PREDIKER
1 Die woorde van die byeenbringer,*+ die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.+
2 “Dit is heeltemal nutteloos!”* sê die byeenbringer.
“Dit is heeltemal nutteloos! Alles is nutteloos!”+
3 Watter voordeel kry ’n mens uit al sy harde werk,
uit alles waaraan hy hard werk op hierdie aarde?+
5 Die son kom op, en die son gaan onder,
en dan keer dit vinnig terug na die plek waar dit weer opkom.+
6 Die wind waai na die suide en draai weer na die noorde.
Dit waai hierdie kant toe en daardie kant toe; die wind sirkel om en om.
7 Al die riviere* loop in die see in, en tog word die see nie vol nie.+
Die riviere keer terug na waar hulle vandaan kom, sodat hulle weer kan vloei.+
8 Alles maak ’n mens moeg.
Niemand kan dit beskryf nie.
Die oog kry nie genoeg van sien nie,
en ook nie die oor van hoor nie.
9 Wat was, sal weer wees,
en wat gedoen is, sal weer gedoen word.
Daar is niks nuuts onder die son nie.+
10 Is daar enigiets waarvan ’n mens kan sê: “Kyk hier – dit is nuut”?
Dit het lankal reeds bestaan.
Dit het voor ons tyd al bestaan.
11 Niemand onthou mense wat lank gelede geleef het nie,
en niemand sal dié onthou wat later kom nie.
En ook hulle sal nie onthou word deur dié wat nog later kom nie.+
12 Ek, die byeenbringer, is koning oor Israel in Jerusalem.+ 13 Ek het besluit* om wysheid te gebruik+ om alles te bestudeer en te ondersoek wat onder die hemel gedoen is+ – die frustrerende bedrywighede wat God aan die mensekinders gegee het en wat hulle besig hou.
14 Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen is,
en ek het gesien dat alles nutteloos is, ’n gejaag na wind.+
15 Wat krom is, kan nie reguit gemaak word nie,
en wat nie daar is nie, kan glad nie getel word nie.
16 Toe het ek in my hart gesê: “Kyk! Ek het groot wysheid verkry, meer as enigiemand wat voor my in Jerusalem was.+ Ek* het baie wysheid en kennis verkry.”+ 17 Ek het my daarop toegelê om te verstaan wat wysheid is, wat malligheid*+ is en wat dwaasheid is. Dit is ook ’n gejaag na wind.
18 Want baie wysheid bring baie frustrasie.
En die een wat kennis vermeerder, vermeerder pyn.+
2 Toe het ek in my hart gesê: “Laat ek plesier soek en kyk of dit iets goeds inhou.” Maar dit was ook nutteloos.
2 Ek het oor gelag gesê: “Dit is dwaasheid!”
en oor plesier: “Watter nut het dit?”
3 Ek het ondersoek of dit iets goeds inhou om wyn te geniet,+ terwyl ek my nog steeds deur wysheid laat lei het. Ek het selfs dwaasheid op die proef gestel om uit te vind wat die beste ding is vir mense om te doen gedurende die kort tydjie wat hulle op die aarde lewe. 4 Ek het groot dinge aangepak.+ Ek het vir my huise gebou+ en vir my wingerde geplant.+ 5 Ek het vir my tuine en parke gemaak, en ek het allerhande vrugtebome daarin geplant. 6 Ek het vir my damme gemaak sodat ek die jong bome in my plantasie* kon natlei. 7 Ek het diensknegte en diensmeisies gekry.+ En hulle kinders wat in my huis gebore is, het ook my knegte geword. Ek het ook baie vee gekry – beeste, skape en bokke+ – meer as enigiemand wat voor my in Jerusalem gelewe het. 8 Ek het silwer en goud bymekaargemaak,+ die skatte van* konings en van provinsies.+ Ek het vir my sangers en sangeresse gekry, sowel as dit wat die mens baie plesier gee – ’n vrou, ja, baie vrouens. 9 Ek het magtig geword en almal oortref wat voor my in Jerusalem was.+ En ek het my wysheid behou.
10 Alles wat ek begeer het, het ek vir my gekry.+ Ek het my nie teruggehou van enige plesier nie, want ek het vreugde gevind in al my harde werk, en dit was my beloning vir al my harde werk.+ 11 Maar toe ek nagedink het oor alles wat ek gedoen het en oor al my harde werk,+ het ek gesien dat alles nutteloos was, ’n gejaag na wind.+ Daar was niks onder die son wat werklik waarde gehad het nie.+
12 Toe het ek weer nagedink oor wysheid en malligheid en dwaasheid.+ (Want wat kan die mens doen wat ná die koning kom? Net wat reeds gedoen is.) 13 En ek het gesien dat wysheid beter is as dwaasheid,+ net soos die lig beter is as die duisternis.
14 Die wyse se oë is oop,+ maar die dwaas is in die duisternis.+ Ek het ook besef dat hulle albei dieselfde uiteinde het.+ 15 Toe het ek in my hart gesê: “Wat met die dwaas gebeur, sal ook met my gebeur.”+ Wat help dit dan dat ek baie wys geword het? Toe het ek in my hart gesê: “Dit is ook nutteloos.” 16 Want ’n wyse mens sal net so min onthou word as ’n dwaas.+ In die dae wat kom, sal almal vergeet word. En hoe sal die wyse sterf? Net soos die dwaas.+
17 Ek het dus die lewe begin haat,+ want dit het vir my gelyk of alles wat onder die son gedoen word, frustrerend is. Alles was nutteloos,+ ’n gejaag na wind.+ 18 Ek het alles begin haat waarvoor ek so hard op die aarde gewerk het,+ want ek moet dit agterlaat vir die mens wat ná my kom.+ 19 En wie weet of hy wys of dwaas sal wees?+ Tog sal hy beheer oorneem oor al die dinge wat ek met groot moeite en wysheid onder die son verkry het. Dit is ook nutteloos. 20 Daarom het ek moedeloos begin voel toe ek dink aan al die harde werk wat ek op hierdie aarde gedoen het. 21 Want ’n mens werk hard en word gelei deur wysheid en kennis en vaardigheid, maar hy moet alles* oorgee aan iemand wat nie daarvoor gewerk het nie.+ Dit is ook nutteloos en baie tragies.
22 Wat kry ’n mens werklik vir al sy harde werk en sy ambisie wat hom dryf om hard te werk op hierdie aarde?+ 23 Want sy hele lewe lank bring sy bedrywighede pyn en frustrasie,+ en selfs in die nag kom sy hart nie tot rus nie.+ Dit is ook nutteloos.
24 Daar is niks beters vir ’n mens as om te eet en te drink en sy harde werk te geniet nie.+ Ek het besef dat dit ook van die ware God kom,+ 25 want wie eet en wie drink beter as ek?+
26 Die ware God gee wysheid en kennis en vreugde aan die mens wat Sy goedkeuring het,+ maar aan die sondaar gee hy die werk om te versamel en bymekaar te maak net sodat hy dit kan gee aan die een wat Sy goedkeuring het.+ Dit is ook nutteloos, ’n gejaag na wind.
3 Daar is vir alles ’n vasgestelde tyd,
’n tyd vir elke bedrywigheid onder die hemel:
2 ’n Tyd om gebore te word* en ’n tyd om te sterf,
’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te trek wat geplant is,
3 ’n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak,
’n tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou,
4 ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag,
’n tyd om te treur en ’n tyd om te dans,*
5 ’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak,
’n tyd om te omhels en ’n tyd om nie te omhels nie,
6 ’n tyd om te soek en ’n tyd om as verlore te beskou,
’n tyd om te hou en ’n tyd om weg te gooi,
7 ’n tyd om uitmekaar te skeur+ en ’n tyd om vas te werk,
’n tyd om stil te bly+ en ’n tyd om te praat,+
8 ’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat,+
’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.
9 Wat help dit die werker dat hy hard gewerk het?+ 10 Ek het die bedrywighede gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle besig te hou. 11 Hy het alles mooi* gemaak op die regte tyd.+ Hy het selfs die ewigheid in hulle hart gesit. Tog sal die mensdom nooit die werke van die ware God ten volle verstaan nie.
12 Ek het tot die slotsom gekom dat daar vir hulle niks beters is as om bly te wees en om goed te doen in hulle lewe nie,+ 13 en ook dat elkeen moet eet en drink en al sy harde werk moet geniet. Dit is die gawe van God.+
14 Ek het besef dat alles wat die ware God maak, vir ewig sal bestaan. Niks kan daarby gevoeg word en niks kan daarvan weggeneem word nie. Die ware God het dit so gemaak, sodat mense hom sal vrees.+
15 Wat ook al gebeur, het reeds gebeur, en wat nog kom, was reeds daar,+ maar die ware God soek wat nagejaag is.*
16 Ek het ook die volgende onder die son gesien: In die plek van geregtigheid was daar goddeloosheid, en in die plek van regverdigheid was daar goddeloosheid.+ 17 Toe het ek in my hart gesê: “Die ware God sal die regverdige sowel as die goddelose oordeel,+ want daar is ’n tyd vir elke bedrywigheid en elke daad.”
18 Ek het ook in my hart gesê dat die ware God die mensekinders sal toets en hulle sal laat besef dat hulle net soos die diere is, 19 want daar is ’n uiteinde vir die mens en ’n uiteinde vir die diere. Hulle almal het dieselfde uiteinde.+ Soos die een sterf, so sterf die ander; en hulle almal het dieselfde gees.+ Die mens is dus nie beter af as die dier nie. Alles is nutteloos. 20 Almal gaan na dieselfde plek.+ Hulle kom almal uit die stof,+ en hulle keer almal na die stof terug.+ 21 Wie weet werklik of die gees van die mens opstyg boontoe en of die gees van die diere na die aarde neerdaal?+ 22 En ek het gesien dat daar niks beters is vir ’n mens as om sy werk te geniet nie,+ want dit is sy beloning. En wie kan hom laat sien wat ná sy dood sal gebeur?+
4 Ek het weer nagedink oor al die onderdrukking wat onder die son plaasvind. Ek het die trane van die onderdruktes gesien, en daar was niemand om hulle te vertroos nie.+ Hulle onderdrukkers het die mag gehad, en daar was niemand om hulle te vertroos nie. 2 En ek het besef dat dié wat reeds gesterf het, beter af is as dié wat nog lewe.+ 3 En die een wat nog nie gebore is nie,+ wat nog nie die slegte dade gesien het wat onder die son gedoen word nie, is beter af as hulle albei.+
4 En ek het gesien met hoeveel inspanning en vaardigheid mense werk as hulle met mekaar kompeteer.+ Dit is ook nutteloos, ’n gejaag na wind.
5 Die dwaas vou sy hande en gaan dood van die honger.+
6 ’n Hand vol rus is beter as twee hande vol harde werk en ’n gejaag na wind.+
7 Ek het nagedink oor nog iets onder die son wat nutteloos is: 8 Daar is ’n man wat heeltemal alleen is, sonder ’n vriend. Hy het nie ’n seun of ’n broer nie, maar hy hou net aan om hard te werk. Hy kry nooit genoeg van rykdom nie.+ Maar vra hy hom ooit af: “Vir wie werk ek hard? Hoekom geniet ek nie maar die goeie dinge waarvoor ek werk nie?”+ Dit is ook nutteloos en frustrerend.+
9 Twee is beter as een,+ want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. 10 Want as een van hulle val, kan die ander sy maat ophelp. Maar wat sal gebeur met die een wat val as hy niemand het om hom op te help nie?
11 En as twee bymekaar lê, sal hulle warm bly, maar hoe kan net een warm bly? 12 En iemand kan maklik die oorhand kry oor ’n persoon wat alleen is, maar twee saam kan teen hom staande bly. En ’n driedubbele tou kan nie maklik gebreek word nie.
13 ’n Arm maar wyse kind is beter as ’n ou maar dwase koning,+ wat nie meer genoeg verstand het om na ’n waarskuwing te luister nie.+ 14 Want hy* het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word,+ hoewel hy arm gebore is onder die koningskap van daardie een.+ 15 Ek het gesien wat met al die lewendes onder die son gebeur, sowel as hoe dit gaan met die jong opvolger wat die koning se plek inneem. 16 Hoewel hy baie ondersteuners het, sal dié wat later kom, nie tevrede wees met hom nie.+ Dit is ook nutteloos, ’n gejaag na wind.
5 Let op wat jy doen wanneer jy na die huis van die ware God gaan.+ Dit is beter om te gaan om te luister+ as om ’n offer te gee soos die dwase,+ want hulle weet nie dat wat hulle doen, sleg is nie.
2 Moenie vinnig wees met jou woorde nie, en laat jou hart nie oorhaastig praat voor die ware God nie,+ want die ware God is in die hemel, maar jy is op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.+ 3 Want drome kom as te veel dinge jou gedagtes besig hou,*+ en die gebabbel van ’n dwaas kom weens te veel woorde.+ 4 Wanneer jy ’n gelofte aan God maak, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie,+ want hy hou nie van dwase mense nie.+ As jy ’n gelofte maak, moet jy dit nakom.+ 5 Dit is beter dat jy nie ’n gelofte maak nie as dat jy ’n gelofte maak en dit nie nakom nie.+ 6 Moenie toelaat dat jou mond jou* laat sondig nie,+ en moenie voor die engel* sê dat dit ’n fout was nie.+ Waarom moet jy die ware God kwaad maak oor wat jy sê sodat hy die werk van jou hande moet vernietig?+ 7 Want drome kom as baie dinge jou gedagtes besig hou,+ en net so lei baie woorde tot nutteloosheid. Maar vrees die ware God.+
8 As jy sien dat die arme onderdruk word en dat daar nie reg en regverdigheid in jou gebied is nie, moet jy nie verbaas wees nie.+ Daardie hoë amptenaar word dopgehou deur iemand wat hoër as hy is, en daar is ander wat selfs hoër as hulle is.
9 En wat die land oplewer, word onder hulle almal verdeel. Selfs die koning is afhanklik van die grond.+
10 Iemand wat silwer liefhet, sal nooit genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie.+ Dit is ook nutteloos.+
11 Hoe meer goeie dinge daar is, hoe meer mense is daar om dit te gebruik.+ En watter voordeel is daar vir die eienaar daarvan? Hy kan maar net daarna kyk.+
12 Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet, maar die rykdom van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.
13 Ek het iets baie tragies onder die son gesien: iemand wat rykdom opgaar tot sy eie nadeel. 14 Hy verloor sy rykdom weens ’n slegte transaksie, en wanneer hy die pa word van ’n seun, het hy niks oor nie.+
15 Net soos iemand kaal in die wêreld kom, gaan hy kaal uit die wêreld uit.+ En hy kan niks waarvoor hy hard gewerk het, saamneem nie.+
16 Dit is ook baie tragies: Net soos hy gekom het, so sal hy weggaan. Watter voordeel is daar dan vir die een wat hard bly werk vir wind?+ 17 En hy eet elke dag asof hy in die duisternis eet, met baie frustrasie en siekte en woede.+
18 Ek het gesien dat die volgende goed en gepas is: dat iemand eet en drink en al sy harde werk op hierdie aarde geniet+ gedurende die kort tydjie wat die ware God hom gegee het om te lewe, want dit is sy beloning.+ 19 En as die ware God vir ’n mens rykdom en materiële besittings gee+ en hom in staat stel om dit te geniet, dan moet hy sy beloning aanvaar en vreugde vind in sy harde werk. Dit is die gawe van God.+ 20 Want hy sal skaars nadink oor wat in sy lewe gebeur,* omdat die ware God hom besig hou met die dinge wat sy hart bly maak.+
6 Ek het nog iets onder die son gesien wat tragies is, en dit kom dikwels onder die mensdom voor: 2 Die ware God gee vir ’n man rykdom en materiële besittings en eer sodat hy alles het wat hy begeer, en tog stel die ware God hom nie in staat om dit te geniet nie. ’n Vreemdeling geniet dit dalk. Dit is nutteloos en ’n groot tragedie. 3 As ’n man ’n honderd keer pa word en hy baie jare lewe en oud word, maar nie sy goeie dinge geniet voordat hy sterf nie, dan sê ek: ’n Doodgebore baba is beter af as hy.+ 4 Want so ’n baba het tevergeefs gekom en in die duisternis verdwyn, en sy naam is met duisternis bedek. 5 Al het hy nooit die son gesien en niks geweet nie, is hy nog steeds beter af as daardie man.+ 6 Wat help dit om ’n duisend jaar, ja, selfs tweeduisend jaar, te lewe en niks te geniet nie? Gaan almal nie na dieselfde plek nie?+
7 ’n Mens werk hard net om sy maag te vul,+ maar hy word nooit versadig nie. 8 Want watter voordeel het die wyse bo die dwaas?+ Of wat help dit as ’n arm man weet hoe om te oorleef? 9 Dit is beter om te geniet wat jou oë kan sien as om agter jou begeertes aan te loop. Dit is ook nutteloos, ’n gejaag na wind.
10 Alles wat bestaan, het reeds ’n naam gekry. En dit is bekend wat die mens is. Hy kan nie stry met* die een wat magtiger is as hy nie. 11 Hoe meer woorde,* hoe nutteloser is dit. En watter voordeel hou dit vir die mens in? 12 Wie weet wat die beste ding is vir ’n mens om te doen gedurende sy kort* lewe, wat soos ’n skaduwee verbygaan?+ Want wie kan vir hom sê wat ná sy dood onder die son sal gebeur?
7 ’n Goeie naam* is beter as goeie olie,+ en die sterfdag is beter as die geboortedag. 2 Dit is beter om na ’n huis te gaan waar daar getreur word as na ’n huis waar daar feesgevier word,+ want dit is die uiteinde van elke mens, en die lewendes moet dit in gedagte hou. 3 Hartseer is beter as gelag,+ want ’n droewige gesig laat die hart beter word.+ 4 Die hart van die wyses is in die huis waar daar getreur word, maar die hart van die dwase is in die huis van blydskap.*+
5 Dit is beter om na die teregwysing van ’n wyse man te luister+ as om na die lied van dwase mense te luister. 6 Want soos die geluid van doringtakkies wat onder die pot brand, so is die gelag van die dwaas,+ en dit is ook nutteloos. 7 Maar onderdrukking kan ’n wyse persoon dwaas laat optree, en ’n omkoopgeskenk laat die hart sleg word.+
8 Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin. Dit is beter om geduldig te wees as om hoogmoedig te wees.+ 9 Moenie gou aanstoot neem nie,+ want dit is ’n dwaas wat aanstoot neem.*+
10 Moenie vra: “Hoekom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?” nie, want dit is nie uit wysheid dat jy dit vra nie.+
11 Wysheid met ’n erfdeel daarby is goed en is voordelig vir dié wat op die aarde lewe.* 12 Want wysheid is ’n beskerming+ net soos geld ’n beskerming is,+ maar die voordeel van kennis is: Wysheid bewaar die lewe van dié wat dit besit.+
13 Kyk na die werk van die ware God, want wie kan reguit maak wat hy krom gemaak het?+ 14 Op ’n goeie dag, moet jy goedheid weerspieël,+ maar op ’n dag van rampspoed moet jy daaraan dink dat God albei gemaak het,+ sodat mense nie kan weet* wat in die toekoms met hulle sal gebeur nie.+
15 Gedurende my kort* lewe+ het ek alles gesien – van die regverdige wat ten spyte van sy regverdigheid sterf+ tot die goddelose wat ten spyte van sy slegtheid lank lewe.+
16 Moenie alte regverdig wees nie,+ en moenie maak of jy baie wys is nie.+ Waarom moet jy rampspoed oor jouself bring?+ 17 Moenie alte goddeloos wees nie, en moet ook nie dwaas wees nie.+ Waarom moet jy voor jou tyd sterf?+ 18 Dit is beter om na die een waarskuwing te luister sonder om die ander een te ignoreer,+ want die een wat God vrees, sal na albei luister.
19 Wysheid maak ’n wyse man magtiger as tien sterk manne in ’n stad.+ 20 Want daar is geen regverdige mens op die aarde wat altyd doen wat goed is en nooit sondig nie.+
21 Moet jou ook nie steur aan elke woord wat mense sê nie,+ anders hoor jy dalk hoe jou kneg jou vervloek. 22 Want in jou hart weet jy goed dat jy self al baie kere ander vervloek het.+
23 Ek het dit alles met behulp van wysheid getoets, en ek het gesê: “Ek sal wys word.” Maar ek kon dit nie regkry nie. 24 Alles wat bestaan, is onbereikbaar en baie diep. Wie kan dit verstaan?+ 25 Ek het my daarop toegelê om wysheid en die rede vir dinge te leer ken, na te vors en te ondersoek, en om te verstaan hoe goddeloos dwaasheid is en hoe dwaas malligheid is.+ 26 Toe het ek dít uitgevind: Die vrou wat soos ’n jagter se net is, wie se hart soos sleepnette is en wie se hande soos boeie is, is bitterder as die dood. Die een wat God se goedkeuring het, sal nie deur haar gevang word nie,+ maar die sondaar word wel deur haar gevang.+
27 “Kyk! Dít is wat ek gevind het,” sê die byeenbringer.+ “Ek het die een ding ná die ander ondersoek om tot ’n slotsom te kom, 28 maar wat ek heeltyd gesoek het, het ek nie gevind nie. Onder ’n duisend mense het ek een man* gevind, maar ek het nie ’n vrou onder hulle gevind nie. 29 Dít is al wat ek gevind het: Die ware God het die mensdom goed gemaak,+ maar hulle het baie planne uitgedink.”+
8 Wie is soos die wyse man? Wie weet wat die oplossing vir ’n probleem is? Die wysheid van ’n mens laat sy gesig straal en versag sy streng voorkoms.
2 Ek sê: “Gehoorsaam die bevele van die koning+ uit respek vir die eed wat voor God afgelê is.+ 3 Moenie haastig wees om van die koning af weg te gaan nie.+ Moenie betrokke raak by ’n slegte saak nie.+ Hy kan doen net wat hy wil, 4 want die koning se woord is wet.+ Wie kan vir hom sê: ‘Wat doen u?’”
5 Die een wat die gebod gehoorsaam, kom nie in die moeilikheid nie,+ en die een met ’n wyse hart sal weet wanneer en hoe om op te tree.+ 6 Daar is ’n regte tyd en manier om elke saak te hanteer,+ want die mensdom het so baie probleme. 7 Niemand weet wat sal gebeur nie, hoe kan iemand dan sê hoe dit sal gebeur?
8 Net soos geen mens mag het oor die gees* of kan keer dat die gees uitgaan nie, so het niemand beheer oor die dag van die dood nie.+ Net soos niemand gedurende ’n oorlog vrystelling kry nie, so sal goddeloosheid nie toelaat dat dié wat dit beoefen, die gevolge vryspring nie.*
9 Ek het dit alles gesien, en ek het alles ondersoek wat onder die son gedoen is, gedurende die tyd waarin die mens oor die mens heers tot sy nadeel.+ 10 En ek het gesien hoe die goddeloses begrawe word, dié wat by die heilige plek ingegaan en uitgegaan het, maar hulle word gou vergeet in die stad waar hulle so opgetree het.+ Dit is ook nutteloos.
11 Omdat ’n slegte daad nie gou gestraf word nie,+ kry mense* meer moed om te doen wat sleg is.+ 12 ’n Sondaar kan miskien ’n honderd keer doen wat sleg is en nogtans lank lewe. Maar ek weet ook dat dit goed sal gaan met dié wat die ware God vrees, omdat hulle hom vrees.+ 13 Maar dit sal nie goed gaan met die goddelose nie,+ en ook sal hy nie sy lewe, wat soos ’n skaduwee is,+ verleng nie, omdat hy God nie vrees nie.
14 Daar is iets frustrerends* wat op die aarde gebeur: Daar is regverdige mense wat behandel word asof hulle goddeloos opgetree het+ en goddelose mense wat behandel word asof hulle regverdig opgetree het.+ Ek sê dat dit ook nutteloos is.
15 Daarom het ek vreugde aanbeveel,+ want daar is vir die mens niks beters onder die son as om te eet en te drink en vreugdevol te wees nie. Hy moet vreugdevol wees terwyl hy hard werk gedurende al die dae van sy lewe,+ wat die ware God hom onder die son gegee het.
16 Ek het my daarop toegelê om wysheid te verkry en om alles te sien wat op die aarde gebeur,+ en ek het selfs dag en nag my slaap opgeoffer.* 17 Toe het ek gedink aan al die werk van die ware God, en ek het besef dat die mensdom nie kan verstaan wat onder die son gebeur nie.+ Al probeer mense hoe hard, hulle kan dit nie verstaan nie. Selfs al sê hulle dat hulle wys genoeg is om te verstaan, kan hulle dit nie werklik verstaan nie.+
9 Toe het ek oor dit alles nagedink en tot die slotsom gekom dat die regverdiges en die wyses, sowel as hulle werke, in die hande van die ware God is.+ Mense is nie bewus van die liefde en die haat wat voor hulle daar was nie. 2 Almal het presies dieselfde uiteinde,+ die regverdige en die goddelose,+ die goeie, die reine en die onreine, dié wat offerandes bring en dié wat nie offerandes bring nie. Die goeie mens is dieselfde as die sondaar. Die een wat ’n eed sweer, is dieselfde as die een wat bang is om ’n eed te sweer. 3 Daar is iets ontstellends wat onder die son gebeur: Omdat almal dieselfde uiteinde het,+ is die hart van mense vol slegtheid. En daar is dwaasheid in hulle hart gedurende hulle lewe, en dan sterf hulle!
4 Daar is hoop vir dié wat onder die lewendes is, want ’n lewende hond is beter af as ’n dooie leeu.+ 5 Want die lewendes weet dat hulle sal sterf,+ maar die dooies weet absoluut niks nie.+ En hulle het ook nie meer ’n beloning* nie, want hulle word heeltemal vergeet.*+ 6 Ook hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds verdwyn, en hulle het nie meer ’n deel aan wat op hierdie aarde gedoen word nie.+
7 Gaan, eet jou kos met blydskap, en drink jou wyn met ’n vrolike hart,+ want die ware God is reeds tevrede met wat jy doen.+ 8 Mag jou klere altyd wit* wees, en moenie vergeet om olie op jou kop te sit nie.+ 9 Geniet die lewe met jou geliefde vrou+ al die dae van jou kort* lewe, wat Hy jou onder die son gegee het, al die dae van jou lewe wat gou verbygaan.* Want dit is jou lot* in die lewe en jou beloning vir jou harde werk op hierdie aarde.+ 10 Doen alles wat jou hand vind om te doen met al jou mag, want daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in die Graf,*+ waarheen jy gaan nie.
11 Ek het nog iets onder die son gesien: Die vinniges wen nie altyd die wedloop nie en die sterkes wen nie altyd die geveg nie,+ die wyses het nie altyd die kos nie en die slimmes het nie altyd die rykdom nie,+ en dié wat kennis het, is nie altyd suksesvol nie,+ want tyd en onverwagse* gebeure tref hulle almal. 12 Want die mens ken nie sy tyd nie.+ Soos visse in ’n dodelike net gevang word en voëls in ’n strik gevang word, so word mense gevang wanneer rampspoed hulle skielik tref.
13 Ek het ook die volgende omtrent wysheid onder die son gesien – en dit het ’n indruk op my gemaak: 14 Daar was ’n klein stad met ’n paar manne daarin. ’n Magtige koning het daarteen opgetrek en dit omsingel en dit beleër.* 15 Daar was ’n arm maar wyse man in die stad, en hy het die stad deur sy wysheid gered. Maar niemand het daardie arm man onthou nie.+ 16 En ek het vir myself gesê: “Wysheid is beter as krag,+ maar ’n arm man se wysheid word verag, en daar word nie na sy woorde geluister nie.”+
17 Dit is beter om te luister na die kalm woorde van ’n wyse mens as na die uitroepe van die een wat oor dwase heers.
18 Wysheid is beter as oorlogswapens, maar net een sondaar kan baie goeie dinge vernietig.+
10 Net soos dooie vlieë lekkerruik-olie laat stink en borrel, so bederf ’n bietjie dwaasheid wysheid en eer.+
2 Die hart van die wyse lei hom op die regte weg, maar die hart van die dwaas lei hom op die verkeerde weg.+ 3 Dit maak nie saak watter weg ’n dwaas volg nie, hy is onverstandig,+ en hy wys vir almal dat hy ’n dwaas is.+
4 As ’n heerser vir jou woedend word, moet jy nie jou plek verlaat nie,+ want kalmte versag groot sondes.+
5 Daar is iets ontstellends wat ek onder die son gesien het, ’n fout wat dié maak wat gesag het:+ 6 Dwase kry hoë posisies, maar die rykes* bly in lae posisies.
7 Ek het knegte op perde gesien, maar leiers wat soos knegte te voet loop.+
8 Die een wat ’n put grawe, kan daarin val.+ En die een wat deur ’n klipmuur breek, kan deur ’n slang gebyt word.
9 Die een wat klippe uitkap, kan seerkry. En die een wat hout kap, kan beseer word.*
10 As ’n byl stomp is en ’n mens dit nie slyp nie, moet jy baie krag gebruik. Maar wysheid help jou om suksesvol te wees.
11 As die slang byt voordat hy besweer is, dan is daar geen voordeel vir die vaardige slangbesweerder* nie.
12 Die woorde uit die mond van die wyse verkry vir hom goedkeuring,+ maar die lippe van die dwaas lei tot sy ondergang.+ 13 Die eerste woorde uit sy mond is dwaasheid,+ en sy laaste woorde is malligheid wat tot rampspoed lei. 14 Maar die dwaas hou aan om te praat.+
Die mens weet nie wat sal gebeur nie. Hoe kan iemand dan vir hom sê wat ná hom sal gebeur?+
15 Die harde werk van die dwaas maak hom moeg, want hy weet nie eers hoe om by die stad uit te kom nie.
16 Dit is verskriklik vir ’n land as die koning ’n seun is+ en as die leiers reeds in die oggend begin feesvier! 17 Gelukkig is die land as die koning uit ’n belangrike familie kom en as die leiers op die regte tyd eet en drink om hulle te versterk, nie om dronk te word nie!+
18 Weens groot luiheid sak die dakbalke in, en weens slap hande lek die huis.+
19 Kos bring plesier, en wyn maak die lewe aangenaam,+ maar geld voorsien in alle behoeftes.+
20 Moenie die koning vervloek nie,+ selfs nie in jou gedagtes* nie, en moenie die rykes in jou slaapkamer vervloek nie, want die voëls kan dit* oorvertel, hulle* kan herhaal wat gesê is.
11 Stuur jou brood uit op die water,+ want eendag* sal jy dit terugkry.+ 2 Gee ’n deel van wat jy het aan sewe, of selfs aan agt,+ want jy weet nie watter rampspoed op die aarde sal plaasvind nie.
3 As die wolke vol water is, sal reën op die aarde val. En of ’n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar sal dit lê.
4 Die een wat die wind dophou, sal nie saad saai nie, en die een wat na die wolke kyk, sal nie oes nie.+
5 Net soos jy nie weet hoe die gees werk in die liggaam* van ’n kind in ’n swanger vrou nie,+ so ken jy nie die werk van die ware God, wat alles doen nie.+
6 Saai jou saad in die oggend en moenie jou hand laat rus voordat dit aand is nie,+ want jy weet nie watter een sal groei nie, hierdie een of daardie een, en of hulle al twee sal groei nie.
7 Die lig is soet, en dit is goed vir die oë om die son te sien. 8 Want as ’n mens lank lewe, moet hy al sy lewensjare geniet.+ Maar hy moet onthou dat die donker dae baie kan wees. Alles wat nog kom, is nutteloos.+
9 Geniet jou jeug, jong man, en laat jou hart bly wees terwyl jy jonk is. Doen wat jy graag wil doen* en gaan waar jou oë jou lei, maar weet dat die ware God jou vir al hierdie dinge verantwoordelik sal hou.*+ 10 Verwyder dus bekommernisse uit jou hart, en hou skadelike dinge weg van jou liggaam, want jeug en jonkheid gaan gou verby.*+
12 Dink aan jou Groot Skepper terwyl jy jonk is,+ voordat die moeilike dae kom+ en die jare aanbreek wanneer jy sal sê: “Ek geniet dit nie meer nie”; 2 voordat die son en die lig en die maan en die sterre donker word+ en die wolke terugkeer ná* die stortreën; 3 die dag wanneer die wagte van die huis begin bewe, en die sterk manne krom word, en die vrouens ophou maal omdat hulle min geword het, en die vrouens wat deur die vensters kyk, vind dat dit donker is;+ 4 wanneer die deure na die straat toegemaak is, wanneer die geluid van die meul dof word, wanneer jy opstaan as die voëltjies begin sing en wanneer al die dogters van die lied dof raak.+ 5 Jy is ook bang vir hoogtes en gevare op straat. En die amandelboom dra bloeisels,+ en die sprinkaan sleep hom voort, en die kapperbessie* bars oop, want die mens gaan na sy permanente huis,+ en die treurendes loop in die straat;+ 6 voordat die silwerdraad verwyder word en die goue bak stukkend breek en die kruik by die fontein breek en die waterwiel van die reënput stukkend val. 7 Dan keer die stof terug na die aarde,+ net soos dit was, en die gees* keer terug na die ware God wat dit gegee het.+
8 “Dit is heeltemal nutteloos!” sê die byeenbringer.+ “Alles is nutteloos.”+
9 Die byeenbringer het nie net wys geword nie, maar hy het ook wat hy weet, vir die volk bly leer,+ en hy het nagedink en deeglik ondersoek ingestel sodat hy baie spreuke kon saamstel.*+ 10 Die byeenbringer het probeer om aangename woorde+ te vind en om akkurate woorde van waarheid neer te skryf.
11 Die woorde van die wyses is soos osprikkels,*+ en die spreuke wat hulle versamel het, is soos spykers wat diep ingeslaan is; hulle is deur een herder gegee. 12 Wat enigiets anders betref, my seun, wees gewaarsku: Daar kom geen einde aan die maak van baie boeke nie, en groot toewyding daaraan maak ’n mens moeg.+
13 Nadat alles gehoor is, is dít die slotsom: Vrees die ware God+ en gehoorsaam sy gebooie,+ want dit is die hele verpligting van die mens.+ 14 Want die ware God sal elke daad oordeel, insluitende alles wat in die geheim gedoen word, en hy sal besluit of dit goed of sleg is.+
Of “sameroeper”.
Of “Die grootste nietigheid”.
Of “winterstrome; seisoenale strome”.
Lett. “my hart daarop gerig”.
Lett. “My hart”.
Of “uiterste dwaasheid”.
Of “bos”.
Of “eiendom soos dié van”.
Of “sy deel”.
Of “vir geboorte”.
Lett. “rond te huppel”.
Of “ordelik; gepas”.
Of moontlik “wat verbygegaan het”.
Verwys moontlik na die wyse kind.
Of “weens te veel sorge”.
Lett. “jou vlees”.
Of “boodskapper”.
Of “aan sy lewensdae dink”.
Of “sy saak bepleit by”.
Of moontlik “dinge”.
Of “nuttelose”.
Of “’n Goeie reputasie”. Lett. “’n Naam”.
Of “plesier”.
Of moontlik “om aanstoot te neem, is kenmerkend van ’n dwaas”.
Lett. “dié wat die son sien”.
Of “uitvind”.
Of “nuttelose”.
Of “regskape man”.
Of “asem; wind”.
Of moontlik “so sal die goddeloses se goddeloosheid hulle nie kan red nie”.
Lett. “die hart van mense”.
Of “nutteloos”.
Of moontlik “en dat mense dag of nag nie slaap sien nie”.
Of “loon”.
Of “elke herinnering aan hulle gaan verlore”.
D.w.s. klere wat ’n vreugdevolle gemoedstemming weerspieël, nie rouklere nie.
Of “nuttelose”.
Of “van jou nutteloosheid”.
Of “deel”.
Of “Sjeool”. Sien Woordelys.
Of “onvoorsiene”.
Of “groot beleëringswerke daarteen gebou”.
Of “bekwames”.
Of moontlik “moet versigtig daarmee werk”.
Lett. “die meester van die tong”.
Of moontlik “op jou bed”.
Of “die boodskap”.
Lett. “iets wat vlerke het”.
Of “ná baie dae”.
Lett. “gebeente”.
Of “Volg die weë van jou hart”.
Of “op grond van al hierdie dinge sal oordeel”.
Of “is nutteloosheid”.
Of moontlik “met”.
Verwys na ’n bessie wat gebruik is om eetlus te stimuleer.
Of “lewenskrag”.
Of “in volgorde kon rangskik”.
Sien Woordelys, “Prikkel”.