een wat die hemel uitgespan+ en die fondament van die aarde gelê het?

Jy was die hele dag lank bang vir die woede van die onderdrukker,

asof hy in staat was om jou te vernietig.

Waar is die woede van die onderdrukker nou?

14 Die een wat in kettings vooroorgebuig is, sal binnekort bevry word.+

Hy sal nie sterf of in die graf afgaan nie,

en hy sal nie honger ly nie.

15 Maar ek is Jehovah, jou God,

wat die see en sy golwe onstuimig maak+

– Jehovah van die leërmagte is my naam.+

16 Ek sal vir jou sê wat om te sê,

en ek sal jou in die skaduwee van my hand beskerm,+

sodat ek die hemel kan vestig en die fondament van die aarde kan lê+

en vir Sion kan sê: ‘Jy is my volk.’+

17 Word wakker, word wakker, staan op, o Jerusalem,+

jy wat die beker van woede uit Jehovah se hand gedrink het.

Jy het die beker gedrink.

Jy het die beker wat jou laat slinger, leeggedrink.+

18 Nie een van al die seuns aan wie sy geboorte gegee het, is daar om haar te lei nie,

en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gevat nie.

19 Hierdie twee dinge het oor jou gekom:

Vernietiging en verwoesting, hongersnood en die swaard!+

Wie sal met jou simpatiseer?

Wie sal jou vertroos?+

20 Jou seuns het flou geword.+

Hulle lê op elke straathoek,

soos wilde skape wat in ’n net gevang is.

Hulle is vol van die woede van Jehovah, die straf van jou God.”

21 Luister dus asseblief hierna,

o vrou wat swaarkry en dronk is, alhoewel jy nie wyn gedrink het nie.

22 Dít is wat jou Heer sê, Jehovah, jou God wat sy volk verdedig:

“Ek sal die beker wat jou laat slinger, uit jou hand neem,+

die beker van my woede.

Jy sal dit nooit weer drink nie.+

23 Ek sal dit sit in die hand van dié wat die lewe vir jou moeilik gemaak het,+

dié wat vir jou gesê het: ‘Buig, sodat ons oor jou kan loop!’

Jy het jou rug soos die grond gemaak,

soos ’n straat waarop hulle kan loop.”

52 Word wakker, word wakker! Beklee jou met krag,+ o Sion!+

Trek jou pragtige klere aan,+ o Jerusalem, die heilige stad!

Want mense wat nie besny is nie en wat onrein is, sal nie meer by jou ingaan nie.+

 2 Staan op, skud die stof van jou af en gaan sit, o Jerusalem.

Maak die toue om jou nek los, o gevange dogter van Sion.+

 3 Want dít is wat Jehovah sê:

“Julle is vir niks verkoop nie,+

en sonder geld sal julle teruggekoop word.”+

 4 Want dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê:

“Eers het my volk na Egipte gegaan om daar as uitlanders te woon.+

Toe het Assiʹrië hulle sonder rede onderdruk.”

 5 “Wat moet ek nou doen?” sê Jehovah.

“Want my volk is weggeneem, sonder dat iets vir hulle betaal is.

Dié wat oor hulle heers, hou aan spog oor hulle oorwinning,”+ sê Jehovah.

“En daar word heeltyd, die hele dag lank, op ’n disrespekvolle manier van my naam gepraat.+

 6 Daarom sal my volk my naam ken.+

Daarom sal hulle in daardie dag weet dat dit ek is wat praat.

Kyk, dit is ek!”

 7 Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring,+

wat vrede verkondig,+

wat goeie nuus van iets beters bring,

wat redding verkondig,

wat vir Sion sê: “Jou God het Koning geword!”+

 8 Luister! Jou wagte roep uit.

Hulle roep saam van vreugde uit,

want hulle sal duidelik sien wanneer Jehovah Sion laat terugkeer.

 9 Wees vrolik, roep saam van vreugde uit, o verwoeste plekke van Jerusalem,+

want Jehovah het sy volk vertroos.+ Hy het Jerusalem teruggekoop.+

10 Jehovah het sy heilige mag* aan al die nasies geopenbaar.+

Almal op die aarde sal die reddingsdade* van ons God sien.+

11 Vertrek, vertrek, gaan daar uit,+ moet aan niks raak wat onrein is nie!+

Gaan uit haar uit,+ bly rein,

julle wat die voorwerpe van Jehovah dra.+

12 Want julle sal nie in paniek uitgaan nie,

en julle sal ook nie hoef te vlug nie,

want Jehovah sal voor julle uit gaan,+

en die God van Israel sal julle van agter af beskerm.+

13 Kyk! My kneg+ sal met insig optree.

Hy sal hoog verhef word,

hy sal verhoog en grootliks geëer word.+

14 Net soos daar baie was wat verbaas na hom gestaar het

– omdat sy voorkoms meer vermink was as dié van enige ander mens,

en sy indrukwekkende vorm meer as dié van mense –

15 net so sal hy baie nasies skok.+

Konings sal stom wees voor hom,+

want hulle sal dinge sien waarvan hulle nie vertel is nie

en aandag skenk aan dinge waarvan hulle nie gehoor het nie.+

53 Wie het geloof gestel in wat ons gesê* het?+

En aan wie is die mag* van Jehovah+ geopenbaar?+

 2 Hy sal soos ’n takkie+ voor hom* opkom, soos ’n wortel in dorre grond.

Hy het nie ’n indrukwekkende vorm of enige prag nie.+

En wanneer ons hom sien, trek sy voorkoms ons nie tot hom aan nie.

 3 Mense het op hom neergesien en hom vermy.+

Hy was ’n man wat pyn sou leer ken* en wat met siekte bekend was.

Dit was asof ons sy gesig nie kon sien nie.*

Daar is op hom neergesien, en ons het hom as onbelangrik beskou.+

 4 Ja, hy het ons siektes gedra,+

en hy het ons pyn op hom geneem.+

Maar ons het hom beskou as iemand wat met ’n plaag getref is, wat deur God geslaan is en verdruk is.

 5 Maar hy is vir ons oortreding+ deurboor.+

Weens ons sondes het hy verskriklik gely.+

Hy is gestraf sodat ons vrede kon hê,+

en weens sy wonde is ons genees.+

 6 Soos skape het ons almal rondgedwaal.+

Elkeen het sy eie pad gevolg.

En Jehovah het ons almal se sonde op hom laat neerkom.+

 7 Hy was onderdruk+ en het toegelaat dat lyding oor hom kom,+

maar hy het nie sy mond oopgemaak nie.

Soos ’n skaap is hy gebring om geslag te word,+

soos ’n ooi wat nie ’n geluid maak voor die skeerders nie,

en hy het nie sy mond oopgemaak nie.+

 8 Weens ’n onregverdige vonnis* is hy weggeneem.

En wie sal aandag skenk aan die besonderhede van sy geslag?*

Want hy is uit die land van die lewendes afgesny.+

Weens die oortreding van my volk is hy geslaan.*+

 9 Hy het ’n graf tussen die goddeloses gekry,+

en toe hy gesterf het, is hy by die rykes* begrawe,+

hoewel hy niks verkeerds gedoen* het nie

en nooit iets bedriegliks gesê het nie.+

10 Maar dit was Jehovah se wil dat hy moes ly, en hy het hom siek laat word.

As u sy lewe as ’n skuldoffer aanbied,+

sal hy sy nageslag* sien en sal hy sy lewe verleng,+

en deur hom sal Jehovah se wil uitgevoer word.+

11 Weens sy bitter lyding sal hy tevrede wees met wat hy sal sien.

Deur middel van sy kennis sal die regverdige, my kneg,+

baie mense help om ’n regverdige posisie te verkry,+

en hy sal hulle sondes dra.+

12 Daarom sal ek hom ’n deel onder die menigte gee,

en saam met die magtiges sal hy die buit verdeel,

omdat hy sy lewe gegee het*+

en as ’n oortreder beskou is.+

Hy het die sonde van baie mense gedra,+

en hy het vir die oortreders tussenbeide getree.+

54 “Roep vreugdevol uit, onvrugbare vrou wat nie geboorte gegee het nie!+

Wees vrolik en roep van vreugde uit,+ jy wat nooit geboortepyne gehad het nie,+

want die kinders* van die verlate vrou is baie meer

as die kinders van die vrou wat ’n man* het,”+ sê Jehovah.

 2 “Maak die plek van jou tent groter.+

Maak die tentdoeke van jou pragtige woning groter.

Moenie terughou nie, maak jou tenttoue langer

en slaan jou tentpenne dieper in.+

 3 Want jy sal na regs en na links uitbrei.

Jou nageslag sal nasies in besit neem,

en hulle sal die verwoeste stede bewoon.+

 4 Moenie bang wees nie,+ want skande sal nie oor jou kom nie,+

en moenie verneder voel nie, want jy sal nie teleurgestel word nie.

Want jy sal die skande van jou jeug vergeet,

en jy sal nie meer dink aan die oneer van jou weduweeskap nie.”

 5 “Want jou Groot Maker+ is soos jou man,*+

Jehovah van die leërmagte is sy naam,

en die Heilige van Israel is jou Terugkoper.+

Hy sal die God van die hele aarde genoem word.+

 6 Want Jehovah het jou geroep asof jy ’n verlate en bedroefde vrou is,+

soos ’n vrou wat jonk getrou het en toe verwerp is,” sê jou God.

 7 “Vir ’n kort oomblikkie het ek jou verlaat,

maar met groot genade sal ek jou terugbring.+

 8 In groot woede het ek my gesig vir ’n oomblik van jou af weggedraai,+

maar met ewige lojale liefde sal ek genade aan jou betoon,”+ sê jou Terugkoper,+ Jehovah.

 9 “Dit is vir my soos die dae van Noag.+

Net soos ek gesweer het dat die waters van Noag nie weer die aarde sal bedek nie,+

so sweer ek dat ek nie weer woedend vir jou sal word of jou sal straf nie.+

10 Want al sou die berge verwyder word

en die heuwels geskud word,

sal my lojale liefde nie van jou verwyder word nie+

en sal my vredesverbond nie geskud word nie,”+ sê Jehovah, die Een wat genade aan jou betoon.+

11 “O vrou wat swaarkry,+ wat deur storms getref is en nie vertroos is nie,+

ek lê jou stene met harde messelklei,

en jou fondament met saffiere.+

12 Ek sal die borand van jou mure van robyne maak,

jou poorte van skitterende stene,

en al jou grense van edelstene.

13 En al jou kinders* sal deur Jehovah geleer word,+

en jou kinders* sal groot vrede geniet.+

14 Jy sal stewig gevestig wees in regverdigheid.+

Jy sal ver wees van onderdrukking,+

jy sal niks vrees nie, en niks sal vir jou angs veroorsaak nie,

want dit sal nie naby jou kom nie.+

15 As iemand jou aanval,

sal dit nie op my bevel wees nie.

Enigiemand wat jou aanval, sal self val.”+

16 “Kyk! Ek het die ambagsman geskep,

wat die gloeiende kole aanblaas

en ’n wapen maak.

Ek het ook die verwoester geskep om te verwoes.+

17 Geen wapen wat gemaak word om jou aan te val, sal enige sukses hê nie,+

en jy sal elke tong veroordeel wat jou probeer veroordeel.

Dit is die erfenis van die knegte van Jehovah,

en hulle regverdigheid kom van my,” sê Jehovah.+

55 Kom, almal wat dors is!+ Kom na die water.+

Julle wat nie geld het nie, kom, koop en eet!

Ja, kom, koop wyn en melk+ sonder geld. Dit kos niks.+

 2 Hoekom bly julle geld betaal vir wat nie brood is nie,

en hoekom spandeer julle julle inkomste* op iets wat nie versadig nie?

Luister aandagtig na my, en eet wat goed is,+

en julle sal geniet wat werklik voedsaam is.+

 3 Skenk aandag en kom na my toe.+

Luister, en julle sal bly lewe,

en ek sal ’n ewige verbond met julle maak,+

in ooreenstemming met die lojale liefde wat ek aan Dawid belowe het. Hierdie belofte is betroubaar.+

 4 Kyk! Ek het hom ’n getuie+ vir die nasies gemaak,

’n leier+ en ’n bevelvoerder+ vir die nasies.

 5 Jy sal ’n nasie roep wat jy nie ken nie,

en mense van ’n nasie wat jou nie geken het nie, sal na jou toe hardloop

ter wille van Jehovah jou God,+ die Heilige van Israel,

omdat hy jou sal verheerlik.+

 6 Soek Jehovah terwyl hy gevind kan word.+

Roep hom aan terwyl hy naby is.+

 7 Laat die goddelose sy weg verlaat,+

en die slegte mens sy gedagtes.

Laat hom na Jehovah terugkeer, wat genade aan hom sal betoon,+

na ons God, want hy sal ryklik* vergewe.+

 8 “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie,+

en julle weë is nie my weë nie,” sê Jehovah.

 9 “Want soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my weë hoër as julle weë,

en my gedagtes as julle gedagtes.+

10 Want net soos die reën en die sneeu uit die hemel val

en nie daarheen terugkeer voordat dit die aarde natgemaak het nie, sodat plante groei en vrug dra

en sodat daar saad is om te saai en brood is om te eet,

11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan.+

Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie,+

maar dit sal beslis doen wat ek wil hê,*+

en dit sal beslis die doel bereik waarvoor ek dit gestuur het.

12 Want julle sal met blydskap uitgaan,+

en in vrede sal julle teruggebring word.+

Die berge en die heuwels sal vrolik wees voor julle met uitroepe van vreugde,+

en al die bome van die veld sal hande klap.+

13 In die plek van doringbosse sal jenewerbome groei.+

In die plek van brandnetels sal mirtebome groei.

En dit sal vir Jehovah roem bring,*+

’n ewige teken wat nooit sal verdwyn nie.”

56 Dít is wat Jehovah sê:

“Beoefen geregtigheid+ en doen wat reg is.

Want my redding kom binnekort

en my regverdigheid sal geopenbaar word.+

 2 Gelukkig is die mens wat dit doen,

en die mensekind wat daarby bly,

wat die Sabbat hou en dit nie ontheilig nie+

en wat niks doen wat sleg is nie.

 3 Die uitlander wat Jehovah aanbid,+ moenie sê:

‘Jehovah sal my ongetwyfeld van sy volk afskei’ nie.

En die eunug moenie sê: ‘Kyk! Ek is ’n droë boom’ nie.”

4 Want dít is wat Jehovah sê vir die eunugs wat sy* sabbatte hou en wat kies om te doen wat hy* wil hê en wat sy* verbond hou:

 5 “Ek sal aan hulle ’n monument en ’n naam in my huis en binne my mure gee,

iets beters as seuns en dogters.

’n Ewige naam sal ek aan hulle gee,

een wat nie sal verdwyn nie.

 6 En die uitlanders wat na Jehovah toe kom om hom te dien,

om die naam van Jehovah lief te hê+

en om sy knegte te wees,

almal wat die Sabbat hou en dit nie ontheilig nie

en wat my verbond hou,

 7 sal ek ook na my heilige berg bring,+

en ek sal hulle in my huis van gebed vreugdevol maak.

Hulle heelbrandoffers en hulle offerandes sal op my altaar aanvaar word.

Want my huis sal ’n huis van gebed vir al die volke genoem word.”+

8 Die Soewereine Heer Jehovah, wat dié van Israel wat verstrooi is, bymekaarbring,+ sê:

“Ek sal nog ander by hom bymekaarbring behalwe dié wat reeds bymekaargebring is.”+

 9 Kom eet, alle wilde diere van die veld

en alle wilde diere in die woud.+

10 Sy wagte is blind.+ Nie een van hulle het aandag geskenk nie.+

Hulle is almal stom honde. Hulle kan nie blaf nie.+

Hulle hyg en lê op die grond. Hulle hou daarvan om te slaap.

11 Hulle is vraatsugtige honde.*

Hulle kry nooit genoeg nie.

Hulle is herders wat geen verstand het nie.+

Hulle het almal hulle eie pad gevolg.

Elkeen van hulle probeer homself op ’n oneerlike manier bevoordeel en sê:

12 “Kom! Laat ek wyn gaan haal,

en laat ons drink totdat ons dronk is.+

En môre sal soos vandag wees, net baie beter!”

57 Die regverdige het gesterf,

maar niemand steur hulle daaraan nie.

Lojale mense sterf,+

en niemand besef dat die regverdige weggeneem is

as gevolg van* die rampspoed nie.

 2 Hy vind vrede.

Almal wat bly by wat reg is, vind rus in die graf.*

 3 “Maar wat julle betref, kom nader,

julle kinders van ’n towenares,

kinders van ’n egbreker en ’n prostituut:

 4 Met wie spot julle?

Oor wie het julle so baie te sê en vir wie steek julle tong uit?

Is julle nie die kinders van oortreding,

die kinders van bedrog nie?+

 5 Is julle nie dié wat brand van begeerte onder groot bome,+

onder elke groen boom,+

dié wat die kinders slag in die valleie*+

en onder die skeure van die kranse nie?

 6 Jy het die gladde klippe van die vallei* as jou deel gekies.+

Ja, hulle is jou deel.

Jy gooi vir hulle drankoffers uit en gee vir hulle offergawes.+

Moet ek tevrede wees met hierdie dinge?

 7 Jy het jou bed op ’n hoë berg gereedgemaak.+

En jy het daarheen gegaan om offerandes te bring.+

 8 Agter die deur en die deurpos het jy jou gedenkteken gesit.

Jy het my verlaat en jou klere uitgetrek.

Jy het opgeklim en baie plek op jou bed gemaak.

En jy het ’n verbond met hulle gemaak.

Jy was lief daarvoor om ’n bed met hulle te deel,+

en jy het na die manlike orgaan gestaar.*

 9 Jy het na Meleg* afgegaan met olie

en met baie parfuum.

Jy het jou boodskappers ver weg gestuur

en so laag soos die Graf* gedaal.

10 Jy het jou ingespan om jou baie weë te volg,

maar jy het nie gesê: ‘Dit is nutteloos!’ nie.

Jy het nuwe krag gekry.

Daarom hou jy nie op nie.*

11 Vir wie was jy bang en wie het jy gevrees

sodat jy begin lieg het?+

Jy het nie aan my gedink nie.+

Jy het jou aan niks gesteur nie.+

Het ek nie stilgebly en my op ’n afstand gehou* nie?+

Daarom het jy my nie gevrees nie.

12 Ek sal jou ‘regverdigheid’+ en jou dade+ bekend maak,

en hulle sal jou nie help nie.+

13 Wanneer jy om hulp roep,

sal jou klomp afgode jou nie red nie.+

Die wind sal hulle almal wegneem,

’n briesie sal hulle wegwaai,

maar die een wat by my beskerming soek, sal die land erf

en my heilige berg+ in besit neem.

14 Daar sal gesê word: ‘Bou ’n pad, bou ’n pad! Berei die weg voor!+

Verwyder elke struikelblok uit die pad van my volk.’”

15 Want dít is wat die Een sê wat hoog en verhewe is,

wat vir ewig lewe+ en wie se naam heilig is:+

“Ek woon in die hoë en heilige plek,+

maar ook by dié wat gebroke en nederig van gees is,

om die nederiges

en die gebrokenes* nuwe krag te gee.+

16 Want ek sal hulle nie vir ewig teëstaan

of vir altyd kwaad bly nie,+

anders sal die mens se gees swak word weens my,+

ja, die lewende wesens wat ek gemaak het.

17 Ek was kwaad weens sy sondige najaging van oneerlike wins.+

Daarom het ek hom geslaan. Ek het my gesig weggedraai, en ek was woedend.

Maar hy het ontrou gebly+ en die weg van sy hart gevolg.

18 Ek het sy weë gesien,

maar ek sal hom genees+ en hom lei+

en hom, sowel as dié wat saam met hom treur,+ vertroos.”+

19 “Ek skep woorde van lof.*

Die een wat ver is en die een wat naby is, sal blywende vrede ontvang,”+ sê Jehovah,

“en ek sal hom genees.”

20 “Maar die goddeloses is soos die onstuimige see, wat nie tot rus kan kom nie,

waarvan die waters seegras en modder bly opstoot.

21 Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,”+ sê my God.

58 “Roep hard uit, moenie terughou nie!

Verhef jou stem soos ’n horing.

Maak aan my volk bekend hoe opstandig hulle is,+

vertel vir die huis van Jakob wat hulle sondes is.

 2 Hulle soek my leiding dag ná dag,

en hulle sê dat hulle graag my weë wil leer ken,

asof hulle ’n nasie is wat regverdigheid beoefen het

en nie die geregtigheid van hulle God verlaat het nie.+

Hulle vra my om regverdig te oordeel,

asof hulle nader aan God wil kom:+

 3 ‘Hoekom sien u nie wanneer ons vas nie?+

En hoekom let u nie op wanneer ons ons verneder nie?’+

Want op die dag dat julle vas, jaag julle julle eie belange na

en onderdruk julle julle werkers.+

 4 Julle vaste eindig in ’n stryery en ’n bakleiery,

en julle slaan met die vuis van goddeloosheid.

Julle kan nie vas soos julle vandag vas en verwag dat julle stem in die hemel gehoor sal word nie.

 5 Moet die vas wat ek verkies, só wees:

Moet dit ’n dag wees waarop iemand hom verneder

en sy kop soos ’n grashalm buig

en sy bed op saklinne en as maak?

Noem jy dít ’n vas en ’n dag wat vir Jehovah aanvaarbaar is?

 6 Nee, dít is die vas wat ek verkies:

Die boeie van goddeloosheid moet verwyder word,

die bande van die juk moet losgemaak word,+

die onderdruktes moet vrygelaat word+

en elke juk moet in twee gebreek word.

 7 Jy moet jou kos deel met dié wat honger is.+

Jy moet die armes en die haweloses in jou huis inneem.

Wanneer jy iemand sonder klere sien, moet jy vir hom klere gee.+

En jy moenie jou rug draai op jou broers nie.

 8 Dan sal jou lig deurbreek soos die dagbreek,+

en jou genesing sal gou kom.

Jou regverdigheid sal voor jou uit gaan,

en die heerlikheid van Jehovah sal jou van agter af beskerm.+

 9 Dan sal jy roep, en Jehovah sal antwoord.

Jy sal om hulp roep, en hy sal sê: ‘Hier is ek!’

As jy die juk van verdrukking verwyder

en ophou om met jou vinger te wys* en sleg te praat van ander,+

10 as jy vir dié wat honger is, gee wat jy self wil hê+

en voorsien in die behoeftes van dié wat swaarkry,

dan sal jou lig in die donkerte skyn,

en jou duisternis sal soos die middag wees.+

11 Jehovah sal jou altyd lei

en jou selfs in ’n dorre land versadig.+

Hy sal jou nuwe krag gee,

en jy sal word soos ’n tuin wat baie water kry,+

soos ’n fontein wat nooit opdroog nie.

12 Ter wille van jou sal ou ruïnes herbou word,+

en jy sal die fondamente van vorige geslagte herstel.+

Jy sal die herbouer van afgebreekte mure genoem word,+

die hersteller van paaie waarlangs mense kan woon.

13 As jy nie jou eie belange op die Sabbat najaag nie omdat dit my heilige dag is+

en jy die Sabbat ’n dag van groot vreugde noem, ’n heilige dag van Jehovah, ’n dag wat verheerlik moet word,+

en jy dit verheerlik eerder as om jou eie belange na te jaag en nuttelose dinge te sê,

14 dan sal jy groot vreugde in Jehovah vind,

en ek sal jou beheer gee* oor die hoë plekke van die aarde.+

Ek sal jou die erfdeel van jou voorvader Jakob laat geniet,*+

want dit is wat Jehovah gesê het.”

59 Kyk! Die hand van Jehovah is nie te kort om te red nie,+

en sy ore is nie toe sodat hy nie kan hoor nie.+

 2 Julle eie oortredings het julle van julle God geskei.+

Julle sondes het veroorsaak dat hy sy gesig van julle af wegdraai,

en hy weier om na julle te luister.+

 3 Want julle hande is vol bloed,+

en julle vingers is vol oortreding.

Julle lippe vertel leuens,+ en uit julle mond kom slegte dinge.

 4 Niemand roep uit ter wille van regverdigheid nie,+

en niemand praat die waarheid wanneer hy hof toe gaan nie.

Hulle vertrou op iets wat nie bestaan nie*+ en praat oor waardelose dinge.

Hulle beplan verkeerde dinge, en daarom doen hulle wat sleg is.+

 5 Hulle broei die eiers van ’n giftige slang uit,

en hulle weef ’n spinnerak.+

Enigiemand wat hulle eiers eet, sal sterf,

en uit die eier wat stukkend gedruk is, sal ’n adder kom.

 6 Hulle kan nie hulle spinnerak as ’n kledingstuk gebruik nie,

en hulle kan hulle nie bedek met wat hulle maak nie.+

Hulle doen skadelike dinge,

en hulle hande is vol geweld.+

 7 Hulle voete hardloop na goddeloosheid,

en hulle is vinnig om onskuldige mense dood te maak.+

Hulle gedagtes is skadelike gedagtes.

Hulle veroorsaak verwoesting en laat mense ly.+

 8 Hulle ken nie die weg van vrede nie,

en daar is geen geregtigheid in hulle spore nie.+

Hulle maak hulle paaie krom.

Niemand wat hulle volg, sal vrede vind nie.+

 9 Daarom is geregtigheid ver van ons af

en bereik regverdigheid ons nie.

Ons bly hoop op lig, maar kyk! daar is duisternis,

en op helder lig, maar ons pad bly donker.+

10 Soos blindes loop ons voel-voel al langs die muur.

Ons steek ons hande uit soos dié wat nie oë het nie.+

Ons struikel in die middel van die dag asof dit nag is.

Onder die sterkes is ons net soos die dooies.

11 Ons almal grom aanhoudend soos bere,

en soos duiwe bly ons droewig koer.

Ons hoop op geregtigheid, maar dit is nie daar nie,

op redding, maar dit is ver van ons af.

12 Want ons het dikwels teen u in opstand gekom.+

Elkeen van ons sondes getuig teen ons.+

Want ons besef hoe opstandig ons was,

en ons is bewus van ons oortredings.+

13 Ons het oortree en was ontrou aan Jehovah.

Ons het ons rug gedraai op ons God.

Ons het van onderdrukking en opstand gepraat.+

Ons het in ons hart leuens uitgedink en dit versprei.+

14 Daar is nie meer geregtigheid nie,+

en regverdigheid is ver van ons af.+

Niemand praat die waarheid* op die openbare plein nie,

en daar is nie plek vir eerlikheid nie.

15 Die waarheid* het verdwyn,+

en enigiemand wat wegdraai van wat sleg is, word ’n slagoffer.

Jehovah het dit gesien, en hy was ontevrede,*

want daar was geen geregtigheid nie.+

16 Hy het gesien dat daar niemand was nie,

en hy was verstom dat niemand tussenbeide getree het nie.

Daarom het hy redding* gebring,

en sy regverdigheid het hom beweeg om op te tree.

17 Toe het hy regverdigheid soos ’n pantser* aangetrek,

en hy het die helm van redding* op sy kop gesit.+

Hy het die klere van wraak aangetrek,+

en hy het ywer soos ’n mantel* om hom gehang.

18 Hy sal hulle hulle verdiende loon gee:+

woede vir sy teenstanders, straf vir sy vyande.+

En hy sal die eilande terugbetaal vir wat hulle gedoen het.

19 Waar die son ondergaan, sal hulle die naam van Jehovah vrees,

en waar die son opkom, sal hulle hom verheerlik,

want hy sal kom soos ’n magtige rivier

wat deur die gees van Jehovah aangedryf word.

20 “Die Terugkoper+ sal na Sion kom,+

na dié in Jakob wat ophou om goddelose dinge te doen,”+ sê Jehovah.

21 “Wat my betref,” sê Jehovah, “dít is my verbond met hulle:+ My gees wat op jou is en die woorde wat ek aan jou gegee het om oor te dra, sal van nou af en tot in alle ewigheid nie weggeneem word van jou, van jou kinders* of van jou kleinkinders* nie,” sê Jehovah.

60 “Staan op, o vrou,+ versprei lig, want jou lig het gekom.

Die heerlikheid van Jehovah skyn op jou.+

 2 Want kyk! duisternis sal die aarde bedek,

en digte donkerte die nasies.

Maar op jou sal Jehovah sy lig laat skyn,

en op jou sal sy heerlikheid gesien word.

 3 Nasies sal na jou lig kom,+

en konings+ na jou glansende prag.*+

 4 Kyk rondom jou!

Hulle is almal bymekaargebring. Hulle kom na jou toe.

Van ver af bly jou seuns kom,+

en jou dogters word op die heup gedra.+

 5 In daardie tyd sal jy dit sien en beslis straal,+

en jou hart sal vinnig klop en oorloop van vreugde,

want die skatte van die see sal na jou toe gebring word.

Die rykdom van die nasies sal na jou toe kom.+

 6 Groot troppe kamele sal jou land bedek,

jong kameelbulle van Miʹdian en Efa.+

Almal wat uit Skeba kom,

sal goud en wierook dra.

Hulle sal Jehovah se lof verkondig.+

 7 Al die kuddes van Kedar+ sal na jou toe gebring word.

Die ramme van Neʹbajot+ sal jou dien.

Hulle sal op my altaar geoffer word en aanvaar word,+

en ek sal my glorieryke huis versier.+

 8 Wie is dit wat aangevlieg kom soos wolke,

soos duiwe na hulle duiwehokke?

 9 Op my sal die eilande hoop.+

Die skepe van Tarsis is heel voor*

om jou seuns van ver af te bring,+

saam met hulle silwer en hulle goud,

vir die naam van Jehovah jou God, vir die Heilige van Israel,

want hy sal jou verheerlik.*+

10 Uitlanders sal jou mure bou,

en hulle konings sal jou dien,+

want weens my woede het ek jou geslaan,

maar weens my goedheid sal ek genade aan jou betoon.+

11 Jou poorte sal nooit gesluit word nie.+

Dag en nag sal hulle oop bly,

sodat die rykdom van die nasies na jou toe gebring kan word,

en hulle konings sal die leiding neem.+

12 Want elke nasie en elke koninkryk wat jou nie dien nie, sal verdwyn,

en die nasies sal heeltemal verwoes word.+

13 Die heerlikheid van die Liʹbanon sal na jou toe kom,+

die jenewerboom, die es en die sipres,+

om die plek van my heiligdom te versier.

Ek sal die plek vir my voete verheerlik.+

14 Die seuns van jou onderdrukkers sal voor jou kom neerbuig.

Almal wat jou sonder respek behandel, moet by jou voete neerbuig.

En hulle sal jou die stad van Jehovah,

Sion van die Heilige van Israel, moet noem.+

15 Hoewel jy verlate en gehaat is en niemand deur jou trek nie,+

sal ek jou iets maak waarop mense vir ewig trots sal wees,

’n bron van vreugde tot in alle geslagte.+

16 Jy sal die melk van nasies drink,+

en aan die bors van konings sal jy drink.+

En jy sal vir seker weet dat ek, Jehovah, jou Redder is

en dat die Magtige van Jakob jou Terugkoper is.+

17 Ek sal goud in die plek van die koper bring,

en ek sal silwer in die plek van die yster bring,

en koper in die plek van die hout,

en yster in die plek van die klippe.

Ek sal vrede as jou opsieners aanstel,

en regverdigheid as jou taakgewers.+

18 Daar sal nie meer in jou land van geweld gehoor word nie

of van vernietiging en verwoesting binne jou grense nie.+

En jy sal jou mure Redding+ noem, en jy sal jou poorte Lof noem.

19 Die son sal nie meer vir jou in die dag ’n lig wees nie,

en die glinsterende maan sal nie meer vir jou lig gee nie,

want Jehovah sal vir jou ’n ewige lig word,+

en jou God sal jou prag wees.+

20 Jou son sal nie meer ondergaan nie,

en jou maan sal nie dof word nie,

want Jehovah sal vir jou ’n ewige lig word,+

en die dae van jou rou sal verby wees.+

21 En jou hele volk sal regverdig wees.

Hulle sal die land vir ewig besit.

Hulle is die spruit wat ek geplant het,

die werk van my hande,+ sodat ek verheerlik kan word.+

22 Die kleine sal ’n duisend word,

en die onbelangrike ’n magtige nasie.

Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.”

61 Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my,+

want Jehovah het my gesalf om goeie nuus aan die nederiges te verkondig.+

Hy het my gestuur om dié met ’n gebroke hart te verbind,

om aan die gevangenes bekend te maak dat hulle vrygelaat sal word,

en aan dié wat opgesluit is, dat hulle oë wyd oopgemaak sal word,+

 2 om die jaar van Jehovah se genade

en die dag van die wraak van ons God aan te kondig,+

om almal wat treur, te vertroos,+

 3 om te sorg vir dié wat oor Sion treur,

om hulle ’n versiering vir hulle kop te gee in die plek van as,

vreugdeolie in die plek van rou,

die mantel van lof in die plek van ’n mismoedige gees.

En hulle sal groot bome van regverdigheid genoem word,

wat deur Jehovah geplant is, sodat hy verheerlik kan word.+

 4 Hulle sal die plekke herbou wat lank terug verwoes is.

Hulle sal die plekke opbou wat al lank verlate lê,+

en hulle sal die verwoeste stede herstel,+

die plekke wat geslagte lank verlate was.+

 5 “Vreemdelinge sal julle kuddes kom oppas,

en uitlanders+ sal julle landerye bewerk en in julle wingerde werk.+

 6 Maar julle sal die priesters van Jehovah genoem word.+

Mense sal julle die dienaars van ons God noem.

Julle sal die rykdom van die nasies geniet+

en met hulle heerlikheid* spog.

 7 In plaas van skande sal julle ’n dubbele deel hê.

In plaas van vernedering sal my volk van vreugde uitroep oor wat hulle kry.

Ja, hulle sal ’n dubbele deel in hulle land besit.+

Hulle sal vir ewig vreugdevol wees.+

 8 Want ek, Jehovah, is lief vir geregtigheid.+

Ek haat diefstal en onregverdigheid.+

Ek sal hulle loon getrou vir hulle gee,

en ek sal ’n ewige verbond met hulle maak.+

 9 Hulle nageslag* sal bekend wees onder die nasies,+

en hulle nakomelinge onder die volke.

Almal wat hulle sien, sal erken

dat hulle die nageslag* is wat deur Jehovah geseën is.”+

10 Ek sal groot vreugde vind in Jehovah.

Met my hele hart en siel sal ek bly wees in my God.+

Want hy het my met die klere van redding geklee.+

Hy het die mantel* van regverdigheid om my gehang.

Ek is soos ’n bruidegom wat ’n tulband soos dié van ’n priester dra+

en soos ’n bruid wat haar met haar juwele versier.

11 Want soos die aarde plante laat uitspruit,

en soos ’n tuin die saad laat opkom wat daarin gesaai is,

so sal die Soewereine Heer Jehovah

regverdigheid+ en lof voor al die nasies laat uitspruit.+

62 Ter wille van Sion sal ek nie stilbly nie,+

en ter wille van Jerusalem sal ek nie stil wees nie,

totdat haar regverdigheid soos ’n helder lig skyn+

en haar redding soos ’n fakkel brand.+

 2 “Die nasies sal jou regverdigheid sien, o vrou,+

en al die konings jou heerlikheid.+

En jy sal ’n nuwe naam kry,+

wat Jehovah self vir jou sal gee.

 3 Jy sal ’n pragtige kroon word in die hand van Jehovah,

’n koninklike tulband in die palm van jou God.

 4 Jy sal nie meer ’n verlate vrou genoem word nie,+

en jou land sal nie meer ’n woesteny genoem word nie,+

maar jy sal genoem word: Sy is my vreugde,+

en jou land sal genoem word: Getroude vrou.

Want Jehovah sal vir jou lief wees,

en jou land sal as ’n vrou besit word.

 5 Want net soos ’n jong man met ’n maagd trou,

sal jou inwoners met jou trou.

Met die vreugde van ’n bruidegom oor ’n bruid

sal jou God oor jou bly wees.+

 6 Op jou mure, o Jerusalem, het ek wagte aangestel.

Hulle moet nooit stilbly nie, nie in die dag of in die nag nie.

Julle wat oor Jehovah praat,

moenie ophou nie,

 7 en moenie ophou om tot hom te bid totdat hy Jerusalem stewig vestig nie,

ja, totdat hy haar die lof van die hele aarde maak nie.”+

 8 Jehovah het met sy regterhand en met sy sterk arm gesweer:

“Ek sal jou graan nie meer vir jou vyande gee om te eet nie,

en uitlanders sal nie jou nuwe wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie.+

 9 Maar dié wat dit insamel, sal dit eet, en hulle sal Jehovah loof,

en dié wat dit bymekaarmaak, sal dit in my heilige voorhowe drink.”+

10 Gaan deur die poorte, gaan deur die poorte.

Berei die weg vir die volk voor.+

Bou die pad. Bou die grootpad.

Verwyder die klippe.+

Rig ’n banier* vir die volke op.+

11 Kyk! Jehovah het tot aan die eindes van die aarde verkondig:

“Sê vir die dogter van Sion:

‘Jou redding kom.+

Die beloning wat God gee, is by hom,

en die loon wat hy betaal, is voor hom.’”+

12 Hulle sal die heilige volk genoem word, dié wat deur Jehovah teruggekoop is,+

en jy sal genoem word: Gewilde stad, ’n Stad wat nie verlate is nie.+

63 Wie is dit wat daar uit Edom kom,+

uit Bosra+ met helder* klere aan,

met pragtige klere aan,

wat met groot mag aankom?

“Dit is ek, die Een wat met regverdigheid praat,

die Een wat groot mag het om te red.”

 2 Hoekom is u klere rooi,

en hoekom is u klere soos dié van iemand wat die wynpers trap?+

 3 “Ek het die wynpers alleen getrap.

Niemand uit die volke was by my nie.

Ek het hulle in my woede bly trap.

Ek het hulle bly vertrap in my groot woede.+

Hulle bloed het op my klere gespat,

en ek het al my klere gevlek.

 4 Want die dag van wraak is in my hart,+

en die jaar van dié wat ek terugkoop, het gekom.

 5 Ek het rondgekyk, maar daar was niemand om te help nie.

Ek was geskok dat niemand hulp aangebied het nie.

Daarom het my eie arm redding* gebring,+

en my woede het my beweeg om op te tree.

 6 Ek het volke in my woede vertrap.

Ek het hulle dronk gemaak met my woede+

en hulle bloed op die grond laat uitloop.”

 7 Ek sal praat oor Jehovah se dade van lojale liefde,

die dade van Jehovah, wat lof verdien,

want Jehovah het so baie vir ons gedoen.+

Hy het soveel goeie dinge vir die huis van Israel gedoen

weens sy genade en sy groot lojale liefde.

 8 Want hy het gesê: “Hulle is beslis my volk, kinders wat nie dislojaal sal wees nie.”+

Daarom het hy hulle Redder geword.+

 9 Wanneer dit sleg gegaan het met hulle, het hy saam met hulle gely.+

En sy persoonlike boodskapper* het hulle gered.+

Omdat hy vir hulle lief was en vir hulle jammer gevoel het, het hy hulle teruggekoop,+

en hy het hulle altyd opgetel en gedra.+

10 Maar hulle het in opstand gekom+ en sy heilige gees bedroef.+

Toe het Hy hulle vyand geword,+

en hy het teen hulle geveg.+

11 En hulle het aan die dae van lank gelede gedink,

die dae van sy kneg Moses:

“Waar is die Een wat hulle deur die see gelei het+ saam met die herders van sy kudde?+

Waar is die Een wat Sy heilige gees in hom geplaas het,+

12 die Een wat Moses* met Sy groot mag* gelei het,+

die Een wat die waters voor hulle verdeel het+

om vir hom ’n ewige naam te maak,+

13 die Een wat hulle deur die onstuimige waters* laat trek het,

sodat hulle soos ’n perd in die oop veld*

geloop het sonder om te struikel?

14 Die gees van Jehovah het hulle laat rus+

soos wanneer die kudde na die vallei gaan.”

So het u u volk gelei

om vir u ’n glorieryke* naam te maak.+

15 Kyk af uit die hemel.

Kyk vanuit u verhewe woning van heiligheid en heerlikheid.*

Waar is u ywer en u mag,

u diep medelye*+ en genade?+

U weerhou dit van my.

16 Want u is ons Vader.+

Hoewel Abraham ons dalk nie ken nie

en Israel ons moontlik nie erken nie,

is u, o Jehovah, ons Vader.

U naam is: Ons Terugkoper van lank gelede.+

17 Hoekom, o Jehovah, laat u ons van u weë afdwaal?

Hoekom laat u ons hart ongevoelig word, sodat ons u nie vrees nie?+

Keer terug ter wille van u knegte,

die stamme van u erfdeel.+

18 U heilige volk het dit vir ’n kort rukkie besit.

Ons teenstanders het u heiligdom vertrap.+

19 Ons is al te lank soos mense oor wie u nooit regeer het nie,

soos mense wat nooit u naam gedra het nie.

64 As u maar net die hemel uitmekaargeskeur het en neergedaal het.

Dan sou die berge weens u bewe,

 2 soos wanneer ’n vuur die fynhout aan die brand steek

en die vuur die water laat kook.

Dan sou u vyande u naam ken,

en die nasies sou voor u bewe!

 3 Toe u ontsagwekkende dinge gedoen het wat ons nie verwag het nie,+

het u neergedaal, en die berge het voor u gebewe.+

 4 Niemand het nog ooit van ’n God soos u gehoor

of ’n God soos u gesien

wat optree ter wille van dié wat gretig* op hom wag nie.+

 5 U het dié verwelkom wat vreugdevol doen wat reg is,+

dié wat aan u dink en u weë volg.

U het kwaad geword, terwyl ons bly sondig het.+

Ons het lank daarmee aangehou.

Moet ons nou gered word?

 6 En ons het almal geword soos iemand wat onrein is,

en al ons regverdige dade is soos die doek van ’n menstruerende vrou.+

Ons sal almal soos blare verlep,

en ons oortredings sal ons wegwaai soos die wind.

 7 Daar is niemand wat u naam aanroep nie,

niemand wat hom inspan om u vas te gryp nie,

want u het u gesig van ons af weggedraai,+

en u laat ons wegteer as gevolg van ons oortredings.

 8 Maar u is ons Vader, o Jehovah.+

Ons is die klei, en u is ons Pottebakker.*+

Ons is almal die werk van u hande.

 9 Moenie te kwaad word nie, o Jehovah,+

en moenie vir ewig aan ons oortredings dink nie.

Kyk asseblief na ons, want ons is almal u volk.

10 U heilige stede het ’n wildernis geword.

Sion het ’n wildernis geword,

Jerusalem ’n woesteny.+

11 Ons heilige en glorieryke* tempel,

waar ons voorvaders u geloof het,

is met vuur verbrand,+

en alles wat vir ons kosbaar was, is verwoes.

12 Sal u dan nie optree nie, o Jehovah?

Sal u stilbly en toelaat dat ons so bitterlik ly?+

65 “Ek het my aan dié geopenbaar wat nie oor my gevra het nie.

Ek het my laat vind deur dié wat my nie gesoek het nie.+

Ek het gesê: ‘Hier is ek, hier is ek!’ vir ’n nasie wat nie my naam aangeroep het nie.+

 2 Ek het my hande die hele dag deur uitgestrek na ’n hardkoppige volk,+

na dié wat op die verkeerde weg is,+

wat hulle eie gedagtes volg,+

 3 ’n volk wat my heeltyd in my gesig beledig,+

wat in die tuine+ offerandes bring en op bakstene offerrook laat opgaan.

 4 Hulle sit tussen die grafte,+

en hulle bring die nag in geheime plekke* deur

en eet varkvleis.+

En die sous van walglike* dinge is in hulle houers.+

 5 Hulle sê: ‘Bly waar jy is. Moenie nader kom nie,

want ek is heiliger as jy.’*

Hulle is soos rook in my neusgate, ’n vuur wat die hele dag brand.

 6 Kyk! Dit staan voor my geskryf.

Ek sal nie stilstaan nie,

maar ek sal hulle hulle verdiende loon gee.+

Ek sal hulle die volle straf gee

 7 vir hulle oortredings en vir die oortredings van hulle voorvaders,”+ sê Jehovah.

“Hulle het offerrook op die berge laat opgaan

en my op die heuwels beledig.+

Die eerste ding wat ek dus sal doen, is om hulle hulle verdiende loon te gee.”

 8 Dít is wat Jehovah sê:

“Dit is soos wanneer ’n tros druiwe gevind word waarmee nuwe wyn gemaak kan word

en iemand sê: ‘Moet dit nie vernietig nie, want daar is iets goeds* daarin.’

Ek sal dieselfde vir my knegte doen.

Ek sal hulle nie almal vernietig nie.+

 9 Ek sal uit Jakob ’n nageslag* voortbring,

en uit Juda die een wat my berge sal erf.+

Dié wat ek uitgekies het, sal dit in besit neem,

en my knegte sal daar woon.+

10 Saron+ sal ’n weiveld vir skape word,

en die Agor-vallei+ ’n rusplek vir beeste,

vir my volk wat my soek.

11 Maar julle het Jehovah verlaat.+

Julle het my heilige berg vergeet.+

Julle het ’n tafel vir die Geluksgod gedek

en bekers gemengde wyn vir die god van die Noodlot geskink.

12 Daarom sal ek seker maak dat die swaard julle tref,+

en julle sal almal buig om geslag te word,+

want ek het geroep, maar julle het nie geantwoord nie,

en ek het gepraat, maar julle het nie geluister nie.+

Julle het bly doen wat sleg is in my oë,

en julle het dinge gekies waarvan ek niks hou nie.”+

13 Daarom sê die Soewereine Heer Jehovah:

“Kyk! My knegte sal eet, maar julle sal honger ly.+

My knegte sal drink,+ maar julle sal dors wees.

My knegte sal vreugdevol wees,+ maar julle sal skaam kry.+

14 My knegte sal vreugdevol uitroep weens die vreugde in hulle hart,*

maar julle sal uitroep weens die pyn in julle hart,

en julle sal huil weens ’n gebroke gees.

15 Julle sal ’n naam agterlaat wat as ’n vloek gebruik sal word deur dié wat ek uitgekies het.

En die Soewereine Heer Jehovah sal elkeen van julle doodmaak,

maar hy sal sy eie knegte ’n ander naam gee,+

16 sodat elkeen op die aarde wat vir homself ’n seën soek,

deur die God van waarheid* geseën sal word,

en sodat elkeen op die aarde wat ’n eed sweer,

by die God van waarheid* sal sweer.+

Want die moeilikhede van die verlede sal vergete wees.

Ek sal dit nie meer sien nie.+

17 Want kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde,+

en daar sal nie aan die vorige dinge gedink word* nie,

en dit sal ook nie in die hart opkom nie.+

18 Wees dus vreugdevol en wees vir ewig bly oor wat ek skep.

Want kyk, ek maak Jerusalem iets om oor bly te wees

en haar volk iets om oor vreugdevol te wees.+

19 En ek sal bly wees oor Jerusalem en vreugdevol wees oor my volk.+

’n Gehuil of ’n geroep om hulp sal nie meer in haar gehoor word nie.”+

20 “Daar sal nie meer ’n baba wees wat net ’n paar dae lewe nie,

en ook nie ’n ou man wat nie sy jare uitleef nie,

want iemand wat sterf wanneer hy 100 jaar oud is, sal as ’n blote kind beskou word,

en die sondaar sal vervloek word, al is hy 100 jaar oud.*

21 Hulle sal huise bou en daarin woon,+

en hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet.+

22 Hulle sal nie huise bou sodat ander daarin woon nie,

en hulle sal nie plant sodat ander dit eet nie.

Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom,+

en dié wat ek uitgekies het, sal die werk van hulle hande ten volle geniet.

23 Hulle sal nie verniet hard werk nie,+

en hulle kinders sal nie rampspoed ondervind nie,

want hulle en hulle kinders

is die nageslag*+ wat deur Jehovah geseën is.+

24 Nog voordat hulle uitroep, sal ek antwoord.

Terwyl hulle nog praat, sal ek hoor.

25 Die wolf en die lam sal saam wei.

Die leeu sal strooi eet net soos die bul,+

en die slang sal stof eet.

Hulle sal niemand seermaak of enige skade aanrig op my hele heilige berg nie,”+ sê Jehovah.

66 Dít is wat Jehovah sê:

“Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank.+

Watter huis kan julle dan vir my bou,+

en waar is my rusplek?”+

 2 “My hand het al hierdie dinge gemaak,

en so het alles ontstaan,” sê Jehovah.+

“Maar my oë is op

die een wat nederig is en ’n gebroke gees het en wat diep respek vir my woord het.+

 3 Die een wat ’n bul slag, is soos iemand wat ’n man doodmaak.+

Die een wat ’n skaap offer, is soos iemand wat die nek van ’n hond breek.+

Die een wat ’n gawe offer, is soos iemand wat varkbloed offer!+

Die een wat ’n gedenkoffer van wierook bring,+ is soos iemand wat towerwoorde gebruik om te seën.*+

Hulle het hulle eie weë gekies,

en hulle hou van walglike dinge.

 4 Daarom sal ek kies hoe ek hulle gaan straf,+

en ek sal die dinge wat hulle vrees, oor hulle bring,

want toe ek geroep het, het niemand geantwoord nie,

en toe ek gepraat het, het niemand geluister nie.+

Hulle het bly doen wat sleg is in my oë

en het gekies om te doen waarvan ek niks hou nie.”+

 5 Hoor die woord van Jehovah, julle wat diep respek vir sy woord het:

“Julle broers wat julle haat en julle verstoot weens my naam, het gesê: ‘Mag Jehovah verheerlik word!’+

Maar Hy sal verskyn en vir julle vreugde gee,

terwyl hulle verneder sal word.”+

 6 Daar is ’n lawaai in die stad, ’n geraas in die tempel!

Dit is die geluid van Jehovah wat sy vyande hulle verdiende loon gee.

 7 Voordat sy geboortepyne gekry het, het sy geboorte gegee.+

Voordat geboortepyne oor haar gekom het, het sy aan ’n seun geboorte gegee.

 8 Wie het al ooit van so iets gehoor?

Wie het al sulke dinge gesien?

Sal ’n land op een dag gebore word?

Of sal ’n nasie in ’n oomblik gebore word?

Maar Sion het skaars geboortepyne gekry, toe is haar kinders gebore.

 9 “Sal ek die geboorte laat begin en die kind dan nie voortbring nie?” sê Jehovah.

“Of sal ek die geboorte veroorsaak en die baarmoeder dan sluit?” sê jou God.

10 Wees vreugdevol saam met Jerusalem en wees bly saam met haar,+ almal wat haar liefhet.+

Juig van vreugde saam met haar, almal wat oor haar treur,

11 want julle sal aan haar bors gevoed word en heeltemal versadig en vertroos word,

en julle sal na hartelus drink en vreugde vind in haar groot heerlikheid.

12 Daarom sê Jehovah:

“Kyk, ek gee vir haar vrede soos ’n rivier+

en die heerlikheid van nasies soos ’n stroom vloedwaters.+

Julle sal geborsvoed word en op die heup gedra word

en op die skoot versorg word.

13 Soos ’n ma haar seun vertroos,

so sal ek aanhou om julle te vertroos,+

en julle sal oor Jerusalem vertroos word.+

14 Julle sal dit sien, en julle hart sal vreugdevol wees,

en julle* sal vol lewe wees net soos groen gras.

En die hand* van Jehovah sal aan sy knegte geopenbaar word,

maar hy sal sy vyande veroordeel.”+

15 “Want Jehovah sal soos ’n vuur kom,+

en sy strydwaens soos ’n stormwind,+

om met groot woede wraak te neem,

om met vuurvlamme te straf.+

16 Want Jehovah kom met vuur en met sy swaard

om alle mense* te oordeel.

En dié wat deur Jehovah doodgemaak is, sal baie wees.

17 “Dié wat hulleself heilig en reinig om in die tuine*+ in te gaan, wat varkvleis+ en walglike dinge en muise+ eet, sal almal saam aan hulle einde kom,” sê Jehovah. 18 “Omdat ek hulle werke en hulle gedagtes ken, kom ek om mense van al die nasies en tale bymekaar te bring, en hulle sal kom en my heerlikheid sien.”

19 “Ek sal vir hulle ’n teken gee, en ek sal van dié wat weggekom het, na die nasies stuur wat nie ’n berig oor my gehoor het of my heerlikheid gesien het nie – na Tarsis,+ Pul en Lud,+ lande van boogskutters, en na Tubal en Jawan+ en na die eilande wat ver weg is. En hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.+ 20 Hulle sal al julle broers uit al die nasies+ as ’n gawe aan Jehovah bring. Hulle sal hulle op perde, in waens, in tentwaens, op muile en op vinnige kamele bring na my heilige berg, Jerusalem,” sê Jehovah, “net soos wanneer die Israeliete hulle gawe in ’n rein houer in die huis van Jehovah inbring.”

21 “Ek sal ook party kies om priesters en Leviete te wees,” sê Jehovah.

22 “Want net soos die nuwe hemele en die nuwe aarde+ wat ek maak, altyd voor my sal bestaan,” sê Jehovah, “so sal julle nageslag* en julle naam bly bestaan.”+

23 “En van nuwemaan tot nuwemaan en van sabbat tot sabbat

sal alle mense* kom om my te aanbid,”*+ sê Jehovah.

24 “En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen my in opstand gekom het:

Die wurms op hulle sal nie doodgaan nie,

en hulle vuur sal nie geblus word nie,+

en hulle sal iets walgliks vir alle mense* word.”

Beteken “redding van Jehovah”.

Of “sy meester”.

Lett. “uitgedruk”.

Of “diktators”.

Of “onderrigting”.

Lett. “vaderlose seun”.

Of “koringbier”.

Lett. “vaderlose seuns”.

Verwys moontlik na bome en tuine wat met afgodediens verband gehou het.

Of “vlasvesels”.

Of “In die laaste dae”.

Of “onderrigting”.

Of “verneder word”.

Of “verneder word”.

Gulsige soogdiertjies.

Of “wie se asem in hulle neusgate is”.

Of “mense wat geen stabiliteit het nie”.

Of “julle geneser wees”.

Of “hulle siel”.

Lett. “die vrug van hulle dade eet”.

Of “vol rowe”.

Of “hangertjies”.

Of “onderklere”.

D.w.s. die vernedering om ongetroud en kinderloos te wees.

Lett. “ontlasting”.

Of “deur ’n gees van suiwering”.

Omtrent 4 hektaar.

Sien Aanh. B14.

Sien Aanh. B14.

Sien Aanh. B14.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of “die prag”.

Of “geregtigheid”.

Of “besluit; raad”.

Of “onderrigting”.

Of “seinpaal”.

Of “jong maanhaarleeus”.

Of “die spille in die drumpels”.

Of “nageslag”.

Of moontlik “hy”.

Beteken “net ’n oorblyfsel sal terugkeer”.

Of moontlik “die mense bang maak”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Beteken “God is met ons”.

Of “wadi’s”. Sien Woordelys.

Die Eufraatrivier.

Of “met ’n gewone stif”.

Beteken moontlik “vinnig na die buit, haastig na die plundering”.

Die Siloa was ’n waterkanaal.

Die Eufraatrivier.

Of “die nek”.

Sien Jes 7:14.

Of “Omgord julle”.

“God is met ons” is Immanuel in Hebreeus. Sien Jes 7:14 8:8.

Lett. “heiligdom”.

Of “die getuienis”.

Of “onderrigting”.

Lett. “sy aangesig verberg vir”.

Of “spiritistiese mediums”.

Lett. “dagbreek”.

Of “regeringsmag”.

Of “Vredevors”.

Of “regeringsmag”.

Of moontlik “palmtak”.

Lett. “vaderlose seuns”.

Lett. “vaderlose seuns”.

Of “straf”.

Of “heerlikheid”.

Of “van siel tot vlees”.

Of “straf”.

Of “regverdigheid”.

Of “roede; lat”.

Of “gees”.

Of “jong maanhaarleeu”.

Of moontlik “die kalf en die leeu sal saam wei”.

Of “Suigeling”.

Of “gespeende kind”.

Of “seinpaal”.

Of “Die nasies sal hom soek”.

D.w.s. Babilonië.

Of “seinpaal”.

Lett. “die skouer van die Filistyne”.

Of moontlik “laat opdroog”.

Die Eufraatrivier.

Of “gees”.

Of moontlik “sal hy dit in sewe strome verdeel”.

“Jah” is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah.

Of “Maak musiek”.

Lett. “inwoonster”. Daar word na die bevolking verwys as ’n vrou.

Of “seinpaal”.

Lett. “geheilig”.

Lett. “van die einde van die hemel af”.

Lett. “en hulle Kesils”. Verwys moontlik na Orion en die omliggende sterrebeelde.

Iemand is vermetel as hy iets doen wat hy nie die reg of gesag het om te doen nie.

Of moontlik “en bokagtige demone”.

Of “rus gee”.

Of “hulle taakgewers”.

Of “hierdie spreekwoord teen die koning van Babilon sê”.

Of “die taakgewer”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Lett. “die bokramme”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Lett. “huis”.

Of “spruit”.

Lett. “vlieënde vurige”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “sy takke wat vol rooi druiwe is”.

Of moontlik “want die oorlogskreet het oor jou somervrugte en jou oes gekom”.

Of “so sorgvuldig afgetel soos ’n gehuurde werker sou doen”, d.w.s. presies drie jaar.

Sien Woordelys.

Of “’n vreemde god”.

Of “seinpaal”.

Of moontlik “vanuit”.

Of “by spiritistiese mediums”.

Of “Memfis”.

Of moontlik “palmtak”.

Of “bevelvoerder”.

Of “in sy onderklere”.

D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.

Lett. “die naaktheid van Egipte”.

Of “wie se prag hulle bewonder het”.

Verwys blykbaar na die streek van eertydse Babilonië.

Of “smeer olie aan”.

Lett. “gedors”.

Lett. “seun”.

Beteken “stilte”.

Lett. “brood”.

Of “so sorgvuldig afgetel soos ’n gehuurde werker sou doen”, d.w.s. presies een jaar.

Verwys blykbaar na Jerusalem.

Digterlike verpersoonliking, moontlik om jammerte of simpatie uit te druk.

Of “perderuiters”.

Of “maak die skild gereed”.

Of “perde”.

Of “skerm”.

Lett. “in sy hand”.

’n Sytak van die Nylrivier.

Of moontlik “hawe”.

Of “aarde”. Verwys blykbaar na Juda en Jerusalem.

Of moontlik “verdroog”.

Of moontlik “droog op”.

Lett. “Van die see af”.

Of “streek van die lig”.

Of “olieryke”.

Of “beleë”.

Of “sluier”.

Of moontlik “wat ’n standvastige gesindheid het”.

“Jah” is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah.

Of “gelyk”.

D.w.s. dat God en sy naam onthou moet word, bekend gemaak moet word.

Of moontlik “die dou van kruie”.

Of “sal geboorte gee aan dié wat magteloos is in die dood”.

Of “veroordeling”.

Sien Woordelys.

Verwys blykbaar na Israel, wat afgebeeld word as ’n vrou en wat met ’n wingerd vergelyk word.

Sien Woordelys.

Die Eufraatrivier.

Of “Wadi”. Sien Woordelys.

Verwys blykbaar na die hoofstad, Samaria.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of moontlik “’n visioen tot stand gebring”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of moontlik “Wanneer hulle verstaan, sal hulle vreesbevange wees”.

Of “aarde”.

Of “dissiplineer; straf”.

Of “voorneme”.

Of “en sy praktiese wysheid is groot”.

Beteken moontlik “die vuurherd van God se altaar” en verwys blykbaar na Jerusalem.

Of “van ’n spiritistiese medium”.

Of “is sy siel leeg”.

D.w.s. van skaamte en teleurstelling.

Lett. “’n drankoffer uitgooi”.

Lett. “vlieënde vurige”.

Of “onderrigting”.

Of “vleiende dinge”.

Of moontlik “’n reënput”.

Of “seinpaal”.

Of “sien vol verwagting daarna uit”.

Of moontlik “en hulle vullis noem”.

Of “breuk”.

Of “asem”.

Of “die nek”.

Of “julle julle vir ’n fees heilig”.

Of “wat loop terwyl daar op die fluit gespeel word”.

“Tofet” verwys hier na ’n figuurlike plek van verbranding en stel vernietiging voor.

Of “perderuiters”.

Of “’n jong maanhaarleeu”.

Of “seinpaal”.

Of “vuur”.

Of “vorste”.

Of “om oneerbiedig op te tree”.

Of “en hy bly hom inspan om goeie dinge te doen”.

Lett. “arm”.

Verwys na die vyand.

Of moontlik “verdroog”.

Of “veilige hoogte”.

Sien Woordelys.

Of “galeie”.

Lett. “sal smelt weens”.

Verwys blykbaar na Bosra, die hoofstad van Edom.

Of moontlik “en bokagtige demone”.

Of “vreugdevol wees en blom soos die saffraan”.

Of “Eindelose vreugde sal hulle kroon wees”.

Of “die hoofskinker”.

Of “paleis”.

Of “Siriese”.

Of “paleis”.

Of “paleis”.

Of “veroordeling”.

Of moontlik “tussen”.

Of “die kanale van die Nylrivier”.

Lett. “gedoen”.

D.w.s. Hiskia.

Of “wat gegroei het van korrels wat geval het”.

Hierdie trappe is moontlik gebruik om te bepaal hoe laat dit is, soos ’n sonwyser.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

“Jah” is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah.

Of moontlik “kraanvoël”.

D.w.s. God se woorde en dade.

Of “verwyder sodat u dit nie sien nie”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of “waarheid”.

Lett. “Spreek tot die hart van”.

Of “dubbel ontvang”.

Lett. “vlees”.

Lett. “vlees”.

Of “gees”.

Die afstand van die punt van die duim tot by die punt van die pinkie wanneer die hand uitgesprei is. Sien Aanh. B14.

Of moontlik “verstaan”.

Of “beeld”.

Of “sfeer”.

Of “leiers”.

Of “Bly stil voor my”.

Lett. “sonsopkoms”.

D.w.s. om hom te dien.

Lett. “saad”.

D.w.s. hulpeloos en onbelangrik.

Lett. “sonsopkoms”.

Of “onderheersers”.

Of “my siel”.

Of “onderrigting”.

Of “Ek deel nie my heerlikheid met enigiemand anders nie”.

Of “onderrigting”.

Of “onderrigting”.

Lett. “saad”.

Verwys moontlik na die dinge wat eerste in die toekoms gaan gebeur.

Of “en my kan vertrou”.

Of “opstandige dade”.

Verwys moontlik na onderrigters van die Wet.

’n Eretitel vir Israel wat “die opregte” beteken.

Of “die dorre land”.

Lett. “saad”.

D.w.s. die beelde.

Of “heiligdom”.

Lett. “hulle harte”.

Of “sy siel”.

Lett. “van die sonsopkoms tot die sonsondergang”.

Of moontlik “Of moet die klei sê: ‘Jou werk het geen handvatsels nie.’”

D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.

Of moontlik “werkers”.

Of moontlik “handelaars”.

Of moontlik “nie geskep het om leeg te wees nie”.

Lett. “saad”.

Lett. “soek”.

Lett. “saad”.

D.w.s. die afgode wat op die diere gelaai is.

Lett. “hulle buig daarvoor neer”.

Lett. “eerste”.

Of “My voorneme”.

Lett. “sonsopkoms”.

Of “voorneme; raad”.

Lett. “kragtig van hart”.

Of moontlik “en ek sal niemand vriendelik behandel nie”.

Of “Meesteres”.

Of “Meesteres”.

Of moontlik “ten spyte van”.

Of moontlik “dié wat die hemel verdeel; die sterrevoorspellers”.

Of moontlik “wat nakomelinge van Juda is”.

Lett. “die eerste dinge”.

Of “my uitgekerfde beeld en my metaalbeeld”.

Of “getoets; ondersoek”. Of moontlik “gekies”.

Of “Ek deel nie my heerlikheid met enigiemand anders nie”.

Verwys blykbaar na die valse gode.

Of “vir jou eie beswil”.

Lett. “saad”.

Of “Jehovah sal my geregtigheid gee”.

Of “my loon is by God”.

Of moontlik “kaal heuwels”.

Of “seinpaal”.

Lett. “en die stof van jou voete oplek”.

Of “’n goed opgeleide tong gegee”.

Of moontlik “sodat ek die een wat moeg is, kan versterk”.

Lett. “vuurklip”.

Of “met my stry”.

Lett. “wat Jehovah soek”.

Lett. “arms”.

Lett. “op my arm wag”.

Of “onderrigting”.

Of moontlik “Die wurm”.

Lett. “Word wakker! Word wakker, beklee u met mag, o arm van Jehovah!”

Sien Woordelys.

Of “en eindelose vreugde sal hulle kroon wees”.

Lett. “arm”.

Of “die oorwinning”.

Of moontlik “gehoor”.

Lett. “arm”.

“Hom” kan na ’n waarnemer oor die algemeen of na God verwys.

Of “wat pyn verstaan het”.

Of moontlik “Hy was soos iemand van wie mense hulle gesigte weggedraai het”.

Lett. “onderdrukking en oordeel”.

Of “herkoms; lewenswyse”.

Of “doodgemaak”.

Lett. “’n ryk man”.

Of “geen gewelddaad gepleeg”.

Lett. “saad”.

Of “uitgestort het in die dood”.

Lett. “seuns”.

Of “meester”.

Of “meester”.

Lett. “seuns”.

Lett. “seuns”.

Of “geld waarvoor julle hard gewerk het”.

Of “vryelik”.

Of “my wil uitvoer”.

Of “’n naam maak”.

Lett. “my”.

Lett. “ek”.

Lett. “my”.

Of “honde met ’n sterk siel”.

Of moontlik “uit”.

Lett. “op hulle beddens”.

Of “wadi’s”. Sien Woordelys.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Verwys moontlik na afgodediens.

Of moontlik “die koning”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Lett. “word jy nie moeg nie”.

Of “sake verborge gehou”.

Of “die hart van die gebrokenes”.

Lett. “die vrug van die lippe”.

Moontlik om te spot of valslik te beskuldig.

Lett. “laat ry”.

Of “sal jou van die erfdeel . . . laat eet”.

Of “op leegheid”.

Of “Niemand is eerlik”.

Of “Eerlikheid”.

Lett. “en dit was sleg in sy oë”.

Of “oorwinning”.

’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.

Of “oorwinning”.

Of “moulose oorkleed”.

Lett. “saad”.

Lett. “van die saad van jou saad”.

Of “na die glans van jou dagbreek”.

Of “Die skepe van Tarsis soos vroeër”.

Of “pragtig maak”.

Of “rykdom”.

Lett. “saad”.

Lett. “saad”.

Of “moulose oorkleed”.

Of “seinpaal”.

Of moontlik “helderrooi”.

Of “oorwinning”.

Of “die engel van sy teenwoordigheid”.

Lett. “die regterhand van Moses”.

Of “glorieryke arm”.

Of “diep waters”.

Of “wildernis”.

Of “pragtige”.

Of “prag”.

Sien Woordelys.

Of “geduldig”.

Of “die Een wat ons gevorm het”.

Of “pragtige”.

Of moontlik “in hutte vir wagte”.

Of “onrein”.

Of moontlik “want ek sal my heiligheid aan jou oordra”.

Lett. “’n seën”.

Lett. “saad”.

Of “goeie toestand van die hart”.

Of “getrouheid”. Lett. “amen”.

Of “getrouheid”. Lett. “amen”.

Of “en die vorige dinge sal nie onthou word”.

Of moontlik “en iemand wat nie 100 word nie, sal as vervloek beskou word”.

Lett. “saad”.

Of moontlik “iemand wat ’n afgod prys”.

Lett. “julle gebeente”.

Of “mag”.

Lett. “vlees”.

D.w.s. spesiale tuine wat in afgodediens gebruik is. Lett. “die tuine agter die een in die middel”.

Lett. “saad”.

Lett. “vlees”.

Of “om voor my neer te buig”.

Lett. “vlees”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel