ESRA
1 In die eerste jaar van koning Kores+ van Persië het Jehovah hom beweeg* om ’n aankondiging regoor sy koninkryk te laat maak. Dit het vervul wat Jehovah deur middel van Jeremia+ gesê het. Die aankondiging, wat die koning ook laat neerskryf het,+ het gesê:
2 “Dít is wat koning Kores van Persië sê: ‘Jehovah, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee,+ en hy het my die opdrag gegee om vir hom ’n huis in Jerusalem,+ wat in Juda is, te bou. 3 Mag julle God met elkeen van julle wees wat deel van sy volk is, en laat hom na Jerusalem, wat in Juda is, gaan en die huis herbou van Jehovah, die God van Israel, die ware God, wie se huis in Jerusalem was.* 4 Laat enigeen wat as ’n uitlander+ in die ryk woon, waar hy ook al is, deur sy medemens* gehelp word. Laat hulle vir hom silwer en goud gee, asook goedere en vee, saam met die vrywillige offer vir die huis van die ware God,+ wat in Jerusalem was.’”
5 Toe het elkeen wat beweeg is* deur die ware God, naamlik die hoofde van die vaderhuise van Juda en van Benjamin en die priesters en die Leviete hulle voorberei om te gaan en die huis van Jehovah, wat in Jerusalem was, te herbou. 6 Almal om hulle het hulle ondersteun* deur vir hulle voorwerpe van silwer en van goud, goedere, vee en waardevolle dinge te gee, buiten al die vrywillige offerandes.
7 Koning Kores het ook die voorwerpe van die huis van Jehovah uitgebring. Dit was die voorwerpe wat Nebukadneʹsar uit Jerusalem geneem het en in die huis van sy god gesit het.+ 8 Koning Kores van Persië het Mitʹredat, die skatmeester, aangestel om dit uit te bring en ’n lys daarvan te maak vir Sesʹbassar,*+ die hoofman van Juda.
9 Hier volg die lys van die voorwerpe: 30 mandjievormige goue houers, 1 000 mandjievormige silwerhouers, 29 ander houers, 10 30 goue bakkies, 410 silwerbakkies, 1 000 ander voorwerpe. 11 Daar was altesaam 5 400 voorwerpe van goud en van silwer. Sesʹbassar het dit alles saamgebring toe die ballinge*+ uit Babilon na Jerusalem gebring is.
2 Hier volg ’n lys van die mense van die provinsie* wat uit die gevangenskap van die ballinge gekom het.+ Dit was die mense wat in ballingskap na Babilon weggeneem is+ deur koning Nebukadneʹsar van Babilon en wat later na Jerusalem en Juda teruggekeer het, elkeen na sy eie stad,+ 2 die mense wat saam met Serubbaʹbel,+ Jeʹsua,+ Nehemiʹa, Seraʹja, Reëlaʹja, Morʹdegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Rehum en Baäna gekom het.
Die getal Israelitiese manne het die volgende ingesluit:+ 3 die kinders van Paros: 2 172. 4 Die kinders van Sefatʹja: 372. 5 Die kinders van Arag:+ 775. 6 Die kinders van Pahat-Moab,+ van die kinders van Jeʹsua en Joab: 2 812. 7 Die kinders van Elam:+ 1 254. 8 Die kinders van Sattu:+ 945. 9 Die kinders van Sakkai: 760. 10 Die kinders van Bani: 642. 11 Die kinders van Bebai: 623. 12 Die kinders van Asgad: 1 222. 13 Die kinders van Adoniʹkam: 666. 14 Die kinders van Bigwai: 2 056. 15 Die kinders van Adin: 454. 16 Die kinders van Ater, van Hiskiʹa: 98. 17 Die kinders van Besaï: 323. 18 Die kinders van Jora: 112. 19 Die kinders van Hasum:+ 223. 20 Die kinders van Gibbar: 95. 21 Die kinders van Betlehem: 123. 22 Die manne van Netoʹfa: 56. 23 Die manne van Aʹnatot:+ 128. 24 Die kinders van Asmaʹwet: 42. 25 Die kinders van Kirʹjat-Jeaʹrim, Kefiʹra en Beʹërot: 743. 26 Die kinders van Rama+ en Geba:+ 621. 27 Die manne van Migmas: 122. 28 Die manne van Bet-El en Ai:+ 223. 29 Die kinders van Nebo:+ 52. 30 Die kinders van Magbis: 156. 31 Die kinders van die ander Elam: 1 254. 32 Die kinders van Harim: 320. 33 Die kinders van Lod, Hadid en Ono: 725. 34 Die kinders van Jeʹrigo: 345. 35 Die kinders van Seʹnaä: 3 630.
36 Die priesters:+ die kinders van Jedaʹja+ van die huis van Jeʹsua:+ 973. 37 Die kinders van Immer:+ 1 052. 38 Die kinders van Pasgur:+ 1 247. 39 Die kinders van Harim:+ 1 017.
40 Die Leviete:+ die kinders van Jeʹsua en Kadʹmiël,+ van die kinders van Hodawʹja: 74. 41 Die sangers:+ die kinders van Asaf:+ 128. 42 Die kinders van die poortwagters:+ die kinders van Sallum, die kinders van Ater, die kinders van Talmon,+ die kinders van Akkub,+ die kinders van Hatiʹta, die kinders van Sobai: altesaam 139.
43 Die tempelknegte:*+ die kinders van Siha, die kinders van Hasuʹfa, die kinders van Tabʹbaot, 44 die kinders van Keros, die kinders van Siʹaha, die kinders van Padon, 45 die kinders van Lebaʹna, die kinders van Hagaʹba, die kinders van Akkub, 46 die kinders van Hagab, die kinders van Salmai, die kinders van Hanan, 47 die kinders van Giddel, die kinders van Gahar, die kinders van Reaʹja, 48 die kinders van Resin, die kinders van Nekoʹda, die kinders van Gassam, 49 die kinders van Ussa, die kinders van Paseʹag, die kinders van Besai, 50 die kinders van Asna, die kinders van Meünim, die kinders van Neʹfusim, 51 die kinders van Bakbuk, die kinders van Hakuʹfa, die kinders van Harhur, 52 die kinders van Baslut, die kinders van Mehiʹda, die kinders van Harsa, 53 die kinders van Barkos, die kinders van Siʹsera, die kinders van Temag, 54 die kinders van Nesiʹag, die kinders van Hatiʹfa.
55 Die kinders van die knegte van Salomo: die kinders van Sotai, die kinders van Sofeʹret, die kinders van Peruʹda,+ 56 die kinders van Jaʹäla, die kinders van Darkon, die kinders van Giddel, 57 die kinders van Sefatʹja, die kinders van Hattil, die kinders van Pogeʹret-Hassebaʹim, die kinders van Ami.
58 Al die tempelknegte* en die kinders van die knegte van Salomo was 392.
59 En hier volg ’n lys van die mense wat opgetrek het uit Tel-Melag, Tel-Harsa, Kerub, Addon en Immer, maar omdat hulle nie hulle vaderhuis en oorsprong kon bevestig nie, kon hulle nie bewys dat hulle Israeliete is nie:+ 60 die kinders van Delaʹja, die kinders van Tobiʹa, die kinders van Nekoʹda: 652. 61 En van die kinders van die priesters: die kinders van Habaʹja, die kinders van Hakkos,+ die kinders van Barsilʹlai, wat ’n vrou uit die dogters van Barsilʹlai,+ die Gileadiet, geneem het en na hom vernoem is. 62 Hulle het na hulle name in die registers gesoek om te bevestig van wie hulle afstam, maar hulle kon dit nie vind nie, en daarom is hulle nie toegelaat om as priesters te dien nie.*+ 63 Die goewerneur* het vir hulle gesê dat hulle nie van die besonder heilige dinge mag eet+ voordat ’n priester die saak met die Urim en Tummim+ kon bevestig nie.
64 Daar was altesaam 42 360 in die gemeente,+ 65 maar dit het nie hulle 7 337 slawe en slavinne ingesluit nie. Daar was ook 200 sangers en sangeresse. 66 Hulle het 736 perde gehad, asook 245 muile, 67 435 kamele en 6 720 donkies.
68 Toe hulle by die huis van Jehovah in Jerusalem aankom, het party van die hoofde van die vaderhuise vrywillige bydraes+ vir die huis van die ware God gegee om dit op sy plek te herbou.*+ 69 Elkeen het gegee wat hy kon, en hulle het altesaam 61 000 goue dragmas,* 5 000 silwerminas*+ en 100 stelle priesterlike klere tot die fonds* vir die projek bygedra. 70 Die priesters, die Leviete, party van die volk, die sangers, die poortwagters en die tempelknegte* het in hulle stede gaan woon, en die res van Israel* het in hulle stede gaan woon.+
3 Toe die sewende maand+ aanbreek en die Israeliete in hulle stede was, het hulle soos een man in Jerusalem bymekaargekom. 2 Jeʹsua,+ die seun van Joʹsadak, en sy mede-priesters en Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël,+ en sy broers het opgestaan en die altaar van die God van Israel gebou, sodat hulle brandoffers daarop kon bring, volgens wat geskryf is in die Wet van Moses,+ die man van die ware God.
3 Hulle het die altaar op sy vorige plek opgestel, al was hulle bang vir die volke van die omliggende lande,+ en hulle het brandoffers aan Jehovah daarop begin offer, die brandoffers van die oggend en van die aand.+ 4 Toe het hulle die Huttefees* gehou volgens wat geskryf is,+ en dag ná dag het hulle die spesifieke aantal brandoffers geoffer wat vir elke dag vereis is.+ 5 Daarna het hulle die gereelde brandoffer geoffer,+ asook dié vir die nuwemane+ en dié vir die geheiligde feestye+ van Jehovah en ook die offerandes van elkeen wat uit vrye wil ’n gawe aan Jehovah geoffer het.+ 6 Van die eerste dag van die sewende maand+ af het hulle brandoffers aan Jehovah begin bring, al was die fondament van Jehovah se tempel nog nie gelê nie.
7 Hulle het geld aan die klipkappers+ en aan die ambagsmanne+ gegee, en hulle het kos en drank en olie aan die Sidoniërs en die Tiriërs gegee omdat hulle stompe van sederhout uit die Liʹbanon-berge na die hawe by Joppe+ gebring het. Dit was goedgekeur deur koning Kores van Persië.+
8 In die tweede maand van die tweede jaar, nadat hulle by die huis van die ware God in Jerusalem gekom het, het Serubbaʹbel, die seun van Sealʹtiël, Jeʹsua, die seun van Joʹsadak, en die res van hulle broers, die priesters en die Leviete, sowel as almal wat uit die gevangenskap na Jerusalem gekom het,+ met die werk begin. Hulle het die Leviete wat 20 jaar en ouer was, aangestel om oor die werk aan die huis van Jehovah toesig te hou. 9 En Jeʹsua, sy seuns en sy broers, en Kadʹmiël en sy seuns, die seuns van Juda, asook die seuns van Heʹnadad,+ hulle seuns en hulle broers, die Leviete, het bymekaargekom om toesig te hou oor dié wat die werk in die huis van die ware God gedoen het.
10 Toe die bouers die fondament van die tempel van Jehovah gelê het,+ het die priesters in hulle priesterlike klere met die trompette,+ en die Leviete, die seuns van Asaf, met die simbale opgestaan om Jehovah te loof soos koning Dawid van Israel voorgeskryf het.+ 11 En hulle het beurte gemaak om te sing+ en het Jehovah met die volgende woorde begin loof en dank: “Hy is goed, en sy lojale liefde vir Israel duur vir ewig.”+ Toe het die hele volk Jehovah geloof met ’n groot gejuig omdat die fondament van die huis van Jehovah gelê is. 12 Baie van die priesters, die Leviete en die hoofde van die vaderhuise – die ou manne wat die vorige huis gesien het+ – het met ’n harde stem gehuil toe hulle sien hoe die fondament van hierdie huis gelê word, terwyl baie ander vreugdevol en hard uitgeroep het.+ 13 Die volk kon nie die geluid van die vreugdevolle uitroepe onderskei van die geluid van die gehuil van die volk nie, want die volk het so hard uitgeroep dat die geluid van ver af gehoor kon word.
4 Toe die vyande van Juda en Benjamin+ hoor dat die ballinge* wat teruggekeer het,+ ’n tempel vir Jehovah, die God van Israel, bou, 2 het hulle onmiddellik na Serubbaʹbel en die hoofde van die vaderhuise toe gegaan en vir hulle gesê: “Laat ons saam met julle bou, want ons aanbid* julle God,+ net soos julle. Ons bring offerandes aan hom al sedert die dae van koning Esar-Haddon+ van Assiʹrië, wat ons hierheen gebring het.”+ 3 Maar Serubbaʹbel en Jeʹsua en die res van die hoofde van die vaderhuise van Israel het vir hulle gesê: “Julle het nie die reg om ’n huis vir ons God saam met ons te bou nie.+ Ons sal dit alleen bou vir Jehovah, die God van Israel, net soos koning Kores van Persië ons beveel het.”+
4 Toe het die volk van die land voortdurend die volk van Juda ontmoedig* sodat hulle met die bouwerk sou ophou.+ 5 Hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle planne te laat misluk,+ al die dae van koning Kores van Persië tot die regering van koning Darius+ van Persië. 6 Aan die begin van die regering van Ahasʹveros het hulle ’n brief geskryf waarin hulle die inwoners van Juda en Jerusalem beskuldig het. 7 En in die tyd van koning Artasasʹta van Persië het Bislam, Mitʹredat, Taʹbeël en die res van sy bondgenote ’n brief aan koning Artasasʹta geskryf. Hulle het die brief in Aramees+ vertaal en dit met Aramese letters geskryf.*
8 * Rehum, die hoofregeringsamptenaar, en Simsai, die skrywer, het ’n brief teen Jerusalem aan koning Artasasʹta geskryf. Dit het gesê: 9 (Dit was van Rehum, die hoofregeringsamptenaar, en Simsai, die skrywer, en die res van hulle bondgenote, die regters en die ondergoewerneurs, die sekretarisse, die volk van Ereg,+ die Babiloniërs, die inwoners van Susa,+ dit wil sê die Elamiete,+ 10 en die res van die nasies wat deur die groot en vername Asenapʹpar in ballingskap weggeneem is en wat hy in die stede van Samariʹa+ laat woon het en die ander mense van die gebied anderkant die Rivier,* en 11 hier volg ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het.)
“Aan koning Artasasʹta, van u knegte, die manne van die gebied anderkant die Rivier: 12 Laat dit aan die koning bekend wees dat die Jode wat van u af na ons toe gekom het, in Jerusalem aangekom het. Hulle is besig om die opstandige en slegte stad te herbou,+ en hulle voltooi die mure en maak die fondamente reg. 13 Laat dit nou aan die koning bekend wees dat hulle geen belasting, skatting*+ of tolgeld sal betaal as hierdie stad herbou word en die mure voltooi word nie, en dit sal ’n verlies wees vir die skatkamers van die konings. 14 Ons ontvang ons salaris van die paleis,* en dit is nie vir ons gepas om te sien dat die koning skade ly nie, en daarom het ons hierdie brief gestuur om dit aan die koning bekend te maak, 15 sodat die boek met die geskiedkundige verslae van u voorouers ondersoek kan word.+ U sal in die boek sien dat hierdie stad opstandig is en dat hulle ’n bedreiging inhou vir konings en provinsies.* Daar was nog altyd persone in hierdie stad wat ander aangespoor het om in opstand te kom, en dit is waarom hierdie stad vernietig is.+ 16 Ons maak aan die koning bekend dat, as hierdie stad herbou word en die mure voltooi word, u geen beheer* oor die gebied anderkant die Rivier+ sal hê nie.”
17 Die koning het die volgende boodskap gestuur aan Rehum, die hoofregeringsamptenaar, en Simsai, die skrywer, en die res van hulle bondgenote wat in Samariʹa gewoon het en die ander mense van die gebied anderkant die Rivier:
“Groete! 18 Die amptelike dokument wat julle aan ons gestuur het, is duidelik aan my voorgelees.* 19 Op my bevel is daar ondersoek ingestel, en daar is gevind dat hierdie stad van vroeë tye af teen konings in opstand gekom het en dat die mense daar gerebelleer het en opstandig was.+ 20 Jerusalem het magtige konings gehad wat oor die hele gebied anderkant die Rivier regeer het, en belasting, skatting* en tolgeld is aan hulle betaal. 21 Reik nou ’n bevel uit dat hierdie manne moet ophou werk, sodat die stad nie herbou mag word totdat ek die bevel gee nie. 22 Sorg dat julle dadelik aandag gee aan hierdie saak, sodat die koning nie verder benadeel word nie.”+
23 En nadat die afskrif van die amptelike dokument van koning Artasasʹta aan Rehum en Simsai, die skrywer, en hulle bondgenote voorgelees is, het hulle vinnig na Jerusalem gegaan na die Jode toe en hulle met geweld gedwing om op te hou werk. 24 Toe het die werk aan die huis van God, wat in Jerusalem was, opgehou, en dit het stilgestaan tot die tweede regeringsjaar van koning Darius van Persië.+
5 Toe het die profete Haggai+ en Sagariʹa,+ die kleinseun van Iddo,+ vir die Jode wat in Juda en in Jerusalem was, geprofeteer in die naam van die God van Israel wat oor hulle was. 2 Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël, asook Jeʹsua,+ die seun van Joʹsadak, het toe die huis van God,+ wat in Jerusalem was, begin herbou. En die profete van God was met hulle en het hulle ondersteun.+ 3 Tatʹtenai, die goewerneur van die gebied anderkant die Rivier,* en Seʹtar-Boʹsenai en die ander amptenare het in daardie tyd na hulle toe gekom en hulle gevra: “Wie het julle beveel om hierdie huis te bou en om hierdie bouwerk te voltooi?”* 4 Toe het hulle vir hulle gevra: “Wat is die name van die manne wat aan hierdie gebou werk?” 5 Maar God het gewaak oor* die ouermanne van die Jode,+ en hulle het hulle nie gekeer totdat die berig na Darius gestuur kon word en ’n amptelike dokument hieroor teruggestuur kon word nie.
6 Hier is ’n afskrif van die brief wat Tatʹtenai, die goewerneur van die gebied anderkant die Rivier, en Seʹtar-Boʹsenai en die ander amptenare, die ondergoewerneurs van die gebied anderkant die Rivier, aan koning Darius gestuur het. 7 Hulle het die berig aan hom gestuur, en hulle het die volgende geskryf:
“Aan koning Darius:
“Alle vrede! 8 Laat dit aan die koning bekend wees dat ons na die provinsie* van Juda gegaan het, na die huis van die groot God, en dit word gebou met groot klippe wat op hulle plek gerol word, en balke word in die mure gelê. Die werk word gretig deur die mense gedoen en dit vorder goed. 9 Toe het ons hulle ouermanne gevra: ‘Wie het julle beveel om hierdie huis te bou en om hierdie bouwerk te voltooi?’*+ 10 Ons het ook hulle name gevra sodat ons die name kon neerskryf en u kon laat weet wie die manne is wat die leiding neem.
11 “Hulle het ons die volgende antwoord gegee: ‘Ons is die knegte van die God van die hemel en die aarde, en ons herbou die huis wat baie jare gelede gebou is, wat ’n groot koning van Israel gebou en voltooi het.+ 12 Maar omdat ons vaders die God van die hemel kwaad gemaak het,+ het hy hulle gegee in die hand van koning Nebukadneʹsar+ van Babilon, die Galdeër, wat hierdie huis vernietig het+ en die volk in ballingskap na Babilon weggeneem het.+ 13 Koning Kores van Babilon het egter in sy eerste regeringsjaar beveel dat hierdie huis van God herbou moet word.+ 14 Nebukadneʹsar het goue en silwerhouers uit die tempel van God in Jerusalem geneem en dit na die tempel van Babilon gebring.+ Maar koning Kores het hierdie houers uit die tempel van Babilon gaan haal en dit gegee aan ’n man met die naam Sesʹbassar,*+ wat deur Kores as goewerneur+ aangestel is. 15 Kores het vir hom gesê: “Neem hierdie houers. Gaan sit dit in die tempel wat in Jerusalem is, en laat die huis van God op sy vorige plek herbou word.”+ 16 Toe het hierdie Sesʹbassar gekom, en hy het die fondamente gelê van die huis van God,+ wat in Jerusalem is, en dit word van toe af tot nou toe herbou, maar dit is nog nie voltooi nie.’+
17 “As die koning dit dan goedvind, laat daar ondersoek ingestel word in die koninklike skathuis wat daar in Babilon is om vas te stel of koning Kores beveel het dat die huis van God in Jerusalem herbou moet word,+ en laat die koning se besluit hieroor aan ons gestuur word.”
6 Toe het koning Darius ’n bevel uitgevaardig, en hulle het ondersoek ingestel in die argiefgebou* waar die skatte in Babilon gebêre is. 2 En ’n boekrol is gevind in die paleis Ekbataʹna, in die provinsie* van Medië, en die volgende boodskap was daarop geskryf:
3 “In die eerste jaar van koning Kores het hy ’n bevel uitgevaardig aangaande die huis van God in Jerusalem:+ ‘Laat die huis herbou word as die plek waar hulle offerandes moet bring, en die fondamente moet gelê word, en die huis moet 60 el* hoog wees en 60 el breed,+ 4 met drie lae groot klippe wat op hulle plek gerol word en een laag balke,+ en laat die koning se huis die koste betaal.+ 5 Nebukadneʹsar het die goue en silwerhouers uit die tempel in Jerusalem geneem en dit toe na Babilon gebring.+ Laat die houers teruggegee word, sodat dit op hulle plek in die tempel in Jerusalem, in die huis van God, gesit kan word.’+
6 “En julle – Tatʹtenai, die goewerneur van die gebied anderkant die Rivier,* Seʹtar-Boʹsenai en die ander amptenare, die ondergoewerneurs van die gebied anderkant die Rivier+ – julle moet daarvandaan wegbly. 7 Moenie met die werk aan die huis van God inmeng nie. Die goewerneur van die Jode en die ouermanne van die Jode sal die huis van God op sy vorige plek herbou. 8 En ek vaardig ’n bevel uit wat sê wat julle vir hierdie ouermanne van die Jode moet doen om die huis van God te herbou: Neem geld uit die koninklike skatkis,+ uit die belastinggeld wat in die gebied anderkant die Rivier ingesamel is. Gee dit onmiddellik aan hierdie manne sodat hulle sonder onderbreking kan voortgaan.+ 9 En wat ook al nodig is – jong bulle+ sowel as skaapramme+ en lammers+ vir die brandoffers aan die God van die hemel, koring,+ sout,+ wyn+ en olie,+ net soos die priesters sê wat in Jerusalem is – moet elke dag aan hulle gegee word, 10 sodat hulle voortdurend offerandes kan aanbied waarmee die God van die hemel tevrede is en sodat hulle vir die lewe van die koning en sy seuns kan bid.+ 11 Ek het ook ’n bevel uitgevaardig dat daar ’n balk uit die huis geruk sal word van enigiemand wat ongehoorsaam is aan hierdie bevel en dat hy daaraan opgehang sal word,* en sy huis sal ’n openbare toilet* gemaak word as gevolg van hierdie oortreding. 12 En mag die God wat sy naam daar laat woon het,+ enige koning en volk tot ’n val bring wat ongehoorsaam is aan hierdie opdrag en die huis van God, wat in Jerusalem is, probeer vernietig. Ek, Darius, vaardig hierdie bevel uit. Laat dit onmiddellik gedoen word.”
13 Toe het Tatʹtenai, die goewerneur van die gebied anderkant die Rivier, Seʹtar-Boʹsenai+ en die ander amptenare onmiddellik alles gedoen wat koning Darius beveel het. 14 En die ouermanne van die Jode het aangehou bou en het vordering gemaak+ omdat hulle aangespoor is deur die profesieë van die profeet Haggai+ en Sagaria,+ die kleinseun van Iddo. Hulle het die gebou voltooi op bevel van die God van Israel+ en op bevel van Kores+ en Darius+ en koning Artasasʹta+ van Persië. 15 Hulle het die tempel voltooi teen die derde dag van die maand Adar,* in die sesde regeringsjaar van koning Darius.
16 Toe het die Israeliete, die priesters, die Leviete+ en die res van die vorige ballinge* die toewyding* van hierdie huis van God vreugdevol gevier. 17 En hulle het vir die toewyding van hierdie huis van God 100 bulle, 200 skaapramme en 400 lammers aangebied, sowel as 12 bokramme as ’n sonde-offer vir die hele Israel, volgens die getal van die stamme van Israel.+ 18 Hulle het die priesters in hulle groepe en die Leviete in hulle afdelings aangestel vir die diens van God in Jerusalem,+ volgens wat in die boek van Moses geskryf is.+
19 En die persone wat voorheen ballinge was, het die Pasga op die 14de dag van die eerste maand+ gehou. 20 Die priesters en die Leviete het hulleself sonder uitsondering gereinig,+ en hulle almal was rein. Hulle het die Pasga-offer geslag vir almal wat voorheen ballinge was, vir hulle mede-priesters en vir hulleself. 21 Toe het die Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het, daarvan geëet, asook elkeen wat by hulle aangesluit het en wat hom van die onreinheid van die nasies van die land afgeskei het om Jehovah, die God van Israel, te aanbid.*+ 22 Hulle het ook die Fees van die Ongesuurde Brode+ sewe dae lank met blydskap gehou, want Jehovah het hulle vreugdevol gemaak, en hy het die koning van Assiʹrië se gesindheid teenoor hulle laat verander,+ en die koning het hulle toe ondersteun* in die werk aan die huis van die ware God, die God van Israel.
7 Ná hierdie dinge, gedurende die regering van koning Artasasʹta+ van Persië, het Esra*+ teruggekeer. Hy was die seun van Seraʹja,+ die seun van Asarʹja, die seun van Hilkiʹa,+ 2 die seun van Sallum, die seun van Sadok, die seun van Ahiʹtub, 3 die seun van Amarʹja, die seun van Asarʹja,+ die seun van Meʹrajot, 4 die seun van Seragʹja, die seun van Ussi, die seun van Bukki, 5 die seun van Abisuʹa, die seun van Piʹnehas,+ die seun van Eleaʹsar,+ die seun van die hoofpriester Aäron.+ 6 Hierdie Esra het van Babilon af gekom. Hy was ’n kopiis* wat baie kennis gehad het van* die Wet van Moses,+ wat Jehovah, die God van Israel, gegee het. Die koning het vir hom alles gegee wat hy gevra het, want die hand van Jehovah sy God was met hom.
7 Party van die Israeliete, die priesters, die Leviete,+ die sangers,+ die poortwagters+ en die tempelknegte*+ het in die sewende jaar van koning Artasasʹta na Jerusalem gegaan. 8 En Esra het in die vyfde maand, in die sewende jaar van die koning, na Jerusalem toe gekom. 9 Op die eerste dag van die eerste maand het hy die reis uit Babilon aangepak, en hy het op die eerste dag van die vyfde maand in Jerusalem aangekom, want die goeie hand van sy God was met hom.+ 10 Esra het sy hart voorberei* om die Wet van Jehovah te raadpleeg en om te doen wat dit sê+ en om die wetsvoorskrifte en die oordele daarin in Israel te leer.+
11 Hier volg ’n afskrif van die brief wat koning Artasasʹta aan die priester Esra die kopiis* gegee het, wat baie goed bekend was met* die gebooie van Jehovah en sy wetsvoorskrifte aan Israel:
12 * “Artasasʹta,+ die koning van die konings, aan die priester Esra, die kopiis* van die Wet van die God van die hemel: Mag jy vrede hê. 13 Ek het ’n bevel uitgevaardig dat elkeen in my koninkryk wat van die volk Israel is en hulle priesters en Leviete wat bereid is om saam met jou na Jerusalem te gaan, moet gaan.+ 14 Want jy word deur die koning en sy sewe raadgewers gestuur om ondersoek in te stel of die Wet van jou God, wat jy by jou het,* in Juda en Jerusalem toegepas word, 15 en om die silwer en die goud te neem wat die koning en sy raadgewers vrywillig gegee het aan die God van Israel, wie se woonplek in Jerusalem is. 16 Neem ook al die silwer en die goud wat jy in die hele provinsie* van Babilon ontvang,* saam met die gawe wat die volk en die priesters vrywillig gee vir die huis van hulle God, wat in Jerusalem is.+ 17 En met hierdie geld moet jy so gou moontlik bulle,+ skaapramme+ en lammers+ koop, sowel as wat nodig is vir die graanoffers+ en drankoffers,+ en jy moet dit aanbied op die altaar van die huis van julle God in Jerusalem.
18 “En jy en jou broers mag met die res van die silwer en die goud doen wat julle ook al dink goed is, volgens die wil van julle God. 19 Al die houers wat vir die diens van die huis van jou God aan jou gegee word, moet jy voor God in Jerusalem+ aflewer. 20 En die res van die dinge wat nodig is vir die huis van jou God en wat jy moet gee, moet jy uit die koninklike skathuis gee.+
21 “Ek, koning Artasasʹta, het ’n bevel uitgevaardig aan al die skatmeesters in die gebied anderkant die Rivier:* Julle moet onmiddellik alles gee wat die priester Esra,+ die kopiis* van die Wet van die God van die hemel, van julle vra, 22 tot 100 talente* silwer, 100 kor* koring, 100 bat* wyn,+ 100 bat olie+ en sout+ sonder beperking. 23 Laat alles wat deur die God van die hemel beveel word, ywerig gedoen word vir die huis van die God van die hemel,+ sodat God nie kwaad word vir die koning se seuns en die mense in sy koninkryk nie.+ 24 En ek sê verder dat julle nie belasting, skatting*+ of tolgeld van enige van die priesters en die Leviete, die musikante,+ die deurwagters, die tempelknegte*+ en die werkers van hierdie huis van God mag vra nie.
25 “En jy, Esra, moet volgens die wysheid wat jy van jou God gekry het,* magistrate en regters aanstel om die hele volk in die gebied anderkant die Rivier, almal wat die wette van jou God ken, te oordeel, en julle moet almal wat die wette nie ken nie, onderrig.+ 26 Enigiemand wat nie die Wet van jou God en die wet van die koning gehoorsaam nie, moet onmiddellik gestraf word, of dit nou met die dood, verbanning, ’n boete of gevangenisstraf is.”
27 Mag Jehovah, die God van ons voorvaders, geloof word, wat dit in die hart van die koning gesit het om die huis van Jehovah in Jerusalem te versier!+ 28 Hy het lojale liefde aan my betoon voor die koning+ en sy raadgewers+ en al die magtige leiers van die koning. En daarom was ek vol moed,* want die hand van Jehovah my God was met my, en ek het leiers* uit Israel bymekaargemaak om saam met my te gaan.
8 En hier volg ’n lys van die hoofde van hulle vaderhuise en die geslagsregister van die mense wat gedurende die regering van koning Artasasʹta saam met my uit Babilon gekom het:+ 2 van die kinders van Piʹnehas:+ Gersom. Van die kinders van Iʹtamar:+ Daniël. Van die kinders van Dawid: Hattus. 3 Van die kinders van Seganʹja, van die kinders van Paros: Sagariʹa, en saam met hom was 150 manne ingeskryf. 4 Van die kinders van Pahat-Moab:+ Eljehoʹ-Enai, die seun van Seragʹja, en saam met hom 200 manne. 5 Van die kinders van Sattu:+ Seganʹja, die seun van Jahaʹsiël, en saam met hom 300 manne. 6 Van die kinders van Adin:+ Ebed, die seun van Joʹnatan, en saam met hom 50 manne. 7 Van die kinders van Elam:+ Jesaja, die seun van Ataʹlia, en saam met hom 70 manne. 8 Van die kinders van Sefatʹja:+ Sebadʹja, die seun van Miʹgael, en saam met hom 80 manne. 9 Van die kinders van Joab: Obadʹja, die seun van Jehiʹël, en saam met hom 218 manne. 10 Van die kinders van Bani: Seʹlomit, die seun van Josifʹja, en saam met hom 160 manne. 11 Van die kinders van Bebai:+ Sagariʹa, die seun van Bebai, en saam met hom 28 manne. 12 Van die kinders van Asgad:+ Johaʹnan, die seun van Hakkaʹtan, en saam met hom 110 manne. 13 Van die kinders van Adoniʹkam:+ dié wat die laastes was, en hulle name was Elifeʹlet, Jeïel en Semaʹja, en saam met hulle 60 manne. 14 En van die kinders van Bigwai:+ Utai en Sabbud, en saam met hulle 70 manne.
15 Ek het hulle bymekaargebring by die rivier wat na Aʹhawa+ loop, en ons het drie dae daar gekamp. Maar toe ek die volk en die priesters deursoek het, het ek nie een Leviet daar gevind nie. 16 Toe het ek Eliëser, Aʹriël, Semaʹja, Elʹnatan, Jarib, Elʹnatan, Natan, Sagariʹa en Mesulʹlam, wat leiers was, sowel as Jojaʹrib en Elʹnatan, wat onderrigters was, laat roep. 17 Toe het ek hulle beveel om na Iddo, die leier in die plek met die naam Kasifʹja, toe te gaan. Ek het vir hulle gesê om vir Iddo en sy broers, wat die tempelknegte* in Kasifʹja was, te sê om vir ons dienaars vir die huis van ons God te bring. 18 Omdat die goeie hand van ons God met ons was, het hulle vir ons ’n verstandige man gebring uit die kinders van Magli,+ die kleinseun van Levi, die seun van Israel, naamlik Serebʹja,+ en sy seuns en sy broers, 18 manne, 19 en Hasabʹja, en saam met hom Jesaja uit die Merariete,+ sy broers en hulle seuns, 20 manne. 20 En daar was 220 tempelknegte,* wat Dawid en die leiers vir die diens van die Leviete gegee het, en hulle is almal by naam in die register genoem.
21 Toe het ek daar by die rivier Aʹhawa vir die volk gesê dat ons sal vas om onsself voor ons God te verneder, om hom te vra om ons op ons reis te lei en om ons en ons kinders en al ons goed te beskerm. 22 Ek was skaam om die koning te vra om vir ons soldate en perderuiters te gee om ons teen die vyande langs die pad te beskerm, want ons het vir die koning gesê: “Die goeie hand van ons God is oor almal wat hom dien,*+ maar sy krag en sy woede is teen almal wat hom verlaat.”+ 23 Daarom het ons gevas en ons God gevra om ons op ons reis te lei, en hy het na ons dringende versoek geluister.+
24 Toe het ek 12 van die hoofde van die priesters gekies, naamlik Serebʹja en Hasabʹja,+ sowel as tien van hulle broers. 25 Ek het toe vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg. Dit was die bydrae wat die koning en sy raadgewers en sy hoë amptenare en al die Israeliete wat daar teenwoordig was, vir die huis van ons God gegee het.+ 26 Ek het dus die volgende in hulle hand afgeweeg: 650 talente* silwer, 100 silwervoorwerpe wat 2 talente werd was, 100 talente goud, 27 20 goue bakkies wat 1 000 darieke* werd was en 2 voorwerpe van fyn koper, glansend rooi, so begeerlik soos goud.
28 Toe het ek vir hulle gesê: “Julle is heilig vir Jehovah,+ en die voorwerpe is heilig, en die silwer en die goud is ’n vrywillige offer aan Jehovah, die God van julle voorvaders. 29 Pas dit mooi op totdat julle dit afweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en die leiers van die vaderhuise van Israel in Jerusalem,+ in die eetkamers van die huis van Jehovah.” 30 En die priesters en die Leviete het die silwer en die goud en die voorwerpe geneem wat vir hulle afgeweeg is, sodat hulle dit na Jerusalem, na die huis van ons God, kon bring.
31 Uiteindelik het ons op die 12de dag van die eerste maand+ van die rivier Aʹhawa+ af weggetrek om na Jerusalem te gaan, en die hand van ons God was oor ons, en hy het ons van die vyand en van rowers op die pad gered. 32 Ons het in Jerusalem aangekom+ en drie dae daar gebly. 33 Op die vierde dag het ons die silwer en die goud en die voorwerpe in die huis van ons God afgeweeg+ en dit vir Meʹremot,+ die seun van Uriʹa die priester, gegee, en Eleaʹsar, die seun van Piʹnehas, was saam met hom, en die Leviete, Joʹsabad,+ die seun van Jeʹsua, en Noadʹja, die seun van Binʹnuï,+ was saam met hulle. 34 Alles is getel en geweeg, en die totale gewig is neergeskryf. 35 Dié wat uit die gevangenskap gekom het, die mense wat voorheen ballinge was, het brandoffers vir die God van Israel aangebied: 12 bulle+ vir die hele Israel, 96 skaapramme,+ 77 ramlammers en 12 bokramme+ as ’n sonde-offer. Al hierdie dinge was ’n brandoffer aan Jehovah.+
36 Toe het ons die bevele van die koning+ aan die satrape* van die koning en die goewerneurs van die gebied anderkant die Rivier*+ gegee, en hulle het die volk en die huis van die ware God ondersteun.+
9 En onmiddellik nadat hierdie dinge gedoen is, het die leiers na my toe gekom en gesê: “Die volk Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie van die volke van die lande en van hulle afskuwelike gebruike+ afgesonder nie, dié van die Kanaäniete, die Hetiete, die Perissiete, die Jebusiete, die Ammoniete, die Moabiete, die Egiptenare+ en die Amoriete.+ 2 Hulle het van hulle dogters as vrouens vir hulleself en vir hulle seuns geneem.+ Nou het hulle, die heilige nageslag,*+ met die volke van die lande vermeng geraak.+ Die leiers en die amptenare het die voortou geneem in hierdie ontrouheid.”
3 Die oomblik toe ek hiervan hoor, het ek my kleed en my moulose oorkleed geskeur en van die hare van my kop en my baard uitgetrek, en ek het in skok gaan sit. 4 Toe het almal wat diep respek vir die woorde van die God van Israel gehad het,* om my bymekaargekom as gevolg van die ontrouheid van die ballinge.* Ek het in skok gesit totdat dit tyd was vir die graanoffer in die aand.+
5 En toe dit tyd geword het vir die graanoffer+ in die aand, het ek uit my vernedering opgestaan, met my kleed en my moulose oorkleed geskeur, en ek het op my knieë gegaan en my hande na Jehovah my God uitgestrek. 6 En ek het gesê: “O my God, ek voel skaam en verleë om my gesig na u toe op te lig, o my God, want ons oortredings het bo ons koppe uitgestyg en ons skuld het opgehoop tot by die hemel.+ 7 Van die dae van ons voorvaders af tot vandag toe is ons skuld groot,+ en weens ons oortredings is ons, ons konings en ons priesters in die hand van die konings van die lande gegee. Ons is met die swaard doodgemaak,+ gevange geneem,+ beroof+ en verneder, net soos vandag.+ 8 Maar nou het Jehovah ons God vir ’n kort rukkie genade aan ons betoon deur party van ons te laat oorbly en deur vir ons veiligheid* in sy heilige plek te gee,+ om ons oë te laat straal, o ons God, en om ons ’n bietjie verligting te gee terwyl ons slawe is. 9 Want al is ons slawe,+ het ons God ons nie in ons slawerny gelos nie, maar hy bewys sy lojale liefde aan ons voor die konings van Persië,+ wat ons toegelaat het om terug te keer om die verwoeste huis van ons God te herbou.+ God het ons beskerming* in Juda en in Jerusalem gegee.
10 “Maar wat kan ons dan nou ná al hierdie dinge sê, o ons God? Want ons het u gebooie verlaat, 11 wat u ons deur u knegte die profete gegee het deur te sê: ‘Die land wat julle ingaan om in besit te neem, is ’n onrein land weens die onreinheid van die volke van die lande, weens hulle afskuwelike gebruike. Hulle het die land van die een end tot die ander end met hulle onreinheid gevul.+ 12 Daarom moet julle nie julle dogters aan hulle seuns gee nie en ook nie hulle dogters vir julle seuns aanvaar nie,+ en julle moet hulle nooit help om vrede te hê en voorspoedig te wees nie,+ sodat julle sterk kan word en die goeie dinge van die land kan eet en dit vir ewig vir julle kinders in besit kan neem.’ 13 En ná alles wat met ons gebeur het weens ons slegte dade en ons groot skuld – want u, o ons God, het ons nie gestraf volgens wat ons vir ons oortreding verdien nie,+ en u het dié van ons wat nou hier is, toegelaat om oor te bly+ – 14 sal ons weer u gebooie verbreek en ons in die huwelik verbind* met die volke wat hierdie afskuwelike dinge doen?+ Sal u nie so kwaad vir ons word dat u ons heeltemal sal vernietig sodat niemand sal oorbly of oorleef nie? 15 O Jehovah, die God van Israel, u is regverdig,+ want ons het oorgebly as ’n volk tot vandag toe. Hier staan ons skuldig voor u, want dit is onmoontlik om voor u te staan as gevolg van wat ons gedoen het.”+
10 Terwyl Esra gebid+ en die sondes van die volk bely het, het hy huilend en uitgestrek op die grond voor die huis van die ware God gelê. En ’n baie groot groep mans, vrouens en kinders uit Israel het by hom bymekaargekom, want die volk het bitterlik gehuil. 2 Toe het Seganʹja, die seun van Jehiʹël,+ van die seuns van Elam,+ vir Esra gesê: “Ons het ontrou teenoor ons God opgetree deur met uitlandse vrouens uit die volke van die land te trou.*+ Maar tog is daar nog hoop vir Israel. 3 Laat ons dan nou ’n verbond met ons God maak+ om al die vrouens en dié wat uit hulle gebore is, weg te stuur, volgens die riglyne van Jehovah en van dié wat diep respek het vir* die gebod van ons God.+ Laat ons volgens die Wet optree. 4 Staan op, want hierdie saak is u verantwoordelikheid, en ons is met u. Wees sterk en tree op.”
5 Daarop het Esra opgestaan en die hoofde van die priesters, die Leviete en die hele Israel ’n eed laat aflê om te doen wat gesê is.+ Hulle het dus ’n eed afgelê. 6 Esra het toe voor die huis van die ware God opgestaan en na die eetkamer van Johaʹnan, die seun van Eljaʹsib, gegaan. Al het hy daarheen gegaan, het hy nie kos geëet of water gedrink nie, want hy het oor die ontrouheid van die ballinge* getreur.+
7 Toe het hulle deur die hele Juda en Jerusalem aangekondig dat al die mense wat voorheen ballinge was, in Jerusalem bymekaar moet kom 8 en dat die leiers en die ouermanne besluit het dat ’n persoon se besittings weggevat* sou word en dat hy uit die gemeente van die ballinge verban sou word as hy nie binne drie dae gekom het nie.+ 9 Toe het al die manne van Juda en Benjamin binne drie dae in Jerusalem bymekaargekom, dit wil sê in die negende maand, op die 20ste dag van die maand. Die hele volk het in ’n voorhof van die huis van die ware God gesit, en hulle het gebewe weens hierdie saak en weens die swaar reën.
10 Toe het die priester Esra opgestaan en vir hulle gesê: “Julle het ontrou opgetree omdat julle met uitlandse vrouens getrou het,+ en deur dit te doen, het julle bygedra tot die skuld van Israel. 11 Bely dan nou julle sondes aan Jehovah, die God van julle voorvaders, en doen sy wil. Sonder julle af van die volke van die land en van hierdie uitlandse vrouens.”+ 12 Toe het die hele gemeente met ’n harde stem geantwoord: “Dit is ons plig om te doen presies wat jy sê. 13 Maar daar is baie mense, en dit is die reënseisoen. Dit is nie moontlik om buite te staan nie, en die saak sal nie net een of twee dae neem nie, want ons het grootliks teen God gesondig. 14 Laat ons leiers dan nou asseblief die hele gemeente verteenwoordig,+ en laat almal in ons stede wat met uitlandse vrouens getrou het op ’n vasgestelde tyd kom, saam met die ouermanne en regters van elke stad, totdat ons die brandende woede van ons God oor hierdie saak laat bedaar het.”
15 Maar Joʹnatan, die seun van Aʹsahel, en Jagseʹja, die seun van Tikwa, was hierteen gekant, en die Leviete Mesulʹlam en Sabʹbetai+ het hulle ondersteun. 16 Maar die mense wat voorheen ballinge was, het gedoen wat besluit is, en die priester Esra en die familiehoofde van hulle vaderhuise, wat almal by hulle name genoem is, het op die eerste dag van die tiende maand alleen bymekaargekom om die saak te bespreek. 17 Teen die eerste dag van die eerste maand het hulle al die sake afgehandel in verband met die mans wat met uitlandse vrouens getrou het. 18 En daar is ontdek dat party van die seuns van die priesters met uitlandse vrouens getrou het:+ van die seuns van Jeʹsua,+ die seun van Joʹsadak, en sy broers was daar Maäseʹja, Eliëser, Jarib en Gedalʹja. 19 Maar hulle het belowe* om hulle vrouens weg te stuur, en omdat hulle skuldig was, sou hulle ’n skaapram uit die kudde offer vir hulle skuld.+
20 Van die seuns van Immer+ was daar Hanaʹni en Sebadʹja. 21 Van die seuns van Harim:+ Maäseʹja, Eliʹa, Semaʹja, Jehiʹël en Ussiʹa. 22 Van die seuns van Pasgur:+ Eljoënai, Maäseʹja, Isʹmael, Netaʹnel, Joʹsabad en Eleaʹsa. 23 En van die Leviete was daar Joʹsabad, Siʹmeï, Kelaʹja (wat ook Keliʹta genoem is), Petagʹja, Juda en Eliëser. 24 Van die sangers: Eljaʹsib. Van die poortwagters: Sallum, Telem en Uri.
25 En van Israel, van die seuns van Paros,+ was daar Ramja, Jissiʹa, Malkiʹa, Mijaʹmin, Eleaʹsar, Malkiʹa en Benaʹja. 26 Van die seuns van Elam:+ Mattanʹja, Sagariʹa, Jehiʹël,+ Abdi, Jeʹremot en Eliʹa. 27 Van die seuns van Sattu:+ Eljoënai, Eljaʹsib, Mattanʹja, Jeʹremot, Sabad en Asiʹsa. 28 Van die seuns van Bebai:+ Joʹhanan, Hananʹja, Sabbai en Atlai. 29 Van die seuns van Bani: Mesulʹlam, Mallug, Adaʹja, Jasub, Seal en Jeʹremot. 30 Van die seuns van Pahat-Moab:+ Adna, Kelal, Benaʹja, Maäseʹja, Mattanʹja, Besaʹleël, Binʹnuï en Manasʹse. 31 Van die seuns van Harim:+ Eliëser, Jissiʹja, Malkiʹa,+ Semaʹja, Siʹmeon, 32 Benjamin, Mallug en Semarʹja. 33 Van die seuns van Hasum:+ Matʹtenai, Mattatʹta, Sabad, Elifeʹlet, Jereʹmai, Manasʹse en Siʹmeï. 34 Van die seuns van Bani: Maʹädai, Amram, Uʹel, 35 Benaʹja, Bedeʹja, Keluʹhi, 36 Wanja, Meʹremot, Eljaʹsib, 37 Mattanʹja, Matʹtenai en Jaʹäsai. 38 Van die seuns van Binʹnuï: Siʹmeï, 39 Selemʹja, Natan, Adaʹja, 40 Magnadʹbai, Sasai, Saʹrai, 41 Asaʹreël, Selemʹja, Semarʹja, 42 Sallum, Amarʹja en Josef. 43 Van die seuns van Nebo: Jeïel, Mattitʹja, Sabad, Sebiʹna, Jaddai, Joël en Benaʹja. 44 Hulle almal het met uitlandse vrouens getrou,+ en hulle het hulle vrouens saam met hulle kinders weggestuur.+
Lett. “die gees van koning Kores van Persië opgewek”.
Of moontlik “wat in Jerusalem is”.
Lett. “die manne van sy plek”.
Lett. “elkeen wie se gees opgewek is”.
Lett. “het hulle hande versterk”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “regsgebied”.
Of “Die Netinim”. Lett. “Die gegewenes”.
Of “die Netinim”. Lett. “die gegewenes”.
Of “is hulle as onrein uit die priesterskap uitgesluit”.
Of “Die Tirsata”, ’n Persiese titel vir ’n goewerneur van ’n provinsie.
Of “te laat staan”.
Oor die algemeen gelykgestel aan die Persiese goue dariek met ’n gewig van 8,4 g. Nie die dragma wat in die Griekse Geskrifte genoem word nie. Sien Aanh. B14.
’n Mina in die Hebreeuse Geskrifte was gelyk aan 570 g. Sien Aanh. B14.
Of “skat”.
Of “die Netinim”. Lett. “die gegewenes”.
Lett. “die hele Israel”.
Of “Fees van Tydelike Skuilings”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Lett. “soek”.
Lett. “die hande van die volk van Juda verswak”.
Of moontlik “Dit is in Aramees geskryf en toe vertaal”.
Esr 4:8 tot 6:18 is oorspronklik in Aramees geskryf.
Of “die ander mense van die Trans-Eufraat”.
Sien Woordelys.
Lett. “eet die sout van die paleis”.
Of “regsgebiede”.
Lett. “deel”.
Of moontlik “is vertaal en gelees”.
Sien Woordelys.
Of “die goewerneur van die Trans-Eufraat”.
Of “en hierdie balke in te sit”.
Lett. “die oog van hulle God was op”.
Of “regsgebied”.
Of “om hierdie balke in te sit”.
Lett. “die huis van die verslae”.
Of “regsgebied”.
Omtrent 26,7 m. Sien Aanh. B14.
Of “die goewerneur van die Trans-Eufraat”.
Of “en dat hy daaraan vasgespyker sal word”.
Of moontlik “’n vullishoop; ’n mishoop”.
Sien Aanh. B15.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “inwyding”.
Lett. “soek”.
Lett. “hulle hande versterk”.
Beteken “hulp”.
Of “oorskrywer”.
Of “Hy was ’n vaardige kopiis van”.
Of “die Netinim”. Lett. “die gegewenes”.
Of “in sy hart besluit”.
Of “oorskrywer”.
Of “’n kopiis (deskundige) was van die woorde van”.
Esr 7:12 tot 7:26 is oorspronklik in Aramees geskryf.
Of “oorskrywer”.
Lett. “wat in jou hand is”.
Of “regsgebied”.
Lett. “vind”.
Of “die skatmeesters in die Trans-Eufraat”.
Of “oorskrywer”.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
’n Kor was gelyk aan 220 l. Sien Aanh. B14.
’n Bat was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.
Sien Woordelys.
Of “die Netinim”. Lett. “die gegewenes”.
Lett. “volgens die wysheid van jou God wat in jou hand is”.
Of “het ek myself versterk”.
Lett. “hoofde”.
Of “die Netinim”. Lett. “die gegewenes”.
Of “Netinim”. Lett. “gegewenes”.
Lett. “soek”.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
’n Dariek was ’n Persiese goue muntstuk. Sien Aanh. B14.
Titel wat “beskermers van die ryk” beteken, hier gebruik vir goewerneurs van provinsies in die Persiese Ryk.
Of “die goewerneurs van die Trans-Eufraat”.
Lett. “saad”.
Lett. “wat vir . . . gebewe het”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Lett. “’n pen”, moontlik ’n tentpen.
Of “’n klipmuur”.
Of “en ondertrou”.
Of “deur . . . in ons huise te neem”.
Lett. “wat bewe vir”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “met ’n ban (vloek) getref”.
Lett. “hulle het hulle hande gegee”.