Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt 2 Kronieke 1:1-36:23
  • 2 Kronieke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 2 Kronieke
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
2 Kronieke

DIE TWEEDE BOEK VAN KRONIEKE

1 Salomo, die seun van Dawid, het ’n stewige houvas op sy koningskap gekry, en Jehovah sy God was met hom en het hom baie magtig laat word.+

2 Salomo het die hele Israel laat roep: die hoofde oor 1 000, die hoofde oor 100, die regters en al die hoofmanne van die hele Israel, die hoofde van die vaderhuise. 3 Toe het Salomo en die hele gemeente na die offerhoogte in Giʹbeon+ gegaan, want dit is waar die tent van samekoms van die ware God was, die tent wat Moses, die kneg van Jehovah, in die wildernis gemaak het. 4 Maar Dawid het die Ark van die ware God in Kirʹjat-Jeaʹrim gaan haal+ en dit na die plek gebring wat hy daarvoor gereedgemaak het. Hy het ’n tent daarvoor in Jerusalem opgeslaan.+ 5 En die koperaltaar+ wat Besaʹleël,+ die seun van Uri, die seun van Hur, gemaak het, is voor die tabernakel van Jehovah gesit. En Salomo en die gemeente het gereeld voor die altaar gebid.* 6 Salomo het toe offerandes voor Jehovah geoffer. Hy het 1 000 brandoffers op die koperaltaar+ van die tent van samekoms geoffer.

7 Daardie nag het God aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet ek vir jou gee?”+ 8 Toe het Salomo vir God gesê: “U het groot lojale liefde betoon aan my pa, Dawid,+ en u het my in sy plek koning gemaak.+ 9 O Jehovah God, hou u belofte aan my pa, Dawid,+ want u het my koning gemaak oor ’n volk wat so baie is soos die stof van die aarde.+ 10 Gee my nou wysheid en kennis+ sodat ek hierdie volk kan lei,* want wie kan as regter optree vir u groot volk?”+

11 Toe het God vir Salomo gesê: “Omdat jy nie vir rykdom en eer of die dood van die mense wat jou haat gevra het nie en ook nie vir ’n lang lewe gevra het nie, maar dit eerder jou hartsbegeerte is om wysheid en kennis te hê sodat jy my volk kan rig waaroor ek jou koning gemaak het,+ 12 sal wysheid en kennis aan jou gegee word. Maar ek sal jou ook rykdom en eer gee soos geen koning voor jou gehad het nie en soos nie een ná jou sal hê nie.”+

13 Toe het Salomo van die offerhoogte in Giʹbeon,+ van die tent van samekoms, na Jerusalem gekom, en hy het oor Israel regeer. 14 Salomo het al hoe meer strydwaens en perde* vir hom gekry. Hy het 1 400 strydwaens en 12 000 perde* gehad,+ en hy het hulle in die strydwastede+ en naby die koning in Jerusalem gehou.+ 15 Die koning het die silwer en die goud in Jerusalem so volop soos die klippe gemaak,+ en sederhout so volop soos die wildevyebome in die Sjefeʹla.+ 16 Salomo se perde is uit Egipte ingevoer,+ en die koning se groep koopmanne het troppe perde gekoop* teen ’n vasgestelde prys.+ 17 Elke strydwa wat uit Egipte ingevoer is, het 600 silwerstukke gekos, en ’n perd het 150 gekos. En hulle het die strydwaens en die perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Sirië.

2 Salomo het toe beveel dat ’n huis vir Jehovah se naam+ en ’n paleis vir homself gebou moet word.+ 2 Salomo het 70 000 manne as arbeiders* laat werk, en 80 000 manne as klipkappers in die berge.+ Hy het ook 3 600 opsieners oor hulle aangestel.+ 3 En Salomo het die volgende boodskap aan Hiram,+ die koning van Tirus, gestuur: “Stuur asseblief vir my sederhout net soos u vir my pa, Dawid, gedoen het toe hy vir hom ’n paleis wou bou.+ 4 Ek gaan nou ’n huis vir die naam van Jehovah my God bou. Ek sal dit vir hom heilig sodat ek geurige reukwerk+ voor hom kan brand, sodat die stapelbrode*+ altyd daar gesit kan word en sodat brandoffers gebring kan word in die oggend en in die aand,+ op die Sabbatte,+ op die nuwemane+ en gedurende die feestye+ van Jehovah ons God. Dit is die dinge wat Israel altyd moet doen. 5 Die huis wat ek bou, sal groot en indrukwekkend wees, want ons God is groter as al die ander gode. 6 Maar wie sal ooit vir hom ’n huis kan bou? Want die hemel, selfs die hoogste hemele, kan hom nie bevat nie.+ Wie is ek dan dat ek vir hom ’n huis sou bou? Al wat ek kan doen, is om ’n huis te bou waar ek vir hom offerandes kan offer. 7 Stuur dan nou vir my ’n vaardige ambagsman wat met goud, silwer, koper,+ yster, pers wol, donkerrooi garing en blou garing kan werk en wat graveerwerk kan doen. Hy sal in Juda en in Jerusalem saam met my vaardige ambagsmanne werk, wat deur my pa, Dawid, uitgekies is.+ 8 En stuur vir my sederhout, jenewerhout+ en sandelhout+ van die Liʹbanon-berge, want ek weet goed dat u knegte ervare houtkappers is wat weet hoe om die bome van die Liʹbanon-berge+ af te kap. My knegte sal saam met u knegte werk+ 9 en baie hout vir my gereedmaak, want die huis wat ek gaan bou, sal baie groot en indrukwekkend wees. 10 Ek sal kos voorsien aan u knegte,+ die houtkappers: 20 000 kor* koring, 20 000 kor gars, 20 000 bat* wyn en 20 000 bat olie.”

11 Toe het Hiram, die koning van Tirus, hierdie boodskap in ’n brief aan Salomo gestuur: “Jehovah het sy volk lief, en daarom het hy u as hulle koning aangestel.” 12 Hiram het ook gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, geloof word, want hy het vir koning Dawid ’n wyse seun gegee+ wat goeie oordeel en begrip het+ en wat ’n huis vir Jehovah en ’n paleis vir homself sal bou. 13 Ek stuur vir u Hiram-Abi,+ ’n bekwame ambagsman met die nodige kennis. 14 Hy is die seun van ’n vrou uit die stam van Dan, maar sy pa was ’n man van Tirus. Hy het baie ondervinding en kan werk met goud, silwer, koper, yster, stene, hout, pers wol, blou garing, goeie materiaal en donkerrooi materiaal.+ Hy kan enige soort graveerwerk doen en enigiets ontwerp wat hy gevra word om te maak.+ Hy sal saam met u vaardige ambagsmanne werk en saam met die ambagsmanne van my heer, u pa, Dawid. 15 Stuur asseblief die koring, gars, olie en wyn wat u aan u knegte belowe het.+ 16 Ons sal bome in die Liʹbanon-berge afkap,+ soveel as wat u nodig het. En ons sal die hout saambind en dit vir u as vlotte oor die see na Joppe+ stuur, en u kan dit dan na Jerusalem neem.”+

17 Salomo het toe al die uitlanders in Israel+ getel, net soos sy pa, Dawid, gedoen het,+ en daar was altesaam 153 600. 18 Hy het 70 000 van hulle as arbeiders* laat werk, 80 000 as klipkappers+ in die berge en 3 600 as opsieners om toesig oor die werkers te hou.+

3 Salomo het toe die huis van Jehovah begin bou+ in Jerusalem op die berg Moriʹa,+ waar Jehovah aan sy pa, Dawid, verskyn het.+ Dit was die plek wat Dawid gereedgemaak het op die dorsvloer van Ornan,+ die Jebusiet. 2 Hy het met die bouwerk begin op die tweede dag van die tweede maand, in die vierde jaar nadat hy koning geword het. 3 Die fondament wat Salomo vir die huis van die ware God gelê het, was 60 el lank en 20 el breed.+ Hierdie afmetings was volgens die ou el.* 4 Die voorportaal was 20 el breed (net so breed soos die huis), en die hoogte daarvan was 20 el.* Hy het die binnekant daarvan met suiwer goud oorgetrek.+ 5 En hy het die binnekant van die huis met panele van jenewerhout bedek, en daarna het hy dit met suiwer goud oorgetrek.+ Toe het hy dit met afbeeldings van palmbome+ en kettings versier.+ 6 Hy het dit ook met pragtige edelstene+ versier, en die goud+ wat hy gebruik het, was van Parwajim. 7 Hy het die binnekant van die huis, die dakbalke, die drumpels, die mure en die deure met goud oorgetrek.+ En hy het gerubs op die mure gegraveer.+

8 Hy het toe die Allerheiligste vertrek*+ gemaak. Dit was 20 el lank en 20 el breed. Die lengte daarvan was dieselfde as die breedte van die huis. En hy het dit met 600 talente* suiwer goud oorgetrek.+ 9 Hy het 50 sikkels* goud gebruik vir die spykers, en hy het die dakvertrekke met goud oorgetrek.

10 Toe het hy beelde van twee gerubs in die Allerheiligste vertrek* gemaak, en hy het hulle met goud oorgetrek.+ 11 Die lengte van die gerubs se vlerke+ was altesaam 20 el. Die een vlerk van die eerste gerub was vyf el lank en het aan die muur van die vertrek geraak, en sy ander vlerk was vyf el lank en het aan die een vlerk van die ander gerub geraak. 12 En die een vlerk van die ander gerub was vyf el lank en het aan die ander muur van die vertrek geraak. En sy ander vlerk was vyf el lank en het aan die een vlerk van die eerste gerub geraak. 13 Die vlerke van hierdie gerubs was uitgesprei en was altesaam 20 el lank. En hulle het op hulle voete gestaan met hulle gesigte na die voorste vertrek toe.*

14 Hy het ook die gordyn*+ van blou garing, pers wol, donkerrooi garing en goeie materiaal gemaak. En hy het dit met afbeeldings van gerubs versier.+

15 Toe het hy twee pilare+ aan die voorkant van die huis gemaak. Elkeen was 35 el hoog, en die kopstuk bo-op elke pilaar was vyf el hoog.+ 16 Hy het kettings* gemaak en dit bo-op die pilare gesit, en hy het 100 granate gemaak en dit aan die kettings gehang. 17 Hy het die pilare aan die voorkant van die tempel opgerig, een aan die regterkant* en een aan die linkerkant.* Hy het die een aan die regterkant Jagin* genoem, en die een aan die linkerkant Boas.*

4 Toe het hy die koperaltaar+ gemaak. Dit was 20 el lank, 20 el breed en 10 el hoog.

2 Hy het die See*+ van gegote metaal gemaak. Dit was rond, 10 el van die een rand tot by die ander rand, 5 el hoog en 30 el in omtrek.*+ 3 En daar was kalbasvormige versierings+ onder die rand, tien per el reg rondom die See. Daar was twee rye kalbasse, en hulle is saam met die See as een stuk gegiet. 4 Dit het op 12 bulle+ gestaan: 3 het noord gekyk, 3 het wes gekyk, 3 het suid gekyk en 3 het oos gekyk. Die See het op hulle gerus, en hulle agterkante was na die middel toe. 5 Die dikte daarvan was ’n handbreedte,* en die rand was soos die rand van ’n beker gemaak en het soos ’n lelie gelyk. Dit kon 3 000 bat* hou.

6 Hy het ook tien komme gemaak waarin hulle die dinge gewas het wat vir die brandoffer gebruik is.+ Hulle het vyf aan die regterkant van die huis gesit, en vyf aan die linkerkant.+ Maar die priesters het die water in die See gebruik om mee te was.+

7 Hy het toe tien goue lampstaanders+ volgens die instruksies gemaak+ en dit in die tempel gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant.+

8 Hy het ook tien tafels gemaak en dit in die tempel gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant.+ En hy het 100 goue bakke gemaak.

9 Toe het hy die voorhof+ van die priesters,+ die groot voorhof+ en die deure vir die groot voorhof gemaak. En hy het die deure met koper oorgetrek. 10 En hy het die See aan die regterkant gesit, aan die suidoostekant.+

11 Hiram het ook die kanne, die grawe en die bakke gemaak.+

En Hiram het die werk voltooi wat hy vir koning Salomo aan die huis van die ware God gedoen het:+ 12 die twee pilare+ en die bakvormige kopstukke wat bo-op die twee pilare was; die twee netwerke+ wat die twee pilare se bakvormige kopstukke bedek het; 13 die 400 granate+ vir die twee netwerke (daar was twee rye granate vir elke netwerk wat die twee pilare se bakvormige kopstukke bedek het);+ 14 die tien waentjies* en die tien komme op die waentjies;+ 15 die See en die 12 bulle daaronder;+ 16 die kanne, die grawe, die vurke+ en al die ander voorwerpe wat Hiram-Abi*+ van blink gevryfde koper vir koning Salomo gemaak het vir die huis van Jehovah. 17 Die koning het dit in kleivorms gegiet in die Jordaandistrik, tussen Sukkot+ en Sereʹda. 18 Salomo het ’n groot hoeveelheid van al hierdie voorwerpe gemaak. Die gewig van die koper is nie bepaal nie.+

19 Salomo het al die voorwerpe vir die huis van die ware God gemaak:+ die goue altaar,+ die tafels+ vir die offerbrode,+ 20 die lampstaanders en hulle lampe van suiwer goud+ (wat volgens die vereistes voor die binneste vertrek moes brand), 21 die bloeisels, die lampe en die snuiters* (van die suiwerste goud), 22 die blussers, die bakke, die bekers en die vuurbakke (van suiwer goud); en die ingang van die huis, die deure van die Allerheiligste+ en die deure van die huis van die tempel, wat met goud oorgetrek is.+

5 Salomo het al die werk voltooi wat hy vir die huis van Jehovah moes doen.+ Daarna het Salomo die dinge ingebring wat sy pa, Dawid, geheilig het,+ en hy het die silwer, die goud en al die voorwerpe in die skatkamers van die huis van die ware God gesit.+ 2 Salomo het in daardie tyd die ouermanne van Israel, al die stamhoofde en die hoofmanne van die vaderhuise van Israel bymekaargeroep. Hulle het na Jerusalem gegaan om die ark van die verbond van Jehovah uit die Stad van Dawid,+ dit wil sê Sion,+ te bring. 3 Al die manne van Israel het voor die koning bymekaargekom tydens die fees* wat in die sewende maand gehou word.+

4 Toe al die ouermanne van Israel daar was, het die Leviete die Ark opgetel.+ 5 Hulle het die Ark gedra, sowel as die tent van samekoms+ en al die heilige voorwerpe wat in die tent was. Die priesters en die Leviete* het dit gedra. 6 Koning Salomo en almal van Israel wat beveel is om na hom toe te kom, was voor die Ark. Daar is soveel skape en beeste geoffer+ dat hulle nie getel kon word nie. 7 Toe het die priesters die ark van die verbond van Jehovah gebring na sy plek in die binneste vertrek van die huis, die Allerheiligste, en dit onder die vlerke van die gerubs gesit.+ 8 Die vlerke van die gerubs was oor die plek van die Ark uitgesprei. Die Ark en sy pale+ was dus onder die vlerke van die gerubs. 9 Die pale was so lank dat die punte van die pale gesien kon word vanuit die Heilige, voor die binneste vertrek, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. En hulle is tot vandag toe daar. 10 Daar was niks in die Ark nie behalwe die twee kliptablette wat Moses by Horeb daarin gesit het+ toe Jehovah met die Israeliete ’n verbond gemaak het+ terwyl hulle uit Egipte getrek het.+

11 Die priesters het toe uit die heiligdom uitgekom. (Al die priesters wat daar was, ongeag in watter afdeling hulle was,+ het hulleself geheilig).+ 12 Al die Levitiese sangers+ wat gelei is deur Asaf,+ Heman,+ Jeduʹtun+ en deur hulle seuns en broers, het klere aangehad wat van goeie materiaal gemaak was. Hulle het simbale, harpe en ander snaarinstrumente gehad, en hulle het oos van die altaar gestaan. En 120 priesters het by hulle gestaan en op trompette geblaas.+ 13 Die trompetblasers en die sangers het Jehovah in eenheid geloof en gedank. Hulle het met die trompette, simbale en ander musiekinstrumente musiek gemaak om Jehovah te loof, “want hy is goed. Sy lojale liefde duur vir ewig.”+ Op daardie oomblik het ’n wolk die huis van Jehovah gevul.+ 14 En as gevolg van die wolk kon die priesters nie hulle diens verrig nie, want die heerlikheid van Jehovah het die huis van die ware God gevul.+

6 Toe het Salomo gesê: “Jehovah, u het gesê dat u in digte, donker wolke sou woon.+ 2 Nou het ek ’n glorieryke huis vir u gebou, ’n vaste plek waar u vir ewig kan woon.”+

3 Toe het die koning omgedraai en gekyk na al die Israeliete wat daar gestaan het, en hy het hulle geseën.+ 4 Hy het gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, die Een wat vervul het wat hy met sy eie mond aan my pa, Dawid, belowe het toe hy gesê het: 5 ‘Van die dag af dat ek my volk uit Egipte uitgelei het, het ek nooit uit die stamme van Israel ’n stad gekies waarin ’n huis gebou moet word waar my naam geëer sou word nie.+ Ek het ook nie ’n man uitgekies om leier oor my volk Israel te word nie. 6 Maar ek het Jerusalem gekies+ sodat my naam daar geëer sal word, en ek het Dawid gekies om oor my volk Israel te wees.’+ 7 En dit was my pa, Dawid, se hartsbegeerte om ’n huis vir die naam van Jehovah, die God van Israel, te bou.+ 8 Maar Jehovah het vir my pa, Dawid, gesê: ‘Dit is jou hartsbegeerte om ’n huis vir my naam te bou, en dit is goed dat jy dit wil doen. 9 Maar jy sal nie die huis bou nie. Jou seun wat vir jou gebore sal word, is die een wat die huis vir my naam sal bou.’+ 10 Jehovah het sy belofte gehou, want ek het my pa, Dawid, opgevolg en ek sit op die troon van Israel,+ net soos Jehovah belowe het.+ En ek het die huis vir die naam van Jehovah, die God van Israel, gebou, 11 en ek het die Ark waarin die verbond is+ wat Jehovah met die Israeliete gemaak het, daar gesit.”

12 Toe het hy voor die altaar van Jehovah en voor die hele gemeente van Israel gaan staan, en hy het sy hande uitgestrek.+ 13 (Salomo het ’n koperplatform gemaak en dit toe in die middel van die voorhof gesit.+ Dit was vyf el* lank, vyf el breed en drie el hoog. En hy het daarop gestaan.) Hy het voor die hele gemeente van Israel op sy knieë gegaan, sy hande na die hemel uitgestrek+ 14 en gesê: “O Jehovah, die God van Israel, daar is geen God soos u in die hemel of op die aarde nie, wat die verbond hou en lojale liefde betoon aan u knegte wat u met hulle hele hart dien.+ 15 U het u belofte aan my pa, u kneg Dawid, gehou.+ U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het u dit nagekom.+ 16 En nou, o Jehovah, die God van Israel, hou die belofte wat u aan my pa, u kneg Dawid, gemaak het toe u gesê het: ‘Daar sal altyd voor my ’n man van jou geslagslyn wees wat op die troon van Israel sit, solank jou seuns seker maak dat hulle my wet volg,+ net soos jy gedoen het.’+ 17 En nou, o Jehovah, die God van Israel, vervul asseblief die belofte wat u aan u kneg Dawid gemaak het.

18 “Maar sal God werklik by mense op die aarde woon?+ Die hemel, selfs die hoogste hemele, kan u nie bevat nie.+ Wat nog te sê hierdie huis wat ek gebou het!+ 19 Skenk asseblief aandag aan die gebed van u kneg en aan my versoek om goedkeuring, o Jehovah my God, en luister na die geroep om hulp en na die gebed wat u kneg tot u rig. 20 Hou asseblief dag en nag ’n wakende oog oor hierdie huis. U het gesê dat u u naam hier sal vestig.+ En luister na die gebed wat u kneg in die rigting van hierdie plek bid. 21 En luister na u kneg se smekinge om hulp en na die smekinge van u volk Israel wanneer hulle in die rigting van hierdie plek bid,+ en mag u vanuit u woonplek in die hemel hoor.+ Mag u hoor en vergewe.+

22 “As ’n man teen sy medemens sondig en verplig is om ’n eed af te lê* en hy onder die eed kom en hy voor u altaar in hierdie huis kom terwyl hy onder die eed is,+ 23 mag u dan vanuit die hemel hoor en optree en u knegte oordeel deur die goddelose te straf vir wat hy gedoen het+ en deur die regverdige onskuldig* te verklaar en hom te beloon vir sy regverdigheid.+

24 “En as u volk Israel deur hulle vyande verslaan word omdat hulle aangehou het om teen u te sondig+ en hulle dan na u terugkeer en u naam verheerlik+ en tot u bid+ en u om genade smeek in hierdie huis,+ 25 mag u dan vanuit die hemel hoor.+ Vergewe dan die sonde van u volk Israel en bring hulle terug na die land wat u aan hulle en hulle voorvaders gegee het.+

26 “Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie+ omdat hulle aangehou het om teen u te sondig+ en hulle dan in die rigting van hierdie plek bid en u naam verheerlik en ophou met hulle sonde omdat u hulle verneder* het,+ 27 mag u dan vanuit die hemel luister en die sonde vergewe van u knegte, u volk Israel. Leer hulle wat die goeie weg is wat hulle moet volg,+ en laat dit asseblief reën+ op u land wat u aan u volk as ’n erfdeel gegee het.

28 “As daar hongersnood in die land ontstaan+ of as ’n vreeslike siekte,+ verskroeiende wind, ’n swamsiekte+ of swerms sprinkane+ die land tref; of as hulle vyande hulle in enige van die stede van die land aanval+ of as enige ander soort plaag of siekte uitbreek,+ 29 en enigiemand of u hele volk Israel ’n gebed+ of versoek om genade+ tot u rig, wat dit ook al mag wees (want elkeen weet watter probleem en watter pyn hy ondervind),+ en hulle hulle hande in die rigting van hierdie huis uitstrek,+ 30 mag u dan hoor vanuit die hemel, u woonplek.+ En mag u vergewe+ en elkeen beloon volgens wat hy verdien, want u ken elkeen se hart (net u ken werklik die hart van die mens).+ 31 Dan sal hulle u vrees deur u weë te volg solank as wat hulle in die land woon wat u aan ons voorvaders gegee het.

32 “En wat die uitlander betref wat nie deel is van u volk Israel nie en wat weens u groot naam*+ en u magtige hand en u uitgestrekte arm uit ’n ver land kom en wat in die rigting van hierdie huis bid,+ 33 mag u luister vanuit die hemel, u woonplek. En mag u alles doen wat die uitlander u vra, sodat al die volke van die aarde u naam kan ken+ en u kan vrees, net soos u volk Israel, en sodat hulle kan weet dat u naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

34 “As u u volk stuur om oorlog te maak teen hulle vyande, waar dit ook al mag wees,+ en hulle tot u bid+ in die rigting van hierdie stad wat u uitgekies het en in die rigting van die huis wat ek vir u naam gebou het,+ 35 moet u asseblief hulle gebed en hulle versoek om genade vanuit die hemel hoor en hulle help.+

36 “As hulle teen u sondig (want daar is geen mens wat nie sondig nie),+ en u vir hulle woedend is en hulle aan hulle vyande oorlewer, en as hulle vyande hulle as gevangenes wegneem na ’n land, hetsy ver of naby,+ 37 en hulle dan tot besinning kom in die land waarheen hulle as gevangenes weggeneem is en hulle na u terugkeer en u om genade smeek in die land waar hulle gevangenes is en sê: ‘Ons het gesondig en verkeerd gedoen, ons het goddeloos opgetree,’+ 38 en hulle met hulle hele hart+ en hulle hele siel* na u terugkeer in die land waar hulle gevangenes is+ en hulle tot u bid in die rigting van hulle land wat u aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat u uitgekies het+ en die huis wat ek vir u naam gebou het, 39 moet u asseblief hulle gebed en hulle versoek om genade hoor vanuit die hemel, u woonplek, en hulle help+ en u volk vergewe wat teen u gesondig het.

40 “O my God, mag u aandag skenk en luister* wanneer mense hier* bid.+ 41 O Jehovah God, mag u en die Ark, die teken van u krag, in hierdie plek rus.+ En Jehovah God, laat u priesters geklee wees met redding, en laat u lojales bly wees oor u goedheid.+ 42 O Jehovah God, moenie u gesalfde+ verwerp nie. Dink aan u lojale liefde vir u kneg Dawid.”+

7 Nadat Salomo gebid het,+ het vuur uit die hemel gekom+ en die brandoffer en die offerandes verteer, en Jehovah se heerlikheid het die huis gevul.+ 2 Die priesters kon nie in die huis van Jehovah ingaan nie omdat Jehovah se heerlikheid die huis van Jehovah gevul het.+ 3 En al die Israeliete het gesien hoe die vuur uit die hemel kom, en hulle het die heerlikheid van Jehovah bo die huis gesien. Hulle het op die vloer gekniel en neergebuig en Jehovah gedank, “want hy is goed. Sy lojale liefde duur vir ewig.”

4 Die koning en die hele volk het offerandes aan Jehovah gebring.+ 5 Koning Salomo het 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het die koning en die hele volk die huis van die ware God ingewy.+ 6 Die priesters en die Leviete het op hulle pos gestaan, en die Leviete het instrumente gehad waarmee hulle die sangers begelei het wat vir Jehovah gesing het.+ (Koning Dawid het hierdie instrumente gemaak om Jehovah mee te dank wanneer hy God saam met hulle* geloof het, “want sy lojale liefde duur vir ewig”.) En die priesters het oorkant hulle gestaan en hard op die trompette geblaas+ terwyl al die Israeliete gestaan het.

7 Salomo het toe die middel van die voorhof geheilig wat voor die huis van Jehovah was, omdat hy die brandoffers+ en die vetstukke van die vrede-offers* daar moes offer, want daar was te veel brandoffers, graanoffers+ en vetstukke+ vir die koperaltaar+ wat Salomo gemaak het. 8 Toe het Salomo saam met die hele Israel die fees sewe dae lank gehou+ – ’n baie groot skare het gekom uit die gebied wat gestrek het van Lebo-Hamat* af tot by die Vallei* van Egipte.+ 9 Hulle het die toewyding* van die altaar sewe dae lank gehou, en die fees ook sewe dae lank, en op die agtste dag* het hulle ’n heilige vergadering gehou.+ 10 Op die 23ste dag van die sewende maand het hy die volk huis toe gestuur, en hulle was vreugdevol+ en vrolik van hart as gevolg van Jehovah se goedheid teenoor Dawid, Salomo en sy volk Israel.+

11 So het Salomo die huis van Jehovah en die paleis van die koning voltooi.+ Salomo het alles gedoen wat hy beplan het om te doen vir die huis van Jehovah en vir sy eie paleis.+ 12 Jehovah het toe gedurende die nag aan Salomo verskyn+ en vir hom gesê: “Ek het jou gebed gehoor, en ek het hierdie plek vir my gekies as ’n huis van offerande.+ 13 As ek die hemel toesluit en daar geen reën is nie en as ek die sprinkane beveel om die land kaal te vreet en as ek my volk met ’n vreeslike siekte tref, 14 en my volk, oor wie my naam uitgeroep is,+ nederig berou toon+ en bid en my goedkeuring soek en ophou om slegte dinge te doen,+ dan sal ek vanuit die hemel hoor en hulle sonde vergewe, en ek sal hulle land genees.+ 15 Nou sal ek aandag skenk en luister* wanneer mense hier bid.+ 16 En nou het ek hierdie huis gekies en geheilig sodat my naam vir altyd daar gevestig kan wees,+ en my oë en my hart sal altyd daar wees.+

17 “En as jy my dien, net soos jou pa, Dawid, my gedien het, deur alles te doen wat ek jou beveel het, en as jy my wetsvoorskrifte en my oordele gehoorsaam,+ 18 dan sal ek die troon van jou koningskap vestig,+ net soos ek in ’n verbond met jou pa, Dawid,+ gesê het: ‘Daar sal altyd ’n man van jou geslagslyn wees wat oor Israel regeer.’+ 19 Maar as julle ophou om my te volg en my wetsbepalings en my gebooie verwerp wat ek aan julle gegee het en as julle ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig,+ 20 dan sal ek Israel uitruk uit my land wat ek hulle gegee het,+ en ek sal hierdie huis verwerp wat ek vir my naam geheilig het, en ek sal dit iets maak waarop al die volke neersien* en iets waarmee hulle spot.+ 21 En hierdie huis sal verwoes word. Elkeen wat daar verbygaan, sal verbaas wees+ en vra: ‘Hoekom het Jehovah dit aan hierdie land en hierdie huis gedoen?’+ 22 Dan sal hulle sê: ‘Dit is omdat hulle Jehovah verlaat het,+ die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte uitgelei het,+ en omdat hulle ander gode gekies en voor hulle neergebuig en hulle gedien het.+ Dit is hoekom hy al hierdie rampspoed oor hulle gebring het.’”+

8 Salomo het die huis van Jehovah en sy eie paleis binne 20 jaar gebou.+ 2 Daarna het Salomo die stede herbou wat Hiram+ aan hom gegee het en Israeliete daar laat woon. 3 Salomo het ook na Hamat-Soba gegaan en dit ingeneem. 4 Toe het hy Tadmor in die wildernis versterk,* sowel as al die voorraadstede+ wat hy in Hamat+ gebou het. 5 Hy het ook Bo-Bet-Horon+ en Onder-Bet-Horon+ opgebou, versterkte stede met mure, poorte en grendels, 6 sowel as Baʹälat,+ al Salomo se voorraadstede, al die stede vir die strydwaens,+ die stede vir die perderuiters. Salomo het al die bouwerk voltooi wat hy in Jerusalem, in die Liʹbanon en in die hele land waaroor hy regeer het, wou doen.

7 Wat al die mense betref wat oorgebly het van die Hetiete, die Amoriete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete,+ wat nie deel was van Israel nie+ 8 – dit wil sê die nakomelinge van hierdie volke wat in die land oorgebly het en wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie+ – hulle is deur Salomo opgeroep om vir hom te werk, tot vandag toe.+ 9 Maar Salomo het die Israeliete nie slawe gemaak nie,+ want hulle was sy vegters, die hoofde van sy offisiere en die hoofde van sy strydwadrywers en perderuiters.+ 10 Daar was 250 hoofde oor koning Salomo se beamptes. Hulle was die voormanne.+

11 Salomo het Farao se dogter+ uit die Stad van Dawid laat trek na die huis wat hy vir haar gebou het,+ want hy het gesê: “Hoewel sy my vrou is, moet sy nie in die huis van koning Dawid van Israel woon nie, want die plekke waar die Ark van Jehovah gestaan het, is heilig.”+

12 Toe het Salomo brandoffers+ aan Jehovah gebring op die altaar+ van Jehovah wat hy voor die portaal+ gebou het. 13 Hy het die daaglikse roetine gevolg, en hy het offerandes geoffer volgens wat Moses voorgeskryf het vir die Sabbatte,+ die nuwemane+ en die drie jaarlikse feeste+ – die Fees van die Ongesuurde Brode,+ die Fees van die Weke+ en die Huttefees.*+ 14 Hy het ook die dienste van die afdelings van die priesters+ aan hulle toegewys soos sy pa, Dawid, beveel het. Hy het die pligte van die Leviete aan hulle toegewys, om God te loof+ en om voor die priesters te dien, volgens die daaglikse roetine. En hy het die verskillende poorte aan die poortwagters in hulle afdelings toegewys,+ want dit was wat Dawid, die man van die ware God, beveel het. 15 En hulle het streng gebly by die koning se bevele aan die priesters en die Leviete en by die bevele in verband met die stoorkamers. 16 Salomo se werk was dus goed georganiseer,* van die dag dat die fondament van die huis van Jehovah gelê is+ totdat dit voltooi is. So is die huis van Jehovah voltooi.+

17 Toe het Salomo na Eʹseon-Geʹber+ en na Elot+ aan die kus van die land Edom gegaan.+ 18 Hiram+ het deur middel van sy eie knegte vir hom skepe en ervare seemanne gestuur. Hulle het saam met Salomo se knegte na Ofir+ gegaan, en hulle het 450 talente* goud+ daar gaan haal en dit na koning Salomo toe gebring.+

9 Die koningin van Skeba+ het die berig oor Salomo gehoor, en daarom het sy na Jerusalem gegaan om Salomo met moeilike vrae* te toets. Sy het ’n groot groep dienaars gehad, en kamele wat balsemolie en baie goud+ en edelstene dra. Sy het na Salomo toe gegaan en hom gevra oor alles wat sy wou weet.+ 2 Salomo het toe al haar vrae beantwoord. Daar was niks wat vir Salomo te moeilik was* en wat hy nie aan haar kon verduidelik nie.

3 Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is+ en toe sy die huis sien wat hy gebou het,+ 4 sowel as die kos van sy tafel,+ hoe sy knegte aan tafel gesit het, die bediening en kleredrag van sy tafelbediendes, sy skinkers en hulle kleredrag en die brandoffers wat hy gereeld by die huis van Jehovah geoffer het,+ het dit haar asem weggeslaan.* 5 Sy het toe vir die koning gesê: “Die berig wat ek in my land oor u prestasies* en oor u wysheid gehoor het, is waar. 6 Maar ek het nie die berigte geglo totdat ek gekom het en alles met my eie oë gesien het nie.+ En hulle het my nie eers die helfte vertel oor u groot wysheid nie!+ U het alles wat ek gehoor het, ver oortref.+ 7 Gelukkig is u manne en gelukkig is u knegte wat heeltyd voor u staan en na u wysheid luister! 8 Mag Jehovah u God geloof word, wat lief is vir u en u op sy troon geplaas het as koning vir Jehovah u God. As gevolg van God se liefde vir Israel+ en omdat hy dit vir ewig wil laat bestaan, het hy u as koning oor Israel aangestel om met regverdigheid te oordeel.”

9 Toe het sy vir die koning 120 talente* goud+ en baie balsemolie en edelstene gegee. Nooit weer is daar soveel balsemolie gebring as wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.+

10 En die knegte van Hiram en die knegte van Salomo wat goud uit Ofir gebring het,+ het ook sandelhout en edelstene gebring.+ 11 Van die sandelhout het die koning trappe vir die huis van Jehovah+ en vir die koning se paleis gemaak,+ sowel as harpe en ander snaarinstrumente vir die sangers.+ So iets was nooit tevore in die land van Juda gesien nie.

12 En koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, meer as* wat sy vir die koning gebring het. Toe het sy saam met haar knegte na haar land teruggegaan.+

13 Salomo se jaarlikse inkomste was 666 talente goud,+ 14 buiten die goud en silwer wat die koopmanne, die handelaars, al die konings van die Arabiere en die goewerneurs van die land vir Salomo gebring het.+

15 Koning Salomo het 200 groot skilde van goud* gemaak+ (elke skild is met 600 sikkels* goud* bedek),+ 16 asook 300 klein skilde* van goud* (elke klein skild is met drie minas* goud bedek). Toe het die koning dit in die Huis van die Liʹbanon-woud+ gesit.

17 Die koning het ook ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.+ 18 Daar was ses trappe na die troon toe, en daar was ’n goue voetbank wat vas was aan die troon. En daar was armleunings aan albei kante van die sitplek, en twee leeus+ het langs die armleunings gestaan. 19 en 12 leeus+ het op die ses trappe gestaan, een aan elke kant van die ses trappe. Geen ander koninkryk het so iets gehad nie. 20 Al die drinkhouers van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die Huis van die Liʹbanon-woud was van suiwer goud. Niks was van silwer gemaak nie. In Salomo se tyd is silwer as niks beskou nie,+ 21 want die koning se skepe het saam met die knegte van Hiram+ na Tarsis+ gevaar, en die Tarsis-skepe het elke drie jaar teruggekeer, gelaai met goud en silwer, ivoor,+ ape en poue.

22 Koning Salomo was ryker en wyser as al die ander konings van die aarde.+ 23 En die konings van regoor die aarde wou Salomo besoek om die wysheid te hoor wat die ware God in sy hart geplaas het.+ 24 Hulle het elkeen ’n geskenk gebring – silwervoorwerpe, goue voorwerpe, klere,+ wapens, balsemolie, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur. 25 En Salomo het 4 000 stalle vir sy perde en strydwaens gehad, en hy het 12 000 perde* gehad.+ Hy het hulle in die strydwastede en naby die koning in Jerusalem gehou.+ 26 En hy het regeer oor al die konings van die Rivier* af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte.+ 27 Die koning het die silwer in Jerusalem so volop soos die klippe gemaak, en sederhout so volop soos die wildevyebome in die Sjefeʹla.+ 28 En hulle het vir Salomo perde uit Egipte+ en uit al die ander lande gebring.

29 Die res van die geskiedenis van Salomo+ is van begin tot einde opgeteken in die geskrifte van die profeet Natan,+ in die profesie van Ahiʹa,+ die Siloniet, en in die siener Iddo se verslag van visioene+ oor Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat. 30 Salomo het 40 jaar lank in Jerusalem oor die hele Israel regeer. 31 Toe het Salomo gesterf.* Hulle het hom in die Stad van Dawid, sy pa,+ begrawe, en sy seun Rehaʹbeam het in sy plek koning geword.+

10 Rehaʹbeam het na Sigem+ gegaan, want die hele Israel het in Sigem bymekaargekom om hom koning te maak.+ 2 Toe Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, daarvan hoor, het hy van Egipte af teruggekom. (Hy was nog in Egipte, want hy het vir koning Salomo gevlug.)+ 3 Toe het hulle hom laat roep, en Jeroʹbeam en die hele Israel het na Rehaʹbeam gegaan en gesê: 4 “U pa het ons juk swaar gemaak.+ Maar as u die swaar werklas van u pa en die swaar* juk wat hy op ons geplaas het, ligter maak, sal ons u dien.”

5 Hy het toe vir hulle gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.” Toe het die volk van hom af weggegaan.+ 6 Koning Rehaʹbeam het die ouer mans* wat sy pa, Salomo, gedurende sy leeftyd gedien het, geraadpleeg en vir hulle gevra: “Wat sal julle sê? Hoe moet ek hierdie volk antwoord?” 7 Hulle het hom geantwoord: “As u goed is vir hierdie volk en hulle tevrede stel en vir hulle die antwoord gee wat hulle wil hê, sal hulle altyd u knegte wees.”

8 Maar hy het die raad van die ouer mans* verwerp, en hy het die jong mans geraadpleeg wat saam met hom grootgeword het en wat nou sy dienaars was.+ 9 Hy het vir hulle gevra: “Wat sal julle sê? Hoe moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het dat ek die juk wat my pa op hulle geplaas het, ligter moet maak?” 10 Die jong mans wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “Vir die volk wat vir u gesê het: ‘U pa het ons juk swaar gemaak, maar u moet dit vir ons ligter maak,’ moet u die volgende sê: ‘My pinkie sal dikker as my pa se heupe wees. 11 My pa het ’n swaar juk op julle geplaas, maar ek sal julle juk nog swaarder maak. My pa het julle met die sweep gestraf, maar ek sal julle met die gésel* straf.’”

12 Jeroʹbeam en die hele volk het op die derde dag na Rehaʹbeam toe gegaan, want die koning het gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.”+ 13 Maar die koning het hulle ’n harde antwoord gegee. Koning Rehaʹbeam het die raad van die ouer mans* dus verwerp. 14 Hy het die raad van die jong mans gevolg en vir die volk gesê: “Ek sal julle juk swaarder maak, en ek sal dit nog erger maak. My pa het julle met die sweep gestraf, maar ek sal julle met die gésel* straf.” 15 Die koning het nie na die volk geluister nie, want die ware God het dinge so laat verloop.+ Dit was sodat die woorde vervul kon word wat Jehovah deur middel van Ahiʹa,+ die Siloniet, vir Jeroʹbeam, die seun van Nebat, gesê het.

16 Omdat die koning nie na die Israeliete geluister het nie, het hulle vir die koning gesê: “Wat het ons met Dawid te doen? Ons het geen erfdeel saam met die seun van Isai nie. Gaan na julle gode toe, o Israel! Sorg nou vir jou eie huis, o Dawid.”+ Toe het al die Israeliete na hulle huise* gegaan.+

17 Maar Rehaʹbeam het nog steeds oor die Israeliete regeer wat in die stede van Juda gewoon het.+

18 Koning Rehaʹbeam het Hadoʹram,+ wat oor die mense was wat opgeroep is om vir die koning te werk, toe na die Israeliete gestuur, maar hulle het hom met klippe doodgegooi. Koning Rehaʹbeam het net betyds op sy strydwa geklim om na Jerusalem te vlug.+ 19 En die Israeliete het met hulle opstand teen die huis van Dawid volgehou tot vandag toe.

11 Toe Rehaʹbeam in Jerusalem aankom, het hy onmiddellik die huis van Juda en Benjamin+ bymekaargeroep – 180 000 opgeleide* soldate – om teen Israel te veg sodat Rehaʹbeam die koningskap kon terugkry.+ 2 Toe het Jehovah vir Semaʹja,+ die man van die ware God, gesê: 3 “Sê vir Rehaʹbeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: 4 ‘Dít is wat Jehovah sê: “Julle moenie teen julle broers gaan veg nie. Julle moet almal teruggaan huis toe, want ek het dit laat gebeur.”’”+ Toe het hulle die woord van Jehovah gehoorsaam, en hulle het huis toe gegaan en nie teen Jeroʹbeam gaan veg nie.

5 Rehaʹbeam het in Jerusalem gewoon en het versterkte stede in Juda gebou. 6 Hy het Betlehem+ opgebou,* sowel as Etam, Tekoʹa,+ 7 Bet-Sur, Sogo,+ Adulʹlam,+ 8 Gat,+ Mareʹsa, Sif,+ 9 Adoraʹim, Lagis,+ Aseʹka,+ 10 Sora, Aʹjalon+ en Heʹbron,+ versterkte stede in Juda en Benjamin. 11 Hy het ook die versterkte stede verder versterk. Hy het bevelvoerders daar geplaas en kos, olie en wyn aan hulle voorsien. 12 En hy het groot skilde en spiese aan al die stede voorsien. Hy het die stede baie goed versterk. En hy het aangehou om oor Juda en Benjamin te regeer.

13 En die priesters en die Leviete wat in Israel was, het hom ondersteun en hulle gebiede verlaat. 14 Die Leviete het hulle weivelde en hulle eiendom verlaat+ en na Juda en Jerusalem gegaan omdat Jeroʹbeam en sy seuns hulle nie toegelaat het om as priesters vir Jehovah te dien nie.+ 15 Jeroʹbeam het toe sy eie priesters aangestel vir die offerhoogtes+ en vir die bokagtige demone*+ sowel as vir die kalwers wat hy gemaak het.+ 16 En uit al die stamme van Israel het almal wat vasbeslote was* om Jehovah, die God van Israel, te dien,* agter die priesters en die Leviete aan na Jerusalem gegaan om offerandes te bring aan Jehovah, die God van hulle voorvaders.+ 17 Hulle het drie jaar lank die koningskap van Juda versterk en Rehaʹbeam, die seun van Salomo, ondersteun, want hulle het drie jaar lank dieselfde weg as Dawid en Salomo gevolg.

18 Toe het Rehaʹbeam met Maʹhalat getrou. Sy was die dogter van Jeʹrimot, die seun van Dawid, en van Abiʹhail, die dogter van Eliʹab,+ die seun van Isai. 19 Hy het die volgende seuns by haar gehad: Jeüs, Semarʹja en Saham. 20 Later het hy met Maʹäga, die kleindogter van Absalom,+ getrou. Hy het Abiʹa,+ Attai, Sisa en Seʹlomit by haar gehad. 21 Rehaʹbeam het Maʹäga, die kleindogter van Absalom, meer liefgehad as al sy ander vrouens en byvrouens.+ Hy het 18 vrouens en 60 byvrouens geneem, en hy het 28 seuns en 60 dogters gehad. 22 Rehaʹbeam het Abiʹa, die seun van Maʹäga, as hoof en leier oor sy broers aangestel, want hy was van plan om hom koning te maak. 23 Maar hy het verstandig opgetree en het van sy seuns na al die gebiede van Juda en Benjamin gestuur,* na al die versterkte stede,+ en hy het baie voorrade vir hulle gegee en baie vrouens vir hulle gekry.

12 Toe die koningskap van Rehaʹbeam stewig gevestig was+ en hy magtig geword het, het hy opgehou om die Wet van Jehovah te volg,+ en die hele Israel het sy voorbeeld gevolg. 2 In die vyfde jaar van koning Rehaʹbeam het koning Sisak+ van Egipte teen Jerusalem opgetrek, want hulle was ontrou aan Jehovah. 3 Koning Sisak het 1 200 strydwaens gehad, sowel as 60 000 perderuiters en ontelbare soldate wat saam met hom uit Egipte gekom het – Libiërs, Sukkiete en Etiopiërs.+ 4 Hy het die versterkte stede van Juda ingeneem en het Jerusalem uiteindelik bereik.

5 Die profeet Semaʹja+ het na Rehaʹbeam en die leiers van Juda gegaan wat weens Sisak in Jerusalem bymekaargekom het en vir hulle gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Julle het my verlaat, en daarom het ek julle verlaat+ en julle aan Sisak oorgegee.’” 6 Die leiers van Israel en die koning het toe nederig berou getoon+ en gesê: “Jehovah is regverdig.” 7 Toe Jehovah hulle nederige gesindheid sien, het Jehovah vir Semaʹja gesê: “Hulle het nederig berou getoon. Ek sal hulle nie vernietig nie,+ en ek sal hulle binnekort red. Ek sal nie my woede deur middel van Sisak oor Jerusalem uitstort nie. 8 Maar hulle sal sy knegte word, sodat hulle kan weet wat die verskil is tussen diens aan my en diens aan die konings* van ander lande.”

9 Koning Sisak van Egipte het dus teen Jerusalem opgetrek. Hy het die skatte van die huis van Jehovah+ en die skatte van die koning se paleis geneem. Hy het alles geneem, insluitende die goue skilde wat Salomo gemaak het.+ 10 Daarom het koning Rehaʹbeam koperskilde gemaak om dit te vervang, en hy het dit toevertrou aan die hoofde van die wagte* wat by die ingang van die koning se paleis wag gehou het. 11 Elke keer as die koning na die huis van Jehovah gegaan het, het die wagte saam met hom gegaan en die skilde gedra, en daarna het hulle dit na die kamer van die wagte teruggeneem. 12 Omdat die koning nederig berou getoon het, het Jehovah nie vir hom kwaad gebly nie,+ en hy het hulle nie heeltemal vernietig nie.+ Buitendien was daar nog goeie dinge in Juda.+

13 Koning Rehaʹbeam het sy posisie in Jerusalem versterk en het bly regeer. Rehaʹbeam was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 17 jaar lank in Jerusalem regeer, die stad wat Jehovah uit al die stamme van Israel uitgekies het om sy naam daar te vestig. Die koning se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.+ 14 Maar hy het gedoen wat sleg is, want hy was nie vasbeslote* om Jehovah te soek nie.+

15 Die geskiedenis van Rehaʹbeam is van begin tot einde opgeteken in die geskrifte van die profeet Semaʹja+ en van die siener Iddo+ in die geslagsregister. En daar was heeltyd oorloë tussen Rehaʹbeam en Jeroʹbeam.+ 16 Rehaʹbeam het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid+ begrawe. En sy seun Abiʹa+ het in sy plek koning geword.

13 In die 18de jaar van koning Jeroʹbeam het Abiʹa koning oor Juda geword.+ 2 Hy het drie jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Migaʹja,+ die dogter van Uʹriël, uit Giʹbea.+ En daar was oorlog tussen Abiʹa en Jeroʹbeam.+

3 Abiʹa het gaan oorlog voer met ’n leërmag van 400 000 opgeleide,* magtige soldate.+ En Jeroʹbeam het met 800 000 opgeleide,* magtige soldate in gevegsformasie teen hom opgetrek. 4 Abiʹa het toe op die berg Semaraʹim gaan staan, wat in die bergstreek van Eʹfraim is, en gesê: “Luister na my, o Jeroʹbeam en die hele Israel. 5 Weet julle nie dat Jehovah, die God van Israel, deur middel van ’n soutverbond*+ vir Dawid belowe het dat hy en sy seuns+ vir ewig oor Israel sal regeer nie?+ 6 Maar Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, die kneg van Dawid se seun Salomo, het teen sy heer in opstand gekom.+ 7 Slegte manne het by hom aangesluit. Jeroʹbeam en sy manne het teen Rehaʹbeam, die seun van Salomo, in opstand gekom toe hy nog jonk en onervare was, en hy kon nie sy man staan teen hulle nie.

8 “En nou sien julle kans om te kom veg teen die koninkryk van Jehovah wat in die hande van die seuns van Dawid is omdat daar so baie van julle is en omdat julle die goue kalwers het wat Jeroʹbeam vir julle as gode gemaak het.+ 9 Julle het Jehovah se priesters, die nakomelinge van Aäron, en die Leviete weggejaag,+ en julle het julle eie priesters aangestel net soos die volke van die lande.+ Enigiemand wat daar aangekom het met* ’n jong bul en sewe ramme, kon ’n priester word van julle sogenaamde gode. 10 Maar ons God is Jehovah,+ en ons het hom nie verlaat nie. Ons priesters, die nakomelinge van Aäron, dien Jehovah, en die Leviete help met die werk. 11 En hulle bring elke oggend en elke aand brandoffers+ en geurige reukwerk+ vir Jehovah, hulle sit die stapelbrode*+ op die tafel van suiwer goud en hulle steek elke aand+ die lampe van die goue lampstaander+ aan omdat ons ons verantwoordelikheid teenoor Jehovah ons God nakom, maar julle het hom verlaat. 12 En kyk! die ware God is met ons en hy lei ons. Sy priesters is by ons om op die trompette te blaas wat vir ons die teken sal wees om julle aan te val. O manne van Israel, moenie teen Jehovah, die God van julle voorvaders, veg nie, want julle sal nie suksesvol wees nie.”+

13 Maar Jeroʹbeam het soldate laat wegkruip om hulle van agter af aan te val. Die grootste deel van sy leërmag was dus voor Juda, en die soldate wat weggekruip het, was agter hulle. 14 Toe die manne van Juda omdraai, het hulle gesien dat hulle van voor en van agter aangeval word. Daarom het hulle tot Jehovah begin roep,+ terwyl die priesters hard op die trompette geblaas het. 15 Die manne van Juda het ’n oorlogskreet uitgeroep, en toe hulle die oorlogskreet uitroep, het die ware God vir Abiʹa en Juda die oorwinning oor Jeroʹbeam en die hele Israel gegee. 16 Die Israeliete het vir Juda gevlug, en God het hulle in hulle hand gegee. 17 Abiʹa en sy manne het baie van hulle doodgemaak, en 500 000 van die opgeleide* manne van Israel het gesterf. 18 So is die manne van Israel op daardie tyd verneder, maar die manne van Juda het die oorhand gekry omdat hulle op Jehovah, die God van hulle voorvaders, vertrou* het.+ 19 Abiʹa het Jeroʹbeam agternagesit en van sy stede ingeneem, naamlik Bet-El+ en sy afhanklike* dorpe, Jesaʹna en sy afhanklike dorpe en Eʹfrain+ en sy afhanklike dorpe. 20 En Jeroʹbeam het in Abiʹa se tyd nooit weer sy mag herwin nie. Jehovah het hom uiteindelik getref, en hy het gesterf.+

21 Maar Abiʹa het al hoe magtiger geword. Met verloop van tyd het hy 14 vrouens geneem,+ en hy het 22 seuns en 16 dogters gehad. 22 En die res van Abiʹa se geskiedenis, sy dade en sy woorde, is opgeteken in die geskrifte* van die profeet Iddo.+

14 Abiʹa het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid+ begrawe. En sy seun Asa het in sy plek koning geword. In sy dae was daar tien jaar lank vrede in die land.

2 Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van Jehovah sy God. 3 Hy het die vreemde altare+ en die offerhoogtes verwyder, die heilige pilare stukkend gekap+ en die heilige pale* afgekap.+ 4 En hy het vir Juda gesê dat hulle Jehovah, die God van hulle voorvaders, moet dien en die Wet en die gebod moet gehoorsaam. 5 Daarom het hy die offerhoogtes en die reukwerkstaanders+ uit al die stede van Juda verwyder. En terwyl hy regeer het, het die koninkryk vrede geniet. 6 Hy het versterkte stede in Juda gebou+ omdat daar vrede in die land was en niemand gedurende hierdie tyd teen hom oorlog gevoer het nie, want Jehovah het hom rus gegee.+ 7 Hy het vir Juda gesê: “Laat ons hierdie stede bou en dit versterk met mure en torings,+ poorte* en grendels. Want die land behoort nog aan ons omdat ons Jehovah ons God dien. Ons dien hom, en hy het ons rus gegee van al ons vyande om ons.” En hulle bouwerk was suksesvol.+

8 In Asa se leërmag was daar 300 000 manne van Juda met groot skilde en spiese en 280 000 magtige vegters van Benjamin met klein skilde* en boë.+

9 Later het Serag die Etiopiër teen hulle opgetrek met ’n leërmag van 1 000 000 manne en 300 strydwaens,+ en hy het Mareʹsa+ bereik. 10 Asa het in die Sefaʹta-vallei by Mareʹsa in gevegsformasie teen hom opgetrek. 11 Asa het tot Jehovah sy God om hulp geroep+ en gesê: “O Jehovah, dit maak nie vir u saak of dié aan wie u hulp verleen, sterk* of swak is nie.+ Help ons, Jehovah ons God, want ons vertrou* op u,+ en dit is in u naam dat ons teen hierdie groot leërmag opgetrek het.+ O Jehovah, u is ons God. Moenie toelaat dat blote mense die oorhand oor u kry nie.”+

12 Daarom het Jehovah vir Asa en Juda die oorwinning oor die Etiopiërs gegee, en die Etiopiërs het gevlug.+ 13 Asa en die manne wat by hom was, het die Etiopiërs tot by Gerar+ agternagesit. En hulle het al die Etiopiërs doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie, want hulle is heeltemal deur Jehovah en sy leërmag verslaan. Daarna het die manne van Juda baie van hulle besittings as buit weggedra. 14 Hulle het ook al die stede rondom Gerar aangeval, want die inwoners van daardie stede het bang geword vir Jehovah. En hulle het al die stede gestroop, want daar was baie goed in die stede wat hulle kon neem. 15 Hulle het die tente van die mense wat vee gehad het, aangeval, en hulle het baie kleinvee en kamele geneem. Daarna het hulle na Jerusalem teruggegaan.

15 Die gees van God het oor Asarʹja, die seun van Oded, gekom. 2 Hy het toe na Asa gegaan en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Jehovah is aan julle kant solank julle aan sy kant bly.+ En as julle hom soek, sal hy sorg dat julle hom vind,+ maar as julle hom verlaat, sal hy julle verlaat.+ 3 Israel was lank sonder die ware God, sonder ’n priester wat hulle onderrig en sonder wette.+ 4 Maar wanneer hulle in die moeilikheid was en na Jehovah, die God van Israel, teruggekeer het en hom gesoek het, het hy hom deur hulle laat vind.+ 5 In daardie tyd was dit nie veilig om te reis nie,* want daar was baie onrus onder al die inwoners van die lande. 6 Die een nasie het die ander nasie verslaan, en die een stad die ander, want God het hulle allerhande probleme laat ondervind sodat daar geen orde was nie.+ 7 Maar julle moet sterk wees, en julle moenie mismoedig word nie,*+ want julle sal beloon word vir julle dade.”

8 Toe Asa hierdie woorde en die profesie van die profeet Oded hoor, het dit hom moed gegee, en hy het die walglike afgode verwyder uit die hele land van Juda+ en Benjamin en uit die stede wat hy in die bergstreek van Eʹfraim ingeneem het. En hy het Jehovah se altaar herstel wat voor die portaal van Jehovah was.+ 9 Hy het ook die hele Juda en Benjamin bymekaargeroep, asook die uitlanders onder hulle wat van Eʹfraim, Manasʹse en Siʹmeon gekom het.+ Baie van hulle het van Israel na Asa oorgeloop toe hulle sien dat Jehovah sy God met hom is. 10 Hulle is in Jerusalem bymekaargebring in die derde maand van Asa se 15de regeringsjaar. 11 Op daardie dag het hulle 700 beeste en 7 000 skape aan Jehovah geoffer uit die buit wat hulle in die oorlog geneem het. 12 Hulle het ook deur middel van ’n verbond belowe om Jehovah, die God van hulle voorvaders, met hulle hele hart en met hulle hele siel* te dien+ 13 en dat enigiemand wat Jehovah, die God van Israel, nie dien nie, doodgemaak sal word, hetsy klein of groot, man of vrou.+ 14 Toe het hulle met ’n harde stem, met vreugdevolle uitroepe en met trompette en horings ’n eed aan Jehovah afgelê. 15 En die hele Juda was bly oor die eed, want hulle het die eed afgelê met hulle hele hart en het hom gretig gesoek, en hy het hom deur hulle laat vind.+ En Jehovah het hulle rus gegee van hulle vyande om hulle.+

16 Koning Asa het selfs sy ouma Maʹäga+ uit haar posisie as koningin-moeder* verwyder omdat sy ’n afstootlike afgod gemaak het vir die aanbidding van die heilige paal.*+ Asa het haar afstootlike afgod afgekap, dit in stukkies gekap en dit in die Kidron-vallei verbrand.+ 17 Maar die offerhoogtes is nie uit Israel+ verwyder nie.+ Asa het God nogtans sy hele lewe lank met sy hele hart gedien.*+ 18 En hy het die dinge wat hy en sy pa geheilig het, in die huis van die ware God ingebring: silwer, goud en allerhande voorwerpe.+ 19 Daar was geen oorlog tot Asa se 35ste regeringsjaar nie.+

16 In die 36ste jaar nadat Asa koning geword het, het koning Baäsa+ van Israel teen Juda opgetrek. Hy het Rama+ begin opbou* om te verhoed dat enigiemand uit die gebied van koning Asa van Juda uitgaan of daar ingaan.+ 2 Toe het Asa silwer en goud uit die skatkamers van Jehovah se huis+ en die koning se paleis geneem en dit na koning Ben-Hadad van Sirië,+ wat in Damaskus gewoon het, gestuur en gesê: 3 “Daar is ’n ooreenkoms* tussen my en u en tussen my pa en u pa. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u ooreenkoms* met koning Baäsa van Israel, sodat hy van my af sal wegtrek.”

4 Ben-Hadad het na koning Asa geluister en het die hoofde van sy leërmag gestuur om teen die stede van Israel te veg, en hulle het Ijon,+ Dan,+ Aʹbel-Maʹim en al die stoorplekke van die stede van Nafʹtali verower.+ 5 Toe Baäsa daarvan hoor, het hy onmiddellik opgehou om Rama op te bou* en alles net so gelos. 6 Koning Asa het toe die hele Juda bymekaargeroep, en hulle het die klippe en balke weggedra wat Baäsa gebruik het om Rama+ op te bou,+ en hy het dit gebruik om Geba+ en Mispa+ op te bou.*

7 Toe het die siener Hanaʹni+ na koning Asa van Juda gegaan en vir hom gesê: “Omdat u op die koning van Sirië vertrou* het en nie op Jehovah u God vertrou* het nie, het u die kans om die leërmag van die koning van Sirië te verslaan, deur u vingers laat glip.+ 8 Het die Etiopiërs en die Libiërs nie ’n baie groot leërmag en baie strydwaens en perderuiters gehad nie? Maar omdat u op Jehovah vertrou het, het hy hulle in u hand gegee.+ 9 Want die oë van Jehovah deursoek die hele aarde+ om dié te ondersteun* wat met hulle hele hart op hom vertrou.*+ U het onverstandig opgetree. Van nou af sal daar oorloë teen u wees.”+

10 Maar Asa het hom vir die siener vererg. Hy was so kwaad dat hy hom in die tronk* gegooi het. In daardie tyd het Asa ook ander onder die volk begin mishandel. 11 Die geskiedenis van Asa is van begin tot einde opgeteken in die Boek van die konings van Juda en van Israel.+

12 In die 39ste jaar nadat Asa koning geword het, het hy ’n voetkwaal ontwikkel en baie siek geword. Selfs toe hy siek was, het hy nie by Jehovah hulp gesoek nie, maar by die genesers. 13 Asa het gesterf*+ in sy 41ste regeringsjaar. 14 Hulle het hom begrawe in die indrukwekkende graf wat hy vir homself in die Stad van Dawid+ gegrawe het. En hulle het hom neergelê op ’n draagbaar wat bedek was met balsemolie en ’n salf wat gemaak is van allerhande speserye en geurige olies.+ Hulle het ook ’n besonder groot begrafnisvuur vir hom gemaak.*

17 Sy seun Joʹsafat+ het in sy plek koning geword, en hy het sy posisie oor Israel versterk. 2 Hy het troepe in al die versterkte stede van Juda geplaas. Hy het ook groepe soldate geplaas in die land van Juda en in die stede van Eʹfraim wat sy pa, Asa, ingeneem het.+ 3 Jehovah was voortdurend met Joʹsafat omdat hy die voorbeeld van sy voorvader Dawid+ gevolg het en nie die Baäls gedien het nie. 4 Want hy het die God van sy vader gedien+ en sy gebod gevolg,* en nie die gebruike van Israel nie.+ 5 Jehovah het Joʹsafat se koninkryk stewig gevestig.+ Die hele Juda het aan Joʹsafat geskenke bly gee, en hy was baie ryk en het baie eer ontvang.+ 6 Hy het die weë van Jehovah moedig gevolg, en hy het selfs die offerhoogtes+ en die heilige pale*+ uit Juda verwyder.

7 In die derde jaar nadat hy koning geword het, het hy sy hoë amptenare Ben-Hail, Obadʹja, Sagariʹa, Netaʹnel en Migaʹja gestuur om die mense in die stede van Juda te onderrig. 8 Die volgende Leviete was saam met hulle: Semaʹja, Netanʹja, Sebadʹja, Aʹsahel, Semiʹramot, Joʹnatan, Adoʹnia, Tobiʹa en Tob-Adoʹnia. Die priesters Elisaʹma en Joram was ook saam met hulle.+ 9 Hulle het die mense in Juda onderrig en het die boek van Jehovah se Wet saam met hulle geneem.+ Hulle het na al die stede van Juda gegaan en die mense daar onderrig.

10 Al die koninkryke van die lande rondom Juda het bang geword vir Jehovah, en hulle het nie teen Joʹsafat geveg nie. 11 En die Filistyne het vir Joʹsafat geskenke en geld as skatting* gebring. Die Arabiere het vir hom 7 700 skaapramme en 7 700 bokramme gegee.

12 Joʹsafat het al hoe magtiger geword+ en het aangehou om vestings+ en voorraadstede+ in Juda te bou. 13 Hy het groot projekte in die stede van Juda aangepak. En hy het soldate, magtige vegters, in Jerusalem gehad. 14 Hulle is volgens hulle vaderhuise in groepe verdeel. Van Juda was daar hoofde oor 1 000. Daar was Adnag, die hoof, en saam met hom was daar 300 000 magtige vegters.+ 15 Johaʹnan, die hoof, was onder sy bevel, en daar was 280 000 saam met hom. 16 En Amasʹja, die seun van Sigri, wat hom vrywillig aangebied het vir Jehovah se diens, was ook onder sy bevel, en daar was 200 000 magtige vegters saam met hom. 17 En van Benjamin+ was daar Eljaʹda, ’n magtige vegter, en daar was 200 000 manne saam met hom wat met die boog en die skild gewapen was.+ 18 En Joʹsabad was onder sy bevel, en saam met hom was daar 180 000 manne wat gewapen was vir oorlog. 19 Hulle, sowel as die mense wat die koning in die versterkte stede regoor Juda geplaas het,+ het die koning gedien.

18 Joʹsafat was baie ryk en het baie eer ontvang,+ maar hy het ’n huweliksverbintenis met Agab+ aangegaan. 2 ’n Paar jaar later het hy na Agab in Samariʹa gegaan.+ En Agab het vir hom en vir die manne by hom baie skape en beeste geslag.* En hy het hom aanhoudend gevra om teen Raʹmot-Giʹlead+ te gaan veg. 3 Koning Agab van Israel het vir koning Joʹsafat van Juda gevra: “Sal jy saam met my na Raʹmot-Giʹlead gaan?” Hy het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan. My volk is jou volk, en hulle sal jou in die oorlog ondersteun.”

4 Maar Joʹsafat het vir die koning van Israel gesê: “Vra Jehovah eers vir leiding, asseblief.”+ 5 Die koning van Israel het die profete, 400 manne, dus bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hulle het gesê: “Gaan, want die ware God sal dit in u hand gee.”

6 Joʹsafat het toe gesê: “Is daar nie nog ’n profeet van Jehovah hier nie?+ Laat ons hom ook vra.”+ 7 Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Daar is nog een man+ deur wie ons Jehovah se leiding kan vra, maar ek haat hom, want hy profeteer nooit goeie dinge oor my nie, maar altyd slegte dinge.+ Sy naam is Migaʹja, die seun van Jimla.” Maar Joʹsafat het gesê: “Die koning moenie so sê nie.”

8 Toe het die koning van Israel ’n hofbeampte geroep en gesê: “Gaan haal gou vir Migaʹja, die seun van Jimla.”+ 9 Die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, het elkeen in koninklike klere op sy troon gesit. Hulle het by die dorsvloer gesit wat by die ingang van die poort van Samariʹa was, en al die profete het voor hulle geprofeteer. 10 Toe het Sedekiʹa, die seun van Kenaʹäna, ysterhorings gemaak en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Met hierdie horings sal u die Siriërs wond* en hulle vernietig.’” 11 Al die ander profete het dieselfde geprofeteer en gesê: “Gaan na Raʹmot-Giʹlead, en u sal suksesvol wees.+ Jehovah sal dit in u hand gee.”

12 Die boodskapper wat Migaʹja gaan roep het, het toe vir hom gesê: “Die woorde van al die profete is ten gunste van die koning. Laat u woorde asseblief soos hulle woorde wees,+ en sê tog iets gunstigs.”+ 13 Maar Migaʹja het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, wat my God ook al sê, dít sal ek sê.”+ 14 Toe het hy na die koning gegaan, en die koning het vir hom gevra: “Migaʹja, moet ons teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hy het dadelik gesê: “Gaan, u sal suksesvol wees. Hulle sal in u hand gegee word.” 15 Die koning het toe vir hom gesê: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy vir my in die naam van Jehovah net die waarheid sal vertel?” 16 Hy het gesê: “Ek sien al die Israeliete verstrooi op die berge, soos skape wat nie ’n herder het nie.+ Jehovah het gesê: ‘Hulle het nie ’n leier nie. Laat elkeen in vrede na sy huis teruggaan.’”

17 Toe het die koning van Israel vir Joʹsafat gesê: “Het ek nie vir jou gesê dat hy nie goeie dinge oor my sal profeteer nie, maar net slegte dinge?”+

18 Migaʹja het gesê: “Hoor die woord van Jehovah: Ek het Jehovah op sy troon sien sit,+ en die hele leërmag van die hemel+ het aan sy regterkant en aan sy linkerkant gestaan.+ 19 Jehovah het toe gevra: ‘Wie sal koning Agab van Israel mislei, sodat hy na Raʹmot-Giʹlead sal gaan en daar sal sterf?’ En die een het dít gesê en die ander het dát gesê. 20 ’n Engel*+ het toe vorentoe gekom en voor Jehovah gaan staan en gesê: ‘Ek sal hom mislei.’ Jehovah het vir hom gevra: ‘Hoe sal jy dit doen?’ 21 Hy het geantwoord: ‘Ek sal gaan en ’n bedrieglike gees in die mond van al sy profete word.’ Toe het hy gesê: ‘Jy sal hom mislei, en jy sal suksesvol wees. Gaan doen dit.’ 22 En nou het Jehovah ’n bedrieglike gees in die mond van hierdie profete van u geplaas,+ maar in werklikheid het Jehovah rampspoed vir u voorspel.”

23 Sedekiʹa,+ die seun van Kenaʹäna, het toe na Migaʹja+ gegaan en hom op die wang geslaan+ en gesê: “Sê jy dat die gees van Jehovah van my af weggegaan het* om met jou te praat?”+ 24 Migaʹja het geantwoord: “Jy sal daarvan seker wees op die dag dat jy in die binnekamer ingaan om weg te kruip.” 25 Toe het die koning van Israel gesê: “Neem Migaʹja en gee hom oor aan Amon, die stadshoof, en Joas, die koning se seun. 26 Sê vir hulle: ‘Dít is wat die koning sê: “Sit hierdie man in die tronk+ en gee hom ’n kleiner porsie brood en water totdat ek in vrede terugkom.”’” 27 Maar Migaʹja het gesê: “As u in vrede terugkom, het Jehovah nie met my gepraat nie.”+ Hy het bygevoeg: “Laat almal wat hier is,* my woorde onthou.”

28 Daarna het die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, na Raʹmot-Giʹlead+ gegaan. 29 Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek my vermom, maar jy moet jou koninklike klere aantrek.” Toe het die koning van Israel hom vermom en gaan veg. 30 Die koning van Sirië het die volgende bevel aan die bevelvoerders van sy strydwaens gegee: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.” 31 Toe die bevelvoerders van die strydwaens Joʹsafat sien, het hulle gedink: ‘Dit is die koning van Israel.’ Daarom het hulle op hom afgestorm om teen hom te veg. Joʹsafat het om hulp begin roep,+ en Jehovah het hom gehelp. God het hulle van hom af laat wegdraai. 32 Toe die bevelvoerders van die strydwaens sien dat dit nie die koning van Israel is nie, het hulle onmiddellik opgehou om hom te volg.

33 Maar ’n man het ’n pyl afgeskiet en die koning van Israel toevallig* raak geskiet tussen twee dele van sy pantser.* Die koning het toe vir sy strydwadrywer gesê: “Draai om en neem my uit die geveg,* want ek is ernstig gewond.”+ 34 Die geveg was baie intens en het die hele dag aangehou, en die koning van Israel moes tot die aand toe regop gehou word in die strydwa met sy gesig na die Siriërs. En hy het teen sononder gesterf.+

19 Toe het koning Joʹsafat van Juda veilig* by sy paleis in Jerusalem aangekom.+ 2 Jehu,+ die seun van Hanaʹni,+ die siener, het koning Joʹsafat gaan ontmoet en vir hom gesê: “Dink u dit is reg dat u die goddeloses help+ en dat u liefde betoon aan dié wat wys dat hulle Jehovah haat?+ Omdat u dit gedoen het, het u Jehovah kwaad gemaak. 3 Maar God het goeie dinge in u gesien,+ want u het ontslae geraak van die heilige pale* in die land en u het u hart voorberei* om die ware God te dien.”+

4 Joʹsafat het in Jerusalem bly woon, en hy het weer deur die land gereis, van Berseʹba af tot by die bergstreek van Eʹfraim,+ om die volk aan te moedig om na Jehovah, die God van hulle voorvaders, terug te keer.+ 5 Hy het ook regters regoor die land, in al die versterkte stede van Juda, aangestel.+ 6 En hy het vir die regters gesê: “Tree versigtig op, want julle tree op as regters vir Jehovah, nie vir mense nie, en hy is met julle wanneer julle oordeel.+ 7 Daarom moet julle Jehovah vrees.+ Tree versigtig op, want Jehovah ons God is nie onregverdig+ of partydig nie,+ en hy aanvaar nie omkoopgeskenke nie.”+

8 Joʹsafat het ook in Jerusalem party van die Leviete en die priesters en party van die hoofde van die vaderhuise van Israel aangestel om as regters vir Jehovah te dien en om regsake vir die inwoners van Jerusalem te verhoor.+ 9 En hy het vir hulle gesê: “Dít is wat julle met vrees vir Jehovah, met getrouheid en met ’n onverdeelde hart* moet doen: 10 Wanneer julle broers wat in hulle stede woon, met ’n moordsaak+ na julle toe kom of as hulle ’n vraag het oor ’n wet, ’n gebod, wetsvoorskrifte of oordele, moet julle hulle waarsku sodat hulle nie skuldig word voor Jehovah nie. Anders sal hy kwaad word vir julle en julle broers. Dit is wat julle moet doen sodat julle nie skuldig word nie. 11 Die hoofpriester Amarʹja is oor julle aangestel vir elke saak wat verband hou met die diens van Jehovah.+ Sebadʹja, die seun van Isʹmael, is die leier van die huis van Juda vir elke saak wat verband hou met die koning. En die Leviete sal as beamptes vir julle dien. Wees sterk en tree op, en mag Jehovah met almal wees wat doen wat goed is.”*+

20 Daarna het die Moabiete,+ die Ammoniete+ en party van die Ammonim* teen Joʹsafat gaan veg. 2 Daar is vir Joʹsafat gesê: “Daar is ’n groot leërmag wat teen u kom veg. Hulle kom uit die gebied van die see,* van Edom+ af. En hulle is in Haʹsason-Taʹmar, dit wil sê En-Gedi.”+ 3 Toe het Joʹsafat bang geword en besluit om Jehovah vir hulp te vra.+ Hy het vir die hele Juda ’n vas aangekondig. 4 Die mense van Juda het bymekaargekom om Jehovah se leiding te vra.+ Hulle het uit al die stede van Juda gekom om Jehovah te raadpleeg.

5 Toe het Joʹsafat in die gemeente van Juda en van Jerusalem opgestaan, in die huis van Jehovah, voor die nuwe voorhof, 6 en hy het gesê:

“O Jehovah, die God van ons voorvaders, is u nie God in die hemel nie?+ Regeer u nie oor al die koninkryke van die nasies nie?+ In u hand is krag en mag, en niemand kan teen u staande bly nie.+ 7 O ons God, het u nie die inwoners van hierdie land ter wille van u volk Israel verdryf en die land toe as ’n permanente besitting aan die nageslag* van u vriend Abraham gegee nie?+ 8 En hulle het daarin gaan woon, en hulle het daar vir u ’n heiligdom vir u naam gebou+ en gesê: 9 ‘As daar rampspoed oor ons kom, of dit nou deur die swaard, veroordeling, siekte of hongersnood is, sal ons voor hierdie huis en voor u gaan staan (want u naam is in hierdie huis),+ en ons sal u smeek om ons te help. Mag u dan luister en ons red.’+ 10 Nou het die manne van Ammon, Moab en die bergstreek Seïr+ teen ons opgetrek. Toe Israel uit Egipte gekom het, het u die Israeliete nie toegelaat om hulle gebied binne te val nie, en Israel het van hulle af weggedraai en hulle nie vernietig nie.+ 11 En nou betaal hulle ons terug deur te kom en ons te verdryf uit u land wat u vir ons as ’n erfdeel gegee het.+ 12 O ons God, straf hulle asseblief.+ Want ons is magteloos voor hierdie groot leërmag wat teen ons kom veg, en ons weet nie wat om te doen nie,+ maar ons oë is op u.”+

13 Al die mans van Juda het die hele tyd voor Jehovah gestaan, saam met hulle kinders, hulle vrouens en selfs hulle klein kindertjies.

14 Toe het die gees van Jehovah in die gemeente oor Jahaʹsiël gekom. Hy was die seun van Sagariʹa, die seun van Benaʹja, die seun van Jeïel, die seun van Mattanʹja, ’n Leviet uit die nakomelinge van Asaf. 15 Hy het gesê: “Luister, koning Joʹsafat en inwoners van Juda en Jerusalem! Dít is wat Jehovah vir julle sê: ‘Moenie vrees nie en moenie bang wees vir hierdie groot leërmag nie, want die geveg is nie julle s’n nie, maar God s’n.+ 16 Gaan môre teen hulle uit. Hulle sal met die Sis-pas kom, en julle sal hulle aan die einde van die vallei* voor die wildernis Jeruʹel vind. 17 Julle sal nie in hierdie oorlog hoef te veg nie. Neem julle posisies in, staan stil+ en sien hoe Jehovah julle red.*+ O Juda en Jerusalem, moenie bang wees of vrees nie.+ Gaan môre teen hulle uit, en Jehovah sal met julle wees.’”+

18 Dadelik het Joʹsafat op sy knieë gegaan en neergebuig, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor Jehovah op hulle knieë neergeval om Jehovah te aanbid. 19 Toe het die Leviete wat nakomelinge van Kehat+ en van Korag was, opgestaan om Jehovah, die God van Israel, met ’n baie harde stem te loof.+

20 Hulle het die volgende oggend vroeg opgestaan en na die wildernis van Tekoʹa+ gegaan. Toe hulle vertrek het, het Joʹsafat voor hulle gaan staan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Vertrou op Jehovah julle God sodat julle kan vasstaan.* Vertrou op sy profete,+ en julle sal suksesvol wees.”

21 Nadat hy die volk geraadpleeg het, het hy manne aangestel om vir Jehovah te sing+ en hom te loof. Hulle moes in heilige klere voor die gewapende manne uitgaan en sing: “Dank Jehovah, want sy lojale liefde duur vir ewig.”+

22 Toe hulle met vreugde lofliedere begin sing, het Jehovah ’n strik gestel vir die manne wat Juda binnegeval het, die manne van Ammon, Moab en die bergstreek Seïr, en hulle het mekaar doodgemaak.+ 23 En die Ammoniete en die Moabiete het die inwoners van die bergstreek Seïr+ aangeval om hulle te vernietig en uit te roei. En nadat hulle die inwoners van Seïr doodgemaak het, het hulle mekaar doodgemaak.+

24 Toe Juda by die wagtoring van die wildernis kom+ en in die rigting van die leërmag kyk, het hulle hulle lyke op die grond sien lê.+ Daar was geen oorlewendes nie. 25 Joʹsafat en sy manne het gegaan om die lyke te stroop en hulle het baie goedere, klere en waardevolle dinge gevind. Hulle het soveel bymekaargemaak dat hulle nie alles kon dra nie.+ Dit het drie dae geneem om alles weg te dra. 26 Op die vierde dag het hulle in die Beʹraga-vallei bymekaargekom om Jehovah te loof.* Daarom het hulle daardie plek die Beʹraga-vallei* genoem,+ en dit word tot vandag toe so genoem.

27 Toe het al die manne van Juda en Jerusalem, onder die leiding van Joʹsafat, met vreugde na Jerusalem teruggegaan, want Jehovah het hulle die oorwinning oor hulle vyande gegee.+ 28 Hulle het met die klank van harpe,+ ander snaarinstrumente en trompette+ in Jerusalem aangekom en na die huis van Jehovah gegaan.+ 29 En al die koninkryke van die lande het bang geword vir God toe hulle hoor dat Jehovah teen Israel se vyande geveg het.+ 30 Daar was dus vrede in die koninkryk van Joʹsafat, en sy God het hom rus van al sy vyande om hom bly gee.+

31 En Joʹsafat het aangehou om oor Juda te regeer. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuʹba, die dogter van Silhi.+ 32 Hy het dieselfde weg gevolg as sy pa, Asa.+ Hy het nie daarvan afgewyk nie, en hy het gedoen wat reg is in die oë van Jehovah.+ 33 Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie,+ en die volk het nog nie hulle hart voorberei om die God van hulle voorvaders te dien nie.+

34 Die res van die geskiedenis van Joʹsafat is van begin tot einde opgeteken in die geskrifte van Jehu,+ die seun van Hanaʹni,+ wat ingesluit is in die Boek van die konings van Israel. 35 Later het koning Joʹsafat van Juda ’n ooreenkoms gemaak met koning Ahaʹsia van Israel, wat goddelose dinge gedoen het.+ 36 Hulle het saam skepe gebou om na Tarsis+ te vaar. Hulle het die skepe in Eʹseon-Geʹber+ gebou. 37 Maar Eliëser, die seun van Dodawaʹhu, uit Mareʹsa, het teen Joʹsafat geprofeteer en gesê: “Omdat u ’n ooreenkoms met Ahaʹsia gemaak het, sal Jehovah u projek laat misluk.”+ Die skepe is dus erg beskadig,+ en hulle kon nie na Tarsis vaar nie.

21 Joʹsafat het gesterf,* en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. En sy seun Joram het in sy plek koning geword.+ 2 Sy broers, die seuns van Joʹsafat, was Asarʹja, Jehiʹël, Sagariʹa, Asarʹja, Miʹgael en Sefatʹja. Hulle almal was die seuns van koning Joʹsafat van Israel. 3 En hulle pa het vir hulle baie geskenke gegee: silwer, goud en kosbare dinge, asook versterkte stede in Juda.+ Maar hy het die koninkryk aan Joram gegee,+ want hy was die eersgeborene.

4 Toe Joram die koninkryk by sy pa oorgeneem het, het hy al sy broers en party van die leiers van Israel met die swaard doodgemaak+ om te verseker dat hy sy posisie as koning behou. 5 Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer.+ 6 Hy het dieselfde weg gevolg as die konings van Israel,+ net soos die huis van Agab gedoen het, want hy het met Agab se dogter getrou.+ En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë. 7 Maar Jehovah wou nie die huis van Dawid uitroei nie ter wille van die verbond wat hy met Dawid gemaak het,+ want hy het belowe dat hy vir hom en sy seuns altyd ’n lamp* sou gee.+

8 In sy dae het Edom teen Juda in opstand gekom+ en hulle eie koning aangestel.+ 9 Daarom het Joram met sy bevelvoerders en al sy strydwaens teen hulle opgetrek. En in die nag het hy die Edomiete wat hom en die bevelvoerders van die strydwaens omsingel het, aangeval en verslaan. 10 Maar die Edomiete het volgehou met hulle opstand teen Juda tot vandag toe. In daardie tyd het Libna+ ook teen Joram in opstand gekom omdat hy Jehovah, die God van sy voorvaders, verlaat het.+ 11 Hy het ook offerhoogtes+ op die berge van Juda gemaak om die inwoners van Jerusalem te kry om ander gode te aanbid,* en hy het Juda laat afdwaal.

12 Hy het uiteindelik ’n brief van die profeet Eliʹa gekry,+ wat gesê het: “Dít is wat Jehovah, die God van u voorvader Dawid, sê: ‘Jy het nie die voorbeeld gevolg van Joʹsafat,+ jou pa, of van koning Asa+ van Juda nie. 13 Maar jy volg die voorbeeld van die konings van Israel+ en jy laat die inwoners van Juda en Jerusalem ander gode aanbid,*+ net soos die huis van Agab.+ En jy het selfs jou eie broers, die seuns van jou pa, wat beter as jy was, doodgemaak.+ 14 Daarom gaan Jehovah jou volk, jou seuns en jou vrouens swaar straf, en jy sal jou besittings verloor. 15 Jy sal aan baie siektes ly, insluitende ’n siekte wat jou ingewande aantas, en dit sal elke dag erger word totdat jou ingewande uitkom.’”

16 Toe het Jehovah veroorsaak+ dat die Filistyne+ en die Arabiere+ wat naby die Etiopiërs gewoon het, vyande van Joram word. 17 Hulle het Juda binnegedring en dit aangeval. Hulle het alles wat in die koning se paleis was,+ en ook sy seuns en sy vrouens, geneem. Die enigste seun wat oorgebly het, was Joʹahas,*+ sy jongste seun. 18 En daarna het Jehovah hom ’n ongeneeslike siekte laat kry wat sy ingewande aangetas het.+ 19 Ná twee volle jare het sy ingewande uitgekom as gevolg van sy siekte, en hy het tot sy dood toe verskriklik gely. Sy volk het nie ’n begrafnisvuur vir hom gemaak soos hulle vir sy voorvaders gemaak het nie.+ 20 Hy was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer. Niemand was spyt toe hy gesterf het nie. En hulle het hom in die Stad van Dawid+ begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie.+

22 Toe het die inwoners van Jerusalem Joram se jongste seun, Ahaʹsia, in sy plek koning gemaak, want die rowerbende wat saam met die Arabiere na die kamp gekom het, het al Ahaʹsia se ouer broers doodgemaak.+ So het Ahaʹsia, die seun van Joram, as koning oor Juda begin regeer.+ 2 Ahaʹsia was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Ataʹlia,+ die kleindogter* van Omri.+

3 Hy het ook die weg van die huis van Agab gevolg,+ want sy ma het hom beïnvloed om goddelose dinge te doen. 4 En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos die huis van Agab, want hulle het sy raadgewers geword ná die dood van sy pa. En hulle raad het tot sy dood gelei. 5 Hy het hulle raad gevolg en saam met Joram, die seun van koning Agab van Israel, by Raʹmot-Giʹlead+ teen koning Haʹsael+ van Sirië gaan oorlog voer, waar Joram deur boogskutters gewond is. 6 Hy het na Jisʹreël+ teruggegaan om van sy wonde te herstel nadat hy in Rama teen koning Haʹsael van Sirië+ geveg het.

Ahaʹsia,* die seun van Joram,+ die koning van Juda, het na Jisreël gegaan om Joram,+ die seun van Agab, te besoek omdat hy gewond* was.+ 7 Maar God het gesorg dat Ahaʹsia se besoek aan Joram tot sy dood lei. Hy het saam met Joram gegaan na Jehu,+ die kleinseun* van Nimsi, wat deur Jehovah gesalf is om die huis van Agab uit te roei.+ 8 Terwyl Jehu besig was om die huis van Agab uit te roei, het hy die leiers van Juda en die seuns van Ahaʹsia se broers, dienaars van Ahaʹsia, teëgekom en hulle doodgemaak.+ 9 Daarna het hy manne gestuur om Ahaʹsia te soek. Hulle het hom in Samariʹa gevind waar hy weggekruip het, hom na Jehu toe geneem en hom doodgemaak. Toe het hulle hom begrawe,+ want hulle het gesê: “Hy is die kleinseun van Joʹsafat, wat Jehovah met sy hele hart gedien* het.”+ Daar was toe niemand van die huis van Ahaʹsia wat oor die koninkryk kon regeer nie.

10 Toe Ataʹlia,+ Ahaʹsia se ma, sien dat haar seun dood is, het sy al die kinders van die koninklike huis* van Juda doodgemaak.+ 11 Maar Joʹsabat, die dogter van die koning, het Joas,+ Ahaʹsia se seun, weggevat tussen die seuns van die koning wat doodgemaak sou word, en sy het hom en sy oppasser in ’n binneste slaapkamer weggesteek. Joʹsabat, die dogter van koning Joram+ (sy was die vrou van die priester Jojaʹda+ en die suster van Ahaʹsia), het dit reggekry om hom vir Ataʹlia weg te steek, sodat sy hom nie kon doodmaak nie.+ 12 Hy is ses jaar lank by hulle in die huis van die ware God weggesteek, terwyl Ataʹlia oor die land regeer het.

23 In die sewende jaar het Jojaʹda moedig opgetree en ’n verbond gemaak met die hoofde oor 100,+ naamlik Asarʹja, die seun van Jeroʹham, Isʹmael, die seun van Johaʹnan, Asarʹja, die seun van Obed, Maäseʹja, die seun van Adaʹja, en Elisaʹfat, die seun van Sigri. 2 Daarna het hulle deur die hele Juda gegaan en die Leviete+ uit al die stede van Juda en die hoofde van die vaderhuise van Israel bymekaargeroep. Toe hulle in Jerusalem aankom, 3 het die hele gemeente ’n verbond met die koning gemaak+ in die huis van die ware God, en daarna het hy vir hulle gesê:

“Die koning se seun sal regeer, want Jehovah het belowe dat die nakomelinge van Dawid sal regeer.+ 4 Dít is wat julle moet doen: ’n Derde van die priesters en van die Leviete wat op die Sabbat aan diens gaan wees,+ moet deurwagters wees.+ 5 ’n Derde moet by die paleis van die koning+ staan, ’n derde moet by die Fondamentpoort staan en die hele volk moet in die voorhowe van die huis van Jehovah+ staan. 6 Moet niemand in die huis van Jehovah laat ingaan nie, behalwe die priesters en die Leviete wat aan diens is.+ Hulle mag ingaan, want hulle is ’n heilige groep, en die hele volk moet gehoorsaam wees aan wat Jehovah gesê het. 7 Die Leviete moet die koning omring, elkeen met sy wapens in sy hand. Enigiemand wat in die huis ingaan, moet doodgemaak word. Bly by die koning waar hy ook al gaan.”

8 Die Leviete en die hele Juda het presies gedoen wat die priester Jojaʹda beveel het. Al die hoofde het hulle manne bymekaargeroep – dié wat op die Sabbat aan diens was, sowel as dié wat nie op die Sabbat aan diens was nie+ – want die priester Jojaʹda het seker gemaak dat al die afdelings+ daar is. 9 Die priester Jojaʹda het toe vir die hoofde oor 100+ die spiese, die klein skilde* en die ronde skilde gegee wat aan koning Dawid behoort het+ en wat in die huis van die ware God was.+ 10 Hy het al die manne reg rondom die koning, naby die altaar en die huis, laat staan. Hulle het met hulle wapens* in hulle hande gestaan, van die regterkant van die huis af tot by die linkerkant van die huis. 11 Toe het hulle die koning se seun+ uitgebring en die kroon en die Getuienis*+ op hom gesit en hom koning gemaak, en Jojaʹda en sy seuns het hom gesalf. Daarna het hulle gesê: “Lank lewe die koning!”+

12 Toe Ataʹlia die mense hoor hardloop en hoor hoe hulle die koning loof, het sy dadelik na die mense toe gegaan by die huis van Jehovah.+ 13 Sy het die koning by die pilaar* by die ingang sien staan. Die hoë amptenare+ en die trompetblasers was by die koning, en al die mense van die land was vreugdevol+ en het op die trompette geblaas, en die sangers met die musiekinstrumente het die leiding geneem toe die lofliedere gesing is. Ataʹlia het toe haar klere geskeur en uitgeroep: “’n Sameswering! ’n Sameswering!” 14 Maar die priester Jojaʹda het die hoofde oor 100, dié wat oor die leërmag aangestel was, uitgestuur en vir hulle gesê: “Neem haar tussen die rye soldate uit, en maak enigeen wat haar volg, met die swaard dood! Moet haar nie in die huis van Jehovah doodmaak nie.” 15 Hulle het haar gegryp, en toe hulle by die Perdepoort van die koning se paleis kom, het hulle haar daar doodgemaak.

16 Toe het Jojaʹda ’n verbond gemaak tussen hom, die hele volk en die koning. Hulle het belowe dat hulle sal voortgaan om die volk van Jehovah te wees.+ 17 Daarna het die hele volk na die tempel van Baäl gegaan en dit afgebreek.+ Hulle het sy altare en sy beelde stukkend geslaan,+ en hulle het Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.+ 18 Toe het Jojaʹda die verantwoordelikheid om oor die huis van Jehovah toesig te hou, aan die priesters en die Leviete gegee wat Dawid in afdelings ingedeel het om oor die huis van Jehovah toesig te hou en om die brandoffers van Jehovah te offer+ soos die Wet van Moses vereis.+ Hulle moes dit met blydskap en met liedere doen, volgens Dawid se instruksies. 19 Hy het ook die poortwagters+ by die poorte van die huis van Jehovah laat staan om te keer dat enigiemand wat onrein is, inkom. 20 Hy het toe die hoofde oor 100,+ die belangrike manne, die heersers en die hele volk saamgeneem, en hulle het die koning van die huis van Jehovah af deur die boonste poort na die koning se paleis geneem en die koning op die troon+ van die koninkryk laat sit.+ 21 Al die mense van die land was bly en daar was vrede in die stad, want hulle het Ataʹlia met die swaard doodgemaak.

24 Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het,+ en hy het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibʹja van Berseʹba.+ 2 Terwyl die priester Jojaʹda nog gelewe het, het Joas bly doen wat reg is in Jehovah se oë.+ 3 Jojaʹda het vir Joas twee vrouens gekies, en Joas het seuns en dogters gehad.

4 Later was dit Joas se hartsbegeerte om die huis van Jehovah te herstel.+ 5 Toe het hy die priesters en die Leviete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan uit na die stede van Juda en samel by al die Israeliete geld in om die huis van julle God elke jaar te herstel.+ Julle moet dit dadelik doen.” Maar die Leviete het dit nie dadelik gedoen nie.+ 6 Daarom het die koning die hoofpriester Jojaʹda geroep en vir hom gevra:+ “Hoekom het jy nie gesorg dat die Leviete die heilige belasting by die mense van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die kneg van Jehovah, het gesê dat die gemeente van Israel dit moet betaal+ om die tent van die Getuienis te onderhou.+ 7 Die seuns van Ataʹlia,+ daardie goddelose vrou, het destyds by die huis van die ware God ingebreek,+ en hulle het al die heilige dinge van die huis van Jehovah vir die aanbidding van die Baäls gebruik.” 8 Toe is daar op die koning se bevel ’n kis+ gemaak, en dit is buite by die poort van die huis van Jehovah gesit.+ 9 Daarna is daar deur die hele Juda en Jerusalem ’n aankondiging gemaak dat hulle die heilige belasting+ vir Jehovah moet bring, soos Moses, die kneg van die ware God, die Israeliete in die wildernis beveel het. 10 Al die leiers en die hele volk was vreugdevol,+ en hulle het aangehou om bydraes te bring en dit in die kis te gooi totdat dit vol was.*

11 Wanneer die Leviete die kis na die koning toe gebring het en gesien het dat daar baie geld daarin is, het die sekretaris van die koning en die assistent van die hoofpriester gekom en die kis leeggemaak,+ en dan het hulle dit na sy plek teruggeneem. Dit is wat hulle elke dag gedoen het, en hulle het baie geld ingesamel. 12 Die koning en Jojaʹda het die geld gegee vir die mense wat toesig gehou het oor die werk by Jehovah se huis. En hulle het dan klipkappers en ambagsmanne gehuur om Jehovah se huis op te knap,+ en ook mense wat met yster en koper kon werk om Jehovah se huis te herstel. 13 Die toesighouers het die werk aan die gang gekry. Onder hulle toesig het die werk goed gevorder, en hulle het die huis van die ware God heeltemal herstel en dit versterk. 14 Toe hulle klaar was, het hulle die res van die geld na die koning en na Jojaʹda gebring, en hulle het dit gebruik om voorwerpe vir die huis van Jehovah te maak. Hulle het voorwerpe gemaak vir die diens en vir die brandoffers, sowel as bekers en voorwerpe van silwer en goud.+ En terwyl Jojaʹda gelewe het, het hulle gereeld brandoffers+ by die huis van Jehovah geoffer.

15 Jojaʹda het ’n lang en goeie lewe gehad. Hy was 130 jaar oud toe hy gesterf het. 16 Hy is in die Stad van Dawid by die konings begrawe,+ want hy het goeie dinge in Israel gedoen+ vir die ware God en Sy huis.

17 Ná Jojaʹda se dood het die leiers van Juda na die koning toe gegaan en voor hom neergebuig. En van toe af het die koning na hulle raad geluister. 18 Hulle het opgehou om na die huis van Jehovah, die God van hulle voorvaders, te gaan. En hulle het die heilige pale* en die afgode begin dien. As gevolg van hulle sonde het God kwaad geword vir* Juda en Jerusalem. 19 Jehovah het aangehou om profete na hulle toe te stuur om hulle na hom te laat terugkeer. En die profete het hulle bly waarsku, maar hulle wou nie luister nie.+

20 God se gees het oor Sagariʹa, die seun van die priester Jojaʹda,+ gekom, en hy het voor* die volk gaan staan en vir hulle gesê: “Dít is wat die ware God sê: ‘Hoekom is julle nie gehoorsaam aan Jehovah se gebooie nie? Julle sal nie suksesvol wees nie! Omdat julle Jehovah verlaat het, sal hy julle verlaat.’”+ 21 Maar hulle het teen hom saamgesweer.+ En hulle het hom op die koning se bevel in die voorhof van Jehovah se huis met klippe doodgegooi.+ 22 Koning Joas het nie gedink aan die liefde wat Jojaʹda, Sagariʹa se pa, aan hom betoon het nie, en hy het sy seun, Sagariʹa, doodgemaak. Net voordat Sagariʹa gesterf het, het hy gesê: “Mag Jehovah jou hiervoor straf.”+

23 Aan die begin van die volgende jaar* het die Siriese leërmag teen Joas opgetrek, en hulle het Juda en Jerusalem binnegeval.+ Toe het hulle al die leiers+ van die volk doodgemaak, en hulle het al die buit wat hulle gevat het, na die koning van Damaskus gestuur. 24 Hoewel die Siriërs ’n klein leërmag gehad het, het Jehovah hulle die oorwinning oor die groot leërmag van Juda gegee+ omdat die volk Jehovah, die God van hulle voorvaders, verlaat het. So is die Siriërs gebruik om Joas te straf. 25 Toe die Siriërs weggaan, was hy ernstig gewond,* en sy eie knegte het teen hom saamgesweer omdat hy die seun* van die priester Jojaʹda doodgemaak het.+ Hulle het hom op sy bed doodgemaak.+ En hulle het hom in die Stad van Dawid+ begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie.+

26 Die manne wat teen hom saamgesweer het,+ was: Sabad, die seun van Siʹmeat, ’n Ammonitiese vrou, en Joʹsabad, die seun van Simrit, ’n Moabitiese vrou. 27 Die besonderhede oor Joas se seuns, die oordele teen hom+ en die herstelwerk aan* die huis van die ware God+ is alles opgeteken in die kommentaar op die Boek van die konings. En sy seun Amaʹsia het in sy plek koning geword.

25 Amaʹsia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Joʹaddan van Jerusalem.+ 2 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë, maar nie met sy hele hart nie. 3 Toe hy ten volle in beheer was van die koninkryk, het hy sy knegte doodgemaak wat sy pa, die koning, vermoor het.+ 4 Maar hy het nie hulle kinders doodgemaak nie, want hy het gebly by wat in die Wet, in die boek van Moses, geskryf staan, waar Jehovah beveel het: “Vaders mag nie vir die sonde van hulle kinders doodgemaak word nie, en kinders mag nie vir die sonde van hulle vaders doodgemaak word nie. Elkeen moet vir sy eie sonde doodgemaak word.”+

5 En Amaʹsia het Juda bymekaargeroep en hulle volgens hulle vaderhuise ingedeel, volgens die hoofde oor 1 000 en die hoofde oor 100. Hy het dit gedoen vir die hele Juda en Benjamin.+ Hy het almal geregistreer wat 20 jaar en ouer was,+ en daar was altesaam 300 000 opgeleide* vegters wat in die leërmag kon dien en wat die spies en die groot skild kon gebruik. 6 Hy het ook 100 000 magtige vegters van Israel vir 100 talente* silwer gehuur. 7 Maar ’n man van die ware God het na hom toe gegaan en gesê: “O koning, moenie die leërmag van Israel saam met u laat gaan nie, want Jehovah is nie met Israel nie.+ Hy is nie met Eʹfraim nie. 8 U moet alleen gaan veg, en wees moedig. As u hulle saamneem, kan die ware God u die geveg laat verloor, want God het die mag om julle te laat wen+ of te laat verloor.” 9 Toe het Amaʹsia vir die man van die ware God gevra: “Maar wat van die 100 talente wat ek vir die soldate van Israel gegee het?” Die man van die ware God het geantwoord: “Jehovah kan vir u baie meer as dit gee.”+ 10 Toe het Amaʹsia die soldate wat van Eʹfraim na hom toe gekom het, terug huis toe gestuur. Maar hulle was baie kwaad vir Juda en het woedend huis toe gegaan.

11 Amaʹsia het sy eie soldate toe moedig na die Soutvallei+ gelei, en hy het 10 000 manne van Seïr doodgemaak.+ 12 En die manne van Juda het 10 000 gevange geneem. Hulle het hulle na die top van die krans geneem en van die krans afgegooi, en hulle almal het hulle te pletter geval. 13 Maar die soldate wat Amaʹsia teruggestuur het,+ het die stede van Juda, van Samariʹa+ af tot by Bet-Horon,+ aangeval en 3 000 mense doodgemaak en baie van hulle besittings as buit geneem.

14 Nadat Amaʹsia die Edomiete verslaan het, het hy teruggegaan en die gode van die manne van Seïr saamgeneem. Hy het hulle vir hom as gode opgestel,+ voor hulle begin neerbuig en vir hulle offerrook laat opgaan. 15 Jehovah het baie kwaad geword vir Amaʹsia, en hy het ’n profeet na hom toe gestuur wat gesê het: “Hoekom aanbid jy gode wat nie hulle eie volk uit jou hand kon red nie?”+ 16 Terwyl hy met hom gepraat het, het die koning vir hom gesê: “Bly stil!+ Het ek jou raad gevra?+ Ek sal jou laat doodmaak as jy aanhou praat.” Toe het die profeet stilgebly, maar voordat hy gegaan het, het hy gesê: “Ek weet dat God besluit het om u te vernietig omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.”+

17 Nadat koning Amaʹsia van Juda met sy raadgewers gepraat het, het hy ’n boodskap gestuur aan koning Joas van Israel, die seun van Joʹahas, die seun van Jehu, en gesê: “Kom, laat ons teen mekaar veg.”+ 18 Koning Joas van Israel het hierdie boodskap aan koning Amaʹsia van Juda gestuur: “Die doringrige onkruid in die Liʹbanon-berge het ’n boodskap aan die sederboom in die Liʹbanon-berge gestuur en gesê: ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Maar ’n wilde dier van die Liʹbanon het verbygeloop en die doringrige onkruid vertrap. 19 Jy het gesê: ‘Kyk, ek* het Edom verslaan.’+ En nou het jy hoogmoedig geword, en jy wil geëer word. Bly in jou eie paleis. Hoekom moet jy moeilikheid soek en Juda saam met jou laat val?”

20 Maar Amaʹsia het nie geluister nie,+ want die ware God wou hulle in die hand van hulle vyande gee+ omdat hulle die gode van Edom aanbid het.+ 21 Toe het koning Joas van Israel teen koning Amaʹsia van Juda opgetrek, en hulle het teen mekaar geveg by Bet-Semes+ in Juda. 22 Juda is deur Israel verslaan, en elkeen het na sy huis* gevlug. 23 Koning Joas van Israel het koning Amaʹsia van Juda, die seun van Joas, die seun van Joʹahas,* by Bet-Semes gevange geneem. Daarna het hy hom na Jerusalem geneem, en hy het 400 el* van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Eʹfraim-poort+ af tot by die Hoekpoort.+ 24 Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe geneem wat in die huis van die ware God by* Obed-Edom was en wat in die skatkamers van die koning se paleis was.+ Hy het ook gyselaars geneem, en toe het hy na Samariʹa teruggekeer.

25 Amaʹsia,+ die seun van koning Joas van Juda, het nog 15 jaar gelewe ná die dood van Joas,+ die seun van koning Joʹahas van Israel.+ 26 Die res van die geskiedenis van Amaʹsia is van begin tot einde opgeteken in die Boek van die konings van Juda en van Israel. 27 Van die tyd af dat Amaʹsia opgehou het om Jehovah te volg, het hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer.+ Hy het na Lagis gevlug, maar hulle het manne agter hom aan gestuur en hom in Lagis doodgemaak. 28 Toe het hulle hom op perde teruggeneem en hom by sy voorvaders in die stad van Juda begrawe.

26 Daarna het die hele volk van Juda Ussiʹa,+ wat toe 16 jaar oud was, koning gemaak in die plek van sy pa, Amaʹsia.+ 2 Hy het Elot+ herbou en dit vir Juda teruggekry nadat die koning* gesterf het.*+ 3 Ussiʹa+ was 16 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jegolʹja van Jerusalem.+ 4 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë, net soos sy pa, Amaʹsia, gedoen het.+ 5 En Ussiʹa het God bly dien in die tyd van Sagariʹa, wat hom geleer het om die ware God te vrees. Gedurende die tyd dat hy Jehovah gedien het, het die ware God hom geseën.+

6 Hy het teen die Filistyne+ gaan veg en deur die muur van Gat,+ die muur van Jabne+ en die muur van Asdod+ gebreek. Toe het hy stede gebou naby Asdod en in die gebied van die Filistyne. 7 Die ware God het hom gehelp om te veg teen die Filistyne, teen die Arabiere+ wat in Gur-Baäl gewoon het en teen die Meüniete. 8 Die Ammoniete+ het aan Ussiʹa skatting* begin betaal. Sy roem het uiteindelik tot by Egipte versprei, want hy het baie magtig geword. 9 Ussiʹa het ook torings gebou+ in Jerusalem by die Hoekpoort,+ die Valleipoort+ en die Steunmuur, en hy het hulle versterk. 10 Hy het torings+ in die wildernis gebou en baie reënputte gegrawe* (want hy het baie vee gehad). Hy het dieselfde gedoen in die Sjefeʹla en op die vlakte.* Hy het landbouers en wingerdarbeiders in die berge en in Karmel gehad, want hy was lief vir boerdery.

11 En Ussiʹa het ’n leërmag gehad wat toegerus was om oorlog te voer, en hulle het in afdelings oorlog gaan voer. Hulle is getel en ingedeel+ deur Jeïel, die sekretaris,+ en Maäseʹja, die beampte, onder die leiding van Hananʹja, een van die koning se amptenare. 12 Daar was altesaam 2 600 hoofde van die vaderhuise wat oor hierdie magtige vegters was. 13 En daar was 307 500 magtige vegters wat gereed was om oorlog te voer. Hulle was ’n magtige leërmag wat teen die koning se vyande kon veg.+ 14 Ussiʹa het die hele leërmag toegerus met skilde, spiese,+ helms, pantsers,*+ boë en slingerklippe.+ 15 Hy het ook in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak wat deur opgeleide manne ontwerp is en waarmee pyle en groot klippe van die torings+ en die hoeke van die mure af geskiet kon word. Hy het baie hulp ontvang en het sterk geword, en daarom het sy roem wyd en syd versprei.

16 Maar toe hy magtig geword het, het hy hoogmoedig geword, en dit het tot sy ondergang gelei. Hy was ongehoorsaam aan Jehovah sy God en het in die tempel van Jehovah ingegaan om reukwerk op die reukaltaar te brand.+ 17 Die priester Asarʹja en 80 moedige priesters van Jehovah het hom dadelik gevolg. 18 Hulle het koning Ussiʹa gekonfronteer en vir hom gesê: “Koning Ussiʹa, u het nie die reg om reukwerk vir Jehovah te brand nie!+ Net die priesters mag reukwerk brand, want hulle is nakomelinge van Aäron,+ en hulle is geheilig. Gaan uit die heiligdom uit, want u was ongehoorsaam, en u sal nie eer van Jehovah God hiervoor ontvang nie.”

19 Maar Ussiʹa, wat ’n vuurbak in sy hand gehad het om reukwerk te brand, het woedend geword.+ En terwyl hy woedend vir die priesters was en langs die reukaltaar in die huis van Jehovah gestaan het, het melaatsheid+ op sy voorkop uitgebreek in die teenwoordigheid van die priesters. 20 Toe het Asarʹja, die hoofpriester, en al die priesters die melaatsheid op sy voorkop gesien. Hulle het hom vinnig daar uitgeneem, en hy het vinnig padgegee omdat Jehovah hom gestraf het.

21 Koning Ussiʹa het tot die dag van sy dood ’n melaatse gebly. Hy het as ’n melaatse in ’n aparte huis gewoon,+ en hy is nie toegelaat om na die huis van Jehovah te gaan nie. Sy seun Jotam was oor die koning se paleis en het as regter vir die volk van die land opgetree.+

22 En die res van die geskiedenis van Ussiʹa is van begin tot einde opgeteken deur die profeet Jesaja,+ die seun van Amos. 23 Ussiʹa het gesterf,* en hulle het hom by sy voorvaders begrawe. Maar hulle het hom in die veld by die begraafplaas van die konings begrawe, want hulle het gesê: “Hy is ’n melaatse.” En sy seun Jotam+ het in sy plek koning geword.

27 Jotam+ was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 16 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jeruʹsa, die dogter van Sadok.+ 2 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë, net soos sy pa, Ussiʹa, gedoen het,+ maar in teenstelling met sy pa het hy nie in die tempel van Jehovah ingegaan nie.+ Die volk het nietemin aangehou om goddeloos op te tree. 3 Hy het die boonste poort van Jehovah se huis gebou,+ en hy het baie bouwerk aan die muur van Ofel+ gedoen. 4 Hy het ook stede+ in die bergstreek van Juda+ gebou, en hy het vestings+ en torings+ in die bosagtige gebiede gebou. 5 Hy het oorlog gevoer teen die koning van die Ammoniete+ en het uiteindelik die oorhand oor hulle gekry, en daarom moes die Ammoniete daardie jaar vir hom 100 talente* silwer, 10 000 kor* koring en 10 000 kor gars gee. Die Ammoniete het dit ook die volgende jaar en die jaar daarna aan hom betaal.+ 6 En Jotam het al hoe magtiger geword, want hy was vasbeslote om die weë van Jehovah sy God te volg.

7 Die res van die geskiedenis van Jotam, al sy oorloë en sy dade, is opgeteken in die Boek van die konings van Israel en van Juda.+ 8 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 16 jaar lank in Jerusalem regeer.+ 9 Jotam het gesterf,* en hulle het hom in die Stad van Dawid+ begrawe. En sy seun Agas het in sy plek koning geword.+

28 Agas+ was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 16 jaar lank in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg is in Jehovah se oë soos sy voorvader Dawid nie.+ 2 Hy het eerder die weg van die konings van Israel gevolg,+ en hy het selfs metaalbeelde+ van die Baäls gemaak. 3 En hy het offerrook in die Vallei van die Seun van Hinnom* laat opgaan en sy seuns in die vuur verbrand+ omdat hy die afskuwelike gebruike gevolg het van die nasies+ wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het. 4 Hy het ook aangehou om offerandes te bring en offerrook te laat opgaan op die offerhoogtes,+ op die heuwels en onder elke groot boom.+

5 Daarom het Jehovah sy God hom in die hand van die koning van Sirië gegee,+ wat hulle verslaan het en baie mense gevange geneem en na Damaskus+ gevat het. God het hom ook in die hand van die koning van Israel gegee, en baie van sy manne is toe doodgemaak. 6 Want Peka,+ die seun van Remaʹlia, het 120 000 dapper manne van Juda op een dag doodgemaak omdat hulle Jehovah, die God van hulle voorvaders, verlaat het.+ 7 En Sigri, ’n vegter van die stam van Eʹfraim, het die koning se seun Maäseʹja doodgemaak, sowel as Asriʹkam, wat toesig gehou het oor die paleis, en Elkaʹna, wat tweede in bevel onder die koning was. 8 En die Israeliete het 200 000 vrouens en kinders van Juda gevange geneem. Hulle het ook baie goed as buit geneem en dit na Samariʹa+ gevat.

9 Maar Oded, een van Jehovah se profete, het gegaan na die leërmag wat op pad was na Samariʹa, en hy het vir hulle gesê: “Jehovah, die God van julle voorvaders, was kwaad vir Juda, en daarom het hy hulle in julle hand gegee.+ En julle het hulle doodgemaak met ’n woede wat tot aan die hemel raak. 10 En nou wil julle die mense van Juda en Jerusalem julle slawe en slavinne maak.+ Maar wat van julle eie sondes teen Jehovah julle God? 11 Luister nou na my en stuur julle broers terug wat julle gevange geneem het, want Jehovah is woedend vir julle.”

12 Toe het party van die hoofde van die Efraimiete, Asarʹja, die seun van Johaʹnan, Beregʹja, die seun van Mesilʹlemot, Jehiskiʹa, die seun van Sallum, en Amaʹsa, die seun van Hadlai, na die manne toe gegaan wat van die oorlog af teruggekom het 13 en vir hulle gesê: “Moenie die gevangenes hier inbring nie. Wat julle wil doen, is ’n sonde teen Jehovah, en dit sal ons sondes en ons skuld nog groter maak. Ons het alreeds baie gesondig, en God is woedend vir Israel.” 14 Toe het die gewapende soldate die gevangenes en die goed wat hulle as buit geneem het,+ aan die hoë amptenare en die hele gemeente oorhandig. 15 Manne wat by naam aangewys is, het klere uit die buit geneem en dit vir die gevangenes gegee wat nie klere gehad het nie. Hulle het vir hulle klere gegee, sowel as sandale, kos, iets om te drink en olie om aan hulle vel te smeer. En hulle het die swakkes op donkies na hulle broers in Jeʹrigo, die Palmstad, geneem. Daarna het hulle na Samariʹa teruggekeer.

16 In daardie tyd het koning Agas die konings van Assiʹrië vir hulp gevra.+ 17 En die Edomiete het Juda weer aangeval en mense gevange geneem. 18 Die Filistyne+ het ook die stede van die Sjefeʹla+ en die Negeb van Juda aangeval, en hulle het Bet-Semes,+ Aʹjalon,+ Gedeʹrot, Sogo en sy afhanklike* dorpe, Timna+ en sy afhanklike dorpe en Gimso en sy afhanklike dorpe ingeneem en daar gaan woon. 19 Jehovah het Juda verneder omdat koning Agas van Juda* toegelaat het dat Juda doen net wat hulle wil, en dit het gelei tot groot ontrouheid teenoor Jehovah.

20 Koning Tilʹgat-Pilneʹser+ van Assiʹrië het later teen hom opgetrek en vir hom probleme veroorsaak,+ eerder as om hom te help. 21 Agas het vroeër die huis van Jehovah, die paleis van die koning+ en die huise van die hoë amptenare gestroop om ’n geskenk vir die koning van Assiʹrië te gee, maar dit het hom niks gehelp nie. 22 En toe dit sleg gegaan het met koning Agas, het hy nog meer ontrou aan Jehovah geword. 23 Hy het offerandes begin bring aan die gode van Damaskus+ wat hom verslaan het,+ en hy het gesê: “Omdat die gode van die konings van Sirië hulle help, sal ek aan hulle offerandes bring, sodat hulle my kan help.”+ Maar hulle was sy ondergang en ook dié van die hele Israel. 24 En Agas het die voorwerpe van die huis van die ware God geneem en dit toe stukkend gekap.+ Hy het die deure van die huis van Jehovah toegemaak+ en op elke hoek in Jerusalem vir hom altare gemaak. 25 En hy het in al die stede van Juda offerhoogtes gemaak om vir ander gode offerrook te laat opgaan,+ en hy het Jehovah, die God van sy voorvaders, aanstoot gegee.

26 Die res van sy geskiedenis, al sy dade, is van begin tot einde opgeteken in die Boek van die konings van Juda en van Israel.+ 27 Agas het gesterf,* en hulle het hom in die stad, in Jerusalem, begrawe. Hulle het hom nie in die grafte van die konings van Israel begrawe nie.+ En sy seun Hiskiʹa het in sy plek koning geword.

29 Hiskiʹa+ was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abiʹa, die dogter van Sagariʹa.+ 2 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë,+ net soos sy voorvader Dawid gedoen het.+ 3 In sy eerste regeringsjaar, in die eerste maand, het hy die deure van die huis van Jehovah oopgemaak en hulle herstel.+ 4 Toe het hy die priesters en die Leviete op die plein oos van die tempel bymekaar laat kom. 5 Hy het vir hulle gesê: “Leviete, luister na my. Heilig julle+ en heilig die huis van Jehovah, die God van julle voorvaders, en verwyder alles wat onrein is uit die heiligdom.+ 6 Want ons vaders was ontrou en het gedoen wat sleg is in die oë van Jehovah ons God.+ Hulle het hom verlaat en hulle rug op die tabernakel en op Jehovah gedraai.+ 7 Hulle het ook die deure van die portaal+ toegemaak en die lampe doodgemaak.+ Hulle het opgehou om reukwerk te brand+ en om brandoffers+ in die heiligdom aan die God van Israel te offer. 8 Daarom het Jehovah so kwaad geword vir Juda en Jerusalem+ dat hy hulle swaar gestraf het* en ’n bespotting laat word het, soos julle met julle eie oë kan sien.+ 9 En ons voorvaders is deur die swaard doodgemaak,+ en ons seuns, ons dogters en ons vrouens is as gevangenes weggeneem.+ 10 Nou is dit my hartsbegeerte om ’n verbond te maak met Jehovah, die God van Israel,+ sodat sy woede teenoor ons kan bedaar. 11 My seuns, dit is nie nou die tyd om julle pligte af te skeep nie, want Jehovah het julle uitgekies om sy dienaars te wees+ en om sy offerandes te offer.”+

12 Toe het die volgende Leviete met die werk begin: Van die Kehatiete:+ Mahat, die seun van Amaʹsai, en Joël, die seun van Asarʹja. Van die Merariete:+ Kis, die seun van Abdi, en Asarʹja, die seun van Jehalʹlelel. Van die Gersoniete:+ Joag, die seun van Simma, en Eden, die seun van Joag. 13 Van die seuns van Eliʹsafan: Simri en Jeüel. Van die seuns van Asaf:+ Sagariʹa en Mattanʹja. 14 Van die seuns van Heman:+ Jehiʹël en Siʹmeï. Van die seuns van Jeduʹtun:+ Semaʹja en Usʹsiël. 15 Toe het hulle hulle broers bymekaargeroep, en elkeen het homself geheilig. Daarna het hulle die huis van Jehovah gaan reinig, net soos Jehovah hulle deur middel van die koning beveel het.+ 16 Die priesters het in die huis van Jehovah ingegaan om dit te reinig en het alles wat onrein was, uit die tempel van Jehovah gebring, en hulle het dit na die voorhof+ van die huis van Jehovah geneem. En die Leviete het dit na die Kidron-vallei geneem.+ 17 Hulle het op die eerste dag van die eerste maand met die heiliging begin, en op die agtste dag van die maand het hulle gevorder tot by die portaal van Jehovah.+ Dit het hulle agt dae geneem om die huis van Jehovah te heilig, en op die 16de dag van die eerste maand was hulle klaar.

18 Daarna het hulle na koning Hiskiʹa toe gegaan en gesê: “Ons het die hele huis van Jehovah gereinig, die brandofferaltaar+ en al sy voorwerpe+ en die tafel vir die stapelbrode*+ en al sy voorwerpe. 19 En ons het al die voorwerpe wat die ontroue koning Agas+ uit die tempel verwyder het, gereedgemaak en geheilig,+ en dit is voor die altaar van Jehovah.”

20 En koning Hiskiʹa het vroeg opgestaan en die leiers van die stad bymekaargeroep, en hulle het na die huis van Jehovah gegaan. 21 Hulle het sewe bulle, sewe ramme, sewe ramlammers en sewe bokramme as ’n sonde-offer vir die koninkryk, vir die heiligdom en vir Juda gebring.+ Toe het hy vir die priesters, die nakomelinge van Aäron, gesê om dit op die altaar van Jehovah te offer. 22 Hulle het die beeste geslag,+ en die priesters het die bloed geneem en dit op die altaar gesprinkel.+ Daarna het hulle die ramme geslag en die bloed op die altaar gesprinkel, en toe het hulle die ramlammers geslag en die bloed op die altaar gesprinkel. 23 Daarna het hulle die bokramme van die sonde-offer na die koning en die gemeente geneem en hulle hande op die bokramme gesit. 24 Die priesters het die bokramme geslag en hulle as ’n sonde-offer geoffer. Hulle het die bloed op die altaar uitgegooi om vir die hele Israel versoening te doen, want die koning het gesê dat die brandoffer en die sonde-offer vir die hele Israel geoffer moet word.

25 Intussen het hy die Leviete by die huis van Jehovah laat staan met simbale, met harpe+ en ander snaarinstrumente, soos Dawid+ en Gad,+ die koning se siener, en die profeet Natan+ beveel het, want dit was ’n opdrag wat van Jehovah self gekom het deur middel van sy profete. 26 Die Leviete het dus met die instrumente van Dawid op hulle plekke gestaan, en die priesters met die trompette.+

27 Toe het Hiskiʹa gesê dat die brandoffer op die altaar geoffer moet word.+ En toe hulle dit begin doen, het die sangers die lied van Jehovah begin sing en is daar op die trompette geblaas onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel. 28 En die hele gemeente het neergebuig terwyl die lied gesing is en daar op die trompette geblaas is. Dit het aangehou totdat die brandoffer klaar was. 29 En nadat hulle die brandoffer geoffer het, het die koning en almal wat by hom was, op hulle knieë gegaan en neergebuig. 30 Koning Hiskiʹa en die leiers het toe vir die Leviete gesê om Jehovah met die woorde van Dawid+ en van die siener Asaf+ te loof. Daarom het hulle lofliedere met groot vreugde begin sing, en hulle het op hulle knieë gegaan en neergebuig.

31 Toe het Hiskiʹa gesê: “Julle is nou afgesonder* vir die diens van Jehovah. Bring offerandes en dankoffers na die huis van Jehovah.” En die gemeente het offerandes en dankoffers begin bring, en elkeen met ’n gewillige hart het brandoffers gebring.+ 32 Die gemeente het 70 beeste, 100 ramme en 200 ramlammers as ’n brandoffer aan Jehovah gebring.+ 33 Hulle het ook 600 beeste en 3 000 skape as heilige offers gebring. 34 Maar daar was nie genoeg priesters om die velle van die diere af te slag wat as brandoffers geoffer moes word nie. Daarom het hulle broers, die Leviete, hulle gehelp+ totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself kon heilig,+ want die priesters was nie so ywerig* soos die Leviete om hulleself te heilig nie. 35 En daar was baie brandoffers+ en vetstukke van die vrede-offers*+ sowel as drankoffers wat saam met die brandoffers geoffer is.+ So is die diens by die huis van Jehovah weer ingestel. 36 Hiskiʹa en die hele volk was vreugdevol oor wat die ware God vir die volk gedoen het,+ want dit het alles so vinnig gebeur.

30 Hiskiʹa het ’n boodskap aan die hele Israel+ en Juda gestuur – hy het selfs briewe aan Eʹfraim en Manasʹse+ geskryf – om te sê dat hulle na die huis van Jehovah in Jerusalem moet gaan om die Pasga vir Jehovah, die God van Israel, te hou.+ 2 Maar die koning, sy hoë amptenare en die hele gemeente in Jerusalem het besluit om die Pasga in die tweede maand te hou,+ 3 want hulle kon dit nie op die gewone tyd hou nie+ omdat daar nie genoeg priesters was wat hulleself geheilig het nie+ en omdat die volk nie in Jerusalem bymekaargekom het nie. 4 Die koning en die hele gemeente het gedink dat dit ’n goeie reëling is. 5 Daarom het hulle besluit om ’n boodskap te stuur aan die hele Israel, van Berseʹba tot Dan,+ om te sê dat die volk na Jerusalem moet kom om die Pasga vir Jehovah, die God van Israel, te hou. Want hulle het dit vir ’n lang tyd nie as ’n groep gehou, soos die Wet vereis het nie.+

6 Toe het die boodskappers* op die koning se bevel deur die hele Israel en Juda gegaan met die briewe van die koning en sy hoë amptenare, wat gesê het: “Israeliete, keer terug na Jehovah, die God van Abraham, Isak en Israel, sodat hy kan terugkeer na julle wat oorgebly het ná die aanvalle van die konings van Assiʹrië.+ 7 Moenie soos julle voorvaders en julle broers wees wat ontrou aan Jehovah, die God van hulle voorvaders, was nie. Hy het hulle swaar gestraf,* soos julle kan sien.+ 8 Moenie hardkoppig wees soos julle voorvaders nie.+ Doen wat Jehovah wil hê en gaan na sy heiligdom+ wat hy vir ewig as heilig afgesonder het, en dien Jehovah julle God sodat sy woede teenoor julle kan bedaar.+ 9 As julle na Jehovah terugkeer, sal dié wat julle broers en julle seuns gevange geneem het, genade aan hulle betoon+ en hulle na hierdie land laat terugkeer.+ Want Jehovah julle God is vol medelye* en genade,+ en hy sal julle nie verwerp as julle na hom terugkeer nie.”+

10 En die boodskappers* het van stad tot stad deur die hele land van Eʹfraim en Manasʹse gegaan,+ selfs tot by Seʹbulon, maar die volk het hulle gespot en hulle uitgelag.+ 11 Maar sommige uit Aser, Manasʹse en Seʹbulon was gehoorsaam en het na Jerusalem gegaan.+ 12 Die ware God het Juda gehelp om die bevel van die koning en die leiers, wat in werklikheid van Jehovah gekom het, eensgesind te gehoorsaam.

13 ’n Groot skare, ’n baie groot gemeente, het in Jerusalem bymekaargekom om die Fees van die Ongesuurde Brode+ in die tweede maand te hou.+ 14 Hulle het die altare en al die reukaltare+ verwyder wat in Jerusalem was+ en dit in die Kidron-vallei gegooi. 15 Toe het hulle die Pasga-offer op die 14de dag van die tweede maand geslag. Die priesters en die Leviete het skaam geword, en daarom het hulle hulleself geheilig en brandoffers na die huis van Jehovah gebring. 16 Hulle het op hulle plekke gaan staan, soos vereis deur die Wet van Moses, die man van die ware God. Toe het die priesters die bloed wat hulle van die Leviete ontvang het, op die altaar gesprinkel.+ 17 Baie in die gemeente het hulle nie geheilig nie, en die Leviete moes die Pasga-offers slag vir almal wat nie rein was nie,+ om hulle vir Jehovah te heilig. 18 Want ’n groot deel van die volk, veral dié uit Eʹfraim, Manasʹse,+ Isʹsaskar en Seʹbulon, het hulle nie gereinig nie, maar hulle het die Pasga nog steeds geëet, al was dit teen die Wet. Maar Hiskiʹa het vir hulle gebid en gesê: “Mag Jehovah, wat goed is,+ elkeen vergewe 19 wat sy hart voorberei het om die ware God, Jehovah, die God van sy voorvaders, te aanbid,+ al was hy nie rein vir die heilige viering nie.”+ 20 En Jehovah het na Hiskiʹa geluister en die volk vergewe.*

21 Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die Fees van die Ongesuurde Brode+ sewe dae lank met groot blydskap gevier.+ En die Leviete en die priesters het Jehovah dag ná dag geloof en voor Jehovah op hulle musiekinstrumente gespeel.+ 22 Hiskiʹa het al die Leviete wat Jehovah met goeie oordeel gedien het, aangemoedig. En hulle het gedurende die sewe dae van die fees geëet,+ vrede-offers* geoffer+ en Jehovah, die God van hulle voorvaders, gedank.

23 Toe het die hele gemeente besluit om dit nog sewe dae te hou, en hulle het dit nog sewe dae met groot blydskap gehou.+ 24 En koning Hiskiʹa van Juda het vir die gemeente 1 000 bulle en 7 000 skape bygedra, en die leiers het vir die gemeente 1 000 bulle en 10 000 skape bygedra.+ En ’n groot aantal priesters het hulleself geheilig.+ 25 En die hele gemeente van Juda, die priesters, die Leviete, die hele gemeente wat van Israel gekom het+ en die uitlanders+ wat van die land van Israel gekom het en dié wat in Juda gewoon het, was die hele tyd vreugdevol. 26 En daar was groot blydskap in Jerusalem, want dit was die eerste keer vanaf die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, dat so iets in Jerusalem gebeur het.+ 27 Toe het die Levitiese priesters opgestaan en die volk geseën.+ God het hulle stem gehoor, en hulle gebed het sy heilige woonplek, die hemel, bereik.

31 Ná die fees het al die Israeliete wat daar was, na die stede van Juda gegaan, en hulle het die heilige pilare stukkend gekap,+ die heilige pale* afgekap+ en die offerhoogtes+ en die altare+ in die hele Juda en Benjamin sowel as in Eʹfraim en Manasʹse+ afgebreek. Hulle het dit heeltemal vernietig, en daarna het al die Israeliete huis toe gegaan, na die stede waar hulle gewoon het.

2 Toe het Hiskiʹa elkeen van die priesters en die Leviete in hulle afdelings ingedeel,+ volgens die diens wat hulle moes verrig.+ Hulle het die brandoffers en die vrede-offers* geoffer, diens verrig en God gedank en geloof in die poorte van die voorhowe* van Jehovah.+ 3 Die koning het van sy eie goed bygedra vir die brandoffers,+ insluitende die brandoffers vir die oggend en die aand,+ die brandoffers vir die Sabbatte,+ die nuwemane+ en die feeste,+ volgens wat in die Wet van Jehovah geskryf is.

4 En hy het die inwoners van Jerusalem beveel om vir die priesters en die Leviete die deel te gee wat hulle moes kry,+ sodat hulle hulle ten volle kon wy aan die Wet van Jehovah. 5 Onmiddellik nadat hy die bevel gegee het, het die Israeliete groot hoeveelhede van hulle eerste opbrengste* gegee. Hulle het ’n tiende van hulle graan gegee, sowel as van hulle nuwe wyn, olie,+ heuning en van alles wat hulle geoes het.+ En dit was baie.+ 6 En die mense van Israel en van Juda wat in die stede van Juda gewoon het, het ook ’n tiende van hulle beeste en skape gebring, sowel as ’n tiende van die heilige dinge+ wat vir Jehovah hulle God opsygesit is. Hulle het dit gebring en dit in hope gesit. 7 Hulle het in die derde maand+ begin om hope te maak van al die bydraes, en hulle het in die sewende maand+ klaargemaak. 8 Toe Hiskiʹa en die leiers gekom het en die hope gesien het, het hulle Jehovah geloof en sy volk Israel geseën.

9 Hiskiʹa het die priesters en die Leviete gevra oor al die hope. 10 Asarʹja, die hoofpriester van die huis van Sadok, het vir hom gesê: “Vandat hulle die bydraes na die huis van Jehovah begin bring het,+ is daar meer as genoeg om te eet, en dit alles het oorgebly, want Jehovah het sy volk geseën.”+

11 Toe het Hiskiʹa vir hulle gesê om stoorkamers*+ in die huis van Jehovah gereed te maak, en hulle het dit gedoen. 12 Hulle het die bydraes, die tiendes,+ en die heilige dinge getrou ingebring. Konanʹja, die Leviet, is aangestel om toesig daaroor te hou, en sy broer Siʹmeï was tweede in bevel. 13 Koning Hiskiʹa het die volgende manne aangestel om Konanʹja en sy broer Siʹmeï te help: Jehiʹël, Asasʹja, Nahat, Aʹsahel, Jeʹrimot, Joʹsabad, Eʹliël, Jismagʹja, Mahat en Benaʹja. En Asarʹja het toesig gehou oor die huis van die ware God. 14 En Kore, die seun van Jimna, die Levitiese poortwagter aan die oostekant,+ het toesig gehou oor die vrywillige bydraes+ vir die ware God, en hy het die bydraes vir Jehovah+ en die besonder heilige dinge verdeel.+ 15 Onder sy leiding was Eden, Minʹjamin, Jeʹsua, Semaʹja, Amarʹja en Seganʹja. Hulle was in die stede van die priesters+ en het die verantwoordelikheid gehad om vir hulle broers in die afdelings,+ jonk sowel as oud, ’n gelyke deel te gee. 16 Hulle het die bydraes ook uitgedeel aan almal wat in die geslagsregister ingeskryf was, dit wil sê die mans wat elke dag by die huis van Jehovah kom dien het om die pligte van hulle afdelings na te kom en hulle seuns van drie jaar en ouer.

17 Die priesters was volgens hulle vaderhuise+ en volgens die pligte van hulle afdelings+ in die geslagsregister ingeskryf, en dit was ook die geval met die Leviete wat 20 jaar en ouer was.+ 18 Die geslagsregister het die name van al die Leviete en hulle families ingesluit, hulle kinders, hulle vrouens, hulle seuns en hulle dogters. (Hulle het altyd seker gemaak dat hulle heilig is omdat hulle heilige diens moes verrig.) 19 Die geslagsregister het ook die nakomelinge van Aäron ingesluit, dit wil sê die priesters wat in die weivelde om hulle stede gewoon het.+ In al die stede was daar manne wat by naam aangewys is om dele te gee aan elke manlike persoon onder die priesters en aan elkeen wat ingeskryf was in die geslagsregister van die Leviete.

20 So het Hiskiʹa in die hele Juda gedoen, en hy het bly doen wat goed en reg en getrou was in die oë van Jehovah sy God. 21 Alles wat hy aangepak het om sy God te dien, het hy met sy hele hart gedoen – of dit nou te doen gehad het met die diens in die huis van die ware God+ of met die Wet en die gebod. En hy was suksesvol.

32 Nadat Hiskiʹa al hierdie dinge getrou gedoen het,+ het koning Sanʹherib van Assiʹrië Juda binnegeval. Hy het die versterkte stede beleër met die doel om deur hulle mure te breek en die stede in te neem.+

2 Toe Hiskiʹa sien dat Sanʹherib gekom het om teen Jerusalem oorlog te voer, 3 het hy met sy hoë amptenare en vegters gepraat en toe besluit om die fonteine buite die stad toe te stop,+ en hulle het hom ondersteun. 4 Baie mense is bymekaargeroep, en hulle het al die fonteine en die stroom wat deur die land vloei, toegestop en gesê: “Ons wil nie hê dat die konings van Assiʹrië baie water moet vind wanneer hulle kom nie.”

5 En hy het hard gewerk om die deel van die muur wat afgebreek was, te herstel, en hy het torings daarop gebou en aan die buitekant nog ’n muur gebou. Hy het ook die Wal*+ van die Stad van Dawid herstel, en hy het baie wapens* en skilde gemaak. 6 Hy het hoofde van die leërmag oor die volk aangestel en hulle laat bymekaarkom op die openbare plein van die stadspoort. Hy het hulle moed ingepraat en gesê: 7 “Wees moedig en sterk. Moenie vrees nie en moenie bang wees vir die koning van Assiʹrië+ en sy groot leërmag nie, want daar is meer by ons as by hom.+ 8 Hy het net mense om hom te help,* maar ons het Jehovah ons God om ons te help en om vir ons te veg.”+ En die woorde van koning Hiskiʹa van Juda het die volk versterk.+

9 Daarna het koning Sanʹherib van Assiʹrië, wat toe met sy hele leërmag by Lagis was,+ knegte na koning Hiskiʹa van Juda en na al die Judeërs in Jerusalem gestuur+ om te sê:

10 “Dít is wat koning Sanʹherib van Assiʹrië, sê: ‘Waarop vertrou julle dat julle in Jerusalem bly, al weet julle dat ek dit gaan aanval?+ 11 Hiskiʹa mislei julle en hy gaan julle van honger en dors laat sterf, want hy sê: “Jehovah ons God sal ons van die koning van Assiʹrië red.”+ 12 Maar hierdie einste Hiskiʹa het julle God se offerhoogtes+ en altare+ verwyder en toe vir Juda en Jerusalem gesê: “Julle moet voor een altaar buig en julle offers daarop offer.”+ 13 Weet julle nie wat ek en my voorvaders aan die volke van al die ander lande gedoen het nie?+ Kon die gode van daardie nasies hulle land uit my hand red?+ 14 Kon enigeen van die gode van daardie nasies wat deur my voorvaders vernietig is, sy volk uit my hand red? Hoekom dink julle dan dat julle God julle van my sal kan red?+ 15 Moenie dat Hiskiʹa julle so bedrieg en mislei nie!+ Moenie julle vertroue in hom stel nie, want nie een van die gode van enige nasie of koninkryk kon sy volk van my en my voorvaders red nie. Hoe sal julle God julle dan van my kan red?’”+

16 Sy knegte het nog meer beledigende dinge oor Jehovah, die ware God, en oor sy kneg Hiskiʹa gesê. 17 Hy het ook briewe geskryf+ om Jehovah, die God van Israel,+ te beledig. Hy het gesê: “Net soos die gode van ander lande nie hulle volk van my kon red nie,+ so sal die God van Hiskiʹa nie sy volk van my kan red nie.” 18 Hulle het heeltyd hard uitgeroep in die Jode se taal, want hulle wou die mense van Jerusalem wat op die muur was, bang en paniekerig maak sodat hulle die stad kon inneem.+ 19 Hulle het van die God van Jerusalem gepraat asof hy soos die gode van die ander volke was, gode wat deur mense gemaak is. 20 Maar koning Hiskiʹa en die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, het hieroor bly bid en God gevra om hulle te help.+

21 Toe het Jehovah ’n engel gestuur en elke magtige soldaat, leier en hoof in die kamp van die koning van Assiʹrië doodgemaak,+ en die koning van Assiʹrië het vernederd na sy land teruggegaan. Later het hy in die tempel van sy god ingegaan, waar party van sy eie seuns hom met die swaard doodgemaak het.+ 22 So het Jehovah Hiskiʹa en die inwoners van Jerusalem gered van koning Sanʹherib van Assiʹrië en van al die ander, en daar was vrede in die land. 23 En baie het geskenke vir Jehovah na Jerusalem gebring, en waardevolle dinge vir koning Hiskiʹa van Juda.+ Van toe af het al die nasies groot respek vir hom gehad.

24 In daardie dae het Hiskiʹa dodelik siek geword, en hy het tot Jehovah gebid.+ God het hom geantwoord en vir hom ’n teken* gegee.+ 25 Maar Hiskiʹa het nie waardering getoon vir die goedheid wat aan hom betoon is nie, want hy het hoogmoedig geword. Daarom het God vir hom en vir Juda en Jerusalem kwaad geword. 26 Maar Hiskiʹa het nederig berou getoon,+ en die inwoners van Jerusalem het ook nederig berou getoon, en Jehovah het hulle nie in Hiskiʹa se tyd gestraf nie.+

27 En Hiskiʹa het baie ryk geword en het baie eer ontvang.+ Hy het stoorkamers gemaak+ vir sy silwer, goud, edelstene, balsemolie, skilde en al sy ander waardevolle dinge. 28 Hy het ook stoorplekke gemaak vir sy graan, nuwe wyn en olie, en ook stalle vir sy beeste en vir sy skape en bokke. 29 Hy het ook stede vir hom laat bou en baie skape, bokke en beeste verkry, want God het hom baie besittings gegee. 30 Dit was Hiskiʹa wat die boonste uitloop van die Gihon-fontein+ toegestop het+ en die water in ’n westelike rigting na die Stad van Dawid+ gelei het. En Hiskiʹa was suksesvol in alles wat hy gedoen het. 31 Maar toe die leiers van Babilon woordvoerders na hom toe gestuur het om hom te vra oor die teken*+ wat in die land plaasgevind het,+ het die ware God Hiskiʹa self laat besluit wat om te doen sodat hy hom kon toets+ en kon uitvind wat in sy hart is.+

32 Die res van die geskiedenis van Hiskiʹa en sy dade van lojale liefde+ is opgeteken in die verslag van die visioen van die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en van Israel.+ 33 Hiskiʹa het gesterf,* en hulle het hom begrawe teen die skuinste van die heuwel waar die grafte van die seuns van Dawid was.+ En die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het by sy dood aan hom eer bewys. En sy seun Manasʹse het in sy plek koning geword.

33 Manasʹse+ was 12 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer.+

2 Hy het gedoen wat sleg is in Jehovah se oë en het die afskuwelike gebruike gevolg van die nasies wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het.+ 3 Hy het die offerhoogtes herbou wat sy pa, Hiskiʹa, afgebreek het,+ en hy het altare vir die Baäls opgerig en heilige pale* gemaak. En hy het die hele leërmag van die hemel aanbid en hulle gedien.+ 4 Hy het ook altare gebou in die huis van Jehovah,+ waarvan Jehovah gesê het: “In Jerusalem sal my naam vir ewig wees.”+ 5 En hy het in twee voorhowe van die huis van Jehovah altare vir die hele leërmag van die hemel gebou.+ 6 Hy het ook sy eie seuns as offerandes in die vuur verbrand*+ in die Vallei van die Seun van Hinnom.+ Hy het toorkuns beoefen,+ van waarsêery gebruik gemaak en mense aangestel wat geeste oproep,* sowel as fortuinvertellers.+ Hy het baie dinge gedoen wat sleg is in Jehovah se oë en hom aanstoot gegee.

7 Hy het die beeld wat hy gemaak het, in die huis van die ware God gesit,+ waarvan God vir Dawid en vir sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat ek uit al die stamme van Israel gekies het, sal ek my naam vir altyd vestig.+ 8 Ek sal Israel nooit verwyder uit die land wat ek aan hulle voorvaders gegee het nie, solank hulle streng gehoorsaam is aan alles wat ek hulle beveel het, aan die hele Wet, die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat deur middel van Moses gegee is.” 9 Manasʹse het Juda en die inwoners van Jerusalem ’n verkeerde weg laat volg en hulle erger dinge laat doen as die nasies wat Jehovah voor die Israeliete vernietig het.+

10 Jehovah het Manasʹse en sy volk bly waarsku, maar hulle het geen aandag geskenk nie.+ 11 Daarom het Jehovah die hoofde van die leërmag van die koning van Assiʹrië teen hulle gestuur, en hulle het Manasʹse met hake* gevange geneem, hom met twee koperboeie gebind en hom na Babilon geneem. 12 Toe dit so sleg met hom gegaan het, het hy Jehovah sy God om genade gesmeek,* en hy het nederig berou getoon voor die God van sy voorvaders. 13 Hy het tot God bly bid, en sy smeekgebed het God diep geraak. God het sy versoek om genade gehoor en hom weer koning in Jerusalem laat word.+ Toe het Manasʹse geweet dat Jehovah die ware God is.+

14 Daarna het hy ’n buitemuur vir die Stad van Dawid+ gebou, wes van die Gihon-fontein+ in die vallei* en tot by die Vispoort.+ Die muur was baie hoog en het om die stad geloop tot by Ofel.+ Verder het hy hoofde van die leërmag in al die versterkte stede in Juda aangestel. 15 Hy het toe die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van Jehovah verwyder,+ asook al die altare wat hy op die berg van die huis van Jehovah+ en in Jerusalem gebou het, en hy het dit buite die stad laat gooi. 16 Hy het ook die altaar van Jehovah+ gereedgemaak en vrede-offers*+ en dankoffers+ daarop begin offer en vir Juda gesê dat hulle Jehovah, die God van Israel, moet dien. 17 Tog het die volk nog op die offerhoogtes offerandes gebring, maar net aan Jehovah hulle God.

18 Wat die res van die geskiedenis van Manasʹse betref, sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat in die naam van Jehovah, die God van Israel, met hom gepraat het, dit is opgeteken in die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 19 En sy smeekgebed+ en hoe dit beantwoord is, al sy sondes en sy ontrouheid,+ die plekke waar hy offerhoogtes gebou en heilige pale* en beelde opgerig het+ voordat hy nederig berou getoon het, dit is opgeteken in die geskrifte van sy sieners. 20 Manasʹse het gesterf,* en hulle het hom by sy huis begrawe. En sy seun Amon het in sy plek koning geword.+

21 Amon+ was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank in Jerusalem regeer.+ 22 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos sy pa, Manasʹse, gedoen het.+ En Amon het offerandes aan al die beelde geoffer wat sy pa, Manasʹse, gemaak het,+ en hy het hulle bly dien. 23 Maar hy het nie berou getoon voor Jehovah+ soos sy pa, Manasʹse, gedoen het nie.+ Amon het eerder al hoe meer sondes gepleeg. 24 Later het sy knegte teen hom saamgesweer+ en hom in sy eie huis vermoor. 25 Maar die volk van die land het almal doodgemaak wat teen koning Amon saamgesweer het,+ en hulle het sy seun Josiʹa+ in sy plek koning gemaak.

34 Josiʹa+ was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer.+ 2 Hy het gedoen wat reg is in Jehovah se oë en dieselfde weg gevolg as sy voorvader Dawid, en hy het nie regs of links daarvan afgewyk nie.

3 In die 8ste jaar nadat hy koning geword het, toe hy nog maar ’n seun was, het hy die God van sy voorvader Dawid begin dien,+ en in die 12de jaar het hy Juda en Jerusalem begin reinig+ deur die offerhoogtes,+ die heilige pale* en die beelde+ te verwyder. 4 Verder het hulle die altare van die Baäls voor hom afgebreek, en hy het die reukwerkstaanders afgekap wat bo-op die altare was. Hy het ook die heilige pale* en die beelde in stukke gebreek en fyngemaal en die poeier gestrooi oor die grafte van die mense wat voorheen offerandes aan hulle geoffer het.+ 5 En hy het die beendere van die Baälpriesters op hulle altare verbrand.+ So het hy Juda en Jerusalem gereinig.

6 En in die stede van Manasʹse, Eʹfraim,+ Siʹmeon en tot by Nafʹtali en in die verwoeste plekke om hulle 7 het hy die altare afgebreek en die heilige pale* en die beelde+ fyngemaal totdat dit poeier was, en hy het al die reukwerkstaanders in die hele land van Israel afgekap.+ Daarna het hy na Jerusalem teruggekeer.

8 In die 18de jaar nadat hy koning geword het, toe hy die land en die tempel gereinig het, het hy Safan,+ die seun van Asalʹja, Maäseʹja, die stadshoof, en Joag, die geskiedskrywer, die seun van Joʹahas, gestuur om die huis van Jehovah sy God te herstel.+ 9 Hulle het na die hoëpriester Hilkiʹa gegaan en vir hom die geld gegee wat na die huis van God gebring is. Die geld is ingesamel deur die Leviete wat as deurwagters gedien het en is bygedra deur Manasʹse, Eʹfraim en die res van Israel,+ sowel as die hele Juda en Benjamin en die inwoners van Jerusalem. 10 Toe het hulle dit gegee vir die manne wat aangestel is om oor die werk in die huis van Jehovah toesig te hou. En die werkers in die huis van Jehovah het dit gebruik om die huis te herstel. 11 Hulle het dit vir die ambagsmanne en die bouers gegee om gekapte klippe te koop, asook hout vir stutte en balke om die huis te herstel wat die konings van Juda verwaarloos het.+

12 En die manne het die werk getrou gedoen.+ Die Leviete Jahat en Obadʹja, van die Merariete,+ en Sagariʹa en Mesulʹlam, van die Kehatiete,+ is as opsieners oor hulle aangestel. En ander Leviete, wat almal goeie musikante was,+ 13 het toesig gehou oor die arbeiders* en was opsieners oor al die werkers, ongeag watter werk hulle gedoen het. En party van die Leviete was sekretarisse, beamptes en poortwagters.+

14 Terwyl hulle die geld uitgehaal het wat na die huis van Jehovah gebring is,+ het die priester Hilkiʹa die boek van Jehovah se Wet+ gevind wat deur middel van* Moses gegee is.+ 15 Toe het Hilkiʹa vir Safan, die sekretaris, gesê: “Ek het die Wetboek in die huis van Jehovah gevind.” En Hilkiʹa het die boek vir Safan gegee. 16 Toe het Safan die boek na die koning toe geneem en vir hom gesê: “U knegte doen al die werk wat vir hulle gegee is. 17 Hulle het die geld wat in die huis van Jehovah was, gaan haal en dit vir die toesighouers en die werkers gegee.” 18 Safan, die sekretaris, het verder vir die koning gesê: “Die priester Hilkiʹa het vir my ’n boek gegee.”+ En Safan het vir die koning daaruit begin lees.+

19 Toe die koning die woorde van die Wet hoor, het hy onmiddellik sy klere geskeur.+ 20 Daarna het die koning die volgende bevel gegee aan Hilkiʹa, aan Ahiʹkam,+ die seun van Safan, aan Abdon, die seun van Miga, aan Safan, die sekretaris, en aan Asaʹja, die koning se kneg: 21 “Gaan raadpleeg Jehovah vir my en vir dié wat nog in Israel en in Juda oor is in verband met die woorde van die boek wat gevind is, want Jehovah sal met groot woede teen ons optree omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die woord van Jehovah en omdat hulle nie alles gedoen het wat in hierdie boek geskryf is nie.”+

22 Toe het Hilkiʹa en dié wat deur die koning gestuur is, na die profetes Hulda+ toe gegaan. Sy was die vrou van Sallum, die seun van Tikwa, die seun van Harhas, die klerebewaarder. Sy het in die nuwe deel* van Jerusalem gewoon, en hulle het daar met haar gaan praat.+ 23 Sy het vir hulle gesê: “Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: 24 “Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek gaan rampspoed bring oor hierdie plek en sy inwoners,+ al die vloeke wat geskryf is in die boek+ wat hulle vir die koning van Juda gelees het. 25 Hulle het my verlaat,+ hulle laat offerrook vir ander gode opgaan en hulle het my aanstoot gegee+ deur alles wat hulle gedoen het. Daarom sal ek met groot woede teen hierdie plek optree, en my woede sal nie geblus word nie.’”+ 26 Maar gaan na die koning van Juda wat julle gestuur het om Jehovah te raadpleeg en sê vir hom: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Jy het die woorde van die Wet gehoor,+ 27 en jy het goed gereageer* en jy het nederig berou getoon voor God toe jy sy woorde oor hierdie plek en sy inwoners gehoor het. Jy het nederig berou getoon voor my en jou klere geskeur en voor my gehuil, en daarom het ek jou gehoor,+ sê Jehovah. 28 Daarom sal ek jou in vrede laat sterf,* en jy sal in vrede begrawe word, en jy sal nie al die rampspoed sien wat ek oor hierdie plek en sy inwoners sal bring nie.’”’”+

Hulle het die antwoord aan die koning oorgedra. 29 Die koning het toe al die ouermanne van Juda en Jerusalem laat roep.+ 30 Daarna het die koning na die huis van Jehovah gegaan saam met al die manne van Juda, die inwoners van Jerusalem, die priesters, die Leviete – die hele volk, groot sowel as klein. Hy het al die woorde van die boek van die verbond wat in die huis van Jehovah gevind is, vir hulle voorgelees.+ 31 Die koning het op sy plek gestaan en ’n verbond met Jehovah gemaak.*+ Hy het belowe om Jehovah te volg en sy gebooie, sy herinneringe en sy wetsvoorskrifte met sy hele hart en met sy hele siel*+ te gehoorsaam deur die woorde van die verbond wat in die boek geskryf is,+ uit te voer. 32 En hy het almal in Jerusalem en Benjamin laat instem dat hulle die verbond sal hou. En die inwoners van Jerusalem het die verbond van God, die God van hulle voorvaders, gehou.+ 33 Josiʹa het al die afskuwelike dinge* uit die hele land van Israel verwyder,+ en hy het almal in Israel gehelp om Jehovah hulle God te dien. Solank as wat hy gelewe het, het hulle Jehovah, die God van hulle voorvaders, getrou gedien.

35 Josiʹa het in Jerusalem ’n Pasga+ vir Jehovah gehou, en hulle het die Pasga-offer+ op die 14de dag van die eerste maand+ geslag. 2 Hy het die priesters se pligte aan hulle toegewys en hulle aangespoor om hulle werk in die huis van Jehovah te doen.+ 3 Daarna het hy vir die Leviete, wat die hele Israel onderrig het+ en wat vir Jehovah heilig was, gesê: “Sit die heilige Ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het.+ Julle moet dit nie meer op julle skouers dra nie.+ Dien Jehovah julle God en sy volk Israel. 4 En berei julle voor vir julle diens volgens julle vaderhuise en afdelings, net soos koning Dawid+ van Israel en sy seun Salomo voorgeskryf het.+ 5 Gaan staan in die heiligdom in groepe volgens die vaderhuise van julle broers, die res van die volk. Daar moet vir elke vaderhuis ’n groep uit die vaderhuise van die Leviete wees om hulle te help. 6 Slag die Pasga-offer+ en heilig julleself en tref voorbereidings vir julle broers sodat julle kan doen wat Jehovah deur middel van Moses beveel het.”

7 Koning Josiʹa het van sy eie vee 30 000 jong skaapramme en jong bokramme bygedra, sodat daar Pasga-offers kon wees vir almal wat daar was. Hy het ook 3 000 beeste bygedra.+ 8 Sy hoë amptenare het ook ’n bydrae gegee as ’n vrywillige offer vir die volk, die priesters en die Leviete. Hilkiʹa,+ Sagariʹa en Jehiʹël, die leiers van die huis van die ware God, het vir die priesters 2 600 Pasga-offers en 300 beeste gegee. 9 Konanʹja en sy broers Semaʹja en Netaʹnel, tesame met Hasabʹja, Jeïel en Joʹsabad, die hoofde van die Leviete, het vir die Leviete 5 000 Pasga-offers en 500 beeste bygedra.

10 Die voorbereidings is getref, en die priesters het op hulle plekke gestaan, en die Leviete volgens hulle afdelings,+ net soos die koning beveel het. 11 Hulle het die Pasga-offers geslag,+ en die priesters het die bloed wat hulle van die Leviete ontvang het, op die altaar gesprinkel,+ en die Leviete het die diere se velle afgetrek.+ 12 Daarna het hulle die brandoffers gereedgemaak om dit uit te deel aan die res van die volk, wat in groepe volgens hulle vaderhuise ingedeel was, sodat die offers aan Jehovah geoffer kon word volgens wat in die boek van Moses geskryf is. Hulle het dieselfde met die beeste gedoen. 13 Hulle het die Pasga-offers soos gewoonlik oor die vuur gaargemaak.*+ En hulle het die heilige offers in potte en panne gaargemaak, en daarna het hulle dit so gou as moontlik na die res van die volk geneem. 14 Toe het hulle die Pasga-offer vir hulleself en vir die priesters voorberei, want die priesters, die nakomelinge van Aäron, het tot die aand toe die brandoffers en die vetstukke geoffer. Die Leviete het dit dus vir hulleself en vir die priesters, die nakomelinge van Aäron, voorberei.

15 En die sangers, die seuns van Asaf,+ het op hulle plekke gestaan volgens die bevel van Dawid,+ Asaf,+ Heman en Jeduʹtun,+ die siener van die koning. En die poortwagters was by die verskillende poorte.+ Dit was nie vir hulle nodig om hulle pos te verlaat nie, want hulle broers, die Leviete, het die Pasga-offer vir hulle voorberei. 16 En op daardie dag is alles vir die diens van Jehovah gereedgemaak sodat die Pasga gehou kon word+ en die brandoffers op die altaar van Jehovah geoffer kon word, soos koning Josiʹa beveel het.+

17 Die Israeliete wat daar was, het toe die Pasga gehou, en hulle het die Fees van die Ongesuurde Brode sewe dae lank gehou.+ 18 Van die dae van die profeet Samuel af was daar in Israel nog nooit so ’n Pasga gehou nie. En nie een van die ander konings van Israel het ’n Pasga gehou soos die een wat gehou is deur Josiʹa,+ die priesters, die Leviete, die inwoners van Jerusalem en almal van Juda en Israel wat teenwoordig was nie. 19 Hierdie Pasga is in Josiʹa se 18de regeringsjaar gehou.

20 Later, nadat Josiʹa die tempel herstel het, het koning Nego+ van Egipte opgetrek om by Karʹkemis by die Eufraatrivier te veg. Toe het Josiʹa teen hom opgetrek.+ 21 Koning Nego het boodskappers na hom toe gestuur om te sê: “Koning van Juda, hoekom kom veg jy teen my? Ek kom nie vandag om teen jou te veg nie, maar om teen ’n ander nasie te veg, en God sê dat ek gou moet maak. God is met my. Pasop dat jy hom nie teëstaan nie, anders sal hy jou vernietig.” 22 Maar Josiʹa wou nie omdraai nie, en hy het hom vermom+ om teen hom te veg. Hy wou nie na Nego se waarskuwing luister, wat van God af gekom het nie. Toe het hy in die Vlakte van Megidʹdo+ teen hom gaan veg.

23 En die boogskutters het koning Josiʹa geskiet, en die koning het vir sy knegte gesê: “Vat my hier weg, want ek is ernstig gewond.” 24 Toe het sy knegte hom uit die strydwa gehaal en hom in sy tweede strydwa laat ry en hom na Jerusalem geneem. Hy het gesterf en is in die graf van sy voorvaders begrawe.+ Die hele Juda en Jerusalem het oor Josiʹa getreur. 25 En Jeremia+ het ’n treurlied oor Josiʹa gesing, en al die sangers en sangeresse+ sing tot vandag toe oor Josiʹa in hulle treurliedere. En dit het ’n gewoonte geword om hierdie liedere in Israel te sing, en dit is onder die treurliedere opgeteken.

26 Wat die res van die geskiedenis van Josiʹa betref en sy dade van lojale liefde in ooreenstemming met wat in die Wet van Jehovah geskryf is 27 en wat hy gedoen het, dit is van begin tot einde opgeteken in die Boek van die konings van Israel en van Juda.+

36 Toe het die volk Joʹahas, die seun van Josiʹa,+ in die plek van sy pa koning gemaak in Jerusalem.+ 2 Joʹahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. 3 Maar die koning van Egipte het hom uit sy posisie as koning in Jerusalem verwyder en het vereis dat die land ’n boete van 100 talente* silwer en ’n talent goud+ moet betaal. 4 En die koning van Egipte het Joʹahas se broer Eljaʹkim koning oor Juda en Jerusalem gemaak en sy naam na Jojaʹkim verander. Nego+ het Joʹahas na Egipte geneem.+

5 Jojaʹkim+ was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 11 jaar lank in Jerusalem regeer. Hy het bly doen wat sleg is in die oë van Jehovah sy God.+ 6 Koning Nebukadneʹsar+ van Babilon het teen hom opgetrek om hom met twee koperboeie te bind en na Babilon te neem.+ 7 En Nebukadneʹsar het van die voorwerpe van die huis van Jehovah na Babilon geneem en dit in sy paleis in Babilon gesit.+ 8 Wat die res van die geskiedenis van Jojaʹkim betref, die afskuwelike dinge wat hy gedoen het en die dinge wat teen hom gevind is, dit is opgeteken in die Boek van die konings van Israel en van Juda. En sy seun Jojaʹgin het in sy plek koning geword.+

9 Jojaʹgin+ was 18 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande en tien dae in Jerusalem regeer. En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë.+ 10 Aan die begin van die jaar* het koning Nebukadneʹsar hom na Babilon laat bring,+ saam met waardevolle goed van die huis van Jehovah.+ En hy het Sedekiʹa, sy pa se broer, koning oor Juda en Jerusalem gemaak.+

11 Sedekiʹa+ was 21 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 11 jaar lank in Jerusalem regeer.+ 12 Hy het bly doen wat sleg is in die oë van Jehovah sy God. Hy het nie berou getoon toe die profeet Jeremia die woorde van Jehovah verkondig het nie.+ 13 Hy het ook teen koning Nebukadneʹsar in opstand gekom,+ al het Nebukadneʹsar hom voor God laat sweer dat hy getrou aan hom sal bly. En hy het hardkoppig gebly* en sy hart bly verhard en geweier om Jehovah, die God van Israel, te dien. 14 Al die hoofde van die priesters, sowel as die volk, was verskriklik ontrou en het al die afskuwelike dinge van die nasies gedoen, en hulle het die huis van Jehovah, wat Hy in Jerusalem geheilig het, onrein gemaak.+

15 Jehovah, die God van hulle voorvaders, het hulle keer op keer deur middel van sy boodskappers gewaarsku, want hy het jammer gevoel vir sy volk en sy tempel.* 16 Maar hulle het die boodskappers van die ware God bly spot,+ en hulle het sy woorde geïgnoreer+ en sy profete uitgelag,+ totdat Jehovah vir sy volk woedend geword het+ en daar geen hoop was dat hulle genees kon word nie.

17 Daarom het hy die koning van die Galdeërs+ teen hulle laat optrek, wat hulle jong manne in hulle heiligdom*+ met die swaard doodgemaak het.+ Hy het nie jammer gevoel vir jong manne of maagde, oumense of swakkes nie.+ God het alles in sy hand gegee.+ 18 Hy het al die voorwerpe, groot en klein, van die huis van die ware God, sowel as die skatte van die huis van Jehovah en die skatte van die koning en sy hoë amptenare na Babilon geneem.+ 19 Hy het die huis van die ware God afgebrand,+ die muur van Jerusalem afgebreek,+ al die versterkte torings aan die brand gesteek en alles wat van waarde was, verwoes.+ 20 Hy het almal wat nie met die swaard doodgemaak is nie, as gevangenes na Babilon geneem,+ en hulle het vir hom en sy seuns knegte geword+ totdat die koninkryk van Persië begin regeer het+ 21 en totdat die land sy sabbatte afbetaal het.+ Dit het vervul wat Jehovah deur middel van Jeremia gesê het.+ Die hele tyd dat die land onbewoon was, het die land gerus,* totdat 70 jaar vervul was.+

22 In die eerste jaar van koning Kores+ van Persië, het Jehovah hom beweeg* om ’n aankondiging regoor sy koninkryk te laat maak. Dit het vervul wat Jehovah deur middel van Jeremia gesê het.+ Die aankondiging, wat die koning ook laat neerskryf het,+ het gesê: 23 “Dít is wat koning Kores van Persië sê: ‘Jehovah, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee,+ en hy het my die opdrag gegee om vir hom ’n huis in Jerusalem, wat in Juda is, te bou.+ Laat elkeen van julle wat deel van sy volk is, daarheen gaan, en mag Jehovah sy God met hom wees.’”+

Of “het Hom gereeld daar vir leiding gevra”.

Lett. “sodat ek voor hierdie volk kan uitgaan en kan inkom”.

Of “perderuiters”.

Of “perderuiters”.

Of moontlik “uit Egipte en uit Kewé ingevoer; die koning se koopmanne het hulle in Kewé gekoop”, wat moontlik na Silisië verwys.

Of “lasdraers”.

D.w.s. die offerbrode.

’n Kor was gelyk aan 220 l. Sien Aanh. B14.

’n Bat was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.

Of “lasdraers”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm, maar party dink dat die “ou el” na die lang el verwys, wat gelyk was aan 51,8 cm. Sien Aanh. B14.

Party eertydse manuskripte sê “120”, terwyl ander manuskripte en party vertalings “20 el” sê.

Lett. “huis”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Lett. “huis”.

D.w.s. in die rigting van die Heilige.

Of “voorhangsel”.

Of “kettings soos ’n halssnoer”.

Of “suidekant”.

Of “noordekant”.

Beteken “mag hy [d.w.s. Jehovah] stewig vestig”.

Beteken moontlik “in krag”.

Of “waterbak”.

Of “’n maatlyn van 30 el was nodig om daarom te gaan”.

Omtrent 7,4 cm. Sien Aanh. B14.

’n Bat was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.

Of “waterwaentjies”.

Lett. “Hiram-Abiw”, ’n wisselvorm van die naam.

Of “tange”.

D.w.s. die Huttefees.

Of “Die Levitiese priesters”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Of “en sy medemens hom ’n vloek oplê”, d.w.s. ’n eed wat met ’n vloek gepaardgaan indien die persoon valslik sweer of nie die eed hou nie.

Lett. “regverdig”.

Of “laat swaarkry”.

Of “reputasie”.

Sien Woordelys.

Lett. “mag u oë oop wees en u ore aandag skenk”.

Of “aangaande hierdie plek”.

Verwys moontlik na die Leviete.

Of “gemeenskapsoffers”.

Of “die ingang van Hamat”.

Of “Wadi”. Sien Woordelys.

Of “inwyding”.

Die dag ná die fees, d.w.s. die 15de dag.

Lett. “sal my oë oop wees en my ore aandag skenk”.

Lett. “’n spreekwoord onder die volke maak”.

Of “herbou”.

Of “Fees van Tydelike Skuilings”.

Of “goed beplan; volledig uitgevoer”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of “met raaisels”.

Lett. “verborge was”.

Lett. “was daar nie meer gees in haar nie”.

Of “woorde”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of moontlik “buiten geskenke wat ooreengestem het met die waarde van”.

Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.

Klein skilde is gewoonlik deur boogskutters gedra.

Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.

’n Mina in die Hebreeuse Geskrifte was gelyk aan 570 g. Sien Aanh. B14.

Of “perderuiters”.

Die Eufraatrivier.

Lett. “is Salomo by sy vaders neergelê”.

Of “onderdrukkende”.

Of “die ouermanne”.

Of “die ouermanne”.

Sien Woordelys.

Of “die ouermanne”.

Sien Woordelys.

Lett. “tente”.

Lett. “uitgesoekte”.

Of “versterk”.

Lett. “die bokke”.

Of “wat hulle harte daarop gerig het”.

Lett. “soek”.

Of “versprei”.

Lett. “koninkryke”.

Lett. “hardlopers”.

Of “hy het nie in sy hart besluit”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Lett. “uitgesoekte”.

Lett. “uitgesoekte”.

D.w.s. ’n permanente en onveranderlike verbond.

Lett. “gekom het om sy hand te vul met”.

D.w.s. die offerbrode.

Lett. “uitgesoekte”.

Lett. “gesteun”.

Of “omliggende”.

Of “uiteensetting; kommentaar”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Sien Woordelys.

Lett. “dubbele deure”.

Klein skilde is gewoonlik deur boogskutters gedra.

Lett. “baie”.

Lett. “steun”.

Lett. “was daar geen vrede vir die een wat uitgaan of vir die een wat inkom nie”.

Lett. “julle moet julle hande nie laat sak nie”.

Sien Woordelys.

Of “as dame”.

Sien Woordelys.

Of “Nogtans was Asa se hart al sy dae volkome”.

Of “versterk; herbou”.

Of “verbond”.

Of “verbond”.

Of “te versterk; te herbou”.

Of “te versterk; te herbou”.

Lett. “gesteun”.

Lett. “gesteun”.

Of “om sy krag te toon ten behoewe van dié”.

Lett. “wie se hart volkome is teenoor hom”.

Of “blokgevangenis”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Verwys blykbaar nie na ’n verassing nie, maar na speserye wat gebrand is.

Lett. “in sy gebod gewandel”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “geoffer”.

Of “stoot”.

Lett. “Gees”.

Lett. “Waar het die gees van Jehovah van my af weggegaan”.

Lett. “alle volke”.

Of “in sy onskuld”.

’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.

Lett. “kamp”.

Of “in vrede”.

Sien Woordelys.

Of “en u hart is vasbeslote”.

Of “’n hart wat ten volle toegewyd is”.

Of “met wat goed is”.

Of moontlik “die Meüniete”.

Blykbaar die Dooie See.

Lett. “saad”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “sien die redding van Jehovah ten behoewe van julle”.

Of “volhard”.

Lett. “te seën”.

Beteken “vallei van seëninge”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

D.w.s. ’n nakomeling.

Of “om geestelike prostitusie te pleeg”.

Of “geestelike prostitusie pleeg”.

Ook Ahasia genoem.

Lett. “dogter”.

Ook “Asarja” genoem in party Hebreeuse manuskripte.

Of “siek”.

Lett. “seun”.

Lett. “gesoek”.

Lett. “al die saad van die koninkryk”.

Klein skilde is gewoonlik deur boogskutters gedra.

Of “spiese”.

Moontlik ’n boekrol wat die Wet van God bevat het.

Lett. “sy pilaar”.

Of moontlik “totdat almal ’n bydrae gegee het”.

Sien Woordelys.

Lett. “was daar woede teen”.

Of “hoër as”.

Lett. “By die wisseling van die jaar”.

Of “het hy baie siektes gehad”.

Lett. “seuns”. Die meervoudsvorm word moontlik gebruik om voortreflikheid aan te dui.

Lett. “grondvesting van”.

Lett. “uitgesoekte”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Lett. “jy”.

Lett. “tent”.

Ook Ahasia genoem.

Omtrent 178 m. Sien Aanh. B14.

Of “onder die toesig van”.

D.w.s. sy pa, Amasia.

Lett. “by sy vaders neergelê is”.

Sien Woordelys.

Of “uitgekap”, waarskynlik uit rots.

Of “plato”.

’n Pantser is ’n beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

’n Kor was gelyk aan 220 l. Sien Aanh. B14.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Sien Woordelys, “Gehenna”.

Of “omliggende”.

Lett. “Israel”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Of “iets afgrysliks gemaak het”.

D.w.s. die offerbrode.

Lett. “Nou het julle julle hand gevul”.

Lett. “opreg van hart”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Lett. “hardlopers”.

Of “iets afgrysliks gemaak”.

Sien Woordelys.

Lett. “hardlopers”.

Lett. “genees”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Sien Woordelys.

Of “gemeenskapsoffers”.

Lett. “kampe”.

Of “hulle eerstelinge”. Sien Woordelys.

Of “eetkamers”.

Of “Millo”. ’n Hebreeuse woord wat “opvulling” beteken.

Of “spiese”.

Lett. “By hom is ’n arm van vlees”.

Of “voorteken”.

Of “voorteken”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Sien Woordelys.

Of “deur die vuur laat gaan”.

Of “spiritistiese mediums aangestel”.

Of moontlik “in die gate”.

Of “die aangesig van Jehovah sy God versag”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “gemeenskapsoffers”.

Sien Woordelys.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “die lasdraers”.

Lett. “deur die hand van”.

Of “Tweede Stadsdeel”.

Lett. “jou hart was sag”.

Lett. “tot jou vaders versamel”.

Of “die verbond met Jehovah hernu”.

Sien Woordelys.

Of “afgode”.

Of moontlik “gebraai”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Moontlik in die lente.

Lett. “het sy nek verhard”.

Lett. “woonplek”.

Lett. “die huis van hulle heiligdom”.

Of “sabbat gehou”.

Lett. “die gees van koning Kores van Persië opgewek”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel