ESTER
1 In die tyd van Ahasʹveros,* die Ahasʹveros wat oor 127 provinsies*+ van Indië tot Etiopië* regeer het, 2 toe hy in die paleis* Susan*+ op sy koninklike troon gesit het, 3 in sy derde jaar as koning, het hy ’n feesmaal gehou vir al sy hoë amptenare en sy knegte. Die leërmag van Persië+ en Medië,+ die leiers en die heersers van die provinsies* het na die feesmaal toe gekom. 4 Ahasʹveros het baie dae lank, 180 dae lank, sy rykdom en sy glorieryke koninkryk en die eer en die prag van sy grootheid vir hulle gewys. 5 En toe hierdie dae verby was, het die koning in die voorhof van die tuin van die paleis* Susan* vir almal in die paleis, van die grootste tot die kleinste, ’n feesmaal van sewe dae gehou. 6 Daar was linne, fyn katoen, blou materiaal wat vasgemaak is met toue van goeie materiaal, pers wol in silwerringe, marmerpilare en banke van goud en silwer wat op ’n plaveisel van porfier, marmer, perlemoen en swart marmer gestaan het.
7 Wyn is in goue bekers* bedien, en elke beker was anders. Daar was koninklike wyn in oorvloed, soos net die koning kon voorsien. 8 By daardie geleentheid was die reël dat niemand gedwing* moes word om te drink nie, want die koning het vir die amptenare van sy paleis gesê dat elkeen kon doen wat hy wou.
9 Koningin Vasti+ het ook vir die vrouens ’n feesmaal by die paleis* van koning Ahasʹveros gehou.
10 Op die sewende dag, toe die koning* in ’n vrolike bui was van die wyn, het hy vir Mehuʹman, Bista, Harboʹna,+ Bigta, Abagʹta, Setar en Karkas, sy sewe persoonlike dienaars, gesê 11 om koningin Vasti met die koninklike hoofversiersel* op haar kop na die koning toe te bring, om haar skoonheid vir die volke en die leiers te wys, want sy was baie mooi. 12 Maar koningin Vasti het bly weier om op die koning se bevel te kom wat deur middel van die hofbeamptes oorgedra is. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy het gekook van woede.
13 Die koning het toe met die wyse manne gepraat wat bekend was met die prosedures.* (Hy het hulle altyd geraadpleeg omdat hulle bekend was met die wet en regsake, 14 en dié van hulle wat die naaste aan hom was, was Karseʹna, Setar, Admaʹta, Tarsis, Meres, Marseʹna en Memuʹgan, sewe leiers+ van Persië en Medië, wat toegang tot die koning gehad het en wat die hoogste posisies in die koninkryk gehad het.) 15 Die koning het gevra: “Wat moet volgens die wet met koningin Vasti gedoen word omdat sy nie gehoorsaam was aan die bevel van koning Ahasʹveros wat deur die hofbeamptes oorgedra is nie?”
16 Toe het Memuʹgan in die teenwoordigheid van die koning en die leiers gesê: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd gedoen nie,+ maar teen al die leiers en teen al die volke wat in al die provinsies* van koning Ahasʹveros is. 17 Want wat die koningin gedoen het, sal bekend word onder al die vrouens, en hulle sal nie meer respek vir hulle mans hê nie, en hulle sal sê: ‘Koning Ahasʹveros het gesê dat koningin Vasti na hom toe gebring moes word, maar sy het geweier om te kom.’ 18 Vandag nog sal die prinsesse van Persië en Medië wat weet wat die koningin gedoen het, met hulle mans hieroor praat, en dit sal baie disrespek en ontevredenheid* tot gevolg hê. 19 As die koning dit goedvind, laat ’n koninklike bevel uitgestuur word dat Vasti nooit weer voor koning Ahasʹveros mag verskyn nie. Laat dit geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie teruggetrek kan word nie.+ En laat die koning haar posisie as koningin gee aan ’n vrou wat beter as sy is. 20 Wanneer die bevel van die koning in sy hele uitgestrekte koninkryk gehoor word, sal al die vrouens hulle mans eer, of hulle nou belangrik is of nie.”
21 Die koning en die leiers het van hierdie voorstel gehou, en die koning het gedoen wat Memuʹgan gesê het. 22 Toe het hy briewe gestuur aan al die koninklike provinsies,*+ aan elke provinsie* in hulle eie skrif* en aan elke volk in hulle eie taal. Dit het gesê dat elke man die hoof* van sy eie huis moet wees en die taal van sy eie volk moet praat.
2 Ná hierdie dinge, toe die woede van koning Ahasʹveros+ bedaar het, het hy gedink aan wat Vasti gedoen het+ en aan wat oor haar besluit is.+ 2 Toe het die koning se persoonlike dienaars gesê: “Laat daar na jong, pragtige maagde vir die koning gesoek word. 3 En laat die koning mense in al die provinsies* van sy koninkryk+ aanstel om al die pragtige, jong maagde na die paleis* Susan,* na die huis van die vrouens,* te bring. Laat hulle in die sorg van Hegai,+ die eunug van die koning en die oppasser van die vrouens, geplaas word, en laat hulle skoonheidsbehandelings* ontvang. 4 En die jong vrou vir wie die koning die liefste word, sal in die plek van Vasti koningin wees.”+ Die koning het gedink dat dit ’n goeie voorstel is, en hy het dit toe gedoen.
5 Daar was ’n sekere Joodse man in die paleis* Susan,*+ en sy naam was Morʹdegai,+ die seun van Jaïr, die seun van Siʹmeï, die seun van Kis, ’n Benjaminiet,+ 6 wat uit Jerusalem in ballingskap weggeneem is saam met die volk wat verban is saam met koning Jegonʹja*+ van Juda, wat in ballingskap weggeneem is deur koning Nebukadneʹsar van Babilon. 7 Hy het Hadasʹsa,* wat ook Ester genoem is, die dogter van sy pa se broer,+ grootgemaak* omdat sy nie ’n pa of ma gehad het nie. Die jong vrou was mooi en aantreklik, en toe haar pa en ma dood is, het Morʹdegai haar as sy dogter aangeneem. 8 Toe die koning se woord en sy wet bekend gemaak is en ’n klomp jong vroue by die paleis* Susan* onder toesig van Hegai+ bymekaargebring is, is Ester ook na die koning se paleis* geneem en onder die sorg geplaas van Hegai, die oppasser van die vrouens.
9 En hy het van die jong vrou gehou, en sy het sy goedkeuring* verkry, en hy het dadelik gereël dat sy haar skoonheidsbehandelings*+ ontvang en ’n spesiale dieet volg, en hy het vir haar sewe jong uitgesoekte vrouens uit die koning se huis gegee. Hy het haar en haar jong dienaresse ook na die beste plek in die huis van die vrouens* geskuif. 10 Ester het niks oor haar volk+ of haar familielede gesê nie, want Morʹdegai+ het vir haar gesê om vir niemand te vertel nie.+ 11 Dag ná dag het Morʹdegai voor die voorhof van die huis van die vrouens* geloop om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.
12 Elke jong vrou het haar beurt gekry om na koning Ahasʹveros toe te gaan nadat sy haar 12 maande van behandeling wat vir die vrouens voorgeskryf is, voltooi het, want hulle moes hulle skoonheidsbehandelings* so voltooi: ses maande met mirre-olie+ en ses maande met balsemolie+ en verskillende soorte salf vir skoonheidsbehandeling.* 13 Dan was die jong vrou gereed om na die koning toe te gaan, en enigiets waarvoor sy gevra het, sou vir haar gegee word wanneer sy van die huis van die vrouens* na die koning se huis gegaan het. 14 In die aand het sy ingegaan en in die oggend het sy teruggekeer na die tweede huis van die vrouens* onder die toesig van Saäsʹgas die koning se eunug,+ die oppasser van die byvrouens. Sy het nie weer na die koning toe gegaan nie, tensy die koning baie van haar gehou het en hy spesifiek vir haar gevra het.+
15 En toe Ester die dogter van Abiʹhail, die oom van Morʹdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het,+ haar beurt kry om na die koning toe te gaan, het sy vir niks gevra behalwe wat Hegai, die koning se eunug, die oppasser van die vrouens, aanbeveel het nie. (Almal wat Ester gesien het, het baie van haar gehou.) 16 In die tiende maand, die maand Tebet,* in koning Ahasʹveros se sewende regeringsjaar,+ is Ester na hom toe geneem by sy koninklike huis. 17 En die koning het Ester meer liefgekry as al die ander vrouens, en sy het sy goedkeuring* verkry, en hy het meer van haar gehou as van al die ander maagde. En hy het die koninklike hoofversiersel* op haar kop gesit en haar koningin+ gemaak in die plek van Vasti.+ 18 En die koning het ’n groot feesmaal gehou vir al sy hoë amptenare en sy knegte, die feesmaal van Ester. Hy het ’n vrystelling afgekondig vir die provinsies,* en hy het aanhoudend geskenke gegee, soos net die koning dit kon doen.
19 Toe maagde*+ ’n tweede keer bymekaargebring is, het Morʹdegai in die koning se poort gesit. 20 Ester het niks gesê van haar familielede en haar volk nie,+ net soos Morʹdegai haar beveel het. Ester het aangehou om te doen wat Morʹdegai vir haar gesê het, net soos toe sy onder sy sorg was.+
21 In daardie dae, terwyl Morʹdegai in die koning se poort gesit het, het die deurwagters Bigtan en Teres, wat twee hofbeamptes van die koning was, kwaad geword en ’n plan beraam om koning Ahasʹveros dood te maak.* 22 Maar Morʹdegai het daarvan uitgevind, en hy het onmiddellik vir koningin Ester daarvan vertel. Ester het toe namens Morʹdegai met die koning gepraat. 23 Toe is die saak ondersoek en uiteindelik bevestig, en al twee mans is aan ’n paal gehang, en dit is alles voor die koning in die boek met die geskiedkundige verslae geskryf.+
3 Daarna het koning Ahasʹveros vir Haman,+ die seun van Hammedaʹta, die Agagiet,+ bevorder deur hom ’n hoër posisie te gee as al die ander leiers wat by hom was.+ 2 En al die koning se knegte wat in die koning se poort was, het gekniel en voor Haman neergebuig, want dit is wat die koning beveel het. Maar Morʹdegai het geweier om te kniel en om voor hom neer te buig. 3 Die koning se knegte wat in die koning se poort was, het dus vir Morʹdegai gevra: “Hoekom ignoreer jy die koning se bevel?” 4 Hulle het hom dag ná dag gevra, maar hy het nie na hulle geluister nie. Toe het hulle vir Haman daarvan vertel om te sien of Morʹdegai se gedrag toegelaat sou word,+ want hy het vir hulle gesê dat hy ’n Jood is.+
5 Toe Haman sien dat Morʹdegai weier om te kniel en voor hom neer te buig, het Haman woedend geword.+ 6 Maar dit was nie vir hom genoeg om net vir Morʹdegai dood te maak nie,* want hulle het hom van Morʹdegai se volk vertel. Daarom het Haman ’n manier begin soek om al die Jode dood te maak wat in die hele koninkryk van Ahasʹveros was, Morʹdegai se hele volk.
7 In die eerste maand, die maand Nisan,* in die 12de jaar+ van koning Ahasʹveros, het hulle die pur+ (dit wil sê die lot) voor Haman gewerp om die dag en die maand vas te stel, en dit het op die 12de maand, dit wil sê Adar,*+ geval. 8 Haman het toe vir koning Ahasʹveros gesê: “Daar is ’n sekere volk wat verspreid en verstrooid* is onder die volke+ in al die provinsies* van u koninkryk.+ Hulle wette is anders as alle ander volke s’n, en hulle is nie gehoorsaam aan die koning se wette nie, en dit is nie in die koning se belang om hulle so te laat aangaan nie. 9 As die koning dit goedvind, laat ’n bevel uitgestuur word dat hulle vernietig moet word. Ek sal 10 000 talente* silwer aan die amptenare gee om in die koninklike skatkamer te sit.”*
10 Toe het die koning sy seëlring+ van sy hand afgehaal en dit gegee aan Haman,+ die seun van Hammedaʹta, die Agagiet,+ wat die vyand van die Jode was. 11 Die koning het vir Haman gesê: “Die silwer en die volk word aan jou gegee, en jy kan met hulle doen net wat jy wil.” 12 Die koning se sekretarisse+ is toe op die 13de dag van die eerste maand geroep. Hulle het al Haman se bevele neergeskryf+ vir die koning se satrape,* die goewerneurs wat oor die provinsies* was en die leiers van die verskillende volke. Dit was neergeskryf in die skrif* van elke provinsie* en in die taal van elke volk. Dit was in die naam van koning Ahasʹveros geskryf en met die koning se seëlring verseël.+
13 Die briewe is deur middel van boodskappers na al die koning se provinsies* gestuur, en dit het beveel dat al die Jode, jonk sowel as oud, kinders en vrouens, op een dag, op die 13de dag van die 12de maand, die maand Adar,+ uitgeroei en doodgemaak, ja vernietig, moet word en dat al hulle besittings gevat moet word.+ 14 Die inhoud* van die dokument moes in elke provinsie* as ’n wet uitgevaardig word en aan al die volke bekend gemaak word, sodat hulle vir daardie dag voorbereid sou wees. 15 Die boodskappers het vinnig uitgegaan,+ soos die koning beveel het. Die wet is in die paleis* Susan*+ uitgevaardig. Die koning en Haman het toe gaan sit om te drink, maar die stad Susan* was in verwarring.
4 Toe Morʹdegai+ uitvind van alles wat gedoen is,+ het hy sy klere geskeur, saklinne aangetrek en as op hom gegooi. Toe het hy na die middel van die stad gegaan terwyl hy hard en bitterlik gehuil het. 2 Hy het net tot by die koning se poort gegaan, want niemand mag in saklinne in die koning se poort ingegaan het nie. 3 In elke provinsie*+ waar die Jode van die koning se woord en sy bevel gehoor het, het hulle baie getreur en gevas+ en hard gehuil. Baie van hulle het op saklinne en as+ gaan lê. 4 Toe koningin Ester se diensmeisies en haar eunugs inkom en haar vertel, was sy baie ontsteld. Sy het toe vir Morʹdegai klere gestuur om te dra eerder as sy saklinne, maar hy het geweier om dit aan te trek. 5 Toe het Ester vir Hatag geroep, een van die koning se eunugs, wat die koning as haar dienaar aangestel het, en sy het hom beveel om by Morʹdegai uit te vind wat dit alles beteken en wat aan die gang is.
6 Hatag het toe uitgegaan na Morʹdegai, wat in die openbare stadsplein voor die koning se poort was. 7 Morʹdegai het hom vertel van alles wat met hom gebeur het. En hy het vir hom gesê van die presiese bedrag geld+ wat Haman belowe het om aan die koning se skatkamer te betaal sodat die Jode vernietig kan word.+ 8 Hy het ook vir hom ’n afskrif gegee van die geskrewe bevel wat in Susan*+ uitgevaardig is wat sê dat hulle vernietig moet word. Hy moes dit vir Ester wys en dit aan haar verduidelik. Hy moes ook vir haar sê+ om na die koning toe te gaan en hom te smeek om genade aan haar volk te betoon.
9 Hatag het toe teruggekom en vir Ester vertel wat Morʹdegai gesê het. 10 Toe het Ester vir Hatag gesê om die volgende boodskap aan Morʹdegai+ te gee: 11 “Al die koning se knegte en die volk van die koning se provinsies* weet dat daar net een wet is vir enigiemand wat na die koning se binneste voorhof gaan+ sonder dat hy geroep word: Hy moet doodgemaak word. Hy mag net lewe as die koning die goue septer na hom toe uitsteek.+ En dit is nou 30 dae sedert die koning my laas geroep het.”
12 Toe Morʹdegai vertel is wat Ester gesê het, 13 het hy haar geantwoord: “Moenie dink dat jy ’n beter kans staan om vry te kom as al die ander Jode omdat jy deel van die koning se huisgesin is nie. 14 Want as jy in hierdie tyd stilbly, sal verligting en verlossing vir die Jode uit ’n ander bron kom,+ maar jy en die huis van jou vader sal vergaan. En wie weet, dalk is hierdie krisis die rede waarom jy koningin geword het.”+
15 Toe het Ester vir Morʹdegai gesê: 16 “Gaan, maak al die Jode bymekaar wat in Susan* is, en vas+ namens my. Julle moet drie dae+ en drie nagte lank niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal ook vas. Ek sal na die koning toe gaan, al is dit teen die wet, en as ek moet sterf, dan moet ek sterf.” 17 Morʹdegai het toe weggegaan en alles gedoen wat Ester vir hom gesê het om te doen.
5 Op die derde dag+ het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof oorkant die koning se paleis* gaan staan, terwyl die koning in die koninklike huis oorkant die ingang op sy koninklike troon gesit het. 2 Toe die koning vir koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy die koning se goedkeuring verkry, en hy het die goue septer in sy hand na Ester toe uitgesteek.+ Ester het nader gekom en aan die punt van die septer geraak.
3 Die koning het vir haar gevra: “Wat is fout, koningin Ester? Wat wil jy vra? Selfs die helfte van my koninkryk sal aan jou gegee word!” 4 Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat hy vandag saam met Haman+ na die feesmaal kom wat ek vir die koning voorberei het.” 5 Toe het die koning vir sy manne gesê: “Sê vir Haman om dadelik te kom, net soos Ester gevra het.” Die koning en Haman het dus na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het.
6 Later, terwyl hulle wyn gedrink het, het die koning vir Ester gesê: “Wat is dit wat jy wil hê? Dit sal aan jou gegee word! Wat kan ek vir jou gee? Selfs die helfte van my koninkryk sal aan jou gegee word!”+ 7 Ester het geantwoord: “Dít is wat ek wil vra: 8 As ek die koning se goedkeuring verkry het en as die koning dit goedvind om vir my te gee wat ek vra, laat die koning en Haman na die feesmaal toe kom wat ek môre vir hulle sal hou, en môre sal ek doen wat die koning sê.”
9 Op daardie dag was Haman in ’n goeie bui, en hy het vrolik uitgegaan. Maar toe Haman vir Morʹdegai in die koning se poort sien en opmerk dat hy nie opstaan of vir hom bang is nie, het Haman woedend geword vir Morʹdegai.+ 10 Maar Haman het hom ingehou en na sy huis toe gegaan. Toe het hy sy vriende en sy vrou Seres+ laat roep. 11 Haman het gespog oor hoe ryk hy is, hoe baie seuns hy het+ en hoe die koning hom bevorder het en hom ’n belangriker posisie gegee het as die leiers en die knegte van die koning.+
12 Haman het bygevoeg: “En nog iets, koningin Ester het net vir my en die koning genooi na die feesmaal wat sy voorberei het.+ Ek is genooi om ook môre saam met haar en die koning te wees.+ 13 Maar nie een van hierdie dinge stel my tevrede solank ek die Jood Morʹdegai in die koning se poort sien sit nie.” 14 Toe het sy vrou Seres en al sy vriende vir hom gesê: “Laat ’n paal opgerig word, 50 el* hoog. En sê dan môreoggend vir die koning dat Morʹdegai daaraan gehang moet word.+ Gaan dan saam met die koning en geniet die feesmaal.” Hierdie voorstel het goed geklink vir Haman, en daarom het hy die paal laat oprig.
6 Daardie nag kon die koning nie slaap nie.* Daarom het hy gesê dat die boek met die geskiedkundige verslae+ gebring moet word, en dit is aan die koning voorgelees. 2 Die boek het gesê wat Morʹdegai bekend gemaak het oor die deurwagters Bigtaʹna en Teres, die twee hofbeamptes van die koning wat ’n plan beraam het om koning Ahasʹveros dood te maak.*+ 3 Die koning het gevra: “Watter eer en erkenning is hiervoor aan Morʹdegai gegee?” Die koning se persoonlike dienaars het gesê: “Niks is vir hom gedoen nie.”
4 Later het die koning gevra: “Wie is in die voorhof?” Dit was toe Haman wat in die buitenste voorhof+ van die koning se paleis* ingekom het om vir die koning te vra dat Morʹdegai aan die paal gehang moet word wat hy vir hom gereedgemaak het.+ 5 Die koning se dienaars het vir hom gesê: “Dit is Haman+ wat in die voorhof staan.” Toe het die koning gesê: “Laat hom inkom.”
6 Toe Haman inkom, het die koning vir hom gevra: “Wat moet gedoen word vir die man aan wie die koning eer wil bewys?” Haman het in sy hart gesê: “Aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?”+ 7 Toe het Haman vir die koning gesê: “Wat die man betref aan wie die koning eer wil bewys, 8 laat hulle van die klere bring wat deur die koning gedra word,+ en ’n perd waarop die koning ry, met die koninklike hoofversiersel op die perd se kop. 9 Laat die klere en die perd dan in die sorg van een van die koning se belangrike manne geplaas word, en hulle moet dit vir die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys, en hulle moet hom in die openbare stadsplein op die perd laat ry. Hulle moet voor hom uitroep: ‘Só word gedoen vir die man aan wie die koning eer wil bewys!’”+ 10 Die koning het dadelik vir Haman gesê: “Maak gou! Neem die klere en die perd, en doen wat jy nou net gesê het vir die Jood Morʹdegai wat in die koning se poort sit. Jy moet alles doen wat jy gesê het.”
11 Toe het Haman die klere en die perd geneem en Morʹdegai+ aangetrek en hom in die openbare stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “Só word gedoen vir die man aan wie die koning eer wil bewys!” 12 Daarna het Morʹdegai na die koning se poort teruggekeer, maar Haman het vinnig na sy huis toe gegaan terwyl hy getreur het en sy kop bedek het. 13 Toe Haman vir sy vrou Seres+ en vir al sy vriende vertel van alles wat met hom gebeur het, het sy wyse manne en sy vrou Seres vir hom gesê: “As Morʹdegai, voor wie jy begin val het, ’n Jood is,* sal jy niks teen hom kan doen nie. Jy sal beslis voor hom val.”
14 Terwyl hulle nog met hom gepraat het, het die koning se hofbeamptes daar aangekom en Haman vinnig na die feesmaal geneem wat Ester voorberei het.+
7 Toe het die koning en Haman+ ingekom om saam met koningin Ester te eet. 2 Op die tweede dag, terwyl hulle wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Wat is dit wat jy wil hê, koningin Ester? Dit sal aan jou gegee word. En wat wil jy vra? Selfs die helfte van my koninkryk sal aan jou gegee word!”+ 3 Koningin Ester het geantwoord: “As ek u goedkeuring het, o koning, en as die koning dit goedvind, wil ek vra dat u my lewe spaar en my volk+ red. 4 Want ek en my volk is verkoop+ om uitgeroei en doodgemaak, ja vernietig, te word.+ As ons maar net as slawe en slavinne verkoop is, sou ek stilgebly het. Maar dit sal nie reg wees as hierdie ramp plaasvind nie, want dit sal veroorsaak dat die koning skade ly.”
5 Koning Ahasʹveros het toe vir koningin Ester gevra: “Wie is dit, en waar is die man wat gewaag het om so iets te doen?” 6 Ester het gesê: “Die teenstander en vyand is hierdie slegte Haman.”
Haman het baie bang geword weens die koning en die koningin. 7 Die koning het die feesmaal woedend verlaat en na die tuin van die paleis gegaan, maar omdat Haman besef het dat die koning vasbeslote is om hom te straf, het hy opgestaan om koningin Ester te smeek om sy lewe te red. 8 Die koning het van die tuin van die paleis af teruggekeer na die huis waar hulle wyn gedrink het en gesien dat Haman op die slaapbank neergeval het waarop Ester was. Die koning het uitgeroep: “Gaan hy die koningin ook nog in my eie huis verkrag?” Toe die koning dit gesê het, het hulle Haman se gesig toegemaak. 9 Harboʹna,+ een van die koning se hofbeamptes, het toe gesê: “Haman het ook ’n paal gereedgemaak vir Morʹdegai,+ die man wat die koning se lewe gered het deur wat hy gesê het.+ Dit staan by Haman se huis, 50 el* hoog.” Toe het die koning gesê: “Hang hom daaraan.” 10 Toe het hulle Haman aan die paal gehang wat hy vir Morʹdegai gereedgemaak het, en die koning se woede het bedaar.
8 Op daardie dag het koning Ahasʹveros die huis van Haman,+ die vyand van die Jode,+ vir koningin Ester gegee. Morʹdegai het toe voor die koning verskyn, want Ester het die koning vertel dat hy familie van haar is.+ 2 Toe het die koning sy seëlring afgehaal+ wat hy van Haman weggeneem het en dit vir Morʹdegai gegee. En Ester het Morʹdegai in beheer van die huis van Haman geplaas.+
3 Ester het toe weer met die koning gaan praat. Sy het by sy voete neergeval en gehuil en hom gesmeek om Haman, die Agagiet, se wrede plan teen die Jode stop te sit.+ 4 Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek,+ en daarna het Ester opgestaan en voor die koning gaan staan. 5 Sy het gesê: “As die koning dit goedvind en ek sy goedkeuring het, en as dit gepas is vir die koning en ek goed is in sy oë, wil ek vra dat ’n bevel geskryf word om die dokumente te herroep van die slinkse Haman,+ die seun van Hammedaʹta, die Agagiet.+ Hy het dit geskryf om die Jode in al die koning se provinsies* te vernietig. 6 Want ek sal dit nie kan verdra om te sien hoe hierdie ramp my volk tref en hoe my familielede vernietig word nie.”
7 Toe het koning Ahasʹveros vir koningin Ester en vir die Jood Morʹdegai gesê: “Kyk! Ek het die huis van Haman vir Ester gegee+ en hom aan die paal laat hang+ as gevolg van sy plan om die Jode aan te val.* 8 Julle mag nou in die koning se naam enigiets skryf wat julle dink goed is vir die Jode en dit met die koning se seëlring verseël, want ’n bevel wat in die koning se naam geskryf is en met die koning se seëlring verseël is, kan nie teruggetrek word nie.”+
9 Toe is die sekretarisse van die koning in daardie tyd geroep, in die derde maand, die maand Siwan,* op die 23ste dag. Hulle het alles neergeskryf wat Morʹdegai beveel het aan die Jode, die satrape,*+ die goewerneurs en die leiers van die provinsies*+ van Indië tot Etiopië, 127 provinsies.* Hulle het aan elke provinsie* geskryf in sy eie skrif* en aan elke volk in sy eie taal en aan die Jode in hulle eie skrif* en taal.
10 Hy het dit in die naam van koning Ahasʹveros neergeskryf en dit met die koning se seëlring+ verseël en die geskrewe dokumente met* boodskappers op perde gestuur. Hulle het op vinnige posperde gery wat vir koninklike diens gebruik is. 11 In hierdie dokumente het die koning aan die Jode in al die verskillende stede toestemming gegee om bymekaar te kom en om hulleself* te verdedig en om enige leërmag of volk of provinsie* wat hulle dalk sal aanval, insluitende vrouens en kinders, uit te roei, dood te maak en te vernietig en om hulle besittings te vat.+ 12 Dit moes op dieselfde dag plaasvind in al die provinsies* van koning Ahasʹveros, op die 13de dag van die 12de maand, die maand Adar.*+ 13 Die inhoud* van die dokument moes in al die provinsies* as ’n wet uitgevaardig word. Dit moes aan al die volke bekend gemaak word, sodat die Jode op daardie dag gereed sou wees om op hulle vyande wraak te neem.+ 14 Die boodskappers wat op die posperde gery het wat vir koninklike diens gebruik is, het dringend uitgegaan en vinnig gery, net soos die koning hulle beveel het. Die wet is ook in die paleis* Susan*+ uitgevaardig.
15 En Morʹdegai het van die koning af weggegaan in koninklike klere van blou en wit materiaal, en hy het ’n groot goue kroon en ’n mantel van goeie materiaal van pers wol gedra.+ En die stad Susan* het vreugdevol uitgeroep. 16 Vir die Jode was daar verligting* en blydskap en vreugde en eer. 17 En in al die provinsies* en al die stede waar die bevel en die wet van die koning gehoor is, was die Jode bly en vreugdevol. Hulle het geëet en feesgevier, en baie van die volke van die land het verklaar dat hulle Jode is,+ want hulle was bang vir die Jode.
9 Op die 13de dag van die 12de maand, die maand Adar,*+ moes die koning se woord en wet uitgevoer word.+ Dit was die dag toe die Jode se vyande gehoop het om hulle te verslaan, maar die teenoorgestelde het gebeur, en die Jode het hulle vyande verslaan.+ 2 Die Jode het in hulle stede in al die provinsies* van koning Ahasʹveros+ bymekaargekom om te gaan veg teen dié wat hulle wou aanval, en niemand kon teen die Jode staande bly nie, want al die volke was bang vir hulle.+ 3 En al die leiers van die provinsies,* die satrape,*+ die goewerneurs en dié wat na die sake van die koning omgesien het, het die Jode ondersteun, want hulle was bang vir Morʹdegai. 4 Morʹdegai het ’n hoë posisie+ in die koning se paleis* verkry, en hy het al hoe bekender geword in al die provinsies,* want Morʹdegai het magtiger en magtiger geword.
5 Die Jode het al hulle vyande met die swaard doodgemaak en vernietig. Hulle het aan hulle vyande gedoen net wat hulle wou.+ 6 In die paleis* Susan*+ het die Jode 500 manne doodgemaak. 7 Hulle het ook vir Parsandaʹta, Dalfon, Aspaʹta, 8 Poraʹta, Adalʹja, Aridaʹta, 9 Parmasʹta, Ariʹsai, Ariʹdai en Waisaʹta doodgemaak. 10 Dit was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedaʹta, die vyand van die Jode.+ Maar nadat hulle hulle doodgemaak het, het hulle nie enige van hulle besittings gevat nie.+
11 Op daardie dag is die getal van dié wat in die paleis* Susan* doodgemaak is, aan die koning bekend gemaak.
12 Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die paleis* Susan* het die Jode 500 manne en die tien seuns van Haman doodgemaak. Maar wat het hulle in die res van die koning se provinsies* gedoen?+ Wat kan ek nou vir jou doen? Dit sal aan jou gegee word. En wat wil jy nog vra? Laat dit gedoen word.” 13 Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind,+ laat die Jode wat in Susan* is, toegelaat word om ook môre volgens die wet van vandag op te tree,+ en laat die tien seuns van Haman aan die paal gehang word.”+ 14 Toe het die koning beveel dat dit gedoen moet word. ’n Wet is in Susan* uitgevaardig, en die tien seuns van Haman is gehang.
15 Die Jode in Susan* het op die 14de dag van die maand Adar+ weer bymekaargekom, en hulle het 300 manne in Susan* doodgemaak, maar hulle het nie enige van hulle besittings gevat nie.
16 Die res van die Jode in die provinsies* van die koning het ook bymekaargekom en hulleself verdedig.+ Hulle het ontslae geraak van hulle vyande+ deur 75 000 van hulle dood te maak, maar hulle het nie enige van hulle besittings gevat nie. 17 Dit was op die 13de dag van die maand Adar, en hulle het op die 14de dag gerus en dit ’n dag gemaak waarop hulle feesgevier het en vreugdevol was.
18 Die Jode in Susan* het op die 13de+ en die 14de+ dag bymekaargekom, en hulle het op die 15de dag gerus en dit ’n dag gemaak waarop hulle feesgevier het en vreugdevol was. 19 Daarom het die Jode wat op die platteland gewoon het, die 14de dag van die maand Adar ’n dag gemaak waarop hulle bly was en feesgevier het+ en kos aan mekaar gestuur het.+
20 Morʹdegai+ het hierdie dinge neergeskryf en amptelike briewe aan al die Jode gestuur in al die provinsies* van koning Ahasʹveros, aan dié wat naby sowel as dié wat ver was. 21 Hy het vir hulle gesê om elke jaar die 14de en 15de dag van die maand Adar te vier, 22 want op daardie dae is die Jode verlos van hulle vyande, en in daardie maand is hulle hartseer in blydskap verander, en hulle getreur+ in feesviering. Hulle moes dit as dae van feesviering en blydskap vier en as ’n tyd om kos aan mekaar en geskenke aan die armes te stuur.
23 En die Jode het ingestem om elke jaar hierdie fees te vier en om te doen wat Morʹdegai aan hulle geskryf het. 24 Want Haman,+ die seun van Hammedaʹta, die Agagiet,+ die vyand van al die Jode, het ’n plan teen die Jode beraam om hulle te vernietig,+ en hy het die pur,+ of die lot, laat werp om hulle paniekbevange te maak en om hulle te vernietig. 25 Maar toe Ester voor die koning inkom, het hy ’n bevel laat neerskryf+ wat sê: “Laat die wrede dinge wat hy teen die Jode beplan het,+ met hom gebeur,” en hulle het hom en sy seuns aan die paal gehang.+ 26 Hulle het hierdie dae dus Purim genoem, na die naam van die pur.*+ En as gevolg van alles in hierdie brief en wat hulle gesien het en wat met hulle gebeur het, 27 het die Jode hulleself en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit,+ verplig om hierdie twee dae elke jaar op die vasgestelde tyd te vier en om alles te doen wat daaroor geskryf is. 28 Hierdie dae moes in elke geslag, elke familie, elke provinsie* en elke stad onthou en gevier word. En hierdie dae van die Purim moenie tot ’n einde kom onder die Jode nie, en die herdenking daarvan moenie tot ’n einde kom onder hulle nakomelinge nie.
29 Toe het koningin Ester, die dogter van Abiʹhail, sowel as die Jood Morʹdegai hulle gesag gebruik en ’n tweede brief geskryf om die Purim te bevestig. 30 Hy het amptelike briewe met woorde van vrede en waarheid aan al die Jode in die 127 provinsies*+ van die koninkryk van Ahasʹveros+ gestuur. 31 Die briewe het die herdenking van hierdie dae van die Purim op hulle vasgestelde tye bevestig, net soos die Jood Morʹdegai en koningin Ester hulle beveel het om te doen+ en net soos hulle hulleself en hulle nakomelinge verplig het om te doen.+ Hy het ook gesê dat hulle moet vas+ en smeekgebede+ moet doen. 32 En die bevel van Ester het hierdie sake van die Purim+ bevestig, en dit is in ’n boek neergeskryf.
10 Koning Ahasʹveros het die inwoners van die land en van die eilande van die see gedwing om vir hom te werk.
2 En al sy groot en kragtige prestasies sowel as die verslag met al die besonderhede van hoe hy Morʹdegai+ verheerlik het,+ is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae+ van die konings van Medië en Persië.+ 3 Net koning Ahasʹveros het ’n hoër posisie as die Jood Morʹdegai gehad. Morʹdegai was groot* onder die Jode, en hulle het hom gerespekteer, en hy het hard gewerk om goeie dinge vir sy volk te doen en om te sorg dat dit goed gaan met* al hulle nakomelinge.
Daar word gemeen dat dit Xerxes I, seun van Darius die Grote (Darius Hystaspis) is.
Of “regsgebiede”.
Of “Kus”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “regsgebiede”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “houers”.
Of “gekeer”.
Lett. “koninklike huis”.
Lett. “die koning se hart”.
Of “tulband”.
Of “die gebruike van daardie dae”. Lett. “die tye”.
Of “regsgebiede”.
Of “verontwaardiging; woede”.
Lett. “die regsgebiede van die koning”.
Of “regsgebied”.
Of “skryfstyl”.
Of “meester”.
Of “regsgebiede”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “na die harem”.
Of “masserings”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Word Jojagin genoem in 2Kn 24:8.
Beteken “mirt”, ’n soort plant.
Of “Hy was die oppasser (voog) van . . . ”
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Lett. “huis”.
Of “lojale liefde”.
Of “masserings”.
Of “in die harem”.
Of “die voorhof van die harem”.
Of “masserings”.
Of “en met die masserings van die vrouens”.
Of “van die harem”.
Of “die tweede harem”.
Sien Aanh. B15.
Of “lojale liefde”.
Of “tulband”.
Of “regsgebiede”.
Of “jong vroue”.
Lett. “om die hand aan koning Ahasveros te slaan”.
Lett. “’n hand aan Mordegai alleen te slaan nie”.
Sien Aanh. B15.
Sien Aanh. B15.
Of “afgesonderd”.
Of “regsgebiede”.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
Of moontlik “Ek sal 10 000 talente silwer aan die koninklike skatkamer oorbetaal vir diegene wat hierdie werk doen”.
Titel wat “beskermers van die ryk” beteken, hier gebruik vir goewerneurs van provinsies in die Persiese Ryk.
Of “regsgebiede”.
Of “skryfstyl”.
Of “regsgebied”.
Of “regsgebiede”.
Lett. “’n Afskrif”.
Of “regsgebied”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “Susa”.
Of “regsgebied”.
Of “Susa”.
Of “regsgebiede”.
Of “Susa”.
Lett. “huis”.
Omtrent 22,3 m. Sien Aanh. B14.
Lett. “het die koning se slaap gevlug”.
Lett. “om die hand aan koning Ahasveros te slaan”.
Lett. “huis”.
Lett. “van die saad van die Jode is”.
Omtrent 22,3 m. Sien Aanh. B14.
Of “regsgebiede”.
Lett. “omdat hy sy hand uitgesteek het teen die Jode”.
Sien Aanh. B15.
Titel wat “beskermers van die ryk” beteken, hier gebruik vir goewerneurs van provinsies in die Persiese Ryk.
Of “regsgebiede”.
Of “regsgebiede”.
Of “regsgebied”.
Of “skryfstyl”.
Of “skryfstyl”.
Lett. “deur die hand van”.
Of “hulle siele”.
Of “regsgebied”.
Of “regsgebiede”.
Sien Aanh. B15.
Of “afskrif”.
Of “regsgebiede”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “Susa”.
Lett. “lig”.
Of “regsgebiede”.
Sien Aanh. B15.
Of “regsgebiede”.
Of “regsgebiede”.
Titel wat “beskermers van die ryk” beteken, hier gebruik vir goewerneurs van provinsies in die Persiese Ryk.
Lett. “huis”.
Of “regsgebiede”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “regsgebiede”.
Of “Susa”.
Of “Susa”.
Of “Susa”.
Of “Susa”.
Of “regsgebiede”.
Of “Susa”.
Of “regsgebiede”.
Beteken “lot”. Die meervoudsvorm purim het die naam geword van die Joodse fees wat in die 12de maand van die heilige kalender gevier is. Sien Aanh. B15.
Of “regsgebied”.
Of “regsgebiede”.
Of “hooggeag”.
Lett. “en vrede gespreek vir”.