DIE EERSTE BOEK VAN SAMUEL
1 Daar was ’n sekere man van Ramataʹim-Soʹfim*+ van die bergstreek van Eʹfraim+ wie se naam Elkaʹna+ was, die seun van Jeroʹham, die seun van Eliʹhu, die seun van Tohu, die seun van Suf, ’n Efraimiet. 2 Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna, en die ander een se naam was Peninʹna. Peninʹna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. 3 Hierdie man het elke jaar van sy stad na Silo+ gegaan om Jehovah van die leërmagte te aanbid en offerandes aan hom te bring. Dit is waar die twee seuns van Eli, Hofni en Piʹnehas,+ as priesters vir Jehovah gedien het.+
4 Eendag, toe Elkaʹna ’n offerande gebring het, het hy dele van die offerande aan sy vrou Peninʹna en aan al haar seuns en dogters gegee.+ 5 Hy het egter ’n spesiale deel aan Hanna gegee, want hy het Hanna meer liefgehad, maar Jehovah het nie vir haar kinders gegee nie.* 6 Wat meer is, Peninʹna* het haar heeltyd uitgetart om haar te ontstel omdat Jehovah nie vir haar kinders gegee het nie. 7 Sy het dit jaar ná jaar gedoen. Elke keer wanneer Hanna na die huis van Jehovah gegaan het,+ het Peninʹna haar so uitgetart dat sy gehuil het en nie geëet het nie. 8 Maar haar man, Elkaʹna, het vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy, en hoekom eet jy nie, en hoekom is jy so hartseer? Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?”
9 Toe hulle klaar geëet en gedrink het in Silo, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die ingang van die tempel*+ van Jehovah gesit. 10 Hanna was bitter hartseer, en sy het tot Jehovah begin bid+ en kon nie ophou huil nie. 11 Sy het toe die volgende gelofte gemaak: “O Jehovah van die leërmagte, kyk hoe swaar kry u diensmeisie. As u aan my dink en my nie vergeet nie en vir u diensmeisie ’n seun gee,+ sal ek hom vir Jehovah gee, sodat hy aan u kan behoort solank as wat hy lewe, en geen skeermes sal naby sy kop kom nie.”+
12 Terwyl sy lank tot Jehovah gebid het, het Eli haar mond dopgehou. 13 Hanna het in haar hart gepraat. Haar lippe het gebewe, maar haar stem kon nie gehoor word nie. Daarom het Eli gedink dat sy dronk is. 14 Eli het vir haar gesê: “Hoekom kom jy dronk hier aan? Jy moet ophou wyn drink.” 15 Toe het Hanna geantwoord: “Nee, my heer! Ek is ’n vrou wat deur ’n baie moeilike tyd gaan. Ek het nie wyn of enige ander alkohol gedrink nie, maar ek stort my siel* voor Jehovah uit.+ 16 Moenie dink dat u diensmeisie ’n slegte vrou is nie, want ek het tot nou toe gebid omdat ek baie hartseer en ontsteld is.” 17 Toe het Eli geantwoord: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou gee wat jy van hom gevra het.”+ 18 Toe het sy gesê: “Mag u diensmeisie u goedkeuring geniet.” En die vrou het weggegaan en geëet, en sy was nie meer hartseer nie.
19 Toe het hulle vroeg die oggend opgestaan en voor Jehovah neergebuig, en daarna het hulle teruggegaan na hulle huis in Rama.+ Elkaʹna het seksuele omgang met sy vrou Hanna gehad, en Jehovah het aan haar gedink.+ 20 Binne ’n jaar* het Hanna swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en hom Samuel* genoem,+ want sy het gesê: “Ek het hom van Jehovah gevra.”
21 Ná verloop van tyd het Elkaʹna saam met sy hele huisgesin gegaan om die jaarlikse offerande aan Jehovah te bring+ en sy gelofte-offer aan te bied. 22 Maar Hanna het nie gegaan nie,+ want sy het vir haar man gesê: “Sodra ek ophou om die seun te borsvoed, sal ek hom bring. Hy sal dan voor Jehovah verskyn en van daardie dag af daar woon.”+ 23 Haar man, Elkaʹna, het toe vir haar gesê: “Doen wat jy dink die beste is. Bly by die huis totdat jy hom nie meer borsvoed nie. Mag Jehovah vervul wat jy gesê het.” Toe het die vrou by die huis gebly en haar seun geborsvoed totdat sy hom gespeen het.
24 Toe sy die seun nie meer geborsvoed het nie, het sy hom na Silo geneem, en sy het ’n drie jaar oue bul, een efa* meel en ’n groot kruik wyn+ saamgeneem. Sy het na die huis van Jehovah in Silo+ gegaan en die jong seun saamgeneem. 25 Hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring. 26 Sy het toe gesê: “Verskoon my, my heer! So waar as wat u lewe, my heer, ek is die vrou wat op hierdie plek by u gestaan het om tot Jehovah te bid.+ 27 Ek het gebid en vir hierdie seun gevra, en Jehovah het vir my gegee wat ek van hom gevra het.+ 28 Daarom leen ek hom nou aan Jehovah. Ek leen hom sy hele lewe lank aan Jehovah.”
En hy* het daar voor Jehovah neergebuig.
2 Toe het Hanna in gebed gesê:
“My hart is bly danksy Jehovah.+
Jehovah het my krag gegee.*
Ek praat moedig teen my vyande,
want ek is bly as gevolg van u reddingsdade.
2 Niemand is heilig soos Jehovah nie,
daar is niemand behalwe u nie,+
en daar is geen rots soos ons God nie.+
3 Hou op om groot te praat.
Laat geen hoogmoedige woorde uit julle mond kom nie,
want Jehovah is ’n God van kennis,+
en hy is regverdig wanneer hy dade beoordeel.
5 Dié wat genoeg kos gehad het, moet hulleself verhuur om brood te kry,
maar dié wat honger was, is nie meer honger nie.+
Die onvrugbare vrou het aan sewe kinders geboorte gegee,+
maar sy wat baie seuns gehad het, is nou verlate.
6 Jehovah maak dood, en hy bewaar lewe.*
Hy laat mense na die Graf* afgaan, en hy laat hulle opstaan.+
8 Hy tel die hulpelose uit die stof op,
en hy haal die een wat arm is, van die ashoop* af+
om hulle by prinse te laat sit
en hulle ’n posisie van eer te gee.
Die fondamente van die aarde behoort aan Jehovah,+
en hy plaas die vrugbare land daarop.
9 Hy bewaar die voetstappe van sy lojales,+
maar die goddeloses sal in die duisternis vernietig word,+
want ’n man oorwin nie deur middel van krag nie.+
10 Jehovah sal dié wat teen hom veg, vernietig.*+
Sy stem sal vanuit die hemel soos die donder teen
hulle dreun.+
Jehovah sal tot aan die eindes van die aarde oordeel.+
Hy sal mag aan sy koning gee,+
11 Toe het Elkaʹna na sy huis in Rama gegaan, maar die seun het ’n dienaar van Jehovah+ geword onder die toesig van die priester Eli.*
12 Die seuns van Eli was slegte manne.+ Hulle het geen respek vir Jehovah gehad nie. 13 Met die deel van die offer wat die volk aan die priesters moes gee, het hulle die volgende gedoen:+ Wanneer iemand ’n offerande gebring het, het ’n dienaar van die priester gekom met ’n drietandvurk in sy hand terwyl die vleis gekook het. 14 Hy het die vurk dan in die kom of die kookpot met twee handvatsels of die kookketel of die kookpot met een handvatsel gesteek. Alles wat aan die vurk vasgesit het, het die priester vir homself gevat. Dit is wat hulle gedoen het met al die Israeliete wat na Silo gekom het. 15 En soms het die dienaar van die priester gekom nog voordat rook uit die vet van die offerande getrek het+ en vir die man wat die offerande bring, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai. Hy wil nie gekookte vleis van jou hê nie, net rou vleis.” 16 As die man vir hom gesê het: “Laat die vet eers rook,+ dan kan jy vir jou vat wat jy ook al wil hê,” het hy gesê: “Nee, gee dit nou vir my, anders neem ek dit met geweld!” 17 Die dienaars se sonde was baie ernstig vir Jehovah,+ want die manne het geen respek vir Jehovah se offers gehad nie.
18 Samuel het voor Jehovah gedien,+ al was hy maar net ’n seun, en hy het ’n linne-efod gedra.+ 19 Sy ma het elke jaar vir hom ’n moulose oorkleed gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gekom het om die jaarlikse offer te bring.+ 20 Eli het Elkaʹna en sy vrou geseën en gesê: “Mag Jehovah uit hierdie vrou vir jou ’n kind gee in die plek van die een wat aan Jehovah geleen is.”+ En hulle het terug huis toe gegaan. 21 Jehovah het aan Hanna gedink, en sy het swanger geword.+ Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee. En die seun Samuel het voor Jehovah grootgeword.+
22 Eli was al baie oud, maar hy het gehoor van alles wat sy seuns aan die hele Israel gedoen het+ en hoe hulle seksuele omgang gehad het met die vrouens wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.+ 23 Hy het dikwels vir hulle gesê: “Hoekom hou julle aan om hierdie dinge te doen? Want al die mense sê slegte dinge van julle. 24 Nee, my seuns, die berigte wat onder Jehovah se volk rondgaan, is nie goed nie. 25 As ’n mens teen ’n ander mens sondig, kan iemand vir hom by Jehovah pleit,* maar as ’n mens teen Jehovah sondig,+ wie kan dan vir hom bid?” Hulle het egter geweier om na hulle pa te luister, want Jehovah het besluit om hulle dood te maak.+ 26 Intussen het die seun Samuel bly groei, en hy het al hoe meer geliefd geword by Jehovah en mense.+
27 ’n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Het ek my nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou voorvader terwyl hulle slawe van die huis van Farao in Egipte was nie?+ 28 En jou voorvader is uit al die stamme van Israel gekies+ om as my priester te dien en om op my altaar+ offerandes te bring, om reukwerk te brand* en om ’n efod voor my te dra. Ek het aan die huis van jou voorvader al die vuuroffers van die Israeliete gegee.+ 29 Hoekom toon julle geen respek vir* my offerande en offergawe wat ek gesê het in my woonplek geoffer moet word nie?+ Hoekom eer jy jou seuns meer as wat jy my eer? Hoekom maak julle julleself vet met die beste dele van elke offer van my volk Israel?+
30 “‘Daarom is dít wat Jehovah, die God van Israel, sê: “Ek het wel gesê dat jou huis en die huis van jou voorvader altyd voor my sal dien.”+ Maar nou sê Jehovah: “Dit sal nie gebeur nie! Want dié wat my eer, sal ek eer, en dié wat geen respek vir my het nie,+ sal sonder respek behandel word.” 31 Kyk! Die dae kom wanneer ek jou krag* en die krag van jou voorvader se huis sal wegneem, sodat niemand in jou huis oud sal word nie.+ 32 En terwyl Israel met goeie dinge geseën word, sal jy ’n vyand in my woonplek vind,+ en daar sal nooit weer ’n ou man in jou huis wees nie. 33 Die man uit jou familie wat ek sal toelaat om by my altaar te bly dien, sal jou oë laat ingee en sal vir jou baie hartseer veroorsaak, maar die meeste van jou huis sal deur die swaard van mense sterf.+ 34 En wat met jou twee seuns, Hofni en Piʹnehas, sal gebeur, sal vir jou die teken wees: Op een dag sal hulle al twee sterf.+ 35 Dan sal ek vir my ’n getroue priester aanstel.+ Hy sal optree in ooreenstemming met die begeerte van my hart,* en ek sal vir hom ’n blywende huis* gee, en hy sal altyd as priester vir my gesalfde dien. 36 Enigiemand van jou huis wat oorbly, sal voor hom kom neerbuig om geld en ’n brood te verdien, en hy sal sê: “Laat my asseblief as ’n priester dien, sodat ek ’n stukkie brood kan hê om te eet.”’”+
3 Intussen het die seun Samuel Jehovah onder Eli se toesig gedien,+ maar in daardie dae was boodskappe van Jehovah skaars, en daar was min visioene.+
2 Eendag het Eli in sy kamer gelê. Sy oë was al so swak dat hy nie meer kon sien nie.+ 3 Die lamp van God+ was nog nie geblus nie, en Samuel het in die tempel*+ van Jehovah gelê, waar die Ark van God was. 4 Jehovah het toe na Samuel geroep. Hy het geantwoord: “Hier is ek.” 5 Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar Eli het gesê: “Ek het nie geroep nie. Gaan lê weer.” Toe het hy weer gaan lê. 6 Jehovah het weer eens geroep: “Samuel!” Samuel het toe opgestaan en na Eli gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar hy het gesê: “Ek het nie geroep nie, my seun. Gaan lê weer.” 7 (Samuel het Jehovah nog nie leer ken nie en het nog nie ’n boodskap van Jehovah ontvang nie.)+ 8 Toe het Jehovah weer geroep, ’n derde keer: “Samuel!” Hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Eli het toe besef dat dit Jehovah is wat die seun roep. 9 Toe het Eli vir Samuel gesê: “Gaan lê, en as hy jou roep, moet jy sê: ‘Praat, Jehovah, u kneg luister.’” En Samuel het weer op sy plek gaan lê.
10 Jehovah het daar kom staan en soos die ander kere geroep: “Samuel, Samuel!” Toe het Samuel geantwoord: “Praat asseblief, want u kneg luister.” 11 Jehovah het vir Samuel gesê: “Kyk! Ek gaan iets in Israel doen, en enigiemand wat daarvan hoor, sal sy ore nie kan glo nie.*+ 12 Op daardie dag sal ek alles aan Eli doen wat ek omtrent sy huis gesê het, van die begin tot die einde.+ 13 Jy moet vir hom sê dat ek sy huis vir altyd sal straf vir die oortreding waarvan hy geweet het,+ want sy seuns vervloek God,+ maar hy het hulle nie gedissiplineer nie.+ 14 Daarom het ek vir die huis van Eli gesweer dat daar nooit met offerandes of offergawes versoening gedoen sal kan word vir die oortreding van die huis van Eli nie.”+
15 Samuel het tot die oggend toe bly lê. Toe het hy die deure van Jehovah se huis oopgemaak. Samuel was bang om vir Eli van die visioen te vertel. 16 Maar Eli het Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!” Toe het hy gesê: “Hier is ek.” 17 Hy het gevra: “Watter boodskap het hy vir jou gegee? Moet dit asseblief nie vir my wegsteek nie. Mag God jou swaar straf* as jy ’n enkele woord vir my wegsteek van alles wat hy vir jou gesê het.” 18 Toe het Samuel hom alles vertel, en hy het niks vir hom weggesteek nie. Eli het gesê: “Dit is Jehovah. Laat hom doen wat goed is in sy oë.”
19 Terwyl Samuel grootgeword het, was Jehovah met hom,+ en God het nie een van sy woorde onvervuld laat bly nie. 20 In die hele Israel, van Dan tot Berseʹba, het dit bekend geword dat Samuel as Jehovah se profeet aangestel is. 21 En Jehovah het aangehou om in Silo te verskyn, want Jehovah het hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur middel van die woord van Jehovah.+
4 En Samuel se woorde het in die hele Israel bekend geword.
Toe het Israel gegaan om teen die Filistyne te veg. Hulle het langs Ebenhaëser kamp opgeslaan, en die kamp van die Filistyne was in Afek. 2 Die Filistyne het in gevegsformasie gaan staan om Israel te ontmoet, maar die geveg het sleg verloop vir Israel, en hulle is deur die Filistyne verslaan. Die Filistyne het omtrent 4 000 manne op die slagveld doodgemaak. 3 Toe die manne na die kamp teruggekeer het, het die ouermanne van Israel gesê: “Hoekom het Jehovah toegelaat dat ons vandag deur die Filistyne verslaan word?*+ Laat ons die ark van Jehovah se verbond uit Silo+ saam met ons neem, sodat dit by ons kan wees en sodat dit ons uit die hand van ons vyande kan red.” 4 Hulle het dus manne na Silo gestuur, en hulle het die ark van die verbond van Jehovah van die leërmagte, wat op sy troon bo* die gerubs sit, gaan haal.+ Eli se twee seuns, Hofni en Piʹnehas,+ was ook daar by die ark van die verbond van die ware God.
5 Toe die ark van die verbond van Jehovah in die kamp inkom, het al die Israeliete hard begin skree, sodat die aarde geskud het. 6 Toe die Filistyne die geskree hoor, het hulle gesê: “Hoekom is daar so ’n harde geskree in die kamp van die Hebreërs?” Uiteindelik het hulle uitgevind dat die Ark van Jehovah in die kamp ingekom het. 7 Die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: “God het in die kamp ingekom!”+ Toe het hulle gesê: “Dit is verby met ons, want so iets het nog nooit voorheen gebeur nie! 8 Dit is verby met ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie magtige God? Dit is die God wat Egipte in die wildernis met allerhande plae getref het.+ 9 Wees moedig en tree soos manne op, Filistyne, sodat julle nie die Hebreërs hoef te dien net soos hulle julle gedien het nie.+ Tree soos manne op en veg!” 10 Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan,+ en elkeen het na sy tent gevlug. Die slagting was baie groot – 30 000 voetsoldate van Israel het geval. 11 Wat meer is, die Filistyne het die Ark van God geneem, en die twee seuns van Eli, Hofni en Piʹnehas, het gesterf.+
12 Op daardie dag het ’n man van Benjamin van die slagveld af gehardloop en met geskeurde klere en grond op sy kop in Silo aangekom.+ 13 Toe die man daar aankom, het Eli op ’n stoel langs die pad gesit en wag, want hy was baie bekommerd* oor die Ark van die ware God.+ Die man het in die stad ingegaan om die nuus te gaan vertel, en die hele stad het begin skree. 14 Toe Eli die geskree hoor, het hy gevra: “Wat beteken al die geraas?” Dieselfde man het vinnig na Eli toe gegaan en vir hom die nuus vertel. 15 (Eli was 98 jaar oud, en sy oë het reguit vorentoe gestaar, en hy kon nie meer sien nie.)+ 16 Toe het die man vir Eli gesê: “Ek het van die slagveld af gekom! Vandag het ek van die slagveld af gevlug.” Toe het hy gevra: “Wat het gebeur, my seun?” 17 Toe het die draer van die nuus gesê: “Israel het vir die Filistyne gevlug, want hulle is verslaan en baie het gesterf.+ U twee seuns, Hofni en Piʹnehas, het ook gesterf,+ en die Filistyne het die Ark van die ware God geneem.”+
18 Die oomblik toe hy die Ark van die ware God noem, het Eli agteroor geval van sy stoel af wat langs die poort was, en hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was oud en swaar. Hy het 40 jaar lank as rigter oor Israel gedien. 19 Sy skoondogter, Piʹnehas se vrou, was swanger en was ver gevorderd in haar swangerskap. Toe sy die nuus hoor dat die Filistyne die Ark van die ware God geneem het en dat haar skoonpa en haar man gesterf het, het sy vooroor gebuig en onverwags geboortepyne begin kry en geboorte gegee. 20 Terwyl sy gesterf het, het die vrouens wat by haar gestaan het, gesê: “Moenie bang wees nie, want jy het aan ’n seun geboorte gegee.” Sy het nie geantwoord of daarop gereageer nie.* 21 Maar sy het die seun Iʹkabod*+ genoem en gesê: “Heerlikheid is uit Israel in ballingskap weggeneem.”+ Sy het verwys na die Ark van die ware God wat weggeneem is, asook na wat met haar skoonpa en haar man gebeur het.+ 22 Sy het gesê: “Heerlikheid is uit Israel in ballingskap weggeneem, want die Ark van die ware God is weggeneem.”+
5 Toe die Filistyne die Ark+ van die ware God geneem het, het hulle dit van Ebenhaëser na Asdod gebring. 2 Die Filistyne het die Ark van die ware God geneem en dit in die tempel* van Dagon ingebring en dit langs Dagon+ neergesit. 3 Toe die Asdodiete die volgende dag vroeg opstaan, het Dagon met sy gesig op die grond voor die Ark van Jehovah+ gelê. Hulle het Dagon opgetel en hom weer op sy plek gesit.+ 4 Toe hulle vroeg die volgende oggend opstaan, het Dagon weer met sy gesig op die grond voor die Ark van Jehovah gelê. Dagon se kop en sy twee hande was afgekap en het op die drumpel gelê. Net die visgedeelte* het oorgebly. 5 Daarom trap die priesters van Dagon en almal wat in die huis van Dagon ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon in Asdod nie.
6 En Jehovah het die Asdodiete swaar gestraf. Hy het Asdod en die omliggende gebiede met aambeie getref.+ 7 Toe die manne van Asdod sien wat gebeur, het hulle gesê: “Moenie die Ark van die God van Israel by ons laat bly nie, want hy het ons en ons god Dagon laat swaarkry.” 8 Hulle het toe al die leiers van die Filistyne bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Wat moet ons met die Ark van die God van Israel doen?” Hulle het geantwoord: “Laat die Ark van die God van Israel na Gat+ geneem word.” Daarom het hulle die Ark van die God van Israel soontoe geneem.
9 Nadat hulle dit soontoe geneem het, het Jehovah die stad gestraf, en dit het groot paniek veroorsaak. Hy het die manne van die stad, klein sowel as groot, met aambeie getref.+ 10 Hulle het dus die Ark van die ware God na Ekron+ gestuur, maar toe die Ark van die ware God in Ekron kom, het die Ekroniete begin uitroep: “Hulle het die Ark van die God van Israel na ons toe gebring om ons en ons volk dood te maak!”+ 11 Toe het hulle al die leiers van die Filistyne bymekaargeroep en gesê: “Stuur die Ark van die God van Israel weg. Laat dit na sy plek terugkeer sodat ons en ons volk nie doodgemaak word nie.” Want die vrees vir die dood het deur die hele stad versprei. Die ware God het die stad swaar gestraf,+ 12 en die manne wat nie gesterf het nie, is met aambeie getref. En die stad se geroep om hulp het na die hemel opgestyg.
6 Die Ark+ van Jehovah was sewe maande lank in die Filistyne se gebied. 2 Die Filistyne het die priesters en die waarsêers+ geroep en gevra: “Wat moet ons met die Ark van Jehovah doen? Sê vir ons hoe ons dit na sy plek moet terugstuur.” 3 Hulle het geantwoord: “As julle die ark van die verbond van Jehovah, die God van Israel, wegstuur, moet julle dit nie sonder ’n offer wegstuur nie. Julle moet seker maak dat julle ’n skuldoffer aan hom stuur.+ Slegs dan sal julle gesond word en weet waarom hy julle bly straf.” 4 Toe het hulle gevra: “Watter skuldoffer moet ons aan hom stuur?” Hulle het gesê: “Stuur vyf goue aambeie en vyf goue muise, een vir elke leier van die Filistyne,+ want dieselfde plaag het julle en julle leiers getref. 5 Julle moet beelde maak van julle aambeie en beelde van die muise+ wat die land verwoes, en julle moet die God van Israel eer. Miskien sal hy ophou om julle en julle god en julle land so swaar te straf.+ 6 Hoekom sou julle julle hart verhard, soos Egipte en Farao gedoen het?+ Toe die God van Israel hulle laat swaarkry het,+ moes hulle Israel laat gaan.+ 7 Maak dan nou ’n nuwe wa, en neem twee koeie wat kalwers het en wat nog nooit onder ’n juk was nie. Span dan die koeie voor die wa in, maar neem hulle kalwers terug huis toe, weg van hulle af. 8 Neem die Ark van Jehovah en sit dit op die wa, en sit die goue voorwerpe wat julle as ’n skuldoffer na hom toe stuur, in ’n kissie langs die Ark.+ Stuur dit dan weg 9 en hou dit dop: As dit op die pad na Bet-Semes+ gaan, na die gebied waar die Ark vandaan kom, dan is hy die een wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. Maar indien nie, dan sal ons weet dat dit nie hy was wat ons gestraf het nie. Dit het net toevallig gebeur.”
10 Die manne het dit gedoen. Hulle het twee koeie wat kalwers het, geneem en hulle voor die wa ingespan, en hulle het die kalwers by die huis ingehok. 11 Toe het hulle die Ark van Jehovah op die wa gesit, sowel as die kissie waarin die goue muise en die beelde van hulle aambeie was. 12 En die koeie het reguit vorentoe begin loop op die pad na Bet-Semes.+ Hulle het op die grootpad gebly en gebulk terwyl hulle geloop het. Hulle het nie regs of links gedraai nie. Die hele tyd het die leiers van die Filistyne agter hulle aan geloop tot by die grens van Bet-Semes. 13 Die mense van Bet-Semes was besig om koring in die valleivlakte te oes. Toe hulle opkyk, was hulle baie bly om die Ark te sien. 14 Die wa het die grond van Josua, die Bet-Semiet, bereik en naby ’n groot klip gestop. Toe het hulle die hout van die wa opgekap en die koeie+ as ’n brandoffer aan Jehovah geoffer.
15 Die Leviete+ het die Ark van Jehovah en die kissie waarin die goue voorwerpe was, afgehaal en dit op die groot klip gesit. Die manne van Bet-Semes+ het op daardie dag brandoffers geoffer en offerandes aan Jehovah gebring.
16 Toe die vyf leiers van die Filistyne dit sien, het hulle op daardie dag na Ekron teruggegaan. 17 Die Filistyne het die goue aambeie as ’n skuldoffer aan Jehovah gestuur:+ een vir Asdod,+ een vir Gasa, een vir Asʹkelon, een vir Gat+ en een vir Ekron.+ 18 Die getal goue muise was dieselfde as die getal Filistynse stede wat aan die vyf leiers behoort het – die versterkte stede sowel as die dorpies in die oop veld.
En die groot klip waarop hulle die Ark van Jehovah gesit het, is tot vandag toe ’n gedenkteken op die grond van Josua, die Bet-Semiet. 19 Maar God het die manne van Bet-Semes doodgemaak omdat hulle na die Ark van Jehovah gekyk het. Hy het 50 070* onder die volk doodgemaak, en die volk het begin treur omdat Jehovah soveel van hulle doodgemaak het.+ 20 Daarom het die manne van Bet-Semes gevra: “Wie sal kan bly staan voor Jehovah, hierdie heilige God?+ Laat hy van ons af weggaan, maar na wie toe?”+ 21 Toe het hulle boodskappers na die inwoners van Kirʹjat-Jeaʹrim+ gestuur en gesê: “Die Filistyne het die Ark van Jehovah teruggegee. Kom hierheen en neem dit saam met julle.”+
7 Die manne van Kirʹjat-Jeaʹrim het toe gekom en die Ark van Jehovah na die huis van Abinaʹdab+ op die heuwel geneem, en hulle het sy seun Eleaʹsar geheilig om die Ark van Jehovah op te pas.
2 Altesaam 20 jaar het verloop van die dag dat die Ark na Kirʹjat-Jeaʹrim toe gekom het, en die hele huis van Israel het Jehovah se hulp begin soek.*+ 3 Samuel het toe vir die hele huis van Israel gesê: “As julle met julle hele hart+ tot Jehovah terugkeer, moet julle ontslae raak van julle vreemde gode+ en Astoʹret-beelde,+ en julle moet lojaal bly aan* Jehovah en hom alleen dien,+ en dan sal hy julle uit die hand van die Filistyne red.”+ 4 Toe het die Israeliete ontslae geraak van die Baäls en die Astoʹret-beelde en Jehovah alleen gedien.+
5 Toe het Samuel gesê: “Laat die hele Israel by Mispa+ bymekaarkom, en ek sal vir julle tot Jehovah bid.”+ 6 Toe het hulle by Mispa bymekaargekom, en hulle het water geskep en dit voor Jehovah uitgegooi en op daardie dag gevas.+ Hulle het daar gesê: “Ons het teen Jehovah gesondig.”+ En Samuel het in Mispa as rigter+ oor die Israeliete begin dien.
7 Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, het die leiers van die Filistyne+ gegaan om teen Israel te veg. Toe die Israeliete daarvan hoor, het hulle bang geword vir die Filistyne. 8 Daarom het die Israeliete vir Samuel gesê: “Moenie ophou om Jehovah ons God te vra om ons te help+ en ons uit die hand van die Filistyne te red nie.” 9 Toe het Samuel ’n lammetjie geneem en dit as ’n heelbrandoffer aan Jehovah geoffer,+ en Samuel het tot Jehovah geroep om Israel te help, en Jehovah het hom geantwoord.+ 10 Terwyl Samuel die brandoffer geoffer het, het die Filistyne nader gekom om teen Israel te veg. Jehovah het toe op daardie dag harde donderslae+ oor die Filistyne laat dreun, en Hy het hulle verwar,+ en hulle is voor Israel verslaan.+ 11 Die manne van Israel het uit Mispa gegaan en die Filistyne agternagesit en hulle tot suid van Bet-Kar verslaan. 12 Toe het Samuel ’n klip+ geneem en dit tussen Mispa en Jesaʹna gesit en dit Ebenhaëser* genoem, want hy het gesê: “Jehovah het ons tot nou toe gehelp.”+ 13 So is die Filistyne onderwerp, en hulle het nie weer in Israel se gebied gekom nie.+ Al die dae van Samuel was die hand van Jehovah teen die Filistyne.+ 14 En die stede wat die Filistyne by Israel geneem het, is aan Israel teruggegee, van Ekron af tot by Gat, en Israel het hulle gebied by die Filistyne teruggeneem.
Daar was ook vrede tussen Israel en die Amoriete.+
15 Samuel het sy hele lewe lank as rigter oor Israel gedien.+ 16 Elke jaar het hy in ’n kring gereis na Bet-El,+ Gilgal+ en Mispa,+ en hy het op al hierdie plekke as rigter oor Israel gedien. 17 Maar hy het altyd na Rama+ teruggekeer, want sy huis was daar, en hy het daar ook as rigter oor Israel gedien. Hy het daar ’n altaar vir Jehovah gebou.+
8 Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as rigters in Israel aangestel. 2 Die naam van sy eersgebore seun was Joël, en die naam van sy tweede was Abiʹa.+ Hulle was rigters in Berseʹba. 3 Maar sy seuns het nie sy voorbeeld gevolg nie. Hulle was geneig om oneerlike wins na te jaag,+ en hulle het omkoopgeskenke aanvaar+ en die reg verdraai.+
4 Ná verloop van tyd het al die ouermanne van Israel bymekaargekom en na Samuel toe gekom in Rama. 5 Hulle het vir hom gesê: “U het oud geword, en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel nou vir ons ’n koning aan om oor ons te regeer, soos al die ander nasies.”+ 6 Maar toe hulle sê: “Gee vir ons ’n koning om oor ons te regeer,” het Samuel niks daarvan gehou nie.* Toe het Samuel tot Jehovah gebid, 7 en Jehovah het vir Samuel gesê: “Luister na alles wat die volk vir jou sê, want hulle het jou nie verwerp nie, maar hulle het my as hulle koning verwerp.+ 8 Hulle doen tot vandag toe nog presies dieselfde as wat hulle gedoen het van die dag af dat ek hulle uit Egipte uitgelei het. Hulle het my keer op keer verlaat+ en ander gode gedien,+ en dit is hoe hulle jou nou behandel. 9 Luister nou na hulle. Maar jy moet hulle ernstig waarsku en vir hulle sê wat die koning wat oor hulle sal regeer, van hulle mag eis.”
10 Samuel het dus vir die volk wat hom vir ’n koning gevra het, alles vertel wat Jehovah vir hom gesê het. 11 Hy het gesê: “Dít is wat die koning wat oor julle sal regeer, van julle mag eis:+ Hy sal julle seuns neem+ en hulle in sy strydwaens sit+ en hulle sy perderuiters maak,+ en party sal voor sy strydwaens moet hardloop. 12 En hy sal vir hom hoofde oor 1 000+ en hoofde oor 50+ aanstel, en party sal vir hom ploeg,+ sy oes insamel+ en sy oorlogswapens en toerusting vir sy strydwaens maak.+ 13 Hy sal julle dogters neem om salf te meng,* te kook en te bak.+ 14 Hy sal julle beste landerye, wingerde en olyfboorde+ neem en dit aan sy knegte gee. 15 Hy sal ’n tiende van julle graanlande en julle wingerde neem, en hy sal dit aan sy hofbeamptes en sy knegte gee. 16 En hy sal julle diensknegte en julle diensmeisies en julle beste beeste en julle donkies neem, en hy sal hulle vir sy werk gebruik.+ 17 Hy sal ’n tiende van julle kleinvee neem,+ en julle sal sy knegte word. 18 Die dag sal kom wanneer julle sal uitroep as gevolg van die koning wat julle vir julle gekies het,+ maar Jehovah sal julle nie op daardie dag antwoord nie.”
19 Maar die volk het geweier om te luister na wat Samuel vir hulle gesê het, en hulle het gesê: “Nee, ons wil beslis ’n koning oor ons hê. 20 Dan sal ons soos al die ander nasies wees, en ons koning sal oor ons regeer en ons lei en hy sal ons oorloë voer.” 21 Nadat Samuel al die woorde van die volk gehoor het, het hy dit aan Jehovah oorgedra. 22 Jehovah het vir Samuel gesê: “Luister na hulle, en stel ’n koning aan om oor hulle te regeer.”+ Toe het Samuel vir die manne van Israel gesê: “Elkeen van julle moet na sy stad terugkeer.”
9 Daar was ’n man van Benjamin met die naam Kis,+ die seun van Abiʹël, die seun van Seror, die seun van Begoʹrat, die seun van Afiʹag, ’n Benjaminiet+ en ’n baie ryk man. 2 Hy het ’n seun gehad met die naam Saul,+ wat jonk en aantreklik was – niemand onder die Israeliete was aantrekliker as hy nie – en hy was van sy skouers af langer as al die ander mense.
3 Toe die donkies* van Saul se pa, Kis, weggeraak het, het hy vir sy seun Saul gesê: “Neem asseblief een van die dienaars saam met jou, en gaan soek die donkies.” 4 Hulle het deur die bergstreek van Eʹfraim en deur die Saliʹsa-streek gegaan, maar hulle het nie die donkies gevind nie. Hulle het deur die Saʹälim-streek gereis, maar hulle was ook nie daar nie. Hulle het deur die hele land van die Benjaminiete gegaan, maar hulle het hulle nie gevind nie.
5 Hulle het in die Suf-streek gekom, en Saul het vir sy dienaar gesê: “Kom ons gaan terug, anders sal my pa meer bekommerd wees oor ons as oor die donkies.”+ 6 Maar die dienaar het geantwoord: “Daar is ’n man van God in hierdie stad, ’n gerespekteerde man. Alles wat hy sê, word altyd waar.+ Kom ons gaan soontoe. Miskien kan hy vir ons sê waarheen ons moet gaan.” 7 Toe het Saul vir sy dienaar gesê: “As ons gaan, wat sal ons vir die man neem? Daar is nie brood in ons sakke nie. Daar is niks om as ’n geskenk vir die man van die ware God te neem nie. Wat het ons?” 8 Toe het die dienaar Saul geantwoord: “Kyk! Hier is ’n kwart sikkel* silwer in my hand. Ek sal dit vir die man van die ware God gee, en hy sal vir ons sê waarheen om te gaan.” 9 (In vroeër tye in Israel sou ’n man die volgende sê wanneer hy God se leiding wou vra:* “Kom, laat ons na die siener toe gaan.”+ Want in vroeër tye is ’n profeet ’n siener genoem.) 10 Toe het Saul vir sy dienaar gesê: “Goed so. Kom ons gaan.” Toe het hulle na die stad gegaan waar die man van die ware God was.
11 Terwyl hulle met die opdraand na die stad opgegaan het, het hulle meisies gesien wat uitgaan om water te skep. Hulle het vir hulle gevra: “Is die siener+ hier?” 12 Hulle het geantwoord: “Ja, hy is. Hy is net voor julle. Maak gou, want hy het vandag na die stad gekom omdat die volk vandag ’n offerande+ op die offerhoogte bring.+ 13 As julle in die stad kom, sal julle hom vind voordat hy na die offerhoogte opgaan om te eet. Die volk sal nie eet voordat hy kom nie, want hy moet die offerande eers seën. Dan mag die genooides eet. As julle nou dadelik opgaan, sal julle hom vind.” 14 Daarom het hulle na die stad opgegaan. Toe hulle in die stad kom, het Samuel uitgekom om hulle te ontmoet en om na die offerhoogte op te gaan.
15 Die dag voordat Saul gekom het, het Jehovah vir Samuel gesê: 16 “Môre omtrent hierdie tyd sal ek ’n man uit die land van Benjamin+ na jou toe stuur. Jy moet hom as leier oor my volk Israel salf,+ en hy sal my volk uit die hand van die Filistyne red. Want ek het gesien hoe my volk swaarkry, en ek het hulle hulpgeroep gehoor.”+ 17 Toe Samuel vir Saul sien, het Jehovah vir hom gesê: “Hier is die man van wie ek vir jou gesê het: ‘Hy sal oor my volk regeer.’”*+
18 Toe het Saul na Samuel toe gegaan in die poort en gesê: “Sê tog asseblief vir my waar die huis van die siener is.” 19 Samuel het vir Saul gesê: “Ek is die siener. Gaan voor my op na die offerhoogte, en julle sal vandag saam met my eet.+ Môreoggend kan julle weer op pad wees, en ek sal vir jou alles vertel wat jy wil weet.* 20 Moenie bekommerd wees oor die donkies wat al drie dae vermis word nie,+ want hulle is gevind. En aan wie behoort al die waardevolle dinge van Israel? Behoort dit nie aan jou en aan die hele huis van jou pa nie?”+ 21 Toe het Saul geantwoord: “Ek is ’n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel,+ en my familie is die onbelangrikste van al die families van die stam van Benjamin. Hoekom het u dan so iets vir my gesê?”
22 Toe het Samuel vir Saul en sy dienaar na die eetsaal gebring en hulle ’n plek aan die hoof van die genooides gegee. Daar was ongeveer 30 manne daar. 23 Samuel het vir die kok gesê: “Bring die stuk vleis wat ek vir jou gegee het en wat ek gesê het jy eenkant moet sit.” 24 Toe het die kok die boud voor Saul gesit. En Samuel het gesê: “Hierdie stuk vleis is vir jou eenkant gehou. Eet, want hulle het dit spesiaal vir hierdie geleentheid vir jou eenkant gesit. Want ek het vir hulle gesê: ‘Ek het gaste genooi.’” Saul het toe op daardie dag saam met Samuel geëet. 25 Toe het hulle van die offerhoogte+ af na die stad gegaan, waar Samuel verder op die plat dak van die huis met Saul gepraat het. 26 Die volgende oggend het hulle vroeg opgestaan, en toe dit lig begin word het, het Samuel vir Saul geroep, wat op die dak was, en gesê: “Maak jou gereed, sodat ek jou kan afsien.” Daarom het Saul hom gereedgemaak, en albei het buitentoe gegaan. 27 Terwyl hulle met die afdraand na die buitewyke van die stad geloop het, het Samuel vir Saul gesê: “Sê vir die dienaar+ om voor ons uit te gaan.” Toe het hy vooruitgegaan, en Samuel het verder gesê: “Maar jy moet bly staan, sodat ek jou die woord van God kan vertel.”
10 Samuel het toe die fles olie geneem en dit op Saul se kop uitgegooi.+ Hy het hom gesoen en gesê: “Jehovah het jou as ’n leier+ oor sy erfdeel gesalf.+ 2 Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee manne naby die graf van Ragel+ in die gebied van Benjamin by Selsag vind, en hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies wat jy gaan soek het, is gevind, maar nou het jou pa van die donkies+ vergeet en oor julle bekommerd geraak. Hy vra: “Wat moet ek omtrent my seun doen?”’ 3 Gaan verder daarvandaan totdat jy by die groot boom van Tabor kom, waar jy drie manne sal ontmoet wat na die ware God in Bet-El+ gaan. Die een man sal drie boklammers dra, die ander een sal drie brode dra en die derde een sal ’n groot kruik wyn dra. 4 Hulle sal jou vra hoe dit met jou gaan en vir jou twee brode gee, en jy moet die brode by hulle neem. 5 Daarna sal jy by die heuwel van die ware God kom, waar ’n groep Filistynse soldate geplaas is. Wanneer jy by die stad kom, sal jy ’n groep profete ontmoet wat van die offerhoogte afkom. Terwyl hulle profeteer, sal musikante voor hulle loop en op ’n snaarinstrument, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n harp speel. 6 Die gees van Jehovah sal jou krag gee,+ en jy sal saam met hulle profeteer en soos ’n ander mens word.+ 7 Nadat hierdie tekens plaasgevind het, moet jy doen wat jy kan om jou toewysing uit te voer, want die ware God is met jou. 8 Gaan dan voor my uit na Gilgal,+ en ek sal daar na jou toe kom om brandoffers te offer en vrede-offers* te bring. Jy moet sewe dae lank wag totdat ek na jou toe kom. Dan sal ek jou laat weet wat jy moet doen.”
9 Toe Saul omdraai om Samuel te verlaat, het God sy hart begin verander sodat hy soos ’n ander mens geword het, en al hierdie tekens het op daardie dag waar geword. 10 Van daar af het hulle na die heuwel gegaan, en ’n groep profete het hom ontmoet. Die gees van God het hom dadelik krag gegee,+ en hy het saam met hulle begin profeteer.+ 11 Toe almal wat hom voorheen geken het, sien hoe hy saam met die profete profeteer, het hulle vir mekaar gevra: “Wat het met die seun van Kis gebeur? Is Saul ook een van die profete?” 12 ’n Man van daardie omgewing het toe gevra: “Maar wie is hulle pa?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook een van die profete?”+
13 Toe hy klaar geprofeteer het, het hy na die offerhoogte toe gegaan. 14 Die broer van Saul se pa het later vir hom en vir sy dienaar gevra: “Waarheen het julle gegaan?” Toe het hy gesê: “Om die donkies te gaan soek,+ maar ons kon hulle nêrens vind nie, en daarom het ons na Samuel toe gegaan.” 15 Saul se oom het gevra: “Sê asseblief vir my: Wat het Samuel vir julle gesê?” 16 Saul het vir sy oom gesê: “Hy het vir ons gesê dat die donkies reeds gevind is.” Maar Saul het nie vir hom gesê wat Samuel oor die koningskap gesê het nie.
17 Samuel het die volk toe voor Jehovah in Mispa+ bymekaargeroep 18 en vir die Israeliete gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek het Israel uit Egipte uitgelei en julle gered uit die hand van Egipte+ en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het. 19 Maar vandag het julle julle God+ verwerp wat julle uit al julle krisisse en moeilikhede gered het, en julle het gesê: “Nee, jy moet beslis ’n koning oor ons aanstel.” Gaan staan dan nou voor Jehovah volgens julle stamme en volgens julle familiegroepe.’”*
20 Daarom het Samuel al die stamme van Israel laat nader kom,+ en die stam van Benjamin is gekies.+ 21 Toe het hy die stam van Benjamin volgens sy families laat nader kom, en die familie van die Matriete is gekies. Uiteindelik is Saul, die seun van Kis, gekies.+ Maar toe hulle hom gaan soek, kon hulle hom nêrens kry nie. 22 Hulle het Jehovah dus gevra:+ “Het die man al hierheen gekom?” Jehovah het geantwoord: “Hy kruip daar tussen die bagasie weg.” 23 Hulle het gehardloop en hom daar gaan haal. Hy het in die middel van die volk gaan staan, en hy was van sy skouers af langer as al die ander mense.+ 24 Samuel het vir die hele volk gesê: “Sien julle die een wat Jehovah uitgekies het?+ Onder die hele volk is daar niemand soos hy nie.” Toe het die hele volk begin uitroep: “Lank lewe die koning!”
25 Samuel het met die volk gepraat oor wat die koning van hulle mag eis+ en dit in ’n boek geskryf en dit voor Jehovah neergesit. Toe het Samuel die hele volk weggestuur, elkeen na sy huis. 26 Saul het ook na sy huis in Giʹbea gegaan, en die vegters wie se harte deur Jehovah geraak is, het saam met hom gegaan. 27 Maar ’n paar slegte manne het gesê: “Hoe sal hy ons red?”+ Hulle het op hom neergesien en het nie vir hom ’n geskenk gebring nie.+ Maar hy het niks daarvan gesê nie.*
11 Toe het Nahas, die Ammoniet,+ opgetrek om teen Jabes+ in Giʹlead te veg. Al die manne van Jabes het vir Nahas gesê: “Maak ’n verbond* met ons, en ons sal u dien.” 2 Toe het Nahas, die Ammoniet, vir hulle gesê: “Ek sal ’n verbond met julle maak op die voorwaarde dat ek die regteroog van elkeen van julle uitsteek. Ek sal dit doen om die hele Israel te verneder.” 3 Die ouermanne van Jabes het vir hom gesê: “Gee ons sewe dae, sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. Dan, as daar niemand is om ons te red nie, sal ons ons aan u oorgee.” 4 Ná verloop van tyd het die boodskappers by Giʹbea,+ Saul se woonplek, gekom en toe hulle vir die volk hierdie woorde sê, het die hele volk kliphard begin huil.
5 Maar Saul het van die veld af gekom, en hy was agter die beeste. Hy het gevra: “Wat makeer die volk? Hoekom huil hulle?” Toe het hulle vir hom vertel wat die manne van Jabes gesê het. 6 Die gees van God het Saul krag gegee+ toe hy hierdie woorde hoor, en hy het woedend geword. 7 Daarom het hy ’n paar bulle geneem en hulle in stukke gesny, en hy het dit met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur. Hulle het gesê: “Elkeen wat Saul en Samuel nie volg nie, moet verwag dat dít met sy beeste gedoen sal word!” En Jehovah het die volk bang laat word, en hulle het soos een man uitgekom. 8 Toe het hy hulle in Beʹsek getel, en daar was 300 000 Israeliete en 30 000 manne van Juda. 9 Hulle het toe vir die boodskappers wat gekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Giʹlead sê: ‘Wanneer die son môre op sy hoogste is,* sal julle gered word.’” Toe het die boodskappers gekom en dit vir die manne van Jabes vertel, en hulle was baie bly. 10 Die manne van Jabes het dus vir die Ammoniete gesê: “Môre sal ons ons aan julle oorgee, en julle kan aan ons doen wat julle ook al wil.”+
11 Die volgende dag het Saul die manne in drie afdelings verdeel, en hulle het gedurende die oggendwaak* in die kamp ingegaan en die Ammoniete+ doodgemaak totdat die son op sy hoogste was. Dié wat oorleef het, is verstrooi, en elke man wat weggekom het, het alleen weggekom. 12 Toe het die volk vir Samuel gesê: “Waar is daardie manne wat gesê het: ‘Saul moenie ons koning wees nie’?+ Lewer hulle aan ons oor, en ons sal hulle doodmaak.” 13 Saul het egter gesê: “Niemand moet vandag doodgemaak word nie,+ want vandag het Jehovah Israel gered.”
14 Samuel het later vir die volk gesê: “Kom, laat ons na Gilgal+ gaan sodat ons Saul se koningskap weer kan bevestig.”+ 15 Die hele volk het na Gilgal gegaan, en in Gilgal het hulle Saul voor Jehovah koning gemaak. Toe het hulle daar voor Jehovah vrede-offers* gebring,+ en Saul en al die manne van Israel het vreugdevol feesgevier.+
12 Uiteindelik het Samuel vir die hele Israel gesê: “Ek het alles gedoen wat julle van my gevra het, en ek het ’n koning aangestel om oor julle te regeer.+ 2 Hier is die koning wat julle lei!*+ Ek het oud en grys geword, en my seuns is hier by julle,+ en ek het julle van my jong dae af tot vandag toe gelei.+ 3 Hier is ek. Getuig teen my voor Jehovah en voor sy gesalfde:+ Wie se bul of wie se donkie het ek geneem?+ Of wie het ek uitgebuit of onderdruk? Uit wie se hand het ek ’n omkoopgeskenk aanvaar om my blind te hou vir iets verkeerds?+ As ek so iets gedoen het, sal ek julle daarvoor vergoed.”+ 4 Hulle het geantwoord: “U het ons nie uitgebuit of onderdruk nie, en u het niks uit enigiemand se hand aanvaar nie.” 5 Toe het hy vir hulle gesê: “Jehovah is ’n getuie teen julle, en sy gesalfde is vandag ’n getuie dat daar niks is waarvan julle my kan beskuldig nie.”* Hulle het toe gesê: “Hy is ’n getuie.”
6 Toe het Samuel vir die volk gesê: “Jehovah, wat vir Moses en Aäron aangestel het en wat julle voorvaders uit Egipte uitgelei het,+ is ’n getuie. 7 Neem dan nou julle posisies in, en ek sal julle voor Jehovah oordeel en julle herinner aan al die regverdige dade wat Jehovah vir julle en julle voorvaders gedoen het.
8 “Nadat Jakob in Egipte+ gekom het en julle voorvaders tot Jehovah om hulp begin roep het,+ het Jehovah Moses+ en Aäron gestuur om julle voorvaders uit Egipte uit te lei en hulle hier te laat woon.+ 9 Maar hulle het Jehovah hulle God vergeet, en hy het hulle+ in die hand van Siʹsera,+ die hoof van die leërmag van Hasor, en in die hand van die Filistyne+ en in die hand van die koning van Moab+ gegee, en hulle het teen hulle geveg. 10 En hulle het tot Jehovah om hulp begin roep+ en gesê: ‘Ons het gesondig,+ want ons het Jehovah verlaat om die Baäls+ en die Astoʹret-beelde+ te dien. Red ons nou uit die hand van ons vyande, sodat ons u kan dien.’ 11 Toe het Jehovah Jerubʹbaäl,+ Bedan, Jefta+ en Samuel+ gestuur en julle uit die hand van julle vyande rondom julle gered, sodat julle in veiligheid kon woon.+ 12 Toe julle sien dat Nahas,+ die koning van die Ammoniete, julle aanval, het julle vir my bly sê: ‘Nee, ons wil beslis ’n koning oor ons hê,’+ al is Jehovah julle God julle Koning.+ 13 Nou goed, hier is die koning wat julle gekies het en waarvoor julle gevra het. Kyk! Jehovah het ’n koning oor julle aangestel.+ 14 Maar dit sal slegs met julle goed gaan as julle Jehovah+ vrees en hom dien+ en sy stem gehoorsaam+ en as julle nie teen die bevel van Jehovah in opstand kom nie en as julle en die koning wat oor julle regeer, Jehovah julle God volg. 15 Maar as julle nie die stem van Jehovah gehoorsaam nie en julle teen die bevel van Jehovah in opstand kom, sal Jehovah julle en julle vaders straf.+ 16 Neem nou julle posisies in en sien hierdie groot ding wat Jehovah voor julle oë sal doen. 17 Dit is nou die tyd van die koringoes. Maar ek sal Jehovah vra om donderslae en reën te gee. Dan sal julle weet en verstaan wat ’n slegte ding julle in Jehovah se oë gedoen het deur vir ’n koning te vra.”+
18 Samuel het toe tot Jehovah geroep, en Jehovah het op daardie dag donderslae en reën gegee, sodat die hele volk Jehovah en Samuel grootliks gevrees het. 19 En die hele volk het vir Samuel gesê: “Bid vir ons tot Jehovah u God+ sodat ons nie sal sterf nie, want ons het al so baie sondes gepleeg, en nou het ons nog iets slegs gedoen deur vir ’n koning te vra.”
20 Toe het Samuel vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie. Dit is waar dat julle al hierdie sondes gepleeg het. Maar moet net nie ophou om Jehovah te volg nie, en dien Jehovah+ met julle hele hart.+ 21 Moenie afdwaal om die leë dinge* te volg,+ wat geen voordeel inhou+ en wat julle nie kan red nie, want hulle is niks werd nie.* 22 Ter wille van sy groot naam+ sal Jehovah sy volk nie verlaat nie,+ want Jehovah het self besluit dat julle sy volk sou word.+ 23 Wat my betref, ek sal nooit eers daaraan dink om teen Jehovah te sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook aanhou om julle te leer wat die goeie en die regte weg is. 24 Vrees Jehovah+ en dien hom getrou* met julle hele hart. Dink terug aan die groot dinge wat hy vir julle gedoen het.+ 25 Maar as julle hardkoppig bly doen wat sleg is, sal julle saam met julle koning+ weggevee word.”+
13 Saul was . . .* jaar oud toe hy koning geword het,+ en hy het twee jaar oor Israel regeer. 2 Toe het Saul vir hom 3 000 manne uit Israel gekies: 2 000 van hulle was by Saul in Migmas en in die bergstreek van Bet-El, en 1 000 was by Joʹnatan+ in Giʹbea+ van Benjamin. Hy het die res van die manne weggestuur na hulle tente toe. 3 Toe het Joʹnatan die groep Filistynse+ soldate verslaan wat in Geba+ was, en die Filistyne het daarvan gehoor. Saul het beveel dat daar regoor die land op die horing geblaas moet word+ en gesê moet word: “Laat die Hebreërs dit hoor!” 4 Die hele Israel het die nuus gehoor: “Saul het ’n groep Filistynse soldate verslaan, en nou haat die Filistyne Israel nog meer.” Toe is die manne bymekaargeroep om Saul by Gilgal+ te volg.
5 Die Filistyne het ook bymekaargekom om teen Israel te veg met 30 000 strydwaens, 6 000 perderuiters en so baie soldate soos die sandkorrels op die strand.+ Hulle het na Migmas, oos van Bet-Awen,+ gegaan en daar kamp opgeslaan. 6 En die manne van Israel het gesien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle situasie nie goed lyk nie. Daarom het die volk in die grotte,+ die holtes, die kranse, die kelders en die waterputte gaan wegkruip. 7 Party van die Hebreërs het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en na die land van Gad en Giʹlead+ gegaan. Maar Saul was nog in Gilgal, en al die manne wat hom gevolg het, het van vrees gebewe. 8 Hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel vasgestel het, maar Samuel het nie na Gilgal gekom nie, en die manne het Saul begin verlaat. 9 Uiteindelik het Saul gesê: “Bring die brandoffer en die vrede-offers* na my toe.” Toe het hy die brandoffer geoffer.+
10 Maar net toe hy die brandoffer klaar geoffer het, het Samuel daar aangekom. Saul het dus uitgegaan om hom te ontmoet en om hom te seën. 11 Samuel het gevra: “Wat het jy gedoen?” Saul het geantwoord: “Ek het gesien dat die manne my begin verlaat,+ en u het nie binne die vasgestelde tyd gekom nie, en die Filistyne het in Migmas+ bymekaargekom. 12 Toe het ek vir myself gesê: ‘Nou gaan die Filistyne my hier in Gilgal aanval, en ek het nog nie Jehovah se goedkeuring gesoek nie.’* Ek het dus verplig gevoel om die brandoffer te offer.”
13 Toe het Samuel vir Saul gesê: “Dit was baie dom van jou. Jy het nie die gebod gehoorsaam wat Jehovah jou God jou gegee het nie.+ As jy gehoorsaam was, sou Jehovah jou koninkryk vir ewig stewig oor Israel bevestig het. 14 Maar nou gaan jou koninkryk nie bly bestaan nie.+ Jehovah sal vir hom ’n man na sy hart+ vind, en Jehovah sal hom as ’n leier oor sy volk aanstel,+ want jy was nie gehoorsaam aan Jehovah se bevel nie.”+
15 Toe het Samuel opgestaan en van Gilgal na Giʹbea van Benjamin gegaan, en Saul het die manne getel. Daar was nog ongeveer 600 manne by hom.+ 16 Saul, sy seun Joʹnatan en die manne wat nog by hulle was, het in Geba+ van Benjamin gebly, en die Filistyne het in Migmas+ kamp opgeslaan. 17 Daar was drie groepe soldate wat uit die kamp van die Filistyne op strooptogte gegaan het. Die een groep het gewoonlik die pad na Ofra, na die land Sual, geneem. 18 Die ander groep het die pad na Bet-Horon+ geneem, en die derde groep het die pad geneem na die grens wat op die Seboʹïm-vallei uitkyk, in die rigting van die wildernis.
19 In daardie tyd was daar nie ’n enkele metaalwerker in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Anders kan die Hebreërs swaarde en spiese maak.” 20 En al die Israeliete moes na die Filistyne toe gaan om hulle ploegskare, bylpikke, byle en sekels te laat skerp maak. 21 Dit het ’n pim* gekos vir die skerpmaak van ’n ploegskaar of ’n bylpik of ’n drietandwerktuig of ’n byl of vir herstelwerk aan ’n osdrywerstok.* 22 In oorlogstyd het nie een van die manne by Saul en Joʹnatan+ ’n swaard of ’n spies gehad nie. Net Saul en sy seun Joʹnatan het wapens gehad.
23 En ’n groep Filistynse soldate* het na die pas by die kloof van Migmas+ gegaan.
14 Op ’n dag het Joʹnatan,+ die seun van Saul, vir die dienaar wat sy wapens dra, gesê: “Kom ons gaan oor na die Filistynse voorpos daar oorkant.” Maar hy het nie vir sy pa daarvan gesê nie. 2 Saul het aan die buitewyke van Giʹbea+ gebly onder die granaatboom in Migron, en daar was ongeveer 600 manne by hom.+ 3 (Ahiʹa, die seun van Ahiʹtub,+ die broer van Iʹkabod,+ die seun van Piʹnehas,+ die seun van Eli,+ die priester van Jehovah in Silo,+ het die efod+ gedra.) En die manne het nie geweet dat Joʹnatan nie daar is nie. 4 Daar was ’n tandvormige rots aan elke kant van die deurgang van die kloof wat Joʹnatan wou oorsteek om by die voorpos van die Filistyne uit te kom. Die naam van die een was Boses en die naam van die ander was Sene. 5 Die een rots was ’n pilaar in die noorde oorkant Migmas, en die ander was in die suide oorkant Geba.+
6 Toe het Joʹnatan vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die voorpos van hierdie onbesnede manne.+ Miskien sal Jehovah vir ons optree, want Jehovah kan deur baie of deur min red, en niks kan hom keer nie.”+ 7 Toe het sy wapendraer vir hom gesê: “Doen wat jou hart jou ook al beweeg om te doen. Waar jy gaan, sal ek gaan.” 8 Toe het Joʹnatan gesê: “Kom ons gaan oor na daardie manne toe sodat hulle ons kan sien. 9 As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons na julle toe kom!’ dan sal ons staan waar ons is en nie na hulle toe gaan nie. 10 Maar as hulle sê: ‘Kom op na ons toe!’ dan sal ons opgaan, want dit sal die teken wees dat Jehovah hulle in ons hand sal gee.”+
11 Toe het hulle twee seker gemaak dat die voorpos van die Filistyne hulle sien. Die Filistyne het gesê: “Kyk! Hier kom die Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.”+ 12 Toe het die manne van die voorpos vir Joʹnatan en sy wapendraer gesê: “Kom op na ons toe, en ons sal julle ’n les leer!”+ Joʹnatan het dadelik vir sy wapendraer gesê: “Volg my, want Jehovah sal hulle in die hand van Israel gee.”+ 13 En Joʹnatan het hande-viervoet opgeklim, en sy wapendraer was agter hom. Joʹnatan het die Filistyne aangeval, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak. 14 In hierdie eerste aanval het Joʹnatan en sy wapendraer binne ’n kort afstand* ongeveer 20 manne doodgemaak.
15 Toe het almal in die kamp en die hele voorpos paniekbevange geraak, en selfs die groepe soldate wat gewoonlik op strooptogte gegaan het,+ het baie bang geword. Die aarde het begin skud, en God het hulle paniekbevange gemaak. 16 Saul se wagte in Giʹbea+ van Benjamin het gesien dat die verwarring in alle rigtings versprei.+
17 Saul het vir die manne by hom gesê: “Tel asseblief, en kyk wie ons verlaat het.” Toe hulle tel, het hulle gesien dat Joʹnatan en sy wapendraer nie daar is nie. 18 Saul het toe vir Ahiʹa+ gesê: “Bring die Ark van die ware God hier!” (Want die Ark van die ware God was op daardie stadium by die Israeliete.) 19 En terwyl Saul met die priester Ahiʹa gepraat het, het die verwarring in die kamp van die Filistyne al hoe groter geword. Toe het Saul vir die priester gesê: “Hou op waarmee jy besig is.”* 20 Saul en al die manne by hom het bymekaargekom en gaan veg. Toe hulle by die geveg kom, het hulle gesien dat die Filistyne mekaar met die swaard aangeval het. Daar was baie groot verwarring. 21 En die Hebreërs wat voorheen by die Filistyne aangesluit het en saam met hulle in die kamp ingegaan het, het oorgegaan na die Israeliete wat onder die bevel van Saul en Joʹnatan was. 22 Al die manne van Israel wat in die bergstreek van Eʹfraim weggekruip het,+ het gehoor dat die Filistyne gevlug het, en hulle het ook by die geveg aangesluit en hulle agternagesit. 23 So het Jehovah Israel op daardie dag gered,+ en die geveg het voortgeduur tot by Bet-Awen.+
24 Maar die manne van Israel was op daardie dag uitgeput, want Saul het die manne onder die volgende eed geplaas: “Vervloek is die man wat enige kos* eet voordat dit aand word en voordat ek op my vyande wraak neem!” Daarom het nie een van die manne enige kos geëet nie.+
25 En al die manne het in die woud ingegaan, waar daar heuning was. 26 Toe die manne in die woud kom, het hulle gesien hoe die heuning drup, maar niemand het daarvan geëet nie, want hulle was bang vir die eed. 27 Maar Joʹnatan het nie gehoor toe sy pa die manne onder die eed geplaas het nie,+ en daarom het hy die punt van die staf wat in sy hand was, in die heuningkoek gesteek. Toe hy daarvan eet, het sy oë opgehelder. 28 Maar een van die manne het gesê: “Jou pa het die manne onder ’n streng eed geplaas en gesê: ‘Vervloek is die man wat vandag kos eet!’+ Dit is hoekom die manne so moeg is.” 29 Maar Joʹnatan het gesê: “My pa het groot moeilikheid* oor die land gebring. Kyk hoe my oë opgehelder het omdat ek hierdie klein bietjie heuning geproe het. 30 Hoeveel beter sou dit gewees het as die manne vandag vryelik geëet het+ van wat hulle van hulle vyande geneem het! Want dan sou ons selfs ’n groter oorwinning oor die Filistyne kon behaal het.”
31 Op daardie dag het hulle die Filistyne van Migmas tot by Aʹjalon+ bly verslaan, en die manne het baie moeg geword. 32 Die manne het gulsig op die vyande se besittings toegesak, en hulle het skape en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en hulle het die vleis met bloed en al geëet.+ 33 Toe het Saul die volgende berig gekry: “Kyk! Die manne sondig teen Jehovah deur vleis saam met die bloed te eet.”+ Hy het gesê: “Julle was ontrou. Rol nou dadelik ’n groot klip na my toe.” 34 Saul het toe gesê: “Gaan tussen die manne deur en sê vir hulle: ‘Elkeen van julle moet sy bul en sy skaap bring en dit hier slag en dan eet. Moenie teen Jehovah sondig deur vleis saam met die bloed te eet nie.’”+ Op daardie nag het elkeen van hulle dus sy bul gebring en dit daar geslag. 35 En Saul het ’n altaar vir Jehovah gebou.+ Dit was die eerste altaar wat hy vir Jehovah gebou het.
36 Later het Saul gesê: “Kom ons gaan in die nag agter die Filistyne aan en laat ons hulle tot die oggend toe stroop. Ons sal nie een van hulle laat lewe nie.” Toe het hulle gesê: “Doen wat u ook al dink goed is.” Toe het die priester gesê: “Laat ons eers die ware God hier raadpleeg.”+ 37 Saul het God gevra: “Moet ek die Filistyne agternasit?+ Sal u hulle in Israel se hand gee?” Maar God het hom nie op daardie dag geantwoord nie. 38 Toe het Saul gesê: “Julle almal, al die hoofmanne van die volk, kom hier, en gaan vind uit watter sonde vandag gepleeg is. 39 Want so waar as wat Jehovah lewe, wat Israel gered het, al is dit my seun Joʹnatan, hy moet sterf.” Maar nie een van die manne het hom geantwoord nie. 40 Hy het toe vir die hele Israel gesê: “Julle moet aan die een kant staan, en ek en my seun Joʹnatan sal aan die ander kant staan.” Toe het die manne vir Saul gesê: “Doen wat u ook al dink goed is.”
41 Saul het toe vir Jehovah gesê: “O God van Israel, antwoord tog met die Tummim!”+ Toe is Joʹnatan en Saul gekies, en die res van die manne is onskuldig bevind. 42 Saul het toe gesê: “Werp die lot+ tussen my en my seun Joʹnatan.” En Joʹnatan is gekies. 43 Toe het Saul vir Joʹnatan gesê: “Sê vir my: Wat het jy gedoen?” Joʹnatan het vir hom gesê: “Ek het maar net ’n bietjie heuning geproe wat aan die punt van my staf was.+ Hier is ek! Ek is gereed om te sterf!”
44 Toe het Saul gesê: “Mag God my swaar straf* as jy nie sterf nie, Joʹnatan.”+ 45 Maar die manne het vir Saul gesê: “Moet Joʹnatan sterf, wat Israel hierdie groot oorwinning* gegee het?+ Dit mag nie gebeur nie! So waar as wat Jehovah lewe, nie eers ’n enkele haar van sy kop sal op die grond val nie, want hy het vandag saam met God gewerk.”+ Die manne het Joʹnatan dus gered,* en hy het nie gesterf nie.
46 Saul het toe opgehou om die Filistyne agterna te sit, en die Filistyne het na hulle eie gebied gegaan.
47 Saul het homself as koning oor Israel gevestig en het teen al sy vyande reg rondom hom geveg, naamlik die Moabiete,+ die Ammoniete,+ die Edomiete,+ die konings van Soba+ en die Filistyne.+ Oral waar hy gegaan het, het hy hulle verslaan. 48 Hy was ’n dapper vegter. Hy het die Amalekiete+ oorwin en Israel uit die hand van hulle vyande* gered.
49 Die seuns van Saul was Joʹnatan, Jiswi en Malkisua.+ Hy het ook twee dogters gehad: die naam van die oudste was Merab,+ en die naam van die jongste was Migal.+ 50 Die naam van Saul se vrou was Ahiʹnoam, die dogter van Ahiʹmaäs. Die naam van die hoof van sy leërmag was Abner,+ die seun van Ner, die oom van Saul. 51 Kis+ was Saul se pa. Ner,+ Abner se pa, was die seun van Abiʹël.
52 Die hele tyd dat Saul regeer het, was daar hewige gevegte teen die Filistyne.+ Wanneer Saul ’n sterk of dapper man gesien het, het hy hom in sy diens geneem.+
15 Toe het Samuel vir Saul gesê: “Jehovah het my gestuur om jou te salf as koning oor sy volk Israel.+ Luister nou na wat Jehovah sê.+ 2 Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Ek sal die Amalekiete straf omdat hulle Israel aangeval het toe Israel uit Egipte gekom het.+ 3 Gaan nou, en verslaan die Amalekiete+ en vernietig hulle+ en alles wat hulle het. Jy mag nie hulle lewe spaar nie.* Jy moet man sowel as vrou doodmaak,+ kind sowel as baba, bul sowel as skaap, kameel sowel as donkie.’”+ 4 Saul het die manne opgeroep en hulle in Telaʹim getel. Daar was 200 000 voetsoldate en 10 000 manne van Juda.+
5 Saul het tot by die stad van Aʹmalek gekom en manne in die vallei* laat wegkruip om die Amalekiete aan te val. 6 Toe het Saul vir die Keniete+ gesê: “Gaan weg van die Amalekiete af, sodat ek julle nie saam met hulle wegvee nie,+ want julle het lojale liefde aan al die Israeliete betoon+ toe hulle uit Egipte gekom het.” Die Keniete het dus van die Amalekiete af weggegaan. 7 Daarna het Saul die Amalekiete+ verslaan van Haʹwila+ af tot by Sur,+ wat langs Egipte is. 8 Hy het Agag,+ die koning van Aʹmalek, lewend gevang, maar hy het al die ander mense met die swaard doodgemaak.+ 9 Maar Saul en die manne het Agag gespaar,* sowel as die beste van die kleinvee, die beeste, die vetgemaakte diere, die skaapramme en alles wat goed was.+ Hulle wou dit nie vernietig nie. Maar hulle het alles vernietig wat waardeloos was en wat niemand wou hê nie.
10 Toe het Jehovah vir Samuel gesê: 11 “Ek is spyt* dat ek Saul koning gemaak het, want hy het opgehou om my te volg en het nie gedoen wat ek gesê het nie.”+ Samuel het baie ontsteld geword, en hy het die hele nag lank tot Jehovah geroep.+ 12 Toe Samuel vroeg die oggend opstaan om Saul te ontmoet, is daar vir Samuel gesê: “Saul het na Karmel+ gegaan, en hy het vir hom ’n monument daar opgerig.+ Toe het hy omgedraai en na Gilgal gegaan.” 13 Toe Samuel uiteindelik by Saul kom, het Saul vir hom gesê: “Mag Jehovah u seën. Ek het gedoen wat Jehovah gesê het.” 14 Maar Samuel het gevra: “Wat is hierdie geluid van kleinvee in my ore dan, en die geluid van beeste wat ek hoor?”+ 15 Saul het geantwoord: “Hulle is van die Amalekiete af gebring, want die manne het die beste van die kleinvee en die beeste gespaar om dit aan Jehovah u God te offer, maar ons het alles vernietig wat oorgebly het.” 16 Toe het Samuel vir Saul gesê: “Dis genoeg! Kom ek sê vir jou wat Jehovah gisteraand vir my gesê het.”+ Toe het hy vir hom gesê: “Vertel my!”
17 Samuel het verder gesê: “Het jy nie min van jouself gedink+ toe jy hoof van die stamme van Israel geword het en toe Jehovah jou as koning oor Israel gesalf het nie?+ 18 Later het Jehovah vir jou ’n opdrag gegee en gesê: ‘Gaan vernietig die sondige Amalekiete.+ Veg teen hulle totdat jy hulle uitgeroei het.’+ 19 Hoekom het jy dan nie Jehovah se stem gehoorsaam nie? Jy het eerder gulsig op die vyande se besittings afgepyl+ en gedoen wat sleg is in Jehovah se oë!”
20 Saul het egter vir Samuel gesê: “Maar ek hét Jehovah se stem gehoorsaam! Ek het gegaan soos Jehovah vir my gesê het, en ek het Agag, die koning van Aʹmalek, saamgebring, en ek het die Amalekiete vernietig.+ 21 Maar die manne het die beste skape en beeste wat vernietig moes word, geneem om in Gilgal+ aan Jehovah u God te offer.”
22 Samuel het toe gesê: “Wat gee Jehovah meer vreugde: brandoffers en offerandes+ of gehoorsaamheid aan Jehovah? Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande,+ en om aandag te skenk, is beter as die vet+ van skaapramme. 23 Want opstandigheid+ is dieselfde as die sonde van waarsêery,+ en om vermetel* op te tree, is dieselfde as om toorkrag te gebruik en afgode* te dien. Omdat jy die woord van Jehovah verwerp het,+ het hy jou as koning verwerp.”+
24 Toe het Saul vir Samuel gesê: “Ek het gesondig, want ek was nie gehoorsaam aan Jehovah se bevel en aan u woorde nie, want ek was bang vir die manne en het na hulle geluister. 25 Vergewe nou asseblief my sonde en gaan saam met my terug sodat ek voor Jehovah kan neerbuig.”+ 26 Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie, want jy het die woord van Jehovah verwerp, en Jehovah het jou verwerp. Daarom sal jy nie as koning oor Israel bly regeer nie.”+ 27 Toe Samuel omdraai om te gaan, het Saul die soom van Samuel se moulose oorkleed gegryp, maar dit het afgeskeur. 28 Toe het Samuel vir hom gesê: “Vandag het Jehovah die koningskap oor Israel van jou af weggeskeur, en hy sal dit aan iemand gee wat beter is as jy.+ 29 En die glorieryke God van Israel+ sal nie leuens vertel+ of van gedagte verander* nie, want Hy is nie soos ’n mens wat van gedagte verander* nie.”+
30 Toe het hy gesê: “Ek het gesondig. Maar eer my asseblief voor die ouermanne van my volk en voor Israel. Gaan saam met my terug, en ek sal voor Jehovah u God neerbuig.”+ 31 Toe het Samuel teruggegaan agter Saul aan, en Saul het voor Jehovah neergebuig. 32 Daarna het Samuel gesê: “Bring Agag, die koning van Aʹmalek, na my toe.” Toe het Agag huiwerig* na hom toe gegaan, want Agag het net tevore vir homself gesê: ‘My lewe is sekerlik nie meer in gevaar nie.’* 33 Maar Samuel het gesê: “Net soos jou swaard vrouens kinderloos gemaak het, so sal jou ma kinderloos word.” Toe het Samuel Agag in stukke gekap voor Jehovah in Gilgal.+
34 Samuel het toe na Rama gegaan, en Saul het na sy eie huis in Giʹbea gegaan. 35 Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie weer gesien nie, want Samuel het oor Saul+ getreur. En Jehovah was spyt dat hy Saul koning oor Israel gemaak het.+
16 Uiteindelik het Jehovah vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul+ treur, terwyl ek hom as koning van Israel verwerp het?+ Maak jou horing vol olie+ en gaan. Ek sal jou na Isai,+ die Betlehemiet, stuur, want ek het een van sy seuns vir my as koning uitgekies.”+ 2 Maar Samuel het gesê: “Hoe kan ek dit doen? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak.”+ Jehovah het geantwoord: “Neem ’n jong koei saam met jou en sê: ‘Ek het gekom om ’n offerande aan Jehovah te bring.’ 3 Nooi Isai na die offerande, en dan sal ek jou laat weet wat jy moet doen. Jy moet vir my die een salf wat ek sal aanwys.”+
4 Samuel het gedoen wat Jehovah gesê het. Toe hy in Betlehem+ aankom, was die ouermanne van die stad bang toe hulle by hom kom. Hulle het gevra: “Kom u in vrede?” 5 Hy het geantwoord: “Ek kom in vrede. Ek het gekom om ’n offerande aan Jehovah te bring. Julle moet julle heilig en saam met my gaan om die offerande te offer.” Toe het hy Isai en sy seuns geheilig en hulle na die offerande laat kom. 6 Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliʹab+ gesien en gesê: “Dit is vir seker die gesalfde van Jehovah wat hier staan.” 7 Maar Jehovah het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy lengte kyk nie,+ want ek het hom verwerp. Mense sien nie soos God sien nie, want mense sien net die uiterlike, maar Jehovah sien wat in die hart is.”+ 8 Toe het Isai Abinaʹdab+ geroep en hom voor Samuel gebring, maar hy het gesê: “Jehovah het ook nie hierdie een gekies nie.” 9 Daarna het Isai Samma+ voor Samuel gebring, maar hy het gesê: “Jehovah het ook nie hierdie een gekies nie.” 10 So het Isai sewe van sy seuns voor Samuel gebring, maar Samuel het vir Isai gesê: “Jehovah het nie een van hulle gekies nie.”
11 Uiteindelik het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns?” Hy het geantwoord: “Die jongste+ is nog nie geroep nie. Hy pas die skape op.”+ Samuel het toe vir Isai gesê: “Stuur iemand om hom te gaan haal, want ons sal nie eet voordat hy hier is nie.” 12 Toe het hy hom laat haal. Hy was ’n aantreklike jong man met ’n rooierige voorkoms en mooi oë.+ Toe het Jehovah gesê: “Staan op, salf hom, want dit is hy!”+ 13 Samuel het dus die horing met olie+ geneem en hom in die teenwoordigheid van sy broers gesalf. En van daardie dag af het Jehovah se gees vir Dawid krag gegee.+ Later het Samuel opgestaan en na Rama+ gegaan.
14 Intussen het Jehovah sy gees van Saul af weggeneem,+ en ’n slegte gees van Jehovah het oor Saul gekom.+ 15 Saul se knegte het vir hom gesê: “Dit is duidelik dat ’n slegte gees van God oor u gekom het. 16 Gee asseblief vir u knegte die opdrag om na ’n man te gaan soek wat die harp goed kan speel.+ Dan kan hy daarop speel wanneer ’n slegte gees van God oor u kom, en u sal beter voel.” 17 Toe het Saul vir sy knegte gesê: “Gaan soek asseblief na ’n man wat goed kan speel, en bring hom na my toe.”
18 Een van die dienaars het gesê: “Ek het gesien dat een van die seuns van Isai, die Betlehemiet, goed kan speel. Hy is ook ’n dapper, magtige vegter.+ Hy kan goed praat, hy is aantreklik+ en Jehovah is met hom.”+ 19 Toe het Saul boodskappers na Isai gestuur en gesê: “Stuur jou seun Dawid, wat by die kleinvee is, na my toe.”+ 20 Isai het dus brood, ’n leersak met wyn en ’n boklam op ’n donkie gelaai en dit saam met sy seun Dawid na Saul toe gestuur. 21 So het Dawid by Saul gekom en hom begin dien.+ Saul het baie lief vir hom geword, en hy het sy wapendraer geword. 22 Saul het ’n boodskap aan Isai gestuur en gesê: “Laat Dawid asseblief in my diens bly, want ek is baie tevrede met hom.” 23 Elke keer wanneer ’n slegte gees van God oor Saul gekom het, het Dawid die harp geneem en daarop gespeel. Dit het Saul opgebeur en hom beter laat voel, en die slegte gees het hom verlaat.+
17 Die Filistyne+ het hulle leërmagte* bymekaargebring om oorlog te voer. Hulle het bymekaargekom by Sogo,+ wat aan Juda behoort, en hulle het tussen Sogo en Aseʹka,+ in Efes-Dammim,+ kamp opgeslaan. 2 Saul en die manne van Israel het bymekaargekom en in die Ela-vallei+ kamp opgeslaan, en hulle het in gevegsformasie teen die Filistyne opgetrek. 3 Die Filistyne was teen die een berg, en die Israeliete teen die ander berg, met ’n vallei tussen hulle.
4 Toe het ’n kampioenvegter uit die kampe van die Filistyne gekom. Sy naam was Goʹliat,+ van die stad Gat,+ en hy was ses el en ’n span lank.* 5 Hy het ’n helm van koper op sy kop gedra, asook ’n pantser* met oorvleuelende skubbe. Die pantser+ van koper het 5 000 sikkels* geweeg. 6 Hy het koperplate aan sy bene gehad, en hy het ’n koperspies+ oor sy skouer gedra. 7 Die houtsteel van sy spies was groot, soos die balk van ’n weefraam,+ en die ysterlem van sy spies het 600 sikkels* geweeg. Die man wat sy skild gedra het, het voor hom geloop. 8 Toe het hy gaan staan en uitgeroep na die leërmag van Israel+ en vir hulle gesê: “Hoekom het julle in gevegsformasie uitgekom? Ek is die beste Filistynse vegter, en julle is die knegte van Saul. Kies vir julle ’n man, en laat hom na my toe afkom. 9 As hy teen my kan veg en my kan doodmaak, sal ons julle slawe word. Maar as ek die oorhand oor hom kry en hom doodmaak, sal julle ons slawe word en ons dien.” 10 Die Filistyn het toe gesê: “Vandag daag* ek die leërmag van Israel uit.+ Stuur ’n man na my toe, en laat ons dit uitbaklei!”
11 Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle doodbang geword.
12 Dawid was die seun van Isai, die Efratiet,+ uit Betlehem+ van Juda. Isai+ het agt seuns gehad,+ en in Saul se tyd was hy reeds ’n ou man. 13 Isai se drie oudste seuns het saam met Saul oorlog toe gegaan.+ Die naam van die eersgeborene was Eliʹab,+ die tweede Abinaʹdab+ en die derde Samma.+ 14 Dawid was die jongste,+ en die drie oudstes het saam met Saul gegaan.
15 Terwyl Dawid Saul gedien het, het hy gereeld Betlehem toe gegaan om sy pa se skape op te pas.+ 16 Intussen het die Filistyn elke oggend en elke aand uitgekom om die leërmag uit te daag, 40 dae lank.
17 Toe het Isai vir sy seun Dawid gesê: “Vat asseblief hierdie efa* geroosterde graan en hierdie tien brode vir jou broers in die kamp. 18 En vat hierdie tien stukke kaas* vir die hoof oor 1 000. Vra jou broers hoe dit met hulle gaan, en bring iets van hulle terug sodat ek kan sien dat hulle nog lewe.” 19 Hulle was saam met Saul en al die ander manne van Israel in die Ela-vallei+ om teen die Filistyne te veg.+
20 Dawid het dus vroeg die oggend opgestaan en iemand gekry om die skape op te pas. Daarna het hy gepak en vertrek, net soos Isai vir hom gesê het. Toe hy by die kamp kom, was die leërmag op pad na die slagveld toe, en hulle het ’n oorlogskreet geskree. 21 Die leërmag van Israel en die leërmag van die Filistyne het teenoor mekaar gaan staan. 22 Dawid het onmiddellik sy bagasie gelos by die persoon wat die bagasie oppas en na die slagveld gehardloop. Toe hy daar aankom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan.+
23 Terwyl hy met hulle gepraat het, het Goʹliat,+ die Filistynse kampioenvegter van die stad Gat, uit die leërmag van die Filistyne vorentoe gekom. Hy het dieselfde woorde as voorheen gesê,+ en Dawid het dit gehoor. 24 Toe die manne van Israel Goʹliat sien, het hulle baie bang geword+ en van hom af weggevlug. 25 Hulle het gesê: “Het julle die man gesien wat vorentoe kom? Hy kom om Israel uit te daag.*+ Die koning sal groot rykdom gee aan die man wat hom doodmaak. Hy sal selfs sy dogter+ vir hom gee, en hy sal die huis van sy pa vrystel van alle verpligtinge in Israel.”
26 Dawid het vir die manne wat naby hom gestaan het, gesê: “Wat sal die man kry wat daardie Filistyn daar oorkant doodmaak en Israel se eer red? Hoe durf hierdie onbesnede Filistyn die leërmag van die lewende God uitdaag?”*+ 27 Toe het die manne herhaal wat hulle voorheen gesê het: “Dít is wat die man sal kry wat hom doodmaak.” 28 Toe sy oudste broer, Eliʹab,+ hoor dat hy met die manne praat, het hy vir Dawid kwaad geword en gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom? En wie het jy gekry om daardie paar skape in die wildernis op te pas?+ Ek weet hoe voorbarig en bedrieglik jy is. Jy het net gekom om die geveg te sien.” 29 Toe het Dawid gesê: “Wat het ek nou gedoen? Ek het maar net ’n vraag gevra!” 30 Toe het hy omgedraai en iemand anders dieselfde vraag gevra,+ en die manne het hom dieselfde antwoord gegee.+
31 Party het gehoor wat Dawid gesê het, en hulle het Saul daarvan vertel. Daarom het Saul hom laat haal. 32 Dawid het vir Saul gesê: “Niemand hoef moed te verloor as gevolg van hierdie Filistyn nie. U kneg sal teen hom gaan veg.”+ 33 Maar Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is maar net ’n seun,+ en hy is al van jongs af ’n vegter.” 34 Dawid het toe vir Saul gesê: “U kneg het ’n herder van sy pa se kleinvee geword, en eenkeer het ’n leeu+ ’n skaap uit die trop weggedra. Later het ’n beer dieselfde gedoen. 35 Ek het agter hulle aan gegaan en hulle neergeslaan en die skaap uit hulle bek gered. Toe hulle my wou aanval, het ek hulle aan die keel* gegryp en hulle doodgemaak. 36 U kneg het die leeu sowel as die beer doodgemaak, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos hulle word, want hy het die leërmag van die lewende God uitgedaag.”*+ 37 Toe het Dawid bygevoeg: “Jehovah, wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, hy sal my uit die hand van hierdie Filistyn red.”+ Saul het toe vir Dawid gesê: “Gaan, en mag Jehovah met jou wees.”
38 Saul het toe sy uitrusting vir Dawid gegee om aan te trek. Hy het ’n helm van koper op sy kop gesit, en daarna het hy hom ’n pantser* laat aantrek. 39 Toe het Dawid sy swaard oor sy klere vasgemaak, maar toe hy wou loop, kon hy nie, want hy was nie gewoond aan die uitrusting nie. Dawid het vir Saul gesê: “Ek kan nie loop met hierdie goed aan nie, want ek is nie daaraan gewoond nie.” Dawid het dit toe uitgetrek. 40 Toe het hy sy staf in sy hand geneem en vyf gladde klippe uit die rivierbedding* uitgekies en dit in die kantsak van sy herdersak gesit. Daarna het hy na die Filistyn toe gegaan met sy slingervel+ in sy hand.
41 Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, en die man wat sy skild gedra het, was voor hom. 42 Toe die Filistyn Dawid sien, het hy hom uitgelag omdat hy maar net ’n seun was, ’n mooi seun met ’n rooierige voorkoms.+ 43 Toe het die Filistyn vir Dawid gesê: “Is ek ’n hond,+ dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid in die naam van sy gode vervloek. 44 Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Kom hier, en ek sal jou vir die voëls van die hemel en die diere van die veld voer.”
45 Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met ’n swaard, ’n spies en ’n werpspies,+ maar ek kom na jou toe in die naam van Jehovah van die leërmagte,+ die God van die leërmag van Israel, wat jy uitgedaag* het.+ 46 Vandag sal Jehovah jou in my hand gee,+ en ek sal jou doodmaak en jou kop afkap. En op hierdie dag sal ek die lyke van die kamp van die Filistyne aan die voëls van die hemel en aan die wilde diere van die aarde gee. Die hele wêreld sal weet dat daar ’n God in Israel is.+ 47 En almal wat hier is,* sal weet dat Jehovah nie ’n swaard of ’n spies nodig het om te red nie,+ want die geveg behoort aan Jehovah,+ en hy sal julle almal in ons hand gee.”+
48 Toe het die Filistyn al hoe nader aan Dawid gekom, maar Dawid het vinnig na die slagveld gehardloop om die Filistyn te ontmoet. 49 Dawid het sy hand in sy sak gesteek en ’n klip uitgehaal en dit met die slingervel gegooi. Die klip het die Filistyn teen die voorkop getref en in sy voorkop ingegaan, en hy het met sy gesig op die grond neergeval.+ 50 So het Dawid die Filistyn met ’n slingervel en ’n klip oorwin. Hy het die Filistyn doodgemaak, al het hy nie ’n swaard gehad nie.+ 51 Dawid het verder gehardloop en oor hom gaan staan. Toe het hy die Filistyn se swaard+ uitgetrek en seker gemaak dat hy dood is deur sy kop daarmee af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug.+
52 Toe het die manne van Israel en Juda begin skree en die Filistyne van die vallei+ af tot by die poorte van Ekron+ agternagesit. Die lyke van die Filistyne het oral langs die pad gelê, van Saäraʹim+ af tot by Gat en Ekron. 53 Toe die Israeliete teruggekeer het, nadat hulle die Filistyne agternagesit het, het hulle hulle kampe gestroop.
54 Toe het Dawid die Filistyn se kop geneem en dit na Jerusalem gebring, maar hy het die Filistyn se wapens in sy eie tent gesit.+
55 Die oomblik toe Saul Dawid sien uitgaan na die Filistyn toe, het hy vir Abner,+ die hoof van sy leërmag, gevra: “Abner, wie se seun is hierdie jong man?”+ Abner het geantwoord: “So waar as wat u lewe, o koning, ek weet nie!” 56 Die koning het gesê: “Vind uit wie se seun die jong man is.” 57 Toe Dawid ná sy oorwinning oor die Filistyn terugkeer, het Abner hom dadelik voor Saul gebring, met die kop van die Filistyn+ in sy hand. 58 Saul het toe vir hom gevra: “Wie se seun is jy, jong man?” Dawid het geantwoord: “Die seun van u kneg Isai,+ die Betlehemiet.”+
18 Nadat Dawid met Saul gepraat het, het Joʹnatan+ baie geheg geraak aan Dawid. ’n Hegte vriendskap het tussen hulle ontwikkel, en Joʹnatan het net so lief geword vir Dawid soos vir homself.+ 2 Van daardie dag af het Saul Dawid by hom gehou, en hy het hom nie toegelaat om na sy pa se huis terug te keer nie.+ 3 En Joʹnatan en Dawid het ’n verbond gemaak,+ want Joʹnatan het hom liefgehad soos homself.+ 4 Joʹnatan het sy moulose oorkleed uitgetrek en dit vir Dawid gegee, asook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy lyfband. 5 Dawid het begin uitgaan om oorlog te voer en was suksesvol*+ waar Saul hom ook al gestuur het. Daarom het Saul hom oor die vegters+ aangestel, en die hele volk en die knegte van Saul was bly daaroor.
6 Wanneer Dawid en die ander van ’n oorwinning oor die Filistyne teruggekeer het, het die vrouens uit al die stede van Israel gekom om koning Saul te ontmoet. Hulle het dan gesing+ en gedans, op tamboeryne+ en luite gespeel en vreugdevol uitgeroep. 7 Die vrouens wat die geleentheid gevier het, het gesing:
“Saul het sy duisende verslaan,
en Dawid sy tienduisende.”+
8 Saul het baie kwaad geword,+ en hy het niks van die lied gehou nie en het gesê: “Hulle sê dat Dawid tienduisende verslaan het, maar hulle sê dat ek duisende verslaan het. Nou moet nog net die koningskap+ aan hom gegee word!” 9 Van daardie dag af was Saul agterdogtig teenoor Dawid.
10 Die volgende dag het ’n slegte gees van God oor Saul gekom,+ en hy het vreemd* begin optree in sy huis, terwyl Dawid soos ander kere musiek op die harp+ gespeel het. Saul het ’n spies in sy hand gehad,+ 11 en hy het die spies gegooi+ en vir homself gesê: ‘Ek gaan Dawid teen die muur vaspen!’ Maar Dawid het twee keer van hom af weggekom. 12 Toe het Saul bang geword vir Dawid omdat Jehovah met Dawid was+ maar hom verlaat het.+ 13 Saul het hom dus weggestuur en hom as hoof oor 1 000 aangestel, en Dawid het die leërmag in hulle oorloë gelei.*+ 14 Dawid was suksesvol*+ in alles wat hy gedoen het, en Jehovah was met hom.+ 15 En toe Saul sien dat hy baie suksesvol is, het hy vir hom bang geword. 16 Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, want hy het hulle in hulle gevegte gelei.
17 Saul het later vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter, Merab.+ Ek sal haar vir jou as vrou gee.+ Maar hou aan om my moedig te dien en om die oorloë van Jehovah te voer.”+ Want Saul het vir homself gesê: ‘Dit is beter dat die Filistyne hom doodmaak as dat ek hom doodmaak.’+ 18 Dawid het toe vir Saul gesê: “Wie is ek, en wie is my pa se familie in Israel dat ek die skoonseun van die koning sou word?”+ 19 Maar toe die tyd aanbreek om Saul se dogter Merab aan Dawid te gee, was sy alreeds aan Aʹdriël,+ die Meholatiet, as vrou gegee.
20 Maar Saul se ander dogter, Migal,+ was verlief op Dawid. Saul is daarvan vertel, en hy was bly toe hy dit hoor. 21 Toe het Saul gesê: “Ek sal haar aan hom gee sodat sy vir hom as ’n strik kan dien en sodat die Filistyne hom kan doodmaak.”+ Saul het toe ’n tweede keer vir Dawid gesê: “Jy sal vandag my skoonseun word.”* 22 Saul het ook sy knegte beveel: “Praat in die geheim met Dawid en sê: ‘Kyk! Die koning en al sy knegte hou van jou. Trou met die koning se dogter.’” 23 Toe Saul se knegte dit vir Dawid sê, het Dawid geantwoord: “Dink julle dat ’n onbelangrike en arm man soos ek sommer net die koning se skoonseun kan word?”+ 24 Toe het Saul se knegte hom kom vertel wat Dawid gesê het.
25 Saul het toe gesê: “Dít is wat julle vir Dawid moet sê: ‘Al wat die koning as bruidsprys+ wil hê, is 100 voorhuide+ van die Filistyne, om wraak te neem op die vyande van die koning.’” Saul se plan was dat Dawid deur die Filistyne doodgemaak moes word. 26 Sy knegte het Dawid dus vertel wat die koning gesê het, en Dawid het ingestem om die koning se skoonseun te word.+ Nog voordat die bepaalde tyd om was, 27 het Dawid saam met sy manne 200 Filistynse manne gaan doodmaak en al die voorhuide na die koning gebring sodat hy die koning se skoonseun kon word. Saul het dus sy dogter Migal aan hom as vrou gegee.+ 28 Saul het besef dat Jehovah met Dawid is+ en dat sy dogter Migal lief is vir Dawid.+ 29 Dit het Saul nog banger gemaak vir Dawid, en Saul was vir die res van sy lewe ’n vyand van Dawid.+
30 Elke keer wanneer die bevelvoerders van die Filistyne oorlog gaan voer het, was Dawid suksesvoller* as al die knegte van Saul,+ en hy het ’n baie goeie naam gehad.+
19 Saul het later vir sy seun Joʹnatan en al sy knegte gesê dat hy Dawid wil doodmaak.+ 2 Maar omdat Saul se seun Joʹnatan lief was vir Dawid,+ het hy vir Dawid gesê: “My pa, Saul, wil jou laat doodmaak. Jy moet môreoggend asseblief baie versigtig wees. Gaan soek ’n skuilplek en kruip daar weg. 3 Ek sal uitgaan en langs my pa in die veld gaan staan waar jy sal wees. Ek sal met my pa oor jou praat, en as ek enigiets uitvind, sal ek jou beslis vertel.”+
4 Joʹnatan het dus vir sy pa, Saul, goeie dinge oor Dawid gesê.+ Hy het vir hom gesê: “Die koning moenie teen sy kneg Dawid sondig nie, want hy het nie teen u gesondig nie, en wat hy vir u gedoen het, was voordelig vir u. 5 Hy het sy lewe gewaag om die Filistyn+ dood te maak, en Jehovah het toe ’n groot oorwinning* vir die hele Israel gegee. U het dit gesien, en u was baie bly daaroor. Hoekom sou u dan teen ’n onskuldige man sondig en Dawid sonder rede laat doodmaak?”+ 6 Saul het na Joʹnatan geluister, en Saul het gesweer: “So waar as wat Jehovah lewe, hy sal nie doodgemaak word nie.” 7 Daarna het Joʹnatan Dawid geroep en vir hom alles vertel. Toe het Joʹnatan Dawid na Saul toe gebring, en hy het hom gedien soos voorheen.+
8 Ná verloop van tyd het daar weer oorlog uitgebreek, en Dawid het teen die Filistyne gaan veg en hulle met ’n groot slagting doodgemaak, en hulle het voor hom gevlug.
9 En ’n slegte gees van Jehovah het oor Saul gekom+ toe hy in sy huis met sy spies in sy hand gesit het terwyl Dawid op die harp gespeel het.+ 10 Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar hy het van Saul af weggekom, en die spies het in die muur vasgesteek. Dawid het daardie nag gevlug. 11 Saul het later manne na Dawid se huis gestuur om dit dop te hou en om Dawid in die oggend dood te maak,+ maar Dawid se vrou Migal het vir hom gesê: “As jy nie vanaand vlug nie, sal jy môre dood wees.” 12 Migal het Dawid onmiddellik deur die venster laat afsak sodat hy kon ontsnap. 13 Migal het die terafim-beeld* geneem en dit op die bed gesit, en sy het ’n net van bokhaar op die plek gesit waar sy kop sou wees, en sy het dit met ’n kleed toegemaak.
14 Saul het toe manne gestuur om Dawid te gaan haal, maar sy het gesê: “Hy is siek.” 15 Toe het Saul die manne teruggestuur om Dawid te sien en vir hulle gesê: “Bring hom met bed en al na my toe, sodat ek hom kan laat doodmaak.”+ 16 Toe die manne inkom, was die terafim-beeld* op die bed en ’n net van bokhaar op die plek waar sy kop sou wees. 17 Saul het vir Migal gevra: “Hoekom het jy my so bedrieg en my vyand+ laat wegkom?” Migal het vir Saul gesê: “Hy het vir my gesê: ‘Laat my gaan, anders maak ek jou dood!’”
18 Intussen het Dawid gevlug en by Samuel in Rama+ aangekom. Hy het hom alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Toe het hy en Samuel na Najot gegaan en daar gebly.+ 19 Ná verloop van tyd het Saul gehoor dat Dawid in Najot in Rama is. 20 Saul het dadelik manne gestuur om Dawid te gaan haal. Toe hulle sien hoe die ouer profete onder Samuel se leiding profeteer, het die gees van God oor Saul se manne gekom, en hulle het hulle ook soos profete begin gedra.
21 Toe hulle Saul daarvan vertel, het hy onmiddellik ander manne gestuur, en hulle het hulle ook soos profete begin gedra. Daarom het Saul ’n derde groep manne gestuur, en hulle het hulle ook soos profete begin gedra. 22 Uiteindelik het hy ook na Rama gegaan. Toe hy by die groot reënput in Segu kom, het hy gevra: “Waar is Samuel en Dawid?” Hulle het geantwoord: “Daar in Najot+ in Rama.” 23 Toe Saul op pad was na Najot in Rama, het die gees van God ook oor hom gekom, en terwyl hy gestap het, het hy hom al die pad soontoe soos ’n profeet gedra. 24 Hy het ook sy klere uitgetrek en hom soos ’n profeet voor Samuel gedra, en hy het die hele dag en die hele nag kaal* daar gelê. Daarom sê hulle: “Is Saul ook een van die profete?”+
20 Dawid het toe uit Najot in Rama gevlug. Hy het na Joʹnatan toe gegaan en gevra: “Wat het ek gedoen?+ Wat het ek aan jou pa gedoen, en hoe het ek teen hom gesondig dat hy my lewe wil neem?” 2 Toe het Joʹnatan vir hom gesê: “Dit sal nie gebeur nie!+ Jy sal nie sterf nie. My pa sal niks doen sonder om my daarvan te vertel nie, of dit nou iets groots of iets kleins is. Hoekom sou my pa my nie hiervan vertel nie? Dit sal nooit gebeur nie.” 3 Maar Dawid het verder gesê: “Jou pa weet dat jy my vriend is,+ en hy sou gesê het: ‘Joʹnatan mag nie hiervan weet nie, anders sal hy ontsteld wees.’ Maar so waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat jy lewe, daar is net ’n tree tussen my en die dood!”+
4 Toe het Joʹnatan vir Dawid gesê: “Ek sal enigiets doen wat jy van my vra.” 5 Dawid het gesê: “Môre is dit nuwemaan,+ en daar word verwag dat ek saam met die koning aan tafel moet eet. Laat my asseblief weggaan. Dan sal ek tot oormôre* in die veld wegkruip. 6 As jou pa wonder waar ek is, moet jy sê: ‘Dawid het my gesmeek vir toestemming om gou na sy stad, Betlehem,+ te gaan, want hulle het ’n jaarlikse offerande daar vir die hele familie.’+ 7 As hy antwoord: ‘Dit is goed,’ beteken dit vrede vir jou kneg. Maar as hy kwaad word, moet jy weet dat hy vasbeslote is om iets slegs aan my te doen. 8 Betoon lojale liefde aan my,*+ want jy het voor Jehovah ’n verbond met my gemaak.+ Maar as ek skuldig is,+ moet jy my self doodmaak. Hoekom sou jy my aan jou pa oorlewer?”
9 Maar Joʹnatan het gesê: “Moenie so iets sê nie! As ek uitvind dat my pa vasbeslote is om iets slegs aan jou te doen, sal ek jou mos daarvan vertel.”+ 10 Toe het Dawid vir Joʹnatan gevra: “Wie sal vir my sê as jou pa kwaad word?” 11 Joʹnatan het vir Dawid gesê: “Kom ons gaan uit veld toe.” Toe het hulle twee in die veld uitgegaan. 12 En Joʹnatan het vir Dawid gesê: “Jehovah, die God van Israel, is my getuie dat ek omtrent hierdie tyd môre of oormôre met my pa sal praat. As hy goedgesind is teenoor jou, sal ek vir jou ’n boodskap stuur om jou te laat weet. 13 Maar as my pa iets slegs aan jou wil doen en ek jou nie daarvan laat weet en jou in vrede laat gaan nie, laat Jehovah my dan swaar straf.* Mag Jehovah met jou wees,+ net soos hy met my pa was.+ 14 Ek weet dat jy gedurende my lewe en selfs as ek sterf die lojale liefde van Jehovah aan my sal betoon.+ 15 Hou aan om lojale liefde aan my en my familie te betoon,+ selfs wanneer Jehovah al jou vyande van die oppervlak van die aarde af uitroei.” 16 Joʹnatan het dus ’n verbond met die huis van Dawid gemaak en gesê: “Jehovah sal Dawid se vyande straf.” 17 Joʹnatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos homself.+
18 Joʹnatan het toe vir hom gesê: “Môre is dit nuwemaan,+ en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees. 19 Oormôre sal jy nog meer gemis word, en jy moet na die plek gaan waar jy nou die dag* weggekruip het, en jy moet naby hierdie klip wag. 20 Ek sal dan drie pyle aan die een kant daarvan skiet, asof ek op ’n teiken skiet. 21 Daarna sal ek die dienaar stuur om na die pyle te gaan soek. As ek vir hom sê: ‘Kyk! Die pyle is langs jou. Gaan haal dit,’ dan kan jy maar terugkom, want dit beteken dat jy veilig is en dat daar geen gevaar is nie, so waar as wat Jehovah lewe. 22 Maar as ek vir die jong man sê: ‘Kyk! Die pyle is verder van jou af,’ dan moet jy gaan, want Jehovah het jou weggestuur. 23 En Jehovah sal vir ewig ’n getuie wees+ van die belofte wat ek en jy aan mekaar gemaak het.”+
24 Dawid het toe in die veld gaan wegkruip. Toe dit nuwemaan was, het die koning aan tafel gaan sit om te eet.+ 25 Die koning het op sy gewone plek by die muur gesit. Joʹnatan was oorkant hom, en Abner+ het langs Saul gesit, maar Dawid se plek was leeg. 26 Op daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het vir homself gesê: ‘Iets het gebeur wat hom onrein gemaak het.+ Ja, hy is seker onrein.’ 27 En die dag ná die nuwemaan, op die tweede dag, was Dawid se plek nog steeds leeg. Toe het Saul vir sy seun Joʹnatan gevra: “Hoekom het die seun van Isai+ nie gister of vandag na die ete toe gekom nie?” 28 Joʹnatan het Saul geantwoord: “Dawid het my gesmeek vir toestemming om Betlehem toe te gaan.+ 29 Hy het gesê: ‘Gee my asseblief toestemming om te gaan, want ons het ’n familieofferande in die stad, en my broer het vir my gesê dat ek moet kom. Laat my toe om weg te glip sodat ek my broers kan besoek.’ Dit is hoekom hy nie na die koning se tafel gekom het nie.” 30 Toe het Saul woedend geword vir Joʹnatan en vir hom gesê: “Jou seun van ’n opstandige vrou, dink jy ek weet nie dat jy die seun van Isai se kant kies nie? Jy bring skande oor jouself en oor jou ma! 31 Solank as wat die seun van Isai op die aarde is, sal nie jy of jou koningskap veilig wees nie.+ Stuur onmiddellik iemand om hom na my toe te bring, want hy moet sterf.”+
32 Maar Joʹnatan het vir sy pa gevra: “Hoekom moet hy doodgemaak word?+ Wat het hy gedoen?” 33 Toe het Saul die spies na hom toe gegooi,+ en Joʹnatan het besef dat sy pa vasbeslote is om Dawid dood te maak.+ 34 Onmiddellik het Joʹnatan woedend van die tafel af opgestaan, en op die tweede dag ná die nuwemaan het hy niks geëet nie omdat hy ontsteld was oor Dawid+ en omdat sy eie pa hom verneder het.
35 In die oggend het Joʹnatan na die veld uitgegaan soos hy en Dawid afgespreek het, en ’n jong dienaar was by hom.+ 36 Hy het vir sy dienaar gesê: “Hardloop asseblief en vind die pyle wat ek skiet.” Die dienaar het gehardloop, en Joʹnatan het die pyl verby hom geskiet. 37 Toe die dienaar by die plek kom waar die pyl geland het, het Joʹnatan agter die dienaar aan geroep: “Is die pyl nie verder van jou af nie? 38 Maak gou! Moenie stilstaan nie!” En Joʹnatan se dienaar het die pyle opgetel en teruggekom na sy heer toe. 39 Die dienaar het van niks geweet nie. Net Joʹnatan en Dawid het geweet waaroor dit alles gaan. 40 Daarna het Joʹnatan sy wapens vir sy dienaar gegee en vir hom gesê: “Gaan, neem dit na die stad.”
41 Toe die dienaar daar weg is, het Dawid uit sy wegkruipplek gekom, wat daar naby aan die suidekant was. Toe het hy op sy knieë geval en drie keer neergebuig met sy gesig na die grond toe, en hulle het mekaar gesoen en saam gehuil, maar Dawid het die meeste gehuil. 42 Joʹnatan het vir Dawid gesê: “Gaan in vrede, want ons twee het in die naam van Jehovah gesweer:+ ‘Mag Jehovah vir ewig ’n getuie wees tussen my en jou en tussen my nageslag* en jou nageslag.’”*+
Toe het Dawid vertrek, en Joʹnatan het na die stad teruggegaan.
21 Later het Dawid in Nob+ by die priester Ahimeʹleg gekom. Ahimeʹleg was bang toe hy uitgaan om Dawid te groet, en hy het vir hom gevra: “Hoekom is jy alleen? Hoekom is daar niemand by jou nie?”+ 2 Dawid het geantwoord: “Die koning het vir my ’n opdrag gegee, maar hy het gesê: ‘Moet niemand van die opdrag vertel nie en hou my instruksies geheim.’ Ek het met my jong manne afgespreek om hulle op ’n sekere plek te ontmoet. 3 As u vyf brode het, gee dit asseblief vir my, of enigiets wat daar is.” 4 Maar die priester het vir Dawid gesê: “Ek het nie enige gewone brood nie, maar daar is heilige brood+ – op die voorwaarde dat die jong manne nie by vrouens geslaap het nie.”+ 5 Dawid het geantwoord: “Net soos vorige kere toe ons gaan oorlog voer het, het ons beslis nie by vrouens geslaap nie.+ As die jong manne vir gewone opdragte heilig gebly het, hoeveel te meer moet hulle vandag heilig wees!” 6 Toe het die priester die heilige brode vir hom gegee,+ want daar was geen ander brood behalwe die offerbrode wat voor Jehovah weggeneem is en op dieselfde dag met vars brood vervang is nie.
7 Op daardie dag was een van Saul se knegte daar, en hy moes die dag daar voor Jehovah deurbring. Sy naam was Doëg,+ die Edomiet,+ en hy het toesig gehou oor Saul se herders.
8 Dawid het toe vir Ahimeʹleg gesê: “Is daar miskien ’n spies of ’n swaard hier? Ek het nie my eie swaard of wapens saamgebring nie, want die koning se opdrag was dringend.” 9 Die priester het geantwoord: “Die swaard van Goʹliat,+ die Filistyn wat jy in die Ela-vallei+ doodgemaak het, is hier agter die efod+ in ’n lap toegedraai. As jy dit wil neem, kan jy dit neem, want dit is die enigste een hier.” Dawid het gesê: “Dit is die beste swaard wat daar is. Gee dit asseblief vir my.”
10 Op daardie dag het Dawid verder van Saul af weggevlug,+ en hy het uiteindelik by koning Agis van die stad Gat gekom.+ 11 Agis se knegte het vir hom gesê: “Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Hy is mos die een van wie hulle gesing het terwyl hulle gedans het. Hulle het mos gesing:
‘Saul het sy duisende verslaan,
en Dawid sy tienduisende.’”+
12 Dawid het hierdie woorde gehoor* en het baie bang geword+ vir koning Agis van die stad Gat. 13 Daarom het hy gemaak asof hy gek is+ en hom soos ’n mal mens voor hulle* gedra. Hy het merke op die deure van die poort gemaak en sy kwyl in sy baard laat afloop. 14 Uiteindelik het Agis vir sy knegte gesê: “Julle kan mos sien dat hierdie man mal is! Hoekom bring julle hom na my toe? 15 Het ek nie genoeg mal mense nie? Nou bring julle nog een na my toe om voor my te kere te gaan! Hoekom moet ek toelaat dat hierdie man in my huis inkom?”
22 Dawid het toe vertrek+ en na die grot van Adulʹlam+ gevlug. Toe sy broers en die hele huis van sy pa daarvan hoor, het hulle na hom toe gegaan. 2 En almal wat in die moeilikheid of in die skuld of verbitterd was, het by hom aangesluit, en hy het hulle hoof geword. Daar was ongeveer 400 manne by hom.
3 Later het Dawid van daar af na Mispe in Moab gegaan en vir die koning van Moab+ gesê: “Laat my pa en ma asseblief by julle woon totdat ek weet wat God vir my sal doen.” 4 Dawid het hulle dus na die koning van Moab gebring, en hulle het daar by hom gebly die hele tyd toe hy in die skuilplek in die berge was.+
5 Later het die profeet Gad+ vir Dawid gesê: “Moenie in die skuilplek bly nie. Gaan na die land van Juda.”+ Dawid het dus vertrek en na die Heret-woud gegaan.
6 Saul het gehoor dat Dawid en sy manne gevind is. Op daardie oomblik het Saul onder die tamariskboom op die heuwel in Giʹbea+ met sy spies in sy hand gesit, en al sy knegte het om hom gestaan. 7 Toe het Saul vir sy knegte om hom gesê: “Luister asseblief, Benjaminiete. Sal die seun van Isai+ ook vir elkeen van julle landerye en wingerde gee? Sal hy julle almal as hoofde oor 1 000 en hoofde oor 100 aanstel?+ 8 Julle het almal teen my saamgesweer! Niemand het vir my gesê toe my eie seun met die seun van Isai+ ’n verbond gemaak het nie! Nie een van julle voel jammer vir my en sê vir my dat my eie seun my kneg teen my opgestook het om my aan te val nie.”
9 Doëg,+ die Edomiet, wat oor die knegte van Saul aangestel was, het toe geantwoord:+ “Ek het die seun van Isai in Nob gesien by Ahimeʹleg, die seun van Ahiʹtub.+ 10 En hy het Jehovah vir hom geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Hy het selfs vir hom die swaard van Goʹliat, die Filistyn,+ gegee.” 11 Die koning het Ahimeʹleg, die seun van die priester Ahiʹtub, en al die priesters van die huis van sy pa, wat in Nob was, dadelik laat roep. Daarom het hulle almal na die koning toe gekom.
12 Saul het toe gesê: “Luister asseblief, seun van Ahiʹtub!” Toe het Ahimeʹleg geantwoord: “Hier is ek, my heer.” 13 Saul het vir hom gesê: “Hoekom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer? Jy het vir hom brood en ’n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg. Hy het teen my in opstand gekom en wil my aanval.” 14 Ahimeʹleg het die koning geantwoord: “Wie van u knegte is so betroubaar* soos Dawid?+ Hy is die koning se skoonseun+ en die hoof van u lyfwag, en hy is geëerd in u huis.+ 15 Dit was tog nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie.+ Wat u sê, het nie eers by my opgekom nie! My heer die koning, moet my en die hele huis van my pa asseblief nie beskuldig nie, want u kneg het niks hiervan geweet nie.”+
16 Maar die koning het gesê: “Jy en die hele huis van jou pa+ sal beslis sterf,+ Ahimeʹleg.” 17 Toe het die koning vir die wagte* om hom gesê: “Maak die priesters van Jehovah dood, want hulle is aan Dawid se kant! Hulle het geweet dat hy ’n vlugteling is, maar hulle het my nie vertel nie!” Maar die koning se knegte wou nie hulle hand lig om die priesters van Jehovah aan te val nie. 18 Die koning het toe vir Doëg+ gesê: “Doen jy dit dan. Val die priesters aan!” Onmiddellik het Doëg, die Edomiet,+ die priesters aangeval. Op daardie dag het hy 85 manne doodgemaak wat die linne-efod+ dra. 19 Hy het ook alles en almal in Nob,+ die stad van die priesters, met die swaard doodgemaak: man sowel as vrou, kind sowel as baba, bul, donkie en skaap.
20 Maar een van die seuns van Ahimeʹleg, die seun van Ahiʹtub, wie se naam Abjaʹtar+ was, het ontsnap. Hy het na Dawid gevlug en by hom aangesluit. 21 Abjaʹtar het vir Dawid gesê: “Saul het die priesters van Jehovah doodgemaak.” 22 Toe het Dawid vir Abjaʹtar gesê: “Die oomblik toe ek Doëg, die Edomiet, daar sien, het ek geweet+ dat hy Saul sou gaan vertel. Ek is persoonlik verantwoordelik vir die dood van almal* in jou pa se huis. 23 Bly by my. Moenie bang wees nie, want enigiemand wat jou lewe wil neem, wil my lewe neem. Jy is onder my beskerming.”+
23 Ná verloop van tyd is daar vir Dawid gesê: “Die Filistyne het Kehiʹla+ aangeval, en hulle vat die graan op die dorsvloere.” 2 Dawid het Jehovah dus geraadpleeg en gevra:+ “Moet ek hierdie Filistyne gaan verslaan?” Jehovah het vir Dawid gesê: “Gaan verslaan die Filistyne en red Kehiʹla.” 3 Maar Dawid se manne het vir hom gesê: “Kyk! Ons is al klaar bang hier in Juda.+ Dink net hoe bang ons sal wees as ons na Kehiʹla gaan om teen die leërmag van die Filistyne te veg!”+ 4 Daarom het Dawid Jehovah weer geraadpleeg.+ Jehovah het toe vir hom gesê: “Staan op. Gaan na Kehiʹla, want ek sal die Filistyne in jou hand gee.”+ 5 Dawid en sy manne het dus na Kehiʹla gegaan en teen die Filistyne geveg. Hy het hulle vee geneem en hulle met ’n groot slagting doodgemaak, en Dawid het die inwoners van Kehiʹla+ gered.
6 Toe Abjaʹtar,+ die seun van Ahimeʹleg, na Dawid in Kehiʹla gevlug het, het hy ’n efod by hom gehad. 7 Saul het gehoor dat Dawid na Kehiʹla gegaan het. Toe het Saul gesê: “God het hom aan my oorgelewer,*+ want nou is hy vasgekeer in ’n stad met deure en grendels.” 8 Toe het Saul al die manne bymekaargeroep om oorlog te voer en na Kehiʹla te gaan en Dawid en sy manne vas te keer. 9 Toe Dawid uitvind dat Saul slinkse planne teen hom beraam, het hy vir die priester Abjaʹtar gesê: “Bring asseblief die efod hier.”+ 10 Toe het Dawid gesê: “O Jehovah, die God van Israel, u kneg het gehoor dat Saul beplan om na Kehiʹla toe te kom om die stad te vernietig omdat ek hier is.+ 11 Sal die leiers* van Kehiʹla my aan hom oorlewer? Sal Saul regtig hierheen kom, net soos u kneg gehoor het? O Jehovah, die God van Israel, sê asseblief vir u kneg.” Toe het Jehovah gesê: “Hy sal kom.” 12 Dawid het gevra: “Sal die leiers van Kehiʹla my en my manne aan Saul oorlewer?” Jehovah het geantwoord: “Hulle sal julle oorlewer.”
13 Onmiddellik het Dawid en sy manne, ongeveer 600+ van hulle, Kehiʹla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Kehiʹla ontsnap het, het hy hom nie agternagesit nie. 14 Dawid het in die wildernis gaan bly in plekke wat moeilik is om te bereik, in die bergstreek van die wildernis van Sif.+ Saul het heeltyd na hom gesoek,+ maar Jehovah het hom nie in Saul se hand gegee nie. 15 Toe Dawid in die wildernis van Sif in Hores was, het hy geweet dat* Saul op pad was om hom dood te maak.
16 Joʹnatan, die seun van Saul, het na Dawid in Hores gegaan en hom gehelp om sy vertroue* in Jehovah te versterk.+ 17 Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa, Saul, sal jou nie vind nie. Jy sal koning oor Israel wees,+ en ek sal tweede onder jou wees, en my pa weet dit ook.”+ 18 Toe het hulle twee voor Jehovah ’n verbond gemaak,+ en Dawid het in Hores gebly, en Joʹnatan het na sy huis gegaan.
19 Later het die manne van Sif na Saul in Giʹbea+ gegaan en gesê: “Dawid kruip hier naby ons weg+ in die plekke wat moeilik is om te bereik in Hores,+ op die heuwel Hagiʹla,+ suid* van Jeʹsimon.*+ 20 As u wil, o koning, kom dan na ons toe, en ons sal hom aan u oorlewer.”+ 21 Toe het Saul gesê: “Mag Jehovah julle seën, want julle verstaan wat ek deurmaak. 22 Probeer asseblief uitvind presies waar hy is en wie hom daar gesien het, want ek het gehoor dat hy baie slinks is. 23 Maak seker dat julle al sy skuilplekke vind, en kom terug na my toe met bewyse. Dan sal ek saam met julle gaan, en as hy in die land is, sal ek hom opspoor tussen al die familiegroepe* van Juda.”
24 Toe het hulle vertrek en voor Saul na Sif+ gegaan, terwyl Dawid en sy manne in die wildernis van Maon+ was, in die Aʹraba,+ suid van Jeʹsimon. 25 Toe het Saul met sy manne gekom om na hom te soek.+ Toe Dawid daarvan uitvind, het hy dadelik na die groot rots+ gegaan en in die wildernis van Maon gebly. Toe Saul daarvan hoor, het hy Dawid in die wildernis van Maon agternagesit. 26 Terwyl Saul aan die een kant van die berg was, was Dawid en sy manne aan die ander kant van die berg. Dawid het probeer om so gou as moontlik van Saul af weg te kom,+ maar Saul en sy manne het al hoe nader gekom en was op die punt om Dawid en sy manne te vang.+ 27 Maar ’n boodskapper het na Saul toe gekom en gesê: “Maak gou, want die Filistyne het die land binnegeval!” 28 Saul het toe opgehou om Dawid agterna te sit+ en het teen die Filistyne opgetrek. Daarom is daardie plek die Groot Rots van die Skeidings genoem.
29 Toe het Dawid daarvandaan weggetrek en in En-Gedi+ gaan woon in die plekke wat moeilik is om te bereik.
24 Toe Saul terugkeer nadat hy die Filistyne agternagesit het, het hy gehoor dat Dawid in die wildernis van En-Gedi+ is.
2 Toe het Saul 3 000 van die beste vegters uit die hele Israel saamgeneem om na Dawid en sy manne te gaan soek op die rotsagtige kranse van die bergbokke. 3 Saul het by die skaapkrale* langs die pad gekom, waar daar ’n grot was, en hy het ingegaan om sy behoefte te doen,* terwyl Dawid en sy manne heel agter in die grot+ gesit het. 4 Dawid se manne het vir hom gesê: “Vandag is die dag waarop Jehovah vir u sê: ‘Ek lewer jou vyand aan jou oor,+ en jy kan met hom doen wat jy ook al wil.’” Toe het Dawid opgestaan en stilletjies ’n stuk van Saul se moulose oorkleed afgesny. 5 Maar agterna het Dawid se hart* hom veroordeel+ omdat hy ’n stuk van Saul se moulose oorkleed afgesny het. 6 Hy het vir sy manne gesê: “Omdat ek weet hoe Jehovah daaroor voel, sal ek nie eers daaraan dink om my hand te lig vir my heer, die gesalfde van Jehovah nie, want hy is die gesalfde van Jehovah.”+ 7 Met hierdie woorde het Dawid sy manne gekeer,* en hy het hulle nie toegelaat om Saul aan te val nie. Intussen het Saul die grot verlaat en verder gegaan.
8 Toe het Dawid opgestaan en die grot verlaat en agter Saul aan uitgeroep: “My heer die koning!”+ Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en met sy gesig na die grond toe neergebuig. 9 Dawid het vir Saul gesê: “Hoekom luister u na mense wat sê: ‘Dawid wil iets slegs aan u doen’?+ 10 Vandag het u self gesien hoe Jehovah u in die grot in my hand gegee het. Maar toe iemand sê dat ek u moet doodmaak,+ het ek vir u jammer gevoel en gesê: ‘Ek sal nie my hand vir my heer lig nie, want hy is die gesalfde van Jehovah.’+ 11 Kyk, my vader, ek het ’n stuk van u moulose oorkleed in my hand. Toe ek dit afgesny het, het ek u nie doodgemaak nie. U kan dus duidelik sien en besef dat ek niks slegs aan u wil doen of teen u in opstand wil kom nie. En ek het nie teen u gesondig nie,+ maar u jaag my en wil my lewe neem.+ 12 Mag Jehovah tussen my en u oordeel,+ en mag Jehovah vir my wraak neem op u,+ maar ek sal nie my hand vir u lig nie.+ 13 Net soos die ou spreekwoord sê: ‘Van goddelose mense kom goddelose dade.’ Maar ek sal niks slegs aan u doen nie. 14 Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie sit u agterna? ’n Dooie hond? ’n Enkele vlooi?+ 15 Mag Jehovah as regter tussen my en u oordeel. Hy sal my saak ondersoek en verdedig.+ Hy sal my oordeel en my uit u hand red.”
16 Nadat Dawid hierdie dinge gesê het, het Saul gesê: “Is dit jou stem, my seun Dawid?”+ En Saul het in trane uitgebars. 17 Hy het vir Dawid gesê: “Jy is regverdiger as ek, want jy het my goed behandel, maar ek het jou terugbetaal met wat sleg is.+ 18 Ja, vandag het jy my vertel van die goedheid wat jy aan my betoon het deur my nie dood te maak toe Jehovah my in jou hand gegee het nie.+ 19 Want watter man laat sy vyand gaan as hy hom in die hande kry? Jehovah sal jou beloon+ vir wat jy vandag vir my gedoen het. 20 Ek weet dat jy vir seker as koning sal regeer+ en dat die koninkryk van Israel in jou hande sal bly. 21 Sweer dan nou vir my by Jehovah+ dat jy nie my nakomelinge* sal doodmaak nie en dat jy nie my naam uit die huis van my vader sal uitwis nie.”+ 22 Toe het Dawid vir Saul gesweer, en daarna het Saul huis toe gegaan.+ Maar Dawid en sy manne het na hulle skuilplek toe gegaan.+
25 Ná verloop van tyd het Samuel+ gesterf. Die hele Israel het bymekaargekom om oor hom te treur en hom by sy huis in Rama+ te begrawe. Toe het Dawid na die wildernis Paran gegaan.
2 In Maon+ was daar ’n baie ryk man wat vee in Karmel*+ gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad, en hy was besig om sy skape in Karmel te skeer. 3 Die man se naam was Nabal,+ en sy vrou se naam was Abiʹgail.+ Die vrou was verstandig en pragtig, maar haar man, ’n Kalebiet,+ was wreed en onbeskof.+ 4 Dawid het in die wildernis gehoor dat Nabal sy skape skeer. 5 Toe het Dawid tien jong manne na hom toe gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Nabal toe in Karmel, en vra hom namens my hoe dit met hom gaan. 6 Dan moet julle sê: ‘Mag u lank lewe en mag dit met u goed gaan,* en mag dit goed gaan met u huisgesin en met alles wat u het. 7 Ek het gehoor dat u die skape skeer. Toe u herders saam met ons was, het ons niks slegs aan hulle gedoen nie,+ en die hele tyd dat hulle in Karmel was, was daar niks van hulle gesteel nie. 8 Vra u jong manne, en hulle sal vir u sê. Wees asseblief goed vir my jong manne, want ons het op ’n vreugdevolle tyd* gekom. Gee asseblief vir u knegte en vir u seun Dawid wat u ook al kan.’”+
9 Toe het Dawid se jong manne na Nabal gegaan en Dawid se boodskap aan hom oorgedra. Daarna 10 het Nabal vir Dawid se knegte gesê: “Wie is Dawid, en wie is die seun van Isai? Deesdae hardloop baie knegte van hulle meesters af weg.+ 11 Moet ek my brood en my water en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, sommer net weggee aan manne wat van wie weet waar kom?”
12 Daarna het Dawid se jong manne na hom toe teruggegaan en vir hom alles vertel. 13 Dawid het onmiddellik vir sy manne gesê: “Maak vas julle swaarde!”+ Toe het hulle almal hulle swaarde vasgebind, en Dawid het ook sy swaard vasgebind. Ongeveer 400 manne het saam met Dawid gegaan, terwyl 200 by die bagasie gebly het.
14 Intussen het een van die knegte vir Abiʹgail, Nabal se vrou, gesê: “Dawid het boodskappers uit die wildernis gestuur om ons meester die beste toe te wens, maar hy het hulle uitgeskel.+ 15 Daardie manne was baie goed vir ons. Hulle het niks slegs aan ons gedoen nie, en toe ons saam met hulle in die veld was, was niks gesteel nie.+ 16 Die hele tyd dat ons by hulle was en die kleinvee opgepas het, was hulle dag en nag soos ’n beskermende muur om ons. 17 U moet iets doen, anders sal dit die ondergang van ons meester en sy hele huis beteken,+ en hy is so ’n slegte man+ dat niemand met hom kan praat nie.”
18 Abiʹgail+ het toe gou 200 brode, twee groot kruike wyn, vyf skape wat geslag is, vyf sea* geroosterde graan, 100 rosynekoeke en 200 koeke van saamgeperste vye geneem en dit op die donkies gelaai.+ 19 Toe het sy vir haar knegte gesê: “Gaan voor my uit, dan kom ek agter julle aan.” Maar sy het niks vir haar man, Nabal, gesê nie.
20 Terwyl sy op ’n donkie teen die berg afgery het, kon Dawid en sy manne haar nie sien aankom nie. Toe het hulle mekaar skielik teëgekom. 21 Dawid het vroeër gesê: “Ek het verniet hierdie man se besittings in die wildernis beskerm. Nie ’n enkele ding wat aan hom behoort, is gesteel nie,+ en tog kry ek stank vir dank.+ 22 Mag God die vyande van Dawid* swaar straf* as ek toelaat dat ’n enkele man* wat aan Nabal behoort, tot die oggend toe bly lewe.”
23 Toe Abiʹgail Dawid sien, het sy vinnig van die donkie afgeklim en voor Dawid gekniel en met haar gesig na die grond toe neergebuig. 24 Terwyl sy by sy voete op haar knieë was, het sy gesê: “My heer, mag die skuld op my wees. Laat u slavin met u praat, en luister na die woorde van u slavin. 25 Asseblief, my heer, moet u nie steur aan hierdie slegte Nabal+ nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam is nie verniet Nabal* nie, want hy is verstandeloos. Maar ek, u slavin, het nie die jong manne gesien wat my heer gestuur het nie. 26 So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, my heer, Jehovah het gekeer+ dat u bloedskuldig word+ en dat u self wraak neem.* Mag u vyande en dié wat daarop uit is om iets slegs aan u te doen, net soos Nabal word. 27 Gee asseblief hierdie geskenk*+ wat u slavin vir my heer gebring het vir die jong manne wat u volg.+ 28 Vergewe asseblief die oortreding van u slavin, want Jehovah sal u koningshuis vir seker laat voortduur,+ want u voer die oorloë van Jehovah,+ en al u dae is daar niks slegs by u gevind nie.+ 29 As iemand u wil agternasit en u lewe wil neem, sal u lewe veilig in die sak van die lewe by Jehovah u God toegebind wees. Maar die lewens van u vyande sal weggeslinger word soos klippe uit ’n slingervel. 30 En wanneer Jehovah al die goeie dinge doen wat hy aan my heer belowe het en u as leier oor Israel aanstel,+ 31 sal u nie skuldig of spyt voel* omdat u sonder rede iemand doodgemaak het* of self wraak geneem* het nie.+ Dink aan u slavin wanneer Jehovah u beloon.”
32 Toe het Dawid vir Abiʹgail gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag na my toe gestuur het! 33 Ek dank God vir jou verstandigheid! Mag jy geseën word omdat jy vandag gekeer het dat ek bloedskuldig word+ en dat ek self wraak neem.* 34 Ek sê vir jou, so waar as wat Jehovah, die God van Israel, lewe, wat gekeer het dat ek iets slegs aan jou doen:+ As jy nie vinnig na my toe gekom het nie,+ sou daar teen môreoggend nie ’n enkele man* wat aan Nabal behoort, oorgebly het nie.”+ 35 Toe het Dawid aanvaar wat sy vir hom gebring het, en hy het vir haar gesê: “Gaan in vrede na jou huis toe. Ek het na jou stem geluister, en ek sal doen wat jy gevra het.”
36 Later het Abiʹgail teruggegaan na Nabal toe, wat soos ’n koning feesgevier het in sy huis. Hy* was in ’n goeie bui en hy was smoordronk. Sy het tot die oggend toe absoluut niks vir hom gesê nie. 37 Die volgende oggend, toe Nabal weer nugter was, het sy vrou hom vertel wat gebeur het. Sy hart het soos ’n dooie man s’n geword, en hy het onbeweeglik daar gelê soos ’n klip. 38 Ongeveer tien dae later het Jehovah ’n einde aan Nabal se lewe gemaak.
39 Toe Dawid hoor dat Nabal gesterf het, het hy gesê: “Mag Jehovah geprys word, want hy het my regsaak verdedig+ toe Nabal my verneder het,+ en hy het gekeer dat ek iets slegs doen,+ en Jehovah het Nabal gestraf vir sy eie slegtheid!”* Toe het Dawid boodskappers na Abiʹgail toe gestuur om haar te vra om met hom te trou. 40 Dawid se knegte het dus na Abiʹgail toe gegaan in Karmel en vir haar gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur omdat hy wil hê dat u sy vrou moet word.” 41 Sy het onmiddellik met haar gesig na die grond toe neergebuig en gesê: “Ek is bereid om ’n slavin te wees om die voete+ van my heer se knegte te was.” 42 Toe het Abiʹgail+ gou gereedgemaak en op haar donkie gery, en vyf van haar diensmeisies het agter haar geloop. Sy het saam met Dawid se boodskappers gegaan en sy vrou geword.
43 Dawid was ook getroud met Ahiʹnoam+ uit Jisʹreël.+ Hulle albei was dus sy vrouens.+
44 Maar Saul het sy dogter Migal,+ Dawid se vrou, gegee aan Palti,+ die seun van Lajis, wat van Gallim was.
26 Later het die manne van Sif+ na Saul toe gekom in Giʹbea+ en gesê: “Dawid kruip weg op die heuwel Hagiʹla oorkant Jeʹsimon.”*+ 2 Saul het saam met 3 000 van die beste vegters van Israel na die wildernis van Sif+ gegaan om na Dawid te soek. 3 Saul het langs die pad kamp opgeslaan op die heuwel Hagiʹla, oorkant Jeʹsimon. Dawid het op daardie stadium in die wildernis gewoon, en hy het uitgevind dat Saul in die wildernis agter hom aan gekom het. 4 Dawid het dus spioene gestuur om te bevestig dat Saul wel gekom het. 5 Later het Dawid na die plek gegaan waar Saul kamp opgeslaan het, en Dawid het die plek gesien waar Saul en Abner,+ die seun van Ner, die hoof van sy leërmag, gelê en slaap het. Saul het in die kamp gelê en slaap met die manne reg rondom hom. 6 Toe het Dawid vir Ahimeʹleg, die Hetiet,+ en Abiʹsai,+ die seun van Seruʹja,+ die broer van Joab, gevra: “Wie sal saam met my na Saul in die kamp gaan?” Abiʹsai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.” 7 Dawid en Abiʹsai het dus in die nag na Saul se kamp toe gegaan. Hulle het Saul gevind waar hy in die kamp gelê en slaap het, en sy spies was langs sy kop in die grond gesteek. Abner en die manne het rondom hom gelê.
8 Abiʹsai het toe vir Dawid gesê: “God het vandag jou vyand in jou hand gegee.+ Laat ek hom asseblief net een keer met die spies teen die grond vaspen. Ek sal dit nie twee keer hoef te doen nie.” 9 Maar Dawid het vir Abiʹsai gesê: “Moet hom nie seermaak nie, want wie kan sy hand vir die gesalfde van Jehovah+ lig en onskuldig bly?”+ 10 Dawid het verder gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, Jehovah sal hom doodmaak,+ of sy dag sal kom+ en hy sal sterf, of hy sal in die oorlog doodgemaak word.+ 11 Omdat ek weet hoe Jehovah daaroor voel, sal ek nie eers daaraan dink om my hand vir die gesalfde van Jehovah+ te lig nie! Neem dan nou asseblief die spies langs sy kop en die waterkruik, en laat ons gaan.” 12 Dawid het die spies en die waterkruik langs Saul se kop geneem, en toe het hulle gegaan. Niemand het iets gesien+ of agtergekom of wakker geword nie. Hulle almal was aan die slaap, want Jehovah het ’n diep slaap oor hulle laat kom. 13 Toe het Dawid na die ander kant toe gegaan en ver weg op die top van die berg gestaan, sodat daar ’n groot afstand tussen hom en Saul was.
14 Dawid het na die soldate en na Abner,+ die seun van Ner, geroep en gesê: “Abner, antwoord my!” Abner het geantwoord: “Wie is dit wat so na die koning roep?” 15 Dawid het vir Abner gesê: “Watter soort man is jy? Daar is mos niemand soos jy in Israel nie. Hoekom het jy dan nie oor jou heer die koning wag gehou nie? Want een van die soldate het ingekom om jou heer, die koning, dood te maak.+ 16 Jy het nie jou werk gedoen nie. So waar as wat Jehovah lewe, julle verdien om te sterf, want julle het nie oor julle heer, die gesalfde van Jehovah,+ wag gehou nie. Waar is die koning se spies en die waterkruik+ wat langs sy kop was? Gaan kyk ’n bietjie!”
17 Saul het Dawid se stem herken en gevra: “Is dit jou stem, my seun Dawid?”+ Dawid het geantwoord: “Ja, my heer die koning.” 18 Hy het bygevoeg: “Hoekom jaag my heer agter sy kneg aan?+ Wat het ek gedoen, en waaraan is ek skuldig?+ 19 My heer die koning, luister asseblief na u kneg: As dit Jehovah is wat u teen my aangehits het, laat hy dan my graanoffer aanvaar.* Maar as mense u teen my aangehits het,+ is hulle vervloek voor Jehovah, want hulle het my vandag uit Jehovah se erfdeel weggejaag.+ Dit is asof hulle vir my sê: ‘Gaan dien ander gode!’ 20 Moenie my bloed ver weg van die teenwoordigheid van Jehovah op die grond laat val nie, want die koning van Israel het na ’n enkele vlooi gaan soek,+ asof hy ’n patrys op die berge jaag.”
21 Toe het Saul gesê: “Ek het gesondig.+ Kom terug, my seun Dawid, want ek sal nie meer enigiets slegs aan jou probeer doen nie, want vandag het jy bewys dat my lewe vir jou kosbaar is.+ Ja, ek het onverstandig opgetree en ’n groot fout gemaak.” 22 Dawid het geantwoord: “Hier is die koning se spies. Laat een van die jong manne dit kom haal. 23 Jehovah sal elkeen beloon vir sy eie regverdigheid+ en sy eie getrouheid. Vandag het Jehovah u in my hand gegee, maar ek wou nie my hand lig vir die gesalfde van Jehovah nie.+ 24 Mag my lewe vir Jehovah net so kosbaar wees soos u lewe vandag vir my kosbaar was, en mag hy my uit alle moeilikhede red.”+ 25 Saul het vir Dawid gesê: “Mag jy geseën word, my seun Dawid. Jy sal nog groot dinge doen, en jy sal beslis suksesvol wees.”+ Toe het Dawid vertrek, en Saul het na sy huis teruggegaan.+
27 Dawid het vir homself gesê: ‘Eendag gaan Saul my nog doodmaak. Dit is beter dat ek na die land van die Filistyne vlug.+ Dan sal Saul ophou om na my te soek in die hele gebied van Israel,+ en ek sal van hom ontsnap.’ 2 Toe het Dawid en die 600 manne+ wat by hom was, gegaan na Agis,+ die seun van Maog, die koning van Gat. 3 Dawid en sy manne het saam met hulle gesinne by Agis in Gat gebly. Dawid se twee vrouens, Ahiʹnoam+ van Jisʹreël en Abiʹgail+ van Karmel, Nabal se weduwee, was saam met hom. 4 Toe Saul hoor dat Dawid na Gat gevlug het, het hy opgehou om na hom te soek.+
5 Toe het Dawid vir Agis gesê: “As u dit goedvind, gee my asseblief ’n plek in een van die dorpe op die platteland. Hoekom moet u kneg by u in die koninklike stad woon?” 6 Op daardie dag het Agis vir hom Siklag+ gegee. Daarom behoort Siklag tot vandag toe aan die konings van Juda.
7 Dawid het ’n jaar en vier maande lank in die land van die Filistyne gewoon.+ 8 Dawid en sy manne het die Gesuriete,+ die Girsiete en die Amalekiete+ gereeld gaan stroop. Dit is die mense wat gewoon het in die gebied wat van Telam af tot by Sur+ en Egipte strek. 9 Elke keer wanneer Dawid die land aangeval het, het hy nie ’n enkele man of vrou se lewe gespaar nie,+ maar hy het die kleinvee, die beeste, die donkies, die kamele en die klere gevat, en daarna het hy na Agis teruggegaan. 10 Agis het dikwels gevra: “Watter gebied het julle vandag gaan stroop?” Dawid het dan geantwoord: “Die suide* van Juda”+ of: “Die suide van die gebied van die Jeragmeëliete”+ of: “Die suide van die gebied van die Keniete”.+ 11 Dawid het nie ’n enkele man of vrou se lewe gespaar nie, sodat hulle nie na Gat gebring kon word en kon sê wat hy gedoen het nie. (Dit is wat hy altyd gedoen het terwyl hy in die land van die Filistyne gewoon het.) 12 Agis het Dawid dus geglo en vir homself gesê: ‘Sy volk Israel het hom beslis begin haat, en daarom sal hy altyd my kneg wees.’
28 In daardie dae het die Filistyne hulle leërmagte bymekaargebring om teen Israel oorlog te voer.+ Toe het Agis vir Dawid gesê: “Jy besef natuurlik dat jy en jou manne saam met my moet gaan oorlog voer.”+ 2 Toe het Dawid vir Agis gesê: “U weet goed wat u kneg sal doen.” Agis het vir Dawid gesê: “Dit is hoekom ek jou as my permanente lyfwag sal aanstel.”+
3 Teen dié tyd was Samuel al dood en het die hele Israel al oor hom getreur en hom in Rama, sy eie stad,+ begrawe. En Saul het die mense wat geeste oproep* sowel as die fortuinvertellers uit die land verwyder.+
4 Die Filistyne het hulle soldate bymekaargebring en in Sunem+ kamp opgeslaan. Saul het dus die hele Israel bymekaargebring, en hulle het in Gilboʹa+ kamp opgeslaan. 5 Toe Saul die kamp van die Filistyne sien, het hy baie bang geword.+ 6 Saul het Jehovah geraadpleeg,+ maar Jehovah het hom nooit geantwoord nie, nie in drome of deur die Urim+ of deur die profete nie. 7 Uiteindelik het Saul vir sy knegte gesê: “Soek vir my ’n vrou wat geeste kan oproep,*+ en ek sal haar gaan raadpleeg.” Sy knegte het geantwoord: “In En-Dor+ is daar ’n vrou wat geeste kan oproep.”
8 Toe het Saul hom vermom en ander klere aangetrek en in die nag saam met twee van sy manne na die vrou toe gegaan. Hy het gesê: “Maak asseblief gebruik van waarsêery om iemand vir my op te roep.+ Ek sal vir jou sê wie.” 9 Maar die vrou het vir hom gesê: “Jy weet goed wat Saul gedoen het, hoe hy die mense wat geeste oproep* en die fortuinvertellers uit die land verwyder het.+ Hoekom probeer jy dan vir my ’n strik stel? Wil jy my laat doodmaak?”+ 10 Toe het Saul vir haar by Jehovah gesweer: “So waar as wat Jehovah lewe, jy sal nie hiervoor gestraf word nie!” 11 Die vrou het toe gevra: “Wie sal ek vir jou oproep?” Hy het geantwoord: “Roep Samuel vir my op.” 12 Toe die vrou “Samuel”* sien,+ het sy hard geskree en vir Saul gevra: “Hoekom het u my bedrieg? U is Saul!” 13 Die koning het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, maar wat sien jy?” Die vrou het vir Saul gesê: “Ek sien iemand wat soos ’n god is, uit die aarde opkom.” 14 Hy het dadelik vir haar gevra: “Hoe lyk hy?” Sy het geantwoord: “Dit is ’n ou man wat opkom, en hy het ’n moulose oorkleed+ aan.” Toe het Saul besef dat dit “Samuel” is, en hy het gekniel en neergebuig met sy gesig na die grond toe.
15 “Samuel” het vir Saul gevra: “Hoekom het jy my gesteur deur my te laat opkom?” Saul het geantwoord: “Ek is in groot moeilikheid. Die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat en hy antwoord my nie meer nie, nie deur die profete of in drome nie.+ Daarom het ek u laat oproep om u te vra wat ek moet doen.”+
16 “Samuel” het toe gevra: “Hoekom raadpleeg jy my noudat Jehovah jou verlaat het+ en jou vyand geword het? 17 Jehovah sal doen wat hy deur middel van my voorspel het: Jehovah sal die koninkryk van jou af wegskeur en dit aan iemand anders gee, aan Dawid.+ 18 Jy het Jehovah nie gehoorsaam nie, en jy het nie die Amalekiete,+ vir wie hy woedend was, vernietig nie. Dit is hoekom Jehovah dit vandag aan jou doen. 19 Jehovah sal jou sowel as Israel in die hand van die Filistyne gee,+ en môre sal jy+ en jou seuns+ by my wees. Jehovah sal ook die leërmag van Israel in die hand van die Filistyne gee.”+
20 Toe het Saul dadelik op die grond neergeval en baie bang geword as gevolg van “Samuel” se woorde. Hy was baie swak omdat hy die hele dag en die hele nag niks geëet het nie. 21 Die vrou het na Saul toe gegaan en gesien dat hy baie ontsteld was. Sy het toe vir hom gesê: “U diensmeisie was gehoorsaam, en ek het my lewe gewaag+ en gedoen wat u vir my gesê het om te doen. 22 Luister nou asseblief na u diensmeisie. Laat ek vir u ’n stukkie brood gee, en eet. Dan sal u weer ’n bietjie krag hê voordat u vertrek.” 23 Maar hy het geweier en gesê: “Ek sal nie eet nie.” Maar sy knegte en die vrou het hom heeltyd aangespoor om te eet. Uiteindelik het hy na hulle geluister en van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit. 24 Die vrou het ’n vetgemaakte kalf in die huis gehad. Sy het dit gou gaan slag* en meel geneem en deeg geknie en ongesuurde brood gebak. 25 Toe het sy dit aan Saul en sy knegte bedien, en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en in die nag vertrek.+
29 Die Filistyne+ het al hulle soldate by Afek bymekaargebring, terwyl die kamp van die Israeliete by die fontein in Jisʹreël+ was. 2 En die leiers van die Filistyne het met hulle groepe van 100 en van 1 000 verbygetrek, en Dawid en sy manne was heel agter saam met Agis.+ 3 Maar die Filistynse bevelvoerders het gevra: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?” Agis het geantwoord: “Dit is Dawid, die kneg van koning Saul van Israel, wat al ’n jaar of selfs langer by my is.+ Van die dag af dat hy na my toe oorgeloop het, het ek geen fout by hom gevind nie.” 4 Maar die Filistynse bevelvoerders het vir hom kwaad geword en vir hom gesê: “Stuur die man terug.+ Laat hom teruggaan na die plek wat jy vir hom gegee het. Moet hom nie saam met ons na die geveg laat gaan nie, sodat hy nie in die geveg teen ons draai nie.+ As hy met die koppe van ons manne na sy heer toe gaan, sal dit mos die beste manier wees om weer sy heer se goedkeuring te kry. 5 Dit is mos die Dawid van wie hulle gesing het terwyl hulle gedans het. Hulle het mos gesing:
‘Saul het sy duisende verslaan,
en Dawid sy tienduisende.’”+
6 Agis+ het Dawid dus laat roep en vir hom gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, jy is ’n goeie man, en ek wil graag hê dat jy saam met my leërmag na die geveg moet gaan,+ want van die dag af dat jy na my toe gekom het, het ek geen fout by jou gevind nie.+ Maar die leiers vertrou jou nie.+ 7 Gaan dus in vrede terug, en moet niks doen wat die leiers van die Filistyne sal omkrap nie.” 8 Maar Dawid het vir Agis gevra: “Hoekom? Wat het ek gedoen? Watter fout het u by u kneg gevind van die dag af dat ek na u toe gekom het? Hoekom kan ek nie saam met u kom en teen die vyande van my heer die koning veg nie?” 9 Agis het geantwoord: “In my oë is jy so goed soos ’n engel van God.+ Maar die Filistynse bevelvoerders het gesê: ‘Moet hom nie saam met ons na die geveg laat gaan nie.’ 10 Staan dan nou môreoggend vroeg op saam met die manne wat saam met jou gekom het, en vertrek sodra dit lig word.”
11 Dawid en sy manne het toe vroeg die oggend opgestaan om na die land van die Filistyne terug te keer, en die Filistyne het na Jisʹreël+ gegaan.
30 Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag+ aankom, het hulle ontdek dat die Amalekiete+ die suide* en Siklag gestroop het en dat hulle Siklag aangeval en verbrand het. 2 Hulle het die vrouens+ en al die ander inwoners, jonk en oud, gevange geneem. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar hulle het hulle saamgeneem toe hulle vertrek het. 3 Toe Dawid en sy manne by die stad aankom, het hulle gesien dat dit afgebrand is en dat hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters weggeneem is. 4 Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer krag gehad het om te huil nie. 5 Dawid se twee vrouens is ook weggeneem, naamlik Ahiʹnoam van Jisʹreël en Abiʹgail, die weduwee van Nabal, die Karmeliet.+ 6 Dawid was baie ontsteld, want die manne het gesê dat hulle hom met klippe wil doodgooi. Hulle was baie verbitterd oor die verlies van hulle seuns en dogters. Maar Dawid het by Jehovah sy God hulp gesoek, en so is hy versterk.+
7 Dawid het toe vir die priester Abjaʹtar,+ die seun van Ahimeʹleg, gesê: “Bring asseblief die efod hier.”+ En Abjaʹtar het die efod na Dawid toe gebring. 8 Dawid het Jehovah gevra:+ “Moet ek hierdie rowerbende agternasit? Sal ek hulle inhaal?” Toe het Hy vir hom gesê: “Sit hulle agterna, want jy sal hulle vir seker inhaal, en jy sal alles en almal terugkry.”+
9 Dawid het dadelik saam met sy 600 manne+ vertrek, en hulle het tot by die Besor-vallei* gegaan, waar party van die manne agtergebly het. 10 Dawid en 400 manne het die rowerbende agternagesit, maar 200 manne het agtergebly omdat hulle te moeg was om deur die Besor-vallei* te gaan.+
11 Hulle het ’n Egiptiese man in die veld gevind en hom na Dawid toe geneem. Hulle het vir hom kos en water gegee, 12 sowel as ’n stuk van ’n saamgeperste vyekoek en twee rosynekoeke. Nadat hy geëet het, het hy sy krag weer teruggekry,* want hy het drie dae en drie nagte niks geëet of gedrink nie. 13 Dawid het toe vir hom gevra: “Aan wie behoort jy, en waar kom jy vandaan?” Hy het geantwoord: “Ek is ’n Egiptiese dienaar, ’n slaaf van ’n Amalekitiese man, maar my meester het my agtergelaat omdat ek drie dae gelede siek geword het. 14 Ons het die suide* van die gebied van die Keretiete+ en die gebied van Juda en die suide* van die gebied van Kaleb+ gestroop, en ons het Siklag verbrand.” 15 Dawid het toe vir hom gevra: “Sal jy my na hierdie rowerbende toe neem?” Hy het geantwoord: “Ek sal dit doen as u vir my by God sweer dat u my nie sal doodmaak nie en dat u my nie aan my meester sal oorlewer nie.”
16 Hy het hom dus geneem na die plek waar die Amalekiete was. Hulle was oor ’n groot gebied versprei, en hulle het geëet en gedrink en feesgevier omdat hulle so baie besittings en mense uit die land van die Filistyne en die land van Juda geneem het. 17 Toe het Dawid van vroeg die oggend, toe dit nog donker was, tot die volgende aand teen hulle geveg en hulle doodgemaak. Net 400 manne wat op kamele gevlug het, het weggekom.+ 18 Dawid het alles teruggekry wat die Amalekiete geneem het,+ en Dawid het sy twee vrouens gered. 19 Hulle het niks verloor nie. Hulle het hulle seuns en dogters en besittings teruggekry.+ Dawid het alles wat geneem is, teruggekry. 20 Dawid het al die kleinvee en die beeste van die Amalekiete geneem. Sy manne het hulle voor hulle eie vee laat loop en gesê: “Dit behoort aan Dawid.”
21 Dawid het toe by die 200 manne gekom wat te moeg was om saam met hom te gaan en wat by die Besor-vallei*+ agtergebly het. Hulle het uitgekom na Dawid en almal wat by hom was. Toe Dawid naby die manne kom, het hy hulle gevra hoe dit met hulle gaan. 22 Maar onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, was daar ook slegte, nikswerd manne wat gesê het: “Hulle het nie saam met ons gegaan nie, en daarom sal ons hulle niks gee van alles wat ons teruggekry het nie. Hulle mag net hulle vrouens en kinders saamneem, en dan moet hulle gaan.” 23 Maar Dawid het gesê: “My broers, julle moenie so maak met wat Jehovah vir ons gegee het nie. Hy het ons beskerm en het die rowerbende wat teen ons gekom het, in ons hand gegee.+ 24 Niemand sal met julle saamstem hieroor nie. Die een wat gaan veg het, sal net soveel kry as die een wat by die bagasie gebly het.+ Almal sal ’n deel ontvang.”+ 25 Op daardie dag het Dawid dit as ’n reël vasgestel, en dit is tot vandag toe ’n wetsvoorskrif in Israel.
26 Toe Dawid na Siklag teruggekeer het, het hy van die besittings wat geneem is, na die ouermanne van Juda wat sy vriende was, gestuur en gesê: “Hier is vir julle ’n geskenk* uit die besittings wat by Jehovah se vyande geneem is.” 27 Hy het geskenke gestuur aan die ouermanne van Bet-El,+ van Ramot in die Negeb,* van Jattir,+ 28 van Aʹroër, van Sifmot, van Estemoʹa,+ 29 van Ragal, van die stede van die Jeragmeëliete,+ van die stede van die Keniete,+ 30 van Horma,+ van Bor-Asan, van Atag, 31 van Heʹbron+ en van al die plekke waar Dawid en sy manne gereeld gegaan het.
31 Die Filistyne het teen Israel geveg.+ En die manne van Israel het van die Filistyne af weggevlug, en baie van hulle is op die berg Gilboʹa+ doodgemaak. 2 Die Filistyne was heeltyd kort op die hakke van Saul en sy seuns, en hulle het Saul se seuns+ Joʹnatan,+ Abinaʹdab en Malkisua doodgemaak. 3 Die geveg teen Saul het intens geword, en die boogskutters het hom gevind en hom ernstig gewond.+ 4 Saul het vir sy wapendraer gesê: “Neem jou swaard en maak my dood. Dan kan hierdie onbesnede manne+ my nie wreed behandel en doodmaak nie.” Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Toe het Saul die swaard geneem, dit teen hom gedruk en daarop geval.+ 5 Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is,+ het hy ook op sy eie swaard geval en gesterf. 6 So het Saul, sy drie seuns, sy wapendraer en al sy manne op daardie dag gesterf.+ 7 Toe die Israeliete wat in die vallei en die Jordaanstreek was, sien dat die manne van Israel gevlug het en dat Saul en sy seuns gesterf het, het hulle die stede verlaat en gevlug.+ Daarna het die Filistyne gekom en in hulle stede gewoon.
8 Die volgende dag, toe die Filistyne die lyke kom stroop, het hulle Saul en sy drie seuns dood gevind op die berg Gilboʹa.+ 9 Hulle het sy kop afgekap en sy wapenrusting uitgetrek, en hulle het ’n boodskap deur die hele land van die Filistyne gestuur om die nuus+ in die tempels van hulle afgode+ en onder die volk te versprei. 10 Daarna het hulle sy wapenrusting in die tempel* van die Astoʹret-beelde gesit en sy lyk aan die muur van Bet-San+ vasgemaak. 11 Toe die inwoners van Jaʹbes-Giʹlead+ hoor wat die Filistyne aan Saul gedoen het, 12 het al die vegters die hele nag gereis en die lyke van Saul en sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal. Hulle het na Jabes teruggekeer en die lyke daar verbrand. 13 Daarna het hulle die beendere+ onder die tamariskboom in Jabes+ begrawe, en hulle het sewe dae lank gevas.
Of “van Rama, ’n Sufiet”.
Lett. “haar baarmoeder gesluit”.
Of “die ander vrou”.
D.w.s. die tabernakel.
Sien Woordelys.
Of moontlik “Ná verloop van tyd”.
Beteken “naam van God”.
Omtrent 22 l. Sien Aanh. B14.
Blykbaar Elkana.
Of “my horing opgelig”. Sien Woordelys, “Horing”.
Of “maak lewend”.
Of “Sjeool”. Sien Woordelys.
Of moontlik “vullishoop”.
Of moontlik “Dié wat teen Jehovah stry, sal vreesbevange word”.
Of “en die horing van sy gesalfde oplig”. Sien Woordelys, “Horing”.
Of “het Jehovah voor die priester Eli gedien”.
Of moontlik “sal God as skeidsregter vir hom optree”.
Of moontlik “om offerrook te laat opgaan”.
Lett. “skop julle na”.
Lett. “arm”.
Of “met wat in my hart en in my siel is”.
D.w.s. ’n geslag van priesters.
D.w.s. die tabernakel.
Lett. “se ore sal tuit”.
Lett. “so aan jou doen en daarby voeg”.
Lett. “Hoekom het Jehovah ons vandag voor die Filistyne verslaan?”
Of moontlik “tussen”.
Lett. “sy hart het gebewe”.
Of “haar hart daarop gerig nie”.
Beteken “waar is die heerlikheid?”
Lett. “huis”.
Lett. “Net Dagon”.
Lett. “70 manne, 50 000 manne”.
Of “het klaend tot Jehovah geroep”.
Lett. “julle hart rig op”.
Beteken “klip van hulp”.
Lett. “was dit sleg in die oë van Samuel”.
Of “parfuum te maak”.
Lett. “donkiemerries”.
’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.
Lett. “God wou soek”.
Of “my volk binne perke hou”.
Lett. “wat in jou hart is”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “duisende”.
Lett. “En hy was soos iemand wat stom is”.
Of “ooreenkoms”.
Lett. “warm word”.
D.w.s. van omtrent 02:00 tot omtrent 06:00.
Of “gemeenskapsoffers”.
Lett. “wat voor loop”.
Lett. “dat julle niks in my hand gevind het nie”.
Of “onwerklikhede”.
Of “onwerklikhede”.
Of “in waarheid”.
Daar is geen syfer in die Hebreeuse teks nie.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “Jehovah se aangesig versag nie”.
’n Eertydse gewigsmaat, omtrent twee-derdes van ’n sikkel.
Sien Woordelys, “Prikkel”.
Of “’n voorpos van die Filistyne”.
Of “op die helfte van ’n stuk grond wat ’n span bulle in ’n dag kan ploeg”.
Lett. “Trek jou hand terug”.
Lett. “brood”.
Of “verwerping”.
Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.
Of “redding”.
Lett. “losgekoop”.
Of “plunderaars”.
Of “genade aan hulle betoon nie”.
Of “wadi”. Sien Woordelys.
Of “het genade aan Agag betoon”.
Of “bedroef”.
Iemand is vermetel as hy iets doen wat hy nie die reg of gesag het om te doen nie.
Lett. “terafim-beelde”, d.w.s. huisgode.
Of “spyt voel”.
Of “spyt voel”.
Of moontlik “vol vertroue”.
Lett. “Die bitterheid van die dood is sekerlik verby”.
Lett. “kampe”.
Hy was omtrent 2,9 m lank. Sien Aanh. B14.
’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.
Omtrent 57 kg. Sien Aanh. B14.
Omtrent 6,84 kg. Sien Aanh. B14.
Of “tart”.
Omtrent 22 l. Sien Aanh. B14.
Lett. “melk”.
Of “uit te tart”.
Of “uittart”.
Lett. “baard”.
Of “uitgetart”.
’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.
Of “wadi”. Sien Woordelys.
Of “uitgetart”.
Lett. “hierdie hele gemeente”.
Of “het verstandig opgetree”.
Of “soos ’n profeet”.
Lett. “en hy het voor die volk uitgegaan en ingekom”.
Of “het verstandig opgetree”.
Of “’n huweliksverbintenis met my aangaan”.
Of “het Dawid verstandiger opgetree”.
Of “redding”.
Of “huisgod; afgod”.
Of “huisgod; afgod”.
Of “in sy onderklere”.
Of “tot die aand van die derde dag”.
Lett. “jou kneg”.
Lett. “dan so aan my doen en daarby voeg”.
Lett. “op die werksdag”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Lett. “ter harte geneem”.
Lett. “in hulle hand”.
Of “getrou”.
Lett. “hardlopers”.
Of “elke siel”.
Lett. “in my hand verkoop”.
Of moontlik “grondeienaars”.
Of moontlik “was hy bang omdat”.
Lett. “hand”.
Lett. “regs”.
Of moontlik “die woestyn; die wildernis”.
Of “duisende”.
Of “klipskaapkrale”.
Lett. “om sy voete te bedek”.
Of “gewete”.
Of moontlik “verstrooi”.
Lett. “saad”.
’n Stad in Juda; nie die berg Karmel nie.
Of “mag u vrede hê”.
Lett. “’n goeie dag”.
’n Sea was gelyk aan 7,33 l. Sien Aanh. B14.
Of moontlik “Mag God Dawid”.
Lett. “so aan die vyande van Dawid doen en daarby voeg”.
Lett. “enigiemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
Beteken “verstandeloos; dom”.
Of “redding bring”.
Lett. “seën”.
Of “sal u geen rede hê om te wankel of te struikel”.
Of “sonder rede bloed vergiet het”.
Of “redding gebring”.
Of “redding bring”.
Lett. “niemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
Lett. “Nabal se hart”.
Lett. “Jehovah het Nabal se slegtheid op sy eie kop laat terugkom”.
Of moontlik “die woestyn; die wildernis”.
Lett. “ruik”.
Of “Negeb”.
Of “die spiritistiese mediums”.
Of “wat ’n spiritistiese medium is”.
Of “die spiritistiese mediums”.
Of “iemand wat gelyk het asof dit Samuel is”.
Of “offer”.
Of “Negeb”.
Of “wadi Besor”. Sien Woordelys.
Of “wadi Besor”. Sien Woordelys.
Lett. “het sy gees na hom teruggekeer”.
Of “Negeb”.
Of “Negeb”.
Of “wadi Besor”. Sien Woordelys.
Lett. “seën”.
Of “suide”.
Lett. “huis”.