Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Hooglied van Salomo 1:1-8:14
  • Hooglied van Salomo

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hooglied van Salomo
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Hooglied van Salomo

HOOGLIED VAN SALOMO

1 Die mooiste lied,* die lied van Salomo:+

 2 “Soen my met die soene van jou mond,

want jy verseker my van jou liefde, en dit is beter as wyn.+

 3 Die reuk van jou olies is aangenaam.+

Jou naam is soos lekkerruik-olie wat uitgegiet word.+

Daarom is die jong vroue lief vir jou.

 4 Neem my saam met jou, laat ons hardloop.

Die koning het my na sy binnekamers gebring!

Laat ons bly wees en saam vrolik wees.

Laat ons jou liefde* prys, dit is beter as wyn.

Geen wonder dat hulle* lief is vir jou nie.

 5 Ek is donker,* maar lieflik, o dogters van Jerusalem,

soos die tente van Kedar,+ soos die tentdoeke+ van Salomo.

 6 Moenie na my staar omdat ek donker is nie,

want die son het my bruin gebrand.

My broers was kwaad vir my.

Hulle het my aangestel om die wingerde op te pas,

maar ek het nie vir my eie wingerd gesorg nie.

 7 My geliefde, sê tog vir my

waar jy jou skape oppas+

en waar jy hulle in die middag laat rus.

Hoekom moet ek wees soos ’n vrou wat ’n sluier* dra

by die kuddes van jou vriende?”

 8 “As jy dit nie weet nie, o pragtigste van al die vroue,

gaan volg die spore van die kudde

en laat jou boklammers langs die tente van die herders wei.”

 9 “My liefling, jy is soos ’n* merrie voor die strydwaens van Farao.+

10 Lieflik is jou wange en jou versierings,*

jou nek met stringe krale om.

11 Ons sal vir jou goue juwele* maak,

wat met silwerknoppies versier is.”

12 “Terwyl die koning by sy ronde tafel sit,

versprei die geur van my parfuum.*+

13 My geliefde is vir my soos ’n sakkie mirre+ wat lekker ruik

en gedurende die nag tussen my borste is.

14 My geliefde is vir my soos hennablomme+

tussen die wingerde van En⁠-⁠Gedi.”+

15 “Jy is pragtig, my liefling.

Jy is pragtig. Jou oë is soos dié van duiwe.”+

16 “Jy is pragtig,* my geliefde, en lieflik.+

Ons bed is tussen die blare.

17 Die balke van ons huis is sederbome,

ons dakbalke is jenewerbome.

2 “Ek is maar net ’n veldblommetjie* van die kusvlakte,

’n lelie van die valleie.”+

 2 “Soos ’n lelie tussen die dorings,

so is my liefling onder die dogters.”

 3 “Soos ’n appelboom tussen die bome van die woud,

so is my geliefde onder die seuns.

Ek smag daarna om in sy skaduwee te sit,

en sy vrugte is soet in my mond.

 4 Hy het my in die feesplek* ingebring,

en almal kon sy liefde vir my sien.

 5 Versterk my met rosynekoeke,+

verfris my met appels,

want ek is siek weens die liefde.

 6 Sy linkerhand is onder my kop,

en sy regterarm omhels my.+

 7 O dogters van Jerusalem, sweer vir my

by die wildsbokke+ en die takbokooie van die veld

dat julle nie die liefde in my sal probeer wakker maak of opwek as dit nie vanself ontstaan nie.+

 8 Die geluid van my geliefde!

Kyk! Hier kom hy.

Hy klim oor die berge, hy spring oor die heuwels.

 9 My geliefde is soos ’n wildsbok, soos ’n jong takbok.+

Daar staan hy agter ons muur,

hy kyk deur die vensters,

hy loer deur die traliewerk.

10 My geliefde praat, hy sê vir my:

‘Staan op, my liefling,

my mooiste, kom saam met my.

11 Want die winter* is verby.

Die reën het verdwyn.

12 Bloeisels het in die land verskyn,+

die tyd om te snoei, het aangebreek,+

en die lied van die tortelduif word in ons land gehoor.+

13 Die vroeë vye is ryp aan die vyeboom;+

die bloeisels van die wingerdstokke versprei hulle geur.

Staan op, my liefling, en kom.

Kom saam met my, my mooiste.

14 O my duif, in die skuilplekke van die rotse,+

in die skeure van die krans,

laat ek jou sien en jou stem hoor,+

want jou stem is so mooi en jou voorkoms is lieflik.’”+

15 “Vang die jakkalse vir ons,

die klein jakkalsies wat die wingerde verniel,

aangesien ons wingerde al bot.”

16 “My geliefde is myne en ek is syne.+

Hy pas skape+ op tussen die lelies.+

17 Voordat die windjie begin waai en die skaduwees vlug,

moet jy gou terugkeer, my geliefde,

soos die wildsbok+ of die jong takbok+ op die berge van skeiding.*

3 “Snags op my bed

het ek die een wat ek liefhet, gesoek.+

Ek het hom gesoek, maar ek het hom nie gevind nie.+

 2 Ek sal opstaan en die stad deursoek.

Laat ek die een wat ek liefhet

op die strate en op die openbare pleine soek.

Ek het hom gesoek, maar ek het hom nie gevind nie.

 3 Die wagte wat hulle rondtes in die stad doen, het my gevind.+

‘Het julle die een wat ek liefhet, gesien?’

 4 Ek was net by hulle verby

toe ek die een vind wat ek liefhet.

Ek het hom vasgehou, ek wou hom nie laat gaan nie

totdat ek hom in my ma se huis ingebring het,+

in die binnekamer van die een wat aan my geboorte gegee het.

 5 O dogters van Jerusalem, sweer vir my

by die wildsbokke en die takbokooie van die veld

dat julle nie die liefde in my sal probeer wakker maak of opwek as dit nie vanself ontstaan nie.”+

 6 “Wat kom soos rookwolke daar uit die wildernis aan,

met die geur van mirre en wierook

en al die lekkerruik-poeiers van ’n handelaar?”+

 7 “Kyk! Dit is die drastoel* van Salomo,

omring deur sestig sterk manne,

uit die sterk manne van Israel.+

 8 Elkeen is gewapen met ’n swaard,

opgelei om oorlog te voer,

elkeen met sy swaard aan sy sy,

gereed vir die nag se gevare.”

 9 “Dit is die koninklike drastoel van koning Salomo

wat hy vir hom gemaak het van die bome van die Liʹbanon-berge.+

10 Die pilare daarvan het hy van silwer gemaak,

die leunings van goud.

Die sitplek is van pers wol gemaak.

Die binnekant is liefdevol versier

deur die dogters van Jerusalem.”

11 “Gaan uit, o dogters van Sion,

kyk na koning Salomo.

Hy dra die kroon* wat sy ma+ vir hom gemaak het

op die dag van sy huwelik,

op die dag toe sy hart vol blydskap was.”

4 “Jy is pragtig, my liefling.

Jy is pragtig.

Jou oë is soos dié van duiwe, agter jou sluier.

Jou hare is soos ’n trop bokke

wat teen die berge van Giʹlead afhuppel.+

 2 Jou tande is soos ’n trop pas geskeerde skape

wat nou net skoon gewas is.

Elkeen het ’n tweeling,

en nie een het ’n lammetjie verloor nie.

 3 Jou lippe is soos ’n helderrooi lint,

en jou spraak is aangenaam.

Soos stukkies granaat

is jou wange* agter jou sluier.

 4 Jou nek+ is soos die toring van Dawid,+

gebou in kliplae,

waaraan ’n duisend skilde hang,

al die ronde skilde van die sterk manne.+

 5 Jou twee borste is soos twee lammers,

die tweeling van ’n wildsbok,+

wat tussen die lelies wei.”

 6 “Voordat die windjie begin waai en die skaduwees vlug,

sal ek na die mirreberg

en na die wierookheuwel gaan.”+

 7 “Jy is so pragtig, my liefling,+

jy het geen gebrek nie.

 8 Kom saam met my van die Liʹbanon-berge af, my bruid,

kom saam met my van die Liʹbanon-berge af,+

van die top van Amaʹna,*

van die top van Senir, die top van Hermon,+

van die lêplekke van die leeus, van die berge van die luiperds.

 9 Jy het my hart gesteel,+ my suster, my bruid,

jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë,

met een deeltjie van die ketting om jou nek.

10 Jy verseker my van jou liefde, en dit is vir my lieflik,+ my suster, my bruid!

Jy verseker my van jou liefde, dit is baie beter as wyn,+

en die geur van jou parfuum as enige spesery!+

11 Jou lippe drup van suiwer heuning,+ my bruid.

Heuning en melk is onder jou tong,+

en die geur van jou klere is soos die geur van die Liʹbanon-woud.

12 My suster, ja, my bruid, is soos ’n tuin wat toegesluit is,

’n tuin wat toegesluit is, ’n verseëlde fontein.

13 Jy is soos ’n tuin met bome waarvan die takke vol granate is,*

met die beste vrugte, met henna en nardusplante,

14 nardus+ en saffraan, geurige riet+ en kaneel,+

met allerhande wierookbome, mirre en aalwyne,+

saam met al die beste parfuums.+

15 Jy is ’n fontein in ’n tuin, ’n put met vars water

en stroompies van die Liʹbanon-berge+ af.

16 Word wakker, o noordewind;

kom in, o suidewind.

Waai oor my tuin.

Laat die geure daarvan versprei.”

“Laat my geliefde in sy tuin inkom

en die beste vrugte daarvan eet.”

5 “Ek het na my tuin toe gekom,+

o my suster, my bruid.

Ek het my mirre en my speserye gepluk.+

Ek het my heuningkoek en my heuning geëet.

Ek het my wyn en my melk gedrink.”+

“Eet, liewe vriende!

Drink en word dronk van die liefde!”+

 2 “Ek slaap, maar my hart is wakker.+

Daar is die geluid van my geliefde wat klop!

‘Maak vir my oop, o my suster, my liefling,

my duif, die een wat vir my volmaak is!

Want my kop is nat van die dou,

my hare is nat van die nag se klammigheid.’+

 3 Ek het my kleed uitgetrek.

Moet ek dit weer aantrek?

Ek het my voete gewas.

Moet ek dit weer laat vuil word?

 4 My geliefde het sy hand teruggetrek uit die opening in die deur,

en weens hom het my hart vinniger begin klop.

 5 Ek het opgestaan om vir my geliefde oop te maak.

My hande het gedrup van mirre,

en my vingers van mirre-olie,

op die slot van die deur.

 6 Ek het vir my geliefde oopgemaak,

maar my geliefde het weggedraai, hy was weg.

Ek het moedeloos gevoel toe hy weggegaan het.*

Ek het hom gesoek, maar ek het hom nie gevind nie.+

Ek het hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.

 7 Die wagte wat hulle rondtes in die stad doen, het my gekry.

Hulle het my geslaan, hulle het my gewond.

Die wagte by die mure het my mantel* van my afgeneem.

 8 O dogters van Jerusalem, sweer vir my:

As julle my geliefde vind,

moet julle vir hom sê dat ek siek is weens die liefde.”

 9 “Wat maak jou geliefde beter as al die ander,

o pragtigste onder die vroue?

Wat maak jou geliefde beter as al die ander

dat jy ons dit laat sweer het?”

10 “My geliefde is aantreklik en blosend,

hy staan uit tussen tienduisend.

11 Sy kop is goud, die suiwerste goud.

Sy hare is soos palmblare wat in die wind waai,*

so swart soos ’n kraai.

12 Sy oë is soos duiwe by waterstrome,

wat hulle in melk bad

waar hulle by ’n oorvol poel* sit.

13 Sy wange is soos ’n bedding speserye,+

hope geurige kruie.

Sy lippe is lelies wat drup van mirre-olie.+

14 Sy hande is goue silinders, versier met chrisoliet.

Sy onderlyf is blink gevryfde ivoor, bedek met saffiere.

15 Sy bene is marmerpilare wat op voetstukke van die suiwerste goud rus.

Sy voorkoms is soos die Liʹbanon, indrukwekkend soos die sederbome.+

16 Sy mond* is pure soetheid,

en alles aan hom is begeerlik.+

Dit is my geliefde, dit is my liefling, o dogters van Jerusalem.”

6 “Waarheen het jou geliefde gegaan,

o pragtigste onder die vroue?

In watter rigting het jou geliefde gegaan?

Laat ons hom saam met jou soek.”

 2 “My geliefde het afgegaan na sy tuin,

na die speserybeddings,

om in die tuine skape op te pas

en om lelies te pluk.+

 3 Ek is my geliefde s’n,

en my geliefde is myne.+

Hy pas skape op tussen die lelies.”+

 4 “Jy is so pragtig soos Tirsa,*+ my liefling,+

so lieflik soos Jerusalem,+

so indrukwekkend soos leërmagte wat om hulle baniere staan.+

 5 Draai jou oë+ van my af weg,

want hulle oorweldig my.

Jou hare is soos ’n trop bokke

wat teen die hange van Giʹlead afhuppel.+

 6 Jou tande is soos ’n trop skape

wat nou net skoon gewas is.

Elkeen het ’n tweeling,

en nie een het ’n lammetjie verloor nie.

 7 Soos stukkies granaat

is jou wange* agter jou sluier.

 8 Al is daar ook 60 koninginne

en 80 byvrouens

en te veel jong vroue om te tel,+

 9 is net een my duif,+ die een wat vir my volmaak is.

Sy is spesiaal vir haar ma.

Sy is die gunsteling van die een wat aan haar geboorte gegee het.

Die dogters sien haar, en hulle noem haar gelukkig.

Koninginne en byvrouens prys haar.

10 ‘Wie is sy wat skyn soos die dagbreek,

wat so pragtig is soos die volmaan,

so rein soos die sonlig,

so indrukwekkend soos leërmagte wat om hulle baniere staan?’”+

11 “Ek het afgegaan na die neuteboord,+

om te sien of die bome in die vallei* bot,

om te sien of die wingerdstok uitgespruit het,

of die granaatbome se bloeisels uitgekom het.

12 Voordat ek dit geweet het,

het my verlange my

tot by die strydwaens van my gewillige volk gebring.”

13 “Kom terug, kom terug, o Sulammitiese meisie!

Kom terug, kom terug,

sodat ons jou kan sien!”

“Hoekom kyk julle vir die Sulammitiese meisie?”+

“Sy is soos die gedans van twee groepe!”*

7 “Hoe pragtig is jou voete in jou sandale,

o lieflike* dogter!

Die rondings van jou heupe is soos juwele,

die werk van ’n ambagsman se hande.

 2 Jou naeltjie is ’n ronde bak.

Mag gemengde wyn altyd daarin wees.

Jou maag is ’n hoop koring,

omring met lelies.

 3 Jou twee borste is soos twee lammers,

die tweeling van ’n wildsbok.+

 4 Jou nek+ is soos ’n ivoortoring.+

Jou oë+ is soos die poele in Hesbon,+

by die poort van Bat-Rabbim.

Jou neus is soos die toring van die Liʹbanon,

wat op Damaskus uitkyk.

 5 Jou kop is soos die berg Karmel,+

en die lokke van jou hare+ is soos pers wol.+

Die koning is bekoor deur jou golwende hare.

 6 Hoe pragtig is jy, en hoe lieflik is jy,

o geliefde meisie, jy is alles wat ’n mens kan begeer!

 7 Jou gestalte is soos ’n palmboom,

en jou borste soos dadeltrosse.+

 8 Ek het gesê: ‘Ek sal teen die palmboom opklim,

en sy vrugte pluk.’

Mag jou borste soos druiwetrosse wees,

en jou asem soos die geur van appels,

 9 en jou mond* soos die beste wyn.”

“Mag dit vir my geliefde glad na binne gly,

saggies vloei oor die lippe van dié wat slaap.

10 Ek is my geliefde s’n,+

en hy smag na my.

11 Kom, my geliefde,

laat ons uitgaan na die veld,

laat ons tussen die hennaplante+ oornag.

12 Laat ons vroeg opstaan en na die wingerde gaan,

om te sien of die wingerdstok uitgespruit het,

of die bloeisels oopgegaan het,+

of die granaatbome bloeisels het.+

Daar sal ek jou verseker van my liefde vir jou.+

13 Die liefdesappels+ versprei hulle geur.

By ons deure is daar allerhande heerlike vrugte.+

Die nuwes sowel as die oues

het ek vir jou gebêre, o my geliefde.

8 “As jy maar net vir my soos my broer was,

wat aan my ma se borste gedrink het!

Dan sou ek jou soen as ek jou buite kry,+

en niemand sou my veroordeel nie.

 2 Ek sou jou lei,

ek sou jou in die huis van my moeder inbring,+

sy wat my geleer het.

Ek sou jou kruiewyn gee om te drink,

en vars granaatsap.

 3 Sy linkerhand sou onder my kop wees,

en sy regterarm sou my omhels.+

 4 O dogters van Jerusalem, sweer vir my

dat julle nie die liefde in my sal probeer wakker maak of opwek as dit nie vanself ontstaan nie.”+

 5 “Wie is dit wat daar uit die wildernis opkom,

wat op haar geliefde leun?”

“Onder die appelboom het ek jou wakker gemaak.

Daar het jou ma geboortepyne gekry.

Daar het sy geboortepyne gekry en aan jou geboorte gegee.

 6 Plaas my as ’n seël op jou hart,

as ’n seël op jou arm,

want die liefde is so sterk soos die dood,+

en uitsluitlike toegewydheid is so onversetlik soos die Graf.*

Die vlamme daarvan is ’n brandende vuur, die vlam van Jah.*+

 7 Onstuimige waters kan die liefde nie blus nie,+

en ook kan riviere dit nie wegspoel nie.+

As ’n man al sy besittings wou gee om liefde te koop,

sou mense beslis daarop* neersien.”

 8 “Ons het ’n sussie,+

en sy het nog nie borste nie.

Wat sal ons vir ons suster doen

op die dag dat iemand vra om met haar te trou?”

 9 “As sy ’n muur is,

sal ons ’n silwerrand op haar bou,

maar as sy ’n deur is,

sal ons haar met ’n sederplank toemaak.”

10 “Ek is ’n muur,

en my borste is soos torings.

En ek het in sy oë geword

soos iemand wat vrede vind.

11 Salomo het ’n wingerd+ in Baäl-Hamon gehad.

Hy het die wingerd in die sorg van opsigters geplaas.

Elkeen het vir die vrugte daarvan ’n duisend silwerstukke ingebring.

12 Ek het ’n wingerd, en dit is myne.

Die duisend silwerstukke* behoort aan u, o Salomo,

en tweehonderd aan die opsigters.”

13 “O jy wat in die tuine woon,+

my vriende wil jou stem hoor.

Laat my dit hoor.”+

14 “Maak gou, my geliefde,

wees so vinnig soos ’n wildsbok+

of ’n jong takbok

op die speseryberge.”

Of “Die voortreflikste lied”.

Of “liefdesblyke”.

D.w.s. die jong vroue.

Lett. “swart”.

Of “rouklere”.

Of “my”.

Of moontlik “tussen die haarvlegsels”.

Of “ringe”.

Lett. “nardus”.

Of “aantreklik”.

Lett. “saffraan”.

Lett. “wynhuis”.

Of “reënseisoen”.

Of “die Beterberge”.

’n Toegeboude stoel waarin ’n belangrike persoon gedra is.

Of “krans”.

Of “slape”.

Of “die Anti-Libanon”.

Of moontlik “Jou vel is ’n paradys vol granate”.

Of moontlik “My siel het uit my uitgegaan toe hy gepraat het”.

Of “sluier”.

Of moontlik “is soos dadeltrosse”.

Of moontlik “die rand van die fontein”.

Lett. “verhemelte”.

Of “die Lieflike Stad”.

Of “slape”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “die dans van Mahanaim”.

Of “edele”.

Lett. “verhemelte”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

“Jah” is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah.

Of moontlik “op hom”.

Lett. “Die duisend”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel