Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt 2 Konings 1:1-25:30
  • 2 Konings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 2 Konings
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
2 Konings

DIE TWEEDE BOEK VAN KONINGS

1 Ná Agab se dood het Moab+ teen Israel in opstand gekom.

2 In daardie tyd het Ahaʹsia in Samariʹa deur die traliewerk van sy dakvertrek geval en hom beseer. Hy het toe boodskappers uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan raadpleeg Baäl-Sebub, die god van Ekron,+ om uit te vind of ek van hierdie besering sal herstel.”+ 3 Maar die engel van Jehovah het vir Eliʹa,*+ die Tisbiet, gesê: “Staan op, gaan na die boodskappers van die koning van Samariʹa en vra vir hulle: ‘Is dit omdat daar nie ’n God in Israel is nie dat julle Baäl-Sebub, die god van Ekron, gaan raadpleeg?+ 4 Daarom sê Jehovah: “Jy sal nie opstaan van die bed waarop jy lê nie. Jy sal beslis sterf.”’” Toe het Eliʹa weggegaan.

5 Toe die boodskappers na hom toe terugkom, het hy onmiddellik vir hulle gevra: “Hoekom het julle teruggekom?” 6 Hulle het geantwoord: “’n Man het na ons toe gekom en vir ons gesê: ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het en sê vir hom: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Is dit omdat daar nie ’n God in Israel is nie dat julle Baäl-Sebub, die god van Ekron, gaan raadpleeg? Daarom sal jy nie opstaan van die bed waarop jy lê nie. Jy sal beslis sterf.’”’”+ 7 Hy het vir hulle gevra: “Hoe het die man gelyk wat na julle toe gekom het en hierdie dinge vir julle gesê het?” 8 En hulle het vir hom gesê: “Dit was ’n man met ’n harige kleed+ en ’n leerlyfband om sy middel.”+ Hy het dadelik gesê: “Dit was Eliʹa, die Tisbiet.”

9 Die koning het toe ’n hoof oor 50 soldate met sy 50 soldate na hom toe gestuur. Hy het na Eliʹa toe opgeklim, wat op die top van die berg gesit het, en vir hom gesê: “Man van die ware God,+ die koning sê: ‘Kom af.’” 10 Maar Eliʹa het vir die hoof oor die 50 gesê: “As ek ’n man van God is, laat vuur uit die hemel kom+ en jou en jou 50 soldate verteer.” En vuur het uit die hemel gekom en hom en sy 50 soldate verteer.

11 Toe het die koning nog ’n hoof oor 50 soldate met sy 50 soldate na hom toe gestuur. Hy het vir hom gaan sê: “Man van die ware God, dít is wat die koning sê: ‘Kom dadelik af.’” 12 Maar Eliʹa het vir hulle gesê: “As ek ’n man van die ware God is, laat vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 soldate verteer.” En vuur van God het uit die hemel gekom en hom en sy 50 soldate verteer.

13 Toe het die koning ’n derde hoof oor 50 soldate met sy 50 soldate gestuur. Maar die derde hoof oor 50 het opgeklim en voor Eliʹa gekniel en hom om genade gesmeek en vir hom gesê: “Man van die ware God, laat my lewe en die lewe van hierdie 50 knegte van u asseblief kosbaar wees in u oë. 14 Vuur uit die hemel het die twee vorige hoofde oor 50 en hulle groepe van 50 verteer, maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë.”

15 Toe het die engel van Jehovah vir Eliʹa gesê: “Gaan saam met hom af. Moenie vir hom bang wees nie.” En hy het opgestaan en saam met hom na die koning toe afgegaan. 16 Eliʹa het toe vir die koning gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Jy het boodskappers gestuur om Baäl-Sebub, die god van Ekron,+ te raadpleeg. Is dit omdat daar nie ’n God in Israel is nie?+ Hoekom het jy hom nie geraadpleeg nie? Daarom sal jy nie opstaan van die bed waarop jy lê nie. Jy sal beslis sterf.’” 17 En hy het gesterf, net soos Jehovah deur middel van Eliʹa gesê het. En omdat hy nie ’n seun gehad het nie, het Joram*+ in sy plek koning geword in die tweede jaar van Joram,+ die seun van Joʹsafat, die koning van Juda.

18 Die res van die geskiedenis van Ahaʹsia+ en wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel.

2 Kort voordat Jehovah Eliʹa+ in ’n windstorm na die hemel*+ sou opneem, het Eliʹa en Eliʹsa+ uit Gilgal+ vertrek. 2 Eliʹa het vir Eliʹsa gesê: “Bly asseblief hier, want Jehovah het my na Bet-El gestuur.” Maar Eliʹsa het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, ek sal u nie verlaat nie.” Hulle het toe na Bet-El+ gegaan. 3 Toe het die seuns van die profete* wat in Bet-El was, na Eliʹsa toe gegaan en vir hom gevra: “Weet jy dat Jehovah vandag jou meester as hoof oor jou gaan wegneem?”+ Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Bly stil.”

4 Eliʹa het toe vir hom gesê: “Eliʹsa, bly asseblief hier, want Jehovah het my na Jeʹrigo+ gestuur.” Maar hy het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, ek sal u nie verlaat nie.” Daarna het hulle in Jeʹrigo aangekom. 5 Toe het die seuns van die profete wat in Jeʹrigo was, na Eliʹsa toe gegaan en vir hom gevra: “Weet jy dat Jehovah vandag jou meester as hoof oor jou gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Bly stil.”

6 Eliʹa het toe vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want Jehovah het my na die Jordaanrivier gestuur.” Maar hy het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, ek sal u nie verlaat nie.” Daarna het hulle al twee verder gegaan. 7 En 50 van die seuns van die profete het ook gegaan en op ’n afstand gestaan en kyk terwyl hulle twee by die Jordaanrivier gestaan het. 8 Toe het Eliʹa sy ampskleed+ geneem en dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, en hulle twee het op droë grond deur die rivier gegaan.+

9 Toe hulle aan die oorkant kom, het Eliʹa vir Eliʹsa gesê: “Sê vir my wat ek vir jou moet doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Eliʹsa het gevra: “Kan ek asseblief ’n dubbele porsie*+ van u gees+ kry?” 10 Hy het geantwoord: “Dit is ’n moeilike ding wat jy gevra het. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, sal dit met jou gebeur, maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11 Terwyl hulle geloop en praat het, het ’n strydwa van vuur en perde van vuur+ skielik verskyn en hulle van mekaar geskei, en Eliʹa het in die windstorm na die hemel* opgevaar.+ 12 Toe Eliʹsa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader! Die strydwa van Israel en sy perderuiters!”+ Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere geskeur.+ 13 Daarna het hy Eliʹa se ampskleed+ opgetel wat van hom afgeval het en teruggegaan en op die oewer van die Jordaanrivier gaan staan. 14 Toe het hy Eliʹa se ampskleed geneem wat van hom afgeval het en die water daarmee geslaan en gesê: “Waar is Jehovah, die God van Eliʹa?” Toe hy die water slaan, is dit na links en na regs verdeel, en Eliʹsa het deurgegaan.+

15 Toe die seuns van die profete wat in Jeʹrigo was, hom van ver af sien, het hulle gesê: “Die gees van Eliʹa rus op Eliʹsa.”+ Daarom het hulle na hom toe gegaan en voor hom na die grond toe neergebuig. 16 Hulle het vir hom gesê: “Hier is 50 bekwame manne by u knegte. Laat hulle asseblief u meester gaan soek. Miskien het die gees* van Jehovah hom opgelig en hom toe op een van die berge of in een van die valleie neergesit.”+ Maar hy het gesê: “Moet hulle nie stuur nie.” 17 Hulle het so aangehou dat hy ongemaklik begin voel het en gesê het: “Stuur hulle.” Hulle het die 50 manne dus gestuur, en hulle het drie dae lank gesoek, maar hulle het hom nie gevind nie. 18 Hulle het na hom toe teruggekeer in Jeʹrigo,+ waar hy gebly het, en hy het vir hulle gevra: “Het ek nie vir julle gesê dat julle nie moet gaan nie?”

19 Ná verloop van tyd het die manne van die stad vir Eliʹsa gesê: “Soos my meester kan sien, is die stad op ’n goeie plek geleë,+ maar die water is sleg, en die grond is onvrugbaar.”* 20 Daarna het hy gesê: “Gaan haal vir my ’n nuwe bakkie en sit sout daarin.” Toe het hulle dit vir hom gebring. 21 Daarna het hy na die bron van die water gegaan en sout daarin gegooi+ en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek het hierdie water gesond gemaak. Dit sal nie meer die dood of onvrugbaarheid* veroorsaak nie.’” 22 En die water is tot vandag toe nog drinkbaar, net soos Eliʹsa gesê het.

23 Hy het van daar af na Bet-El gegaan. Op pad het jong seuns uit die stad gekom en hom begin spot+ en die hele tyd vir hom gesê: “Gaan op, jou kaalkop! Gaan op, jou kaalkop!” 24 Uiteindelik het hy omgedraai en na hulle gekyk en hulle in die naam van Jehovah vervloek. Toe het twee bere*+ uit die woud gekom en 42 van die kinders verskeur.+ 25 Van daar af het hy na die berg Karmel+ gegaan en toe na Samariʹa teruggekeer.

3 Joram,+ die seun van Agab, het in die 18de jaar van koning Joʹsafat van Juda koning oor Israel geword in Samariʹa, en hy het 12 jaar lank regeer. 2 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, maar nie so erg soos sy pa en ma nie, want hy het die heilige pilaar van Baäl verwyder wat sy pa gemaak het.+ 3 Maar hy het aangehou om dieselfde sondes te pleeg wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het.+ Hy het nie daarvan afgewyk nie.

4 Mesa, die koning van Moab, het met skape geboer, en hy het altyd 100 000 lammers en 100 000 ongeskeerde ramme aan die koning van Israel as skatting* betaal. 5 Toe Agab gesterf het,+ het die koning van Moab teen die koning van Israel in opstand gekom.+ 6 Daarom het koning Joram in daardie tyd uit Samariʹa vertrek en die hele leërmag van Israel bymekaargeroep. 7 Hy het ook die volgende boodskap aan koning Joʹsafat van Juda gestuur: “Die koning van Moab het teen my in opstand gekom. Sal jy saam met my teen Moab gaan oorlog voer?” Hy het geantwoord: “Ja, ek sal.+ Ek sal saam met jou gaan. My volk is jou volk. My perde is jou perde.”+ 8 Daarna het hy gevra: “Met watter pad sal ons gaan?” Hy het geantwoord: “Met die pad van die wildernis van Edom.”

9 Die koning van Israel het toe saam met die koning van Juda en die koning van Edom+ gegaan. Nadat hulle sewe dae lank met ’n ompad getrek het, was daar nie water vir die kamp en vir die diere wat by hulle was nie. 10 Die koning van Israel het gesê: “Hoe verskriklik! Jehovah het hierdie drie konings bymekaargebring net om hulle in die hand van Moab te gee!” 11 Toe het Joʹsafat gevra: “Is daar nie ’n profeet van Jehovah hier deur wie ons Jehovah kan raadpleeg nie?”+ Een van die knegte van die koning van Israel het geantwoord: “Daar is Eliʹsa,+ die seun van Safat, wat Eliʹa+ se dienaar was.”* 12 Joʹsafat het gesê: “Die woord van Jehovah is met hom.” Joʹsafat en die koning van Israel en die koning van Edom het dus na hom toe gegaan.

13 Eliʹsa het vir die koning van Israel gesê: “Wat het ek met jou te doen?*+ Gaan na die profete van jou pa en na die profete van jou ma.”+ Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, want dit is Jehovah wat hierdie drie konings bymekaargebring het om hulle in die hand van Moab te gee.” 14 Eliʹsa het toe gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, die God van die leërmagte en die Een wat ek dien,* ek sou nie eers na jou gekyk het of aandag aan jou geskenk het as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Joʹsafat+ van Juda het nie.+ 15 Bring nou vir my ’n harpspeler.”*+ Toe die harpspeler begin speel, het die krag* van Jehovah oor Eliʹsa gekom.+ 16 Hy het gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Grawe slote oral in hierdie vallei,* 17 want dít is wat Jehovah sê: “Julle sal geen wind sien nie en julle sal geen reën sien nie, en tog sal hierdie vallei* vol water word,+ en julle, julle vee en julle ander diere sal daarvan drink.”’ 18 Maar dit is iets kleins in die oë van Jehovah,+ want hy sal Moab ook in julle hand gee.+ 19 Julle moet al die versterkte stede+ en al die beste stede verslaan, en julle moet elke goeie boom afkap en al die waterfonteine toestop, en julle moet elke goeie stuk grond met klippe onbruikbaar maak.”+

20 En in die oggend, teen die tyd van die oggendgraanoffer,+ het water skielik uit die rigting van Edom gekom, en die land het vol water geword.

21 Al die Moabiete het gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Daarom het hulle al die manne bymekaargeroep wat oud genoeg was om te veg,* en hulle het by die grens gaan staan. 22 Toe hulle die oggend vroeg opstaan, het die son op die water geskyn. En vir die Moabiete aan die oorkant het die water rooi soos bloed gelyk. 23 Hulle het gesê: “Dit is bloed! Die konings het mekaar vir seker met die swaard doodgemaak. Laat ons hulle gaan stroop,+ o Moab!” 24 Toe hulle in die kamp van Israel kom, het die Israeliete die Moabiete aangeval, wat voor hulle gevlug het.+ Die Israeliete het tot in Moab gegaan en die Moabiete doodgemaak so ver as wat hulle gegaan het. 25 Hulle het die stede afgebreek, en elke man het ’n klip op elke goeie stuk grond gegooi en dit sodoende met klippe toegegooi. Hulle het elke waterfontein toegestop+ en hulle het elke goeie boom afgekap.+ Uiteindelik het net die klipmure van Kir-Hareʹset+ bly staan, en die soldate wat met slingervelle gewapen was, het die stad omsingel en dit aangeval.

26 Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg verloor het, het hy 700 manne met swaarde saam met hom geneem om deur te dring tot by die koning van Edom,+ maar hulle kon nie. 27 Hy het toe sy eersgebore seun geneem wat in sy plek sou regeer het en hom as ’n brandoffer+ op die muur geoffer. En daar het groot woede teen Israel ontstaan, en daarom het hulle van die koning van Moab af weggetrek en na hulle land teruggekeer.

4 Op ’n dag het ’n weduwee van een van die seuns van die profete+ na Eliʹsa uitgeroep en gesê: “My man, u kneg, is dood, en u weet goed dat hy Jehovah nog altyd gevrees het.+ En nou het ’n skuldeiser gekom om al twee my kinders as sy slawe te neem.” 2 Eliʹsa het toe vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat jy in die huis het.” Sy het geantwoord: “U diensmeisie het niks in die huis nie, behalwe ’n kruik* met olie.”+ 3 Toe het hy gesê: “Gaan uit en vra al jou bure vir houers, leë houers. Kry soveel as wat jy kan. 4 Dan moet jy ingaan en die deur agter jou en jou seuns toemaak. Maak al die houers vol en sit die volles eenkant.” 5 Sy het toe van hom af weggegaan.

Nadat sy die deur agter haar en haar seuns toegemaak het, het hulle die houers vir haar aangegee, en sy het die een ná die ander vol gemaak.+ 6 Toe die houers vol was, het sy vir een van haar seuns gesê: “Bring vir my nog ’n houer.”+ Maar hy het vir haar gesê: “Daar is nie nog houers nie.” Toe het die olie opgehou.+ 7 Daarna het sy vir die man van die ware God gaan vertel, en hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld, en jy en jou seuns kan lewe van wat oorbly.”

8 Eendag het Eliʹsa na Sunem+ gegaan, waar daar ’n vooraanstaande vrou was, en sy het daarop aangedring dat hy daar moet eet.+ En elke keer as hy daar verbygegaan het, het hy daar iets gaan eet. 9 Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dat die man wat gereeld hier verby kom, ’n heilige man van God is. 10 Laat ons asseblief vir hom ’n kamertjie op die dak maak+ en vir hom ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lampstaander daarin sit. Dan kan hy daar bly wanneer hy na ons toe kom.”+

11 Op ’n dag het hy daar aangekom en na die kamer op die dak gegaan om te gaan lê. 12 Hy het toe vir sy dienaar Gehaʹsi+ gesê: “Roep die Sunammitiese+ vrou.” Hy het haar dus gaan roep, en sy het na hom toe gegaan. 13 Hy het vir Gehaʹsi gesê: “Sê asseblief vir haar: ‘Jy het so baie moeite vir ons gedoen.+ Wat kan ek vir jou doen?+ Moet ek namens jou met die koning+ of die hoof van die leërmag gaan praat?’” Maar sy het geantwoord: “Nee, dit is nie nodig nie, want ek woon onder my eie volk.” 14 Hy het toe gevra: “Wat kan dan vir haar gedoen word?” Gehaʹsi het gesê: “Wel, sy het nie ’n seun nie,+ en haar man is oud.” 15 Hy het dadelik gesê: “Roep haar.” Hy het haar toe gaan roep, en sy het by die ingang gaan staan. 16 Toe het hy gesê: “Teen volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seuntjie vashou.”+ Maar sy het gesê: “Nee, my meester, man van die ware God! Moenie vir u diensmeisie leuens vertel nie.”

17 Maar die vrou het swanger geword en presies ’n jaar later aan ’n seun geboorte gegee, net soos Eliʹsa vir haar gesê het. 18 Die kind het groter geword, en op ’n dag het hy na sy pa toe gegaan, wat by die oeswerkers was. 19 Hy het heeltyd vir sy pa gesê: “My kop, o my kop!” Sy pa het vir die dienaar gesê: “Dra hom na sy ma toe.” 20 Hy het hom na sy ma toe gedra, en hy het tot die middag op haar skoot gesit, en toe het hy gesterf.+ 21 Toe het sy opgegaan en hom op die bed van die man van die ware God neergelê,+ en sy het die deur agter haar toegemaak en uitgegaan. 22 Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur asseblief vir my een van die dienaars en een van die donkies, en laat ek gou na die man van die ware God gaan, en dan sal ek terugkom.” 23 Hy het gevra: “Hoekom gaan jy vandag na hom toe? Dit is nie ’n nuwemaan+ of ’n sabbat nie.” Maar sy het gesê: “Moenie bekommerd wees nie.” 24 Sy het toe die donkie opgesaal en vir haar dienaar gesê: “Maak gou. Jaag die donkie aan en moenie ter wille van my stadiger gaan nie, tensy ek vir jou so sê.”

25 Sy het na die man van die ware God by die berg Karmel gegaan. Toe die man van die ware God haar in die verte sien, het hy vir sy dienaar Gehaʹsi gesê: “Kyk! Daar is die Sunammitiese vrou. 26 Hardloop asseblief na haar toe en vra haar: ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou kind?’” Sy het geantwoord: “Dit gaan goed.” 27 Toe sy by die man van die ware God op die berg kom, het sy dadelik sy voete gegryp.+ Gehaʹsi het toe nader gekom om haar weg te stoot, maar die man van die ware God het gesê: “Los haar, want sy is baie hartseer, en Jehovah het dit vir my weggesteek en my nie daarvan vertel nie.” 28 Sy het toe gesê: “Het ek my heer vir ’n seun gevra? Het ek nie gesê: ‘Moenie vir my valse hoop gee nie’?”+

29 Hy het dadelik vir Gehaʹsi gesê: “Maak jou klere om jou heupe vas+ en neem my staf en gaan. As jy iemand teëkom, moet jy hom nie groet nie, en as iemand jou groet, moet jy hom nie antwoord nie. Gaan sit my staf op die seun se gesig.” 30 Toe het die seun se ma gesê: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, ek sal u nie verlaat nie.”+ Daarom het hy opgestaan en saam met haar gegaan. 31 Gehaʹsi het voor hulle uit gegaan en die staf op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of reaksie nie.+ Hy het na Eliʹsa teruggegaan en vir hom gesê: “Die seun het nie wakker geword nie.”

32 Toe Eliʹsa in die huis ingaan, het die seun dood op sy bed gelê.+ 33 Hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegemaak en tot Jehovah begin bid.+ 34 Daarna het hy op die bed geklim en oor die kind gaan lê en sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy palms op die seun se palms gesit en oor hom gebuig gebly, en die kind se liggaam het begin warm word.+ 35 Toe het hy heen en weer in die huis geloop, en daarna het hy weer op die bed geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies, en daarna het hy sy oë oopgemaak.+ 36 Eliʹsa het Gehaʹsi toe geroep en gesê: “Roep die Sunammitiese vrou.” Hy het haar dus geroep, en sy het na hom toe gegaan. Toe het hy gesê: “Tel jou seun op.”+ 37 En sy het ingegaan en voor sy voete geval en na die grond toe neergebuig, en daarna het sy haar seun opgetel en uitgegaan.

38 Toe Eliʹsa na Gilgal terugkeer, was daar hongersnood in die land.+ Die seuns van die profete+ het voor hom gesit, en hy het vir sy dienaar+ gesê: “Sit die groot pot op die vuur en kook ’n bredie vir die seuns van die profete.” 39 Toe het een van hulle na die veld uitgegaan om kruie te pluk, en hy het ’n wilde rankplant gevind en wilde kalbasse daarvan gepluk en sy kleed daarmee vol gemaak. Daarna het hy teruggegaan en dit opgesny en in die kookpot gegooi, al het hy nie geweet wat dit is nie. 40 Later het hulle dit vir die manne gegee om te eet, maar toe hulle van die bredie eet, het hulle uitgeroep: “Daar is gif* in die pot, o man van die ware God!” En hulle kon dit nie eet nie. 41 Toe het hy gesê: “Gaan haal ’n bietjie meel.” Nadat hy dit in die pot gegooi het, het hy gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.” En daar was niks skadeliks in die pot nie.+

42 ’n Man het uit Baäl-Saliʹsa+ gekom, en hy het vir die man van die ware God 20 garsbrode+ gebring wat van die eerste graan van die nuwe oes gemaak is, sowel as ’n sak vol vars graan.+ Toe het Eliʹsa gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.” 43 Maar sy dienaar het gesê: “Hoe kan 100 manne hiervan eet?”+ Toe het hy gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want dít is wat Jehovah sê: ‘Hulle sal eet en nog oorhê.’”+ 44 Hy het dit vir hulle gegee om te eet, en hulle het geëet en nog oorgehad,+ net soos Jehovah gesê het.

5 Naäman, die hoof van die leërmag van die koning van Sirië, was ’n belangrike man, en sy heer het groot respek vir hom gehad omdat Jehovah hom gebruik het om vir Sirië ’n oorwinning* te gee. Hy was ’n magtige vegter, hoewel hy ’n melaatse was.* 2 Eendag, toe die Siriërs die Israeliete gaan stroop het, het hulle ’n meisietjie uit die land van Israel gevange geneem, en sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword. 3 Sy het vir haar meesteres gesê: “As my heer tog maar net na die profeet+ in Samariʹa sou gaan, dan sal hy hom van sy melaatsheid genees.”+ 4 Toe het hy* vir sy heer gaan vertel wat die meisie van Israel gesê het.

5 Die koning van Sirië het gesê: “Gaan! Ek sal ’n brief aan die koning van Israel stuur.” Hy het dus gegaan en tien talente* silwer, 6 000 stukke goud en tien stelle klere saamgeneem. 6 Hy het die brief na die koning van Israel geneem, wat gesê het: “Saam met hierdie brief stuur ek my kneg Naäman na u toe, sodat u hom van sy melaatsheid kan genees.” 7 Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek God, wat mense kan doodmaak en hulle aan die lewe kan hou?+ Want hy stuur hierdie man na my toe en sê dat ek hom van sy melaatsheid moet genees! Julle kan mos sien dat hy moeilikheid soek.”

8 Maar toe Eliʹsa, die man van die ware God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy dadelik ’n boodskap na die koning toe gestuur en gesê: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat hom asseblief na my toe kom sodat hy kan weet dat daar ’n profeet in Israel is.”+ 9 Toe het Naäman met sy perde en sy strydwaens gekom en by die ingang van die huis van Eliʹsa gaan staan. 10 Eliʹsa het ’n boodskapper na hom toe gestuur om vir hom te sê: “Gaan was jou sewe keer+ in die Jordaanrivier,+ en dan sal jy gesond word, en jy sal rein wees.” 11 Maar Naäman het kwaad geword en begin wegstap en gesê: “Ek het gedink dat hy na my toe sou uitkom en hier sou staan en die naam van Jehovah sy God sou aanroep terwyl hy sy hand heen en weer oor die melaatsheid beweeg om dit te genees. 12 Is die Abaʹna en die Farpar, die riviere van Damaskus,+ nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie in hulle was en rein word nie?” Toe het hy omgedraai en woedend weggegaan.

13 Sy knegte het toe na hom toe gegaan en vir hom gesê: “My vader, sou u nie gedoen het wat die profeet gesê het as hy vir u gesê het om iets buitengewoons te doen nie? Maar al wat hy vir u gesê het, is: ‘Was jou en wees rein.’ Moet u dit nie maar doen nie?” 14 Toe het hy sewe keer in die Jordaanrivier onder die water gegaan,* net soos die man van die ware God gesê het.+ Daarna het sy vel gesond geword, soos die vel van ’n klein seuntjie,+ en hy het rein geword.+

15 Daarna het hy en al sy manne* teruggegaan na die man van die ware God,+ en hy het voor hom gaan staan en gesê: “Nou weet ek dat daar nêrens op aarde ’n God is, behalwe in Israel nie.+ Aanvaar asseblief ’n geskenk* van u kneg.” 16 Maar Eliʹsa het gesê: “So waar as wat Jehovah, wat ek dien,* lewe, ek sal dit nie aanvaar nie.”+ Hy het daarop aangedring dat hy dit aanvaar, maar hy het bly weier. 17 Uiteindelik het Naäman gesê: “Goed dan, maar laat daar asseblief aan u kneg grond van hierdie land gegee word, soveel as wat twee muile kan dra, want u kneg sal nie meer ’n brandoffer of ’n offerande aan enige ander god as Jehovah offer nie. 18 Maar mag Jehovah my hierdie een ding vergewe: Wanneer my heer in die tempel* van Rimmon ingaan om daar neer te buig, leun hy op my arm, en dan moet ek in die tempel* van Rimmon neerbuig. Mag Jehovah my asseblief vergewe wanneer ek in die tempel* van Rimmon neerbuig.” 19 Toe het hy vir hom gesê: “Gaan in vrede.” Nadat hy van hom af weggegaan het en ’n hele ent gereis het, 20 het Gehaʹsi,+ die dienaar van Eliʹsa, die man van die ware God,+ gedink: ‘My meester het hierdie Siriër Naäman+ laat gaan sonder om die geskenk te aanvaar wat hy gebring het. So waar as wat Jehovah lewe, ek sal agter hom aan hardloop en iets van hom neem.’ 21 En Gehaʹsi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien dat iemand agter hom aan hardloop, het hy van sy strydwa afgeklim en na hom toe gegaan en gevra: “Is alles in orde?” 22 Hy het geantwoord: “Alles is in orde. My meester het my gestuur om te sê: ‘Twee jong manne uit die seuns van die profete het nou net uit die bergstreek van Eʹfraim na my toe gekom. Gee asseblief vir hulle ’n talent silwer en twee stelle klere.’”+ 23 Naäman het gesê: “Neem twee talente.” En hy het by hom aangedring+ en twee talente silwer in twee sakke toegebind, met twee stelle klere, en dit vir twee van sy dienaars gegee, wat dit voor Gehaʹsi gedra het.

24 Toe hy by Ofel* kom, het hy dit by hulle geneem en dit in die huis neergesit en die manne weggestuur. Nadat hulle weggegaan het, 25 het hy ingegaan en by sy meester gaan staan. Eliʹsa het toe vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan, Gehaʹsi?” Maar hy het gesê: “U kneg het nêrens gegaan nie.”+ 26 Eliʹsa het toe vir hom gesê: “Was my hart nie daar by jou toe die man van sy strydwa afgeklim het en na jou toe gegaan het nie? Is dit die tyd om silwer te aanvaar of om klere of olyfboorde of wingerde of skape of beeste of diensknegte of diensmeisies te aanvaar?+ 27 Nou sal jy en jou nageslag vir ewig ly aan die melaatsheid van Naäman.”+ Gehaʹsi het onmiddellik as ’n melaatse van hom af weggegaan, so wit soos sneeu.+

6 Die seuns van die profete+ het vir Eliʹsa gesê: “Die plek waar ons saam met u woon, is te klein vir ons. 2 Laat ons asseblief na die Jordaanrivier gaan. Laat elkeen van ons ’n stomp daar gaan haal en daar vir ons ’n plek maak om in te woon.” Hy het gesê: “Gaan.” 3 Een van hulle het gesê: “Kom asseblief saam met u knegte.” Hy het gesê: “Goed, ek sal saamkom.” 4 Toe het hy saam met hulle gegaan, en hulle het by die Jordaanrivier aangekom en bome begin afkap. 5 Terwyl een van hulle besig was om ’n boom af te kap, het die bylkop in die water geval. Hy het uitgeroep: “Ag, my meester, dit was ’n geleende byl!” 6 Die man van die ware God het gevra: “Waar het dit geval?” Hy het vir hom die plek gewys. Eliʹsa het toe ’n stuk hout afgekap en dit daar gegooi, en dit het die bylkop laat dryf. 7 Hy het gesê: “Haal dit uit.” Toe het hy sy hand uitgesteek en dit geneem.

8 Die koning van Sirië het teen Israel gaan oorlog voer.+ Hy het met sy knegte vergader en vir hulle gesê waar hulle saam met hom moes kamp opslaan. 9 Die man van die ware God+ het ’n boodskap aan die koning van Israel gestuur en gesê: “Moenie by daardie plek verbygaan nie, want die Siriërs is op pad daarnatoe.” 10 En die koning van Israel het ’n waarskuwing gestuur na die plek wat die man van die ware God genoem het. Eliʹsa het aangehou om die koning te waarsku, en die koning het daardie plekke vermy. Dit het verskeie kere gebeur.+

11 Dit het die koning* van Sirië baie kwaad gemaak, en hy het sy knegte bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Sê vir my: Wie van ons is aan die koning van Israel se kant?” 12 Toe het een van sy knegte gesê: “Nie een van ons nie, my heer die koning! Dit is die profeet Eliʹsa in Israel wat vir die koning van Israel vertel wat u in u slaapkamer sê.”+ 13 Hy het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, sodat ek manne kan stuur om hom te vang.” Later is daar vir hom gesê: “Hy is in Dotan.”+ 14 Hy het dadelik perde en strydwaens en ’n groot leërmag daarheen gestuur. Hulle het in die nag daar aangekom en die stad omsingel.

15 Toe die dienaar van die man van die ware God vroeg opstaan en buitentoe gaan, het hy gesien dat ’n leërmag met perde en strydwaens die stad omsingel. Toe het sy dienaar vir hom gesê: “Ag, my meester! Wat gaan ons doen?” 16 Maar hy het gesê: “Moenie bang wees nie!+ Want daar is meer by ons as wat daar by hulle is.”+ 17 Eliʹsa het toe gebid en gesê: “O Jehovah, maak asseblief sy oë oop sodat hy kan sien.”+ Jehovah het dadelik die dienaar se oë oopgemaak, en hy het gesien dat die bergstreek rondom Eliʹsa+ vol perde en strydwaens van vuur+ was.

18 Toe die Siriërs na hom toe begin kom, het Eliʹsa tot Jehovah gebid en gesê: “Laat hierdie nasie asseblief blind word.”+ Toe het hy hulle blind laat word, net soos Eliʹsa gevra het. 19 Eliʹsa het toe vir hulle gesê: “Dit is nie die pad nie, en dit is nie die stad nie. Volg my, en laat ek julle lei na die man wat julle soek.” Maar hy het hulle na Samariʹa+ gelei.

20 Toe hulle in Samariʹa aankom, het Eliʹsa gesê: “O Jehovah, maak hulle oë oop sodat hulle kan sien.” En Jehovah het hulle oë oopgemaak, en hulle het gesien dat hulle in die middel van Samariʹa is. 21 Toe die koning van Israel hulle sien, het hy vir Eliʹsa gevra: “Moet ek hulle doodmaak? Moet ek hulle doodmaak, my vader?” 22 Maar hy het gesê: “Jy moet hulle nie doodmaak nie. Sou jy dié doodmaak wat jy met jou swaard en met jou boog gevange geneem het? Gee vir hulle kos* en water sodat hulle kan eet en drink+ en na hulle heer toe kan teruggaan.” 23 Toe het hy vir hulle ’n groot feesmaal gehou, en hulle het geëet en gedrink, en daarna het hy hulle na hulle heer toe teruggestuur. En die rowerbendes van die Siriërs+ het nooit weer in die land van Israel ingekom nie.

24 Daarna het Ben-Hadad, die koning van Sirië, sy hele leërmag* bymekaargeroep en Samariʹa+ gaan beleër. 25 Gevolglik het daar ’n groot hongersnood+ in Samariʹa ontstaan. Hulle het dit so lank beleër dat ’n donkie se kop+ later 80 silwerstukke werd was, en ’n kwart kab* duiwemis 5 silwerstukke. 26 Toe die koning van Israel op die muur verbygegaan het, het ’n vrou na hom toe uitgeroep: “Help ons, my heer die koning!” 27 Hy het geantwoord: “As Jehovah jou nie help nie, hoe kan ek jou dan help? Is daar nog enigiets op die dorsvloer of in die wynpers of oliepers?” 28 Die koning het vir haar gevra: “Wat is fout?” Sy het geantwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, en môre sal ons my seun eet.’+ 29 Toe het ons my seun gekook en hom geëet.+ Die volgende dag het ek vir haar gesê: ‘Gee jou seun dat ons hom kan eet.’ Maar sy het haar seun weggesteek.”

30 Toe die koning die vrou se woorde hoor, het hy sy klere geskeur.+ En terwyl hy op die muur verbygegaan het, het die mense gesien dat hy saklinne onder sy klere* dra. 31 Hy het toe gesê: “Mag God my swaar straf* as die kop van Eliʹsa, die seun van Safat, vandag op hom bly!”+

32 Eliʹsa het in sy huis gesit, en die ouermanne het by hom gesit. Die koning het ’n boodskapper voor hom uit gestuur, maar voordat die boodskapper daar aangekom het, het Eliʹsa vir die ouermanne gesê: “Het julle gesien hoe hierdie seun van ’n moordenaar+ beveel het dat my kop afgekap moet word? As julle die boodskapper sien kom, moet julle die deur toemaak, en julle moet die deur toedruk sodat hy nie kan inkom nie. Hoor julle nie die geluid van sy heer se voetstappe kort agter hom nie?” 33 Terwyl hy nog met hulle gepraat het, het die boodskapper na hom toe gekom. Toe het die koning gekom en gesê: “Hierdie rampspoed kom van Jehovah af. Hoekom moet ek nog langer op Jehovah wag?”

7 Eliʹsa het toe gesê: “Luister na die woord van Jehovah. Dít is wat Jehovah sê: ‘Omtrent hierdie tyd môre by die poort* van Samariʹa sal ’n sea* fynmeel ’n sikkel* werd wees en sal twee sea gars ’n sikkel werd wees.’”+ 2 Toe het die offisier op wie die koning staatgemaak het, vir die man van die ware God gevra: “Kan dit werklik gebeur, al maak Jehovah sluise in die hemel oop?”+ Hy het geantwoord: “Jy sal dit met jou eie oë sien,+ maar jy sal nie daarvan eet nie.”+

3 Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort,+ en hulle het vir mekaar gevra: “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan? 4 As ons besluit om in die stad in te gaan, terwyl daar hongersnood in die stad is,+ sal ons daar doodgaan. En as ons hier sit, sal ons in elk geval doodgaan. Kom ons gaan na die kamp van die Siriërs. As hulle ons lewens spaar, sal ons lewe, maar as hulle ons doodmaak, sal ons sterf.” 5 Toe dit daardie aand donker word, het hulle opgestaan en in die kamp van die Siriërs ingegaan. En toe hulle by die rand van die kamp van die Siriërs kom, was daar niemand daar nie.

6 Want Jehovah het die kamp van die Siriërs die geluid van strydwaens, perde en ’n massiewe leërmag laat hoor.+ Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van Egipte gehuur om ons aan te val!” 7 Hulle het dadelik opgestaan en in die skemer gevlug. Hulle het hulle tente, perde, donkies en die hele kamp net so gelos, en hulle het vir hulle lewe* gevlug.

8 Toe die melaatses by die rand van die kamp kom, het hulle in een van die tente ingegaan en begin eet en drink. Hulle het silwer, goud en klere daaruit weggedra en dit gaan wegsteek. Daarna het hulle teruggekeer en in ’n ander tent ingegaan en dinge daaruit weggedra en dit gaan wegsteek.

9 Uiteindelik het hulle vir mekaar gesê: “Wat ons doen, is nie reg nie. Hierdie dag is ’n dag van goeie nuus! As ons wag totdat dit lig word, sal ons verdien om gestraf te word. Kom ons gaan sê vir die koning se huis hiervan.” 10 Toe het hulle gegaan en na die poortwagters van die stad uitgeroep en vir hulle gesê: “Ons het in die kamp van die Siriërs ingegaan, maar daar was niemand daar nie. Ons het niemand gehoor nie. Daar was net perde en vasgemaakte donkies, en die tente is net so gelos.” 11 Die poortwagters het dadelik die nuus verkondig, en die koning se huis het daarvan gehoor.

12 Onmiddellik het die koning in die nag opgestaan en vir sy knegte gesê: “Kom ek sê vir julle wat die Siriërs wil doen. Hulle weet dat ons honger is,+ en daarom het hulle die kamp verlaat om in die veld weg te kruip met die gedagte dat ons uit die stad sal uitgaan en dat hulle ons lewend sal vang en in die stad sal inkom.”+ 13 Toe het een van sy knegte gesê: “Laat ’n paar manne vyf van die perde neem wat in die stad oorgebly het. Hulle sal nie slegter af wees as al die Israeliete wat hier bly nie. Hulle sal ook doodgaan soos al die Israeliete wat reeds doodgegaan het. Kom ons stuur hulle uit om te gaan kyk wat gebeur het.” 14 Toe het hulle twee strydwaens met perde geneem, en die koning het hulle na die kamp van die Siriërs gestuur en gesê: “Gaan kyk.” 15 Hulle het agter die Siriërs aan gegaan tot by die Jordaanrivier, en orals langs die pad het daar klere en voorwerpe gelê wat die Siriërs weggegooi het toe hulle paniekbevange gevlug het. Die boodskappers het teruggekom en die koning daarvan vertel.

16 Daarna het die volk uitgegaan en die kamp van die Siriërs gestroop. ’n Sea fynmeel was toe ’n sikkel werd, en twee sea gars was ’n sikkel werd, net soos Jehovah gesê het.+ 17 Die koning het die offisier op wie hy staatgemaak het, aangestel om toesig te hou oor die poort. Maar die volk het hom by die poort vertrap, en hy het gesterf, net soos die man van die ware God vir die koning gesê het toe hy na hom toe gegaan het. 18 Dit het gebeur net soos die man van die ware God vir die koning gesê het: “Teen hierdie tyd môre by die poort van Samariʹa sal ’n sea fynmeel ’n sikkel werd wees en sal twee sea gars ’n sikkel werd wees.”+ 19 Maar die offisier het vir die man van die ware God gevra: “Kan so iets werklik gebeur, al maak Jehovah sluise in die hemel oop?” Eliʹsa het geantwoord: “Jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.” 20 Dit is presies wat met hom gebeur het, want die volk het hom by die poort vertrap, en hy het gesterf.

8 Eliʹsa het vir die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, gesê:+ “Gaan, jy en jou huisgesin, en gaan woon as ’n uitlander waar jy ook al kan, want Jehovah het aangekondig dat daar ’n hongersnood+ in die land sal wees wat sewe jaar sal duur.” 2 Toe het die vrou gedoen wat die man van die ware God gesê het. Sy het saam met haar huisgesin gegaan en sewe jaar lank in die land van die Filistyne+ gewoon.

3 Ná sewe jaar het die vrou uit die land van die Filistyne teruggekeer en vir die koning gaan vra om haar huis en haar grond vir haar terug te gee. 4 Die koning was besig om met Gehaʹsi, die dienaar van die man van die ware God, te praat en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dinge wat Eliʹsa gedoen het.”+ 5 Terwyl hy vir die koning vertel het hoe Eliʹsa die dooie seun lewend gemaak het,+ het die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, na die koning gekom en hom gevra om haar huis en haar grond vir haar terug te gee.+ Gehaʹsi het dadelik gesê: “My heer die koning, dít is die vrou, en dít is haar seun wat Eliʹsa lewend gemaak het.” 6 Toe het die koning die vrou uitgevra, en sy het hom vertel wat gebeur het. Die koning het ’n hofbeampte aangestel om haar te help en vir hom gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, sowel as die volle waarde van die opbrengs van haar grond van die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.”

7 Eliʹsa het in Damaskus+ aangekom toe Ben-Hadad,+ die koning van Sirië, siek was. En daar is vir hom gesê: “Die man van die ware God+ is hier.” 8 Die koning het vir Haʹsael+ gesê: “Neem ’n geskenk saam en gaan na die man van die ware God.+ Vra Jehovah deur middel van hom of ek van hierdie siekte sal herstel.” 9 Haʹsael het na hom toe gegaan en het allerhande goeie dinge van Damaskus, soveel as wat 40 kamele kon dra, as ’n geskenk saamgeneem. Hy het voor hom gaan staan en gesê: “U seun, Ben-Hadad, die koning van Sirië, het my na u toe gestuur om te vra: ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’” 10 Eliʹsa het hom geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal beslis herstel,’ maar Jehovah het aan my geopenbaar dat hy beslis sal sterf.”+ 11 En Eliʹsa het hom só lank aangestaar dat hy skaam geword het. Toe het die man van die ware God begin huil. 12 Haʹsael het gevra: “Hoekom huil my heer?” Hy het geantwoord: “Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy aan die Israeliete gaan doen.+ Jy gaan hulle versterkte stede aan die brand steek, hulle beste manne met die swaard doodmaak, hulle kinders doodslaan en hulle swanger vrouens oopsny.”+ 13 Haʹsael het gevra: “Hoe kan u kneg, wat ’n blote hond is, so iets doen?” Maar Eliʹsa het gesê: “Jehovah het aan my geopenbaar dat jy koning oor Sirië sal wees.”+

14 Daarna het hy van Eliʹsa af weggegaan en na sy heer teruggegaan, wat vir hom gevra het: “Wat het Eliʹsa vir jou gesê?” Hy het geantwoord: “Hy het vir my gesê dat u beslis sal herstel.”+ 15 Maar Haʹsael het die volgende dag ’n kombers geneem en dit in water gesit en dit oor sy gesig gehou totdat hy gesterf het.+ En Haʹsael het in sy plek koning geword.+

16 In die vyfde jaar van Joram,+ die seun van koning Agab van Israel, terwyl Joʹsafat koning van Juda was, het Joram,+ die seun van koning Joʹsafat van Juda, koning geword. 17 Hy was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer. 18 Hy het dieselfde weg gevolg as die konings van Israel,+ net soos die huis van Agab gedoen het,+ want hy het met Agab se dogter getrou.+ En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë.+ 19 Maar ter wille van sy kneg Dawid wou Jehovah Juda nie vernietig nie,+ want hy het belowe dat hy vir hom en sy seuns altyd ’n lamp* sou gee.+

20 In sy dae het Edom teen Juda+ in opstand gekom en hulle eie koning aangestel.+ 21 Daarom het Joram met al sy strydwaens na Saïr gegaan, en in die nag het hy die Edomiete wat hom en die bevelvoerders van die strydwaens omsingel het, aangeval en verslaan. En die soldate het na hulle tente gevlug. 22 Maar die Edomiete het volgehou met hulle opstand teen Juda tot vandag toe. In daardie tyd het Libna+ ook in opstand gekom.

23 Die res van die geskiedenis van Joram, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 24 Joram het gesterf,* en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe.+ En sy seun Ahaʹsia+ het in sy plek koning geword.

25 In die 12de jaar van Joram, die seun van koning Agab van Israel, het Ahaʹsia, die seun van koning Joram van Juda, koning geword.+ 26 Ahaʹsia was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Ataʹlia,+ die kleindogter* van koning Omri+ van Israel. 27 Hy het dieselfde weg gevolg as die huis van Agab+ en het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos die huis van Agab, want hy was aangetroude familie van die huis van Agab.+ 28 Hy het saam met Joram, die seun van Agab, na Raʹmot-Giʹlead+ gegaan om oorlog te voer teen koning Haʹsael van Sirië, maar die Siriërs het Joram gewond.+ 29 Daarom het koning Joram na Jisʹreël+ teruggegaan om van sy wonde te herstel nadat hy in Rama deur die Siriërs gewond is toe hy teen koning Haʹsael van Sirië geveg het.+ Ahaʹsia, die seun van Joram, die koning van Juda, het na Jisʹreël gegaan om Joram, die seun van Agab, te besoek omdat hy gewond* was.

9 Die profeet Eliʹsa het toe een van die seuns van die profete geroep en vir hom gesê: “Bind jou klere om jou heupe vas en neem hierdie fles olie saam en gaan gou na Raʹmot-Giʹlead.+ 2 Wanneer jy daar aankom, moet jy na Jehu,+ die seun van Joʹsafat, die seun van Nimsi, soek. Gaan in en neem hom na die binneste vertrek, weg van sy broers af. 3 Neem dan die fles olie en gooi dit op sy kop uit en sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek salf jou as koning oor Israel.”’+ Dan moet jy die deur oopmaak en dadelik vlug.”

4 Toe het die profeet se dienaar na Raʹmot-Giʹlead gegaan. 5 Toe hy daar aankom, het die hoofde van die leërmag daar gesit. Hy het gesê: “Ek het ’n boodskap vir u, o hoofman.” Jehu het gevra: “Vir watter een van ons?” Hy het gesê: “Vir u, o hoofman.” 6 Jehu het toe opgestaan en in die huis ingegaan. Die dienaar het die olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor Jehovah se volk, oor Israel.+ 7 Jy moet die huis van jou heer Agab uitroei, en ek sal die bloed wreek van my knegte, die profete, en van al die knegte van Jehovah wat deur Iseʹbel+ doodgemaak is. 8 En die hele huis van Agab sal doodgemaak word. Ek sal almal wat manlik is* uit die huis van Agab uitroei, insluitende die hulpeloses en die swakkes in Israel.+ 9 En ek sal die huis van Agab maak soos die huis van Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, en soos die huis van Baäsa,+ die seun van Ahiʹa. 10 En wat Iseʹbel betref, die honde sal haar opeet op die stuk grond in Jisʹreël,+ en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het hy die deur oopgemaak en gevlug.+

11 Toe Jehu na die knegte van sy heer teruggegaan het, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?” Hy het geantwoord: “Julle weet mos hoe daardie manne is en hoe hulle praat.” 12 Maar hulle het gesê: “Nee! Vertel ons asseblief die waarheid.” Toe het hy gesê: “Hy het dit en dat gesê en toe sê hy: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek salf jou as koning oor Israel.”’”+ 13 Elkeen van hulle het toe dadelik sy kleed geneem en dit voor Jehu op die trappe neergesit,+ en hulle het op die horing geblaas en gesê: “Jehu het koning geword!”+ 14 Daarna het Jehu,+ die seun van Joʹsafat, die seun van Nimsi, teen Joram saamgesweer.

Joram en die hele Israel het by Raʹmot-Giʹlead+ wag gehou weens koning Haʹsael+ van Sirië. 15 Koning Joram het later na Jisʹreël+ teruggegaan om van die wonde te herstel wat hy opgedoen het in die geveg teen die Siriërs toe hy teen koning Haʹsael van Sirië+ geveg het.

Jehu het toe gesê: “As julle aan my kant is, moet julle niemand uit die stad laat ontsnap om in Jisʹreël te gaan vertel wat gebeur het nie.” 16 Daarna het Jehu met sy strydwa na Jisʹreël gegaan, want Joram het daar gelê as gevolg van sy wonde, en koning Ahaʹsia van Juda het afgegaan om Joram te besoek. 17 Terwyl die wag op die toring in Jisʹreël gestaan het, het hy Jehu se manne sien aankom. Hy het dadelik gesê: “Ek sien ’n groot groep manne wat aankom.” Joram het gesê: “Stuur ’n perderuiter na hulle toe, en laat hom vra: ‘Kom julle in vrede?’” 18 Toe het ’n perderuiter na hom gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.” Maar Jehu het gesê: “Hoe kan jy van ‘vrede’ praat? Ry agter my aan!”

Die wag het toe gesê: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy het nie teruggekom nie.” 19 Daarna het Joram ’n tweede perderuiter uitgestuur. Toe hy by hulle kom, het hy gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.” Maar Jehu het gesê: “Hoe kan jy van ‘vrede’ praat? Ry agter my aan!”

20 Die wag het toe gesê: “Hy het tot by hulle gekom, maar hy het nie teruggekom nie, en dit lyk asof dit Jehu, die kleinseun* van Nimsi, is wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens.” 21 Joram het gesê: “Kry my strydwa gereed!” Toe het hulle sy strydwa gereed gekry, en koning Joram van Israel en koning Ahaʹsia+ van Juda het elkeen in sy eie strydwa na Jehu uitgegaan. Hulle het hom op die stuk grond van Nabot,+ die Jisreëliet, ontmoet.

22 Toe Joram Jehu sien, het hy gevra: “Kom jy in vrede, Jehu?” Maar hy het gesê: “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma, Iseʹbel,+ voortgaan om prostitusie en towery te beoefen?”+ 23 Joram het sy strydwa dadelik omgedraai om te vlug, en hy het vir Ahaʹsia gesê: “Ahaʹsia, dit is ’n lokval!” 24 Jehu het sy boog geneem en Joram tussen die skouers geskiet, en die pyl het by sy hart uitgekom, en hy het in sy strydwa inmekaargesak. 25 Hy het toe vir Bidkar, die offisier wat by hom was, gesê: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet.+ Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, gery het? Toe het Jehovah hierdie oordeel teen hom uitgespreek:+ 26 ‘“So seker as wat ek gister die bloed van Nabot+ en die bloed van sy seuns gesien het,” sê Jehovah, “so seker sal ek op jou wraak neem+ op hierdie stuk grond,” sê Jehovah.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond, soos Jehovah gesê het.”+

27 Toe koning Ahaʹsia+ van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van die tuinhuis gevlug. (Later het Jehu hom agternagesit en gesê: “Maak hom ook dood!” Hulle het hom toe in die strydwa gewond toe hy op pad was na Gur, wat by Jibʹleam+ is. Maar hy het na Megidʹdo gevlug en daar gesterf. 28 Toe het sy knegte hom in ’n strydwa na Jerusalem geneem, en hulle het hom in sy graf by sy voorvaders in die Stad van Dawid+ begrawe. 29 Dit was in die 11de jaar van Joram, die seun van Agab, dat Ahaʹsia+ koning oor Juda geword het.)

30 Toe Jehu by Jisʹreël+ aankom, het Iseʹbel+ daarvan gehoor. En sy het haar oë met swart verf* geverf en haar kop versier en deur die venster afgekyk. 31 Toe Jehu by die poort inkom, het sy gevra: “Het dit goed gegaan met Simri, wat sy heer vermoor het?”+ 32 Hy het na die venster opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?”+ Onmiddellik het twee of drie hofbeamptes na hom toe afgekyk. 33 Hy het gesê: “Gooi haar af!” Toe het hulle haar afgegooi, en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hy het haar met sy perde vertrap. 34 Daarna het hy ingegaan en geëet en gedrink. Toe het hy gesê: “Neem hierdie vervloekte vrou asseblief en begrawe haar. Sy is darem die dogter van ’n koning.”+ 35 Maar toe hulle gaan om haar te begrawe, het hulle niks gevind nie behalwe haar skedel en haar voete en haar handpalms.+ 36 Toe hulle teruggaan en hom hiervan vertel, het hy gesê: “Dit vervul wat Jehovah+ deur middel van sy kneg Eliʹa, die Tisbiet, gesê het: ‘Op die stuk grond in Jisʹreël sal die honde Iseʹbel+ opeet. 37 En die lyk van Iseʹbel sal op die stuk grond in Jisʹreël soos mis op die oppervlak van die veld word, sodat hulle nie sal kan sê: “Dit is Iseʹbel” nie.’”

10 Agab+ het 70 seuns in Samariʹa gehad. Daarom het Jehu briewe geskryf en dit na Samariʹa gestuur, aan die leiers van Jisʹreël, die ouermanne+ en die oppassers van Agab se kinders.* Dit het gesê: 2 “Julle het die seuns van julle heer daar by julle, sowel as strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Wanneer julle hierdie brief kry, 3 moet julle die beste en bekwaamste* seun van julle heer kies en hom op die troon van sy vader sit. Dan moet julle veg vir die huis van julle heer.”

4 Maar hulle het baie bang geword en gesê: “As twee konings nie voor hom staande kon bly nie,+ hoe sal ons dan staande kan bly?” 5 Toe het die opsiener van die paleis, die goewerneur van die stad, die ouermanne en die oppassers hierdie boodskap aan Jehu gestuur: “Ons is u knegte, en ons sal alles doen wat u vir ons sê. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat ook al goed is in u oë.”

6 Daarna het hy ’n tweede brief aan hulle geskryf en gesê: “As julle aan my behoort en aan my gehoorsaam wil wees, moet julle die koppe van die seuns van julle heer môre hierdie tyd na my toe bring in Jisʹreël.”

En die 70 seuns van die koning was by die vooraanstaande manne van die stad wat hulle grootgemaak het. 7 Toe hulle die brief kry, het hulle die seuns van die koning geneem en hulle doodgemaak, 70 manne,+ en hulle het hulle koppe in mandjies gesit en dit na hom in Jisʹreël gestuur. 8 Die boodskapper het ingegaan en vir hom gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” En hy het gesê: “Sit dit in twee hope by die ingang van die stadspoort tot die oggend toe.” 9 Hy het in die oggend uitgegaan en voor die hele volk gaan staan en gesê: “Julle is onskuldig.* Ek het teen my heer saamgesweer, en ek het hom doodgemaak.+ Maar wie het al hierdie manne doodgemaak? 10 Wees verseker dat nie een van Jehovah se woorde wat Jehovah teen die huis van Agab gespreek het, onvervuld sal bly* nie.+ Jehovah het gedoen wat hy deur middel van sy kneg Eliʹa gesê het.”+ 11 En Jehu het almal doodgemaak wat van die huis van Agab in Jisʹreël oorgebly het, sowel as al sy vooraanstaande manne, sy vriende en sy priesters,+ totdat daar niemand van sy huis oorgebly het nie.+

12 Toe het hy na Samariʹa gegaan. En hy het by die bindhuis* van die herders verbygegaan. 13 Daar het Jehu die broers van koning Ahaʹsia+ van Juda teëgekom en vir hulle gevra: “Wie is julle?” Hulle het geantwoord: “Ons is die broers van Ahaʹsia, en ons is op pad om te gaan vra of dit goed gaan met die seuns van die koning en die seuns van die koningin-moeder.”* 14 Hy het onmiddellik gesê: “Vang hulle!” Toe het hulle hulle gevang en by die reënput van die bindhuis doodgemaak, 42 manne. Hy het nie een van hulle laat oorbly nie.+

15 Toe hy verder gaan, het hy Joʹnadab,+ die seun van Regab,+ teëgekom wat op pad was na hom toe. Toe hy hom groet,* het hy vir hom gevra: “Is jy met jou hele hart lojaal aan my, net soos ek met my hele hart lojaal is aan jou?”

Joʹnadab het geantwoord: “Ja, ek is.”

“As dit die geval is, gee my jou hand.”

Hy het hom sy hand gegee, en Jehu het hom gehelp om op sy strydwa te klim. 16 Toe het hy gesê: “Kom saam met my. Dan sal jy sien dat ek geen teenstand teen Jehovah duld nie.”*+ En Jehu het hom op sy strydwa laat ry. 17 Toe Jehu in Samariʹa aankom, het hy almal doodgemaak wat van die huis van Agab in Samariʹa oorgebly het.+ Hy het hulle uitgeroei, net soos Jehovah vir Eliʹa gesê het.+

18 Daarna het Jehu die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Agab het Baäl aanbid.+ Maar dit sal niks wees in vergelyking met hoe Jehu hom sal aanbid nie. 19 Roep dus al die profete van Baäl,+ al sy aanbidders en al sy priesters+ na my toe. Maak seker dat almal kom, want ek wil ’n groot offerande aan Baäl offer. Elkeen wat nie daar is nie, sal doodgemaak word.” Maar Jehu het slinks opgetree om die aanbidders van Baäl te vernietig.

20 Jehu het verder gesê: “Kondig* ’n heilige vergadering vir Baäl aan.” Toe het hulle dit gedoen. 21 Daarna het Jehu ’n boodskap deur die hele Israel gestuur, en al die aanbidders van Baäl het gekom. Daar was nie een wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl+ ingegaan, en die tempel van Baäl was vol van hoek tot kant. 22 Hy het vir die een wat oor die klerekamer was, gesê: “Bring klere uit vir al die aanbidders van Baäl.” Toe het hy die klere vir hulle uitgebring. 23 Jehu en Joʹnadab,+ die seun van Regab, het in die tempel van Baäl ingegaan. En hy het vir die aanbidders van Baäl gesê: “Maak seker dat daar geen aanbidders van Jehovah hier is nie, maar net aanbidders van Baäl.” 24 Uiteindelik het hulle ingegaan om offerandes en brandoffers te offer. Jehu het 80 van sy manne buite laat staan en gesê: “As enigiemand enige van die manne laat ontsnap wat ek aan julle oorlewer, sal hy met sy lewe betaal.”

25 Onmiddellik nadat hy die brandoffer geoffer het, het Jehu vir die wagte* en die offisiere gesê: “Kom in en maak hulle dood! Maak seker dat nie een ontsnap nie!”+ Toe het die wagte en die offisiere hulle met die swaard doodgemaak en hulle uitgegooi, en hulle het tot by die binneste heiligdom* van die tempel van Baäl gegaan. 26 Toe het hulle die heilige pilare+ van die tempel van Baäl uitgebring en dit verbrand.+ 27 Hulle het die heilige pilaar+ van Baäl afgebreek. Hulle het ook die tempel van Baäl+ afgebreek en openbare toilette daarvan gemaak, en dit is vandag nog so.

28 So het Jehu Baälaanbidding uit Israel uitgeroei. 29 Maar Jehu het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie, naamlik die aanbidding van die goue kalwers in Bet-El en in Dan.+ 30 Jehovah het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë deur alles uit te voer wat in my hart was in verband met die huis van Agab,+ sal vier geslagte van jou seuns op die troon van Israel sit.”+ 31 Maar Jehu het nie die Wet van Jehovah, die God van Israel, met sy hele hart gevolg nie.+ Hy het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam Israel laat pleeg het nie.+

32 In daardie dae het Jehovah Israel stuk vir stuk begin afsny.* Haʹsael het verskeie dele van Israel bly aanval+ 33 in die gebied oos van die Jordaanrivier: die hele land Giʹlead – die gebiede van die Gadiete, die Rubeniete en die Manassiete+ – van Aʹroër af, wat langs die Arnon-vallei* is, tot by Giʹlead en Basan.+

34 En wat die res van die geskiedenis van Jehu betref, alles wat hy gedoen het en al sy magtige dade, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 35 Jehu het gesterf,* en hulle het hom in Samariʹa begrawe. En sy seun Joʹahas+ het in sy plek koning geword. 36 Jehu het 28 jaar lank in Samariʹa oor Israel regeer.

11 Toe Ataʹlia,+ Ahaʹsia se ma, sien dat haar seun dood is,+ het sy besluit om die hele koninklike geslagslyn* uit te roei.+ 2 Maar Joseʹba, die dogter van koning Joram, die suster van Ahaʹsia, het Joas,+ Ahaʹsia se seun, weggevat tussen die seuns van die koning wat doodgemaak sou word, en sy het hom en sy oppasser in ’n binneste slaapkamer gehou. Hulle het dit reggekry om hom vir Ataʹlia weg te steek, en daarom is hy nie doodgemaak nie. 3 Hy is ses jaar lank by haar in die huis van Jehovah weggesteek, terwyl Ataʹlia oor die land regeer het.

4 In die sewende jaar het Jojaʹda die hoofde oor 100 van die Kariese lyfwag en van die paleiswagte*+ laat roep om na hom toe te kom by die huis van Jehovah. Hy het ’n verbond met hulle gemaak en hulle in die huis van Jehovah laat sweer dat hulle daarby sal bly, en daarna het hy vir hulle die koning se seun gewys.+ 5 Hy het vir hulle gesê: “Dít is wat julle moet doen: ’n Derde van julle moet op die Sabbat aan diens wees en moet wag hou oor die koning se paleis,+ 6 ’n derde moet by die Fondamentpoort staan en ’n derde moet by die poort agter die paleiswagte staan. Julle moet beurte neem om oor die huis wag te hou. 7 Die twee afdelings wat veronderstel is om op die Sabbat van diens af te wees, moet wag hou oor die huis van Jehovah om die koning te beskerm. 8 Julle moet die koning omring, elkeen met sy wapens in sy hand. Enigiemand wat deur die rye soldate probeer kom, moet doodgemaak word. Bly by die koning waar hy ook al gaan.”*

9 Die hoofde oor 100+ het presies gedoen wat die priester Jojaʹda beveel het. Elkeen het sy manne bymekaargeroep – dié wat op die Sabbat aan diens was, sowel as dié wat nie op die Sabbat aan diens was nie – en hulle het na die priester Jojaʹda+ gegaan. 10 Die priester het toe vir die hoofde oor 100 die spiese en die ronde skilde gegee wat aan koning Dawid behoort het en wat in die huis van Jehovah was. 11 En die paleiswagte+ het hulle plekke reg rondom die koning, naby die altaar+ en die huis, ingeneem. Hulle het met hulle wapens in hulle hande gestaan, van die regterkant van die huis af tot by die linkerkant van die huis. 12 Toe het Jojaʹda die koning se seun+ uitgebring en die kroon en die Getuienis*+ op hom gesit, en hulle het hom koning gemaak en hom gesalf. Hulle het begin hande klap en gesê: “Lank lewe die koning!”+

13 Toe Ataʹlia die mense hoor hardloop, het sy dadelik na die mense toe gegaan by die huis van Jehovah.+ 14 Sy het die koning by die pilaar sien staan, soos dit die gebruik was.+ En die hoofde en die trompetblasers+ was by die koning, en al die mense van die land was vreugdevol en het op die trompette geblaas. Ataʹlia het toe haar klere geskeur en uitgeroep: “’n Sameswering! ’n Sameswering!” 15 Maar die priester Jojaʹda het vir die hoofde oor 100,+ dié wat oor die leërmag aangestel was, gesê: “Neem haar tussen die rye soldate uit, en maak enigeen wat haar volg, met die swaard dood! Moet haar nie in die huis van Jehovah doodmaak nie.” 16 Hulle het haar gegryp, en toe hulle by die plek kom waar die perde by die koning se paleis+ ingaan, het hulle haar daar doodgemaak.

17 Toe het Jojaʹda ’n verbond gemaak tussen Jehovah en die koning en die volk.+ Hulle het belowe dat hulle sal voortgaan om die volk van Jehovah te wees. Hy het ook ’n verbond gemaak tussen die koning en die volk.+ 18 Daarna het die hele volk* na die tempel van Baäl gegaan en sy altare afgebreek,+ sy beelde heeltemal stukkend geslaan+ en Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.+

Toe het die priester opsieners oor die huis van Jehovah aangestel.+ 19 Hy het ook die hoofde oor 100,+ die Kariese lyfwag, die paleiswagte+ en die hele volk gekry om die koning van die huis van Jehovah af deur die poort van die paleiswagte na die koning se paleis te neem. Hy het toe op die troon van die konings gaan sit.+ 20 Al die mense van die land was bly en daar was vrede in die stad, want hulle het Ataʹlia by die koning se paleis met die swaard doodgemaak.

21 Joas+ was sewe jaar oud toe hy koning geword het.+

12 In die sewende jaar van Jehu+ het Joas+ koning geword, en hy het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibʹja van Berseʹba.+ 2 Terwyl die priester Jojaʹda Joas onderrig het, het Joas bly doen wat reg is in Jehovah se oë. 3 Maar die offerhoogtes+ is nie verwyder nie, en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.

4 Joas het vir die priesters gesê: “Neem al die geld vir die heilige offers+ wat na die huis van Jehovah gebring word: die vasgestelde bedrag wat elkeen moet betaal,+ die geld wat gegee word as die vasgestelde waarde van ’n persoon en al die geld wat elkeen se hart hom beweeg om na die huis van Jehovah te bring.+ 5 Die priesters moet dit self by die skenkers* neem en dit gebruik om die huis te herstel, waar daar ook al skade* is.”+

6 Teen die 23ste jaar van koning Joas het die priesters nog nie die skade aan die huis herstel nie.+ 7 Daarom het koning Joas die priester Jojaʹda+ en die ander priesters geroep en vir hulle gesê: “Hoekom herstel julle nie die huis nie? Moenie nog geld van die skenkers neem tensy julle dit gaan gebruik om die huis te herstel nie.”+ 8 Die priesters het toe ingestem om nie meer geld van die volk te neem nie en om nie verantwoordelik te wees vir die herstelwerk aan die huis nie.

9 Daarna het die priester Jojaʹda ’n kis geneem+ en ’n gat in die deksel daarvan geboor en dit langs die altaar gesit, aan die regterkant as ’n mens in die huis van Jehovah inkom. Die priesters wat as deurwagters gedien het, het al die geld wat in die huis van Jehovah ingebring is, daarin gegooi.+ 10 Wanneer hulle gesien het dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester die geld wat na die huis van Jehovah gebring is, kom haal* en dit getel.+ 11 Hulle het die geld wat getel is, gegee aan dié wat aangestel was om toesig te hou oor die werk by die huis van Jehovah. Hulle het dan die houtwerkers en die bouers wat aan die huis van Jehovah gewerk het, daarmee betaal,+ 12 sowel as die messelaars en die klipkappers. Verder het hulle balke en gekapte klippe gekoop om die huis van Jehovah te herstel, en hulle het die geld ook gebruik vir die ander uitgawes in verband met die herstelwerk aan die huis.

13 Maar die geld wat na die huis van Jehovah gebring is, is nie gebruik om silwerkomme, blussers, bakke, trompette+ of enige ander voorwerp van goud of silwer vir die huis van Jehovah te maak nie.+ 14 Hulle het dit net gegee aan dié wat die werk gedoen het, en hulle het die huis van Jehovah daarmee herstel. 15 Hulle het nie verwag dat die manne wat die geld ontvang het om aan die werkers te gee, verslag oor die geld moes doen nie, want hulle was betroubaar.+ 16 Maar die geld vir skuldoffers+ en die geld vir sonde-offers is nie na die huis van Jehovah gebring nie. Dit het aan die priesters behoort.+

17 In daardie tyd het Haʹsael,+ die koning van Sirië, teen Gat+ gaan veg en dit ingeneem, en daarna het hy besluit om Jerusalem aan te val.+ 18 Toe het koning Joas van Juda al die heilige offers geneem wat sy voorvaders Joʹsafat, Joram en Ahaʹsia, die konings van Juda, geheilig het, sowel as sy eie heilige offers en al die goud wat in die skatkamers van die huis van Jehovah en die koning se paleis gevind kon word, en dit na Haʹsael, die koning van Sirië, gestuur.+ Toe het hy van Jerusalem af weggetrek.

19 Die res van die geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 20 Joas se knegte het teen hom saamgesweer+ en het hom doodgemaak by die huis van die Wal,*+ op die pad wat na Silla afgaan. 21 Sy knegte Joʹsakar, die seun van Siʹmeat, en Joʹsabad, die seun van Somer, het hom doodgemaak.+ Hulle het hom by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe, en sy seun Amaʹsia het in sy plek koning geword.+

13 Joʹahas, die seun van Jehu,+ het in Samariʹa koning oor Israel geword in die 23ste jaar van Joas,+ die seun van Ahaʹsia,+ die koning van Juda, en hy het 17 jaar lank regeer. 2 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë en hy het aangehou met die sonde wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het.+ Hy het nie daarvan afgewyk nie. 3 Daarom het Jehovah baie kwaad geword+ vir Israel,+ en hy het hulle in die hand gegee van koning Haʹsael+ van Sirië en in die hand van Ben-Hadad,+ die seun van Haʹsael, al hulle dae.

4 Ná verloop van tyd het Joʹahas Jehovah om genade gesmeek,* en Jehovah het na hom geluister, want hy het gesien hoe die koning van Sirië Israel onderdruk.+ 5 Jehovah het toe vir Israel ’n redder voorsien+ om hulle uit Sirië se greep te bevry. En die Israeliete kon toe weer in hulle huise woon soos voorheen.* 6 (Maar hulle het nie afgewyk van die sonde wat die huis van Jeroʹbeam Israel laat pleeg het nie.+ Hulle het aangehou om hierdie sondes te pleeg,* en die heilige paal*+ het in Samariʹa bly staan.) 7 Joʹahas het net 50 perderuiters, 10 strydwaens en 10 000 voetsoldate in sy leërmag oorgehad, want die koning van Sirië het hulle vernietig+ en hulle vertrap soos die stof op ’n dorsvloer.+

8 Wat die res van die geskiedenis van Joʹahas betref, alles wat hy gedoen het en sy magtige dade, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 9 Joʹahas het gesterf,* en hy is in Samariʹa by sy voorvaders begrawe.+ En sy seun Joas het in sy plek koning geword.

10 In die 37ste jaar van koning Joas van Juda het Joas,+ die seun van Joʹahas, in Samariʹa koning oor Israel geword, en hy het 16 jaar lank regeer. 11 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë en het nie afgewyk van al die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie.+ Hy het aangehou om hierdie sondes te pleeg.*

12 Wat die res van die geskiedenis van Joas betref, alles wat hy gedoen het en sy magtige dade en hoe hy teen koning Amaʹsia van Juda geveg het,+ dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 13 Joas het gesterf,* en Jeroʹbeam*+ het op sy troon gaan sit. En Joas is in Samariʹa by die konings van Israel begrawe.+

14 Wat Eliʹsa+ betref, hy het siek geword – ’n siekte waaraan hy uiteindelik gesterf het – en Joas, die koning van Israel, het na hom toe gegaan en oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader! Die strydwa van Israel en sy perderuiters!”+ 15 Eliʹsa het toe vir hom gesê: “Neem ’n boog en pyle.” En hy het ’n boog en pyle geneem. 16 Hy het vir die koning van Israel gesê: “Maak gereed om te skiet.” Toe het hy gereedgemaak om te skiet, en Eliʹsa het sy hande op die koning se hande gesit. 17 Toe het hy gesê: “Maak die venster aan die oostekant oop.” En hy het dit oopgemaak. Eliʹsa het gesê: “Skiet!” En hy het geskiet. Hy het toe gesê: “Jehovah se pyl van oorwinning,* die pyl van oorwinning oor* Sirië! Jy sal Sirië heeltemal verslaan by Afek.”+

18 Hy het verder gesê: “Neem die pyle,” en hy het dit geneem. Toe het hy vir die koning van Israel gesê: “Slaan teen die grond.” En hy het die grond drie keer geslaan en opgehou. 19 Die man van die ware God het toe vir hom kwaad geword en gesê: “Jy moes die grond vyf of ses keer geslaan het! Dan sou jy Sirië heeltemal verslaan het, maar nou sal jy Sirië net drie keer verslaan.”+

20 Daarna het Eliʹsa gesterf en is hy begrawe. En daar was Moabitiese rowerbendes+ wat gereeld aan die begin van die jaar* in die land ingekom het. 21 Op ’n dag was ’n paar manne besig om ’n man te begrawe, en hulle het ’n rowerbende sien aankom. Hulle het die man toe in Eliʹsa se graf gegooi en weggehardloop. Toe die man aan die beendere van Eliʹsa raak, het hy lewend geword+ en op sy voete gaan staan.

22 Koning Haʹsael+ van Sirië het Israel al die dae van Joʹahas onderdruk.+ 23 Maar Jehovah was goed en genadig teenoor hulle+ en het sy besorgdheid oor hulle betoon ter wille van sy verbond met Abraham,+ Isak+ en Jakob.+ Hy wou hulle nie vernietig nie, en hy het hulle tot vandag toe nie verwerp nie. 24 Toe koning Haʹsael van Sirië gesterf het, het sy seun Ben-Hadad in sy plek koning geword. 25 Joas, die seun van Joʹahas, het die stede teruggeneem wat Ben-Hadad, die seun van Haʹsael, in die oorlog van sy pa, Joʹahas, geneem het. Joas het hom drie keer verslaan,+ en hy het die stede van Israel teruggeneem.

14 Amaʹsia, die seun van koning Joas+ van Juda, het koning geword in die tweede jaar van Joas, die seun van Joʹahas, die koning van Israel. 2 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Joʹaddin van Jerusalem.+ 3 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë, maar nie soos sy voorvader Dawid nie.+ Hy het alles gedoen wat sy pa, Joas, gedoen het.+ 4 Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie,+ en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.+ 5 Toe hy ten volle in beheer was van die koninkryk, het hy sy knegte doodgemaak wat sy pa, die koning, vermoor het.+ 6 Maar hy het nie die kinders van die moordenaars doodgemaak nie, want hy het gebly by Jehovah se bevel wat in die Wetboek van Moses geskryf staan: “Vaders mag nie vir die sonde van hulle kinders doodgemaak word nie, en kinders mag nie vir die sonde van hulle vaders doodgemaak word nie. Elkeen moet vir sy eie sonde doodgemaak word.”+ 7 Hy het die Edomiete+ in die Soutvallei verslaan,+ 10 000 manne, en hy het Sela in die oorlog verower,+ en van toe af is dit Jokʹteël genoem, soos dit vandag nog bekend staan.

8 Toe het Amaʹsia boodskappers gestuur na koning Joas van Israel, die seun van Joʹahas, die seun van Jehu, en gesê: “Kom, laat ons teen mekaar veg.”+ 9 Koning Joas van Israel het hierdie boodskap aan koning Amaʹsia van Juda gestuur: “Die doringrige onkruid in die Liʹbanon-berge het ’n boodskap aan die sederboom in die Liʹbanon-berge gestuur en gesê: ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Maar ’n wilde dier van die Liʹbanon het verbygeloop en die doringrige onkruid vertrap. 10 Ja, jy het Edom verslaan,+ en nou het jy hoogmoedig geword. Geniet jou eer, maar bly in jou eie paleis. Hoekom moet jy moeilikheid soek en Juda saam met jou laat val?” 11 Maar Amaʹsia het nie geluister nie.+

Toe het koning Joas van Israel teen koning Amaʹsia van Juda opgetrek, en hulle het teen mekaar geveg by Bet-Semes+ in Juda.+ 12 Juda is deur Israel verslaan, en elkeen het na sy huis* gevlug. 13 Koning Joas van Israel het koning Amaʹsia van Juda, die seun van Joas, die seun van Ahaʹsia, by Bet-Semes gevange geneem. Daarna het hulle na Jerusalem gegaan, en hy het 400 el* van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Eʹfraim-poort+ af tot by die Hoekpoort.+ 14 Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe geneem wat in die huis van Jehovah en in die skatkamers van die koning se paleis was. Hy het ook gyselaars geneem, en toe het hy na Samariʹa teruggekeer.

15 Wat die res van die geskiedenis van Joas betref, wat hy gedoen het en sy magtige dade en hoe hy teen koning Amaʹsia van Juda geveg het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 16 Joas het gesterf,* en hy is in Samariʹa by die konings van Israel begrawe.+ En sy seun Jeroʹbeam*+ het in sy plek koning geword.

17 Amaʹsia,+ die seun van koning Joas van Juda, het nog 15 jaar gelewe ná die dood van Joas,+ die seun van koning Joʹahas van Israel.+ 18 Die res van die geskiedenis van Amaʹsia is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 19 Later het manne in Jerusalem teen hom saamgesweer.+ Hy het na Lagis gevlug, maar hulle het manne agter hom aan gestuur en hom in Lagis doodgemaak. 20 Toe het hulle hom op perde teruggeneem, en hy is in Jerusalem by sy voorvaders in die stad van Dawid begrawe.+ 21 Daarna het die hele volk van Juda Asarʹja,*+ wat toe 16 jaar oud was,+ koning gemaak in die plek van sy pa, Amaʹsia.+ 22 Hy het Elat+ herbou en dit vir Juda teruggekry nadat die koning* gesterf het.*+

23 In die 15de jaar van Amaʹsia, die seun van Joas, die koning van Juda, het Jeroʹbeam,+ die seun van koning Joas van Israel, in Samariʹa koning geword, en hy het 41 jaar lank regeer. 24 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë. Hy het nie afgewyk van al die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie.+ 25 Hy het die oorspronklike grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat*+ af tot by die See van die Aʹraba,*+ in ooreenstemming met wat Jehovah, die God van Israel, gesê het deur middel van sy kneg Jona,+ die seun van Amitʹtai, die profeet wat van Gat-Hefer+ was. 26 Want Jehovah het gesien dat Israel bitter swaarkry.+ Daar was niemand oor wat Israel kon help nie, nie eers ’n hulpelose of ’n swakke nie. 27 Maar Jehovah het belowe om nie die naam van Israel onder die hemel uit te wis nie.+ Daarom het hy hulle deur die hand van Jeroʹbeam, die seun van Joas, gered.+

28 Wat die res van die geskiedenis van Jeroʹbeam betref, alles wat hy gedoen het en sy magtige dade, hoe hy geveg het en hoe hy Damaskus+ en Hamat+ vir Juda in Israel teruggekry het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 29 Jeroʹbeam het gesterf, en hy is by sy voorvaders, die konings van Israel, begrawe. En sy seun Sagariʹa+ het in sy plek koning geword.

15 Asarʹja,*+ die seun van koning Amaʹsia+ van Juda, het koning geword+ in die 27ste jaar van koning Jeroʹbeam* van Israel. 2 Hy was 16 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jegolʹja van Jerusalem. 3 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë, net soos sy pa, Amaʹsia, gedoen het.+ 4 Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie,+ en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.+ 5 Jehovah het die koning met melaatsheid getref, en hy het tot die dag van sy dood ’n melaatse gebly.+ Hy het in ’n aparte huis gewoon,+ terwyl Jotam,+ die koning se seun, oor die paleis was en as regter vir die volk van die land opgetree het.+ 6 Die res van die geskiedenis van Asarʹja,+ alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 7 Asarʹja het gesterf,*+ en hulle het hom by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. En sy seun Jotam het in sy plek koning geword.

8 In die 38ste jaar van koning Asarʹja+ van Juda het Sagariʹa,+ die seun van Jeroʹbeam, in Samariʹa koning oor Israel geword, en hy het ses maande lank regeer. 9 Hy het gedoen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos sy voorvaders gedoen het. Hy het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie.+ 10 Toe het Sallum, die seun van Jabes, teen hom saamgesweer en hom by Jibʹleam+ doodgemaak.+ Nadat hy hom doodgemaak het, het hy in sy plek koning geword. 11 Die res van die geskiedenis van Sagariʹa is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 12 Dit het vervul wat Jehovah vir Jehu gesê het: “Vier geslagte van jou seuns+ sal op die troon van Israel sit.”+ En dit is wat gebeur het.

13 Sallum, die seun van Jabes, het koning geword in die 39ste jaar van koning Ussiʹa+ van Juda, en hy het ’n maand lank in Samariʹa regeer. 14 Toe het Menaʹhem, die seun van Gadi, van Tirsa+ af na Samariʹa gegaan en Sallum,+ die seun van Jabes, in Samariʹa doodgemaak. Nadat hy hom doodgemaak het, het hy in sy plek koning geword. 15 Die res van die geskiedenis van Sallum en sy sameswering is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 16 Toe het Menaʹhem van Tirsa af na Tifsag gegaan en al die inwoners van die stad en die omliggende gebied doodgemaak omdat hulle nie hulle poorte vir hom oopgemaak het nie. Hy het die stad verwoes en die swanger vrouens oopgesny.

17 In die 39ste jaar van koning Asarʹja van Juda het Menaʹhem, die seun van Gadi, koning oor Israel geword, en hy het tien jaar lank in Samariʹa regeer. 18 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë. Hy het sy hele lewe lank nie afgewyk van al die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie.+ 19 Koning Pul+ van Assiʹrië het die land binnegeval, en Menaʹhem het vir Pul 1 000 talente* silwer gegee sodat Pul hom sou help om sy houvas op die koninkryk te versterk.+ 20 Toe het Menaʹhem die silwer in Israel ingesamel deur dit te eis van die vooraanstaande, ryk manne.+ Hy het vir die koning van Assiʹrië 50 sikkels* silwer vir elke man gegee. Toe het die koning van Assiʹrië teruggedraai, en hy het nie in die land gebly nie. 21 Die res van die geskiedenis van Menaʹhem,+ alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 22 Menaʹhem het gesterf,* en sy seun Pekaʹhia het in sy plek koning geword.

23 In die 50ste jaar van koning Asarʹja van Juda het Pekaʹhia, die seun van Menaʹhem, in Samariʹa koning oor Israel geword, en hy het twee jaar lank regeer. 24 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë. Hy het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie.+ 25 Toe het een van sy offisiere, Peka,+ die seun van Remaʹlia, teen hom saamgesweer en hom in Samariʹa in die versterkte toring van die koning se paleis saam met Argob en Arje doodgemaak. Hy het 50 manne van Giʹlead by hom gehad, en nadat hy hom doodgemaak het, het hy in sy plek koning geword. 26 Die res van die geskiedenis van Pekaʹhia, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel.

27 In die 52ste jaar van koning Asarʹja van Juda het Peka,+ die seun van Remaʹlia, in Samariʹa koning oor Israel geword, en hy het 20 jaar lank regeer. 28 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, en hy het nie afgewyk van die sondes wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het nie.+ 29 In die tyd van koning Peka van Israel het koning Tigʹlat-Pileʹser+ van Assiʹrië die land binnegeval en Ijon, Aʹbel-Bet-Maʹäga,+ Janoʹag, Kedes,+ Hasor, Giʹlead+ en Galileʹa – die hele land van Nafʹtali+ – ingeneem en die inwoners in ballingskap na Assiʹrië weggeneem.+ 30 Toe het Hoseʹa,+ die seun van Ela, teen Peka, die seun van Remaʹlia, saamgesweer en hom doodgemaak, en hy het in sy plek koning geword in die 20ste jaar van Jotam,+ die seun van Ussiʹa. 31 Die res van die geskiedenis van Peka, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel.

32 In die tweede jaar van koning Peka van Israel, die seun van Remaʹlia, het Jotam,+ die seun van koning Ussiʹa+ van Juda, koning geword. 33 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 16 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jeruʹsa, die dogter van Sadok.+ 34 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë, net soos sy pa, Ussiʹa, gedoen het.+ 35 Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie, en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.+ Dit was Jotam wat die boonste poort van die huis van Jehovah gebou het.+ 36 Die res van die geskiedenis van Jotam en wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 37 In daardie dae het Jehovah Resin, die koning van Sirië, en Peka,+ die seun van Remaʹlia, begin stuur om Juda aan te val.+ 38 Jotam het gesterf,* en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid sy voorvader begrawe. En sy seun Agas het in sy plek koning geword.

16 Agas,+ die seun van koning Jotam van Juda, het in die 17de jaar van Peka, die seun van Remaʹlia, koning geword. 2 Agas was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 16 jaar lank in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van Jehovah sy God soos sy voorvader Dawid nie.+ 3 Hy het eerder die weg van die konings van Israel gevolg,+ en hy het selfs sy eie seun as ’n offerande in die vuur verbrand*+ omdat hy die afskuwelike gebruike gevolg het van die nasies+ wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het. 4 Hy het ook aangehou om offerandes te bring en offerrook te laat opgaan op die offerhoogtes,+ op die heuwels en onder elke groot boom.+

5 Koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel, die seun van Remaʹlia, het teen Jerusalem opgetrek om oorlog te voer.+ Hulle het Jerusalem beleër, die stad waar Agas was, maar hulle kon nie die stad inneem nie. 6 Op daardie tyd het koning Resin van Sirië die stad Elat+ vir Edom teruggekry, en daarna het hy die Jode* uit Elat verdryf. Die Edomiete het in Elat gaan bly, en hulle woon tot vandag toe nog daar. 7 Toe het Agas boodskappers na koning Tigʹlat-Pileʹser+ van Assiʹrië gestuur en gesê: “Ek is u kneg en u seun. Kom red my tog uit die hand van die koning van Sirië en uit die hand van die koning van Israel, wat my aanval.” 8 Agas het toe die silwer en die goud in die huis van Jehovah en in die skatkamers van die koning se paleis geneem en ’n omkoopgeskenk aan die koning van Assiʹrië gestuur.+ 9 Die koning van Assiʹrië het gedoen wat hy gevra het en na Damaskus gegaan en dit ingeneem en die inwoners daarvan in ballingskap na Kir weggeneem,+ en hy het Resin doodgemaak.+

10 Daarna het koning Agas na koning Tigʹlat-Pileʹser van Assiʹrië in Damaskus gegaan. Nadat koning Agas die altaar in Damaskus gesien het, het hy ’n bouplan van die altaar aan die priester Uriʹa gestuur.+ 11 Die priester Uriʹa+ het ’n altaar+ gebou volgens al die instruksies wat koning Agas van Damaskus af gestuur het. Die priester Uriʹa het dit voltooi voordat koning Agas van Damaskus af teruggekom het. 12 Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy offerandes op die altaar gaan offer.+ 13 En hy het aangehou om sy brandoffers en sy graanoffers op daardie altaar te laat rook. Hy het ook sy drankoffers daarop uitgegooi en die bloed van sy vrede-offers* daarop gesprinkel. 14 Toe het hy die koperaltaar+ wat voor Jehovah was, geskuif van sy gewone plek aan die voorkant van die huis, tussen sy eie altaar en die huis van Jehovah, en dit aan die noordekant van sy eie altaar gesit. 15 Koning Agas het vir die priester Uriʹa+ hierdie bevel gegee: “Laat die oggendbrandoffer,+ die aandgraanoffer+ en die koning se brandoffer en graanoffer op die groot altaar rook, sowel as die brandoffers, die graanoffers en die drankoffers van die hele volk. Jy moet ook al die bloed van die brandoffers en al die bloed van die ander offerandes daarop sprinkel. Wat die koperaltaar betref, ek sal besluit wat daarmee gedoen moet word.” 16 En die priester Uriʹa het alles gedoen wat koning Agas beveel het.+

17 Verder het koning Agas die sypanele van die waentjies+ in stukke gesny en die komme van hulle afgehaal.+ Hy het die See wat op die koperbulle gerus het,+ van hulle afgehaal en dit op ’n klipvloer gesit.+ 18 En weens die koning van Assiʹrië het hy die oordekte area vir die Sabbat wat in die huis gebou is en die koning se buitenste ingang van die huis van Jehovah af verskuif.

19 Die res van die geskiedenis van Agas en wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda.+ 20 Agas het gesterf,* en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe, en sy seun Hiskiʹa*+ het in sy plek koning geword.

17 Hoseʹa,+ die seun van Ela, het in die 12de jaar van koning Agas van Juda koning oor Israel geword in Samariʹa. Hy het nege jaar lank regeer. 2 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, maar nie so erg soos die vorige konings van Israel nie. 3 Koning Salmaneʹser van Assiʹrië het teen hom gaan veg,+ en Hoseʹa het sy kneg geword en skatting* aan hom begin betaal.+ 4 Maar die koning van Assiʹrië het uitgevind dat Hoseʹa betrokke was by ’n sameswering, want Hoseʹa het boodskappers na koning So van Egipte+ gestuur en het nie die skatting* aan die koning van Assiʹrië betaal soos in vorige jare nie. Daarom het die koning van Assiʹrië hom vasgebind en in die tronk opgesluit.

5 Die koning van Assiʹrië het die land binnegeval, en hy het na Samariʹa gegaan en dit drie jaar lank beleër. 6 In die negende jaar van Hoseʹa het die koning van Assiʹrië Samariʹa+ ingeneem. Hy het die Israeliete toe in ballingskap+ na Assiʹrië geneem en hulle in Halag en in Habor by die Gosanrivier+ en in die stede van die Mede laat woon.+

7 Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen Jehovah hulle God, wat hulle uit Egipte uitgelei het en wat hulle uit die greep van Farao, die koning van Egipte,+ bevry het. Hulle het ander gode aanbid,*+ 8 en hulle het die gebruike gevolg van die nasies wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het, sowel as die gebruike wat die konings van Israel ingestel het.

9 Die Israeliete het by dinge betrokke geraak wat volgens Jehovah hulle God nie reg was nie. Hulle het aangehou om offerhoogtes in al hulle stede te bou,+ van wagtoring tot versterkte stad.* 10 Hulle het aangehou om vir hulle heilige pilare en heilige pale*+ op elke hoë heuwel en onder elke groot boom+ op te rig. 11 En hulle het op al die offerhoogtes offerrook laat opgaan, net soos die nasies wat Jehovah voor hulle uit verdryf het.+ Hulle het voortgegaan om slegte dinge te doen en om Jehovah aanstoot te gee.

12 Hulle het aangehou om walglike afgode* te aanbid,+ al het Jehovah vir hulle gesê: “Julle mag hulle nie aanbid nie!”+ 13 Jehovah het Israel en Juda bly waarsku deur middel van al sy profete en al die sieners+ en gesê: “Draai om en los julle slegte weë!+ Gehoorsaam my gebooie en my wetsbepalings – alles in die wet wat ek julle voorvaders beveel het om te gehoorsaam en wat ek deur middel van my knegte, die profete, aan julle gestuur het.” 14 Maar hulle het nie geluister nie, en hulle het net so hardkoppig gebly soos* hulle voorvaders wat nie geloof in Jehovah hulle God gestel het nie.+ 15 Hulle het sy wetsvoorskrifte en sy verbond+ wat hy met hulle voorvaders gemaak het en sy herinneringe wat hy vir hulle as ’n waarskuwing gegee het, bly verwerp.+ En hulle het waardelose afgode+ bly volg en hulle het self ook waardeloos geword.+ Hulle het die voorbeeld gevolg van die nasies rondom hulle wat Jehovah hulle beveel het om nie na te volg nie.+

16 Hulle het al die gebooie van Jehovah hulle God bly ignoreer. Hulle het metaalbeelde van twee kalwers+ en ’n heilige paal*+ gemaak, en hulle het voor die hele leërmag van die hemel+ neergebuig en Baäl gedien.+ 17 Hulle het ook hulle seuns en hulle dogters as offerandes in die vuur verbrand,*+ en hulle het waarsêery beoefen+ en na tekens* gesoek. Hulle het bly doen* wat sleg is in Jehovah se oë en het hom aanstoot gegee.

18 Daarom het Jehovah so kwaad vir Israel geword dat hy hulle voor hom verwyder het.+ Hy het niemand laat oorbly behalwe die stam van Juda nie.

19 Selfs Juda het nie die gebooie van Jehovah hulle God gehoorsaam nie.+ Hulle het ook die gebruike gevolg wat Israel gevolg het.+ 20 Jehovah het al die nakomelinge van Israel verwerp, hulle verneder en hulle in die hand van vyande gegee wat hulle geplunder het, totdat hy hulle voor hom verwyder het. 21 Hy het Israel van die huis van Dawid af weggeskeur, en hulle het Jeroʹbeam, die seun van Nebat, koning gemaak.+ Maar Jeroʹbeam het Israel van Jehovah laat afdwaal, en hy het hulle ’n groot sonde laat pleeg. 22 Die Israeliete het aangehou om al die sondes van Jeroʹbeam te pleeg.+ Hulle het nie daarvan afgewyk nie 23 totdat Jehovah Israel voor hom verwyder het, net soos hy deur middel van al sy knegte, die profete, gesê het.+ Israel is in ballingskap na Assiʹrië weggeneem,+ waar hulle tot vandag toe is.

24 Die koning van Assiʹrië het mense uit Babilon, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwaʹim+ geneem en hulle in die plek van die Israeliete in die stede van Samariʹa laat woon. Hulle het Samariʹa in besit geneem en in die stede daar gewoon. 25 Toe hulle daar gaan woon het, het hulle Jehovah nie gevrees* nie. Daarom het Jehovah leeus onder hulle ingestuur,+ en hulle het van die mense doodgemaak. 26 Daar is vir die koning van Assiʹrië gesê: “Die nasies wat u in ballingskap geneem en in die stede van Samariʹa laat woon het, ken nie die godsdiens* van die God van die land nie. Daarom stuur hy leeus onder hulle in om hulle dood te maak omdat nie een van hulle die godsdiens van die God van die land ken nie.”

27 Toe het die koning van Assiʹrië hierdie bevel gegee: “Laat een van die priesters wat julle van daar af in ballingskap geneem het, teruggaan om daar te woon en om hulle die godsdiens van die God van die land te leer.” 28 Een van die priesters wat hulle uit Samariʹa in ballingskap weggeneem het, het toe na Bet-El+ teruggegaan om daar te woon, en hy het hulle begin leer hoe hulle Jehovah moet vrees.*+

29 Maar elke nasie het hulle eie god* gemaak, en hulle het dit gesit in die huise van aanbidding op die offerhoogtes wat die Samaritane gemaak het. Elke nasie het dit gedoen in die stede waar hulle gewoon het. 30 Die manne van Babilon het Sukkot-Benot gemaak, die manne van Kut het Nergal gemaak, die manne van Hamat+ het Asiʹma gemaak 31 en die Awwiete het Nibhas en Tartak gemaak. Die Sefarwiete het hulle seuns in die vuur verbrand vir Adrammeʹleg en Anammeʹleg, die gode van Sefarwaʹim.+ 32 Hoewel hulle Jehovah gevrees het, het hulle priesters vir die offerhoogtes uit die volk aangestel, en die priesters het vir hulle diens gedoen by die huise van aanbidding op die offerhoogtes.+ 33 Hulle het Jehovah dus gevrees, maar hulle het ook hulle eie gode aanbid in ooreenstemming met die godsdiensgebruike van die nasies waaruit hulle in ballingskap weggeneem is.+

34 Tot vandag toe volg hulle hulle vroeëre godsdiensgebruike. Nie een van hulle aanbid* Jehovah nie, en nie een volg sy wetsbepalings, sy oordele, die Wet en die gebod wat Jehovah gegee het aan die kinders van Jakob, wie se naam hy na Israel verander het, nie.+ 35 Toe Jehovah ’n verbond met hulle gemaak het,+ het hy hulle hierdie bevel gegee: “Julle mag nie ander gode vrees nie, en julle mag nie voor hulle neerbuig of hulle dien of offerandes aan hulle bring nie.+ 36 Maar Jehovah, wat julle met groot krag en ’n uitgestrekte arm uit Egipte uitgelei het,+ is die Een wat julle moet vrees,+ en voor hom moet julle neerbuig, en aan hom moet julle offerandes bring. 37 Julle moet streng bly by die wetsvoorskrifte, die oordele, die Wet en die gebod wat hy vir julle neergeskryf het.+ Julle mag nie ander gode vrees nie. 38 En julle moenie die verbond vergeet wat ek met julle gemaak het nie,+ en julle mag nie ander gode vrees nie. 39 Maar julle moet Jehovah julle God vrees, want hy is die Een wat julle uit die hand van al julle vyande sal red.”

40 Maar hulle was nie gehoorsaam nie, en hulle het hulle vroeëre godsdiensgebruike gevolg.+ 41 Hierdie nasies het Jehovah wel begin vrees,+ maar hulle het ook hulle eie beelde aanbid. Hulle kinders en hulle kleinkinders doen tot vandag toe presies wat hulle voorvaders gedoen het.

18 Hiskiʹa,+ die seun van koning Agas+ van Juda, het in die derde jaar van koning Hoseʹa+ van Israel, die seun van Ela, koning geword. 2 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi,* die dogter van Sagariʹa.+ 3 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë,+ net soos sy voorvader Dawid gedoen het.+ 4 Dit was Hiskiʹa wat die offerhoogtes verwyder het,+ die heilige pilare stukkend gekap het en die heilige paal* afgekap het.+ Hy het ook die koperslang wat Moses gemaak het,+ stukkend geslaan, want tot op daardie tyd het die Israeliete offerrook daarvoor laat opgaan, en dit is die koperslang-afgod* genoem. 5 Hy het op Jehovah,+ die God van Israel, vertrou. Onder al die konings van Juda was daar nie voor hom of ná hom ’n koning soos hy nie. 6 Hy het lojaal aan Jehovah gebly.+ Hy was altyd gehoorsaam aan hom. En hy het aangehou om die gebooie te gehoorsaam wat Jehovah aan Moses gegee het. 7 En Jehovah was met hom. Waar hy ook al gegaan het, het hy wyslik opgetree. Hy het teen die koning van Assiʹrië in opstand gekom en geweier om hom te dien.+ 8 Hy het ook die Filistyne verslaan+ tot by Gasa en die omliggende gebiede, van wagtoring tot versterkte stad.*

9 Koning Salmaneʹser van Assiʹrië het in die vierde jaar van koning Hiskiʹa (dit wil sê die sewende jaar van koning Hoseʹa+ van Israel, die seun van Ela) teen Samariʹa opgetrek en dit begin beleër.+ 10 Ná drie jaar het hulle dit ingeneem.+ Dit was in die sesde jaar van Hiskiʹa (dit wil sê die negende jaar van koning Hoseʹa van Israel) dat Samariʹa ingeneem is. 11 Toe het die koning van Assiʹrië die Israeliete in ballingskap+ na Assiʹrië geneem en hulle in Halag en in Habor by die Gosanrivier en in die stede van die Mede laat woon.+ 12 Dit het gebeur omdat hulle nie na die stem van Jehovah hulle God geluister het nie en nie gebly het by sy verbond, by alles wat Moses, die kneg van Jehovah, beveel het, nie.+ Hulle het nie geluister nie en hulle was nie gehoorsaam nie.

13 In die 14de jaar van koning Hiskiʹa het Sanʹherib, die koning van Assiʹrië,+ teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle ingeneem.+ 14 Toe het koning Hiskiʹa van Juda hierdie boodskap aan die koning van Assiʹrië in Lagis gestuur: “Ek het verkeerd opgetree. As u van my af terugtrek, sal ek vir u gee wat u ook al van my eis.” Die koning van Assiʹrië het koning Hiskiʹa van Juda ’n boete van 300 talente* silwer en 30 talente goud opgelê. 15 Daarom het Hiskiʹa al die silwer gegee wat in die huis van Jehovah en in die skatkamers van die koning se paleis was.+ 16 Op daardie tyd het Hiskiʹa die deure van die tempel+ van Jehovah en die deurposte wat koning Hiskiʹa van Juda self oorgetrek* het,+ afgehaal* en dit aan die koning van Assiʹrië gegee.

17 Die koning van Assiʹrië het die Tartan,* die Rabʹsaris* en die Rabʹsake* toe met ’n groot leërmag van Lagis+ af na koning Hiskiʹa in Jerusalem gestuur.+ Hulle het na Jerusalem gegaan en gaan staan by die kanaal van die boonste dam, wat langs die grootpad van die wassersveld is.+ 18 Toe hulle vra dat die koning na hulle toe uitkom, het Eljaʹkim,+ die seun van Hilkiʹa, wat oor die huishouding* was, Sebna,+ die sekretaris en Joag, die seun van Asaf, die geskiedskrywer, na hulle toe uitgekom.

19 Toe het die Rabʹsake vir hulle gesê: “Sê asseblief vir Hiskiʹa: ‘Dít is wat die groot koning, die koning van Assiʹrië, sê: “Hoekom is jy so vol vertroue?+ 20 Jy sê: ‘Ek het ’n strategie en die mag om oorlog te voer,’ maar dit is leë woorde. Op wie vertrou jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom?+ 21 Jy vertrou op Egipte,+ daardie geknakte riet wat ’n gat dwarsdeur ’n mens se hand sal steek as jy daarop leun. Dít is hoe Farao, die koning van Egipte, is vir almal wat op hom vertrou. 22 Maar dalk sal julle vir my sê: ‘Ons vertrou op Jehovah ons God.’+ Is dit dan nie sy offerhoogtes en altare wat Hiskiʹa verwyder het nie,+ terwyl hy vir Juda en Jerusalem sê: ‘Julle moet voor hierdie altaar in Jerusalem neerbuig’?”’+ 23 Aanvaar dan nou asseblief hierdie uitdaging van my heer, die koning van Assiʹrië: Ek sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg ruiters vir hulle kan vind.+ 24 Hoe sou jy dan selfs een van my heer se onbelangrikste goewerneurs kan terugdryf as jy op Egipte moet vertrou vir strydwaens en vir ruiters? 25 En dink jy dat ek sonder Jehovah se toestemming teen hierdie plek opgetrek het om dit te verwoes? Dit was Jehovah wat vir my gesê het: ‘Trek op teen hierdie land en verwoes dit.’”

26 Toe het Eljaʹkim, die seun van Hilkiʹa, Sebna+ en Joag vir die Rabʹsake+ gesê: “Praat asseblief met u knegte in die Aramese* taal,+ want ons verstaan dit. Moenie in die taal van die Jode met ons praat nie, want die mense op die muur kan hoor wat ons sê.”+ 27 Maar die Rabʹsake het vir hulle gesê: “Dink julle dat my heer my net na julle heer en na julle toe gestuur het om hierdie dinge te sê? Hierdie boodskap is ook bedoel vir die manne wat op die muur sit, wat hulle eie ontlasting sal eet en hulle eie urine sal drink, net soos julle.”

28 Daarna het die Rabʹsake met ’n harde stem in die taal van die Jode uitgeroep: “Hoor wat die groot koning, die koning van Assiʹrië, sê.+ 29 Dít is wat die koning sê: ‘Moenie dat Hiskiʹa julle bedrieg nie, want hy kan julle nie uit my hand red nie.+ 30 En moenie dat Hiskiʹa julle op Jehovah laat vertrou nie deur te sê: “Jehovah sal ons vir seker red. Hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assiʹrië gegee word nie.”+ 31 Moenie na Hiskiʹa luister nie, want dít is wat die koning van Assiʹrië sê: “Maak vrede met my en gee julle aan my oor. Dan sal elkeen van julle van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en die water van sy eie reënput drink, 32 totdat ek kom en julle na ’n land neem soos julle land,+ ’n land van graan en nuwe wyn, ’n land van brood en wingerde, ’n land van olyfbome en heuning. En dan sal julle lewe en nie sterf nie. Moenie na Hiskiʹa luister nie, want hy mislei julle deur te sê: ‘Jehovah sal ons red.’ 33 Het enige van die gode van die nasies sy land uit die hand van die koning van Assiʹrië gered? 34 Waar is die gode van Hamat+ en Arpad? Waar is die gode van Sefarwaʹim,+ Hena en Iwwa? Het hulle Samariʹa uit my hand gered?+ 35 Kon enigeen van die gode van daardie lande hulle land uit my hand red? Sal Jehovah Jerusalem dan uit my hand kan red?”’”+

36 Maar die mense het stilgebly en hom nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om hom nie te antwoord nie.+ 37 Eljaʹkim, die seun van Hilkiʹa, wat oor die huishouding* was, Sebna, die sekretaris, en Joag, die seun van Asaf, die geskiedskrywer, het met geskeurde klere na Hiskiʹa toe gegaan en hom vertel wat die Rabʹsake gesê het.

19 Toe koning Hiskiʹa dit hoor, het hy sy klere geskeur en saklinne aangetrek en in die huis van Jehovah ingegaan.+ 2 Toe het hy Eljaʹkim, wat oor die huishouding* was, Sebna, die sekretaris, en die hoofde van die priesters saklinne laat aantrek en hulle na die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, gestuur. 3 Hulle het vir hom gesê: “Dít is wat Hiskiʹa sê: ‘Vandag is ’n dag van rampspoed, van belediging* en van skande. Dit is soos wanneer ’n kind gereed is om gebore te word, maar daar geen krag is om geboorte te gee nie.+ 4 Miskien sal Jehovah u God al die woorde hoor van die Rabʹsake, wat deur sy heer, die koning van Assiʹrië, gestuur is om die lewende God uit te tart,+ en hom straf vir die woorde wat Jehovah u God gehoor het. Bid+ dus vir die oorblyfsel wat nog lewe.’”

5 Die knegte van koning Hiskiʹa het by Jesaja aangekom,+ 6 en Jesaja het vir hulle gesê: “Gaan sê vir julle heer: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Moenie bang wees+ weens die woorde wat jy gehoor het nie, die woorde waarmee die dienaars van die koning van Assiʹrië my belaster het nie.+ 7 Ek gaan ’n gedagte by hom laat opkom, en hy sal ’n berig hoor en na sy eie land terugkeer. En ek sal hom in sy eie land deur die swaard laat val.”’”+

8 Nadat die Rabʹsake gehoor het dat die koning van Assiʹrië van Lagis+ af weggetrek het, het hy teruggekeer na die koning, wat besig was om teen Libna te veg.+ 9 Die koning het gehoor dat koning Tirhaʹka van Etiopië op pad was om teen hom te veg. Daarom het hy weer boodskappers+ na Hiskiʹa toe gestuur en gesê: 10 “Dít is wat julle vir koning Hiskiʹa van Juda moet sê: ‘Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou bedrieg deur te sê: “Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assiʹrië gegee word nie.”+ 11 Jy het gehoor wat die konings van Assiʹrië met al die lande gedoen het. Hulle het dit vernietig.+ Sal jy die enigste een wees wat gered word? 12 Is die nasies wat deur my voorvaders vernietig is, deur hulle gode gered? Waar is Gosan, Haran,+ Resef en die mense van Eden wat in Tel-Assar was? 13 Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van die stad Sefarwaʹim, die koning van Hena en die koning van Iwwa?’”+

14 Hiskiʹa het die briewe by die boodskappers geneem en dit gelees. Hiskiʹa het toe na die huis van Jehovah gegaan en dit voor Jehovah uitgesprei.+ 15 En Hiskiʹa het voor Jehovah begin bid+ en gesê: “O Jehovah, die God van Israel, wat op die troon bo* die gerubs sit,+ u alleen is die ware God van al die koninkryke van die aarde.+ U het die hemel en die aarde gemaak. 16 Skenk aandag, o Jehovah, en luister!+ Maak u oë oop,+ o Jehovah, en sien! Luister na die woorde waarmee Sanʹherib die lewende God uittart. 17 O Jehovah, die konings van Assiʹrië het wel die nasies en hulle lande verwoes.+ 18 En hulle het hulle gode in die vuur gegooi, want hulle was nie gode nie.+ Hulle was die werk van mensehande+ – hout en klip. Dit is waarom hulle hulle kon vernietig. 19 Maar red ons nou asseblief uit sy hand, o Jehovah ons God, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat u alleen God is, o Jehovah.”+

20 Jesaja, die seun van Amos, het toe hierdie boodskap aan Hiskiʹa gestuur: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou gebed in verband met koning Sanʹherib van Assiʹrië+ gehoor.+ 21 Dít is wat Jehovah oor hom sê:

“Die maagdelike dogter van Sion verag jou, sy lag jou uit.

Die dogter van Jerusalem skud haar kop vir jou.

22 Wie het jy uitgetart en belaster?+

Teen wie het jy jou stem verhef+

en jou trotse oë opgeslaan?

Dit is teen die Heilige van Israel!+

23 Deur middel van jou boodskappers+ het jy Jehovah uitgetart+ en gesê:

‘Met my baie strydwaens

sal ek teen hoë berge opry,

teen die mees afgeleë dele van die Liʹbanon-berge.

Ek sal sy hoë sederbome afkap, sy beste jenewerbome.

Ek sal sy verste skuilplekke, sy digste woude, binnedring.

24 Ek sal putte grawe en vreemde water drink.

Ek sal al die strome* van Egipte met my voetsole opdroog.’

25 Het jy nie gehoor nie? Dit is lank gelede besluit.*+

Ek het dit in die verre verlede voorberei.+

Nou sal ek dit laat plaasvind.+

Jy sal versterkte stede vernietig. Daar sal net ruïnes oorbly.+

26 Hulle inwoners sal hulpeloos wees.

Hulle sal baie bang wees en verneder word.

Hulle sal soos plante van die veld en groen gras word,+

soos gras op die dakke wat deur die oostewind verskroei word.

27 Maar ek weet wanneer jy sit, wanneer jy uitgaan, wanneer jy inkom+

en wanneer jy woedend is vir my,+

28 want jou woede teen my+ en jou gebrul het my ore bereik.+

Daarom sal ek my haak in jou neus sit+ en my toom tussen jou lippe,

en ek sal jou teruglei op die pad waarmee jy gekom het.”+

29 “‘En dít sal vir jou* die teken wees: Hierdie jaar sal julle eet wat vanself groei,* en in die tweede jaar sal julle graan eet wat dan opkom,+ maar in die derde jaar sal julle saad saai en oes, en julle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet.+ 30 Dié van die huis van Juda wat wegkom, dié wat oorbly,+ sal wortelskiet ondertoe en vrugte voortbring boontoe. 31 Want ’n oorblyfsel sal uit Jerusalem uitgaan, en oorlewendes van die berg Sion af. Die ywer van Jehovah van die leërmagte sal dit doen.+

32 “‘Daarom sê Jehovah die volgende oor die koning van Assiʹrië:+

“Hy sal nie in hierdie stad inkom+

of ’n pyl daarnatoe skiet

of met ’n skild daarteen kom

of ’n beleëringswal daarteen oprig nie.+

33 Met die pad waarmee hy gekom het, sal hy terugkeer.

Hy sal nie in hierdie stad inkom nie,” sê Jehovah.

34 “Ek sal hierdie stad verdedig+ en red om my eie onthalwe+

en ter wille van my kneg Dawid.”’”+

35 Daardie nag het die engel van Jehovah uitgegaan en 185 000 manne in die kamp van die Assiriërs doodgemaak.+ Toe mense die volgende oggend vroeg opstaan, het hulle al die lyke gesien.+ 36 Daarom het koning Sanʹherib van Assiʹrië na Niʹneve+ teruggekeer en daar gebly.+ 37 En terwyl hy in die tempel van sy god Nisrog neergebuig het, het sy eie seuns Adrammeʹleg en Sareʹser hom met die swaard doodgemaak+ en toe na die land Ararat+ gevlug. En sy seun Esar-Haddon+ het in sy plek koning geword.

20 In daardie dae het Hiskiʹa dodelik siek geword.+ Die profeet Jesaja, die seun van Amos, het vir hom gaan sê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Gee instruksies aan jou huisgesin, want jy gaan sterf. Jy sal nie gesond word nie.’”+ 2 Toe het Hiskiʹa sy gesig na die muur gedraai en tot Jehovah begin bid en gesê: 3 “Ek smeek u, o Jehovah, onthou asseblief hoe ek u getrou en met my hele hart gedien het, en ek het gedoen wat goed is in u oë.”+ En Hiskiʹa het bitterlik begin huil.

4 Nog voordat Jesaja by die middelste voorhof gekom het, het Jehovah vir hom gesê:+ 5 “Gaan terug en sê vir Hiskiʹa, die leier van my volk: ‘Dít is wat Jehovah, die God van jou voorvader Dawid, sê: “Ek het jou gebed gehoor. Ek het jou trane gesien.+ En ek gaan jou gesond maak.+ Op die derde dag sal jy na die huis van Jehovah gaan.+ 6 Ek sal 15 jaar by jou lewe* voeg, en ek sal jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assiʹrië+ red, en ek sal hierdie stad om my onthalwe en ter wille van my kneg Dawid verdedig.”’”+

7 Jesaja het toe gesê: “Gaan haal ’n koek van saamgeperste droëvye.” Toe het hulle dit gaan haal en dit op die sweer gesit. Daarna het hy geleidelik gesond geword.+

8 Hiskiʹa het vroeër vir Jesaja gevra: “Wat is die teken+ dat Jehovah my gesond sal maak en dat ek op die derde dag na die huis van Jehovah sal gaan?” 9 Jesaja het geantwoord: “Dít is die teken van Jehovah om te bewys dat Jehovah sal vervul wat hy gesê het: Wil jy hê dat die skaduwee op die trap* tien trappies vorentoe moet gaan of tien trappies agtertoe?”+ 10 Hiskiʹa het gesê: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappies vorentoe te gaan, maar nie om tien trappies agtertoe te gaan nie.” 11 Daarna het die profeet Jesaja tot Jehovah begin roep, en Hy het die skaduwee op die trap van Agas tien trappies laat teruggaan nadat dit reeds vorentoe gegaan het.+

12 In daardie tyd het die koning van Babilon, Beroʹdag-Baʹladan, die seun van Baʹladan, briewe en ’n geskenk aan Hiskiʹa gestuur, want hy het gehoor dat Hiskiʹa siek was.+ 13 Hiskiʹa het hulle verwelkom* en vir hulle sy hele skathuis+ gewys – die silwer, die goud, die balsemolie en ander kosbare olie, sy wapenhuis en alles wat in sy skatkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy hele ryk wat Hiskiʹa nie vir hulle gewys het nie.

14 Daarna het die profeet Jesaja na koning Hiskiʹa gegaan en vir hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en waarvandaan het hulle gekom?” Toe het Hiskiʹa gesê: “Hulle het van ’n ver land gekom, van Babilon.”+ 15 Hy het toe gevra: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskiʹa het gesê: “Hulle het alles in my paleis gesien. Daar was niks in my skatkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.”

16 Jesaja het toe vir Hiskiʹa gesê: “Hoor die woord van Jehovah:+ 17 ‘Die tyd kom wanneer alles in jou paleis en alles wat jou voorvaders tot vandag toe opgegaar het, na Babilon weggedra sal word.+ Daar sal niks oorbly nie,’ sê Jehovah. 18 ‘En party van jou seuns wat nog gebore sal word, sal weggeneem word+ en sal hofbeamptes in die paleis van die koning van Babilon word.’”+

19 Toe het Hiskiʹa vir Jesaja gesê: “Die woord van Jehovah wat u oorgedra het, is goed.”+ Hy het bygevoeg: “Dit is goed as daar vrede en stabiliteit* in my leeftyd sal wees.”+

20 Wat die res van die geskiedenis van Hiskiʹa betref, al sy magtige dade en hoe hy die dam+ en die kanaal gemaak en die water in die stad ingebring het,+ dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 21 Hiskiʹa het gesterf,*+ en sy seun Manasʹse+ het in sy plek koning geword.+

21 Manasʹse+ was 12 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer.+ Sy ma se naam was Hefsiʹba. 2 Hy het gedoen wat sleg is in Jehovah se oë en het die afskuwelike gebruike gevolg van die nasies+ wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het.+ 3 Hy het die offerhoogtes herbou wat sy pa, Hiskiʹa, vernietig het,+ en hy het altare vir Baäl opgerig en ’n heilige paal* gemaak,+ net soos Agab, die koning van Israel, gedoen het.+ En hy het die hele leërmag van die hemel aanbid en hulle gedien.+ 4 Hy het ook altare gebou in die huis van Jehovah,+ waarvan Jehovah gesê het: “In Jerusalem sal ek my naam vestig.”+ 5 En hy het in twee voorhowe van die huis van Jehovah+ altare vir die hele leërmag van die hemel gebou.+ 6 Hy het ook sy eie seun as ’n offerande in die vuur verbrand.* Hy het toorkuns beoefen, na tekens* gesoek+ en mense aangestel wat geeste oproep,* sowel as fortuinvertellers.+ Hy het baie dinge gedoen wat sleg is in Jehovah se oë en hom aanstoot gegee.

7 Hy het die heilige paal*+ wat hy gemaak het, in die huis gesit waarvan Jehovah vir Dawid en vir sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat ek uit al die stamme van Israel gekies het, sal ek my naam vir altyd vestig.+ 8 En ek sal Israel nooit weer laat wegtrek uit die land wat ek aan hulle voorvaders gegee het nie,+ solank hulle streng gehoorsaam is aan alles wat ek hulle beveel het,+ aan die hele Wet wat my kneg Moses hulle beveel het om te onderhou.” 9 Maar hulle was nie gehoorsaam nie, en Manasʹse het hulle ’n verkeerde weg laat volg en hulle erger dinge laat doen as die nasies wat Jehovah voor die Israeliete vernietig het.+

10 Jehovah het heeltyd deur middel van sy knegte, die profete,+ gesê: 11 “Manasʹse, die koning van Juda, het al hierdie afskuwelike dinge gedoen. Hy het slegter dinge gedoen as al die Amoriete+ wat voor hom was,+ en hy het Juda laat sondig met sy walglike afgode.* 12 Daarom sê Jehovah, die God van Israel: ‘Ek gaan so ’n groot ramp oor Jerusalem+ en Juda bring dat enigiemand wat daarvan hoor, nie sy ore sal kan glo nie.+ 13 En ek sal vir Jerusalem dieselfde maatlyn+ gebruik as wat ek vir Samariʹa gebruik het,+ asook die skietlood wat vir die huis van Agab gebruik is,+ en ek sal Jerusalem skoon vee, net soos ’n mens ’n bak skoon vee en dit omkeer.+ 14 Ek sal die oorblyfsel van my erfdeel+ verlaat en hulle in die hand van hulle vyande gee. En hulle vyande sal hulle as buit wegneem+ 15 omdat hulle gedoen het wat sleg is in my oë en my aanstoot gegee het van die dag af dat hulle voorvaders uit Egipte uitgegaan het tot vandag toe.’”+

16 Manasʹse het Juda laat sondig deur hulle te laat doen wat sleg is in die oë van Jehovah. En buiten daardie sonde het hy so baie onskuldige mense doodgemaak dat hy Jerusalem van die een end tot die ander met hulle bloed gevul het.+ 17 Wat die res van die geskiedenis van Manasʹse betref, alles wat hy gedoen het en die sondes wat hy gepleeg het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 18 Manasʹse het gesterf,* en hy is in die tuin van sy paleis,* in die tuin van Ussa,+ begrawe. En sy seun Amon het in sy plek koning geword.

19 Amon+ was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank in Jerusalem regeer.+ Sy ma was Mesulleʹmet, die dogter van Harus, uit Jotba. 20 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos sy pa, Manasʹse, gedoen het.+ 21 Hy het dieselfde weg gevolg as sy pa, en hy het aangehou om die walglike afgode wat sy pa gedien het, te aanbid en om voor hulle neer te buig.+ 22 Hy het Jehovah, die God van sy voorvaders, verlaat, en hy het nie die weg van Jehovah gevolg nie.+ 23 Later het Amon se knegte teen hom saamgesweer, en hulle het die koning in sy eie huis vermoor. 24 Maar die volk van die land het almal doodgemaak wat teen koning Amon saamgesweer het, en hulle het sy seun Josiʹa in sy plek koning gemaak.+ 25 Die res van die geskiedenis van Amon en wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 26 Hulle het hom in sy graf in die tuin van Ussa+ begrawe, en sy seun Josiʹa+ het in sy plek koning geword.

22 Josiʹa+ was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer.+ Sy ma was Jediʹda, die dogter van Adaʹja, uit Boskat.+ 2 Hy het gedoen wat reg is in Jehovah se oë en dieselfde weg gevolg as sy voorvader Dawid,+ en hy het nie regs of links daarvan afgewyk nie.

3 In die 18de jaar van koning Josiʹa het die koning sy sekretaris, Safan, die seun van Asalʹja, die seun van Mesulʹlam, na die huis van Jehovah+ gestuur en gesê: 4 “Gaan na die hoëpriester Hilkiʹa+ en laat hom al die geld insamel wat in die huis van Jehovah ingebring word,+ wat die deurwagters by die volk ingesamel het.+ 5 Hulle moet dit gee vir die manne wat aangestel is om oor die werk in die huis van Jehovah toesig te hou. En hulle moet dit dan gee vir die werkers in die huis van Jehovah wat die skade aan* die huis moet herstel,+ 6 dit wil sê vir die ambagsmanne, die bouers en die messelaars. En hulle moet dit gebruik om balke en gekapte klippe te koop om die huis mee te herstel.+ 7 Maar geen verslag moet van hulle geëis word vir die geld wat vir hulle gegee word nie, want hulle is betroubaar.”+

8 Later het die hoëpriester Hilkiʹa vir Safan, die sekretaris,+ gesê: “Ek het die Wetboek+ in die huis van Jehovah gevind.” En Hilkiʹa het die boek vir Safan gegee, wat dit begin lees het.+ 9 Toe het Safan, die sekretaris, na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U knegte het die geld gaan haal* wat in die huis was, en hulle het dit vir die manne gegee wat aangestel is om oor die werk in die huis van Jehovah toesig te hou.”+ 10 Safan, die sekretaris, het verder vir die koning gesê: “Die priester Hilkiʹa het vir my ’n boek+ gegee.” En Safan het vir die koning daaruit begin lees.

11 Toe die koning die woorde van die Wetboek hoor, het hy onmiddellik sy klere geskeur.+ 12 Daarna het die koning die volgende bevel gegee aan die priester Hilkiʹa, aan Ahiʹkam,+ die seun van Safan, aan Agbor, die seun van Migaʹja, aan Safan, die sekretaris, en aan Asaʹja, die koning se kneg: 13 “Gaan raadpleeg Jehovah vir my, vir die volk en vir die hele Juda in verband met die woorde van hierdie boek wat gevind is, want Jehovah is woedend vir ons+ omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die woorde van hierdie boek en omdat hulle nie alles gedoen het wat vir ons voorgeskryf is nie.”

14 Toe het die priester Hilkiʹa, Ahiʹkam, Agbor, Safan en Asaʹja na die profetes Hulda+ toe gegaan. Sy was die vrou van Sallum, die seun van Tikwa, die seun van Harhas, die klerebewaarder. Sy het in die nuwe deel* van Jerusalem gewoon, en hulle het daar met haar gaan praat.+ 15 Sy het vir hulle gesê: “Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: 16 “Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek gaan rampspoed bring oor hierdie plek en sy inwoners – alles wat geskryf is in die boek wat die koning van Juda gelees het.+ 17 Hulle het my verlaat, hulle laat offerrook vir ander gode opgaan+ en hulle het my aanstoot gegee deur alles wat hulle gedoen het.+ Daarom sal ek met groot woede teen hierdie plek optree, en my woede sal nie geblus word nie.’”+ 18 Maar gaan na die koning van Juda wat julle gestuur het om Jehovah te raadpleeg, en sê vir hom: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Jy het die woorde van die Wet gehoor, 19 en jy het goed gereageer* en jy het nederig berou getoon+ voor Jehovah toe jy gehoor het wat ek teen hierdie plek en sy inwoners gesê het – dat dit iets skokkends en ’n vloek sal word. Jy het jou klere geskeur+ en voor my gehuil, en daarom het ek jou gehoor, sê Jehovah. 20 Daarom sal ek jou in vrede laat sterf,* en jy sal in vrede begrawe word, en jy sal nie al die rampspoed sien wat ek oor hierdie plek sal bring nie.’”’” Toe het hulle die antwoord aan die koning oorgedra.

23 Die koning het toe al die ouermanne van Juda en Jerusalem laat roep.+ 2 Daarna het die koning na die huis van Jehovah gegaan saam met al die manne van Juda, al die inwoners van Jerusalem, die priesters en die profete – die hele volk, van klein tot groot. Hy het al die woorde van die boek+ van die verbond+ wat in die huis van Jehovah gevind is, vir hulle voorgelees.+ 3 Die koning het by die pilaar gestaan en ’n verbond voor Jehovah gemaak.*+ Hy het belowe om Jehovah te volg en sy gebooie, sy herinneringe en sy wetsbepalings met sy hele hart en met sy hele siel* te gehoorsaam deur die woorde van hierdie verbond wat in die boek geskryf is, uit te voer. En die hele volk het die verbond aanvaar.+

4 Die koning het die hoëpriester Hilkiʹa,+ die ander priesters en die deurwagters beveel om al die voorwerpe wat vir Baäl, vir die heilige paal*+ en vir die hele leërmag van die hemel gemaak is, uit die tempel van Jehovah te neem. Toe het hy dit buite Jerusalem op die terrasse van Kidron verbrand, en hy het die as daarvan na Bet-El geneem.+ 5 Hy het ’n einde gemaak aan die bedrywighede van die priesters van vreemde gode, wat deur die konings van Juda aangestel is om offerrook te laat opgaan op die offerhoogtes in die stede van Juda en die omgewing van Jerusalem. Hy het ook almal verwyder wat vir Baäl, vir die son, vir die maan, vir die sterrebeelde van die diereriem en vir die hele leërmag van die hemel offerrook laat opgaan het.+ 6 Hy het die heilige paal*+ uit die huis van Jehovah na die buitewyke van Jerusalem geneem, na die Kidron-vallei. Hy het dit in die Kidron-vallei verbrand+ en dit fyngemaal en die stof oor die grafte van die gewone mense gestrooi.+ 7 Hy het ook die huise van die manlike tempelprostitute+ afgebreek wat in die huis van Jehovah was, waar die vrouens tente geweef het wat as heiligdomme vir die heilige paal* gedien het.

8 Toe het hy al die priesters uit die stede van Juda laat kom, en hy het die offerhoogtes van Geba+ af tot by Berseʹba+ waar die priesters offerrook laat opgaan het, ongeskik vir aanbidding gemaak. Hy het ook die offerhoogtes van die poorte afgebreek wat by die ingang was van die poort van Josua, die stadshoof. Dit was aan die linkerkant as ’n mens by die stadspoort ingegaan het. 9 Die priesters van die offerhoogtes het nie by die altaar van Jehovah in Jerusalem gedien nie,+ maar hulle het wel ongesuurde brood saam met hulle broers geëet. 10 Hy het Tofet,+ wat in die Vallei van die Seuns van Hinnom*+ was, ook ongeskik vir aanbidding gemaak, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Molog as ’n offerande in die vuur kon verbrand* nie.+ 11 En hy het beveel dat die perde wat deur die konings van Juda aan die son gewy* is, nie meer deur die kamer* van Natan-Meleg die hofbeampte, wat in die pilaargang was, by die huis van Jehovah mag ingaan nie. En hy het die strydwaens van die son+ verbrand. 12 Die koning het ook die altare afgebreek wat die konings van Juda op die dak+ van die bo-kamer van Agas opgerig het, sowel as die altare wat Manasʹse in twee voorhowe van die huis van Jehovah opgerig het.+ Hy het dit fyngemaal en die stof daarvan in die Kidron-vallei gegooi. 13 Die koning het die offerhoogtes wat voor Jerusalem en suid* van die Berg van Verwoesting* was, ongeskik vir aanbidding gemaak. Dit was die offerhoogtes wat Salomo, die koning van Israel, gebou het vir Astoʹret, die walglike godin van die Sidoniërs, vir Kamos, die walglike god van Moab, en vir Milkom,+ die afskuwelike god van die Ammoniete.+ 14 Hy het die heilige pilare in stukke gebreek en die heilige pale* afgekap,+ en hy het die plekke waar hulle was, met beendere van mense gevul. 15 Hy het ook die altaar in Bet-El en die offerhoogte wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, gemaak het en wat Israel laat sondig het,+ afgebreek. Nadat hy daardie altaar en die offerhoogte afgebreek het, het hy die offerhoogte verbrand, dit fyngemaal en die heilige paal* verbrand.+

16 Toe Josiʹa omdraai en die grafte op die berg sien, het hy die beendere uit die grafte laat haal en dit op die altaar verbrand. So het hy die altaar ongeskik vir aanbidding gemaak, net soos Jehovah gesê het deur middel van die man van die ware God, wat voorspel het dat hierdie dinge sou gebeur.+ 17 Toe het hy gevra: “Wie se grafsteen is dit wat ek daar sien?” Die manne van die stad het vir hom gesê: “Dit is die graf van die man van die ware God wat uit Juda gekom het+ en wat die dinge voorspel het wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” 18 Hy het toe gesê: “Los hom. Laat niemand aan sy beendere raak nie.” Daarom het hulle nie sy beendere of die beendere van die profeet van Samariʹa+ versteur nie.

19 Josiʹa het ook al die huise van aanbidding verwyder wat op die offerhoogtes in die stede van Samariʹa+ was, wat die konings van Israel gebou het en wat God aanstoot gegee het. Hy het dieselfde met hulle gedoen as wat hy in Bet-El gedoen het.+ 20 Hy het toe al die priesters van die offerhoogtes wat daar was, op die altare geoffer en hy het beendere van mense daarop verbrand.+ Daarna het hy na Jerusalem teruggekeer.

21 Die koning het toe vir die hele volk hierdie bevel gegee: “Hou ’n Pasga+ vir Jehovah julle God, volgens wat in hierdie boek van die verbond geskryf staan.”+ 22 So ’n Pasga is nie gehou van die tyd af dat die rigters Israel gerig het nie, en ook nie in die tyd van die konings van Israel en die konings van Juda nie.+ 23 Maar in die 18de jaar van koning Josiʹa is hierdie Pasga vir Jehovah in Jerusalem gehou.

24 Josiʹa het ook ontslae geraak van almal wat geeste oproep,* sowel as die fortuinvertellers,+ die terafim-beelde,*+ die walglike afgode* en al die walglike dinge wat in die land van Juda en in Jerusalem was. So het hy die woorde van die Wet+ uitgevoer wat geskryf is in die boek wat die priester Hilkiʹa in die huis van Jehovah gevind het.+ 25 Voor hom was daar geen koning soos hy, wat met sy hele hart en met sy hele siel*+ en met al sy krag, volgens die hele Wet van Moses, na Jehovah teruggekeer het nie, en ook ná hom was daar geen koning soos hy nie.

26 Maar Jehovah was nog steeds woedend vir Juda as gevolg van al die verskriklike dinge wat Manasʹse gedoen het en wat Hom aanstoot gegee het.+ 27 Jehovah het gesê: “Ek sal Juda voor my verwyder,+ net soos ek Israel verwyder het.+ En ek sal Jerusalem, die stad wat ek uitgekies het, verwerp, asook die huis waarvan ek gesê het: ‘My naam sal daar bly.’”+

28 Die res van die geskiedenis van Josiʹa en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 29 In sy dae het farao Nego, die koning van Egipte, na die koning van Assiʹrië by die Eufraatrivier gegaan, en koning Josiʹa het teen hom gaan veg. Maar toe Nego hom sien, het hy hom by Megidʹdo doodgemaak.+ 30 Daarna het sy knegte sy lyk in ’n strydwa van Megidʹdo na Jerusalem geneem en hom in sy graf begrawe. Toe het die volk Joʹahas, die seun van Josiʹa, gesalf en hom in die plek van sy pa koning gemaak.+

31 Joʹahas+ was 23 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Hamuʹtal,+ die dogter van Jeremia, uit Libna. 32 Hy het begin doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos sy voorvaders gedoen het.+ 33 Farao Nego+ het hom in Ribla,+ in die land Hamat, opgesluit sodat hy nie in Jerusalem kon regeer nie, en toe het hy die land ’n boete opgelê van 100 talente* silwer en ’n talent goud.+ 34 En Farao Nego het Josiʹa se seun Eljaʹkim in die plek van sy pa, Josiʹa, koning gemaak en sy naam na Jojaʹkim verander. Maar hy het Joʹahas na Egipte geneem,+ waar hy uiteindelik gesterf het.+ 35 Jojaʹkim het die silwer en die goud aan Farao gegee, maar hy moes die mense van die land belasting laat betaal om vir Farao die silwer te gee wat hy geëis het. Jojaʹkim het ’n vasgestelde hoeveelheid silwer en goud van elke persoon in die land geëis sodat hy farao Nego kon betaal.

36 Jojaʹkim+ was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 11 jaar lank in Jerusalem regeer.+ Sy ma was Sebiʹda, die dogter van Pedaʹja, uit Ruma. 37 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë,+ net soos sy voorvaders gedoen het.+

24 In Jojaʹkim se dae het koning Nebukadneʹsar+ van Babilon teen hom opgetrek, en Jojaʹkim het drie jaar lank sy kneg geword. Maar hy het teen hom in opstand gekom. 2 Toe het Jehovah rowerbendes van Galdeʹa,+ Sirië, Moab en Ammon teen hom begin stuur. Hy het hulle na Juda bly stuur om dit te vernietig, net soos Jehovah deur middel van sy knegte, die profete, gesê het.+ 3 Dit was op Jehovah se bevel dat dit met Juda gebeur het, sodat hy hulle voor hom kon verwyder+ as gevolg van al die sondes wat Manasʹse gepleeg het+ 4 en die onskuldige mense wat hy doodgemaak het.*+ Want hy het Jerusalem met onskuldige bloed gevul, en Jehovah was nie bereid om te vergewe nie.+

5 Die res van die geskiedenis van Jojaʹkim en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda.+ 6 Jojaʹkim het gesterf,*+ en sy seun Jojaʹgin het in sy plek koning geword.

7 Die koning van Egipte het dit nooit weer gewaag om sy leërmagte uit sy land te stuur nie, want die koning van Babilon het alles geneem wat aan die koning van Egipte behoort het,+ van die Vallei* van Egipte+ af tot by die Eufraatrivier.+

8 Jojaʹgin+ was 18 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer.+ Sy ma was Nehusʹta, die dogter van Elʹnatan, van Jerusalem. 9 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos sy pa gedoen het. 10 In daardie tyd het die knegte van koning Nebukadneʹsar van Babilon teen Jerusalem opgetrek en die stad beleër.+ 11 Koning Nebukadneʹsar van Babilon het by die stad aangekom terwyl sy knegte dit beleër het.

12 Koning Jojaʹgin van Juda en sy ma, sy knegte, sy hoë amptenare en sy hofbeamptes+ het hulle oorgegee aan die koning van Babilon.+ In die agtste regeringsjaar van die koning van Babilon het hy Jojaʹgin gevange geneem.+ 13 Toe het hy al die skatte uit die huis van Jehovah en die koning se paleis geneem.+ Hy het al die goue voorwerpe stukkend gekap wat Salomo, die koning van Israel, in die tempel van Jehovah gemaak het.+ Dit het gebeur net soos Jehovah voorspel het. 14 Hy het die hele Jerusalem, al die amptenare,+ al die dapper vegters en al die ambagsmanne en metaalwerkers*+ in ballingskap weggeneem – hy het 10 000 in ballingskap weggeneem. Net die armste mense van die land is agtergelaat.+ 15 So het hy Jojaʹgin,+ die koning se ma, die koning se vrouens, sy hofbeamptes en die vooraanstaande manne van die land uit Jerusalem in ballingskap na Babilon geneem.+ 16 Die koning van Babilon het ook al die vegters, altesaam 7 000 manne, in ballingskap weggeneem, sowel as 1 000 ambagsmanne en metaalwerkers.* Hulle was almal sterk manne wat opgelei is om oorlog te voer. 17 Die koning van Babilon het Mattanʹja, Jojaʹgin se oom,+ in sy plek koning gemaak en sy naam na Sedekiʹa+ verander.

18 Sedekiʹa was 21 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 11 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Hamuʹtal,+ die dogter van Jeremia, uit Libna. 19 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos Jojaʹkim gedoen het.+ 20 Dit was as gevolg van Jehovah se woede dat hierdie dinge in Jerusalem en in Juda gebeur het, en hy het hulle uiteindelik heeltemal verwerp.+ En Sedekiʹa het teen die koning van Babilon in opstand gekom.+

25 In die negende jaar nadat Sedekiʹa koning geword het, in die tiende maand, op die tiende dag van die maand, het koning Nebukadneʹsar+ van Babilon met sy hele leërmag teen Jerusalem opgetrek.+ Hy het daar kamp opgeslaan en ’n beleëringsmuur reg rondom die stad gebou,+ 2 en die stad is tot die 11de jaar van koning Sedekiʹa beleër. 3 Op die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was+ en daar geen kos was vir die volk van die land nie,+ 4 is daar deur die stad se muur gebreek.+ Terwyl die Galdeërs die stad omsingel het, het al die soldate in die nag deur die poort tussen die twee mure naby die koning se tuin gevlug. En die koning het met die pad van die Aʹraba gegaan.+ 5 Maar die leërmag van die Galdeërs het die koning agternagesit, en hulle het hom in die woestynvlaktes van Jeʹrigo ingehaal, en al sy soldate wat saam met hom was, is verstrooi. 6 Toe het hulle die koning gevang+ en hom na die koning van Babilon in Ribla geneem, en hulle het hom gevonnis. 7 Hulle het Sedekiʹa se seuns voor sy oë doodgemaak. Nebukadneʹsar het Sedekiʹa se oë toe verblind, sy voete in koperboeie gesit en hom na Babilon geneem.+

8 In die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, dit wil sê in die 19de jaar van koning Nebukadneʹsar, die koning van Babilon, het Nebusaraʹdan,+ die hoof van die wagte, die kneg van die koning van Babilon, na Jerusalem gekom.+ 9 Hy het die huis van Jehovah,+ die koning se paleis+ en al die huise van Jerusalem+ afgebrand. Hy het ook die huise van al die vooraanstaande manne afgebrand.+ 10 En die hele Galdese leërmag wat saam met die hoof van die wagte was, het die mure om Jerusalem afgebreek.+ 11 Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, het die res van die volk wat in die stad oorgebly het, die mense wat na die koning van Babilon oorgeloop het en die res van die bevolking in ballingskap weggeneem.+ 12 Maar die hoof van die wagte het van die armste mense van die land agtergelaat om wingerde te bewerk en om as slawe te werk.+ 13 Die Galdeërs het die koperpilare+ van die huis van Jehovah en die waentjies+ en die Kopersee+ wat in die huis van Jehovah was, in stukke gebreek, en hulle het die koper na Babilon weggedra.+ 14 Hulle het ook die kanne geneem, sowel as die grawe, die blussers, die bekers en al die voorwerpe van koper wat in die diens by die tempel gebruik is. 15 Die hoof van die wagte het die vuurbakke en die bakke wat van egte goud+ en silwer+ was, geneem. 16 Die koper van die twee pilare, die See en die waentjies wat Salomo vir die huis van Jehovah gemaak het, was te veel om geweeg te word.+ 17 Elke pilaar was 18 el* hoog,+ en die kopstuk daarop was van koper. Die kopstuk was drie el hoog, en die netwerk en die granate reg rondom die kopstuk was alles van koper gemaak.+ Die tweede pilaar met sy netwerk was presies dieselfde.

18 Die hoof van die wagte het ook die hoofpriester Seraʹja,+ die tweede priester Sefanʹja+ en die drie deurwagters saamgeneem.+ 19 Hy het ook een hofbeampte wat oor die soldate aangestel was, uit die stad geneem, sowel as vyf van die koning se raadgewers wat in die stad was, die sekretaris van die hoof van die leërmag, wat die volk van die land opgeroep het, en 60 manne van die gewone mense van die land wat nog in die stad was. 20 Nebusaraʹdan,+ die hoof van die wagte, het hulle na die koning van Babilon in Ribla geneem.+ 21 Die koning van Babilon het hulle doodgemaak in Ribla, in die land Hamat.+ So het Juda uit sy land in ballingskap gegaan.+

22 Koning Nebukadneʹsar van Babilon het Gedalʹja,+ die seun van Ahiʹkam,+ die seun van Safan,+ oor die mense aangestel wat hy in Juda agtergelaat het.+ 23 Toe al die hoofde van die leërmag en hulle manne hoor dat die koning van Babilon Gedalʹja aangestel het, het hulle onmiddellik na Gedalʹja toe gegaan in Mispa. Hulle name was Isʹmael, die seun van Netanʹja, Johaʹnan, die seun van Kareʹag, Seraʹja, die seun van Tanʹhumet, die Netofatiet, en Jaäsanʹja, die seun van die Maägatiet. Hulle het saam met hulle manne daar aangekom.+ 24 Toe het Gedalʹja hulle en hulle manne met ’n eed verseker: “Moenie bang wees om knegte van die Galdeërs te wees nie. Woon in die land en dien die koning van Babilon, en dit sal goed gaan met julle.”+

25 In die sewende maand het Isʹmael,+ die seun van Netanʹja, die seun van Elisaʹma, wat van die koninklike geslagslyn* was, saam met tien manne na Mispa gegaan.+ Hulle het Gedalʹja aangeval en hom doodgemaak, asook die Jode en die Galdeërs wat saam met hom was. 26 Daarna het die hele volk, klein sowel as groot, insluitende die hoofde van die leërmag, na Egipte gegaan,+ want hulle was bang vir die Galdeërs.+

27 En in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojaʹgin+ van Juda, in die 12de maand, op die 27ste dag van die maand, in die jaar toe koning Eʹwil-Meroʹdag van Babilon koning geword het, het hy koning Jojaʹgin van Juda uit die tronk vrygelaat.+ 28 Hy het hom goed behandel en hom meer geëer as die ander konings* wat saam met hom in Babilon was. 29 Jojaʹgin het sy gevangenisklere uitgetrek, en hy het vir die res van sy lewe aan die koning se tafel geëet. 30 Hy het dag ná dag, al die dae van sy lewe, kos van die koning ontvang.

Beteken “my God is Jehovah”.

D.w.s. Ahasia se broer.

Of “in die lug”.

“Die seuns van die profete” verwys blykbaar na ’n skool vir profete of na ’n vereniging van profete.

Of “twee dele”.

Of “in die lug”.

Of “wind”.

Of moontlik “veroorsaak miskrame”.

Of moontlik “miskrame”.

Lett. “berinne”.

Sien Woordelys.

Of “wat altyd water op Elia se hande uitgegooi het”.

Lett. “Wat vir my en vir jou?”

Lett. “voor wie ek staan”.

Of “musikant”.

Lett. “hand”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “wat hulle met ’n lyfband omgord het”.

Of “kruik met ’n tuit”.

Lett. “dood”.

Of “redding”.

Of “aan ’n velsiekte gely het”.

Verwys moontlik na Naäman.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of “hy hom sewe keer in die Jordaanrivier onderdompel”.

Lett. “sy hele kamp”.

Lett. “seën”.

Lett. “voor wie ek staan”.

Lett. “huis”.

Lett. “huis”.

Lett. “huis”.

’n Plek in Samaria, moontlik ’n heuwel of ’n vesting.

Lett. “die hart van die koning”.

Lett. “brood”.

Lett. “kamp”.

’n Kab was gelyk aan 1,22 l. Sien Aanh. B14.

Of “onder, teen sy vel”.

Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.

Of “markte”.

’n Sea was gelyk aan 7,33 l. Sien Aanh. B14.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Of “siele”.

D.w.s. ’n nakomeling.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Lett. “dogter”.

Of “siek”.

Lett. “enigiemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.

Lett. “seun”.

Of “oogskadu”.

Lett. “die oppassers van Agab”.

Of “opregste”.

Of “regverdig”.

Lett. “op die aarde sal val”.

Blykbaar ’n plek waar skape vasgemaak is om geskeer te word.

Of “die dame”.

Of “seën”.

Of “my ywer vir Jehovah sien”.

Lett. “Heilig”.

Lett. “hardlopers”.

Lett. “die stad”, moontlik ’n vesting.

Of “verminder”.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Lett. “al die saad van die koninkryk”.

Lett. “die hardlopers”.

Lett. “wanneer hy uitgaan en wanneer hy inkom”.

Moontlik ’n boekrol wat die Wet van God bevat het.

Lett. “volk van die land”.

Of “hulle kennisse”.

Of “krake”.

Of “in sakke gesit”. Lett. “gebind”.

Of “by Bet-Millo”.

Of “se aangesig versag”.

D.w.s. in vrede en veiligheid.

Lett. “Hy het daarin gewandel”.

Sien Woordelys.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Lett. “Hy het daarin gewandel”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

D.w.s. Jerobeam II.

Of “redding”.

Of “redding teen”.

Lett. “met die ingang van die jaar”, moontlik in die lente.

Lett. “tent”.

Omtrent 178 m. Sien Aanh. B14.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

D.w.s. Jerobeam II.

Beteken “Jehovah het gehelp”. Hy word Ussia genoem in 2Kn 15:13 2Kr 26:1-23 Jes 6:1 en Sag 14:5.

D.w.s. sy pa, Amasia.

Lett. “by sy vaders neergelê is”.

Of “die ingang van Hamat”.

Ook die Soutsee of die Dooie See genoem.

Beteken “Jehovah het gehelp”. Hy word Ussia genoem in 2Kn 15:13 2Kr 26:1-23 Jes 6:1 en Sag 14:5.

D.w.s. Jerobeam II.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Of “deur die vuur laat gaan”.

Of “die manne van Juda”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Beteken “Jehovah versterk”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Lett. “gevrees”.

D.w.s. in elke plek, of daar nou baie of min inwoners was.

Sien Woordelys.

Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.

Lett. “hulle nek verhard soos die nek van”.

Sien Woordelys.

Of “deur die vuur laat gaan”.

Of “voortekens”.

Lett. “hulleself verkoop om te doen”.

Of “aanbid”.

Of “godsdiensgebruike”.

Of “aanbid”.

Of “gode”.

Lett. “vrees”.

’n Verkorte vorm van Abija.

Sien Woordelys.

Of “Nehustan”.

D.w.s. in elke plek, of daar nou baie of min inwoners was.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

D.w.s. met goud oorgetrek.

Lett. “afgesny”.

Of “die bevelvoerder”.

Of “die hoofhofbeampte”.

Of “die hoofskinker”.

Of “paleis”.

Of “Siriese”.

Of “paleis”.

Of “paleis”.

Of “veroordeling”.

Of moontlik “tussen”.

Of “die kanale van die Nylrivier”.

Lett. “gedoen”.

D.w.s. Hiskia.

Of “wat gegroei het van korrels wat geval het”.

Lett. “dae”.

Hierdie trappe is moontlik gebruik om te bepaal hoe laat dit is, soos ’n sonwyser.

Of “na hulle geluister”.

Of “waarheid”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Sien Woordelys.

Of “deur die vuur laat gaan”.

Of “voortekens”.

Of “spiritistiese mediums aangestel”.

Sien Woordelys.

Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Lett. “huis”.

Of “die krake in”.

Lett. “uitgegooi”.

Of “Tweede Stadsdeel”.

Lett. “jou hart was sag”.

Lett. “tot jou vaders versamel”.

Of “die verbond voor Jehovah hernu”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys, “Gehenna”.

Of “deur die vuur kon laat gaan”.

Lett. “gegee”.

Of “eetkamer”.

Lett. “regs”, d.w.s. suid wanneer ’n mens na die ooste kyk.

D.w.s. die Olyfberg. Verwys veral na die suidelikste deel daarvan wat ook bekend staan as die Berg van Aanstoot.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “van die spiritistiese mediums”.

Of “huisgode; afgode”.

Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.

Sien Woordelys.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of “die onskuldige bloed wat hy vergiet het”.

Lett. “is by sy vaders neergelê”.

Of “Wadi”. Sien Woordelys.

Of moontlik “bouers van verskansings”.

Of moontlik “bouers van verskansings”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Lett. “saad van die koninkryk”.

Lett. “hom ’n troon gegee bo die trone van die konings”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel